NUWE WYN

IN DIENS VAN JESUS SE EKKLESIA

Hoofblad
Ons storie
Jesus se Ekklesia
Ter wille van eenheid
'n Slukkie Nuwe Wyn
Argief
Fotos
Jou Kommentaar
Nuut op die mark!
DVD-kursus

 

1.  INLEIDEND  

 

Die Here het werklik my idee oor "kerk" en "kerk-wees" radikaal kom vernuwe.

 

Kom ek deel met jou 'n paar fundamentele geloofkeuses wat ek in die proses gemaak het wat die voorveronderstellings vorm in my nadenke oor die Liggaam van Jesus en die posisie van 'n plaaslike ekklesia/gemeente.

 

  • Die Liggaam van Jesus in 'n bepaalde area, dorp of stad is in God se oë een, en is deel van die groter, volledige Liggaam van Jesus wêreldwyd.
  • Binne hierdie Liggaam vind ons verskillende ekklesia of geloofsfamilies van verskillende groottes waar God deur Sy Gees, deur die gawes en die vyfvoudige bediening, gelowiges en 'n ongelowige gemeenskap wil bedien.  
  • So 'n ekklesia kan verskillende vorms aanneem: Dit kan bloot 'n groep gelowiges wees wat in 'n huisgroep gecommit het om geloofsfamilie te wees, of 'n aantal gelowige huisgroepe wat saam met mekaar byeenkom.
  • Elke ekklesia het egter 'n baie spesifieke roeping van God af om te vervul:
  • Die ekklesia in die huis is die plek waar gelowiges werklik vir 7 dae 'n week hulle hele lewe met mekaar as geloofsfamilie kan deel.  Hier kan hulle leer om mekaar lief te hê, te bedien en toe te rus soos ons in die vroeg-Christelike gemeente daar in Handelinge 2 sien gebeur het.  Dit wat hier gebeur is die hart en die basiese vorm van die Bybelse ekklesia en kan en mag deur niks anders ooit vervang word nie.
  • Die groter ekklesia (wat ons gemeente, of verkeerdelik "kerk" noem) is die wyer geloofsfamilie van Christen-gelowiges wat saam met ander ekklesia in 'n bepaalde omgewing, dorp of stad doelbewus hande vat en saam by geleentheid byeenkom om hulle eenheid in Jesus saam te vier.  Dit is dan ook baie keer by hierdie saam-wees-geleenthede waar, volgens Ef 4:11-16, Christus selfs Sy gelowige kinders wil toerus deur die bediening van die apostels, profete, herders, leraars en evangeliste.  Daarom moet die groter ekklesia se byeenkoms oop wees vir die bediening van hierdie vyfvoudige bedienaars -  wat meestal van buite die plaaslike ekklesia gaan kom  omdat een huis-ekklesia heel waarskynlik nie die volledige vyfvoudige bediening in sy midde sal hê nie.

 

Ek glo dat daar bestaansreg vir verskillende ekklesia of gemeentes in 'n bepaalde area, dorp of stad om 'n verskeidenheid redes kan wees, waarvan die volgende die belangrikste is:

 

  • Omdat die ekklesia in die huis die basiese vorm van gelowiges-in-verhouding-met-ander-gelowiges is, is dit moontlik om letterlik 'n ekklesia binne loopafstand van elke mens op aarde te hê.
  • Verskillende ekklesia kan ook hande vat om meer effektief groter getalle mense, en verskillende groepe mense te bedien.  En om selfs mense met verskillende aanbiddingstyle te bedien. God roep ekklesia om 'n spesifieke rol of taak in 'n bepaalde gemeenskap te verrig.  So kry ons tans spesifieke ekklesia in die wêreld wat 'n baie sterk profetiese of herderlike of evangeliese fokus het.

 

2.  EKKLESIA-WEES IS OM

  •  Te handel volgens Handelinge 2:42-47

 As ek kyk na die Bybel se prentjie van ekklesia-wees, en dit vergelyk met dit waaraan ons gewoond is, skud 'n mens jou kop in ongeloof.  Dit was destyds so eenvoudig, maar tog so effektief.

  •  Die Woord, en lering uit die Woord, het mense se lewens verander

 Waar gesalfde bedienaars ander gelowiges bedien het met die Woord en gebed in die krag van die Gees, het mense se lewens verander.  Of dit nou rondom 'n etenstafel was of daar waar die wyer ekklesia byeen was.

