....Só MAAK MENS !

Apr 2010

APRIL

 

 

 
 

André Rieu

 

Politiek...!

 

Kwaai Braai Paai...

 

Vleis

 

Kaas

 

Wyn

 

Eiers

 

Simnelkoek

 

Paasbolletjies

 
 
2010

APRIL 

As vandag die eerste dag van jou nuwe lewe was, waarmee sou jy begin? 

 

So op die oggend van hierdie vooraand van die volmaan in April wil ek jul iets vertel.

Onder 'n dik bewolkte hemel, met Eike wat reeds van geel na diep roesrooi en bruin verkleur het,

het ons in amper misreën in Gauteng aangekom.

Pannekoekweer. Sopweer. Kaggel en rooiGlühwynweer. Maar vir ons, André Rieu-weer.

Saam met bykans 5000 ander het ons die afgelope Sondag middag die Super Bowl in Sun City betrek

en soms ademloos geluister na die wonderlike musiek wat tot elkeen se hartsnare gespreek het.

 

Tipies van sy konserte om iets van die gasheer-land ook in te sluit, het ons gewonder watter plaaslike item ook gaan plaasvind,

en Nokrismesi Skota, beter bekend as ‘Kimi’, het met haar eerste bydrae, die immergewilde “Ave Maria” ons stoutste verwagtinge

oortref met haar pragtige stem, professionaliteit en uitmuntende vertoning, daarna het sy ook  plaaslike inhoud verskaf 

met haar tradisionele wiegelied ‘Tula Tula’ eers in Zoeloe en toe in Afrikaans

(hoewel nie korrek vertaal! -maar almal ken immers nie Zoeloe soos 'n tipiese Drakensberger nie!) ook ‘Sarie Marais’

en ook Vicky Samson’s se ‘African Dream’.  

Die Bloemfonteinse Jeugkoor het ook opgetree en Michael Jackson se “Heal the world” saam met almal gesing. Vrystaat!!

Die hele aand was een dawerende sukses en aangesien ek geseg het dat indien André ooit na SA kom dit my jaarlikse vakansie sou wees-

wel, dan moet ek nou sê: Vriende, ek het so pas terug gekeer van my uitsonderlike 3 dae uit en tuis “lange” maar wonderlike vakansie!                   

Nou wag ‘n trekkery! So verskoon maar die effe stiller dae, van MEI, hier op die werf, want die rekenaar word haas ingepak...

Resepte sal wentel om roosterbrood met konfyt en kaas, roosterbrood met 'n skyfie ham en 'n smeersel tuisgemaakte mosterd,

roosterbrood met sop, roosterbrood en...want: Eerskomende naweek kom kuier familie vir oulaas by ons in die “groute” opstal  en dan as die Heer wil,

trek ons volgende week in ons pas-klaar rivier-huisie in

Heerlik, hier begin ons “hardebeen-kou-dae” ook ons eerste “Aftree-dae” “oue-tehuis-dae” “stoepsit-dae” “lui-lekker-dae”...maar eers:

daardie klein woordjie-dae, wat begin met “Vat jou goed, en... 

T-R-E-K” ...!!

 

...total bliss soos party sou sê...om so van naby, na die verbyvloeiende water van die goue weerkaatsende “groute” Gariep te mag sit en staar...


  Shalom!

  R.  


Hi Julle,

 

Sjoe! Mens word toegeval deur al die politieke eposse en geestelike eposse en gewone eposse , en al wat almal in gemeen het, is eintlik om mens

net OF moedeloos te stem OF Hoop  te gee.

 

Soos alles het ook dit vir my twee pole geword waartussen mense rondspartel.

En soos altyd, hoor ek my Oupa se wysheid wat seg, BALANS , KENNIS, GEDULD, VREDE,GEBED is jou wagwoorde vir onderskydenheid ...

Ons is almal bewus van die situasie in SA op die oomblik en daar is baie e-mails en sms’se wat rondgestuur word wat onbewustelik ook vrees en haat aanwakker. 

Elkeen het sy eie mening, visioen, plan, OF RESEP!

