....Só MAAK MENS !

Aug 2010

IN AUGUSTUS  het verskyn:

 Die volgende Onderwerpe / Resepte / Lesers navrae

 31

All bran karringmelk beskuit

 21

Tjailatyd-botterbroodjies

 

Kaas plaatkoekies

 15

Piesangs!


Piesangbrood

  

Piesangjellie

 11

Pitabrood

 

Winter breyani

 8

Cholesterol

 3

Candida en candida resepte

 1

ALLES OOR komkommers!!

 

AUGUSTUS 2010 

 

 31 Augustus

 Liewe Vriende!

Ons is weer veilig tuis! Ek het die Drakensberge oppad Transkei toe natuurlik vreeslik geniet! BAIE meer as die hele toertjie na Transkei! Die Drakensberge praat altyd met daardie diep binnekant van my hart se punt..! En Og ja! Die see was net so wonderlik mooi, ongerep het watervalle, soms oor kranse in die riviere benede, of soms direk in die see getuimel en het ek in verwondering gestaan en kyk hoe duiwe in vlug sommer daardeur swenk en die druppels in keervlug afskud.

Varings en lelies verdring mekaar nog, en die reuk van die veld maak iets diep binnekant mens los. Tarentale wat langs sandsteen murasies skrop en bloedrooi Koraalblomme wat in oorvloed aan die nog kaal stamme, teen die blousel blou lug afsteek, het my laat verlang na ek weet nie wat nie! Om soveel uit God se Hand te ontvang, maak my nederig en bly en so so dankbaar! 

Maar, soos altyd, is dit OOS-WES, TUIS BES vir hierdie huishen! 

En natuurlik is die blikke nou dolleeg en sal ek gou die volgende baksel KARRINGMELK BESKUIT moet bak! 

Vir diegene wat nie KARRINGMELK het nie: Gebruik dieselfde hoeveelheid melk of Ideal Melk, en voeg daarby 2 Etl asyn OF Suurlemoensap, OF gebruik dieselfde hoeveelheid Kefir OF Joghurt! 

ALL-BRAN-KARRINGMELK BESKUIT

Oond:180 grade

1,5 kg Bruismeel

10ml sout

500 ml suiker

4 x 250 ml All-Bran Flakes

250 ml klapper

500g Stork Bake

3 eiers

500 ml Kefir of Karringmelk

Gooi al die droë bestanddele saam.

Smelt die botter

Klits die eiers apart

Gooi die Kefir of karringmelk by die gesmelte botter, meng, en gooi dan die eiers by

Gooi dan die mengsel by die droë bestanddele en meng goed deur

Maak dan bolletjies OF druk in pan en sny dit later met elektriese mes as klaar gebak, OF bak in pan met afdrukker...

Bak 35 min teen 180 op middelste oondrak, laat afkoel, breek los en droog uit, oornag in oond @ 70-80 grade C, of vir sowat 3-4 ure @ 120 grade Celsius.

Hou oond deur op skrefie oop tydens die uitdroog proses met die steel van 'n houtlepel.

Indien jy met 'n gasstoof bak, kan jy ook daarin uitdroog @ 120 grade Celsius maar hou die oonddeur dan toe. Ek sal weens veiligheidsredes nie aanbeveel dat jy dit oornag doen nie alhoewel dit gedoen kan word. Ek sal ook aanbeveel dat jy een van daardie los termometers aankoop wat jy net binne die deur van jou gasoond kan hang, want baie gasstowe het nie 'n termometer in nie. Dit kan dinge net baie vergemaklik! Ek het een by ons plaaslike KLOPPERS gekry en dit lyk nes 'n klein wekkertjie, en het 'n hakkie bo aan waaraan jy dit aan jou oondrak, gesiggie na die voorkant, kan hang.

Ek het heel party navrae van LESERS ontvang in my afwesigheid en aangesien die maand op sy rug lê, sal ek almal se navrae in SEPTEMBER beantwoord!

Groetnis!

Retha. 

 

  

 

21 Augustus

Dit is weer RSG 4x4 tyd! Die afgelope week is besig gehou met voorbereidings en pak en gereedmaak vir die groot pret wat wag! Al langs die Drakensberge af tot by die see en dan weer terug...

En vir 'n Bo-Karoo-naar is die vooruitsig om weer berg en veral see te sien, wonderlik! Oe! om weer langs die groen Drakensberge te mag ry, langs die blou-blou see te kan staan... 

 
Die volgende stukkie wat 'n leseres aan my ge-epos het, is dus nou so van pas dat ek nie anders kan as om dit by jul te laat tot ek weer terug is nie!
 

 ...Met laagwater, kan mens die skatte tussen en aan die rotse van naderby beskou...Mossels staan uit....Hulle is so baie!...Weer kan mens ontdek hoe goed hul aangepas is vir hulle unieke omstandighede. Die grootste deel van hul lewe is hulle onder water, is  oop en maak kossies bymekaar. Hulle skulpies, wat oop is onder die water, maak toe om hulle vogtig te hou wanneer hulle nie onder die water is nie, en hulle teen die uitdroging van die son te beskerm. Wanneer hulle toegeskulp is, is hulle beskerm teen aanslae van buite, maar hulle kan nie kossies bymekaar maak nie. Indien die water nie weer oor hulle sou spoel nie, sal hulle toegeskulp bly, en sterf.

Ons almal skulp sekere areas van ons lewens ook so toe, dat ons daarvan kan sterf. Ons skulp ons verbittering, onvergewensgesindheid, geheime sondes en dies meer toe, en daarmee saam ook ons vrede, vryheid en geluk. Ons lewe in die donker - verhonger, uitgeteer, eensaam...

Kom ons laat weer toe dat ons Vader se lewenswater en ons vriende se liefde oor ons spoel, maak oop en raak vry, laat jou vrugte groei, dit is nodig om ons ander vriende weer mee te voed.

Wanneer ons laagwater beleef, en ons het nie vriende wie se liefdes-vrugte ons kan voed en ons so aan God se lewenswater herinner nie, is ons kanse baie groot om geestelik te sterf!

God se water is altyd lewegewende hoogwater....

 

Hou jy net jou skulp oop, en jou vriende naby! 

   

 ...en ietsie lekkers...deel van ons padkos!

RSG-TJAILATYD- BOTTERBROODJIES

500g  bruismeel

250ml vars room / jogurt

250 ml Sprite of Limonade

knippie sout

ekstra meel vir uitrol

Sif die meel. Gooi sout in. Gooi al die room in. Gooi sommer die Sprite (limonade) in die leë room houertjie in en gooi dan in die meel. Meng alles saam. Die beslag is soos ʼn pap klei.. Rol uit tot so 2cm dik. Vat ʼn gewone drink glas (ek gebruik ʼn "tot" glasie vir mooi klein botterbroodjies) en druk sirkels uit. Plaas sirkels op ʼn bakplaat en bak vir so 15 minute op 150C. Die botterbroodjies rys baie so moenie te naby aan mekaar pak nie. Die botterbroodjies kan ook oor die kole gebak word oor lae hitte. Dien soos gewoonlik op met konfyt en styf geklitste room.