  •  Familie-wees en geloofsgemeenskap het dieper as bloot die oppervlakkige gestrek

Bloot omdat hulle tyd met mekaar spandeer het, veral daar in die huise, het hulle mekaar leer ken en leer vertrou.  In so ‘n mate dat hulle bereid was om hulle diepste hartseer en vreugde met mekaar te deel, maar ook hulle grootste oorwinnings en diepste mislukkings.  En gevolglik was hulle bereid om hulleself oop te stel om deur die ander bedien te word met die bonatuurlike krag en gawes van die Heilige Gees.  

  •  Hulle het 'n hart vir die verlore wêreld met sy mense gehad

 Soos hulle Hemelse Pa, leer gelowiges om mense onvoorwaardelik lief te hê ten spyte wie hulle is.  Hy het hierdie wêreld met sy inwoners immers so liefgehad het dat Hy Sy Seun gegee het om ook vir hulle te sterf sodat hulle deel kan word van Sy aardse familie, en nie verlore hoef te gaan nie.  Daarom bly gelowiges nie net met mekaar besig nie, maar doen hulle alles moontlik om by die wêreld daarbuite se hart uit te kom.  

  •  Alles wat hulle gehad het, was beskikbaar as God dit wou gebruik

 En dit het gegeld vir hulle geld, hulle tyd, hulle huis.  Alles was maar bloot genademiddele uit God se hand wat beskikbaar was om ander te seën soos en hoe God dit beveel het.  Goeie rentmeesterskap was vir hulle bloot deel van hulle Christen-wees.

 

Vernuwing, ware lewensveranderende vernuwing, is nie om 'n paar ander liedjies te begin sing of om die orde van die diens te verander nie.  Bybelse vernuwing is as God, deur Sy Gees, mense se lewens so verander dat hulle mekaar en ander begin bedien met die liefde van God deur die bonatuurlike gawes van Sy Gees.

 

God is besig met 'n nuwe werking in Sy Liggaam wêreldwyd.  Noem dit vernuwing; noem dit reformasie!  Maar Hy is besig om Sy Liggaam te dring om weer opnuut erns te maak met die hart van gesonde Bybelse Nuwe Testamentiese ekklesia-wees.

 

'n Mens kan dit seker op baie maniere beskryf, maar ek wil dit beskryf met 5 sinne wat met 'n G begin:

 

EKKLESIA-WEES BETEKEN OM ...

 

A.  GENADE AS BOODSKAP TE HÊ

 

Wat 'n voorreg om met iemand jou geloofstorie te kan deel oor die verskil wat God se genade in jou lewe gemaak het!

 

Tog weet ons dat 95% van gewone gemeentes se programme as’t ware met hulle rug na die wêreld staan!  Al druk ons die Bybel lieftallig vas teen ons bors!  Dit sal moet verander, want Jesus het gesterf omdat God 'n hele wêreld met al sy mense genadig wil wees.

 

B.  GROEI TE STIMULEER IN MEKAAR SE LEWENS

 

Binne 'n ekklesia is ons gecommit om mekaar te help om geestelik te groei.  Tot mense wat God beter en sinvoller dien en aanbid.  Of ek nou tussen mense is, en of ek alleen is.

 

C.  GROEPE TE VORM WAT FAMILIE KAN WEES VIR MEKAAR

 

God het bedoel dat gelowiges normaalweg deel moet wees van 'n familie ander gelowiges.  Waar ons werklik mekaar leer ken en vertrou.  Waar ons verantwoordelikheid neem vir mekaar se lewens.  Waar ons vir mekaar baie spesifiek kan intree in gebed en mekaar se diepste nood kan bedien.  Waar ons mekaar kan toerus en begelei.

 

Natuurlik wissel hierdie groepe se grootte:  Van die huisgroep met sy 10 of wat mense, tot 'n groter groep gelowiges wat kies om 'n pad saam te stap binne die groter Liggaam gelowiges in 'n bepaalde dorp of stad.

 

D.  GEES-GAWES TE GEBRUIK OM MEKAAR TE BEDIEN

 

Binne die ekklesia leer ons hoe om met ons oor op God se mond, mekaar te bedien met die gawes van die Gees.  En in die proses ontdek ons hoe God ons wil gebruik, en hoe om te beweeg saam met die Gees.  