(en is dit wérklik alles soveel anders in SA as in ander lande met hul interne probleme?) (hoekom is die gras anderkant groener?..dalk oor daar dalk

ook maar net soveel, of dalk meer bemesting, plaasvind..? )

Soos een epos skrywer skryf: (en as sy NAAM soveel saak maak, gaan dit oor hom en nie oor die saak wat hy voorstaan, of oor die saak van God nie,

WANT, maak die skrywer se naam werklik soveel saak ? Moet ons nie almal IN DIENS VAN, tot stigting van, die Koms van die ware KONINGKRYK leef,

sonder inagneming van die mens se naam nie ? )

Maar die skrywer skryf tereg: As gelowige het jy twee keuses op die oomblik:

  1. om alles aan te stuur en vrees en haat verder aan te wakker
  2. om dit te ‘delete’ en eerder te bid.   (Hiermee stem ek saam, dis al hoe mens die verswakkende kettings breek wat ons met vrees of haat bande boei, 
  3. en eerder pro-aktief, ingelig, paraat, vrymakend en positief te leef tot eer van ons Verlosser, in wie se Palm, ons veilig bly.)

As GELOWIGE  - wanneer Jesus Christus jou Verlosser en Saligmaker is- het jy ‘n taak:

 Esegiël 3: 17:  “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku:”

 DUS: ONS taak as gelowiges is om: te besin voor jy alle boodskappe  aanstuur!

Wees JY die verskil, bemoedig mekaar, wakker positiwiteit aan, staan vir  ‘n opbouende oplossende benadering, en volg iemand met geloof in God, integriteit,

ekonomiese kennis, intelektuele oplossings,  ’n positiewe gesindheid, en iemand wat nie aanspraak maak op emosionele taktieke nie .

Bid, vir kalmte, vergifnis en vryspraak tussen mense, dat God ons land sal seën en dat mense sal terugdraai na God, dat, geweld, wraak, rasissme,

negatiwiteit, depressiwiteit, passiwiteit, en alles wat die HOOP op die BESTE versmoor, deur HOM uitgewis mag word, en dat ons ons oog op SY HEERLIKHEID

gerig sal hou, die ware eindstreep mag bereik soos wat HY van ons vra.

 Ek ego van die skrywer se woorde,- ( al verander ek baie daarvan!) maar, Kom ons wees wagters op die mure van ons wáre land:

NIE SA nie, maar wagters op die mure van ons wáre land : die KONINGKRYK van die HEMELE! 

(...want SA, soos enige ander land- is bloot maar waar ons tydelike tentwoning staan, ons opslaanplek in hierdie lewe...)

Sterkte en seënwense!

R.

DR ST POTGIETER SKRYF:

Hoeveel keer in lewe voel 'n mens nie mismoedig nie? Jy is in 'n situasie gegooi wat die toekoms donker maak.

Jy verstaan nie hoekom die Here oor jou pad sekere teenspoed gestuur het nie. Jy is vasgevang in omstandighede waar jou talente en menswees

nie tot sy reg kom nie. Waarom, gebeur die slegte dinge met my?

 

Baie mense gooi tou op wanneer hoop verdwyn. Jy raak kwaad oor jou omstandighede óf jy wil net lê en huil oor die put van ellende waarin jy beland het.

Jy is sonder antwoorde, sonder hoop, en met moedeloosheid in jou hart en siel.

Maar doen wat jy kan kan binne jou situasie. Moenie moed opgee nie. Oefen jou talente en vaardighede, ontwikkel steeds jou vermoëns,

al is tyd en omstandighede teen jou.

Miskien verstaan jy dit nie vandag nie, maar wie kan die toekoms sien? Dalk is jou huidige omstandighede net 'n voorbereiding vir môre.

Miskien skep jou aanhou en uithou vandag, vir jou die tegniek en kennis om môre se situasies te kan hanteer.

Dit laat my dink aan wat Kenneth Hildebrand gesê het: "Sogenaamde 'geluk' is gewoonlik daar waar voorbereiding en geleentheid ontmoet."

Jou swaarkry vandag is dalk die voorbereiding vir môre om die geleentheid aan te gryp wat hom mag voordoen.

Moenie tou opgooi nie. Jou deursettingsvermoë om steeds die regte ding te doen, ongeag jou omstandighede, help jou gedagtes om die negatiewe

uit te skuif én dit gee vir jou positiewe energie en hoop vir die toekoms.


"Die beste voorbereiding vir môre se goeie werk is om vandag goeie werk te doen." - Elbert Hubbard - 

 

Die eerste ryp het langs die Grote Gariep oor die lusernland langs die appelkoosboord, waar bokooie begin lam het, geval.
Wit yskristalle het om geel blare op die grond ver-ys tot klinkklare bewys van die wondermooi skepping uit ons Vader se hand.
Asemrowend mooi en asemrowend skrikwekkend.
So mooi in die brose skoonheid daarvan, maar wanneer jy na die kwesbaarheid van pasgebore lammers kyk, opgekrul, koud en hittesoekend,
in die swart sloot-vore met die wit randjies, wagtend dat die eerste son dit sal smelt en die koue lyfies sal ontdooi tot 'n huppelwek- dán,
is ryp in die nanag skrikwekkend.
Vir my.
 
