NUWE WYN

ONS GELOOFSTORIE

Hoofblad
Ons storie
Jesus se Ekklesia
Ter wille van eenheid
'n Slukkie Nuwe Wyn
Argief
Fotos
Jou Kommentaar
Nuut op die mark!
DVD-kursus

christoenhetta.jpg

 

Vir meer as 25 jaar gebruik die Here my en Hetta as leiers en leraarspaar binne lokale gemeentes.  Tans beleef ons dat Hy ons nou wil translokaal gebruik, oor gemeente- en kerkgrense heen, in alle dele van die Liggaam van Jesus Christus.  En spesifiek om om Bybelse vernuwing en meer effektiewe eenheid tussen verskillende dele van die Liggaam te fasiliteer.

 

Die ervaring wat ek deur God se genade opgedoen het in die meer as 14 jaar as leraar in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in 2 gemeentes, Dunnottar en Potchefstroom-Mooirivier, en daarna in die meer as 11 jaar wat ek Bybelse vernuwing aan Afrikaners bedien het is goud werd in hierdie nuwe geestelike seisoen in ons lewens.

Dwarsdeur die land, en veral hier in die Wes-, Suid– en Noord-Kaap, is daar duisende gelowiges en gemeenteleiers wat aanvoel dat die Here besig is om Sy Liggaam uit te daag met Nuwe Wyn-waarhede.  In Lukas 5:37 tot 39 het Jesus tereg gesê;  “En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen. Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.”

Dit is wonderlik om te beleef hoe my ervaring en kennis van beide die Gereformeerde teologiese wêreld en dit wat tans in vernuwingsgemeentes die sterkpunte en die behoeftes is, deur die Here gebruik word om ‘n soort Nehemia-figuur vir mense te wees.  Wat werklik gelowiges in alle dele van die Liggaam aan te moedig om die gate “in die mure” te herstel en saam te ontdek dat eendrag werklik mag is tussen al die verskillende gemeentes in dorpe en stede. 

Dit is ook wonderlik om langs die pad ander te ontdek wat deel is van ‘n hierdie nuwe soort leierspanne wat oor kerkgrense heen tans translokaal gelowiges bedien om hulle te help om God se hart vir hulle te ontdek. 

Ef 4: 11-16 spel dit treffend uit:: “En dít is die "gawes" wat Hy "gegee het": apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.  Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.  So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.  Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.  Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof,  en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”

Maar kom ek vertel jou ons geloofstorie oor hoe die Here met ons as gesin 'n pad geloop het tot hier:

 

Ek gaan die storie in drie episodes vertel.  Kom ek vertel jou eers die mees resente gebeure, dan die storie tot 1996, en dan sluit ek af met die stukkie gebeure na 1996.

 

DIE EERSTE EPISODE

 

Ek was tot Julie 2003 leier en leraar van 'n nuwesoortige geloofsfamilie, Ekklesia, in Hermanus wat hoofsaaklik 'n tuiste was vir Afrikaanse gelowiges wat ‘n behoefte gehad het aan radikale Bybelse vernuwing.  Ons hart was om totale genesing, restorasie, lering en nuwe lewe aan mense te bedien en om die eenheid in die hele Liggaam van Jesus in die Groter Hermanus-area te help fasiliteer.

 

Omdat ek beleef het dat die Here ons as gelowiges uitdaag om in eenheid te beweeg met gelowiges in ander geloofsfamilies binne Sy Liggaam, het ‘n gesprek tussen ons geloofsfamilie en ander geloofsfamilies hieroor ontstaan.

 

As simbool van die eenheid van Jesus se Liggaam het ons geloofsfamilie toe een gemeente geword met ‘n hoofsaaklik Engelse gemeente, Bosko.  En sedert September 2003 vorm ons toe saam ‘n nuwe, groter geloofsfamilie, Bosko-Ekklesia, wat in beide Engels en Afrikaans die hele Overstrand-gemeenskap kon bedien.

 

Die nuwe geloofsfamilie het ook verstaan dat die Here wou hê dat hulle as ‘n soort lanseerbasis vir verskillende bedieninge uit die gemeente  moes wees.  Soos ondere andere Nuwe Wynbediening, Crown Financial Ministries, Marriage Ministries International, en Mario Marchio se Italiaanse bediening.

 

Die afgelope 7 jaar het die Here vir my en Hetta deure oopgemaak na verskillende gemeentes en kerke in meer as 31 dorpe net in die Wes-, Suid– en Noord-Kaap.  Leiers en gelowiges uit alle dele van die Liggaam het ons leer ken en ook die krag van die salwing van die Heilige Gees in ons lewe en bediening ervaar.