 

E.  GELD EN ANDER GOED TE GEBRUIK IN DIENS VAN DIE KONINKRYK

 

Hier leer ons mekaar om goeie rentmeesters te wees.  Wat met ons geld en ons goed oop-hand voor God staan en sê:  Here, U is Here ook van my geld en my goed.  Daarom kies ek om U te dien met die eerste vrugte; en om dan, waar nodig, armes en mense met spesifieke nood te versorg.

 

50% van alle Christene hou vas aan hulle geld en hulle goed asof dit hulle s'n is.  En al wat hulle gaan verander is gesonde, Bybelse lering.

 

Hoe sê die Woord:  Mense vergaan as gevolg van 'n gebrek aan kennis.

 

Maar dan nie blote kop-kennis nie, maar praktiese ervaringskennis waar hulle uit ervaring geleer het van God se genade en liefde.  En dat Hy getrou is.  En hoe dit is om weer teenoor ander genadig te wees en uit liefde en geloofsvertroue te gee.

 

Kan ek ten slotte jou vra:  Is jy bereid om te verander?  Is jy bereid om te doen of te gee soos die Here jou geleer het?

 

Jesus het in so 'n mate in die ekklesia geglo dat Hy Sy hele lewe daarvoor gegee het.  Ja, Hy het dit in die poorte van die hel gaan bou omdat Hy geweet het niks kan dit vernietig nie! (Mat 16:18).

 

3.  DIE EKKLESIA SE ROEPING

 

Vra jy wat God se opdrag aan ons is, wil ek so antwoord:  

 

Hier bedien ons 'n boodskap van genade aan ongelowiges, en nuwe wyn aan tradisioneel godsdienstige mense om hulle op te rig en vry te stel as God se nuwe geslag bedienaars.

 

Genade:  Omdat die goeie nuus van die Bybel en die Evangelie is dat God alle mense liefhet soos hulle is.  So liefhet dat Hy Sy Seun Jesus na hierdie wêreld gestuur het om hulle te kom sê dat Hy hulle wil aanneem as Sy kinders en vir hulle 'n Vader wees.

 

Nuwe Wyn:  Tradisionele godsdiens is soos 'n tronk wat mense toegesluit hou.  Wat mense "sondige wurms" hou, en vasgevang hou in 'n tipe "gevangene-mentaliteit", terwyl die waarheid van God se Woord hulle juis wil vry maak om te groei.  Ja, wil vry maak om vlerke te groei om die skoenlapper, of die arend, te wees wat God bedoel het.  En so deel te word van God se nuwe geslag bedienaars.  En nie meer vasgevang te wees in allerlei "kerkies" nie.  Maar te leer commit aan 'n gelowige familie-groep wat weet en glo dat hulle deel is van die groter Liggaam van Jesus

 

Ons roeping is om mense vry te stel om God se unieke roeping vir hulle lewe na te jaag.

 

In wese is dit wat Mat 28:18 tot 20; Hand 1:8; en Luk 24:46 tot 49 ook sê.

 

Maar om dit te doen, moet ons uitkom waar mense is.  Ons kan nie eenvoudig net sit en wag dat hulle na ons toe moet kom nie.  

 

Daarom deel ek graag met jou die volgende 7-stap-plan:

 

STAP 1:  ONS BOU AAN EGTE VRIENDSKAPSVERHOUDINGE MET MENSE

  • Ongelowiges
  • En tradisioneel godsdienstige mense

Word hulle vriende.  Soos Jesus was.

 

Wees lief vir hulle en bedien hulle waar daar nood is

 

Gaan soek geleenthede en brûe om by hulle uit te kom: om saam met hulle te eet, te ontspan, te lewe

 

STAP 2:  ONS VERTEL HULLE METTERTYD ONS GELOOFSTORIE

 

Dink aan die volgende prentjie: Jy word uitgenooi na 'n partytjie op 'n boot waar daar gedrink, grappies vertel, gesels en gelag word.  Laat-nag wil jy huis toe gaan, toe iemand jou skielik vra:  “Ek het nog altyd gewonder:  Hoekom word iemand 'n Christen?”

 

Kan jy in 45 sekondes tot 1 minuut 'n antwoord gee wat mense se lewens vir altyd kan verander?  Onthou die woord daar in 1 Pet 3:15.  Is jy gereed?

