TUISBLAD | VANDAG op die VOORGROND | TUINHOEK | INHOUDSOPGAWE | GISTER op die AGTERGROND | NUTTIGE TABELLE e.a. | Terug Na Onsdorp

Gister op die Agtergrond...

HIERDIE IS DIE VOLLEDIGE  ARGIEF!
van alles wat al geplaas is.
 
As jy 'n spesifieke resep of raat  soek, kyk eers op die INHOUDSOPGAWE bladsy
of dit al wel verskyn het, kyk by watter MAAND, en kom haal dit dan op hierdie bladsy by die betrokke maand.
 
Ek hoop jy vind dit maklik !

JULIE 2010 

29 Julie

Watter gedagtes bly telkens oor in jou hart wanneer jy van 'n geliefde se begrafnis af wegry? Die Groot Dankbaarheid dat God ook deur daardie persoon, jou lewe begenadig het met Sy Teenwoordigheid, dat jy die voorreg gegun was om te kon deel in daardie persoon se eie uniekheid, en dat juis daardie persoon se spontane liefde vir jou, in retrospek wys, dat ook jy, nie te bad was nie... 

   Die jare bondel in sy oë

    tot oumensnek en heupjigstap

     vereng en tog verhewe bo die grense van die sterflikheid...

(Ernst van Heerden. )

ST Potgieter skryf: Tien positiewe dinge om te doen

Dit voel vir my al of hierdie jaar onder my uithardloop. Of die week net vyf dae in plaas van sewe het. So al asof ons nog nie eers behoorlik winter gehad het nie, en hier is dit al amper einde Julie. Hier is vir jou 'n tien gedagtes vir wanneer jy moeg voel van al die hardloop en vergaderings en bekommernisse. Iets wat jy vir jouself kan doen:

·          Maak vir jouself tyd vir 'n stille uurtjie. In al die gejaag en spanning is dit goed om 'n breek te neem, weg te kom van die televisie en die skare van mense. Skakel die selfoon vir 'n uurtjie af en ontsnap van al die eise en aanvraag op jou tyd. Doen net so 'n klein bietjie sit in die wintersonnetjie iewers in 'n park.

·          Gaan stap 'n lang ent. Om te stap laat jou ontspan en gee oefening. Deur die stap kry jy tyd om met jouself te gesels, kop skoon te kry en gee dit vir jou die gevoel van gesondheid en lewenslus.

·          Maak 'n lysie van 20 dinge wat jy nog graag wil doen in jou lewe en sal geniet. En begin dan vandag een van die dinge doen.

·          Kry empatie (meedoënheid) met jouself. Wanneer jy deur trauma, spanning, hartseer of slegte tye gaan, wees 'n bietjie genadig met jouself. Jy hoef nie altyd net die sterkste te wees en alles een honderd persent reg te doen nie. Troetel jouself met 'n bietjie genade en simpatie.

·          Glimlag en wees vriendelik met iemand wat jy die eerste keer vandag ontmoet. Bring 'n titsel sonskyn in iemand anders se lewe - jy sal die vrugte daarvan pluk. Gee vir iemand 'n stukkie liefde en 'n drukkie, reik uit en luister met empatie.

·          Gaan sit op 'n rots by die see en kyk oor die wye groot oseaan uit. Of as jy in die binneland bly, klim 'n heuwel uit waar jy ver en wyd kan kyk. En daar weg van almal af, onthou jy dalk weer jou perspektief. Skryf dan neer die doel van jou lewe. Skryf neer jou drome en ambisie. Ons kom te min tot stilstand om die breër prentjie van ons lewe te waardeer en bedink.

·          Moenie jou tyd mors met mense wat jy nooit tevrede kan stel nie. Sulke mense is uitputtend en emosioneel afbrekend. Werk en leef saam met mense waarvan jy hou en goed mee klaarkom. Omring jou met positiewe mense.

·          Eet 'n goeie gesonde en gebalanseerde ete. Ons spoed voort en is besig en het nie altyd tyd vir 'n goeie gesonde ete nie. Mak tyd om 'n slag  weer 'n ordentlike gesonde bord kos te eet.

·          Bêre jou woede en skuif dit weg. Ja, die lewe is vol frustrasie, maar sommige mense het die gewoonte om elke dag kwaad te word. Mense wat voortdurend kwaad is vir alles en almal versuur die lewe. Sulke mense kan nooit gelukkig wees nie. Sien die goeie in 'n situasie, lag vir jouself en waardeer die genade om te kan lewe en lief te hê.

·          Maak 'n tyd om weer intens Bybel te lees en te bid.

 

ANNA Eksteen se DROËVRUGTESLAAI.

Week 1kg gemengde droëvrugte vir ‘n uur in kouewater. Kook die vrugte tot sag en laat afkoel en sny in stukke.

Maak intussen ‘n slaaisous deur 1 klein blikkie Ingedampte melk styf te klits, Vou ‘n blikkie kondensmelk by die melk in, en roer dan 125ml asyn, 125 ml olie en 15ml aangemaakte mosterd by. Laat staan om dik te word.

Sny 8 piesangs in skywe.

Pak nou ‘n laag vrugte, ‘n laag piesangs ‘n lag gekapte neute ‘n laag sous en herhaal tot bak vol is.

Bedien koud.

 

Droëvrugte kan soms duur wees maar die slaai is vullend en met so ‘n bak kom mens ver.


Nog 'n Sprankie gedagte vir hierdie dag:

"My bedoeling was om jou advies te gee,

maar ek onthou nou hoeveel ongebruikte raad van laasjaar is nog oor." George Harris –

 

23 Julie

Vir Oom H.

Op 21 Julie, lui die foon op 'n gewone manier, maar die boodskap is die ongewone, gewone een, oor dood. Daardie doodgewone ding wat met ons almal moet gebeur maar wat ons nie antisipeer of graag oor wil praat nie. Dan onverwags-skielik staan jy by die draai in die pad of die vurk wat beide kante toe lei, reg voor jou. Dan weet jy hierdie roete is onafwendbaar, onveranderbaar en onuitskuifbaar. Nie net 'n hoë hek waaroor jy moet kom nie maar 'n groot en wyd ope een waardeur jy moet gaan. Soms is jy in die prosessie, op 'n dag word ander deel van jou prosessie. En of hierdie proses jou eie is, en of jy dit saam met familie, vriende of kennisse, meeloop, begeleid tot voor die laaste tree, jou treë, gaan onafwendbaar alleen daardeur. So ook is die gedagtes en verwerking van die dood van 'n bekende dierbare, jou eie innerlike alleen en rou-pad.

My innige simpatie dus vandag, aan almal wat 'n dierbare verloor het, en my hulde aan elkeen wat ons vooruitgegaan het, elkeen wat soos 'n ware Seder maar net altyd daar was, en vir wie mens skielik verskriklik veel gaan mis! En laat ons weet, wanneer dit ons beurt word, ons veilig, in die palm van Sy Hand bly!

[foto,met liefde vir Oom H.]

 Skryf iemand nou die dag aan my en noem my 'n Apologeet. Wel, ek sou nie selwers gedink het om my (o.a.) so te beskryf nie, so navorsing - bo en behalwe die woordeboek- was dus natuurlik vanselfsprekend!

apologeet

N: 'n persoon wat beweer om te verdedig of 'n beleid / instelling regverdig; "'n apologeet vir lewensvreugde"

[syn: (verdediger), (regverdig)] 

Ek haal ook graag die volgende -iewers raakgelees- bron onbekend, aan:

"Vandaag is er meer behoefte aan apologeten dan ooit te voren. 
Veel mensen laten zich overwelmen door allerlei verzinsels en geloven oprecht dat ze gelijk hebben wanneer ze zeggen dat het geloof ook maar een verzinsel is.

Aan de apologeet de mooie taak om aan te tonen dat een christen niet dom of verward is als hij/zij zegt in Jezus te geloven."

Op die werf "Apologete vra nie verskoning nie" staan daar ook:

Mens kan maklik die woorde "apologeet" , "apologie" en "apologetiek "verkeerd verstaan. Apologize" het oorspronklik beteken: "Om ‘n rede te gee vir jou gedrag of standpunt." Of om van ‘n ander webblad af aan te haal wat dit beteken:

 Apologetics is derived from the Greek word (apologia) meaning "defense" or "answer." Apologetics is giving a reason for the hope of Christianity and a defense of the gospel. Because of the identity of Christians with the One true God, the Christian worldview is antithetical with the world of unbelievers who hate their Maker and thus Christianity as well. Christian apologetics serves its Creator by affirming Him as the basis and purpose of rationality before men, and showing that the basis of other worldviews cannot account for the reality they live in. The goal of reformed apologetics is to defend the gospel from the wisdom of the world by silencing its foolishness and offering the only possible interpretation of reality in light and hope of Jesus Christ.

Daar het ons dit: Apologetiek het niks te doen met verskoning vra nie. As jy verstaan wat en waarom jy glo, kan jy ‘n apologeet wees, ofte wel, jou redes gee vir wat jy glo. En waarom gee ek redes? Want die hart kan nie bly wees oor iets as die verstand dit verwerp nie. (Retha)

C.S. Lewis het hieroor geskryf:

I believe in Christianity as I believe that the sun has risen: not only because I see it, but because by it I see everything else.

En Salomon Ibn Gabirol  het geskryf:

There are those who know not and know not that they know not

They are fools-shun them

There are those who know not and know that they know not

They are children- teach them

There are those who know and know not that they know

They are asleep- wake them

There are those who know and know  that they know

They are wise- follow them

En dit alles, sal nie volledig wees, as ek nie ook my eie volgende eiertjie hieroor lê nie:

Apologeet.

soos Aristides

se apologie-geskrif

naas 'n braambos oorblyfsel in 1889

tussen mure in die koel Catharinaklooster in Sinai

so wag my geskrif

op leesbaarheid

die deurblaai daarvan

deur jou oë en met jou vingers wat troeteling daaroor uitgiet soos salwende olie

so wag my bepeinsing op joune in repliek antwoord -

soos Aristides

staan ek in hierdie verligte eeu

ook wagtend op jou ware apologie

in erkenning van myne

want ons tekste lê op soveel terreine

al het die Sinai-wind ons s'n onwetend weggewaai -

so sê my,

Herken jy ooit vir Aristides

-al is sy geskrif in 'n Siriese vertaling behou-

in my woorde

as jy weer alleen op skoongewaaide klipgebergtes staan

die opkomende son agter jou soos heuning uitgegiet -

herken jy myne dán nog

want ek

ek verdien ook jou begrip

soos hy

al is myne

in Afrikaans. (die uwe, 20 Julie 2010)

 

Nou iets ligters!

Anna Eksteen het met my die volgende lekker en maklike resepte gedeel, onthou om op die RESEPTE blad te gaan loer na haar wye verskeidenheid  E-Resepte-boeke, gaan skaf gerus vir jou en jou vriende 'n paar daar aan! Dit is waarlik waarde vir geld!

LIP-AFLEK KAASPAMPOEN

4 groot skywe pampoen, ongeskil

90ml bruinsuiker

60ml botter

100g grondbone

1 vanielje peul in lengte verdeel en dan gehalveer

125g bloukaas, gekrummel

Verhit 'n swart platboompot. Braai die pampoen in die suiker, botter en vanielje stadig tot dit deurskynend en sag is. Gebruik 'n eierspaan om die pampoen om te keer - dit moet heel bly. Voeg grondbone en bloukaas by. Sodra die kaas gesmelt is, verwyder die pampoen van die vuur of stoof en bedien warm. Lewer 4 porsies.

VIS EN TJIPS

6 porsies bevrore stokvisfilette

120g koekmeel

1 eiergeel

90ml bier

1ml sout

45ml melk, gemeng met 30 ml koue water

2 eierwitte

sowat 600 ml sonneblomolie om vis in te braai

Sit die koekmeel in 'n mengbak. Maak 'n holte in die middel van die meel. Gooi die eiergeel, bier en sout in die middel van die holte. Meng baie goed. Ek gebruik gewoonlik 'n ballonklitser, dis die een wat sjefs gebruik. Maak seker dat daar geen klonte is nie. Voeg die melkwater geleidelik by en meng tot glad. Maak die bak met 'n vadoek toe en laat die beslag vir minstens 30 minute rus. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm. Vou nou die geklopte eierwitte versigtig by die beslag in. Verhit die olie in ‘n kastrol. Doop 2 tot 3 visfilette in die beslag en wanneer dit goed bedek is, sit dit versigtig in die warm olie. Braai die vis sowat 4 tot 5 minute aan weerskante. Haal versigtig uit die warm olie. Dreineer op kombuispapier en herhaal met die res van die vis. Sit voor saam met tjips.

En so van Tjips gepraat :

SIMBA TJIPS GEREG

4 eetlepels botter

3 eetlepels koekmeel

375ml warm melk

250ml ham

2 x 375ml gekrummelde skyfies

375ml gerasperde kaas

Voorverhit die oond tot 180C. Maak ‘n witsous van die botter, meel en melk. Gooi die ham, kaas en 1 pak skyfies by. Gooi die helfte van die ander pak skyfies onder in ‘n bak, skep die witsous bo-op, bedek met kaas en skyfies gemeng en bak 15-20 minute.

WORSIE EN KAASGEBAK

450ml gesnyde macaroni

50ml botter of margarien

1 klein ui, fyn gekap

1 groen soetrissie, fyn gekap

1 pakkie sampioenroomsoppoeier

575ml koue melk

250ml gerasperde Cheddarkaas

1ml vars gemaalde swartpeper

50ml droë broodkrummels

3 gaar beesworsies

10ml aangemaakte mosterd

37.5ml Parmesaan kaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 180C. Kook die macaroni gewoonweg tot gaar en dreineer dit. Spoel dit met warm water af en hou dit warm. Verhit die botter of margarien in ‘n swaarboomkastrol en soteer die ui en soetrissie ongeveer 5 minute lank daarin totdat dit sag is. Roer die soppoeier vinnig by. Roer die melk geleidelik by en verhit dit tot kookpunt. Laat dit 10-15 minute lank prut totdat die sous dik is. Roer dit voortdurend. Roer die Cheddarkaas en die peper by en verhit dit totdat die kaas gesmelt het. Roer die macaroni by die sous en skep dit uit in ‘n gesmeerde oondskottel. Strooi die broodkrummels bo-oor en bak dit 20-25 minute op die middelste oondrak. Voorverhit die roosterelement van die oond sodra die macaroni kaasgebak uit die oond gehaal word. Halveer die gaar worsies in die helfte sodat daar 6 helftes is. Smeer die worsies met die mosterd. Rangskik die gaar worsies soos die speke van ‘n wiel op die macaroni kaasgebak. Strooi die Parmesaankaas bo-oor en verhit die gereg in die voorverhitte oond totdat die kaas gesmelt het. Garneer die gereg met geroosterde tamatieskywe

RYSROERBRAAI MET TUNA

45ml olie

1 eier, geklits

10ml water

2 knoffelhuisies, gekneus

3 stingeluie, fyn gekap

2 blikke (175g elk) tuna in water, gedreineer

750ml gaar rys

20ml vissous

30ml sojasous

250ml koljanderblare

¼ pynappel, in klein blokkies gesny (opsioneel)

1 klein komkommer, in blokkies gesny; brandrissiesous om voor te sit

Verhit 'n klein bietjie van die olie in 'n groot braaipan of wok, meng die eier en water saam en giet in die pan, verhit tot gestol en skep uit. Rol die eieromelet op en sny in dun repe; hou eenkant vir garnering. Verhit die res van die olie en braai die knoffel, stingel-uie en tuna 'n paar minute. Roer die rys by en roerbraai tot deurwarm. Meng die souse by die rysmengsel in en sprinkel die koljander en eierrepies oor. Sit voor met die gekapte pynappel, komkommer en brandrissiesous. Lewer 4 porsies.

 

En laastens!

Leseres, Tertia, skryf:

Eerste besoek, lekker gelees en geleer.  Ek is opsoek na ‘n "flan deeg" die pan het ek geërf maar sukkel om die regte resep te kry. Sal baie bly wees as ek die resep kan kry die bakpan vorm is soos die ingevoerde klaar gebakte flans. Vir eers dankie.

Wel vriendin, daarvoor is SO MAAK MENS mos hier, om jou graag te help!

Nou, eerstens, word FLAN as 'n Franse nagereg bestempel, maar die Viëtnamese , Meksikane, Spanjaarde en Engelse maak net so sterk daarop aanspraak as deel van hul kulinêre erfenis! So kom ons stry nie daaroor nie, wat ons wel vir 'n feit weet is dat dit so ver terug dateer as antieke Rome! Tydens die Romeinse tyd is hoenders as eier-lê'ers  (!!) aangehou, en met die eier-surplus moes verwerkings tegnieke ontwikkel word! Hoe ken ons die Romeine!!

Wel die bekendste  vla-konkoksie was die geboorte van wat ons vandag die FLAN noem! - in soverre my geskiedenis les vir vandag strek! Byvoegend moet ek ook egter sê, dit was oorspronklik 'n sout gereg, nie soet nie, maar aromaties en "pleasing to the palate".

Na die val van die Romeinse Ryk - ag ja wat, laat ons aangaan met die geskiedenis, dis heel indrukwekkend! - het die FLAN die barbaarse invalle ook oorleef maar daarna egter as SOET gereg na die oppervlak beweeg, maar die basis om eiers en room te gebruik om ‘n vla te verkry, het dieselfde gebly.

