27 Augustus
Dagsê lesers!
Terwyl die Appelkoos-, perske-, amandel- en pruimbome toegetree
het tot
die wedywering van ‘n lentebloeisel
kleurespel, gooi die Wilgers op die damwal
hul eie
stuiwer in die beurs, en begin die lang latte vol lentegroen blare heen en
weer oor die water swiep.
Gansneste
vol eiers word hissend bewaak, en voluierooie lam tussen Denne wat
saggies in die lang laning in die wind huil.
Agt dooie lammers vertel die tweesnydende swaard se ander verhaal
terwyl
gesonde drielinge en tweelinge kwispelstertjies
aan hul ma's drink.
Hennie Coetzee skryf: Daar moet letterlik honderdduisende flieks wees wat mens
nooit weer te sien kry nie.Is daar 'n betroubare webwerf waar jy ou
flieks in veiligheid
op jou persoonlike rekenaar
kan aflaai?
Hennie, ek vra hierdie vraag sommer in die openbaar want ek weet regtig self nog nie
waar jy dit met veiligheid kan doen nie, ek is seker daar sal
wel iemand iets weet!
Ek weet net as jy op Google
intik : "Download old movies" en "Download DVD movies"
dan gaan daar heelparty webwerwe oop waarheen die een jou na die ander een rondwys,
maar heel party is ietwat obskuur so ek het nie te diep gedelf nie!
Maar daar is ook ‘n paar
wettige werwe, so
gaan loer gerus. Ek het bv. "Download Gone with the wind movie" ook
ingetik en daar was nogal ‘n paar oulike werwe waar jy verseker iets sal kan aflaai.
Asseblief Lesers,
as jul ander betroubare werwe gebruik, help my bietjie hier!
Trudie sê:Hi, Ek hou baie van
die Afrikaanse forum. Ek wil net bietjie gesels.
Ek
kyk graag na die resepte want ek is mal oor bak en brou.
Dankie Trudie,
dit is altyd heerlik
om terugvoer te kry en ek hoop jy kan met welslae
van
my resepte bak, brou en geniet!
Kyk hoe baie ure
van baie dae het jy wat
jy
moet wegbêre.(Alba Bouwer)
26 Augustus
Dagsê Lesers
Ons eerste perskebome
en amandelbome staan pienk en wit in die blom!!
Die
Aalwyne het begin oopmaak en persblou Felicia's en helder pienk
Voëltjie-kannie-sit-nie vygies, blom baldadig orals langs my stappad.
Die dae is heerlik mildadig as die wind nie waai nie en die ganse het
begin broei.
Die eerste bokooi het ‘n prag
miniatuur tweeling ooitjies gelam, maar skielike koue
het
die een bruinetjie laat verkluim!
Die ander enetjie
slaap nou saans onder ‘n rooi lig en ek glo sy sal groot word.
Die ander ooie staan voluier en wag en ek dink skaars 2 weke van nou af begin almal lam!
En ek leef my dag met dankbaarheid....
Vra
‘n Leser : Kan mens regtig groente in gebak gebruik, of is dit net ‘n ma se
truuk dat hul kinders ekstra groente moet eet?
Wel liewe vriend ,
Natuurlik! Beide
is waar! Probeer sommer dadelik :
SOETPATATWAFELS.
Kook 1 groot soetpatat en dreineer.
Druk gaar
patat deur sif of versapper om 250 ml patatpuree te kry.
Meng dit met die gele van 3 groot eiers en 250 ml melk.
Meng in ‘n aparte bak : 375 ml koekmeel, 15ml bakpoeier, 15 ml suiker,
‘n knypie sout en 5 ml kaneel.
Maak ‘n holte in die middel en gooi die melkmengsel daarin.
Roer dit. Klop die wit van die 3 eiers styf.
Vou dit in die mengsel in saam met 45 ml afgekoelde gesmelte botter.
Maak wafels. (Gooi deeg dun in gesmeerde wafelpan en bak oor medium hitte tot
goudbruin en gaar. Keer uit en eet saam met room, heuning of roomys....)
En, Kapittel Hendro my juis :
Jammer
Mev Kruger, by die koeksister resep, ek vra nou miskien n dom vraag,
maar jy se net maak gaar in diep olie en druk onder stroop.?