Maar! vir 'n maklike welbehagende Sondagmiddagete met "flair", saam met 'n warm groente gereg of 'n heerlike vars mengelslaai,
afgerond met 'n ligte vrugtige nagereg en vla...
probeer gerus hierdie: KWAAI BRAAI PAAI, wat ONS DORP se grootbaas vir my aangestuur het, en wat Hennie Coetzee,
een van ons lesers vir ons uitgetoets het!
 
Lg. skryf daaroor: 
Haai! daai kwaai braai paai
is alte fraai en gladnie saai
of taai
en raai ons het dit gelaai
en laat waai op die kaai by Port Shepstone baai
en dit toe afgemaai!
 
KWAAI BRAAI PAAI 
2 Rolle Skilferkorsdeeg 
1 Pak Spinasie 
Gaar Hoenderborsies (Gerookte Hoenderborsies kan ook gebruik word) 
1 Pakkie Gesnipperde Spek 
1 Ui 
1 Rooi Rissie 
1 Geel Rissie 
1 Pak Sampioene 
Feta 
Kaas 
Mozzarella 
Cheddar 

Metode:
Laat ontdooi die deeg en rol uit op snyplank. 
Braai ui, rissie en spek saam. 
Voeg Ina Paarman se Rosemary and Olive en peper by. 
1. Sit halfte van rou spinasie op deeg. 
2. Sny hoenderborsies in stukkies en plaas op spinasie. 
3. Sit uie en spek mengsel op. 
4. Pak sampioene op. 
5. Sit nou verskillende kase op. 
6. Eindig met ander helfte van spinasie. 
7. Plaas deeg bo-op. Verf met eier/melk. 
8. Maak deeg oral toe, soos 'n pakkie 
Gebruik rooster met randjies. 
Braai hoog op vuur. 
Braai 15minute,draai gedurig om. 
Braai tot mooi goudbruin.
 i: 

   Die lewe is vir die lewendes, wat jou net een maal gegun word.

Anoniem 

Ek wil vandag

 
 
 
 
 

iets te sê hê oor: VLEIS, KAAS en WYN! 

Die BEESVOORKWART bestaan uit die:

Bolo, Skenkel, Skof, Nek, Primarib, Dikrib, Platrib en Borsstuk, en word verkieslik so gebruik:

BOLO: Stowe, Smoor, potbraai of bak in foelie of in bak sakkie, maalvleis geregte

SKENKEL: Stowe, Smoor of prut in vleisaftreksel met geurmiddels tot sag en ook vir vulsel vir pasteie.

SKOF: Potbraai en Kook

NEK: Stowe en maalvleis geregte

PRIMARIB: gebruik vir Rooster en Oondbraai, met been of ontbeen en in rolle.

DIKRIB:  Potbraai of in foelie of bak sakkie, Smoor, Stowe, Maalvleisgeregte en oondbraai mits dit rypgemaak is.

PLATRIB: Stowe of  Potbraai of in foelie of bak sakkie

BORSSTUK: ook bekend as die “Brisket” Baie geurig, Kook, Potbraai of in foelie of bak sakkie, en Smoor.

Die AGTERKWART bestaan uit die:

Dunlies, Voorrib, Filet, Lende, Kruis, Binneboud, Dy, Stertstuk, Diklies en Skenkel.

En word so gebruik:

DUNLIES: Potbraai of in foelie of bak sakkie, Smoor, Stowe, Maalvleisgeregte

VOORRIB: Oondbraai en Rooster , Die sg. Rib-oog snit is goeie gehalte beenlose snit uit die ribgedeelte.

Die “oog” verwys na die ronde kruisspiersnit wat uiters sag is.

FILET: Rooster en Oondbraai Dit bly jou uitmuntende tafelkeuse. Dit bly die sagste biefstuk wat daar is.

LENDE: Rooster skywe, oondbraai groot snitte, snitte hieruit meer bekend as “Sirloin”-skywe,  die gunsteling vir wanneer jy gaste kry, 

T –Been, geurvol en is 'n saamgestelde biefstuk met doeksagte filet aan die een kant en sappige sirloin aan die anderkant van die been.