WENK: Gooi kaas en speserye by (of kaas en spek of biltong stukkies ) OF Kaneel en gemmer gemeng in die beslag met ʼn bietjie kaneel en suiker op gestrooi en dan gebak.

 

KAAS PLAATKOEKIES

1 pakkie "ROYCO Kaas-VIS-Bake"

1 kp bruismeel

1 eier geklits

300 ml melk

2 Etl fyn gerasperde kaas

Olie vir gaarmaak

 Meng als goed. Skep lepelsvol in warm olie gesmeerde pan, draai om sodra borrels verskyn.  

(Verwerkte resepte: RSG en A Eksteen)

  

 

 Seënwense tot volgende week!

  

 

15 Augustus

Na my stukkie oor KOMKOMMERS  kry ek 'n nuttige skrywe oor die geel aap-kos...en noem my gerus 'n aap want ek is dol oor PIESANGS!

En jy kan nie 'n aap sommer flous nie ...o nee! Veral nie 'n gebore Natalse een nie!

Laat ek eerder die aap uit die mou laat en vertel hoekom - behalwe vir die heerlike smaak daarvan- ek nou

PIESANGS se lof so wil besing en waarom dit dus so voordelig in jou dieet is!

Piesangs bevat 3 soort suikers, sukrose, fruktose en glukose tesame met vesel. Piesangs bied dus onmiddellike  en standhoudende energie aan die liggaam, ideaal vir die een wat moet gaan oefen of bloot net uit die vere moet kom! 2 piesangs bied glo genoeg energie vir 'n 90 minute oefensessie! En die vesel daarin? Natuurlik goed teen hardlywigheid.

Maar dis nie vanweë die energie en die vesel daarin wat PIESANGS ons kan help nie, dit bied ook talle raad vir talle siektes: 
 
Piesangs bevat glo "tryptophan", 'n soort  proteïen wat in die liggaam na serotonien - die goedvoel hormoon- omgeskakel word wat jou bui verlig, jou kan laat ontspan en jou blyer kan laat voel. Dus ook 'n uitstekende  middel teen Seisoenale Depressie!

Die vitamien B6 daarin reguleer bloed glukose vlakke wat ook jou bui kan help verlig, dus is dit goed vir PMS en ligte depressie en angs.

Hoog in yster, Uiters hoog in potassium en laag in sout, kan piesangs  die stimulasie van hemoglobien in die bloed verhoog wat bloedarmoede  teenwerk, en hoë bloeddruk help verlaag. Potassium is 'n noodsaaklike mineraal wat die liggaam help om die hartklop te normaliseer, suurstof na die brein te stuur en die water balans in die liggaam help reguleer.  Wanneer ons gespanne raak verlaag die potassium vlakke, piesangs kan help om die wanbalans te herstel en ons metabolisme 'n hupstootjie gee. Die potassium verhoog breinfunksie en versterk konsentrasie en kan selfs beroertes help beveg. Volgens studies gedoen vir "The New England Journal of Medicine," kan die gereelde eet van piesangs, sterftes te wyte aan beroertes, tot 40 % verminder.

Een van die vinnigste maniere om van 'n "babelaas" ontslae te raak, is om 'n skommel te maak van melk, fyn piesang en heuning. Die piesang kalmeer die maag, die heuning herstel bloedsuiker wanbalans en die melk herstel die vogbalans!

Piesangs blyk ook goed te wees vir oggend naarheid en om deur die dag jou bloedsuiker vlakke konstant te hou. Peusel gerus eerder aan 'n piesang as aan iets anders en hou so ook die gewig in toom.

Piesangs het ook 'n natuurlike teensuur effek op die liggaam en dus 'n vinnige maklike manier om sooibrand hok te slaan.

Vanweë piesangs se sagte en gladde tekstuur vind baie maagseer lyers baat by die eet daarvan, dit neutraliseer  die oormatige afskeiding van maagsure en vorm 'n  voering laag in die maag wat sodoende prikkelbaarheid verlig.

Die Vit B6 en B12 , sowel as die Potassium en Magnesium in piesangs help met nikotien onttrekkings simptome, aan diegene wat probeer om op te hou rook, bied piesangs dus 'n nuttige hulpmiddel.

In vergelyking met appels, bevat piesangs 4 keer meer proteïen as 'n appel, 2 keer meer koolhidrate, 3 keer meer fosfate, 5 keer meer Vit A en yster en dubbel soveel van die res van die vitamiene en minerale wat in appels gevind word!

Dus kan ons tereg eerder sê:

'n Piesang per dag laat die dokter wag! 

En wat van die skil?

Voor jy insekbyt- verligtings middels soek, vryf die blootgestelde gedeeltes met die binnekant van 'n piesangskil, dit verminder die erge rooiheid, teerheid, irritasie, jeukerigheid en swelling van insekbyte.

'N stukkie piesangskil met 'n pleister vasgeplak op 'n vratjie, sal ook glo help om daarvan ontslae te raak!

Die binnekant van die skil kan ook as 'n vinnige skoenwaks dien, vryf oor jou skoen en poets daarna met 'n droë sagte lap!

Onthou om verkieslik nie piesangs in die yskas te plaas nie. Hou by kamer temperatuur of effe koeler en eet dit net vinnig op!

 

IDEES met PIESANGS...

                

Karameliseer ryp piesangs in bietjie olie en 'n strooiseltjie suiker  en eet vir 'n WOEMA-ontbyt saam met roosterbrood.

Piesangs saam met grondboontjiebotter maak 'n heerlike "NAGEREG-WAFEL-VULSEL" vir as jul kamp of stap.

Vir nog 'n lekker kamp of stap nagereg: PIESANG-FOELIE-PAKKIES Draai 'n piesang, 'n marshmallow en 'n stukkie flake in foelie toe en braai kortliks oor matige kole.

Versap piesang, ½ tl vanilla en melk met een rou eier vir 'n OPKIKKER DRANKIE voor strawwe oefening of daarna...

My maklike KLAM PIESANGBROOD RESEP!

Klits  1kp marg en 2 kp suiker tot romerig

Voeg 1 tl vanilla by

Voeg 2 eiers by en klits goed

Sif  2 kp meel, 2 tl bakpoeier en ½ tl sout by, en laastens 6-8 fyngedrukte piesangs.

Meng als goed.

Bak in broodpanne by 180 grade C.

       

PIESANG-JELLIE  i.p.v. konfyt.

½  kp korente

6-8 piesangs

½  kp gemengde droë perskes of appelkose

Verpulp die korente in ‘n versapper tot ‘n pasta. Voeg die piesangs en droë vrugte by en verpulp verder tot glad en amper romerig.