Wanneer? as hy eers koud is? en as hy pas uit die olie kom, hoe hou jy hom
vas? Hoe lank is nie te lank nie? en wat is te kort? As ek hom bv soos n
kurkprop net die stroop indruk en dadelik weer uithaal.... of hou ek elkeen
5 minute in om dit 'natter' te maak?
Jy moet mens darem meer stap vir stap help mens!
Beste Hendro,
Nou ja, Goed, net vir die rekord! Laat daar nie gesê word ek antwoord
nie navrae nie!!...
Koeksisters word nes vetkoek
in diep olie gaargebak, plaas die rou gevormde vetkoek
of
koeksister in die olie, wag tot dit goudbruin is aan die eenkant en dan draai jy dit
liggies met ‘n gaatjies lepel om tot bruin aan die anderkant. Lig dit uit die olie, met die
gaatjies lepel of ‘n braaitang dit werk ook maklik, laat
die ergste olie afdrup, en dan dompel
jy die warm
koeksister in die stroop met ‘n groente "masher" (dit werk baie lekker!)
vir so ‘n paar tellings.
Jy
sal sien die koeksister kry so ‘n ‘deurskynende' verglansde lagie , dan weet jy dit het
klaar stroop getrek en kan jy dit maar uithaal en die oortollige stroop op ‘n
druprakkie wat
binne in ‘n skinkbord staan
laat afdrup .
Voila ! Lekker koeksisters bak!
24
Augustus
Liewe Lesers,
Ek het al ‘n maklike resep vir koeksisters geplaas, maar hierdie
navraag wil ek
nietemin graag beantwoord!
Rochelle vra :Party mense hou van droë koeksisters, ander van baie
stroperige
koeksisters, maar waarom trek party nie
genoeg stroop nie?
Die kuns is, dat JY die deeg moet
beheer, NIE die deeg die proses nie.
M.a.w. jy besluit
watter deeg om te maak, hoeveel stroop jy wil laat intrek of nie,
party deeg slurp behoorlik die stroop op en ander, wel hul trek geen stroop nie.
Ek kan eerlik sê die beste wenk is, dat jy jou deegresep moet reg kies.
Daar is baie rate: Hou jou stroop koud, ‘n tikkie suurlemoen in die sous,
die koeksisters moet bros en goudbruin wees, warm in yskoue stroop gedoop.....
maar volg eerder die volgende raad:
1. MOET NOOIT enige smeer, olie of margarine of botter in jou deeg sit nie.
2. Laat jou deeg bietjie rus voor jy dit uitrol.
3. Moenie te dun uitrol nie sowat 5mm is perfek.
4. Moenie jou koeksisters te styf vleg nie, maak seker die punte
is mooi styf vas.
5. En jou stroop, sorg dat
jou suiker volledig opgelos is voor dit kookpunt bereik.
En nou ‘n familie-geheim waarmee
ek my erfporsie wegtik...ja, een van daai
"familie-grafresepte"...
Vergewe my asseblief Moeder...!)
RETHA-HIERNA-KERKMUIS-SE KOEKSISTER-RESEP
STROOP:
10 kp suiker
6 kp water.
Roer suiker en water oor lae hitte tot suiker heeltemal opgelos is.Voeg by:
½ tl kremetart
¼ tl wynsteensuur
Kook
als sowat 10 min en laat afkoel.
DEEG :
5 kp koekmeel
3 tl bakpoeier
1½
etl suiker
¼ tl sout
2 eiers
¾ kp water
Klits
die eiers en water goed saam.
Klits die suiker
by.
Meng res van bestandele by.
Laat deeg vir sowat halfuur rus.
Rol sowat 5mm dik uit, moenie die deeg rek en trek nie, sny 3 beentjies en vleg
lossies of sny net 2 beentjies en draai liggies, maak seker die punte is
goed vas.
Bak in diep olie tot goudbruin.
Druk die gaar koeksisters goed onder die stroop, haal uit en laat afdrup.
Vir ‘n "droër" koeksister, moenie lank in
die stroop onderdompel nie. Voila!
Gee meer
en jy sal meer ontvang.
Kla minder
en daar's lag en sang!
21 Augustus
Dagsê Lesers
Vra iemand my nou
die dag: Hoe maak jy ‘n lekker warm Kerrie? !