 

Ek spel godsdiens:  D O E N.  Want my hele godsdienstige lewe het dit net gegaan oor die een ding na die ander ding wat ek gedoen het om God te probeer gelukkig hou.  Dan het ek probeer om meer te doen, of meer te gee, of meer te bid, of meer kerk toe te gaan.  Totdat ek uiteindelik moed opgegee het, want ek was moeg en gefrustreerd, want dit werk nie.  Was jy al daar?

 

Maar toe ontdek ek Christen-wees is iets totaal anders.  Christen-wees kan gespel word G E D O E N.  Want dit handel oor dit wat Jesus reeds vir ons gedoen het.  Hy het immers aan die kruis alles gedoen wat nodig is om vir al my skandes en sondes uit die verlede die straf te dra.  Sodat God my genade, vergifnis, liefde, en oorvloedige lewe verniet kan gee.

 

En hierdie ontdekking het my lewe verander.  En dit kan ook joune verander.  Maar as jy meer wil weet, kan jy enige tyd met my kom gesels.

 

STAP 3:  ONS SKEP GELEENTHEDE WAAR ONS GOD SE GENADE EN LIEFDE AAN SOEKERS EN BELANGSTELLENDES KAN BEDIEN

 

Ons probeer byeenkomste reël wat gelowiges kan help in hulle getuienis teenoor mense.  Sy dit by ons selgroep, kampe, dienste, of 'n ALFA-kursus.  Om daar 'n taal te praat en metodes en 'n styl te gebruik wat hierdie mense verstaan.

 

STAP 4:  ONS RIG ONS BYEENKOMSTE IN SODAT GELOWIGES KAN GROEI

 

Die Heilige Gees is so getrou.  Waar ons die waarheid suiwer, maar verstaanbaar bedien, word gelowiges vry, genees hulle seer, begin hulle groei en word hulle toegerus vir hulle taak.

 

Waar ons ruimte maak vir die Heilige Gees om vrylik deur Sy gawes te bedien, daar kan Jesus, die Hoof, Sy Liggaam bedien met die volle seën en oorvloed wat Hy vir hulle bedoel het.

 

STAP 5:  ONS MOEDIG GELOWIGES AAN OM DEEL TE WORD VAN 'N FAMILIE GELOWIGES

 

Die Woord sê:  Wees lief vir mekaar.  Dra mekaar se laste.  Bemoedig mekaar.  Vergewe mekaar.  Bely julle sondes aan mekaar.  Bid vir mekaar.

 

Maar dit kan inderwaarheid net gebeur tussen mense wat ek beleef vir my soos familie is.

 

Daarom hoort ons almal in 'n klein groepie gelowiges waar ons tyd met mekaar spandeer om mettertyd werklik soos familie te word.  Spr 27:17

 

Daar leer ek om te praat oor wat ek werklik glo.  Daar leer ek die Here spontaan aanbid en loof.  Daar leer ek mense bedien.

 

Dit is God se gimnasium van die nuwe geslag bedienaars waar hulle opgelei word as God se weermag (Eseg 37).

 

STAP 6:  ONS HELP MEKAAR OM ONS GEES-GAWES TE ONTDEK, TE ONTWIKKEL EN DAARMEE TE BEGIN BEDIEN

 

Ek het 'n paar jaar gelede in die bediening uitgebrand om oral alles vir almal te wees, en alleen almal se nood te probeer bedien

 

Terwyl daar gelowiges is met Gees-gawes van bemoediging, admin, bestuur, leierskap, evangelisasie, en onderwysing wat my kon help.

 

Kom ons soek saam na hoe God jou wil gebruik, en stel jou vry sodat jy kan begin bedien

 

STAP 7:  ONS LEER MEKAAR OM 'N KONINKRYKSBESTUURDER VAN DIE GELD EN GOED WAARMEE GOD ONS SEËN TE WEES

 

Is jy 'n ongemaklike, vroetelaar as dit tyd word vir die opneem van offers en tiendes?

 

Of is jy 'n blymoedige gewer omdat jy ontdek het jy kan maar God vertrou met jou behoeftes?

 

Het jy geleer om jou beste en eerste te gee vir die Koninkryk?  En geleer om nood raak te sien?