Hou in yskas in glasfles!

Hmmm...Piesangs is dus werklik die rede waarom apies heeltyd so gelukkig is..!

NS.   ...en toe "google" ek my eie plasing, en die epos wat ek hieroor ontvang het, en raai?

...die volgende adresse het almal dieselfde storie geplaas...!

http://intlxpatr.wordpress.com/2008/03/31/going-bananas/

http://www.v-r-a.org/ppp/Bananas/Bananas.htm

http://www.churchofthebanana.com/banana-facts

http://www.banana.com/medicinal.html

 

  Maar myne is tog eerste in Afrikaans!!

Voila!!

 

11 Augustus

Nog een week dan is ons in die middel van die maand! Augustusmaand. Wind-maand. Inderdaad!

Die wind buite, doen geen onreg aan die maand se naam nie want dit waai behoorlik elke laaste droë verrypte blaartjie van elke Wag-'n-bietjie-boom af.

Dit waai en warrel soos stofrokkies hoog die lug in op, dwarrel en dans dat die rok-some bol staan, balrokke sonder enkels of stewels, jy kan jou verbeel dis regte dames wat so baldadig dans i.p.v. dwarrelwinde wat opskiet en los dwarrel en weer op 'n ander plek die riel begin draai...

Stofdeeltjies speel met die eerste strale van die son, klein reënboogkorrels wat op en af en heen en weer deur sonligstrale sweef.

Die rivier skyn opdraand te vloei soos die wind die golfies druk-druk en vandag sal jy 'n onbekende kon oortuig, dat die rivier se vloei Noord loop...

Augustusmaand, ja Augustusmaand in volle glorie! Maar vandag weet jy ook, jy bly eerder binne!

Dit is dus Vandag, 'n uitstekende geleentheid om Dewald Lambertus Hattingh se resepte uit te toets! Dankie Dewald vir die aanstuur hiervan! (oorspronklik afkomstig van Nonnie Dedekind se blog.)

 

Hy haal aan: Ek is seker jy wonder ook wat jy vanaand gaan maak vir ete. Ek weet altyd dat ek wyn wil drink, maar nie altyd wat daarby te eet nie

Ek sit met 'n bottel pinotage ,mens moet sommer 'n lekker nagereg maak, soos gebakte peer,

aarbei of 'n gemengde bessiedissie, en dan hierdie pinotage yskoud daarby bedien vir 'n ongewone smaaksensasie. Jy kan dit probeer.

Maar omdat ek springbokboudflenters het, gaan ek dit sommer in pitabrode toepak...

'n Pita doen goed met enige vulsel. Of dit nou vleis, vis, hoender of net slaai is. Hulle vries ook goed, so jy kan altyd die resep verdubbel vir later!

PITABROOD EN PINOTAGE...

(Hierdie resep uit Braaitreffers van Hannetjie Joubert, wat deur Lapa uitgegee is.)

Vir 8 pitas het jy nodig:

25 ml kitsgis

20ml suiker

300 ml louwarm water

800 ml koekmeelblom, ongesif afgemeet

15 ml sonneblomolie

7,5 ml sout.

Voorverhit jou oond tot 250 °C.

Meng kitsgis, suiker en water. Voeg 250 ml koekmeelblom by. Laat op 'n warm plek tot dubbel die volume gerys.

Sif die res van die koekmeelblom by. Voeg die res van die bestanddele by en knie  goed. Bedek en laat op 'n warm plek rys tot weer dubbel die volume.

Knie liggies af en sny in 8 ewe groot stukke. Fatsoeneer elke stuk in 'n ongeveer 150 mm sirkel (amper of jy jou eie pierings maak). Plaas op 'n meelbesrooide bakplaat en laat rys tot dubbel die volume. Gebruik meer as een bakplaat. Bak 5 tot 10 minute lank tot 'n baie ligte strooikleur. Plaas op 'n draadrak en maak met 'n skoon doek toe tot  afgekoel. Sny 'n boonste derde van die pita af, en vul met jou Springbokkie, of wat ook al.

 

OF jy kan altyd vir so ‘n winderige dag WINTERBREYANI maak...

Hierdie resep is eintlik gegeurde rys, maar dit het woema, is goedkoop en vegetaries.

 

WINTERBREYANI

Jy benodig:

1 groot ui, fyngekap

2 huisies knoffel, fyngekap

3 wortels in ringe gesny

1 koppie botterskorsie in blokkies

2 t kerriepoeier (myne was groot teelepels)

1 t borrie

3 e kookolie

1 pakkie tamatiepasta

'n Handvol breyani speserye (anyssade, steranys, kardamom, kaneelstokkies en loerierblaar)

2 t sout

3 koppies rys

Skeut suurlemoensap en 'n groot lepel appelkooskonfyt.

Water.

Maak so: Gooi die olie in jou kastrol en as dit warm is, gooi die kerrie, borrie,sout en speserye in. Roerbraai en gooi dan die groente en rys by. Roerbraai en voeg tamatiepasta by. Nou bedek jy dit net-net met water, en laat rys gaar kook.As dit klaar is, voeg suurlemoensap en appelkooskonfyt by en roer deur tot dit lekker proe. Laat dit vir 'n paar uur staan, sodat daardie geure lekker kan bokspring.

As jy daarvan warmer hou, kap 'n rissie by jou kerrie by. Hierby kan jy ook gaar hoenderrepies byvoeg, of jy kan dit net so as 'n bykos gebruik...

So vind resepte wat ons met mekaar wil deel, 'n weg na ons almal en was bs. vir jul gebring, al die pad via Nonnie, via Dewald, via Hennie en uiteindelik via My!

Tot volgende keer,

Voila! 

 

8 Augustus

Kry ek onlangs 'n oproep van ons plaaslike geneesheer: "Retha, jy is reg , jy's gans te jonk en energiek om so moeg te voel, jou bloedtoetse het gekom, so gaan haal dadelik die pakkie wat ek vir jou by die apteker gelaat het en drink dit! Op las, seg ek jou!"

So gedaan en die pakkie loop haal, spesiaal in dorp toe gery om die handvol pille te kan sluk elke oggend en aand...hmmm, maar het die goeie dokter my gewaarsku of herinner ek mag glad nie kroek  met etes terwyl ek die handvol pille sluk nie?  Nee, natuurlik nie! Want ons kom al 'n lang pad saam en hy weet ek behoort van beter te geweet het...

Ek leef met HIPERCHOLESTEROLEMIE saam van kindsbeen af, gesonde dieet, die regte medikasie en matige oefening is by ons ingedril as ons nie soos 'n freak wou voel nie! Ander kinders het nie handevol pille gesluk om nie moeg te voel nie! So jy het getrou skelm die goed gesluk dat jou maats net nie moet sien jy's "anders" nie.  Maar iewers langs die pad wil jy net vergeet dat die pille jou eintlik help, wil jy net gewoon aangaan daarsonder, om op een goeie dag net maar weer te moeg te word, en opstaan al swaarder raak, dan eindig jy in die liewe jarelange huisdokter se spreekkamer en seg net: "Dok, ek's moeg. Help my."  En dan bel hy jou 2 dae na jou bloedtoetse...