Wel,
seg ek, dis nou maklik ek sal jou die resep gee!
Dis
nou een gereg wat ek geniet om te maak! En toe kom ek met die tikkery hiervan agter,
Mapstieks! Ek kan nogals nostalgies liries hieroor raak!
Met die kom sit en wil begin tik, kom ek toe mos agter dat mens nie altyd ‘n resep het
vir wat jy altyd doen nie!So, om ‘n lekker Kerrie te maak, is
die beste wat ek nou kan doen,
om stap-vir-stap te
sê :
SO MAAK MENS!
Die
belangrikste ding om te onthou as jy ‘n lekker Kerrie wil maak is om GEEN
water te gebruik nie.
Gebruik
ook ‘n diep dikboompot, dat jy lekker daarin kan roer sonder om als uit te laat spat.
Ek gebruik NOOIT net die gekoopte boksies Kerrie poeier nie, as ek nie ‘n geurige
vars
kerriepoeier mengsel op die Indiese mark
kan koop nie maak ek my eie deur geel,
bruin-oranje
en rooi kerriepoeier te meng. Jou Kerriepoeier moet neig na die kleur van
fyn vars paprika, en dit moet in die fles al lekker ruik. Maak jou oë toe as jy ruik,
dit moenie na ‘kerrie" ruik nie dit moet na ‘n aromatiese
mengsel van geurige kerries ruik.
Moenie te groot
stukke vleis gebruik nie hou by kleiner blokkies of vra vir kleinerig of dun
gesaagde skenkels. Maar nie maalvleis nie asseblief! Maalvleis Kerrie is vir Boboties of vetkoek!
Ook nie wildsvleis nie, die draderige grein en smaak werk nie
, vertrou my.
Wild is vir wildsvleis geregte, ek
sal later resepte daarvoor vir julle gee!
Jagtyd
is hoeka so pas amper genadiglik verby!
Ek
hou van 1 kp sultanas of gekapte droë appels of rosyne in my Kerrie maar jy
kan dit los as jy wil.
Kerrie
is altyd die volgende dag nog lekkerder!
Moenie
kortpad vat en die groente deurmekaar of bymekaar gooi en dit dan saam roerbraai nie.
Vertrou my, volg die aanwysings!
As jou Kerrie te warm/sterk is, roer aan die einde net voor opdiening ‘n halwe koppie ongegeurde
yogurt by, of bedien die Kerrie saam met ‘n bakkie fyn klapper,
‘n bakkie ongegeurde yogurt,
en altyd ‘n
mooi vars tamatie, pietersielie en uie sambal.
Jy
kan ook pappadams daarby voor sit, en as jy dit nie het nie, knoffel en pietersielie bros
broodjies, of Melba roosterbroodjies...
As jy hoender Kerrie maak, kook 1kp bruin heel lensies saam met jou rys, en gebruik
eerder ‘n Breyani-masala en Kerrie mengsel.
O, nog een ding, om ‘n lekker Kerrie te maak vat tyd. Dis ‘n langdradige
proses ja,
maar alle goeie dinge neem tyd.
Geniet dit, sit mooi musiek op, skink ‘n glasie
appeltizer
en KUIER by jou stoof met jouself!
Dis
‘n liefdesdiens vir die eters later...
"RETHA-SE-MA-SE-LEKKER-KERRIE !"
1. In goeie sonneblom olie of olyfolie, Roerbraai sowat 1 ½ kg
GOEIE nie te vetterige
blokkies vleis of skenkels
tot mooi bruin en gaar. Skep uit kastrol en sit eenkant.
2. Roerbraai blokkies geskilde aartappels tot goudbruin en gaar , nie bros nie, skep uit,
hou eenkant.
3. Roerbraai sowat 3 groot gekapte uie , tot goudbruin en deurskynend, hou eenkant.
4. Roerbraai 2 groot blokkies gesnyde eiervrugte of brinjals/aubergines,
tot sag, bruin
en gaar. Skep uit en hou eenkant.
5. Neem sowat 3 groot Etl botter en Roerbraai die botter tot dit "skei
" .
(Jul al gehoor van ghee?) Gooi die water
deel af.