Ons woord FLAN  kom van die Latynse "flado" (wat plat koek beteken) en daarna "flaon" in ou Frans geword het...Wel ek praat nie Latyns of Frans nie so of dit waar is weet ek nie!! Interesant egter is dat die Spaanse en Meksikaners, FLAN - of gebakte vla weergawes- vandag tot die mees buitengewone geregte omtower het!

England,  met sy liefde vir pasteikorse, het egter ‘n eiesoortige FLAN ontwikkel. En ek dink dis waarna Tersia  eintlik opsoek is! En raai wat? Ons eige tradisionele MELKTERT is eintlik 'n FLAN-wenner!! Kan jul dit glo!

Gebakte vla,  word gewoonlik in 'n waterbad of BAIN MARIE gebak ( gaan kyk op die GISTER... bladsy heel aan die begin is hieroor berig!).

MEKSIKAANSE FLAN

1 ½ kp suiker

6 groot eiers

1 blikkie kondensmelk

2 blikkies Ingedampte melk

1 tl vanilla

Voorverhit oond tot 160º C

Jy sal 6 ramekins of ander Flan-bakkies en 'n groot oondpan benodig waarin jy dit in water, vir die bak daarvan kan plaas.

Gooi 1 kp suiker in 'n warm kastrol oor medium hitte, en roer deurentyd tot die suiker karmeliseer, gooi vinnig 2-3 ETL hiervan in elke bakkie, bedek kant van bakkie ook as jy kan.

Klits nou die eiers, meng die melk stadig by en dan die ½ kp suiker en vanilla tot 'n gladde  dun vla-tekstuur. Skink dit bo oor die karamel in die bakkies, plaas die bakkies in die oondbak / Bain Marie, en vul  die bak met sowat 1-2 duim water. Bak vir 45 minute in die waterbad. Toets met 'n mes reg langs die middel van elke bakkie as dit skoon uitkom is dit gaar.  Verwyder uit oond en laat afkoel, verkil vir nog sowat 1 uur in yskas, keer uit en Voila!!

Die Basiese SPAANSE FLAN gebruik

¾ kp suiker, 1 blik ingedampte melk, 1 ½ kp volroom melk, 4 groot eiers en 1 tl vanilla

Metode: Dieselfde as die hierbo.

 

TAIWANESE  GEBAKTE VLA MET KARAMELSOUS.

Karamelsous:

Vir elke 3 eetlepels suiker, Voeg 1 teelepel water by. Kook saam tot ‘n goue stroop gooi die warm karamelsous  in 'n "vorm". Die karamel moet verhard wanneer dit afkoel.

Vla:

6 eiers
500g vars melk-of room
150g suiker
1 teelepel vanielje-ekstrak
Meng eiers, suiker, melk en vanielje. Gooi mengsel in voorbereide vorm oor die harde Karamelsous.  Stoom oor hoë hitte vir 5-10 min. Skakel die hitte af en laat die flan afkoel in die waterbad  tot kamertemperatuur.

Let wel:

Moenie die eiers klits nie, Minder geroer gee 'n gladder tekstuur flan. Die stoom tyd hang af van die grootte van die vorm wat gebruik word. Die hoof idee is om die flan ½ - ¾ gaar te laat stoom en hitte oordrag  die res van die werk te laat doen. Oor-stoom sal 'n negatiewe invloed op die tekstuur hê. Wanneer afgekoel keer uit sodat die gesmelte Karamelsous bo-oor uitloop.

Variasies:

*Sitrus Vla: Voeg fyn gerasperde lemoenskil by.
** Kokos Vla: Gebruik kokosmelk in die plek van melk (of ½ kokosmelk, ½ melk)
*** Koffie Vla: Vervang deel van die melk  met koffie (hoeveelheid hang af van jou smaak)

 

Flan bakke is gewoonlik van glas, pyrex, porselein, vlekvrye staal en nou ook al in sagte silikoon vorms beskikbaar!

Engelse FLAN'S met die kenmerkende skilferkorse, het egter ‘n swaar metaal pan met kepige kante nodig. Ek dink dis die een wat Tersia ge-erf het!

Om eerlik te wees, hierdie weergawes van die FLAN is vir my eintlik maar dieselfde as 'n gewone quiche of souttert!

ANNA seg egter :

Die verskil tussen 'n quiche en 'n souttert is dat 'n quiche 'n soutige eiervla-mengsel as basis het, terwyl 'n souttert enige ander stysel soos mielieblom of meel as basis kan hê, met of sonder 'n eier om die mengsel te bind.

ANNA se MAKLIKE TERTKORS

475ml volkoringmeel   

15ml bakpoeier

3ml sout   

75ml margarien, gesmelt

150ml melk

Meng al die bestanddele en knie dit goed. Druk dit in gesmeerde tertbord en laat dit 30 minute lank staan. Prik die kors en bak dit 10 minute lank in ‘n voorafverhitte oond van 200C. Alternatiewelik kan ‘n vulsel op die rou kors geskep word. Stel dan die temperatuur na 10 minute na 180C en bak die tert totdat die vulsel gaar is.

ANNA se SOET TERTKORS

12.5ml margarien       

1 eier, geklits

250ml volkoringmeel   

10ml bakpoeier

knippie sout       

37.5ml suiker

50ml melk

Room die margarien en voeg die geklitste eier by. Meng die volkoringmeel, bakpoeier, sout en suiker. Voeg dit by die eiermengsel en meng goed. Voeg die melk by en meng tot ‘n smeerbare deeg. Smeer die deeg in ‘n gesmeerde tertbord. Bak dit 10-15 minute lank in ‘n voorverhitte oond by 190C. As dit saam met die vulsel gebak word, stel die temperatuur na 10-15 minute laer na 160C, en bak dit tot die vulsel gestol het, afhangende van die tipe van vulsel.

My SNOWFLAKE resep:

Soet Flan-deeg:

250 ml koekmeel

2 ml sout

65 ml stroosuiker

60 g botter

2 eier gele

2 ml vanilla

Sif die meel en sout saam. Voeg suiker by en vryf die botter in tot dit soos fyn broodkrummels lyk.

Voeg die eiergele en vanilla by en knie tot 'n stywe ferm  gladde deeg. Die elektriese menger werk baie goed want die deeg moet goed tot 'n fyn en bros kors geknie word.

Op 'n meelbestrooide oppervlak, rol die deeg nou uit tot sowat 3 mm dikte. Voer die losboom ( party het) FLAN bak daarmee, en verkoel vir sowat 1 uur in yskas. Prik die basis en bak blind (plaas waspapier bo-oor deeg en vul bak met droë bone) in 'n 190 º C voorverhitte oond vir sowat 10 minute .Verwyder die waspapier en bone en bak nog 'n verdere 5 minute tot gaar en lig goudbruin. Laat in pan afkoel, keer uit  en vul met vulsel van jou keuse. Dit kan 'n soet of sout vulsel wees!

Probeer hiervoor gerus ANNA se ANSJOVIS-EN-UIE vulsel

125ml olyfolie    

5 uie, in dun skywe gesny

1 knoffelhuisie, gekneus      

100g beleë cheddarkaas, gerasper

4 eiers, liggies geklits  

250ml room

10ml gekapte vars kruie soos tiemie, oreganum of pietersielie

60g ansjovisfilette, gedreineer

Verhit olie in 'n swaarboompan. Voeg die ui en knoffel by. Bedek en laat 10-15 minute prut totdat die ui sag en goudbruin is. Roer af en toe. Verwyder van hitte en plaas ui in vergietes om te dreineer vir ongeveer 5 minute. Meng die gedreineerde ui en knoffel, kaas, eiers, room en gekapte kruie saam. Geur na smaak met sout en peper en giet vulsel in warm voorbereide kors. Sny die ansjovisfilette in lang dun repe en plaas die repe oorkruis bo-oor die vulsel, om 'n traliewerkpatroon te vorm. Bak die tert in 'n voorverhitte oond teen 180C vir ongeveer 40 minute totdat die vulsel gestol en ligbruin van kleur is.

OF  haar

HADDOCK- VULSEL

50g margarien   

25ml meel

knippie sout 

15ml maizena

500ml melk       

250ml kaas

1 gekapte hardgekookte eier       

375ml gaar gevlokte vis

1 geklitste eier

Maak witsous met margarien, meel, sout, maizena en melk. Voeg res van bestandele by en meng goed.

Skep in kors en bak vir 30 minute by 180C.

 

HULETTS Se FLAN-RESEP (-amper nader aan 'n gewone sponskoek -kors.)

2 eiers

2 Etl  (30 ml)  meelblom goed gesif

Knippie sout

2 Etl witsuiker

2 tl bakpoeier 

Klits die eiers en suiker saam. Voeg die meel en bakpoeier by, giet 'n 'n gesmeerde FLAN-bak, rn bak vir 8 minute  by 220º C.

As jy die FLAN bak gebruik wat m.a.w. 'n holte binne so maak as jy dit uitkeer, kan jy holte nou vul met enige van die volgende:

Karamel en piesangs, aarbeie en room,  gaar vla en perskes of enige vars vrugtelsaai met room!

OF enige sout vulsel van jou keuse, 'n spinasie of Feta, een of 'n Snoek en aartappel vulsel...

 

...en net so vir die variasie op dieselfde tema : 'n regte QUICHE resep ook!

Die "deeg" word as't ware bo-oor die vulsel gegooi en deur gebak, anders as by die fLAN wat sy vulsel op die kors kry! Dis als in die metode, newwer-maaind of dit Quiche of Flan heet!!

ANNA se "PERKY" MEXICAN QUICHE

1 rooi ui, gekap  

10ml droë hoenderaftrekselpoeier

3ml kerriepoeier 

15ml soetrissiesous

1 pak gevriesde Mexican Mix groentemengsel 

4 eiers

400ml vars room

125ml cheddarkaas, gerasper

125ml fetakaas, gekrummel 

30ml sprietuie, opgekap

paprika

Voorverhit die oond tot 180C. Spuit ‘n quiche bak. Braai die ui tot net sag in ‘n groot kleefvrye braaipan. Gooi die hoenderaftrekselpoeier, kerriepoeier en soetrissiesous by. Meng goed en gooi dan die Mexican Mix groentemengsel by. Kook 2-3 minute. Plaas die groentemengsel in die quichebak. Klits die eiers, melk, kase en sprietuie saam in ‘n ander bak. Giet die mengsel oor die groente. Besprinkel met paprika. Bak vir 35 minute. 

 

Waarom sing voëls?

Voëls sing nie omdat hul 'n antwoord het nie. Hulle sing, omdat hul 'n lied het!

Anoniem

  

 

16 Julie

Alweer 'n week verby! Waarheen hardloop die dae!

Maar my week was dol en ek moet eers "brag"!! Ek het gister my handstut gekry en tik ek nou vir die eerste keer in seker 15 jaar met al my vingers!! Kan ook weer 'n skêr vashou en daarmee knip! En breipenne sonder dat dit lyk of ek nie weet waar die voor of agter of beginpunt is nie! Ek voel soos 'n graad eentjie wat vir die eerste keer dit regkry om op lyntjiespapier te skryf en dit uit te knip!

Nou sal die bank my nie meer hoef te bel en te vra:

Mevr het jy hierdie tjek geteken nie- vanweë die slordige onleesbaarheid daarvan- nie!

Nee! nou sal hul vra:  

Mevr!! Wie skryf nou so netjies, is jou tjek nie dalk gegaps nie!! Yess!! Oeps! Jaaa!!

Dit lyk heel woes om my pen ondanks die kontrepsie, normaal vas te hou, maar ek kanletterlik weer leesbaar skryf!! Jul kan nie glo hoe gewoond ek was om met beperkte funksie aan te kon pas nie, maar nou!! (En verskoon vir vandag al die uitroeptekens!!)

Om 'n teelepel gewoon op te tel en te roer! Ek kan tot 'n bottelprop afdraai! Maar ek kan nou glad nie aartappels skil nie die messie hak aan die stut vas so ek sal 'n nuwe plan ontwerp of skillertjie gebruik of bloot net nie meer aartappels skil nie! Bevrydend nie waar!

Om my naellak en oorlog-verf alias, my "damage-control" met die regter hand te kan doen is wonderlik!!-sonder om 'n vinger in die oog te kry!

Omdat my linkerhand soveel van die regterhand se funksies oorgeneem het, het ek werklik my rigting orientasie ook al ingeboet en as jy skielik seg draai regs of links, is albei vir my links! Nou kan ek weer weet wat is regs sonder om te kyk aan watter kant my horlosie sit!! Is dit nou nie groots nie! Tandeborsel is ewe maklik behalwe die ding mag dalk nat word en dit wil ek nou nie, so ek hoef darem nie tot daardie uiterstes te gaan nie! Ha-ha, partydinge sal ek beslis sonder die dingetjie doen glo my, want my haastige geaardheid sal my wel noop om soms die stut nie aan te gespe nie...

Wat ek eintlik probeer sê is: Moenie moed opgee nie, iewers loop jy altyd iets raak om jou te help in jou eie situasie!! Dank aan my Hemelse Pappa-God!! Ek's 'n regte goudgat-witbroodjie vandag! 

'n Leser skryf : 

Goeie dag.

Ek het sommer op die Netwerk rondgekrap, vir moontlike hulp en raad vir my hardlywigheid of PDS.  Jitte ek sukkel met daardie aspek in my lewe.  wat kan mens doen om dit te verbeter. Ek drink baie water, gebruik geen alkohol, rook nie, moet se ek het so bietjie slap gele met oefening, maar dis mos nou winter, maar hierdie ou derm pla maar baie.  wens ek kon ook soos normales  gaan sit en ontslae raak van al die gifstowwe in my kolon.  maar dit gebeur nie.  Het medikasie by dokter gekry, maar ai, ek en medikasie is nie regtig maats nie.  Wat is 'n natuurlike produk wat geen newe effekte het nie. 

Ek help graag, want almal, kry op 'n tyd hiermee te doen!  Ek het self ervaring daarvan, en vandag is ek, deur Genade, gesond! Dit is 'n sensitiewe onderwerp, maar ons is almal mos mooi groot!

My beste persoonlike raad vir ʼn Spastiese kolon is om heelwat water of baie rooibos te drink, warm, melkloos, met bietjie heuning en 'n skeutjie suurlemoensap, of  yskoud-koud, met heuning, roosmaryn , sitroengras of peppermint blare en skeutjie suurlemoen! Elke aand 4-5 pruimedante in 'n glasie water te sit en dit soggens  voor of saam ontbyt te eet. Net tot jou maagfunksie gestabiliseer het . Ek eet ook amper elke dag beet! Op enige manier! Dis wonderlik teen hardlywigheid. Droë pere ook, maar dis 'n vinnige metode want pere elke dag maak 'n maag te sag.

Groen tee  is ook goed teen hardlywigheid maar dis vir my effe sleg en weliswaar weet ek nie of dit jou derm dalk “luier”  maak soos ander lakseermiddels nie.

Lakseermiddels werk wel vinniger maar dit vorm later 'n bose ongesonde kringloop. Dit vat so 3 dae om 'n gereelde patroon vas te stel as jy reg eet, so ek glo in reg eet! Vir daardie eenmalige krisis werk gliserien setpille van Lennons ook effektief genoeg om moed te kan hou tot jou regte eetpatroon inskop. Jy moet strewe na 'n daaglikse vasgestelde patroon min of meer op dieselfde tyd en min of meer dieselfde “consistency”. Die dat hul SK o.a. diagnoseer met die wissellende hardlywigheid en diarree aanvalle, want dis nie hoe dit behoort te wees nie. En moenie uitstel nie. As jy behoefte het gaan want om terug te hou is om die hardlywigheid te vererger. Jy weet mos, as mens langpad vat dan is jy die volgende dag sommer goor met almal! Moenie  peusel aan alles  as jul langpad vat nie behalwe aan die regte goed en los die gaskoeldrank drink water oppad. Of Rooibos

Dan gebruik ek ook elke dag ongegeurde jogurt of Kefir, en as ek nie het nie, drink ek daagliks net saans 2 probiotika pille. Die goedkoopste een is die 4-Strain Probiflora in die blou houertjie. Vir die dae wat jy skielik diarree ontwikkel, sluk ek 5 hiervan! Glo my dit werk. Lees gerus hul pamfletjie dis vol goeie raad en info.

Indien ek baie pyn ondervind- en ek MAG DIT NIE EINTLIK SKRYF NIE!!! WANT EK IS NIE ‘N APTEKER OF DOKTER NIE!! drink ek eenmalig of uiters 2 keer per dag vir slegs een of maksimum 2 dae, 2 Millerspas of Librax of Colofac pilletjies afhangende waar die pyn is, en sorg dat ek dadelik genoeg water drink om gifstowwe uit te kry en poog dan dadelik om my dieet weer op koers te kry! Die gewone Entrens druppels  en Peppermint druppels van Lennon is uiters sleg maar goedkoop en dit help ook!

Daaglikse stap is ononderhandelbaar! Dit verlig stress, maak jou soepel en hou die kwale op hul plek!

Suiker, alkohol en rook moet vermy word sover moontlik, en ek gebruik soos gesê  heuning i.p.v. suiker.

Dan, al seg almal kry baie vesel is, ja dit is so jy het dit nodig, maar dit moet baie stelselmatig geskied! - want het ek gevind, dit maak die ongemak erger en ek sit dus vesel merendeels in my dieet op die volgende maniere: saad of bruinbrood, veselryke groentes soos o.a. lemoenpampoentjies en ek eet baie vars vrugte en groente. Veral piesangs! Dit het baie magnesium en dit help teen krampe en winderigheid en sooibrand ...ryp piesangs (nie pap) is die beste. Gerasperde appel met skil en al gerasper, en gelaat vir 'n rukkie om bruin te kleur vanweë die oksidasie proses  voor jy dit eet, is ook uiters gesond en elke aand voor slapenstyd 'n wonderkuur!