Om 'n amper lang storie te verkort, ek gaan die volgende VOLLEDIGE uittreksel van GESONDHEID24.com, hier spoeg en plak, vir almal wat hierby kan baat vind.

Ek wil ook net bylas en sê, as jy eers al die pille drink, veral die statiene, MOENIE kroek met jou etes nie, net een maaltyd met 2 klein tjoppies saam met 2 gebakte eiertjies- jul weet mos soos in 'n tradisionele boere-brekfis - gaan jou 2 volle dae in die badkamer hou, en glo my dis net nie die moeite werd nie! So let op wat jy eet! 

... nog 'n voorbeeld...'n SESDE van 'n 100g pak GHOST-POPS, (sowat 16.6 g) bevat 5g, of 1 teelepel ongesonde VET...wie van ons eet ooit net 'n sesde van 'n pak?

Volledige Cholesterol inligting en dieet kan aangevra word, kontak my gerus !


 HIPERCHOLESTEROLEMIE

Cholesterol is 'n vetterige chemiese stof wat in die lewer geproduseer word. Dit speel 'n belangrike rol in die buitenste membraan van selle en stel die liggaam in staat om gal te vervaardig.

  • Cholesterol is 'n vetterige chemiese stof wat in die lewer geproduseer word. Dit speel 'n belangrike rol in die buitenste membraan van selle en stel die liggaam in staat om gal te vervaardig.
  • Cholesterol word deur die bloedstroom gedra na die liggaam se selle deur spesiale proteïne, wat lipoproteïne genoem word. Daar is verskeie soorte lipoproteïne.
  • Hoë vlakke van laedigtheid-lipoproteïne (LDLs) cholesterol word geassosieer met 'n verhoogde risiko vir koronêre hartvatsiekte en hartaanvalle.
  • LDLs is verantwoordelik vir die grootste deel van totale cholesterol in die liggaam. Lae vlakke van hoëdigtheid-lipoproteïne (HDLs) plaas ook iemand in die risikogroep vir hartsiektes.
  • Koronêre hartvatsiektes is die mees algemene oorsaak van sterftes in baie Eerste Wêreldlande.
  • Na die ouderdom van 20, beveel baie kenners aan dat cholesterolvlakke elke vyf jaar getoets behoort te word.
  • Behandeling vir hoë cholesterolvlakke word gebaseer op totale cholesterolvlakke, laedigtheid-lipoproteïne cholesterol, hoëdigtheid-lipoproteïne cholesterol en ander risikofaktore vir koronêre hartvatsiektes.
  • Dit is belangrik om oorerflike toestande te diagnoseer, aangesien hulle geassosieer word met baie hoë vlakke van cholesterol (>7,5 mmol/L), trigliseried (>5 mmol/L), of albei.

Beskrywing

Cholesterol, 'n tipe vet (lipied), is 'n belangrike basiese bousteen van selle. Te veel cholesterol in die bloed kan egter die vernouing en verharding van die are (aterosklerose) ten gevolg hê, wat kan lei tot hartaanvalle en beroertes.

Cholesterol beweeg deur die bloedstroom terwyl dit aan 'n proteïne vas is. Hierdie cholesterol-proteïne verbindings, lipoproteïne, kan in twee hooftipes verdeel word, afhangende van hoeveel proteïne daar is in verhouding tot die vet. Hoe meer proteïne, hoe hoër die die digtheid:

  • Hoëdigtheid-lipoproteïne (HDL) cholesterol - lipoproteïne met meer proteïne as vet.
  • Laedigtheid-lipoproteïne (LDL) cholesterol - meer vet as proteïne.

LDL is die 'slegte' cholesterol. Dit bestaan meestal uit vet en slegs sowat 'n kwart is proteïne. LDL vervoer cholesterol vanaf die lewer na ander dele van die liggaam waar dit benodig word vir selvervanging en ander aktiwiteite.

Onder sekere omstandighede, pak LDL cholesterol egter in die slagaarwande saam. Langsamerhand veroorsaak hierdie samepakking of opbou plek-plek aterosklerose. Bloedvloei na die liggaamsweefsel word verminder wanneer die aterosklerose 'n bloedklont laat onstaan in deel van die aar.

Die bloedklont mag bloedvloei blokkeer, wat kan lei tot beskadiging of vernietiging van die weefsels. As hierdie proses in die hart plaasvind, kan dit tot 'n hartaanval lei en in die brein kan dit tot 'n beroerte lei. In die been kan dit gangreen tot gevolg hê.

Deur die verlaging van LDL cholesterol, kan 'n persoon sy/haar risiko vir aterosklerose en die komplikasies hiervan verminder.

HDL is die 'goeie' cholesterol. Dit is meestal proteïne en bevat slegs 'n klein hoeveelheid vet. HDL cholesterol help om cholesterol uit die liggaam te verwyder deurdat dit stukkies cholesterol wat in die are agtergebly het, versamel en dit na die lewer vervoer vir verwerking.

Lae vlakke van HDL cholesterol verhoog die risiko vir koronêre bloedvatsiektes en ander vorms van aterosklerose. Hoë vlakke van HDL cholesterol blyk teen hartsiektes beskerming te bied.

Alhoewel hoë cholesterol 'n belangrike risikofaktor is vir hartaanvalle en beroertes, is dit slegs een van vele faktore wat tot hierdie gesondheidsprobleme kan bydra. Ander risikofaktore soos rook en hoë bloeddruk kan net so belangrik of belangriker wees as jou cholesterolvlakke.

Oorsake

Oorerflike faktore, siektes van spesifieke organe en dieet het almal 'n groot uitwerking op cholesterolvlakke.

  • Oorerflike faktore - partymaal word hoë cholesterol veroorsaak deur 'n oorerflike probleem, wat die manier verander waarop jou liggaam cholesterol hanteer. In sulke gevalle kan 'n persoon se totale cholesterolvlakke ver oor 6,46 mmol/L wees.
  • Dieet - diëte wat hoog in cholesterol en versadigde vette is kan bloedcholesterolvlakke verhoog.

Simptome

Hoë cholesterol veroorsaak selde op sigself simptome, maar die komplikasies wat dit kan veroorsaak, kan besonder ernstig wees. Die oorgrote meerderheid van mense met hoë cholesterol is dus onbewus van die probleem tot hulle 'n hartaanval, beroerte of gangreen kry. Hoë cholesterol kan deur middel van 'n roetine bloedtoets opgespoor word, waarin cholesterolvlakke gemeet word.

