Dag 99 – Die nuwe wet van die Koninkryk – deel 2
Ek is besig om met jou oor die verskil tussen “die wet op klip” (of Ou-Testamentiese
wettiese gedeeltes) en die “wet op die hart” (waarvan die Nuwe Testament praat wat nou vir die volgelinge van
Jesus geld) te gesels.
In Jes. 2:2-3 en in Miga 4:1 tot 2 kry ons die profetiese oproep: “En aan die einde van die dae sal die
berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen
toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God
van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord
van die HERE uit Jerusalem.”
Die Hebreeuse woord, Tora, dui gewoonlik die eerste vyf boeke in die Ou Testament aan
wat deur Moses geskryf is, maar in die Skrifgedeeltes wat ek hierbo aangehaal het, gaan dit oor ’n nuwe era.
In hierdie nuwe era
is die “tempel van God” nie meer ’n gebou gemaak van klip nie, maar die Ekklesia, die volgelinge van Jesus
Christus, in wie God self woon deur Sy Heilige Gees. En in hierdie nuwe era, sê gedeeltes soos Jer. 31:31-34 en Eseg.
36:21-31, gaan hulle ’n nuwe wet hê, ’n wet binne-in hulle, want God se Gees gaan self in hulle kom woon
om self vir hulle God se bedoelinge met die wet van ouds te leer.
In Jer. 31:31-34 en in Eseg. 36:21-31 kondig God profeties aan dat
hierdie nuwe era op pad is. En deel van hierdie nuwe era is dat daar 'n nuwe verbond/testament met 'n nuwe inhoud gaan wees
wat anders gaan werk as die vorige ou een wat God op klip vir Sy volk gegee het.
God gaan hierdie keer Sy wet op ons hart
skryf, nadat Hy ons gees nuut gemaak het (of wederbaar het, in die woorde van Joh. 3).
Die NT noem dit ook die “besnydenis
van die hart” (of gees) daar in Kol. 2:11.
Die Hebreër brief sê dit is 'n soveel beter verbond/testament as die ou een
(Heb. 7:22; 8:6).
Hoekom dan? Om baie redes. Maar van die belangrikste is: Dit is nou in detail in ons geskryf, op ons hart, deur God
se Gees wat in ons lywe kom woon het. Die Gees van die lewende God gaan nou self ons wet word.
Waar die vorige “wet of tora
op klip” geskryf is, en dit vir die mens, as gevolg van sy hart van klip, moeilik (selfs onmoontlik) was om te gehoorsaam,
is die “nuwe wet” nou “die wet wat op ons hart geskryf word” deur God se Gees, die Heilige Gees, wat
in ons kom woon het. Omdat ons gees eers nuutgemaak is (in staat gestel is) om God se hart nou te kan gehoorsaam, is ons nou
in staat om dit te gehoorsaam.
Ons het nou nie meer Rabbi’s nodig om dit vir ons uit te lê nie. Ons het nou as’t ware 'n “Innerlike
Rabbi”, naamlik God se Gees self, die Gees van die Vader en die Seun, in ons om ons die inhoud daarvan te leer en te
help verstaan.
Hierdie Gees ken en ondersoek die hart en bedoeling van die Vader en die Seun, vir die oorspronklike bedoeling agter
elke stukkie wet of wettiese reëling van die Ou Verbond of Joodse Tora.
(Hierdie oorspronklike bedoeling was totaal
afwesig onder die ou verbond. Daarom was die klem op nakoming van die letter van die wet).
Juis daarom is die inhoud van “die
wet op klip” en “die wet op ons hart/gees” so totaal verskillend.
Die hart van die verskil tussen “die
wet op klip” en “die wet op ons hart/gees” is soos om persoonlik met die skrywer van 'n boek te praat oor
sy bedoeling agter wat hy geskryf het, teenoor om net die boek self te lees.
In “die wet/tora op klip” gaan dit oor die letter van
daardie oorspronklike wettiese gedeeltes wat ons in die Ou Testament kry. In “die wet/tora op ons hart of gees”
gaan dit oor God se hart en bedoeling agter daardie oorspronklike ou wettiese gedeeltes en spesifieke wette en reëlings.
Die “wet/tora
op klip” verander bloot optrede. Terwyl “die wet/tora op ons hart/gees” gesindhede verander.
Die “wet/tora
op klip” van destyds was deel van 'n sisteem. Die “wet/tora op ons hart” is in die nuwe era nou deel van
’n totale intieme liefdesverhouding tussen die volgelinge van Jesus en die lewende God.
Die “wet/tora op klip”
gee nie redes nie. Die “wet/tora op ons hart of gees” verduidelik God se oorspronklike bedoeling daarmee wat Hy
van ons vra.
Die “die wet/tora op klip” benodig 'n boek, ’n Rabbi en wettiese gehoorsaamheid. Die
“wet/tora op ons hart of gees” vereis dat ons ons sal onderwerp aan die beheer van God se Gees in ons en sal luister
na Sy stem.
Die “die wet/tora op klip” vereis studie en intellek. Die “wet/tora op ons hart of gees”
vereis intieme tyd saam en ’n intieme liefdesverhouding met die lewende God self (tyd saam waarin ons mekaar kan liefhê).