“Rump” en Porterhouse –skywe, hierdie biefstuk skywe word gesny uit die sirloin en is baie gewild, vol geur, sag en sappig.

Die klub-skyf word gesny uit die kort lende langs die einde van die rib, en is sagte geurvolle waarde vir geld.

Hierdie is gewilde braai keuses vol geur en sagtheid, op sy beste oor die kole of in 'n droë pan.

KRUIS: Rooster en Oondbraai

BINNEBOUD: Potbraai of in foelie of bak sakkie, Smoor en Stowe.

DIKLIES: Smoor, Stowe en Potbraai of in foelie of bak sakkie. 

DY en STERTSTUK: Potbraai of in foelie of bak sakkie, rook, gekook as Soutvleis, Smoor en Stowe.

SKENKEL: Stowe, Potjie en Smoor of prut in aftreksel tot sag en ook vir pastei vulsel.

 

My Gunsteling snitte vir :  

Rolle, Oondbraai of “Potroast”:   Bolo , ontbeende “Chuck”/ Skof en ontbeende platrib, kort-rib, dun-lies, ontbeende “Brisket”,

Dik flank, “Topside” of  “Silverside”, en Filet.

- Beste snitte vir Stowevleis :Skenkel, “Brisket” , Nek, Rib-snitte, Bolo, “Chuck” Lies, en “Topside” of  “Silverside”.

- Beste snitte vir Maalvleis: “Topside” of  “Silverside”, “Chuck” of Kruis en Nek .

-  Beste snit vir Sosaties, Goulash en  “Stroganoff” : Rump, “Topside” of  “Silverside”.

- Alle snitte wat geskik is vir Maalvleis is ook geskik vir Wors, en alle afsny stukkies kan ook gemaak word en gebruik word vir wors,

HOEWEL Wors verkieslik gemaak word met vetter vleis.

 

BEESVLEIS WENKE

-Kyk vir ʼn tekstuur wat ferm, nie droog, glad en fyn is.

-Reukloos of vars vleis reuk. ( LW. Dat vakuum verpakte snitte 'n effe “af” reuk mag hê wanneer

jy dit oopmaak, maar sodra dit aan suurstof blootgestel  word, verdwyn die reuk, indien nie,

dan is die vleis wel inderdaad “af”!)

-Die buitenste lagie vet moet ferm en eweredig versprei wees.

(Kleur  is slegs 'n voedings indikator en irrelevant t.o.v. smaak.

Geel mielies as voer  is die oorsaak van daardie lekker (ongesonde!) helder goudgeel vet...)

-Die kraakbeen of werwel weefsel tussen die vleis behoort  wit en jellie-agtig te wees, die afwesigheid daarvan 

is teken daarvan dat dit 'n ou dier was.

-Rypmaking is die proses waardeur die spierweefsel proteïen deur ensiem werking afgebreek word om sagter,

sappiger snitte  te bekom. Beesvleis kan tussen 0º en 4 º vir 5 – 6 dae hang en  by 0 º tot 12 dae.

-Vakuumverpakte vleis kan tot 2 weke behoue bly by 'n konstante temperatuur van 0º tot 4 º  en vars vleis

in die yskas by dieselfde temperatuur vir slegs 2-4 dae. 

-Bevrore vleis behou volle voedingswaarde, voorkoms en geur , en lugdigte, verseëlde vleis kan by -18º vir 6 maande  tot 'n jaar gevries word,

maar gaar vleis net vir 2 maande.

-Ontdooide vleis behou meer sappigheid en voedingswaarde voor dit gaargemaak word, en die beste manier om vleis te ontdooi is in die verpakking

binne in jou yskas. Alle ander metodes  werk, maar jy boet sappigheid in, want baie van jou vleis vog  gaan daardeur verlore.

SKAAP

 (AS JY HIERDIE VOORSNY  METODE BETER WIL SIEN,KONTAK MY  GERUS, EN EK STUUR DIT GRAAG AAN JOU!)

 

Beste snitte vir BRAAIVLEIS: Boudtjops, Rugtjops, Lendetjops, Ribtjops, Bladtjops, Ribbetjies.

Beste snitte vir  OONDBRAAI: Boud, met been of ontbeen, Rugbraaistuk, Ribbetjie en ontbeende Blad-vleisrol.

Beste vir MAALVLEIS, SOSATIES: Boud en Lende.

Beste vir STOWEVLEIS: Skenkels, Nek, Bors en Ribbetjie.