Kondisies wat die gevolg kan wees van cholesterol, soos hartvatsiektes en beroertes, kan die eerste teken wees daarvan dat iemand hoë cholesterol het.

In mense wat hipercholesterolemie het, kan neerslae van cholesterol saampak in die tendons, die vel of die weefsel van die oog. Die Achilles-tendon en die tendons van die hand het 'n neiging om cholesterol op te gaar.

Gelerige neerslae van cholesterol in die ooglede kom ook voor by matige toenames in cholesterolvlakke. Alhoewel 'n witterige area in die horingvlies van die oog toegeskryf kan word aan ernstige oorerflike kondisies.

Verloop

LDL laat cholesterol in die aarwande ophoop, en met die tyd saam word dit cholesterol-plaak, 'n dikkerige neerslag. Wanneer koronêre slagare deur aterosklerose geaffekteer word, kan hulle nie meer genoeg bloed en suurstof aan die hartspier verskaf tydens oefening nie, omdat hulle nie genoegdoende kan uitsit nie.

Gebrek aan suurstof (ischemie) na die hartspier veroorsaak angina. Die vorming van 'n bloedklont op 'n geskeurde plaakneerslag kan algehele blokkasie van die slagaar veroorsaak, wat tot die dood van die hartspier kan lei - 'n hartaanval.

Dieselfde proses kan in ander organe van die liggaam plaasvind.

In die brein kan 'n soortgelyke proses beroertes veroorsaak. Verminderde bloedvloei na die been kan kramppyne in die kuit, dy, of boud veroorsaak.

Beheerbare risikofaktore

  • 'n Dieet wat baie versadigde vette en cholesterol bevat, en laag is in vesel
  • Oorgewig
  • Gebrek aan oefeing
  • Rook

Risikofaktore wat deels beheer kan word.

Hierdie sluit in verwante kondisies wat cholesterol kan verhoog, soos swak beheerde diabetes.

Risikofaktore wat onbeheerbaar is

  • Oorerflike geneties faktore
  • Ouderdom en geslag

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat hoë cholesterol slegs een van die vele risikofaktore is vir hartvatsiekte en beroertes. Ander risikofaktore sluit rook in hoë bloeddruk, diabetes en 'n familiegeskiedenis van aterosklerose. Die vermindering van hierdie risikofaktore is belangrik om die kanse op hartaanvalle of ander siektes, wat met aterosklerose verband hou, te verminder.

Wanner om 'n dokter te spreek

As jy gediagnoseer is met hoë cholesterol of hartsiektes en jy ontwikkel enige simptome wat jy nie met jou dokter bespreek het nie, moet dit dringend gedoen word. 'n Familiegeskiedenis van hartsiektes voor die ouderdom van 60 jaar, veral as daar nie ook hoë bloeddruk of diabetes gediagnoseer is nie, behoort 'n waarskuwingsteken vir jong mense te wees om die dokter te gaan spreek.

Dikwels is die eerste teken daarvan dat iemand hoë cholesterol of ander risikofaktore vir hartsiektes het, 'n hartaanval, 'n mini-beroerte, of 'n beroerte

Diagnose

Daar is net een manier om uit te vind of jou bloed lipiede binne die normale perke is, en dit is 'n toets.

Behandeling

Die behandeling van hoë cholesterol bestaan hoofsaaklik uit twee komponente:

  • Tuis: leefstylaanpassings en dieetveranderinge
  • Medikasie

Tuis: leefstylaanpassings en dieetveranderinge

'n Gesonde laevet dieet en gereelde matige oefening is belangrike maniere om aterosklerose te voorkom. Vir baie mense is 'n laevet en lae cholesterol dieet  al wat benodig word om LDL cholesterol suksesvol te verlaag.

Verandering in cholesterolvlakke na aanleiding van dieetveranderinge verskil grootliks van persoon tot persoon. Party mense wie se cholesterolvlakke dieetverwant is, kan met dieetveranderings hulle cholesterol met 10 tot 20 persent verminder. Ander mense kan minder sukses behaal alleenlik met dieet. Nietemin is 'n gesonde dieet die basis waarop ander cholesterolbehandelings gebou word.

Oor die algemeen word die volgende dieetveranderinge aan die hand gedoen:

  • Genoeg kalorieë moet ingeneem word om die ideale liggaamsgewig te bereik en in stand te hou.
  • Van jou totale kalorie-inname behoort 55 persent koolhidrate te wees
  • Omtrent 12 - 15 persent van jou totale kalorie-inname moet uit proteïne bestaan
  • Eet baie vrugte, groente, graansoorte, bone, pluimvee, vis, maer vleis en laevet suiwelprodukte.
  • Vetinname moet beperk word tot 30 persent of minder van jou totale kalorieë
  • Eet minder as 200 mg cholesterol per dag

Hierdie riglyne sal help om jou vetinname onder 30 persent van jou kalorie-inname te hou asook jou cholesterol-inname tot minder as 200 mg per dag te beperk.

Lae vet word as 3 gram of minder per porsie gedefinieer. Gaan die etikette op verpakte kos na.

Die medikasie vir hoë cholesterol behels die volgende opsies:

  • Statiene - hierdie middels word die wydste voorgeskryf vir hipercholesterolemie. Hulle werk direk op die lewer in om cholesterolproduksie te verlaag en cholesterol uit die bloed te verwyder.
  • Galsuurbindmiddels. Hierdie middels veroorsaak 'n bindingsproses in die spysverteringskanaal en verhoed dat galsure sirkuleer.
  • Nikotiensuur (niasien). Nikotiensuur is 'n B-vitamiene wat totale cholesterol kan verminder, HDL verhoog en trigliseriede verminder.
  • Fibrate. Hierdie middels verminder trigliseriede.
  • Estrogeenvervanging. Na menopause kan estrogeenvervanging cholestrolvlakke effens verlaag.

Mense wat 'n hartaanval gehad het of wat 'n hoë risiko loop vir hartaanvalle mag ook aspiriene voorgeskryf word om hartaanvalle te verhoed.

 


 

3 Augustus

Vra leseres Daleen my,

Hi Retha, kan jy asseblief vir ons 'n paar lekker resepte vir, Candida lyers plaas. Dit sal baie wardeer word.

 

Wel met graagte! So MAAK MENS!

Vir meer inligting hieroor en die 4-fase Candida dieet van Dr Oberholzer, kontak my gerus! (D.m.v. die blokkie, ja!)

Kortliks: Wat's CANDIDA nou weer?

Die homeopaat, Dr Oberholzer skryf hieroor: Candida Albicans is 'n swam wat teenwoordig is in alle mense vanaf ouderdom ses maande. Alhoewel nie so erg dat dit hulle lewe in gevaar stel nie, kan dit voldoende wees om verskeie simptome te veroorsaak.