Los maar die appelasyn rate... (Jammer vir die op wie se tone ek nou trap maar hoe kan al die  oormatige sure vir 'n reeds sensitiewe ingewande  goed wees? My oupa se wagwoord –een daarvan-  was matigheid...)

Verder eet ek bitter min olierige of ryk kosse, en is slap-tjips NET vir die nou en dan se uiteet!! Dit geld ook Hamburgers en daardie goed, witbrood, wit pasta en wit van alles behalwe gesonde aartappels in velletjie gekook, beperk ek ook.

Ek kou ook graag baie rou pietersielie en gebruik graag tiemie en borrie in kos.

Kerrie is mos trooskos maar kies 'n matige een en gebruik eerder marsala vir geur as sterk gekruide soorte kerries.

Vermy gis en “Yeast-pille” vermy enigiets wat Candida groei in die derms kan bevorder.

Nou as dit nie help nie moet jy weer na 'n dokter! Onthou om PDS of SK te help is 'n lewenslange leefwyse en nie net wanneer dit toeslaan nie, vir daardie akute tye gebruik ek medikasie maar as jy meestal reg leef dan word die simptome soveel draagliker !

 

Hier volg ook 'n paar mediese kundiges se advies ! (Die beste Via die internet!)

Hulle seg, en EK HAAL AAN:

 

ʼn Spasties kolon is een van die mees algemene gastro-enteritiese siektes. Dié siekte neig daartoe om chronies van aard te wees. Meeste mense ondervind die siekte egter so gering dat hulle nooit ʼn dokter gaan spreek nie. 

Algemene simptome van ʼn spastiese kolon sluit abdominale pyn, opgeblaaste gevoel, slym in ontlasting en ongereelde vertering, soos diarree en hardlywigheid in. Die simptome hou verband met abnormale spiersametrekkings van die ingewande. ʼn Spasties kolon beïnvloed egter nie lewensverwagting nie en mense begin gewoonlik simptome voor die ouderdom van 30 ervaar.
  

Daar is geen definitiewe oorsaak van ʼn spastiese kolon nie. Stres en depressie, rook, ooreet, laktose-intoleransie, die gebruik van morfien en kodeïen, hormoonveranderinge, te veel vet in die dieet en suikervervanger mag moontlik ʼn spastiese kolon aanwakker.
  

Simptome verskil van mens na mens, wat hardlywigheid en diarree insluit, veral kort na etes. Abdominale pyn of krampe kan voorkom, saam met ʼn opgeblaasde gevoel . In sommige gevalle mag naarheid en sooibrand ook voorkom.
  

ʼn Spasties kolon het nie ʼn vasgestelde behandeling nie. Sekere kosse kan uit die dieet geskakel word, maar ʼn dieetkundige sal moet vasstel watter kosse. Mens kan ook die hoeveelheid vesel in jou dieet vermeerder, aangesien meeste mense nie voldoende vesel in hul dieet insluit nie. Vermeerder ook jou water-inname.

As dieetaanpassings nie help nie, kan ʼn dokter ʼn middel voorskryf wat spysvertering aanwakker en pyn verlig.
 

“Candida” is 'n term om ’n oormaat swam/fungus te beskryf.  Wanneer  iemand  'n “candida probleem” beteken  dit ‘n probleem met oormatige gis het.  Daar word ook daarna verwys as “Candida Albicans” of “Candida Yeast”.  Baie mense loop dekades daarmee sonder  om dit aan te spreek of te verstaan dat hulle 'n candida probleem het.  As  Candida in die bloedstroom beland veroorsaak dit allerlei siektes deur die liggaam.

WAT VEROORSAAK CANDIDA?

• 'n Dieet gelaai met verfynde koolhidrate

 • Antibiotika

 • Stres

 • Oorerflikheid

 • Vel tot vel kontak

Hoe kan ’n oormaat candida in jou dermkanaal bydra tot siektes?

1) 'n Oormaat van candida dra by tot die verswakking van die immuunsisteem

2)  Wanneer candida vermeerder word toksiene afgeskei wat in die liggaam opgeneem kan word

3)  Candida gis kan die bloedstroom infiltreer.

 Wat is “PREBIOTIKA” en hoe skakel dit met bakterië en candida?

“Prebiotika” is 'n tipe dieet aanvulling wat die goeie bakterië in jou derm kanaal “voed”.

 Dit  werk soos “kompos” vir die mikroskopiese bakterië plante. Die goeie bakterië “eet” en “vermeerder”. Dit opsigself is goed omdat die groei van goeie bakterië help om die slegte bakterië in toom te hou. Soos om jou grasperk goeie kompos te gee sodat die gras kan bly groei maar die onkruid uit te hou.

Hoekom werk PROBIOTIKA nie altyd suksesvol nie?

Probiotika is die naam vir lewende bakterië wat per mond geneem word, hetsy per kapsule, poeier of andermetode.  Daar is letterlik honderde tipe probiotika op die mark vandag.  Onthou jy het (onder optimale kondisies) letterlik duisende stringe bakterië in jou dermkanaal wat triljoene opmaak. So hoeveel hulp kan 'n kapsule gevul met 5 of 8 of 12 verskillende  bakterië jou gee? Waar dit candida aanbetref gaan dit nie veel van hulp wees nie.

BEHANDELING TANS BESKIKBAAR:

Antifungus produkte

Dit word of deur 'n dokter voorgeskryf of by 'n gesondheidswinkel gekoop.  Dit maak slegte en goeie bakterië dood.  Dit kan jou dermkanaal so “stroop” dat die slegte bakterië meer aggressief as tevore kan groei en aanteel. Antifungus is ook hard op jou ander organe.  Candida kan later muteer, wat die anti-fungus oneffektief laat.

Antibiotika

Vanselfsprekend is antibiotika vir sekere siektes nodig en belangrik.  Dit is gemaak om “onvriendelike bakterië of infeksies dood te maak wat in die liggaam skuil.   Antibiotika is egter nie kieskeurig watter tipe bakterië hulle doodmaak nie. Dit vernietig slegte sowel as goeie bakterië.  As daar voor die voet goeie bakterië uitgewis word,  kan die fungus wat normaalweg deur “goeie bakterië” onder beheer gehou word, skielik losgelaat word om na    willekeur en teen 'n ongelooflike spoed te reproduseer.  Lees volgende keer  jou antibiotika se voubiljet aandagtig deur!

Probiotika

Word gebruik om te help met die reprodusering van goeie bakterië. Meeste bakterië wat in probiotika voorkom is nie aggresief genoeg teen candida nie en word vernietig deur maagsure wanneer dit in die maag beland.

’n Candida dieet

Beperk jou streng tot groen groente, hoender en vis, wat sorg dat candida fungus nie gevoed word nie. Dit is ’n baie streng dieët waarby min mense vir lang tye kan hou.

Wat is “Candida Yeast Support” en waar kom dit vandaan?

“Candida Yeast Support” is 'n produk gemaak van lewende bakterië.  Lewende bakterië word in 'n diep slaap geplaas deur dit vinnig te droogvries en in kapsules geplaas.   Wanneer die kapsule gesluk word, gaan dit in die maag en beland vandaar in jou dermkanaal waar die bakterië “wakker word” en begin soek na die “slegte bakterië” om hulle dan onder beheer te bring. Die produk is ontwikkel in Amerika deur Leeda McCabe in samewerking met ’n laboratorium. Leeda is enig in haar soort op die gebied van alternatiewe geneesmiddels. Sy is ’n gesertifiseerde  Kolon-, Suurstof-, en Hidroterapeut. Gis, swamme en fungus is haar vakgebied.

Hoe werk “Candida Yeast Support” en hoekom is dit so effektief?

“Candida Yeast Support” is Sinbiotika. Sinbiotika is 'n kombinasie van probiotika en prebiotika in 'n enkel kapsule. 

Jy gee dus goeie bakterië vir jou liggaam en “kompos” om jou bestaande goeie bakterië te help groei.  Soos 'n dubbellem swaard.   Dit is die rede waarom die produk so effektief werk waar dit by candida probleme kom.  Dit is gemaak van stringe bakterië wat baie aggresief teen candida werk.  Die uitsluitlike doel is om die goeie bakterië wat reeds in jou dermkanaal  is te “voed” wat dit laat muteer en die “slegte” bakterië uit te roei. Anders as in die meeste probiotikas, word ’n spesiale laag om die kapsule geplaas, wat verhoed dat dit deur die maagsure beskadig word. Die bakterië kom dan onbeskadig in die dermkanaal.  Dooie bakterië beteken niks!

Nog ‘n Definisie:

 Die kolon besit omringende senuwees wat veroorsaak dat 
die spiere saamtrek. Met 'n prikkelderm of spastiese kolon is die 
senuwees hipersensitief vir dinge soos kos, stres en emosies. Dié 
impulse veroorsaak dat die spiere sterk saamtrek. Dit veroorsaak 
krampe wat baie pynlik is. 
Hoe herken 'n mens dié toestand? 
'n Mens ly dikwels aan winderigheid omdat te veel gas geproduseer 
word. Hardlywigheid of diarree kom ook voor. Die duurte en 
ernstigheidsgraad wissel. 
Faktore wat 'n spastiese kolon vererger: 
Stres weens emosionele en sosiale probleme, slegte slaapgewoontes en 
te veel werk. 
Dieet. Teken aan wanneer jy pyn ervaar om te probeer bepaal watter 
voedselsoorte dit vererger. Eet genoeg veselryke kos en semels as jy 
hardlywig is. Drink sowat  1,5 vloeistof per dag, verkieslik water. 
Indien jy pyn ervaar maar nie hardlywig is nie, vermy semels. 
Wat kan 'n mens doen om beter te voel? 
Vermy stres deur genoeg oefening te doen en te rus. 
Asemhalingsoefeninge en joga sal ook help. 
Raadpleeg 'n gesondheidswerker vir advies as simptome nie weggaan 
nie. 
Medisyne: 
Besoek die arts vir 'n voorskrif. 
Onthou irriterende lakseermiddels kan buikkrampe veroorsaak. 

Raad vir 'n spastiese kolon

“Spasties” of “pynlik” is terme wat algemeen gebruik word vir die beskrywing van ’n problematiese kolon. Hoewel dit algemene terme is, kan geen mediese toetse of ondersoeke hierdie toestand diagnoseer nie. Dus word staat gemaak op net die simptome om die toestand te diagnoseer. 

Simptome ’n Diagnose word gemaak wanneer ’n pasiënt vir langer as drie maande, drie van die onderstaande ses tipiese simptome ervaar:
  

• Abdominale pyn of ongemak
  

• Onreëlmatige dermfunksie (hardlywigheid, diarree of afwisseld)
  

• Buikswelling
  

• Uitermatige winderigheid
  

• Slym in stoelgang
  

• Gevoel van onvoldoende dermledi- ging
  

Faktore wat simptome aanwakker
  

• Gastro-enteritis of ander infeksies
  

• Stres (veroorsaak spasmas van die kolon)
  

• Dieet
  

• Medikasie (soos antibiotika)
  

• Hormoon wanbalans en -behandeling
  

• Laktose intoleransie
  

Hoekom is ’n gesonde kolon belangrik?
  

’n Ongesonde kolon is nie in staat om sy normale funksie te verrig nie en dus ontstaan spasmas, wat die kolon se beweegbaarheid beïnvloed. Hipersensitiwiteit teenoor kos en selfs allergieë kan dalk ontwikkel wat moontlik kan lei tot die simptome van ’n problematiese kolon.
  

Gereelde dermbeweging help die liggaam om ontslae te raak van afval- en gifstowwe – daarom is ’n gesonde kolon belangrik vir die handhawing van algemene gesondheid. Fisiese ongemak en spanning kan dus verhoed word deur ’n gesonde kolon te handhaaf.
  

Hoe weet ek…?
  

Hoe weet ek of ek simptome van ’n problematiese kolon het? Indien jy die klassieke simptome soos buikswelling, abdominale ongemak en pyn, gepaardgaande met konstipasie en/of diarree ervaar, kan jy moontlik aan ’n problematiese kolon lei.
  

Lei spanning tot ’n spastiese kolon?
  

Ja, hoewel nie direk daarvoor verantwoordelik nie, kan spanning die simptome aanwakker en selfs vererger. In talle gevalle voel mense ’n “knop op die maag” wat gevolg word deur krampe en spasmas. Lyers kan ook die simptome ervaar tydens stresvolle tye, wat aandui dat stres ’n bydraende faktor is.
  

Watter behandeling is die beste?
  

Hoewel verskillende behandelings beskikbaar is, is gevind dat tradisionele medikasie net gedeeltelik suksesvol is. Vra jou dokter oor die beste medikasie. Een van die behandelings is Lp299v van NutriLida Healthcare, wat die eerste klinies beproefde, natuurlike oplossing is wat bydra tot die verligting van tipiese simptome van ’n problematiese kolon.
  

Dit bevorder normale gastro-intestinale funksie, verminder buikswelling, abdominale pyn en normaliseer die beweegbaarheid in die dermkanaal. Omdat dit ’n natuurlike middel is, het dit geen middel-interaksies nie en kan dit dus saam met enige ander medikasie gebruik word. Vir meer inligting, kan jy jou dokter oor die produk vra.
  

 

'n Dame op FB het gesê:

Koop NORMACOL ( lees ma al die detail op boxie en binne in.....interessant) Drink dit MET WATER in tye van kwaai hardlywigheid en winde. Wanneer erge diarree, eet dit saam met Yoghurt.

Ek kan dit nie aanbeveel nie want ek het dit nog nooit gebruik nie. My MIMS seg hiervan : die aktiewe bestandeel is STERCULIA, maar dit word teenaangewys vir ongediagnoseerde abdominale siektes, dit val ook in dieselfde groep as lakseermiddels, en ek vra soos met ander “natuurlike” senna of agiolax ens. middels, ook omsigtigheid hiermee!

 

 Beste groete en sterkte ! 


   

 

8 Julie

Die wind waai droë Blinkblaar-wag-'n-bietjie-blare herwaarts en derwaarts, en ek skuil vandag binne in my oewerhuisie daarteen!

 

Het 'n leser lank terug vir my gevra wat maak jy as jy lus voel om koek te bak en jy MAG NIE EIERS gebruik nie?

Wel, lees ek so pas in my nuwe tydskrif (Oe! Ek's 'n suigstokkie as dit by tydskrifte kom!!) die volgende wenwenke raak:

In SPONSKOEKE: vervang elke eier deur 50 ml appelpuree plus 'n ekstra addisionele halwe tl bakpoeier .Voeg die puree by die botter en suiker en voeg dan by die meel.

In MUFFINS en VRUGTEBRODE: vervang elke eier deur 'n fyngedrukte klein piesang.

In SOETKOEKIES: vervang elke eier deur 50 ml melk en gebruik bruismeel pleks van gewone koekmeel.

 

En vra RIEKIE my:  Ek is op soek na lekker versiersuiker resepte.  Myne kom net nooit lekker uit nie. 

Wel Riekie, Ek is seker jy sal iets uit die volgende kry wat jou kan help! 

 

SUPERWENK:

As jy 'n koek se versiersuiker te slap aangemaak het en jou versiersuiker is op, voeg bakpoeier of mielieblom by om dit stywer te maak.


BASIESE 
BOTTERVERSIERSEL:
Klop 140 g sagte botter tot romerig. 
Voeg 140 g versiersuiker by en klop tot glad. 
Voeg nog 140 g versiersuiker by en klop weer tot glad.
Kleur met voedselkleursel by as jy wil. 

 

“ROYAL ICING” is beslis die maklikste versiersuiker om mee te werk. Al wat jy daarvoor benodig is eierwit en versiersuiker.

Gebruik 'n menger en klits 1 eierwit saam met 200 g versiersuiker vir 5 minute. Voeg 'n skeut suurlemoensap by net voor jy ophou klits. Verdubbel van die begin af indien jy meer versiersuiker benodig. Indien jy nie alles gebruik nie kan jy dit in 'n lugdigte-houer in die yskas vir later bêre.

 

MELK- VERSIERSEL:

250 ml melk

90 ml koekmeelblom

275 ml suiker

250 ml botter

5 ml vanielje geursel

sjokolade-vermicelli om bo-oor te strooi

Voeg ‘n bietjie van die melk by die koekmeelblom en meng tot ‘n gladde pasta.

Bring die res van die melk saam met die suiker tot kookpunt. Roer gedurig.

Voeg ‘n bietjie van die warm melk by die meelpasta en meng goed.

Voeg by die warm melk en kook oor lae hitte tot gaar en dik. Roer gedurig.

Verroom die botter tot sag.

Voeg die vanieljegeursel by.

Giet die melkmengsel by en klits totdat dit lyk soos styfgeklopte room.

Koel af.

Smeer ‘n bietjie van die versiersel op 1 koeklaag en plaas die ander koeklaag bo-op. Versier die koek met die res van die versiersel.

Strooi ‘n bietjie vermicelli bo-oor.

 

LEMOENVERSIERSUIKER

50 ml margarien

5 ml gerasperde lemoenskil

25 ml suurlemoensap

50 ml lemoensap

versiersuiker

knypie sout

Meng bestanddele saam en versier koek daarmee.