Gooi nou by die "uitgebraaide"
botter in die kastrol :
1 tl tiemie,
1 tl pietersielie,
2-3 Etl masala,
2-3
Etl Kerrie, ( jou keuse, matig of sterk maar gebruik goeie vars Kerrie)
2 Etl ster anys,
2
tl komyn sade,
sowat 6-8 vars jong suurlemoenblare,
1 tl aromat,
2
tl growwe swart peper,
1 tl chicken spice,
en
1-2 tl rooi peper.
Roerbraai die kruie vir sowat 2 minute tot dit wil wil aanbrand.
6. Gooi nou die vleis by, en meng GOED deur.
7. Skep dan die eiervrug en uie by, roer LIGGIES deur.
8. Skep dan die aartappels bo - op maar moenie roer nie. Jy wil nie
jou blokkies laat
blus of fyn kook nie.
9. Meng nou sowat ½ kp suurlemoensap, ½ kp tamatiesous
of tamatie puree
( ek verkies lg.) ½
kp appelkoos konfyt, NOG 2 tl Kerriepoeier en 3 tl Borrie in ‘n
bekertjie, en gooi dit bo oor die Kerrie In die pot.
10. Stel jou plaat nou stadig dat dit lekker kan stowe. Sowat half uur.
Roer-lig die bodem van die Kerrie in die pot net so een of
twee maal om, om seker
te maak dit brand nie
aan nie.
Net voor bediening roer die Kerrie
LIGGIES om dat die aartappel blokkies ook deurmeng.
Voila!!
Geniet dit!
Byt meer af as wat jy kan kou,
en kou dit.
Beplan meer as wat jy kan doen,
en doen dit.
Mik jou pyle na die sterre
Vat korrel,
En daar is jy!
-Anoniem-
16 Augustus
Dagsê Lesers!
Ja-nee, Nou skep ek behoorlik moed!
Die eerste
Kaalgat-perske bome staan pienk in blom!
Die eerste
aalwyn raseme bot groen, net gereed om oop te vou, en wat is meer
baldadig as die laaste wintersblare wat op die grasperk deur die Augustus wind en ‘n
ewe baldadige gemmerkat rondgejaag word.
Eddie
skryf: Kan iemand my inlig hoe maak mens 'n "Sonoond" om te kook met
sonkrag ek hou daarvan om te eksperimenteer !!!!
Beste Eddie,
Jammer jy moes
so lank wag, maar ek het vir jou 3 idees opgespoor!
‘n
Hooikis, en 2 son modelle, een vinnige een en een stadige een!
As jy vir my ‘n faks nommer kan verskaf kan ek vir jou die hooikis
inligting deurfaks.
Indien
nie sal ek dit per epos probeer aanstuur.
Jy kan
ook o.a. die sonmodelle gaan bekyk op:
www.sustainable.com
www.treehugger.com
http://planetgreen.discovery.com
Hoop
dit kan jou help!
Die
kleure waarmee ek verf,
kleef aan my hande.
Daarom is dit beter
om liewer ander mense vol blydskap te verf!
13 Augustus
Dagsê Lesers!
En amper het ons bederf geraak met heerlike somersweer so oor die lang naweek.
Net om weer deur ‘n koue front in die bek geruk te word.
Maar so laat ons ons nie onderkry nie, die halstarrige Winterweer
vra net na
ekstra trooskos, en dit kan ons maklik
regkry!
Trudie van Kaapstad skryf:
Hi
Retha + mede-dorpers. Ek is op soek na 'n lekker, maklike 1 pot gereg met lensies.
My kossmaak is seker maar aan die soet-kant, maar ek moet dit begin uitsny.
Ek hou van eenpot-geregte oomdat daar minder skottelgoed is en so kan
ek items
waarvan ek nie juis hou nie, maar tog moet
eet (bv. spinasie, broccoli) verberg.
Enige resepte
of ander idees?
Groete vanuit koelerige Kaapstad.
Beste Trudie,
'n ou gunsteling!
HOENDER MET RYS EN LENSIES
15 ml olie
400 g hoenderbors filette in blokkies of repies gesny
1 stuk pypkaneel
3 ml komyn
6 heel naeltjies
50 ml botter
1 - 2 groot uie gekap
350 g rys
125 g lensies
125 g rosyntjies/sultanas
Vars pietersielie
Sout en growwe swart peper
1 l hoenderaftreksel (2-3 blokkies in 1 l warm water, of 2 pakkies kitssop)
(I.p.v. bg speserye, neem ek soms net sout,
peper,aromat,kerrie,borrie en hoender speserye!)