WENKE:

Lam is ligter van kleur en het 'n fyner tekstuur as die van ouer skape.

Vet is ferm en eweredig deur hele karkas versprei.

Die vleis se tekstuur moet ferm wees met aanraking en nie ingeduik bly na jy daarop gedruk het nie.

Wit en jellierige werwel weefsel en kraakbeen is aanduiding van Lam, ouer diere s'n is hard.

Rypmaking is korter as by Beesvleis, 2 – 3 dae by 0º en 4 º, en 7-10 dae by 0º.

VARK

KOP: Stowe, Lewerwors, Oondbraai en Sult/Bron en vir paté.

SKENKELS en POOITJIES: beste vir Sult/Bron, “Eisbein” en stowevleis. Kook en bedien saam met suurkool, of in boontjie of ertesop!

DIKRIB: Ontbeen vir oondbraaistukke, as tjops vir braaivleis, en in strokies vir roerbraai geregte.

Gebak in foelie of in baksakkies, gerooster, gestowe en gesmoor met soet-suur-sous.

BORS: Saam met die RIBBETJIES, as gerookte of gemarineerde “Spareribs”, stowe , potjie, ontbeen vir oondbraai, en maalvleis.

Bors ook lekker gemarineer en oor kole gerooster, en Lies-en-ribbetjie, lekker pangerooster as ontbytgereg, gemarineer vir sosaties,

gepekel, berook, gerol en gaargemaak as ham of in skywe as spekvleis. Kombineer met maer beesvleis in maalvleisgeregte en wors.

RIB ook as gerookte tjops en gerook en gepiekel as “kasseler-ribs”

MAAG: Lekker gevulde rolle vir oondbraai, maalvleis, gestreepte spek, kebabs.

LENDE:  vir rooster en braai, in Saal-tjops gesaag, of ontbeen as oondbraaistuk.

BOUD: Heel of ontbeen as oondbraaistuk, gerook en gepekel as ham of spek, of vir braai as Boudtjops.

Ook vir sosaties, varkrepies en maalvleis.

WENKE:

Jong vark se kleur is grys-pienk, hoe ouer die dier hoe donkerder die kleur.

Vet is meesal wit tot roomwit, olierige voorkoms dui op ouer diere.

Die vleis se tekstuur moet ook ferm wees met aanraking en nie ingeduik bly na jy daarop gedruk het nie.

Wit en jellierige werwel weefsel en kraakbeen is aanduiding van jonger karkasse, ouer diere s'n is hard.

Wat is vleis sonder KAAS....of moet ons dit net noem omdat ons wil oorgaan na die WYN onderwerp?

Hoe dit ook al sy...ons kry letterlik honderde verskillende KASE, een vir elkeen se voorkeur en smaak, vir elke geleentheid

en sommer ook vir tussen in!

 

Ons kry Halloumi kaas, koud in skywe of warm gerooster! Bekende Cheddar en Gouda, Camember, Roomkaas, Smeerkaas,

Skaapmelkkaas, Bokmelkkaas, Brie, Igor Gorgonzola kaas, Feta kaas, Deense kaas, Bloukaas....

 

Een van CHECKERS se wen-wenke is:

Plaas gegeurde roomkaas, gekapte, gerookte salm, gekapte dille en kappertjies in 'n ramekin wat uitgevoer is in kleefplastiek.

Dop uit en bedien as voorgereg met vars uitgedrukte suurlemoensap en dun snye geroosterde plaasbrood!

Maar wat ook al, saam met kaas gaan

WYN hand aan hand!

Wyn moet  85% of meer van 'n spesifieke variëteit bevat  om alleenlik as daardie kultivar geëtiketteer te word.

Wanneer die  hoofkomponent  minder as 85% van die wyn uitmaak, word dit as 'n versnit  beskryf.

In SA is rooi versnitte hoofsaaklik 'n kombinasie van 2 of meer gunstelinge.

(Cabernet Sauvignon, Merlot, Shiraz en Pinotage)

Die Kaapse versnit, beskryf versnitte wat hoofsaaklik uit Pinotage bestaan.

Wyn word beskryf in 'n eiesoortige digterlike taal, ons hoor van wyne/ versnitte wat “kruidagtig is, met 'n sweempie tabak” of

 “medium vol, gelaag met vanielje-deurdrenkte bessies!” of  “sagte sjokolade , met moerbei, kassis en kruie...” en wat van:

“Pretensielose peper en speserye, met sagte tanniene...” Voorwaar iets om oor digterlik te raak!