 

BAR-ONE-KOEKVERSIERSEL

240 g Bar-One sjokolade

80 ml room

Sny die sjokolade in stukkies en plaas dit in ´n glasbak saam met die room. Verhit dit oor ´n kastrol met kookwater tot dit smelt. Roer nou en dan. Koel af en smeer oor koek.

 

KOFFIE VERSIERSUIKER

115 g margarien

230 g versiersuiker

2 teelepels fyn kitskoffie

4 teelepels melk

Sit dit tussen die koeklae en om die koek. Sprinkel ekstra gekapte okkerneute oor.

 

SITRUS-VERSIERING

Maak 500g versiersuiker aan met die skil en sap van 1 lemoen en suurlemoen vir die versiering.

 

GRONDBOONTJIEBOTTER –VERSIERING

500 ml versiersuiker, gesif

125 g roomkaas

30 ml grondboontjiebotter

Meng die roomkaas en versiersuiker goed saam tot glad en romerig. Voeg die grondboontjiebotter by en meng goed.

 

KARAMEL KONDENSMELK-VERSIERING

Meng ipv botter die versiersuiker met 'n blik karamel kondensmelk. Dit sit redelik op die koek wanneer dit warm word en droog nie so vinnig uit as jy wel die koek in die yskas wil sit nie.

 

MERINGUE-VERSIERING

¾ koppie Versiersuiker

1 eier wit

3 eetlepels water

1/8 tl kremetart

½ tl vanilla

Knippie sout

Vat n ‘double boiler ‘ pot en kook op hoog. Indien jy nie een het nie sal 2 potte op mekaar ook werk. Gooi al die bestanddele saam en klop vir 7 minute. Kleur of geur soos jy wil. Dit sal stywerig word. Onthou dat dit hard word soos dit op die koek is in die lug.

 

SJOKOLADE-VERSIERSEL:

100 g goeie gehalte bittersjokolade in blokkies

100 ml room

Plaas room in 'n klein kastrolletjie en verhit tot kookpunt. Verlaag hitte en laat met 'n derde indamp. Verwyder van hitte en roer sjokoladeblokkies by tot gesmelt. Laat staan tot smeerbaar.

 

GLACÉ VERSIERING:

1 k (150 g) versiersuiker

2 T (30 ml) warm water

2 t (10 ml) suurlemoensap

Garnering: gedroogde mangostukkies of bosbessies

Versiersuiker om bo-oor te sif

Sif die versiersuiker in ‘n medium grootte mengbak en plaas dit oor ‘n klein kastrolletjie met kookwater. Roer die water en suurlemoensap by die versiersuiker, totdat dit verdik en die agterkant van die lepel bedek. Gooi die versiering oor koek,druk mangostukkies  of bessies daarin vas. Sif versiersuiker bo-oor en bedien. 

 

SJOKOLADE MOUSE (lekker by sjokolade koek as versiersuiker)

50 ml vla

50 ml Kakao

175 ml suiker - meng bogenoemde saam met bietjie melk van die 500 ml

500ml melk - kook die melk

15 ml gelatien

30ml kouewater - meng dit en hou eenkant

510 g Idealmelk

Meng vla, kakao, suiker en voeg van 500 ml melk by

Kook res van die melk Gooi by vla mengsel, en gooi terug in kastrol en kook dit net op. Roer aanhoudend.

Meng gelatien en kouewater en laat staan om dik te word.

Gooi dan die gelatien by melkmengsel. Roer to dit opgelos is.

Laat afkoel. Klop Idealmelk styf en vou in die mengsel. 

 

 (Bronne: Facebook, E-Wêreld, My Anonieme resepte boek, Google, RooiRose en Sarie.)

 

  

 

3 Julie

Nou sien, in ons KAMMANUUS, “toer” ek deur die wêreld en plaas my eie weergawes van elke land se gewildste resepte, ALA-RETHA natuurlik! Wel, jul moet weet dat ek daar NET een bladsy  tot my beskikking het, en dus nie alles wat lekker is daar kan plaas nie- TENSY ek natuurlik gevra word om meer!

So het Griekeland gekom en skaars in die posbusse beland of ek kry dadelik die boodskap: Hoekom is daar nie ‘n BAKLAVA resep by nie!  En sommer skaars 'n halfuur daarna red Elsbeth my en skryf: Ek het die resep as Retha dit nie het nie en ek gee dit graag, onthou net dat dit BAIE vet maak!

Net daar besluit ek dat dít die rede moes wees dat ek dit nie self geplaas het nie- want iets wat vet maak...MOET ek mos by verby-hou!! Nietemin, hoe kan ek egter anders as om die dekadente lekkerte NIE met jul te deel nie! Sy het dit beproef en beveel dit dus sterk aan!

Ek moet egter ook hierdie WENK gee: Eet dit met 'n BALAKLAVA , sodat ander jou nie kan herken en sien HOEVEEL jy hiervan eet nie! Geniet dit!

     retha/som8.jpg  

ELSBETH se BAKLAVA!

12  phyllo-deeg velle.

1 ½ kp gesmelte botter

450 g  fyn gekapte Amandel / Pistachios  / Pekanneute / Okkerneute of 'n mengsel van almal!!

½ kp droë broodkrummels

¼  kp suiker

1 tl kaneel

½ tl naeltjies

Vir die STROOP

4 kp suiker

2 kp water

Sap van een suurlemoen

SO MAAK MENS:

Plaas 1 deeg vel in 'n goed gesmeerde 9x13’’ oondbakpan en borsel bo-oor ook met botter.

Plaas tweede vel bo-oor en smeer ook met botter. Herhaal nou die gebotterde lae tot jy 6 velle bo-op mekaar het.

Meng nou die neute, broodkrummels, suiker, kaneel en naeltjies.

Besprinkel nou die boonste gebotterde deegvel goed hiermee, en volg op met nog 2 gebotterde deegvelle.

Nou weer 'n goeie strooisel van die neute mengsel, weer 2 velle, weer neute, en eindig met laaste 2 gebotterde deeg-velle.

OF

6 lae gebotterde Phyllo, laag neutemengsel, weer 6 lae gebotterde Phyllo-velle.

Smeer boonste laag ook goed met botter en sny kante netjies met skerp messie indien nodig.

Sny nou diagonale snitte regoor en deur al die deeg-lae in die pan, om diamante te vorm. Sprinkel liggies bo-oor met water.

Bak in matige oond van 180º C vir omtrent 1 uur tot goudbruin.

Maak intussen die stroop, deur die suiker, water en suurlemoensap te kook vir 10 minute.

Gooi die warm stroop oor die gaar BAKLAVA. ('n Ligte strooisel kaneel kan ook nie skade doen nie!)

Laat 'n paar ure staan voor bediening.

Genoeg vir omtrent 30 mense.

 

Ek het ook al 'n variasie hiervan geëet met sowat ½ -1 kp korente of fyn gesnipperde appel  of appelkoos en selfs sjokolade, by die neute mengsel.

Jy kan natuurlik dit ook in rolletjies voorberei deur 2 velle gebotterde Phylodeeg, met 'n lagie neute mengsel oor, op te rol en in ewe groot rolletjies te sny, voor jy dit op 'n bakplaat bak.Of in driehoekies, of as “pasteitjies” of in kolwyntjiedoppies...

Probeer ook My stroopresep:

1 kp water

1 kp suiker

½ kp heuning

2 Etl suurlemoen of Lemoensap

1 kaneelstokkie


 

   Voila!!

  

 

1 Julie 2010 !!

Die MIDDEL van die jaar!! Die seisoen het onheroepelik gedraai, die WINTER kom nie meer nie, dis met ons, om ons, in ons! Maar dit gaan amper verby! Die EINDE van die winter is nou nader as die begin! Gaan maak 'n draai op die TUINBLADSY, vir raad wat om nou in die tuin te doen. En nou iets WARMS vir die laaste dae van Winter!!

 

Kotie het gevra hoe mens

RRRRRRRRRRRRISSIES  inlê.

 

 

Wel Kotie, SO MAAK MENS! 

 

Mari Goosen se ingelegde rissie resep.

Sy sê sy lê

 in,

net soos beet of enige ander groente.

1 koppie suiker, 1 koppie asyn en 1 koppie water.

Kook rissies (of groente) 'n rukkie daarin, net tot dit deurwarm is, en bottel terwyl dit warm is.´n Bietjie suurlemoensap kan ook bygevoeg word om kleur te behou.

My piekel resep lees so:

Sowat 4-5 kg van wat jy wil inlê, RRRRRRRisssies, agurkies...

Dis omtrent so 'n dosyn 340 ml heuning-grote, botteljies. As daar van die asyn mengsel oorbly kan jy dit in die yskas hou en gebruik soos en wanneer jy asyn wil gebruik, en as dit te min is, dan maak jy net nog 'n bietjie by! 

3 x 750 ml bottels asyn

1 bottel water

1/2 kp sout

1/2 kp suiker

1/2 pk pickling spice

Kook bs. En gooi kokend oor agurkies / knoffel / ander groente van keuse, wat styf in flesse gepak is.

Groente kan effe opgekook of rou in die skoon gesterilliseerde flesse gepak word.

Bottel warm.

Ek draai die deksel dadelik op en keer dan die bottel dadelik onderstebo om die digtheid te verseker.

En probeer ook gerus die volgende resepte van Helena Kruger van: “Resepte vir die Jongergeslag”

RISSIE BLATJANG

Bestanddele

3 Uie

2 Knoffelhuisies

500 ml Opgesnyde brandrissies

250 ml Bruin asyn

750 ml Appelkooskonfyt

10 ml Kerriepoeier

5 ml Mosterdpoeier

5ml Gemaalde Gemmer

125ml soet rissie sous

5ml Sout

Metode

Skil die uie en knoffel en sny dit in stukkies op.

Maal dit saam met die brandrissies.

Voeg die asyn by en kook vir 'n paar minute.

Roer die res van die bestanddele by.

Verhit dit stadig tot kookpunt.

Prut ongeveer 30 minute lank tot dik.

Roer gereeld.

Bottel warm en verseël dadelik.

 

Inmaak van PEPPADEWS!!

Stroop:

1 1/2 k Asyn..

1 1/4 k Suiker..

1k Water..

Paar gesnyde stukke vars gemmer..

Paar knoffelhuisies..

2t Peperkorrels..

Bay leaf of n suurlemoen blaar..

knippie sout..

2 groen rissies..

Metode: Sny jou stingels af en haal die pitte mooi uit..Laat in n oplossing van 4t Sout op 2k Water le oornag of n paar ure..Spoel more baie goed af en maak droog..Kook jou stroop vir so 5min. en gooi dan jou Peppedews!!!by en kook weer 5min.. Nie pap nie nog styf. Pak dan jou bottels lekker styf in en gooi jou stroop bo oor!!Pak bo op n knoffel stukkie en n gemmer stukkie net soos jy wil en verseel jou bottels baie goed..Laat dit vir so 2-3 weke staan of langer voor jy dit gebruik..Baie lekker hoe langer dit staan ..van myne staan al 3jaar!!!

NS. Skud die bottel sodat die sous in die gaatjies kan inloop voor jy dit verseel en gooi dan nog sous by as dit kort..

 

GEPIEKELDE BRANDRISSIES

600 g brandrissie

15 swartpeper korrels

5 lourierblare

2 eetlepels koljandersade of een eetlepel peperkorrels en een eetlepel mosterdsade

5 teelepels sout

6 eetlepels strooisuiker

1 liter wit asyn

1 eetlepel paprika

1 teelepel borrie

Sny rissies oop en verwyder sade - indien verkies- Gooi kookwater oor rissies en laat 1 minute staan en dreineer. Plaas rissies, peperkorrels, lourier blare, koljander en geurmiddels in fles. Verhit suiker en asyn tot suiker gesmelt is en terwyl nog warm, nie gekook, gooi dit in fles. U kan dit ook deel in kleiner flessies soos u verkies.

 

TAMATIE EN BRANDRISSIE KONFYT

1.2 kg suiker

1.2 kg ryp pruimtamaties en die lengte deurgesny

2-6 middelslag brandrissies ontpit en in skyfies gesny

2 granny smith appels geskil en gerasper

2 cm stuk vars gemmer in kort repe gesny

sap van 1 suurlemoen

Plaas alles in groot bak en laat 20 min staan...gooi dan in groot kastrol...verhit stadig en roer tot suiker opgelos is...prut stadig tot dikte van konfyt bereik het...roer af en toe....skep die skuim af terwyl dit prut...skep in flesse en verseel onmiddelik. As jy nie rissie wil bygooi nie los net uit…

 
 
 
 
 
 
 
 
Voila!

Wink JUNIE 2010 ! 

Donderdag. 24 Junie

Dagsê Lesers!

Vroeg oggend lê die bos se blaredak en die omliggende grasveld langs die Gariep spierwit geryp. Krakend onder my skaapvel pantoffel-sole as ek vroeg uitgaan om wit kristal foto's van alles te neem. Tot my vingers en tone begin krul van die koue dan hardloop ek behoorlik terug na my oewerhuisie om dadelik my hande om 'n warm koppie koffie te kan vou. Dan staan ek so slukkie vir slukkie en kyk hoe die son sy eerste strale oor die rante anderkant die rivier gooi, hoe die strale oorkruip tot op onse stoep en dan  begin die blare druppeltjie vir druppeltjie reën soos die witryp wegsmelt. Die Groot Genade,  oorlewering, én die natuur, het my geleer dat sulke wit gerypte oggende die voorspoor is tot 'n prag dag! So tussen die goue son-gevulde windstil wintersdae, wil ek graag lesers se navrae beantwoord!

 

Ronel Henning het geskryf: Ek is opsoek na 'n patatgereg wat by braaivleis geëet kan word.Vermoed dit kry room bo-oor. Help groot asseblief!

 

Miemie Koukeas, het geskryf:  Groot asseblief : ekonomiese sult resepte!

 

En Jeanette: Hi, ek sit in die vreemde en geniet al die lekker resepte en wenke.  Ek soek na 'n resep vir iets wat ek baie jare terug gemaak het en nie die resep van kan onthou nie. Dit was dadel bolletjies gerol in klapper. Onthou net die dadels word opgewarm met botter en suiker.  Nie seker wat nog nie. Sal baie waardeer as jy my kan help met die resep. Groetnis!!

 

Dankie vir jul navrae! Hoop ek kan help met die volgende!

 

Hier is 'n paar heerlike PATAT-RESEPTE

O.a. van Peter Veldsman en ANNA EKSTEEN. Kry gerus haar GROENTE-RONDOMTALIE en ander GROENTE reepteboeke, bestel op die RESEPTE blad, daar is heerlike goete daarin!! Geniet dit!!

 

SOETPATATS

(4-6 porsies)

110 g (125 ml/ 'n halwe koppie) suiker

125 g (125 ml/ 'n halwe koppie) gouestroop

50 g (50 ml/ 4 eetlepels) botter

1 stuk pypkaneel, in die middel deurgebreek

5 ml (1 teelepel) fyn gemmer

4-5 middelslag patats, geskil (in skywe gesny en in suurlemoenwater geplaas sodat die water die skywe bedek - plaas 'n piering daarop as hulle nie onder die water wil bly nie, dit keer dat dit verkleur!)

gedroogde nartjieskil OF vars dungeskilde lemoenskil

sout na smaak

vanielje-geursel OF selfs 'n lepeltjie of twee brandewyn,soetwyn of sjerrie

1. Skep die suiker in 'n kastrol en voeg ongeveer 75 ml (6 eetlepels) van die patatwater by. roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos is. Verhoog die hitte en kook een minuut lank. Voeg die gouestroop, botter, kaneel en gemmer by en roer totdat die botter gesmelt is en die mengsel begin borrel.

2. Dreineer intussen die patatskywe. Moenie droogdruk nie. Voeg die patats by die stroop en gebruik 'n houtspaan om die skywe om te keer sodat almal behoorlik met stroop bedek is. Sit die deksel op, verlaag die hitte na laag en prut ongeveer 20 minunte lank. Daar sal nou 'n redelike hoeveelheid vloeistof in die kastrol wees.

3. Verwyder die deksel, geur met sout na smaak en voeg die skil by. Verhoog die hitte effens. Prut totdat die sous begin taai raak en keer die skywe af en toe met 'n houtspaan om. Van die skywe sal begin sag kook en breek. Hou so aan totdat die mengsel mooi toffiekleurig en taai is. In hierdie stadium kan die soetpatats met 'n klein bietjie vanielje-geursel gegeur word, indien verkies. Skep in 'n opdienskottel en hou warm.

Sit voor saam met braaiboud, varktjops, geroosterde hoender of gestoofde skaapnek.

 

HOE OM PATATS TE BAK

Patats hoef nie stroopsoet gedokter te word nie. Maar moenie hulle net in gesoute water gaan staan en opkook nie.

Maak so: Kies patats wat almal ongeveer ewe groot is sodat hulle dieselfde gaarmaaktyd sal he. Skrop mooi skoon sonder om te skil. Plaas die patats in 'n oondpan en bak teen 160C. Bak ongeveer een tot een en 'n half uur lank. Toets met 'n toetspen. Die patats moet in die middel sag wees. Verwyder uit die oond en Voila!!

 

PATATTERT

Hier is 'n plan met oorskiet- gebakte patats. Nie so soet soos die soetpatats nie, maar geurig en 'n besonderse bykos by braaivleis se boerewors. Selfs deftig by 'n skyf beesfilet en 'n sousie op die bord by die gestyfde damasktafeldoek vir die meer formele ete!