Verhit olie en soteer speserye daarin vir sowat 2 minute oor matige hitte.
Voeg botter en uie by en soteer tot goudbruin en sag.
Roer hoenderstukkies by en braai tot ligbruin.
Roer rys by en roerbraai sowat 5 minute.
Verhoog hitte en roer warm aftreksel, rosyne en lensies by. Sodra
dit kook,
verlaag hitte en laat prut met deksel
op vir sowat 20 minute.
Geur met res van bestandele
net voor opdiening.
Heerlik net saam met ‘n
slaai.
En het jy al spinasie en lensies saam gaargemaak? Soos die kitsklaar bevrore weergawe van IJ?
Ek kook my lensies tot gaar.Dan my spinasie net vinnig op. Maak ‘n
lekker kaas witsous,
skep lae opmekaar,kaas en krummels
bo-oor en bak dit vinnig in oond soos lasagne!
Hoop
jy geniet dit!
Glennys sê :
Maak dit ‘n reel van die lewe:Om nooit spyt te wees oor iets nie
En om nooit terug te kyk nie!
Spyt is ‘n ontstellende mors van energie
Jy
kan nie daarop bou nie
Slegs daarin rondspartel.
5 Augustus
Dagsê Lesers!
Ja-nee ! Die maand doen
sy Naam gestand en blare waai baldadig in die wind,
teen lyndrade vas en skerm teen mekaar en die stamme van kaalarm Populiere.
Kry ek hierdie "interesante" reseppie , probeer dit gerus en laat weet hoe dit
was!
BIERBLIK HOENDER MET TIEMIE EN ROOSMARYN
Meng : 1tl sout
1tl paprika
1tl tiemie
1/2 tl suurlemoenpeper
1/2 tl growwe swart peper
2
tl olyf olie
Vryf hele hoender eers met
olie en krui dan die hoender goed in met die spesery mengsel.
Maak 1 blikkie bier oop, gooi helfte daarvan in ‘n glas uit.(Drink dit maar!)
Gooi nou 2 takkies vars roosmaryn, 1 knoffelhuisie gekneus, sap van 1 suurlemoen
,
nog 1tl tiemie en 1/2 tl growwe rissie in
die blikkie.
Maak nog 2 gate bo in blikkie .plaas
nou die blikkie op 'n stewige rooster oppervlak,
en
laat die hoender gebalanseer bo-oor die blikkie "sit".
Rooster die hoender oor medium hitte tot gaar. Haal versigtig van rooster af,
en verwyder die blikkie sodra bietjie afgekoel is. Bedien warm.
Die bier en kruie stoom trek deur die hele hoender en die geur
marineer heerlik van binne af deur!
Voila!!
Daar lê ‘n droom
in
my en jou
eers vlindersag
dan grootoog
‘n gedagte
-Freda-
4 Augustus
Dagsê lesers!
Ek deel
sommer vandag ‘n gedig van Patience Strong met julle,
vir die lekker daarvan!
(Vry Vertaal)
Die Geheime Tuin.
Praat as jy moet terwyl
ek jou die tuin waarvoor ek lief is wys
Al
wandelend langs gesnoeide heinings
waaroor takke
boog
Praat oor die weer of wat ook al
Al drentelend waar mosbegroeide paadjies lei
Maar wanneer ons by die hoek kom
Waar die Wagtersbome waak
-
die geheime plek waar dit altyd lente is en geen winterswinde waai -
Praat dan
geen woord daar langs die stil
poel waar gefilterde sonlig glim
En trap saggies
op die tyd deurleefde stene
Want jy stap
tussen my drome.
En vir ONTBYT probeer
gerus hierdie i.p.v Croisants....ons woon immers in Afrika !
MIELIEBROOD
500g Bruismeel
5ml Sout
1 Blik Roommielies 2 Eiers
170g-Blik Ideal Melk 60ml Olie
Metode:
Meng Meelblom, Sout
En Mielies Saam. Meng Eiers, Ideal-Melk En Olie
Saam
En Roer By Meelblom. Gooi In Gesmeerde 1kg-Broodpan En Bak 50-
60 Minute By 180°C.
Geniet dit!