 

Toe die Here dus na meer as 7 jaar se verblyf in Hermanus, vir ons opdrag gee om weer “die dorpe” te begin besoek, het ons geweet hier kom ’n nuwe seisoen in ons lewe.

 

Maar die verrassing was toe die Here sê ons moet die bedieningsbasis verskuif na die Helderbaai-area, strategies nader aan Stellenbosch en die Kaapse Metropool.

 

Op ‘n bonatuurlike manier het die Here self vir ons ‘n huis van ons eie in Somerset-Wes gegee nadat Hy van verskeie kante af profeties self die pad daarheen aangedui het.

 

Dit alles het gemaak dat ons na meer as 4  en ‘n halwe jaar nou weer ons meubels kon uitpak wat al die jare gestoor was.

 

Vra jy Hetta hoe sy voel oor hierdie nuwe ervaring om weer haar eie goed uit te pak en nes te maak vir haar man en twee dogters, sien jy in die blink van haar oë haar die dankbaarheid teenoor die Here vir Sy goedheid en getrouheid.

 

Hy het immers reeds 7 jaar gelede belowe om weer vir ons as gesin ‘n huis van ons eie te gee nadat ons, op Sy bevel, ons huis in Potchefstroom verkoop het om Hermanus toe te trek. Ons het daarom al die jare vasgeklou aan Sy Woord aan ons daar uit Markus 10:29 en 30:  "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

 

Die Here gebruik my om vernuwing te fasiliteer in die Afrikaanse gemeenskap onder mense wat tradisioneel Gereformeerd was maar tans 'n behoefte het aan Bybelse vernuwing.  Dit vind tans binne die NG Kerk, VGK, PPK, AGS, Vernuwingsgemeentes en huisgemeentes plaas in ten minste 31 dorpe in die Wes-, Suid- en Noord-Kaap.

 

Daar is selfs tans ook ‘n wonderlike gesprek op Sinodale vlak in die NG Kerk aan die gang rondom ‘n voorstel oor radikale vernuwing wat ek glo die Here wou hê ek moes amptelik op die Ned Geref Kerk se tafel neersit.

 

Sedert Maart 2001 het die Here vir my 'n internet-bediening tot stand gebring waar ek die voorreg het om meer as 3000 persone wêreldwyd weekliks in Afrikaans te kan bedien.  Behalwe hierdie betrokke webblad, is daar ook ander internasionale webblaaie waar hierdie weeklikse nuusbriefie gelees kan word, soos byvoorbeeld by www.onsdorp.com op KERKPLEIN.  

 

Dan gebruik die Here my ook om gelowiges in die bediening waarvoor die Here hulle bestem het, toe te rus en te lanseer.

 

So is een van die mees opwindende gedeeltes van my bediening om sakemanne en vroue te bedien met wat die Woord oor finansies leer. In die proses sien ek ‘n nuwe geslag Christensakemanne en –vroue opstaan wat werklik verstaan wat dit beteken om ‘n “Kingdom steward” te wees.  Wat verstaan wat dit beteken om self finansieël vry te wees om te doen wat die Here wil dat hulle moet doen, maar wat ook vir baie mense om hulle kan bedien met werksgeleenthede en ‘n beter lewenskwaliteit.

 

En dan skryf ek.  Ek het pas 20 manuskripte voltooi waarvan twee reeds gepubliseer is, naamlik WAARHEEN MET DIE NUWE WYN en ‘N DUNAMIS ERVARING.  Meeste van hierdie manuskripte is reeds as e-dokumente beskikbaar.

 

Ek glo dat deel van my roeping en bediening is dat die Here my gebruik, met my teologiese agtergrond, om vernuwende Skrifwaarhede te verwoord aan gelowiges uit 'n tradisionele Gereformeerde agtergrond in 'n taal wat hulle verstaan.

 

Vir die afgelope meer as 12 jaar reeds het ons as gesin die voorreg om saam die Here 100% te vertrou vir ons totale versorging.  En dit is wonderlik hoe Hy gelowiges, wat geestelik deur ons bedien word, weer op hulle beurt gebruik om ons finansieel en andersins te bedien.

 

DIE TWEEDE EPISODE - TOT 1996

 

Aangesien die Here tans deure oopmaak na sovele mense wat nie goed bekend is met die pad wat ek en my vrou, Hetta, tot hier geloop het nie, gee ek graag die volgende kursories aan jou deur, om jou te help om beter met ons te kan identifiseer.