(EK, gebruik sommer gekoopte bevrore skilferkorsdeeg met hierdie vulsel.)

Slegs die helfte van die deeg word vir die patattert gebruik.

Suurroom word egter verpak en aangekoop in houers van 250-275 ml en daarom word 'n dubbele hoeveelheid deeg berei,die ander helfte kan jy vir latere gebruik vries.

DEEG:

415 g (875 ml/ drie en 'n halwe koppie)koekmeelblom

12,5 ml (1 eetlepel) sout

3 ml ('n halwe teelepel) rooipeper

3 ml ('n halwe teelepel) mosterdpoeier

100 g (100 ml/ 8 eetlepels) koue botter, in blokkies gesny

een houertjie (250-275 ml) suurroom

VULSEL

3-4 gebakte patats (lees weer hierbo)

10 ml (2 teelepels) fyn gemmer

3 jumbo- of 4 ekstragroot eiers

125 ml ('n halwe koppie) dik room

185 ml ('n driekwart koppie) melk

125 ml ('n halwe koppie) groenteaftreksel (gebruik 'n halwe blokkie)

sout en peper

5 ml (1 teelepel) borrie

'n halwe fyngerasperde neutmuskaat

1. DEEG: Sif die meel, sout, mosterdpoeier en rooipeper in die bak van 'n elektriese menger. Voeg die botter by die meelmengsel en klop 30 sekondes lank met die K-hak by "spoed 2". Verhoog die spoed tot 4 en klop nog 15 sekondes. Verminder die spoed tot 1 en voeg die suurroom by. Klop nog 20-30 sekondes totdat die deeg 'n bal vorm en die kante van die mengbak skoon is. Keer uit oop 'n meelbestrooide deegplank en druk liggies saam. verdeel in twee dele. Bedek met kleefplastiek en plaas minstens 30 minute lank in di ekoelkas om te rus voordat die deeg uitgerol word.

2. Voorverhit die oond by 220C (450F). Rol die deeg uit en voer 'n tertbord met 'n deursnee van 250 mm (10 duim) of effens minder met die deeg uit. Prik die boom van die deegdop met 'n vurk. Bedek met bakpapier en vul met droebone. Bak 10 minute lank. Verwyder uit die oond en verwyder die papier met die bone en al. Bak nog 5 minute. Verwyder en laat koud word. Verlaag die oondhitte tot 160C (325F).

3. VULSEL: Trek die patatskille versigtig af en sny in skywe van 12,5 mm ('n halwe duim) dik. Pak 'n laag patatskywe in die tertdop. Strooi vand ie gemmer oor. Klop die eiers, room, melk en aftreksel saam en geur met sout, peper, borrie en neutmuskaat. Skep van die eiermengsel oor om die skywe amper te bedek. Herhaal met nog patatskywe en geur weer met gemmer. Herhaal met van die eiermengsel. Gebruik al die patatskywe en skep die res vand ie eiermengsel oor om amper die kors tot bo te vul. Bak 35-45 minute lank totdat die vla gestol en die bokant van die tert mooi goudbruin is. Verwyder uit die oond en laat effens afkoel. Rond af met tamaties en kruie. Sit louwarm voor.

 

GEBAKTE PATATS

500g Patas geskil en in 1cm blokkies gesny

250ml Vars Room

125ml Melk

1 pakkie Royco Dik Wit Uie Sop

1 huisie Knoffel - fyngemaak

Gemaalde swart peper

  • Plaas rou patats in gesmeerde bak met ‘n deksel (met ‘n volume van 2L)
  • Meng al die bestandele en gooi oor patat
  • Bak teen 180°C vir 30 minute met deksel op
  • Haal deksel af en bak vir verdere 20-30 minute.

 

NOG PATAT TERTJIES

(4 klein tertjies van sowat 8 cm in deursnee)

Deeg

225 g (400 ml) meel

knippie sout

15 ml strooisuiker

125 g wit margarien, in klein blokkies gesny

30 ml botter, in klein blokkies gesny

ongeveer 2 eetlepels koue water

Sif die meel en sout saam in 'n mengbak. Voeg die strooisuiker by. Voeg die margarien en botter by en vryf in tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die water eetlepel vir eetlepel by en meng tot 'n stywe deeg. Maak toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir omtrent 30 minute.

Vulsel

2 eiers

225 ml melk

500 g patats, gaargemaak, fyngedruk en afgekoel

125 g (150 ml) strooisuiker

1 ml sout

1 ml neutmuskaat

1 ml fyn gemmer

2 ml fyn kaneel

nog fyn kaneel om bo-oor te sif

styfgeklopte room, om voor te sit

Verhit jou oond tot 200 °C. Rol die deeg uit op 'n meelbestrooide oppervlak. Sny sirkels uit en voer gesmeerde tertbakkies daarmee. Klits al die vulselbestanddele goed saam en skep in die uitgevoerde bakkies. Plaas op 'n bakplaat en bak vir ongeveer 35 - 45 minute. Toets die vulsel met 'n toetspen - wanneer dit droog uitkom, is die tertjies gaar. Laat die tertjies in die bakkies afkoel en keer hulle dan versigtig uit. Sny 'n blaarvormige patroon uit 'n stuk papier en plaas die papier bo-op die tertjies. Sif kaneel oor en haal die papier versigtig af. Sit voor met styfgeklopte room.

 

GEBRAAIDE PATATS IN PYNAPPELSTROOP

Bestanddele

500 g Patats

1 med Pynappel gerasper

2 e Botter

½ k Bruinsuiker

¼ k Lemoensap

12 Malvalekkers

Metode

Kook patats in soutwater en trek die skil af. Maak 'n sous van die res van die bestanddele (behalwe malvalekkers). Verhit die sous bestanddele net tot kookpunt.

Rangskik patat skywe in oondskottel en plaas malva lekkers oor. Giet die sous oor.

Bak vir 20 tot 30 minute teen 180°C.

 

SOETPATAT EN APPEL GEREG

1.5 kg patats (geskil,skyfies gesny)

1 kg appels (geskil, blokkies gesny)

8 naeltjies

300 ml kookwater

250 ml vars lemoensap

200 g geelsuiker (250 ml)

7 ml gemmer

Plaas patatskyfies onder in kastrol. Plaas appelskyfies bo oor. Voeg naeltjies by. Bedek en stoom gaar, ongeveer 15 minute. Verwyder naeltjies, giet oortollige water af.  Meng patat en appelskyfies deurmekaar. Plaas in 'n gesmeerde vuurvaste bak. Plaas lemoensap, suiker en gemmer in kastrol. Los suiker op, verhit tot kookpunt.  Giet bo-oor patat en appels. Bak 30 minute lank in voorverhitte oond teen 180 grade C.  Dien op saam met gebraaide varkboud of tong.

 

PATATS MET GEMMERKOEKIES:

6 patats

150g bruinsuiker

50ml stroop

½ pak Marshmellows - gesnipper

250ml room

Pakkie gemmerkoekies - fyn gedruk.

Kook patats in soutwater tot amper gaar.

Meng suiker, stroop en room.

Pak lae patats en koekies, gooi suikermengsel oor.

Bak in matige oond tot sous dik word.

 

En MY GUNSTELING PATATS!!

500g patats

1 rol Blaardeeg (ontdooi in yskas oornag)

1 koppie bruinsuiker

1 koppie room

1 teelepel karamelgeursel of vannillageursel

Kook patats sag in soutwater.

Rol blaardeeg uit en maak patats fyn en vou patats toe in blaardeeg.

Plaas in oondbak.

Meng suiker, room en karamelgeursel en gooi oor patats.

Bak in voorverhitte oond vir so 'n halfuur teen 180 grade

 

Hier's ook ámper al my DADEL bolletjie-resepte, party bykans dieselfde, so lees en kyk maar, watter een jul wil maak!

 

DADEL HAPPIES

250 g Botter of Margarien

250 ml Suiker

500 g Dadels - fyn gesny

1 Eier, goed geklits

200 g Marie beskuitjies in stukkies

Klapper

Smelt suiker en botter oor lae hitte, die mengsel moet nie verbruin nie. Voeg dadel en eier by en roer goed sodat eier egalig inmeng. Voeg beskuitjies by en meng deeglik.

Haal van stoof af en gooi mengsel in 'n gesmeerde pan van 23 X 23 cm. Stryk plat met 'n mes. Strooi klapper bo-oor en laat koud word. Sny in blokkies en geniet.

Wenk

Die Marie beskuitjies kan vervang word met Rice Krispies. Gooi genoeg Rice Krispies in. Rol nou die mengsel in balletjies. Rol die balletjies in die klapper.

 

DADELBALLETJIES

250 g ontpitte dadels, fyn gesny

250 g botter

200 ml strooisuiker

4 x 250 ml Rice Krispies

70 g klapper

2 ml koeksoda

Verhit die dadels, botter, strooisuiker en koeksoda in 'n dikboomkastrol tot kookpunt. Roer gereeld. Laat vir 3 minute kook tot dik, bruin en stroperig.

Verwyder die kastrol van die hitte, voeg die Rice Krispies by en meng goed. Laat afkoel.

Rol in balletjies en rol die balletjies in klapper. Bêre in 'n lugdigte houer.

(maak ± 48)

 

Nog DADEL EN ONTBYTPAP BOLLETJIES

1 lb (500gr) Dadels

2 kop Suiker

6 kop Rice Crispies

2 eetlepels gesmelte Botter

4 Eiers geklits

Klapper

Laat dadels, suiker en botter saam kook vir 10 minute.

Roer goed geklitste eiers by.

Kook weer.

Voeg rice crispies by.

Rol balletjies en rol dan in die klapper.

 

DADEL EN NET TRUFFELS (Arina v.d. Landbou weekblad se resep.)

250 g (1 pakkie) ontpitte dadels, fyn gekap

130 g marsepein, in klein stukkies gesny

100 g (1 pakkie) gemaalde amandels

30 ml heuning

300 g donker sjokolade, fyn gekap

Verwerk die dadels in 'n voedselverwerker tot fyn. Voeg die stukkies marsepein, gemaalde amandels en heuning by en pols tot goed gemeng. Keer uit in 'n mengbak, rol in ewe groot balletjies en pak op 'n bakplaat. Verkoel tot yskoud. Smelt intussen die donker sjokolade stadig oor lae hitte tot heeltemal glad. Gebruik 'n vurk om die dadelballetjies in die sjokolade te doop. Lig elkeen uit en laat oortollige sjokolade goed afdrup voor dit op 'n vel waspapier gepak word om hard te word. Sodra hard, versier die truffels met eetbare goue of silwer poeier, of drup gesmelte, wit sjokolade daaroor. Pak in papiertruffelkoppies en in 'n mooi, vlak boksie met 'n deksel. Hou in die yskas. Lewer sowat 35 truffels.

 

DADELROLLETJIES

(Uit Anna Eksteen se E-RESEPTE BOEK: VIR DIE SOETTAND!)

250g botter of margarien       

250ml bruinsuiker

1 pakkie Mariebeskuitjies       

2.5ml vanilla geursel

15ml kakao      2 eiers, geklits

25g pakkie dadels, fyn gesny

250g pakkie klapper

12.5ml brandewyn (opsioneel)

Smelt botter, suiker en kakao saam oor stadige hitte. Voeg fyngesnyde dadels by. Verwyder van hitte. Laat effens afkoel en voeg die goed geklitse eiers by. Rol in balletjies en dan in klapper.

(Gaan kyk gerus op die RESEPTE bladsy, jul kan daar van Anna se boeke  bestel!)

 

En, MY DADEL-DELIGHTS!(gaan loer gerus in die ARGIEF ook rond...)

VRUGTE EN NEUTE HAPPIES.(2 opsies)

½ kp baie fyn gekapte droë mango (of ander droë vrugte)

½ kp gekapte Macadamia's ( of Pekans)

½  tl fyn kaneel

1kp grondboontjie botter

OF

1kp fyn gekapte dadels

1kp fyn gekapte droë appelkose

½ kp fyn gekapte Pekans

½ kp Macadamias

Meng alles baie goed. Rol in balletjies en rol balletjies in klapper of sesamsade.

 

 

Oor AFVAL en BRON / SULT:

WIKEPEDIA seg: ( Ek het dit bietjie geredigeer!!)Toe die meeste boere self hul vee geslag het was dit gebruikliker om die slagoorblyfsels vir geregte aan te wend, soos beestong, skaaptongetjies, bees- en skaapderms, harslag (gemaalde of in klein stukkies gesnyde longe, hart en lewer; soms ook milt of niertjies), 'peertjies' ('n hoefdier se testikels), beessnoet, skaapharsings, die netvet, soetvleis (sweserik), beesstert en dies meer.

Wanneer skaapafval met die kop berei word, saag 'n mens eers die kop oop en sit die harsings in die kleinpensie (ritikulum, ook harsingpensie, heuningkoekpens of ruitjiespens genoem) sodat jy dit met die kop, pens en pootjies in die afvalpot kan laat prut. 

Party mense verkies hul afval met uie, aartappels en naeltjies. Party mense voeg borrie, kerrie, kortgekookte uie, wonderpeperkorrels, lourier, suiker en sout by. Dit maak 'n pot kerrieafval.

Bereiding 

Teneinde die pens sag te kry en die misgeur te laat verdwyn, kook 'n mens hom eers 'n halfuur in 'n aparte pot kookwater met sowat 2 ETL asyn(hierdie proses word afwater genoem), waarna jy hom met die res van die afval laat prut. Afval neem omtrent 3 tot 4 ure se prut om gaar te wees; Die vleis is dan murgsag en dit val van die bene af.

As die vleis sag is word die skedelbene, pote en kake uit die pot gehaal, die vleis word in kleiner stukkies gesny waarna die vleis terug in die pot gesit word. Dan word die speserye en uie aan die afval toegevoeg en word dit 'n halfuur gekook, terwyl 'n mens dit goed roer om te verhoed dat dit aanbrand.

Afval lyk na 'n dik, klewerige, ryk bredie. Dit behoort goed lymerig te wees, aangesien die binnegoed van die onderste lit baie lymstof -- kollageen -- en gelatien bevat. As die afval heeltemal afgekoel is, stol dit. 

Dit is baie belangrik dat die afval goed skoongeskraap is voordat dit gekook word. Die pootjies se harde naeldeel van die kloutjies moet afgehaal word, die kop en pootjies se hare moet met koeksoda of kalkwater afgeskraap word. Die pootjies moet tot by die eerste lit tussen die kloutjies ingesny word om die kliertjies te verwyder.

Veral pens kan die afval 'n wilde smaak gee indien dit nie goed skoongemaak is nie. 

Deesdae word afval in die supermarkte en by slagters -- verbruikersvriendelik -- skoon en wit afgelewer of verkoop.

Sult 

Kommersieel word Van varkkop en varkpote of beespote ook sult berei. Hierby word die vleis met met lourier, naeltjies, sout en peper gekook, dan word dit gemaal (sonder die lourierblare) en by die dik, lymerige sous teruggesit. Dan stol dit in 'n bakkie in die yskas. Soms is die sult te dik; in dié geval word die sult weer opgewarm en word daar water bygevoeg.

 

KERRIESULT (Peter Veldsman)

(12 porsies)

 2,5 kg beesskenkels, gewas

1 beespoot, gewas

2 varkpote, gewas

4 lourierblare

20 peperkorrels

3 vet knoffelhuisies, gekneus en geskil

3 groot uie, oorlangs (in die lengte) gehalveer, geskil en gekap

30 ml olie

50 ml matige kerriepoeier

375 ml asyn

gemaalde peper na smaak

10 ml fyn koljander

20 ml sout

10 ml borrie

30 ml sagte bruinsuiker

30 ml appelkooskonfyt

1.  Plaas die skenkels en pote in 'n groot kastrol, bedek met koue waster en verhit tot kookpunt. Blansjeer die vleis en pote vir drie minute, verwyder en druk droog. Gooi die blansjeer-water weg.

2.  Skep die vleis en pote in 'n groot kastrol en bedek met koue water. Voeg lourierblare, peperkorrels en knoffel by. Verhit tot kookpunt, verlaag hitte, bedek en prut 3-4 uur of totdat alles sag is. Laat afkoel, skep vleis en pote uit en laat koud word. Behou die vloeistof.

3.  Braai uie in olie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Strooi kerriepoeier bo-oor en roerbraai vir 2-3 minute. Voeg asyn bietjie vir bietjie by sodra dit lyk of die kerriepoeier wil aanbrand. Roer elke keer goed deur. Voeg die res van die bestanddele by, verhit tot kookpunt, verlaag hitte en prut 5 minute lank.

4.  Verwyder bene, sny die vleis kleiner of kap of maal dit fyn, na gelang van hoe grof of fyn jy van jou sult hou. Skep die vleis by die kerriemengsel en voeg van die behoue vloeistof (waarin die vleis gekook is) by sodat die vleis net-net met vloeistof bedek is. Prut een uur lank en roer af en toe deur. Indien nodig, kan nog van die behoue vloeistof bygevoeg word.

5.  Giet die mengsel in 'n ge-oliede vorm, bedek met kleefplastiek en bêre in die yskas om te stol.

6.  Keer die sult uit en sny dit in skywe. Sit voor met 'n tamatie-en-komkommer-sambal, slaphakskeentjies en lekker vars brood.

 

'n Wen-reseppie vir SULT:

('n Wyle terug vir my ingestuur deur 'n anonieme leser)

Sowat 1,5 kg skenkelvleis en 4-5 skaaptongetjies, in 'n pot geplaas met 'n koppie droë witwyn en net genoeg water om die vleis te bedek. Hierby kom 'n ui, twee wortels en twee selderystingels wat grof opgesny is, takkies roosmaryn, tiemie en pietersielie, 'n paar heel swartpeperkorrels, naeltjies en sout na smaak.