Dit sluit in:

  • Depressie
  • Angstigheid
  • Oordrewe geïrriteerdheid
  • Verteringssteurings soos diarree, hardlywigheid, winderigheid en sooibrand
  • Moegheid en 'n gevoel van wanhoop
  • Allergieë
  • Aknee
  • Migraine
  • Blaasontsteking
  • Vaginitis
  • Sproei in die mond
  • Menstruele probleme en pre-menstruele spanning

Met die gebruik van breë-sprektrumantibiotika, die voorbehoedpil en die algemene gebruik van steroïde het die voorkoms van candida toegeneem. Indien 'n enkele swamsel in die ideale groeiomgewing geplaas word, kan dit binne vier en twintig uur 'n kolonie van meer as 'n honderd gisselle voortbring. Teen hierdie tempo van vermeerdering kan een sel in 'n kolonie ontaard met 'n massa van meer as 'n miljard ton binne een week.

Navorsing het bewys dat die meeste mense teenliggaampies teen candida het. Daar is 'n paar faktore wat kan bydrae daartoe dat candida geweldig kan toeneem:

  • 'n Onderliggende of 'n verworwe immuniteits gebrek;
  • Die nagevolg van steroïde (hormone) as medikasie of in voedsel;
  • Die nagevolg van antibiotiese middels in voedsel of as medikasie;
  • Voedsels wat Candida aanhelp.

Gisselle hou van koolhidraatryke voedsel. Derhalwe moet ons probeer om suiker en styselryke voedsel te beperk. Gegiste produkte, suurdeeg en swamme moet vermy word, soos asyn, alkoholiese drankies, suurdeegekstrak, kaas en sampioene.

Jan en Jua -  van ons GESONDHEIDSGESIN seg:

Vul jou dieet aan met vitamiene, minerale, aminosure, verhoogde biotien en verhoogde v itamiene A én verseker dat dit suiker-, gisen melkvry is.

Die mitochondria -die energiestasies van jou liggaamselle - het baie spesifieke spoor elemente nodig om te funksioneer.Dït is onder meer om te verseker dat nutriënte geabsorbeer en vervoer word en gifstowwe uitgeskei word .As die 78% water in die liggaam nie aanhoudend sirkuleer nie, vind swambesmetting plaas.

DUS:

VERMY die volgende kossoorte: suiker (glukose, sukrose, fruktose, laktose en maltose); brood en stysels wat gluten en gis bevat ; gefermenteerde produkte soos alkohol en asyn; gerookte produkte; en grondbone (veral die skil). Skakel dié kossoorte vir sowat drie maande uit en daarna kan jy besluit hoe streng jy die riglyn wil aanhou volg. Besef net: een keer 'n Candidalyer, altyd 'n Candida-lyer. Wees bewus van jou suiker- en gis inname. Een glasie wyn te veel kan dalk net 'n bakteriële ommeswaai veroorsaak met 'n sproei-uitslag die volgende dag.

Bou eerder die liggaam se immuniteit op. 'n Sterk immuunstelsel kan met swamme en virusse saamleef sonder om gebuk te gaan onder die siektesimptome.

Ek glo aan 2 Pro-biotika pille daagliks en Baie groente - twee keer per dag, veral aspersies, broccoli, beet, peper, kool, uie, knoffel en komkommer.Gebruik vrugte matig na die eerste 3 weke van behandeling.Hawermout, bruinrys en rogbrood, Peulgewasse, lensies, ertjiespruite, bone, sade veral alfalfa en mung, vars kokosneute, okkerneute, amandels, olierige vis, wit vis, eiers, lam, hoender en wildsvleis is die veiligste.Ekstra suiwer olyfolie - 2 teelepels per dag as 'n slaaisous, tiemie, roosmaryn, knoffel en kaneel vernietig candida.

PLAK NOU GERUS DIE VOLGENDE, CANDIDA-DIEEt-ALA-RETHA, OP JOU  YSKAS!

ONTOELAATBAAR

Suiker, Koring produkte, Geproseseerde produkte, pasta, brode, bier en wyn, en enige swam of fungus kosse(BEHALWE Kefir- dit mag jy!)

ONTBYT (kies enigiets hieruit, waarvoor jy lus is.)

Oats, Oatbran, Gort, mielies, Mieliepap, maltabella, Sago,meusli met melk en heuning of jogurt, muffins met rogmeel/rysmeel/mieliemeel, mieliebrood, oats scones, Ryvita, ryskoekies, met botter en smeer, Tuna, eier, slaai,spruite, tamatie, maaskaas, vrugte en suikervrye konfyt. Bovril (NIE Marmite) aartappel meel, maizena, ertjie-meel, rogmeel,botter, olyfolie, canola margarien, heuning, bruin suiker(matig of liefs niks)

MIDDAGETES (Kies 1+2 OF 1+3)

1.Enige van toelaatbare beskuitjies OF Koue sago / mieliepap / tortillas / polenta...

2. Gemengde Slaai OF Bruinrys en lensieslaai  OF Tuna slaai

3. vrugte en jogurt

AANDETES (Kies een uit elke groep)

1.Aartappels in enige vorm, bruin rys, lensies, stampmielies, mielierys, pap, Rys-pasta.

2.Maervleis, skaap, vark, hoender, vis, beeslewer, maer maalvleis, wors sonder koring of geprosesseerde middels

3.Gestoomde groentes

4.Slaai.

5. Nagereg SONDER suiker of gis.

PEUSELKOSSE

Vrugte- verkieslik nie saam ander kos nie, slaaigoed, neute en sade, oats koekies, oats scones, ryvita, ryskoekies, popcorn, plain chips, diabetiese lekkergoed, diabetiese konfyte.Tuisgemaakte sop, rice krispies  en dadel-koekies, rosyne, carob lekkers,

Kruie tee, rooibos, appeltizer, 100% vrugtesap verdun met water, Vodka, gin, whiskey,

Na 3 maande mag jy weer: pro-vita's, bruin suiker, ander kase, volgraan brood, ander pasta, maar nie meer as 2 keer per week.

En nou, met hierdie RESEPTE, sal jy nie te erg voel of jy iets ontsê word nie! 

CANDIDA BROODRESEP

2 ½ kp Nutty Wheat

1 kp koekmeel / Rogmeel / aartappelmeel

1 tl koeksosa

1 tl sout

60 g margarien

500 ml karringmelk

100 ml water

 Meng droë bestanddele, frummel margarien in en voeg melk by, meng alles. Bak  45 min by 220º C

 

MALTABELLA BROOD

200 g maltabellameel

3 eiers

1 tl bakpoeier

 1 tl bakpoeier

 1 tl koeksoda

 1 tl sout

 1 etl margarien

50 g hawermout

200 ml dikmelk of karringmelk

 Meng alles saam en bak 45 min by 180º C

 

GROENMIELIEBROOD

2 kp gemaalde vars groen mielies

2 ml sout

1 tl heuning

1 tl bakpoeier

2Etl Maizena

Meng als, maak 'n blikkie 2/3 vol, maak dig toe met foelie en 'n toutjie, en stoom vir 2 ure of bak vir 'n uur in oond 180º C

 

IPV BROOD : GEBRAAIDE MIELIEPAP

Maak pap met:

375 ml mieliemeel

2 tl sout

1 l water

Kook tot die pap gaar is.(so halfuur)Gooi die pap uit in 'n vlak oondpan nie dikker as 1 cm nie. Laat afkoel. Sny in blokke of repies en braai koue pap blokkies alkant in Canola olie tot ligbruin. Of op 'n gesmeerde ysterplaat. Eet met suikervrye konfyt, heuning of bovril, saam met laevet maalvleis ens...