Maar kom ons wees meer prakties.

In die MIDDAG, sal ons ligte witwyne of sjampanje met 'n pikante bokmelkkaas of 'n toegeeflike roomkaas  as ligte voorgereg bedien...

NAMIDDAG, sal 'n ryk gehoute Chardonay perfek by 'n sagte Camembert met sonsondergang pas.

Vir AANDETE, gaan verouderde Cabernet Sauvignon OF  'n gehoute Chardonay hand aan hand met 'n skerp maar botterige

Cheddar of die ryk aandmaal.

DAARNA, sal Desert-wyne en Port die perfekte afronding bied vir die aand, dalk saam met die Bloukaas van jou keuse, soos Stilton,

Roquefort of  Gorgonzola met  'n ligte sout beskuitjie daarby...

Ons ROOIWYNE: 

CABERNET SAUVIGNON: word beskryf as 'n forse, hartlike en ryk  drankie. Dit het swartbessie en kruisement aromas, en is onvergeetlik

saam met bees of skaapvleis.

PINOTAGE is 'n kombinasie van die Pinot Noir en Cinsault-kultivars en 'n egte rooiwyn.

SHIRAZ: die Shiraz-druif word veral beïnvloed deur temperatuur – 'n warm klimaat ontsluit donkervrug- en pepergeure,

terwyl koeler weer speseryagtige ondertone met geure van drop en donker sjokolade lewer.

Dit is ryk en vol en pas veral god by Indiese en Meksikaanse geregte, en sterk kase.

MERLOT: is minder dig as ander rooiwyne, maar mollig en kompleks! (Aldus die aangehaalde wyn resensent van die supermarkgroep)

Dis vol geure van pruim, swartbessies, viooltjie, karamel en sjokolade! En pas uitstekend by rooivleis.

Ons WITWYNE is net so 'n klankryke versameling!

CHENIN BLANC, neig om droog te wees en pas goed by romerige ligte kase.

ROSé:  wissel van droog tot soet, maar is oor die algemeen vars, vrugtig en maklik drinkbaar.

Perfek op sy eie of saam met ligte slaai, 'n vrou se  uitstek keuse! (Is Rosé wit met rooi? Of rooi met wit?)

SAUVIGNON BLANC is tipies baie fris, lig en skerp met vrug-geure van kiwi, appelliefie en groenvy.

Ook met ondertone van soetrissie en aspersies, en vaar uitstekend saam met seekos en groente.

CHARDONAY : hulle verskil afhangend waar dit verbou is en hoe dit gefermenteer en verouder is.

Ongehoute Chardonay’s is tropies en lig met vrugtige elemente.

Die gehoute weergawes is swaarder en meer botterig, en dit is dus meer gepas vir ryker disse soos wanneer jy gewoonlik 'n rooiwyn sou verkies.

 

Ek hoop julle het hierdie bydrae geniet, ek is nou skoon honger en dors!  

Dink jul ek kan maar ete skiep en direk 'n klein glasie Sjerrie geniet? Of waar pas Sjerrie in?

Wie gee om! Toe! Een klein glasie, Net vir die samesyn!

Erkenning en Dank vir van die inligting hierbo weergegee en aangepas, word hiermee gegee aan:

1.Rooivleis Industrie van SA, se Algemene pamflet vir vrye verspreiding: BEES, LAM, en VARK.

2.Checkers en Checkers Hyper.

The contents of our pamplet and webdomain are the sole property of Shoprite Checkers (Pty) Ltd (“Checkers”)

and may not be used or copied without the permission of Checkers. The information given is intended as general guidance to healthy eating

and as an educational aid only.

It should not be used as a substitute for any medical advice given by your healthcare providerl. Any decisions with regard to a diagnosis or

treatment of a medical condition should be made in consultation with an appropriate health care provider.

3. Vleissnit inligting: Met komplimente van die SA Vleisraad.

4. Illustrasies: verwerk uit Checkers en Checkers Hyper se verspreidings pamflet "Beter Leefstyl" Maart 2010, en vanaf die web: www.checkers.co.za

...En nog is het einde niet!

Oorskietkos - want mens mors nie met kos nie! heet by ons sommer "klietjies-kos" afgelei van my Nederlandse vriendin wat altoos van

"Klietjes" of "Kluitjes" gepraat het.

Maar, Wat maak mens, met "oorskiet" koue GEKOOKTE EIERS wat in die padkosmandjie oorgebly het?