Onthou net dat heelwat sout gebruik kan word, want die sult word koud geëet, en dit demp dan die geur van die sout.

Prut nou die pot so twee uur, totdat die vleis maklik van die bene afval. Haal die vleis uit en laat afkoel.Verwyder alle bene. Laat die vloeistof in die pot nog 15 minute lank vinnig kook.

Dit is jou eie keuse of jy die velletjies van die tongetjies wil afhaal. Vir my pla hulle nie, want hulle kook nogal baie sag. Maar dalk verkies diegene met 'n fyner palet om die moeite te doen.(Ek, Retha, trek dit af, die velletjie maak die bron moeilik snybaar in sy koue vorm, en dit hoort eintlik af! )

Sny die tongetjies in skywe, plaas die vleis in 'n bak waarin jou sult gaan set, óf 'n broodpannetjie, óf 'n poedingbak.

Giet eers die vloeistof waarin die vleise gekook het deur 'n vergiettes en dan nog 'n keer deur 'n baie fyn sif.

Jy wil ontslae raak van enige stukkies wat ronddryf en as dit goed gesif is, gaan jy 'n helderbruin sous hê, eintlik nes consommé. Daar behoort omtrent 'n koppie en 'n half hiervan te wees.

Omdat die bene wat ek hier gebruik het, nie veel gelatien afskei nie, moet 'n bietjie kits-gelatien bykom. Hiervan neem ek drie teelepels en meng dit in 'n bakkie met 'n halwe koppie water. Dit staan so 10 minute om sag te word - dit stol eintlik heeltemal - en dan voeg ek dit by my steeds warm vleissous. Roer goed deur, proe of jy dalk nog sout nodig het en giet die sous oor die vleismengsel.

Plaas dit in die yskas en binne ses tot agt uur behoort dit goed gestol te wees. Oornag is die beste.

Om die sult uit die bak te kry, gly ek 'n mes om die rand van die sult en ek plaas die bak 'n paar minute in warm water.

Hou dan 'n bord oor die bak, draai dit om, en die sult behoort sagkens uit te val. As dit nie wil nie, sit dit net weer in warm water.

 

Nog 'n variasie is :

STERT en TONG SULT

Hiervoor gebruik jy 'n kilogram en 'n half osstert, 'n gepekelde beestong, een varkpoot en drie beesmurgbene.

Plaas in 'n groot pot met genoeg water om dit te bedek en met dieselfde groente en geurmiddels as hierbo.

Laat nou drie uur prut.

Haal die tong en beesstert uit, gooi die varkpoot, murgbene en groente uit en giet die sous soos in die vorige resep.

Plaas die sous weer oor die hitte en voeg 'n halfbottel rooiwyn daarby. Laat dit vinnig kook totdat die sous met die helfte afgekook is.

Haal intussen die vleis van die stert af, trek die vel van die tong af en sny die tong in blokkies.

Giet dan die sous oor die vleis totdat die vleis net-net bedek is.

Weer yskas toe en laat dit stol.

 

KERRIESULT:

3kg beesskenkels (ék gebruik ook graag 'n mengsel van vark-pootjies ("Trotters") "Eisbeins" en skaap-skenkels! )

15ml swartpeper en sout

3 middelslag uie

30ml sonneblomolie

30ml kerriepoeier

15ml borrie

375ml bruinasyn

30ml appelkooskonfyt of perskeblatjang

2ml gemaalde koljander

Bedek die vleis met koue water, geur met sout en peper en prut tot baie sag. Skil die uie en sny dit in skywe. Verhit die olie en soteer die uie, kerriepoeier en borrie daarin. Voeg die res van die bestanddele by die kerriemengsel, verhit stadig tot kookpunt en laat afkoel. Ontbeen die vleis en sny dit in klein stukkies op. Voeg die kerriemengsel by die vleis en prut dit 'n uur lank. Giet dit in 'n nat bak en laat afkoel. Bedek die bak met kleefplastiek en plaas die sult in die yskas om te stol. Dit kan tot 2 weke in die yskas gebêre word.

LET WEL:

Sult moet nie te styf wees nie. As dit die geval is, smelt dit in 'n groot kastrol oor matige hitte en vog nog kookwater by. Proe daaraan of dit ekstra smaakmiddels nodig het voordat dit weer gestol word. 

 

En Jacques van PE het die volgende hieroor in 'n ou WEG gesê:

Daar is n groot verskil om bron en afval gaar te maak. Bron/sult kook mens vark pote en beesvleis saam met al die fieterjasies (spices) as dit gaar is maal jy dit soos verkies word (grof of fyn). Daarna meng jy alles goed en sit omtrend dieselfde hoeveelheid koue water by. Sit dit dan in n plat bak in die yskas - oornag. Die volgende oggend krap jy net die vet-lagie wat gevorm het af.

 

Afval - dis hoe!

2kg afval, 1 kg beespens.

Sny al die vleis en velle van die skaapkop af (as die kop nie in die oond gebak gaan word nie), sny alles including die pens, behalwe die blaar pens waarin die brein moet kom in bitesize chunks.

Braai 2 uie to bruin, haal uit gooi so 10 naaltjies, en 6 lourierblare, 10 heel swart peper korrels in die pot, sodara mens die spices begin ruik, gooi 3 eetlepels lekker sterk kerrie by en so 2 koppies kook water - staan terug want die kerrie dampe en stoom gaan jou treef. Gooi die skaap afval en beespens in dit pot. Gooi so 3 etlepels borrie in, n halwe koppie bruin asyn, sout, woestersous, en 2 lepel braaivleis speserye.

Laat dit stoom vir so 45 minute kook in die stoompot. as dit daarna nog taai is stoom vir nog 20 min, Gooi dan 6 artappels saam met die gebraaide uie in en laat stoom vir nog 20 minute. Meng 4 eetlepels Mezina met 500ml room en gooi dit by. Roer terwyl dit kook en die sous lekker dik is.

Tadaaaaaaa!

  

En ag, terwyl ek besig is, hier is sommer nog iets waarvan jul dalk sal hou!

(Ook uit 'n ou Landbou Weekblad. Het jul ook boeke en boeke vol uitgeskeurde wenresepte, uit al wat tydskrif is en oor die jare bymekaargemaak? Dan word party met sterretjies of regmerke of  "Dis 'n wenner" of met 'n glimlag in al die kleure van die reënboog gemerk, met penne of kryte (toe die kinders nog klein was!!) wat op daardie tydstip in die kombuis rondgelê het!)

 

'n SKON-bêremengsel

1 kg bruismeel

12 ml bakpoeier

3 ml sout

175 ml botter

Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte in tot krummelrig. Skep in 'n droë, gesteriliseerde fles of houer en verseël lugdig. Etiketteer en bêre in die yskas.

Gebruiksaanwysings

Vir elke 3 koppies (750 ml) skon-bêremengsel:

Klits 1 eier en 150 ml karringmelk saam. Voeg by die droë bestanddele en sny in tot klam krummels vorm wat aan mekaar vassit. Druk bymekaar op 'n meelbestrooide oppervlak en druk skons uit. Bak vir 15-20 minute teen 220 °C tot goudbruin en gaar. Lewer ongeveer nege skons.

Vir elke 6 koppies (6 x 250 ml) skon-bêremengsel:

Klits 2 eiers en 300 ml karringmelk saam. Voeg by die droë bestanddele en sny in tot klam krummels vorm wat aan mekaar vassit. Druk bymekaar op 'n meelbestrooide oppervlak en druk skons uit. Bak vir 15-20 minute by 220 °C tot goudbruin en gaar. Lewer ongeveer 18 skons.

 

EN :

 

Neutelekkers en heuningkoek

Die groot geheim by albei hierdie resepte is om te sorg dat die suiker heeltemal opgelos is vóór die mengsel begin kook en dat daar geen suikerkristalle teen die kastrol se rante of teen die lepel vassit nie. Kook die mengsels tot goudkleurig, amper 'n diep karamelkleur, voordat die koeksoda bygevoeg word.

 

NEUTELEKKERS

375 ml suiker

125 ml vloeibare glukose

Knippie sout

60 ml water

625 ml lig geroosterde, gemengde neute, grof gekap

5 ml vanieljegeursel

5 ml koeksoda

Spuit twee vlak foeliebakkies van 20 cm x 20 cm goed met kleefwerende kos-sproei of smeer met botter. Hou eenkant. Verhit die suiker, glukose, sout en water baie stadig oor lae hitte terwyl aanhoudend geroer word tot ál die suiker opgelos is. Was enige suikerkristalle van die kante van die kastrol met 'n nat kwassie af. Verhit die helder stroop tot kookpunt en kook, sonder om te roer, tot die sagtebalstadium (238 °C op 'n suiker termometer). Jy kan die kastrol liggies kantel om te verseker dat die stroop eweredig kook en verkleur. Sodra sagtebalstadium bereik word, roer die neute by en kook verder tot die mengsel 'n diep goue kleur het. Verwyder van die hitte en roer versigtig (dit sal baie bruis) die vanieljegeursel en koeksoda by. Klop die mengsel deur en giet dadelik in die foeliebakkies. Laat heeltemal afkoel en breek in kleiner stukkies. Verpak lugdig (in 'n glasfles of 'n bakkie wat dig seël) en bind 'n mooi strik met 'n etiket om. Genoeg vir vier mense.

 

HEUNINGKOEK

375 ml witsuiker

90 ml heuning

30 ml botter of margarien

5 ml koeksoda

Verhit die suiker en heuning stadig oor lae hitte terwyl aanhoudend geroer word tot ál die suiker opgelos is. Was enige suikerkristalle aan die kante van die kastrol met 'n nat kwassie af. Voeg die botter of margarien by, verhit tot kookpunt en laat prut, sonder om te roer, tot die mengsel 'n diep goue kleur het. Verwyder van die hitte en roer die koeksoda by. Die mengsel sal borrel en bruis. Gooi dit dadelik op 'n gesmeerde bakplaat uit en laat staan tot heeltemal koud en hard. Breek in stukke en verpak, of doop die stukke in gesmelte, donker sjokolade en laat hard word voor dit verpak word. Genoeg vir twee mense.

 

En aangesien dit nou SOMER by party van julle is, hier is 'n heerlike

 

SUURLEMOENSTROOP / SUURLEMOEN LEMONADE resep!

500 ml vars uitgedrukte suurlemoensap

Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

750 ml witsuiker

Verhit ál die bestanddele baie stadig saam oor lae hitte terwyl aanhoudend geroer word tot ál die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en prut vir  so 2-3 minute.

Verwyder van die hitte, giet in gesteriliseerde bottels en verseël goed.

Bêre die stroop in die yskas en verdun met koue water of sodawater soos nodig.

Lewer ongeveer 500 ml stroop.

WENK: Plak etikette op en gee dit as geskenk saam met 'n mooi stel koeldrankglase.

 

Hoop jul het b.s. geniet!

 

Wil jy soms net verdwyn? Wel jy het nie towerkrag daarvoor nodig nie, al wat jy nodig het is 'n Bestemming!

Beste groete, R.

  

 

Sondag. 13 Junie. Die Sondag vóór VADERSDAG.

Dis 'n Son-stil windlose dag, met rimpellose Gariepwaters wat rustig en diep voor ons nuwe breë omtraliede-stoep verbyvloei. So nou en dan dryf 'n afgebreekte droë rivier-riet verby.

Geduldig en gedweë volg dit die rivier se stroom, hak hier en daar vas, hang so bietjie skuins en nes jy dink dit het vasgesteek kom dit moeiteloos vry en dryf verder. Verby die nou reeds goudgeel Wilger met sy klein skalie-strandjie op die oorkantste oewer, kom dan lui-lui skuins na ons oewer oorgedryf, verby die Dextertjies wat staan en waterdrink, verby die pompstasie vanwaar buur-boere waterpomp, om nuwe lande voor te berei na die huidige mielieoes gestroop is. Verby my Skolliehond ('n Skaap-kollie, Kelpie, met die naam SKOLLIE) wat blaffend 'n entjie saam met die drywende riet wil draf. Verby die droë boomstamme op die oewer waarlangs ons huisie staan. Verby en half onderdeur die oorhangtakke van die reuse Blink-blaar Wag-'n-bietjie, waarin drie katte uitbundig en rats baljaar sonder om in die water te beland!

Ons sit en teug welbehaaglik aan 'n koppie tee en sit gemeensaam en kyk na die rivier se vloei op hierdie wonderskone Goddelike dag. En my siel is in my, stil.

Binne in die blink vlek-vrye staal, gas-spitbraaiertjie, draai 'n BLESBOKBOUD.

Aan die agterkant pik 'n bruin, wit en swartvaal Spekvretertjie kort-kort fladderend na sy eie weerkaatsing, onafgesit deur die hitte, draaigeluid of reuk van gaarwordende vleis.

'n BLESBOKBOUD, ALA seun SW, gestop met knoffel, stukkies gerookte spek-en-kaasworsies en takkies roosmaryn. Goed gegeur en dik gesmeer met appelkooskonfyt.  

In die oond is 'n oondbak vol skywe patats, met 'n ruim porsie stroop oorgegooi, daarna gestip met klontjies botter, en dan kom nog 1 kp room bo-oor. (As jy nie room wil gebruik nie, meng 1 kp ongegeurde jogurt met 3 tl kondensmelk.) Dit word alles liggies met kaneelsuiker bestrooi en bak nou stadig @ 180 grade C vir sowat 1 en 'n half uur, tot die patats gaar is en die sous mooi bruin soet en taai gekarameliseer het! As die vleis nog nie gereed is nie, en jy jou lus kan beteuel om langer vir die patats te wag, gooi so half koppie hanepoot of appel Liquifruit oor patats en bedek met foelie om te keer dat dit in die oond uitdroog... Ek gaps gewoonlik 'n bakkie vol as voorgereg...

Saam met die vleis en patats kook ek die laaste vars Spinasie uit die tuin voor die wintersryp dit gaan afmaai. Sit hierby 'n tamatie-sambal as slaai,  en wat meer kan jy voor vra! Poeding?

Eet nóg 'n skeppie patats saam met 'n klein lepeltjie roomys wat so oor die warm patats insmelt... (Oe! Het ek verklap ek's mal oor patas? !!) 

 

 En op hierdie soete noot, groet ek en wens jul toe 'n rustige welbehaaglike dag!!

 

 

  

 

Maandag. 7 Junie. BLOU beslis nie! SJOKOLADE-BRUIN, Dis wat!!

 

Liewe Lesers!

So ‘n wyle terug het ‘n leseres, Hannie, geskryf: Ek soek die resep wat 24 april 1992 geplaas is vir ouma anna se Sjokoladekoek !

 

Wel, ek hét gesoek en ons Webmeester het, na ek gevra het hy moet in onse groter ARGIEF gaan loer, geantwoord:

Ek sou vreeslik trots gewees het as ons al 18 jaar op die lug was. Kammanuus en Onsdorp, bestaan egter slegs van vroeg die huidige eeu.

Ek sal gaan soek maar sy sal met n meer akkurate jaar moet kom. Groete, Hendrik Greeff

 

So, toe dag ek, Hannie, ek sal vir jou én ons ander lesers gaan soek na die béste en mees gewildste 

SJOKOLADE KOEK RESEPTE !!

 

Party van hierdie resepte is deur my uitgetoets ander nie, (ek het bygeskryf!)Party is baie soortgelyk met net hier en daar 'n verskil, maar ek plaas dit nogtans.

Ek het die resepte uit boeke, tydskrifte, van tantes, susters, niggies, vriendinne en oorge-erf-tes gekry, party tot op Facebook raakgelees!

Party het op meer as een plek voor gekom dus neem ek aan dis plagiaatvry en baie gewild, en reeds male sonder tal geserkuleer, juis om daardie rede

gee ek dit hier ook weer vir die wat dit nog nie het nie! 

Omdat soveel al, soveel male, van hand tot mond en andersom aan mekaar oorgedra is, weet ek regtig nie, WIE meer die oorspronklike skrywers daarvan was nie,

so indien dit jou ma of tannie of vriendin se resep is, laat weet gerus en ons kan dit gerus ook byvoeg!

 

En jul kan natuurlik ook vir my JUL gunsteling resepte aanstuur, wie weet, as die reaksie goed is, skep ons dalk 'n eksklusiewe

SO MAAK MENS-SJOKOLADEKOEK RESEPTEBOEK!!

Sorg net dat jou naam, en kort beskrywing vanwaar jy die resep het, en waarom dit spesiaal is, by is!

 

En ja, natuurlik kan ek nie naastenby al die resepte vir sjokoladekoek hier weergee nie, vergewe my dus as die een wat jy nog soek nie hierby is nie!

Vra gerus en ek soek dit vir jou! Die MILOENERS-RESEP laat ek aspris weg, want dis wraggies net té dekadent om gereeld te wil bak!!

Party dinge moet mens mee suinig te werke gaan...!

Maar as jul mooi vra...ek bewaar my TANT COBA se MILJOENERS SJOKOLADE KOEK vir spesiale dae..!

 

So Hannie, belees elk van die volgende en seg my: Was dit dalk een van hierdie resepte, waarna jy gesoek het?

 

 

Hierdie een was al op die werfie, een van Esme en Jan se oorspronklike resepte !!