1 Augustus
Dagsê
Lesers!
Kan
julle glo dat die windwaaimaand sowaar al aangebreek het!
En dit lyk my daar is lesers wat ook nie kan wag dat die lente moet aanbreek nie,want
Talitha vra : Hoe maak mens sap ?
Wel Talitha,begin sommer dadelik met die volgende "limonade" reseppie.
Rasper eers die skil af van 36 suurlemoene en druk die sap dan uit.
Gooi skil en sap in houer, gooi 36 kp suiker, 45 ml elk van :
*sitroensuur, *wynsteensuur en *engelse sout
as ook 4.5 l kookwater by.
Roer totdat suiker opgelos is. Laat oornag staan, syg deur en bottel.
Los van die skilletjies in die stroop dit bly lekker en lyk mooi!
Gebruik soos gewone aanmaak koeldrank.
(Kleiner resep : 415ml sap , 7.5ml elk van * en 500ml water.)
Om vrugte of groente sap te maak, het
jy 'n paar opsies, en dit kan natuurlik
ingemaak
word ook,maar dit is 'n onderwerp op sy eie so ek volstaan met die
maak van
VARS VRUGTESAP
Was indien nodig, Skil, ontpit en versap bloot jou vrugte, jy
kan dit met 'n
voedsel verwerker of met die
hand doen.
Syg die sap en pulp van die vrugte deur
'n sterk doek.
Vir SITRUS,maak die vrugte effe warm en druk met lemoen uitdrukker uit.
Vir vrugte met min sap, bv pynappels, of appels, druk die vrugte fyn,
verhit stadig en voeg die hoeveelheid water by om 'n sap te vorm.
(300ml water vir elke 500g vrugte)
Verhit die vrugte in 'n emalje kastrol met deksel, bo-op 'n ander kastrol met water
sodat die vrugte hul geur beter kan behou. Syg deur en verkoel.
Gebruik netso of verdun met swart onversoete rooibostee,mineraalwater
of sodawater.
Vir TAMATIESAP :
Was en sny tamaties in stukke. Plaas in kastrol.
Druk effe stukkend om van die sap vry te stel.
Sit deksel op en verhit stadig tot kookpunt. MOENIE water byvoeg nie.
Kook 5 min lank stadig tot sag maar nie pap nie.
Jy kan dit ook sag stoom. Vryf nou die sap met 'n houtlepel deur 'n draadsif.
Voeg 2,5ml sout en 5ml suiker by elke 500ml tamatiesap.Laat afkoel.
(Worchestersous en peper is opsioneel)
Geniet dit!
29 Julie
Dagsê Lesers!
Marita Botes vra : Wat is preie en
hoe lyk dit?
Beste Marita,
Ek het waarna jy soek!
Koop jy dalk die SARIE? Wel in laasmaand se uitgawe was 'n hele
resepte bylaag in samewerking met STORK net oor PREIE!!
Jy kan op die SARIE of die STORK webtuistes gaan kyk daarvoor as jy dit gemis het,
maar ek plaas sommer 'n (verwerkte!)uittreksel daarvan hier vir jou
op ons werfie.
Preie is LEEKS in Engels en behoort
aan die uie familie, en is heerlik in enige gereg
waarin
jy uie sou gebruik, dit het net 'n sagter romeriger smaak as uie. Heerlik!
VIS EN PREI QUICHE
1 vel
(400g) broskorsdeeg ( of jou eie staatmaker kors resep)
30ml
margarine of olie vir braai
4 preie in skywe gesny
( of 2 vars botteruie )
2 knoffelhuisies fyngekap
3 blikke (170g) salm of tuna gedreineer.
1 groot tak dille fyngekap of pietersielie
Sout en growwe swart peper na smaak
3 eiers
500 ml room,of ongegeurde yoghurt
Verhit oond tot 180 grade C. Voer ‘n tertbak met die broskorsdeeg
uit.
Braai die preie en knoffel tot sag. Rangskik
preie op deeg, skep die vis by.
Sprinkel
pietersielie of dille oor, geur met sout en peper.
Klits
die eiers en room, en giet bo-oor preie en vis. Bak tot goudbruin en gestol.