Wel, Behalwe koud in slaaie,of  warm in Kerrie-eiers... SO MAAK MENS! 

Kook 12 eiers - as jy dit nie reeds gedaan het nie - deur die eiers  in koue water  in 'n kastrol te plaas. Sodra die water begin kook,

kook dit dan vir 4-5 minute en gooi dadelik die warm water af en spoel met koue water om die gaarmaak proses te halt, jy wil nie graag

blou eiers bedien nie!

"Skil" die eiers - soos ek jul vertel het, deur 'n gaatjie bo in die dop te maak en dan met 'n teelepel wat jy in water doop, dit in een

beweging af te skil. Sny die gekookte eier oop. Sit die eiergele eenkant en die eier witte apart.

Druk nou die eiergele met 'n vurk goed fyn. Sny die eierwitte ook fyn, 'n geval van "mash" die gele en "chop" die witte!

Maak nou in 'n dieperige braaipan  'n heerlike ryk WITSOUS met 1/4 kp botter en 1/2 kp meelblom.

Smelt die botter eerste en roer dan die meel daarby tot glad. Voeg daarby  nou 3 kp melk, en roer durentyd tot verlangde dikte.

Los 1 blokkie Hoender ekstrak op in bietjie kookwater en roer ook daarby. Roer nou die eiergele by tot goed ingemeng, en laastens

die stukkies eierwitte. Geur met Sout en swart peper na smaak... 

1 kp fyn gerasperde kaas is opsioneel ...

Bedien op roosterbrood of warm geroosterde paasbolletjies en garneer met sprietuie, vars gekapte pietersielie en fyn gebraaide bros stukkies spek!

(Resep verwerk n.a.v. CRISSY se resep op die "alle-resepte-dot-kom-werf" wat ek daar raakgelees en uitprobeer het.)  

 

  Voila!

 


Izak de Villiers het vir April geskryf:

"In tye van die dood en opstanding van ons Heer, Jesus Christus,

wat gekom het om ons U liefde te wys,

en ons deel te maak van U vernuwing,

en van die herskepping van alles wat U gemaak het,

soek ons na die stil punt in ons lewe,

soek ons die wysheid van U gees,

soek ons U in alles wat ons sien en ervaar." 

Mag APRIL vir u ook, Liewe Leser, 'n tyd van introspeksie wees. My April hier op SO MAAK MENS,

begin dan ook met die viering van PAASFEES!

Elke land vier tradisioneel PASE met sy eie unieke gebak. Paastyd geregte is ook simbolies, so word EIERS beskou as die simbool

van lewe en wedergeboorte. Vandaar die gebruik van die paaseiers...

PAPAWERS, soos in die Russiese Papawersaad-brosbrood ,simboliseer die passie van ons Heer, en die vredevolle slaap van die dooies.

HEUNING simboliseer weer soetheid en oorvloed. (Aldus “alle-resepte.com”)

So kry ons tradisionele Russiese vlegsel brode, 'n ryk brood (in Russies 'n Kulich) se tekstuur herinner effens aan mosbolletjies.

Dit word tradisioneel in blikke gebak om 'n hoë, ronde brood te verkry. Die Russe bedien 'n soet smeerkaas daarby en dit word

met die res van die Paasmaal (wat gewoonlik bestaan uit vleis, kaas en gekookte eiers) geëet. En wat van hul gisryke “babka” brooddeeg,

dun uitgerol en gevul met kaneel-neut vulsel of sjokolade vulsel- watertand lekker!

Hollandse Paasbrood, gevul met amandel pasta , rosyne en suurlemoenskil...

Italiaanse spesery koekies “Piparelli” genoem, en is 'n gunsteling wat net ná die vastyd oral in Italiaanse koekwinkels verskyn.

Dit word met naeltjies gegeur en die heuning in die deeg karameliseer terwyl die koekies bak en verleen 'n besonderse geur.

 

Choereg, bekend as Tsoureki in Griekeland, is tradisioneel gegeur met gemaalde suurkersie pitte genaamd makhlepi of mahaleb en is ‘n soort

gevlegte brood. En wat van Lemoenskilkoekies, Sagte Griekse koekies (Koulourakia) met 'n ligte sitrus, anyssaad of sesamsaad vir geur.

Italië, se gevlegte brood (pane di Pasqua) is weer spesery ryk en word gemaak met kaas, vleis, olywe en kappertjies.

En te enige tyd en orals is die bekende “hot cross buns “ altyd 'n welkome  lekkerny.