 

En in die proses ontdek dat dit nie eintlik hier soseer oor geld en gee gaan nie, maar eerder oor wat jy werklik glo en wat werklik in jou hart is!  Hoe sê hulle altyd in die Engels:  Dit is dan wat jy ontdek "talk is cheap!"  God het nogal 'n manier om, as dit gaan oor geld, werklik te toets wat in ons hart is.

 

4.  BYBELSE WAARDES WAT DIE EKKLESIA SE LEWE EN OPTREDE KLEUR EN GEUR

 

In die besigheidswêreld word daar deesdae baie tyd en geld spandeer om duidelik aan die publiek te sê wat vir die betrokke firma of maatskappy belangrik is, en waaraan hulle graag gemeet wil word; en wat die norme is waarvolgens hulle besigheid doen en optree.  In kort gesê, is dit die dinge wat bepaal hoe so 'n firma of maatskappy na binne en buite wil optree en gesien wil word.

 

In 2 Kor 3:14,15 skryf Paulus ook hieroor as hy die volgende sê: …Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus.  Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur.  Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan.

 

Sien, ons waardes bepaal of mense 'n soet of 'n bitter smaak in hulle mond kry as hulle aan ons dink.  Kyk 'n mens na die vroeg-Christelike gemeentes in Jerusalem, Rome, Korinte en Efese byvoorbeeld, hoor en sien jy telkens pertinent die dinge wat vir hulle belangrik (of waardevol was).

 

Ek wil 10 kernwaardes uitlig wat ek glo deel moet wees van enige ekklesia se lewenswyse (sy dit in 'n huisgroep, of 'n gemeente, of die breër Liggaam van Jesus in 'n bepaalde area/stad of dorp is):

 

1.       Ons glo dat mense se lewens verander word waar die onverdunde waarheid van die volle Bybelboodskap bedien word aan mense

 

·         Heb 4:12 - Die woord van God is lewend en kragtig.  Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg.  Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

·         Hand 20:32 - Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade.  Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.

·         Hand 2:42 - Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

 

Mense se lewens word deur die Gees van God verander deur gesalfde, profetiese lering in die lig van die volle Bybelwoord.  Maar dan moet dit ook gebalanseerde Woordbediening wees.  Waar dit wat God se Woord van uiterste belang ag, ook vir ons van uiterste belang is, en dit wat op die periferie lê, ook vir ons op die periferie lê.

 

Daar dreig mos maar altyd 'n gevaar dat geestelike leiers en predikers net heeltyd fokus op gunsteling-onderwerpe en temas!

 

2.       Die ongelowige, verloregaande wêreld rondom ons is vir ons van lewensbelang;  God het immers die lewe van Sy Seun gegee om te verhoed dat hulle sommer net verlore gaan

 

Daar is geen groter dinamiek in 'n gelowige se lewe, of in die ekklesia, as om te beleef hoe God ons gebruik in ongelowiges se lewens nie!

 

Wat is meer opwindend as om te sien en te beleef hoe hulle lewens in geheel voor jou oë verander!

 

3.       Daarom kies ons om relevant in ons gemeenskap en in die wêreld te wees, sonder om kompromie te sluit

 

Jesus was die mees relevante, effektiewe kommunikeerder van ware lewe.

 

Kyk en luister jy na Hom, dan sien jy hoe Hy mense se aandag vasgegryp het met dinge uit hulle eie leefwêreld.  Dinge soos 'n gewone muntstuk, of 'n saadkorrel, of 'n toring wat inmekaarstort en 18 mense sterf, was Sy prentjies om lewe oor te dra.

 

En tog het Hy dit so gedoen sonder om ooit die Waarheid te kompromitteer.

 

4.       Volgelinge van Jesus se lewe word gekenmerk deur 'n egtheid en gedurige groei

 

Kyk jy na die lewe van Jesus, is daar verskeie momente wat 'n mens kan gebruik om hierdie egtheid te illustreer.

 

Een van die mees aangrypend vir my is dit wat daar in Mat 26:36 tot 39 afspeel!

 

As daar een ding waar moet wees van gelowiges in die ekklesia, is dit dat ons sonder pretensie, sonder maskers, sonder leuens, met mekaar en die gemeenskap om ons moet kan omgaan.  En dit moet geld vir elke leier tot by die kleinste kind.

 

Maar alhoewel ons heeltyd eg moet wees, moet daar ook 'n verwagting heers dat ons almal in 'n proses van groei en ontwikkeling is.  Niemand van ons gaan môre nog so stukkend wees soos wat ons vandag is nie!