 

 

3 MINUTE SJOKOLADE KOEK

3etl Kakao

2 eiers

1/3k sagte botter

3 t Bakpoeier

1 3/4k Meel

11/3k Suiker

1/2t Kaneel

1/2k Melk

1 t Vanilla of 2t Kitskoffie

Meng droë bestanddele saam.

Vryf botter in en voeg melk by. Meng alles goed deur.

Bak vir 40min in gesmeerde koekpan.

 

My seun SW, se selfbak-gunsteling resep: RASSIE SE MIKRO SJOKOLADEKOEK RESEP !

Rassie, sy nefie en die se niggie, Retha, is saam op 'n Nuwejaarsdag, oppad na ons toe in 'n motorongeluk oorlede.

Rassie het altyd die koek Sondag aande gebak, om Maandae saam te neem koshuis toe.

Na sy dood het my seun SW dit graag vir homself vir die koshuis begin bak! Dus, om verskeie redes, 'n familie gunsteling!)

MENG :

1 kp meel

2 en 'n 1/2 tl bakpoeier

1 kp suiker

knippie sout.

KLITS vir 30 sekondes:

1 kp kookwater

3 Etl Kakao

1 tl vanilla

2 groot eiers

Meng nou alles. Klits weer .Gooi in 'n ringpan wat met handdoek-papier uitgevoer is.

Bak 6 min op HOOG. Haal uit, laat staan rukkie, keer uit, trek papier af, versier mildelik met karamel kondensmelk!

 

KARRINGMELK SJOKOLADEKOEK

2 kp. meelblom.
1/2 kp. botter.
1/2 kp. warm water.
2 eiers.
1 tl. kremetart.
1 tl. koeksoda.
1 1/2 kp. suiker.
1/4 kp. kakao.
1/2 - 1 kp. karringmelk.
2 tl. vanielje.
sout.

Sif droë bestanddele. Klop smeer en suiker tot room. Voeg goed geklitste eiers by en dan kakao gemeng met warm water.

Voeg droë bestanddele om die beurt met melk by. Voeg vanielje by. Bak vir 20 - 30 minute ( of  bietjie langer ) teen 180 Grade C.
Vir 'n groot koek verdubbel bestanddele.(Peterjasie Resepte)

 

Wenke:
Karringmelk- As jy nie karringmelk in die huis het nie, kan jy die volgende probeer om dit te vervang:

Gooi 15 ml wit asyn of suurlemoensap in 'n maatbeker en vul die melk aan tot 250 ml.Laat staan vir 5 minute en gebruik soos die karringmelk in die resep.

OF verhit 25o ml melk effens in die mikrogolf. Voeg 22,5 ml (1.5 eetlepel) suurlemoensap of 20 ml wit asyn by die melk en meng goed.

Laat dit staan tot die mengsel afgekoel het.
OF gebruik 250 ml suurroom of gewone joghurt vir elke 250 ml karringmelk in die resep.
OF meng 25 ml kremetart met 250 ml melk en laat staan tot dit verdik het.
OF gebruik 125 ml melk en 125 ml gewone joghurt vir elk 250 ml karringmelk in die resep.
OF meng 250 ml ingedampte melk met 15 ml asyn. 

 

LALLIE SE 5 min MIKROGOLF SJOKOLADE KOEK.

(Dit was ook in EGAFRIKAANS se geselsbriefBegin jou dag 'n slag met 'n lag, geplaas, dalk het Lallie dit daar gekry of dit vir hulle gestuur! )

Hierdie is 'n lekker maklike en vinnige koek! .

1 k Bruismeel (of 1 K koekmeel - verander net bakpoeier na 2t)
1 t Bakpoeier
knippie sout
4 e kakao (jy kan ook 2 Etl koffie [opgelos in baie min water] en 1 t vanielje byvoeg)
Klits die volgende:
1 k suiker
2 eiers
½ k olie
½ k warm water
  
Voeg alles bymekaar en klits
 
Bak 5 minute by 100% krag.
 
Laat staan 10 minute in pan voor jy dit uit gooi.
 
Voer pan met waspapier uit om te voorkom dat dit vassit.
 
Versiersuiker:

Maak jou gewone sjokolade botter versiersuiker - net baie slap en loperig. Voeg kersies en neute by die versiersel.

 

ANITA de VILLIERS se SJOKOLADEKOEK
500 ml wit suiker
500 ml bruismeel
2 ml sout
250 g botter of margarien
250 ml water
75 ml kakao, gesif
2 eiers
125 ml karringmelk
5 ml koeksoda
5 ml vanillageursel
2 ml kaneel

Sif die suiker, bruismeel en sout saam in 'n mengbak. Sit die botter, water en kakao saam in 'n kastrolletjie en verhit tot

al die botter gesmelt het. Voeg dit by die meelmengsel en roer goed deur. Klits die eiers liggies met 'n vurk en voeg by.

Voeg die karringmelk, koeksoda, vanilla en kaneel by. Roer tot alles goed gemeng is en gooi die beslag in 'n gesmeerde reghoekige glasbak (33x23x5cm).

Bak in die voorverhitte oond by 180 grade vir 30-40 minute of tot die koek gaar is.

Berei intussen die versiersel:

250 g versiersuiker
125 ml kakao
65 g botter of margarien, gesmelt
75 ml karringmelk
Sif die versiersuiker in kakao saam in 'n mengbak. Smelt die botter en voeg by. Voeg laastens die karringmelk by en meng goed.
Smeer die versiersel ook die warm koek sodra dit uit die oond kom. Laat in die bak afkoel en sny in blokkies.

(Die versiersel is geneig om langs die kante van die koek te poel, so soos dit afkoel kan jy maar weer

van die versiersel oor die koek smeer.)


SUZANNE se SJOKOLADEKOEK
Dit word sommer in 'n reghoekige glasbak gebak.
3 eiers
125 ml olie
250 ml kookwater
250 ml suiker
440 ml koekmeelblom
15 ml bakpoeier
knippie sout
60 ml kakao
5 ml vanillageursel

Voorverhit die oond tot 180 grade. Spuit 'n reghoekige glasbak met kleefwerende middel.
Skei die eiers en klits die eiergele goed. Voeg die olie en water by en klits goed. Voeg nou die suiker by en klits weer goed.

Sif die droë bestanddele saam, voeg dit by die eiermengsel en meng goed. Klits die eierwitte styf en vou dit by die mengsel in.

Voeg laastens die vanilla by. Gooi die beslag in die glasbak en bak dit vir 35 minute of tot gaar.
Die koek kan versier word met sjokoladeversiersel, gekookte kondensmelk of enige ander versiersel van jou keuse.


NESTLé se SJOKOLADEKOEK
Hierdie reseppie is op 'n Nestlé kakao-blikkie gekry.

Dis 'n klein resep - ideaal vir 'n ringpan, 1 enkel ronde- of vierkantige koekpan.
250 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
knippie sout
60 ml kakao
125 ml warm water
3 eiers, geskei
60 ml olie
220 ml suiker
3 ml vanillageursel

Sif die meel, bakpoeier en sout saam in 'n mengbak. Meng die kakao en warm water in 'n beker en laat afkoel.

Meng die eiergele, olie, suiker en vanilla. Meng die kakao hierby in. Vou hierdie mengsel by die droë bestanddele in die mengbak en

meng goed. Klits die eierwitte tot styf, en vou dit liggies by die beslag in.
Skep die beslag uit in die koekpan van jou keuse en bak teen 180 grade vir 20-25 minute of tot die koek gaar is.

Versier die koek na jou keuse.

Die koek kan ook in die mikrogolf gebak word: Gooi die beslag in 'n 21 cm plastiek ringvorm. Plaas op 'n omgekeerde piering.

Mikrogolf dit op medium-hoog (80%) vir 10-12 minute.

 

PETRO vd WESTHUIZEN se SJOKOLADEKOEK.

125 g botter
1 koppie strooisuiker
1 koppie water
1½ koppie bruismeel
35 g kakao
½ teelepel koeksoda
2 eier geklits
Voer 'n mikrogolf koekbak - ringpan met bakpapier uit. Meng in ander bak botter, suiker en water. Kook onbedek vir 4 minute.

Roer eenkeer om. Laat koud word by kamer temperatuur. Sif droë bestanddele saam. Meng met verkoelde mengsel en voeg eiers by.

Die mengsel moet glad wees. Gooi in koekpan en kook onbedek vir 10 minute. Bedek en laat staan vir 10 minute in mikro.

 

OONDPAN  SJOKOLADEKOEK (1)

250 ml (1 koppie) warm water

125 ml (halwe koppie) kakao

1 koppie olie

2 koppies suiker

6 eiers

1 teelepel vanilla

2 koppies bruismeel

4 teelepels bakpoeier

knippie sout

 

Smeer 'n oondpan goed.

Meng kakao en warm water, laat afkoel.

Sif die bruismeel, sout en bakpoeier.

Klits suiker, vanilla en eiers vir 10 minute (ja 10 min) dit baie belangrik !!

Voeg olie en kakaomengsel by die suikermengsel en klits net deur.

Vou dan die meelmengsel by.

Bak vir 40-45 minute by 180 grade.

 

Sous :

1 en half koppie suiker

1 en half koppie water

3 eetlepels kitskoffie

1 teelepel vanilla

 

Kook als saam.

Terwyl die koek in die oond is moet die sous vir ten minste 5 minute

kook. Ek maak die sous 1 en half keer aan. Dit maak die koek net lekker

nat. Sodra die koek uit die oond kom moet die kokende sous stadig oor

die warm koek gegiet word. Dit trek sommer dadelik in. Om die rante van die koek

werk baie stadig sodat dit teen die rante ook kan inloop.

OF jy kan

die koek eers laat afkoel, keer die koek dan om op 'n skinkbord en giet

die warm sous dan oor.

Klits 250 ml room (Orley-whip werk beter want dit klits stywer) en 1 (of 'n half blikkie) karamel kondensmelk saam.

Hang af of jy dit soet wil hê of nie. Smeer dit oor die koek en versier met sjokolade splinters, krulle of sommer 'n gebreekte “Flake.”

 

MARITHA de BEER se SJOKOLADEPANKOEK (2) ‘n wenner van my eie keuse!!

(Huisgenoot Wenresepte 3)

Hierdie koek is heerlik - GENIET DIT! My kinders noem dit sommer DAM-KOEK, want as ons piekniek

gaan hou het by die dam, het ek dit gebak en net so in die oondpan saamgeneem, dit blokkies gesny en elke blokkie het 'n rooi kersie in gekry!

Was hulle mal oor my!

500 ml witsuiker

500 ml bruismeel

2 ml sout

250 g botter/margarien

250 ml water

75 ml kakao - gesif

2 eiers - effens geklits

125 ml karringmelk

5 ml koeksoda

5 ml vanieljegeursel

2 ml kaneel

 

BOLAAG:

1/2 pak versiersuiker - gesif

125 ml kakao - gesif

80 ml margarien - gesmelt

75 ml karringmelk (of melk met suurlemoensap)

 

Oond 180 ºC

Smeer oondvaste bak.

Sif suiker, meel en sout saam.

Verhit smeer, water en kakao saam tot kookpunt. (Ek doen dit sommer in mikrogolf)

Giet warm mengsel oor gesifte bestanddele en meng.

Voeg eiers, karringmelk, koeksoda, geursel en kaneel by en klits tot glad.

Giet beslag in bak en bak koek in oond 30 - 40 min - tot gaar.

Meng bolaag 'n rukkie voor koek uit oond gehaal word.

Meng versiersuiker, kakao, smeer en karringmelk. Skep liggies oor warm koek en smeer ewerig met agterkant van lepel of mes.

Laat afkoel en sny in blokke.

“Pyrex”-bak ipv. oondpan kan ook gebruik word en dit is nie nodig om koek uit te keer nie.

Bedien dit net so uit die bak uit.

Ek maak die resep DUBBEL aan as ek my groot oondpan gebruik.

 

AMARULA SJOKOLADEKOEK

60 ml Kakao

125 ml kookwater

3 eiers

220 ml suiker

60 ml olie

250 ml koekmeel

10 ml bakpoeier

2 ml sout

STROOP

200 ml suiker

250 ml water

60 ml Amarula-likeur (of sterk swart koffie!)

1 blik karamelkondensmelk

styf geklopte room vir versiering

Flake-sjokolade

Stel oond op 180 grade Celsius.

BESLAG:

1. Meng kakao met kookwater en laat dit afkoel.

2. Klits eiers, suiker en olie saam, voeg koue kakao-mengsel by en meng deeglik.

3. Sif res van droë bestanddele by en meng goed.

4. Skep in 22 cm x 30 cm-pan en bak ongeveer 20 min. of tot toetspen skoon uitkom.

STROOP:

1. Kook suiker en water saam vir 5 minute en verwyder van stoof en voeg Amarula by. Roer goed. .

2. Prik koek met ‘n vurk sodra dit uit die oond kom en gooi warm stroop oor.

VERSIER SO:

1. Laat goed koud word, verwyder uit pan, smeer karamelkondensmelk en styf geklopte room oor.

2. Versier met Flake indien verkies (nie Pepperment Crisp nie, want dit belemmer die smaak). Dis ‘n heerlike klam koek wat lekker klam bly.

WENK: Meer Amarula kan gebruik word indien verkies.(Peterjassie resepte)

 

'n HUISGENOOT SJOKOLADEKOEK, van jare terug – VLOOI, van Bak en brou, se persoonlike wenner!)

50 g (125ml) Kakao – gebruik soms minder, anders is die koek te donker.
100 ml Kookwater
115 g (125ml) Botter of margarien
150 ml Kookmelk
10 ml Vanielje geursel
4 Eiers geskei
260 g (300ml) Strooisuiker (of gewone suiker, dit rys net nie dan so hoog nie)
200 g (375ml ongesif afgemeet) Koekmeelblom
15 ml Bakpoeier
Knypie sout
15 ml Gliserien

Verhit die oond tot 190° (375F). Smeer die laag panne van 23cm in deursnee. Meng die kakao en kookwater (pasop dat dit nie brand nie).

Smelt botter in die kookmelk. Voeg kakao en vanielje by. Klits die eierwitte in ‘n groot mengbak, tot styf. Klits strooisuiker bietjies by.

Klits tot die mengsel romerig is. Sif meelblom en bakpoeier en sout saam, oor die eiermengsel. Vou dit liggies in.

Voeg kakao en gliserien by en vou dit ook liggies in, tot dit goed gemeng is. Gooi deeg in panne, stamp die lugblasies uit.

Bak vir 20-25 min, of tot die koek aan die rand van die panne lostrek.

 

 

Naamgenoot Retha, se TANNIE SUZETTE se SJOKOLADEKOEK (Weg)

4 eiers, 1½k suiker, ½ t vanielje geursel 

Klits die bestanddele baie goed saam
Verhit 1k melk en ½k olie tot lou, en voeg by eier mengsel.

Meng 2k meel, 60ml kakao, 15ml koffie poeier, 5ml sout, 20ml bakpoeier goed saam en voeg ook by eier en melk mengsel.

Bak die koek vir 35min by 180°C in 'n groterige tert bak. 
SOUS: 1k suiker en 1½k kookwater
Kook die suiker en water totdat die stroop dik word.
Gooi warm stroop oor warm koek.
VERSIERSEL: 400g heelneut-sjokolade en 200ml melk
Smelt sjokolade saam met die melk en gooi oor afgekoelde koek

ANTOINETTE PERKINS 
se MIKROGOLF- SJOKOLADEKOEK

1 k Koekmeelblom

1 k Suiker of Strooisuiker
1 e Bakpoeier

½ t Sout
3 e Kakao

1 k Lou Water
1 e Olie
2 Eiers

1 t Vanieljegeursel
VERSIERSEL:
125 g Margarien

9 e Versiersuiker
2 e Kakao

1 Eier of bietjie water

Sif die droë bestanddele saam. Klits die water, olie en eiers saam. Voeg die vloeistof by die droë bestanddele en klits tot gemeng.

Voeg vanieljegeursel by en klits tot gemeng. Giet beslag in mikrogolf bestande houer. Bak vir 6 minute teen 100% krag.
Toets met toetspen of die koek gaar is. Laat die koek nou 2 minute staan voor jy die koek uitkeer. Laat die koek nou afkoel.

Klits al die bestanddele  van die versiersel saam. Versier die koek. Gooi klapper of sjokolade flenters oor die koek.

 

DALENE se IDEAL MELK  SJOKOLADEKOEK

KOEK:

375 ml Meel
250 ml Melk
250 ml Suiker
2 ml Sout
10 ml Bakpoeier
125 ml Olie
60 ml Kakao
125 ml Kookwater
4 Eiergele
4 Eierwitte
Klits eierwitte tot styf.
Meng droë bestanddele.
Maak gaatjie in droë bestanddele.
Voeg eerste olie, dan kakao gemeng met water, melk en eiergele by.
Klits goed.
Voeg bakpoeier by eierwitte en klits weer.
Vou eierwitte in by mengsel.
Bak teen 180º C vir 30 tot 40 minute in reghoekige oondbak (die koek bly in die bak, so moenie in gewone koekpanne bak nie).

SOUS:
¾ Blik Ideal Melk
125 ml Suiker
Kook Ideal melk en suiker saam.
Maak gaatjies in koek met dun voorwerp.
Gooi stroop oor koek.
Laat koek heeltemal afkoel.

VERSIERING:
2 Plakke Heelneut sjokolade
¼ Blikkie Ideal Melk
Smelt sjokolade saam met ¼ Blikkie Ideal melk en gooi oor koek.