 

Verstaan asseblief mooi, die feit dat die Here so met ons gestap het, beteken nie dat dit nou 'n model hoef te wees vir waarmee God tans in ander mense besig is nie.  Hy is met ons elkeen op 'n unieke wyse besig.

 

Wat ek dus hier weergee is maar net 'n getuienis oor Sy wonderlike werk in ons lewens tot hier.

 

1. Ek en my vrou, Hetta, is in 1977 getroud - nadat ons mekaar ontmoet het tydens ons studies op UOVS.  Ek was toe in my tweede laaste jaar Teologie op Stellenbosch-Kweekskool en sy was onderwyseres by Kuilsrivier Hoërskool.

 

2. Oorspronklik is ek 'n gebore-en-getoë Pietermaritzburger, terwyl sy daar uit Kanoneiland-Keimoes se wêreld kom.

 

3. Ons het sedertdien twee dogters, Marilene (gebore 1982) en Christelle (gebore in 1985) uit God se hand ontvang en geniet hulle uniekheid elke dag.

 

4. Ek was sedert 1979 voltyds predikant in die Ned Geref Kerk, en het in twee gemeentes bedien: Dunnottar (1979-1983) en Potchefstroom-Mooirivier (1983-1993).

 

5. In 1988 is ons as gesin Switserland toe - as deel van my doktorale studies oor Woordbediening aan klein kinders tot en met 12 jaar oud.  Daar was ons vir drie en 'n halwe maand deel van Child Evangelism se Europese Hoofkwartier in Kilchzimmer.  Dit was ook hier wat die Here my oë oopgemaak het vir die feit dat die grootste deel van die Gereformeerde familie eintlik Baptiste is – kan jy glo - wat oral in Amerika, Brittanje en Europa woon.  (Ek het nog altyd gedink Gereformeerd-wees beteken eksklusief waar die doop meestal net aan suigelinge uit verbondshuise bedien word).

 

6. Van 1988 tot 1992 het ek 'n siekbed-ervaring gehad wat my lewe in elke area ingrypend bedreig het.  Na 8 maande van toetse en duisende rande later, is ontdek dat ek aan die sogenaamde Kroniese Uitputtings-Immuundisfunksie-Sindroom gely het, en dat die ding letterlik alles in my aangeval het: van my hartspiere, hormone, organe, brein, asook hele spier- en senuweestelsel.

 

7. Na maande se worsteling met die Here hieroor, het die Here my belowe dat Hy my gaan gesond maak, maar ook dat Hy my 'n nuwe soort bediening gaan gee, en "dat dit net 'n bobbejaan is wat twee keer dieselfde foute maak"!

 

8. Dit het ook dan so gebeur:  In Desember 1991 het die Here radikaal my gesondheid in so 'n mate herstel dat ek weer kon begin lewe.  En in 1993 het Hy aangedui dat Hy my wyer in Sy Liggaam as net in Ned Geref Gemeente wil gebruik.

 

9. Maar voor dit kon gebeur, moes die Here eers iets anders in my en Hetta se lewe kom doen:  In 1992 het die Here begin om Homself ook as die Gees van God aan ons bekend te stel.  'n Baie belangrike deel hiervan was 'n drie-maande-studie wat ek op God se bevel moes maak van al die tekse in die Ou en Nuwe Testament oor die Heilige Gees. (My nuwe manuskrip, JESUS DIE DOPER MET DIE GEES, handel hieroor.)  En dan was daar nog die profetiese woord van 45 minute wat oor ons twee se lewe uitgespreek is in Pretoria een naweek deur mense wat ons van g'n Adams kant af geken het nie.

 

10. Almal het geweet dat my bediening verander het hierna.  Skielik was daar 'n nuwe gawe-en-krag-dimensie wat voorheen nie daar was nie.  Alhoewel die Here my voor dit reeds kragtig gebruik het, het hierdie dimensie in my bediening net nog verder gegroei.

 

11. Maar die Here was glad nog nie klaar met ons nie.  Toe begin Hy met ons as gesin oor die doop as gelowiges te praat.  Om 'n lang storie kort te maak:  Op 9 Oktober 1993 is ons hele gesin as gelowiges gedoop.