 

ONTBYTKOEKIES

1 kp kookwater

10 ml margarien

500 ml mieliemeel

1 tl sout

1 tl bakpoeier

1kp melk

2 eiers geklits

Smelt die margarien in die kookwater en roer die mieliemeel daarby. Meng res van die bestanddele by. Skep in muffin pannetjies 2/3 vol en bak 30 - 35 minute by 220 ºC.

 

OATS -KOEKIES (ook vir lae Cholesterol eetplan)

Skei 3 eiers, klits witte styf.

2 kp oats

1 kp Nutty Wheat

½ tl bakp

½ tl net

½ tl kaneel

½ tl koeksoda

¾ kp rosyne

 1 kp vars fyn pynappel

½ kp appelsap

1 tl vanilla

Meng alles, skep lepelsvol op gespuite bakplaat. Bak by 180º C

(Gele nie nodig, bêre dit bedek in bietjie water tot jy dit vir iets anders benodig in yskas)

 

RYS "PANNEKOEK" / PLAATKOEKIES

Sit voor saam met 'n sout bolaag of saam met vars skyfies vrugteslaai en spuitroom...

125 ml semelryke bruismeel

125 ml gaar bruinrys

2 eiers geklits

30 ml vetarm melk

Meng alles, skep lepelsvol in warm  canola-gesmeerde of bespuite pan en druk effens plat. Braai elke kant tot goudbruin. Bedien. Lekker hierby is ook ½ kp fyn gaar spinasie...

 

WITSOUS

25 ml Maizena

300 ml vetarm melk

2 ml sout en peper

Maak 'n pasta van die Maizena en die melk, verhit en roer aanhoudend tot dit verdik het, geur met sout en peper na smaak. Gebruik terwyl warm.

1-2 tl Kaaspoeier opsioneel.

 

KORS VIR TERTE

375 ml hawermout

15 ml heuning

5 ml bakpoeier

2 ml sout

25 ml canola olie

2 eiers geklits

Meng als. Voeg bietjie water by as dit te styf is om dun en egalig in 'n tertbord uit te druk. Bak 10 - 15 minute lank by 180ºC

Gebruik jou gunsteling soet of sout vulsel...verkieslik met min of geen meel en suiker daarin!

 

APPELFRUMMEL

1 kg fyngemaakte ingemaakte onversoete tertappels

Gerasperde skil van 1 suurlemoen

125 ml rosyne wat 'n halfuur in warm geweek was.

25 ml heuning

5 ml kaneel

Meng alles en skep in 'n tertbak.

Room nou 60 ml margarien en 110 g suiker - of die ekwivalent daarvan in versoeter poeier.

Werk nou 100 g hawermout met jou vingers daarby in tot 'n gekrummelde bolaag en sprei egalig oor die appel vulsel. Bak sowat 45 minute tot die bolaag goudbruin is. Sit warm of koud voor met onversoete skuimroom.

 

MIELIEPAP NAGEREG

500 ml warm slap mieliepap

15 ml margarien

35 ml heuning of 50 ml diabetiese appelkooskonfyt

1 eier geklits

100 g gekapte dadels

5 ml gemmer

Meng als. Gooi in gesmeerde bakskottel. Stip met klein klontjies margarien en bak halfuur by 180ºC

Ipv dadels kan jy ook 150 ml sultanas of rosyne gebruik.

 

KOFFIEJELLIE

500 ml sterk swart koffie

25 ml gelatien geweek in 50 ml koue water

50 ml heuning of versoeter

 Knippie sout

2 ml vanilla

 Smelt die geweekte gelatien in die warm koffie. Voeg die suiker en sout by en roer tot alles opgelos is. Roer vanilla by. Gooi uit in bak en plaas in yskas tot gestol. Bedien met (verkieslik onversoete) vla

 

LEKKER VRUGTE NAGEREG

125 ml suiker of versoeter

300 ml water

1 eier geskei

Knippie sout

50 ml suurlemoensap

1 kp fyngedrukte piesang of appelmoes

15 ml gelatien geweek in 50 ml water.

Kook suiker en water saam tot dik stroop. (tot dit amper hardebal stadium vorm) Klits die stroop by die geklitste eiergeel. Meng die sout suurlemoensap en vrugte en klits dit by die stroopmengsel. Smelt die gelatien oor kookwater en klits by vrugtemengsel. Laat efe afkoel en vou geklitste eierwit in. Skep in poedingbak en verkil. Dit stol nie so stewig soos jellie nie meer soos 'n mouse. Bedien met vla.

 

VRUGTEJELLIESKUIM

1 pakkie lae-suiker suurlemoen of groenpruim jellie ( weigh-less)

1 blikkie Ideal melk goed verkoel en styf geklop.

Knippie sout

500 ml suikervrye ingemaakte vrugte (2 blikkies)

Verhit 1 kp van die vloeistof waarin die vugte ingemaak is, en los die jellie daarin op. Laat afkoel. Klits alles behalwe die vrugte stukke, nou bymekaar tot styf en vou laastens die vrugte liggies daarby in. Verkoel goed.


 Voila!  

 

1 Augustus.

'n Fragment vir hierdie dag.

Vanuit my diep stoel op ons oewerhuisie se stoep sit ek, vroeg-oggend, verkyker in die hand, na die oorkantste wal en kyk,  hoe ‘n swerm / trop tarentale baldadig krysend neer fladder, en met ‘n uitbundige geskree agter die hoë riete in, al stroomop langs die wal begin wegdraf. Jy hoor hulle en die geritsel van hul pootjies tussen die riete, kort-kort sien jy hul soos stertjies kort op mekaar se hakke soos hul dan diekant, dan daaikant, op die wal tussen bossies, Rivierwilgers en riete verskyn.

Dan, terwyl my aandag nog op die baldadigheid van die tarentale fokus, swenk ‘n bruin valkie skielik uit sy vlug, direk in die bos van Rivierwilgers in. ‘n Wanhopige geskree bars los, ‘n opfladdering van vlerke en vere toe die valkie tussen die takke induik op die neste van niksvermoedende vlei-vinkies wat begin broei.