 

5.       Die hele ekklesia moet vrygestel word as God se nuwe geslag bedienaars met Gees-gawes

 

God se plan vir die ekklesia is dat ons elkeen toegerus moet wees met die gawes van die Gees om mekaar te kan bedien soos God dit wil.

 

Daarom glo ek is dit die ekklesia se roeping om hierdie gawes te herken in mekaar se lewens en gelowiges algaande vry te stel om ander te bedien met hierdie gawes (vgl. 1 Kor 12; Ef 4:11-16; 1 Pet 4:10).

 

6.       Egte, warm liefde moet die verhoudinge en lewe van die ekklesia kenmerk

 

As 'n mens luister na wat in 1 Kor 13 en 1 Joh 3 en 4 staan, kan ons nooit toelaat dat die ekklesia soos die een of ander professionele klub of organisasie word waartoe mense behoort nie.

 

Met die Gees van die Hoof van die ekklesia in ons lywe, kan ons nie anders as om heeltyd te waag om ons hele lewe oop te maak en te deel met mekaar nie!  Al weet ons daar is altyd die moontlikheid dat ons kan seerkry.

 

Ons kan immers nie anders as om mekaar lief te hê en werklik familie te wees nie!

 

Daarom is dit 'n keuse om eerder op die verhoudinge tussen ons te konsentreer, as om heeltyd net taakgerig te wees.  Dit wat tussen ons gebeur in ons verhoudinge met mekaar is baie belangriker as dit wat ons doen of saam doen.

 

7.       Ons glo "Body-life" gebeur op die mees effektiewe wyse in 'n groepie van 10 of wat gelowiges wat ge-commit het aan mekaar

 

Kyk maar na gedeeltes soos Hand 2:46; 20:20; Rom 16:3-5 ens, om die belang van die kleingroep-commitment in die Vroeg-Christendom raak te sien.

 

Uit die praktyk is dit duidelik dat die diepgaande verandering in en bediening van mense, baie nou saamhang met die commitment en betrokkenheid van daardie mense by ander mense in 'n kleingroep.

 

Daarom is dit gedurig vir die ekklesia noodsaaklik om deur middel van kleingroepe die geweldige verskeidenheid behoeftes by mense diepgaande te bedien.

 

8.       Net ons beste kan God vereer en mense inspireer

 

Kol 3:23 sê: Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,

 

1 Kor 10:31 bevestig dit as daar staan: Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.

 

En dit geld vir elke aspek van mens-wees: sy dit vir ons geestelike groei, of vir ons verhoudinge met ons eggenoot of kinders.

 

En daarom kan ons nie met minder tevrede wees as "excellence" nie!

 

Gaan kyk maar hoe Salomo die tempel gebou het, en Nehemia die muur van Jerusalem.  Net die beste was goed genoeg!  En dit het mense geïnspireer!

 

9.       Ons glo mense moet gelei word deur gelowiges met 'n leierskap-salwing op hulle lewe

 

George Barna bereken dat net 6% van alle senior leraars van gemeentes werklik leiers is.  Die meeste van hulle is eerder Geesbegaafde herders of leraars of bedienaars!

 

Daarom glo ek is daar tans so 'n geweldige krisis in die ekklesia wêreldwyd, as gevolg van 'n gebrek aan dinamiese, gesalfde leierskap!

 

Die ekklesia behoort die plek te wees waar gesalfde leiers toegerus en vrygestel kan word om meer en meer verantwoordelikheid te kry om te lei.

 

10.   Ons glo volkome oorgawe aan Jesus Christus en Sy koninkryk is normaal in 'n gelowige se lewe

 

Uit gedeeltes soos 1 Kon 11:4 is dit duidelik dat die mees wyse man in die geskiedenis uiteindelik misluk het omdat hy nie volkome ge-commit en oorgegee was om net God, en Hom alleen, te dien nie.

 

Sien, in hierdie geval is 95% vyf persent te min!

 

Daarom is die uitdaging vir volgelinge van Jesus om in die ekklesia mekaar aan te moedig om 100% oorgegee te lewe elke dag 24 uur uit 24 uur.  En so dat mense dit kan sien en beleef!  Natuurlik is dit 'n leerproses.  Maar dit is ons keuse vir ekklesia-lewe!