 

12. Hiermee saam het die Here vir ons 'n opdrag gegee:  Dat ek binne 14 dae moes bedank as NG-predikant omdat die Here my wyer as net die NG Kerk wou gebruik.  En spesifiek wou gebruik om mense te bedien wat uit 'n tradisionele Gereformeerde agtergrond kom, maar wat as gevolg van die vernuwingswerk van die Gees van God in hulle lewens, nie meer lekker inpas in die tradisionele soort gemeente nie.

 

13. Dit was dan die begin van my bediening onder hierdie groep gelowiges wat op 31 Oktober 1993 in Potchefstroom uitgekristaliseer het as ‘n nuwe geloofgemeenskap wat mense Gereformeerd-Vernuwend bedien het.

 

14. In 1995 het die Here my opdrag gegee om dit wat in my lewe, en met die mense om my, gebeur het en wat die Here ons in die tyd geleer het, op skrif te stel.  Maar die boek moes op die tafel van gewone Gereformeerde mense beland, en moes daarom in 'n taal geskryf word waarmee hulle kon assosieer.  So verskyn WAARHEEN MET DIE NUWE WYN dan in 1996.

 

DIE DERDE EPISODE - SEDERT DIE VERSKYNING VAN "WAARHEEN MET DIE NUWE WYN" ...

 

Soos ek gesê het, het my boek WAARHEEN MET DIE NUWE WYN in 1996 vir die eerste keer verskyn.

 

Dit bly nou nog vir my 'n wonder hoe die Here dit gebruik het in die geledere van die Nederduitse Gereformeerde, Gereformeerde en Hervormde gemeentes en, tot my verbasing, selfs in gelowiges se lewens in die Pinkster en Charismatiese dele van die Liggaam van Jesus.

 

Natuurlik het die Here deur Sy Gees reeds in letterlik duisende gelowiges se lewens "nuwe wyn-waarhede" lank voor die verskyning van my boek bedien.  WAARHEEN MET DIE NUWE WYN was egter in 'n taal geskryf wat baie gelowiges uit die Gereformeerde teologiese wêreld baie goed kon verstaan, wat baie dinge vir hulle oopgebreek het wat tot dusver net uit die Pinksterwêreld vir hulle gesê is.

 

Met die verskyning van die boek, het "my bediening" - ek voel altyd so verwaand om dit so te noem - skielik 'n landswye dimensie begin aanneem.

 

Tot in vroeg ''97 het ek hoofsaaklik net in die destydse Transvaal, Noord-Transvaal, Wes-Transvaal en Vrystaat bedien.  Gevolglik het ons almal geglo het dat Potchefstroom, en die Gereformeerde Vernuwingsgemeente in Potchefstroom in die besonder, my bedieningsbasis vir baie jare sou bly.  Wonderlike groei het in die gemeente se geledere plaasgevind, tot 400 persent per jaar.  In so 'n mate dat dominee Paul Smit mettertyd ook deel geword het van die leierskap in die gemeente.

 

Intussen het besprekings vir optredes van alle kante van oral oor die land af ingestroom.  So het ek vroeg in 1997 'n uitnodiging na die Koue Bokkeveld gekry.  Ons het as gesin besluit om gedurende die April-vakansie daarheen te gaan en sommer daarvan 'n vakansie te maak.

 

So vertrek ons per trein af Kaap toe vir 'n veertien-dae-lange vakansie, met een geskeduleerde optrede in die Koue Bokkeveld.  Die mense wat ons uitgenooi het, Karel en Miki van der Merwe, het ons uitgenooi om in hulle vakansiehuis in Vermont naby Hermanus te gaan vakansie hou en het sommer daar vir ons 'n motor gelos om mee rond te ry.

 

Maar toe begin die die Here werk!  Uiteindelik hou ek daardie vakansie feitlik glad nie vakansie nie en tree 11 keer op.  Tot ek later die Here vra wat aangaan en Hy sê Hy is maar net besig om die nood van die omgewing aan ons te wys!

 

Maar laat ek net eers myself in die rede val.  Onthou, ek is nie 'n ou wat “drome droom en gesigte sien” nie!  Daarvoor was ek, na my oordeel, net te analities ingestel!  Maar toe verras God my mos op daardie trein op pad Kaap toe!

 

Ons was die môre net anderkant Laingsburg, waar ek staan en uitkyk het deur die treinvenster, toe 'n toneel soos 'n rolprent skielik voor my op die ruit begin afspeel!  Ek het die tipiese herlewingstonele sien afspeel en ek kon hoor hoe God sê:  Onthou jy die herlewing van 1860/-61 in Andrew Murray se tyd?  Ek antwoord bevestigend, want daardie herlewing se gebeure ken ek in detail.