Dan volg ‘n stille geskoktheid terwyl hul toekyk hoe hy een van hulle sit en eet terwyl hy grootoog na hul bedreigingsloosheid kyk, en hul net maar in stil verwondering kan terugstaar. Wanneer hy uit die bos wegvlieg bly ‘n kort verslae magtelose stilte oor.

Die valk gaan sit skaars weer sestig treë van hulle af op ‘n draad-anker-paal, pof sy vere , kyk terug na die bos en vlieg dan versadig-rustig weg.

Die vlei-vinke is stil.

Augustus het begin. Die Natuur se aangaan, het die seisoene se opvolg ingelei. Onafwendbaar, en eersdaags, sal dieselfde Rivierwilgerbos, sy kaal stamme vir 'n groen skynsel verruil, om kort daarna in 'n liggroen lente tabberd te verklee.

Van groen gepraat.Kry ek die volgende inligtingsbriefie via my skoonsus- oor KOMKOMMERS! Wat 'n klein juweel is die KOMKOMMER nie! Mens kan nie anders as om na dese anders daarna te kyk nie! Hoeveel hiervan waar is, sal ek graag in jul kommentaar wil uitvind!

1. Komkommers bevat meeste van die vitamiene wat jy elke dag benodig! Net een kleinerige komkommer bevat Vit B1, Vit B2, Vit B3, Vit B5, Vit B6, Folien Suur, Vit C, Kalsium, Yster, Magnesium, Fosfaat, Potassium en Sink.

2. Voel jy smiddae lam en tam? Los die kafeïn Koffie of Kola uit, en eet ‘n komkommer!  Komkommers is ‘n gesonde bron van Vit B  en gesonde koolhidrate wat ‘n vinnige en langwerkende opkikker bied !

3. Moeg vir jou badspieël wat toewasem as jy stort? Probeer gerus om dit met ‘n deurgesnyde komkommer af te vryf, dit speel klaar met die wasem en verskaf ook ‘n heerlike Spa-vars-geur!

4. Is peste en plae en slakke jou beddings se einde? Plaas ‘n paar skywe komkommer in ‘n plat blikkie onder die plante en dit hou peste en plae vir geruime tyd weg! Die chemikalieë in die komkommer reageer met die aluminium van die blikkie en gee so ‘n afskrik-geur af wat tuinplae laat vlug!  

5. Soek jy na ‘n vinnige effektiewe manier om van die winter selluliet ontslae te raak voor jy in jou swembroek moet pas? Probeer om die probleem areas met ‘n deurgesnyde komkommer in te masseer vir ‘n paar minute, die phytochemikalieë  in  die komkommer veroorsaak dat die kollageen in die vel verstyf, verferm en die sigbaarheid van die selluliet verminder. Werk glo wondere vir plooie ook!!!

6. Wil jy ‘n erge hoofpyn en babelaas voorkom? Eet ‘n stuk komkommer voor jy bed toegaan en word verkwik en hoofpynvry wakker!  Komkommers bevat genoeg suiker ,Vit B's en elektroliete om essensiële voedingstowwe terug te sit wat jy met die "kuier" verloor het, om sodoende jou volle ekwilibrium in balans te hou !

7.Soek jy ‘n manier om daardie laatmiddag / aand peusel gevoel te laat weggaan? Soek nie verder as die komkommer nie! Dit verlig hongerpyne sonder skuldgevoelens of kilo-lading!

8.  Het jy ‘n werksonderhoud wat wag en jy het nie tyd om jou skoene te poleer nie? Vryf ‘n vars gesnyde komkommer oor jou skoene, vryf met ‘n snesie af en siedaar!  ‘n mooi blink en skoon glans met die bonus dat dit waterdigtheid verhoog!!

9. Is jy uit olie en jou hekkie se skarniere kraak? Vryf komkommer oor al die problematiese dele en voila, die geskree en kraak is weg!

10. Gespanne, moeg en ‘n Spa is buite die kwessie? Kap ‘n komkommer op en plaas in ‘n bak vol kookwater, die voedingsware en chemikalieë word in die stoom vrygestel en as jy nou jou gesig daaroor hou en met ‘n ligte handdoekie bedek, kan die gesig-stoom-bad wonders vir jou vel doen, en jou meer ontspanne laat.

11. Net na ‘n besigheidsete en geen tandeborsel of pepermente nie? Vryf liggies met ‘n komkommerskyfie oor jou tande, verhemelte en tong , binne 30 sekondes elimineer dit slegte asem en die pythochemikalieë sal ook met die bakterie in jou mond klaarspeel wat die slegte reuke veroorsaak.

12. Soek jy na ‘n "groen" manier om krane, wasbakke en oppervlaktes skoon te kry? Gebruik komkommer skyfies, dit verwyder vlekke bring glans terug, is streepvry, vars en skoon! Verder bly jou hande en naels mooi terwyl jy die werkies doen! 

13. So jy het ‘n pen-fout gemaak?  Gebruik die buitekant van die komkommerskil as uitveër! Dit vee penmerke, krytvlekke, merkpenne en kinderkuns af van mure!En ons het gedink komkommers is net daardie groen goed lekker in slaaie!

 ‘n KOMKOMMERSLAAI bly 'n maklike, vinnige en populêre keuse! In ‘n lugdigte houer in die yskas hou die volgende slaai ook uitstekend vir ‘n volle week! En dit lyk heerlik en pragtig!

KOMKOMMERSLAAI

Neem 8 medium grote vars Engelse komkommers.

Was dit en sny die punte af. Jy kan dit afskil, repies skil aanlos, of dit slegs met ‘n vurk skraap. Gewone komkommers moet egter heeltemal afgeskil word, en dan met ‘n vurk geskraap word. 

Sny nou jou komkommer in diagonale skywe, of nes jy wil- in skyfies in ‘n slaaibak in.  Was en verwyder die sade van ‘n rooi en ‘n groen rissie, en sny in repies.

Voeg ook een ui in fyn ringe gesny by.

Meng nou:

1 ½ kp suiker

1 kp wit asyn

1 Etl sout

1 Etl selderysout

Klits tot die suiker opgelos is, en gooi dit oor die komkommers, rissie-repies en uieringe. Roer deur en verkoel tot gebruik. Hou daarna, lugdig in yskas.

Of probeer ook die volgende maklike resep!

SOET EN SUUR KOMKOMMERS. 

2  groot komkommers, geskil en in skyfies gesny
3  heel groen uie, in ringetjies gesny, lowwe en al.
2/3 kp rys asyn
1/3 kp suiker

Meng alles, marineer vir ten minste ‘n  halfuur.  




 
Wil jy hê ek moet jou meer inligting oor iets gee?    
Kontak my regstreeks by: rethajm@gmail.com  
Groetes!!
 Rx. 
 
 

Retha van Somaakmens

Indien jy nog nie ONSDORP se nuusbrief ontvang nie,

Vul die onderstaande vormpie in vir heerlike tong in die kies humor,

Vars elke twee weke in jou posbus