INA PAARMAN se SJOKOLADE-EN LEMOENKOEK MET ROOM

Gebruik die heerlike nuwe sjokoladekoekmengsel -in-'n-pakkie of u eie gunsteling- resep.

Vervang egter die vloeistof wat u in die koekbeslag gebruik deur vars lemoensap en voeg 1 E (15 ml) gerasperde lemoenskil by.

Indien jy die koekmengsel gebruik, bak die koek in die gewone oond in 2 x 20- cm-koekpanne.

Vulsel en Bolaag: 1/2 K (125 ml) vars lemoensap 1 E (15 ml) suurlemoensap 1/2 E (7,5 ml) gerasperde lemoenskil

1/4 K (62,5 ml) suiker 1 E (15 ml) mielieblom knippie sout 2 E (30 ml) Van der Hum-likeur (opsioneel)

1 K (250 ml) room 2 lemoene, geskil en huisies versigtig uitgesny.

Verhit lemoen- en suurlemoensap en voeg skil by. Meng suiker, mielieblom en sout.

Voeg by die sappe en kook tot dik. Voeg likeur by en laat heeltemal afkoel in yskas.

Klop die room tot styf met 1 E (15 ml) ekstra suiker.

Gebruik 1/3 van die room tussen die koeke, smeer die volgende 1/3 bo-oor en spuit roomrosies rondom met die laaste 1/3.

Meng die lemoenskyfies met die afgekoelde lemoenbolaag en rangskik mooi bo-op die koek. Gooi die res van die mengsel bo-oor. 

 

BETH ALLEN se SJOKOLADE-“BROWNIES”  (WEG)
1 koppie botter of margarien
1 koppie witsuiker
1 koppie klam bruinsuiker 
6 opgehoopte 
eetlepels kakao
1 teelepel sout
1 teelepel vanieljegeursel
4 eiers
1 koppie koekmeel
versiersuiker om 
bo-oor te sif

Só maak jy!
Smelt die botter in ’n pot op die stoof en haal dit van die plaat af. 
Gooi al die ander bestanddele by en meng dit tot glad.
 
Skep die beslag in ’n vierkantige koekpan wat goed gesmeer en met meel bestrooi is.
 
Bak die brownies vir 15-20 minute teen 180
°C.
Haal die pan uit die oond, laat dit afkoel en sny dit dan in blokkies.

Weg sê: Raak spoggerig en sif ’n bietjie versiersuiker oor voordat jy dit voorsit!

 

 

 

ALTYD SUKSESVOLLE SJOKOLADEKOEK

4 eiers, geskei

375ml suiker

125ml olie

200ml kookwater

375ml koekmeel

125ml kakao

15ml bakpoeier

10ml vlapoeier

knippie sout

10ml vanieljegeursel.

VERSIERSEL:

125ml sagte botter

500ml versiersuiker

30ml kakao

25ml melk

5ml vanielje geursel

Voorverhit die oond tot 180ºC.

Klits eiergele en suiker saam tot lig en romerig.

Meng olie en water en roer geleidelik by eiermengsel. Klits saam.

Sif droë bestanddele en roer by eiermengsel.

Klits eierwitte styf en vou in.

Roer vanilla by en meng goed.

Skep beslag in 2 gesmeerde panne of oondpan en bak vir 30-40 minute. Laat afkoel.

Meng als vir versiersel en versier.

Vir wit koek kan kakao uitgelos word en bietjie meer meel gebruik word.

Vir Vla koek word versiersuiker vervang met dik vla

 

SOMMER-NET-RESEPTE se SJOKOLADEKOEK

750ml bruismeel

60ml kakao

7ml koeksoda

312,5ml strooisuiker

60ml goue stroop

3 eiers

300ml olie

300ml melk

VULSEL

200g wit of bruin melksjokolade

125ml room

15ml kitskoffiekrummels opgelos in 20ml kookwater

50g bruin melksjokolade, fyn gekap

150ml versiersuiker

VERSIERSEL

75g botter

100g bruin melksjokolade

500ml versiersuiker

50ml melk 

Voorverhit die oond tot 160°C. Smeer ‘n vierkantige koekpan met margarine en voer uit met waspapier.

Sif die bruismeel, kakao en koeksoda en strooisuiker saam in ‘n groot mengbak.

Plaas die stroop, eiers, olie en melk in ‘n groot mengbak. Klits goed.

Voeg dit by die droë bestanddele en klits 2min of tot gemeng.

Giet in pan en bak 60-65min of tot gaar. Keer uit op ‘n draadrak en laat afkoel.

Plaas koek op ‘n gelyk oppervlak. Meet 4,5 cm van onder met ‘n liniaal en merk met peuselstokkies reg rondom die koek.

Sny boonste deel van koek af en sit eenkant.

Meet ‘n 4cm rand reg om die koek en merk weer. Sny die vierkant in die middel uit, maar moenie die koek tot onder sny nie.

Behou die bodem.

Berei die vulsel. Smelt sjokolade teen 70% krag in mikrogolf. Roer elke minuut want blokkies behou vorm.

Voeg die room en koffie by. Klits 5min lank met draadklitser tot mengsel verdik. Voeg gekapte sjokolade by en meng.

Sif versiersuiker by en meng goed.

Skep in uitgeholde koek. Plaas boonste laag terug en verkoel sowat ‘n ½ uur lank.

Berei versiersel. Smelt botter en sjokolade. Voeg versiersuiker en melk by. Versier koek.

 

VARIASIES:

Vir ‘n goedkoper koek kan jy dit vul met vanilla roomys waarby jy ‘n bietjie sterk swart koffie gevoeg het.

Anders gebruik jy sjokolade of rum & raisin roomys. 1 liter roomys sal genoeg wees. Vul die koek dan net voor bediening en hou verkoel.

Jy kan ook die versiersel vervang met gewone botter versiersel.

Verroom 150g sagte botter. Sif 900ml versiersuiker bietjie vir bietjie en klits goed.

Los 30ml koffie in 15ml kookwater op en voeg by.

 

EMMA van 7DE LAAN SE SJOKOLADEKOEK

1 Pakkie MOIR’S se sjokoladekoekmengsel (...en jul het gedink sy het 'n eie resep!!)

2 eiers

50 ml olie

200 ml melk

VULSEL:

1 blik karamelkondensmelk

VERSIERSEL:

75g margarien by kamertemperatuur

480 ml versiersuiker

60 ml kakaopoeier

kookwater

heel okkerneute om te versier.

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer 2 ronde 20cm koekpanne.

Besprinkel liggies met meel.

Plaas die koekmengsel in 'n groot mengbak.

Voeg die eiers, olie en melk by en klits ongeveer 1 minuut stadig met 'n elektriese klitser.

Klits daarna 2 minute teen die hoogste spoed.

Giet die beslag in die voorbereide panne en bak vir 30 minute.

Laat 10 minute in die panne afkoel en keer dan op 'n draadrak uit en laat heeltemal afkoel.

Smeer die karamelkondensmelk op die een helfte van die koek en plaas die ander helfte bo-op.

Klits die botter en versiersuiker tot gemeng.

Los die kakaopoeier in 'n bietjie kookwater op en voeg dit by.

Klits baie goed.

Smeer versiersel bo-op die koek en versier met heel okkerneute.

Sprinkel ekstra kakaopoeier liggies oor.

 

DIE BESTE VAN ALLE GEREGTE se COKE SJOKOLADE KOEK:

500ml koekmeelblom                                       5ml sout

500ml suiker                                                 250g sagte botter

45ml kakao                                                   250ml Coca-Cola

375ml malvalekkers, in kwarte gesny                 5ml koeksoda

125ml karringmelk                                          2 eiers, geklits

5ml vanielje geursel

VERSIERSEL:

125g botter                                                    45ml kakao

90ml Coca-Cola                                               500g versiersuiker, gesif

100g pekanneute, gekap                                   5ml vanielje geursel

 

Voorverhit die oond tot 180C.  Sif meel en sout saam.  Voeg suiker by.  Verhit botter, kakao en Coca-Cola tot die botter gesmelt is, verwyder van stoof en voeg malvalekkers by.  Roer en meng goed in die meelmengsel in.

Los koeksoda en karringmelk op, voeg by mengsel saam met geklopte eiers en geursel.  Meng goed. 

Skep in gesmeerde losboomringkoek pan van 250mm.  Bak sowat 45 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom. 

Laat afkoel in pan en keer uit.

Versiering: Verhit botter, kakao en Coca-Cola tot net onder kookpunt, voeg by versiersuiker en meng goed. 

Voeg driekwart van die neute en die geursel by.  Versier koek met orige neute.

  

TRANSVAAL JAGTERSVERENIGING se LEKKERLEES RESEPTEBOEK  se ONGEWONE SJOKOLADEKOEK

(Met erkenning aan Rina Fourie-Sűpra)

570ml koekmeel

285 gr suiker

25gr kakao

5ml koeksoda

250ml mayonnaise soos Miracle Whip

250ml koue water

5ml vanilla geursel

Stel oond op 180°C. Sif droë bestanddele saam . Voeg mayo en water by.

Klop 2 minute lank. Bak @180 grade tot gaar.

 

 

Nog 'n resep uit die geselsbrief - Begin jou dag 'n slag met 'n lag, is

LORRAINE se SJOKOLADEKOEK.

STROOP:250ml water en 250ml suiker

Stap 1:Kook stroop en laat eenkant staan om af te koel. Spuit 'n tuitpan met kleefweermiddel, voorverhit oond tot 180 C en meng dan die koekdeeg.

KOEKDEEG:
250 ml koekmeelblom
30 ml bakpoeier (Dit klink baie, maar die hoeveelhede is korrek)
knypie sout
250 g botter of margarien
125 ml suiker
200 g donker sjokolade (1 plak)
5 eiers
30 ml brandewyn of sjerrie

Stap 2:
Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Smelt die botter, suiker en sjokolade saam oor kookwater.
Klits eiers en brandewyn of sjerrie saam.
Voeg geklitste eier geleidelik by sjokolademengsel en klits goed.
Vou die meelmengsel by die eiermengsel in; die deeg is slap.
Gooi deeg in pan en bak in voorafverhitte oond vir 45 minute tot gaar.
Haal die koek uit die oond en gooi dadelik die koue stroop oor.
Laat afkoel in pan.

VERSIERSEL:
1 plak (200 g) heelneut sjokolade
30 ml melk

Stap 3:
Keer koek uit op afkoelrak en laat verder afkoel.
Breek sjokolade in blokkies en smelt saam met melk in mikrogolfoond of in kokende water. Indien jy die mikrogolfoond gebruik , roer mengsel elke 10 sekondes. Indien dit te warm word, maak die sjokolade korreltjies.
Sodra die versiersel lekker glad is, giet dit oor die koek.
WENK:
Dit is raadsaam om die koek geblinddoek te eet, sodat jy nie moet sien hoe spring die kilojoules nie. Nogtans, lekker bly darem maar lekker!

 

En laastens, weer die: GEVAARLIKSTE SJOKOLADEKOEK IN DIE WêRELD. (Per epos via my niggie in NZ!)

SJOKOLADEKOEK in 'n BEKER! No 1.

3 Eetlepels Bruismeel

3 Eetlepels Suiker

1 Eetlepel Kakao, vir vanilla koek laat kakao weg en voeg 1 extra eetlepel bruismeel by.

Knippie sout

2 Eetlepels Olie

2 Eetlepels Melk

1 eier

1/2 teelepel Vanilla

Vat koffiebeker en spuit met Spray & Cook.

Voeg al die droë bestanddele bymekaar roer met 'n teelepel.

Voeg dan die nat bestanddele by en meng goed.

Sit in mikrogolfoond vir 3 minute op hoog.

Haal uit en baie belangrik laat staan vir 2 minute.

Gooi uit en versier soos verkies.

 

SJOKOLADEKOEK in 'n BEKER! No 2.

4 eetlepels meel

4 eetlepels suiker

2 eetlepels kakao

1 eier

3 eetlepels melk

3 eetlepels olie

3 eetlepels “choclate chips” (opsioneel)

1 klein tl vanilla

1 groot koffiebeker

 

Voeg droë bestanddele in beker en meng goed. Voeg die eier by en meng goed.

Voeg daarna die melk en olie by en meng weer goed. Voeg dan die “choclate chip” (indien gebruik) en vanilla en meng weer goed.

Plaas die beker in die mikrogolf en kook vir 3 minute op 1000 watts (hoog).

Die mengsel sal begin oor die kant van die beker rys, maar moenie daaroor bekommerd wees nie.

Laat toe om af te koel (en effe skeef terug te sak, maar wie gee om hoe dit lyk...) en tip dit dan op 'n bord uit (indien dit so verlang word!).

Bedien nes jy wil, of met roomys of vars room.

(Hierdie resep kan twee bedien as jy goedhartig voel) Die rede vir die benaming : GEVAARLIKSTE SJOKOLADE KOEK ?

Want nou is jy net vyf minute weg van heerlike sjokolade koek dag of nag! 

 

En nou moet ek iets sjokolade-agtig in my mond kry!!

AS jy weer die GROOOOT LUS ontwikkel:

Skep 1/3 blikkie kondensmelk in 'n bakkie of glas uit,

roer 4 Etl MILO goed daarby in!

Eet dit sommer met 'n tl net so uit die bakkie of glasie! (Wie't nou koek nodig!!Jy kan mos hierdie ook versier as jy wil! )

Drink daarna 2 glase water terwille van jou gewete, want dan word dit mos Sjokolade-melk, en dis mos gesond!!

Voila!!  

 

 

 

Woensdag. 2 Junie. Winter.

Ja nee!

So begin my Junie-maand sommer op die Tweede!

Wat het van die Eerste Junie geword? Dit het iewers in 'n tyds-gleuf ingeval en ek kon dit nie weer terug kry nie. Dis hoe Tyd werk, as dit eers verby is, kry jy dit nooit weer terug nie, so gebruik elke sekonde oordeelkundig en moenie dit vermors, verby laat gaan nie!

Jul weet mos: Koop die TYD uit...en Leer ons ons dae so te tel, 'n wyse hart te bekom...

So sit ek juis hoeka gister, op die Eerste, onder 'n Blinkblaar-wag-'n-bietjie en kyk na die stroom water wat voor my verbyvloei, en ek dink aan die woorde: ”met die waters wat verby is sal die meul nooit weer maal nie...”

Dit bly darem maar 'n mooi en waar spreekwoord.

Dit het my verder laat peins oor die Engelse woorde : ”...all in DUE time...” Ja, inderdaad, op die BESTEMDE tyd, sal gebeur wat vir ons bedoel is, dit wat ons nie noodwendig wou hê nie, maar retrospektief, wat ons nódig gehad het om as mens te kon groei, sodat ons ook kan sê: Kyk! Die meetsnoer het vir ons, op lieflike plekke geval...

Dalk die dat die Ingelse seg: “Don’t rush great things...”

 

Maar om 'n lang storie kort te maak, het ek vir jul:

'n 17 Woorde, MIELIEBROOD resep!

1 blikkie  Kondensmelk

1  blikkie Room mielies

500 g bruismeel

Meng. Bak sowat 1 uur @ 180ºC .

Korter kan dit nie! Geniet dit!!

(Resep van Riekie Muller, Argilla) 

 

 

 

MEI

Dis my en wyle Tannie Esmé se  verjaarsdagmaand!! 

 

 

Saterdagaand. 29 Mei.

Nou, net na volmaantyd, wieg goue-blinkende-ligbane, soos met ‘n kunstenaars-kwas, oor die breë stroom rivierwater geverf,

en net VOOR my MEI maand, klaar uitspeel hier langs die Gariep, met yl wit winterswolkies

wat ysig saam met die windjie, kil ysvingers in my nek kom pla, eers ‘n bietjie:

 
 
 
 
 TERUGVOER oor LESERS-NAVRAE!  
.....Hier volg 'n paar resepte uit die navrae en die res,
Gaan loer op die LESERS NAVRAE BLADSY!!

 

 

 BEES GOULASH MET BIER I

30 ml olie
750 g beesvleisblokkies
2 uie, grof gekap
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
10 ml paprika
2 blikke (410 g elk) heel, geskilde tamaties
1 blikkie Bier
10 ml bruinsuiker
Sout en vars gemaalde swartpeper
125 ml suurroom of jogurt

Verhit olie in ’n swaarboompot en braai vleisblokkies bruin. Voeg uie en knoffel by en braai tot uie sag is.

Voeg paprika by, braai liggies en voeg tamaties, bier, bruinsuiker, sout en peper by. Verhit tot kookpunt.

Bedek pot, verlaag hitte en prut vir 1 ½-2 uur of tot vleis sag en sous dik is.

Verwyder van hitte en geur na smaak. Roer suurroom deur. Sit voor op aartappels of pasta.

Genoeg vir 4-6 mense.

 

BEES GOULASH MET BIER II

600 gr vleis blokkies

1 blikkie / botteltjie bier

paprika, sout en peper, rooi-peper, tiemie

2 rooi soetrissies in repies gesny

3 uie fyngekap

3 huisies knoffel gekap

2 aartappels in blokkies gesny

4 tamaties opgekap


Meng die vleis blokkies goed met die uie, knoffel en kruie. Soteer dit liggies in olie of botter tot mooi bruin.

Gooi helfte van die bier oor mengsel en laat prut tot droog gekook.

Voeg nou aartappels, tamaties, soetrissies en res van bier by en stowe verder tot alles sag en gaar is.

Bedien met rys.

 

VOLSTRUIS GOULASH MET PORT, SAMPIOENE en KLEIN UITJIES