Dié bekende SIMNELKOEK, Paasfees lekkerny, het sy oorsprong in Frankryk.

Dit word nie, soos die meeste vrugtekoeke, ryp gemaak voor dit geëet word nie. Inteendeel, dis warm uit die oond die heel lekkerste.

Simnelkoek word tradisioneel met 'n lagie marsepein versier en kry dan elf marsepeinballetjies bo-op.

Dié elf balletjies verteenwoordig die elf getroue dissipels (die twaalfde een, wat Judas verteenwoordig, word uitgelaat.)

Dié volgende variasie daarvan is deur ARINA DU PLESSIS aangepas uit die Sarie resepteboek: Soetgoed,

en het in haar artikel: Paasgebak uit verre land, in 2006 in die LANDBOU WEEKBLAD verskyn.

SIMNELKOEK

750 g marsepein
80 ml botter
200 ml strooisuiker
4 groot eiers
375 ml koekmeel
3 ml bakpoeier
10 ml gemengde speserye
500 g luukse vrugtekoekmengsel

Voorverhit die oond tot 150 °C. Smeer 'n hoë losboomkoekpan van 18 cm en voer die bodem en kante met bakpapier uit.

Deel die marsepein in drie gelyke dele. Draai die een in kleefplastiek toe en hou eenkant. Rol die ander ongeveer so groot soos die pan uit

en sny 'n sirkel so groot soos die pan se bodem uit elkeen. Verroom die botter en suiker goed. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná

elke byvoeging. Sif die meel, bakpoeier en speserye bo-oor. Voeg die vrugtekoekmengsel by en roer tot gemeng. Skep die helfte van die beslag in die pan.

Sit een van die marsepein sirkels op die beslag en skep die res van die beslag bo-op. Maak gelyk en bak vir 2 uur tot gaar.

Deel intussen die orige stuk marsepein in elf ewe groot stukkies en rol in bolletjies.

Laat vir 10 minute in die pan afkoel en verhit intussen die oondrooster. Keer die koek uit.

Plaas die tweede marsepein sirkel bo-op die koek en pak die marsepeinbolletjies op.

Druk die koek vinnig onder die oondrooster tot die marsepeinlaag en -bolletjies ligbruin is.

Laat afkoel en bêre in 'n lugdigte houer.

 

WARM-KRUIS-BOLLETJIES  (ALA Retha)

1 pk kitsgis

¼ kp warm lou water

4 ¼ kp meelblom

Knippie sout

½ kp suiker

1 tl anys

1 ¼ kp lou melk

½ kp gesmelte botter

1 eier

½  kp rosyne sonder pitte of sultanas of koekvrugte

2 - 2 ½ kp versiersuiker

¼ kp melk

1 tl amandel geursel

Strooi die gis oor die warm water en los tot opgelos.

Meng nou die meel, suiker, anys, 1 ¼ kp melk, botter en eier, gooi die gis bo-oor. 

Werk deur met die hand en knie dan tot elasties en tot jou hande “skoon” kom. Knie dan die rosyne goed deur.

Deel die deeg in 12 bolletjies. Bedek en laat rys tot dubbel hul grootte.Sowat driekwart uur.

Bak in voorverhitte oond teen 175 º C tot goudbruin. Vir 20 tot 25 minute.

Meng intussen die versiersuiker, ¼ kp melk en amandel geursel tot glad.

Sodra die bolletjies afgekoel het, versier elkeen met ‘n kruisie bo-op. Ek hou ook van ‘n strooisel kaneelsuiker by.

Variasie: (“CHELSEA-bolletjies”)

I.p.v. anys,  gebruik ½  tl fyn kaneel en ½ tl gemengde speserye.

Rol die deeg liggies plat, strooi die speserye en rosyne bo–oor, rol dan op soos 'n rolkoek, sny in skywe, pak in oondpan,

laat rys, bak dan soos hierbo, en versier deur die versiersel liggies bo oop te smeer.

Geseënde Paasfees jul toegebid.

Shalom! 

  Wayne Dyer

  "Wat jy vandag doen, is die enigste aanduiding van wie en wat jy is." 




 
Wil jy hê ek moet jou meer inligting oor iets gee?    
Kontak my regstreeks by: rethajm@gmail.com  
Groetes!!
 Rx. 
 
 

Retha van Somaakmens

Indien jy nog nie ONSDORP se nuusbrief ontvang nie,

Vul die onderstaande vormpie in vir heerlike tong in die kies humor,

Vars elke twee weke in jou posbus