 

Die Here sê toe verder:  Daar kom weer so 'n herlewing, maar baie groter hierdie keer.  En dit gaan weer in die Kaap begin, en daarvandaan oor die hele Suid-Afrika, Afrika, tot oor die hele wêreld strek.  Ek wil hê jy moet daar wees as dit begin.

 

Ek maak toe nogal 'n grappie en antwoord:  Here, U weet dat ek U 'n miljoen rand sal betaal om daar te wees!  Toe is alles weg.

 

Ek gaan vertel my vrou dit toe in die eetsaal, waar ons ontbyt gaan eet en sluit af deur te sê:  Hierdie gaan 'n snaakse vakansie wees.  Dit voel asof die Here wil hê ons moet die een of ander tyd hiernatoe kom.  Maar … ons is met vakansie!

 

n Hermanus aangekom, was dit asof iemand 'n riem-telegram aan die gang gesit het.  In so 'n mate dat ek my letterlik van die een optrede na die ander moes haas.  Die heeltyd het ek net al dringender begin beleef dat God ons Wes-Kaap toe roep!  En baie spesifiek geweet dat Hy ons Hermanus toe roep.

 

Maar … Hermanus is 'n pragtige plek wat met enige mens se vlees praat!  (Ek het altyd gespot dat as ek ooit 'n beroep see toe sou kry, sal ek moet seker maak of dit 'n roeping van God is of 'n versoeking!)  Daarom sit ek en Hetta toe die laaste oggend van ons weeklange verblyf in Hermanus langs die see en bid oor al die dinge wat ons beleef het …  Ek vra haar toe wat sy vir die Here sou vra as 'n bevestiging dat dit die Here is wat ons Hermanus toe roep?  Sy antwoord toe:  Ons gaan vir niemand vertel wat ons in ons hart beleef nie.  As iemand vandag nog in Hermanus na ons toe kom en vir ons sê:  As die Here julle ooit hiernatoe roep, daar is vir julle 'n huis om in te woon … sal ons weet dit is God!

 

Ons laaste afspraak daardie dag was vir tee by 'n man wat ons aan sy vrou wou voorstel.  Terwyl ons so sit en tee drink, sê hy uit die bloute:  Julle weet nie, maar hierdie huis behoort aan my; en ook die volgende twee anderkant die een langsaan.  As die Here julle ooit Hermanus toe roep, kan julle in daardie derde huis vir 'n tyd gaan woon totdat die Here iets anders voorsien het!  Toe het ons geweet …

 

Na my optrede in die Koue Bokkeveld, is ons terug huis toe om al die gebeure met die gemeentelede daar te deel en daaroor te bid.  Maar ons het geweet:  God het ons geroep en ons moet gaan!

 

Ons sit toe ons huis in die mark.  Drie weke later is die huis verkoop in 'n baie stil tyd in die eiendomsmark in Potch vir 'n uitstekende prys en ‘n week later vertrek ek solank Kaap toe om betyds te wees vir die eerste mannekamp van Woord-in-Aksie in die Wes-Kaap by Amana-kampterrein reg langs Hermanus.  Hetta en die kinders het 'n week daarna gevolg.

 

Ds Paul Smit het toe die leisels oorgeneem in die gemeente in Potch.  Later het Ds Janneman van Wyk hom ook by hom as leier kom voeg.  (Die gemeente het intussen van krag tot krag gegroei.)  

 

In Hermanus aangekom, het ons dadelik in 'n huurhuis ingetrek wat die Here voorsien het.  Toe was die volgende vraag:  Wat wil die Here hê moet ons hier kom doen?  Moet hier 'n nuwe gemeente kom?

 

Vir eers het die Here gesê:  Nee.  Wees net beskikbaar om My Liggaam te dien waar Ek die deure oopmaak.  Ek het nog probeer walgooi deur te sê:  Maar, Here, niemand ken my hier nie.  Niemand weet eers ons is hier nie.  Maar die Here het maar net gesê:  Vertrou My!

 

En ons moes, want daar was letterlik niks anders wat ons, menslik gesproke, kon uitdink om andersins te doen nie!  So begin 'n 18-maande-lange tydperk wat die Here feitlik elke week in 'n 250-kilometer-radius 'n deur oopgemaak het vir 'n naweek-optrede êrens binne Sy Liggaam.  Deure het in dapper NG-gemeentes oopgegaan … en die VGK het soos 'n waenhuis oopgegaan …vernuwingsgemeentes het my uitgenooi … en AGS-gemeentes, ens, ens.

 

Intussen het die Here beveel dat ek gratis moes optree!  Ek mag van my kant af nie 'n sent vir my optredes vra nie.  Hy het egter belowe dat Hy individue sou opdrag gee om ons finansieel te bedien.

 

En het die Here dit nie getrou gedoen nie!  Baie van julle weet dat ons sedert 1992 reeds, wat ons alledaagse behoeftes betref, skuldvry lewe, en roem in die Here se versorging elke maand.  Wel, ook in Hermanus was die Here elke maand getrou in Sy versorging!

 

Maar, as ek eerlik moet wees, moet ek julle vertel van al die trane … en dae … wat ons getwyfel het of ons reg gehoor het …  Die onsekerheid en die kostes van 'n lewe in Hermanus het ons baie dae laat vra of ons nie eerder op 'n ander plek as Hermanus moet gaan bly nie.

 

Maar heeltyd het die Here net weer en weer bevestig dat dit Hermanus moes wees.  En het Hy belowe dat Hermanus "a place of healing, restoration, teaching and new birth" vir duisende mense van dwarsoor die wêreld sou wees.

 

Na die 18 maande se bedien in die Wes-Kaap in sowat 31 dorpe voor 28 000 mense, het ons beleef dat die Here aandui dat die tyd van week-na-week se rondry einde se kant toe staan.  Daar moes nou 'n leiersgroep opgelei word in Hermanus self vir wat voorlê … en 'n familie geskep word vir diegene hier wat nuutgemaak is deur die "nuwe wyn" wat tans nie 'n geestelike familie êrens het nie.

 

Daarom het ek toe vir bykans 'n jaar, net 'n erediens op 'n Sondag gehou om 11:00 die oggend - om nie te bots met die meeste ander eredienste nie - sonder om "gemeente" te probeer wees.  Toe beleef ons dat die Here sê hier moet 'n nuwesoortige gemeente in Hermanus kom wat nie weer 'n "kerk" mag wees nie, maar wat 'n geestelike geloofsfamilie vir 'n klomp gelowiges sal wees met die opdrag om die Liggaam van die Here in die Groter Hermanus-area te verenig.

 

Eers het ek nie mooi verstaan nie, maar soos wat 'n mens tree vir tree saam met die Here 'n pad in gehoorsaamheid stap, begin die Here te openbaar wat jy nodig het om te weet.

 

So is Ekklesia-Hermanus in Augustus 2000 gebore.

 

Soos ek gesê het, was die Here se opdrag dat Ekklesia 'n nuwesoortige geloofsfamilie moes wees, en nie maar net nog een van die baie "kerke" nie.

 

Inteendeel, Ekklesia se opdrag was om die eenheid van die Liggaam van Jesus in die Groter Hermanus te herstel.

 

Maar wat beteken dit presies?  Ons het beslis nog nie die aller-antwoord nie, maar die Here het 'n paar dinge reeds vir ons duidelik gemaak:

  • Die eerste tree was om saam met ‘n ander gemeente volledig hande te vat en volledig te “verdwyn” in ‘n nuwe, meer effektiewe gemeente
  • Oral oor die wêreld is soortgelyke bewegings in alle dele van die gelowige Liggaam van Jesus aan die gebeur
  • Oral beklemtoon die Here tans die eenheid van Sy Liggaam
  • In so 'n mate dat Hy, deur die werking van Sy Gees en veral die profetiese bediening, aandui dat al die sogenaamde denominasionele onderskeidings wat ons binne die Liggaam oor die jare gemaak het, bloot menslike onderskeidings is, en dat Hy dit blatant ignoreer!
  • Aan die anderkant beklemtoon die Here ook dat gelowiges vir mekaar werklik geloofsfamilie moet wees, van naby-familie wat mekaar letterlik sewe dae uit sewe dae bedien, tot 'n wyer geloofsfamilie waar gelowiges uit verskillende "huisgesinne" op afgespreekte tye saam byeen kom, tot nog groter "geloofs-gesinne" wat in 'n dorp of 'n stad byeenkom - waar daar ruimte is vir die vyf-voudige bedieningspan van Ef 4:12-16 om gelowiges toe te rus vir hulle taak teenoor mekaar en die gemeenskap om hulle.  Maar dan op so 'n wyse dat die eenheid onder hulle heeltyd 'n onbestrede realiteit sal wees. Jesus het immers gesê:  Die wêreld sal weet dat julle My dissipels is as hulle sien hoe julle mekaar as gelowiges liefhet!