Sit warm voor saam met slaai.
Susan Myburgh skryf: Goeie dag,ek wonder of julle my kan help.
Ek het 'n resep verloor met ons laaste trek, dit is 'n wafel sous resep,
ek het dit altyd gemaak uit 'n ou sasko resepte boekie van my ma.
Dit was so heerlik en ons mis dit. Dit was 'n soet sous, dit is
'n sous wat jy op die stoof maak ,
warm bedien op
wafels.
Die sous waarna ek verwys het 'n basis van
suiker,melk, dan weet ek nie verder nie.
kan iemand
my dalk help?sal baie bly weees !
Beste Susan!
Ek werk hieraan vir jou! My argiewe word deurgeblaai! Jy soek na die
een met die
suiker en melk basis, wat ‘n basiese
karamel sous is,en ek sal aanhou soek tot
ons die
regte SASKO een opspoor! Tot dan, hier is solank vir jou ‘n paar ander
om uit te probeer!
KARAMELSOUS
250 ml (1 k) suiker
100 ml water
300 ml room
100ml vars lemoensap
skil van 1 lemoen, fyngerasper
15-30
ml (1-2 e) brandewyn en Van der Hum-likeur
1 Verhit
die suiker en water saam oor lae hitte tot die suiker gesmelt is.
2 Verhit tot kookpunt en kook totdat dit ‘n karamelkleur het.
3 Verhit en voeg die room by. Wees versigtig, want dit sal spat.
4 Voeg die lemoensap en -skil, brandewyn en Van der Hum-likeur by.
SJOKOLADESOUS
200 g
sjokolade van goeie gehalte, grof gekap
180 ml dun
room
½ houer (220g) Nutella-sjokolade-haselneutsmeer
60 ml Frangelico-likeur
1 Sit die sjokolade en room in ‘n bakkie oor ‘n kastrol pruttende
water (die bak moenie aan die water raak nie).
2 Roer tot die sjokolade gesmelt is.
3 Voeg die Nutella en likeur by en maak dit deurwarm.
4 Verwyder van die hitte.
5 Plaas kleefplastiek
op die oppervlak van die sous om te
voorkom dat n
skil bo op vorm.
LEMOENSTROOP
125
g suiker
60 ml lemoensap
160 ml water
2 heel steranys
1 vanieljepeul
30 ml lemoenlikeur
1 Verhit die suiker, lemoensap, water en steranys in ‘n kastrol oor
matige hitte en roer tot die suiker opgelos is.
2 Sny die vanieljepeul oop en skraap die saadjies uit.
3 Voeg die vanieljesaadjies en -peul by die suikerstroop en bring
tot kookpunt.
4 Verlaag die
hitte en laat prut tot ‘n dik stroop gevorm het.
5
Verwyder van die hitte en roer die lemoenlikeur by.
Rita vra :Wat kan mens doen vir naels wat so breek!! Behalwe om
Clicks vals
naels te koop of gel naels! Dankie! Rita
Liewe Rita,
Ja sjoe! Hierdie een bly ‘n tammeletjie! En ons wil almal so graag pragtige en
versorgde naels en hande hê! Ekself het net nou die dag weer "gelus" om ‘n
pakkie aanplak naels aan te skaf! Voor ek dit egter toegepas het, het
ek by
‘n nael deskundige gaan aanklop vir raad,en
die eerste wat sy gesê het is,
AS jy "Clicks"
naels wil probeer, om nie hul gom te gebruik nie maar by ‘n
nael terapeut die regte gom wat met akriel naels gebruik word aan te koop
en die kuns naels eerder daarmee te heg. Dit haal glo "asem" en beskadig
nie die naelbed soveel soos die ander gom nie.
Die naels moet egter nie vir langer as 10 dae aangehou word nie.
En moet onder geen omstandighede aan die naels trek krap of dit probeer
afskeur nie!
Dit moet afgeweek word met asetoon,
die beste manier is nie om jou vingers in ‘n
bakkie
te week nie maar te maak soos die kundiges, draai ‘n geweekte watte lappie
om elke nael en maak elkeen met foelie toe, hou dit ‘n ruk aan en die naels behoort
sag af te kom of op te los, verwyder die hardnekkige stukkies met ‘n
stomp tandestokkie.
Klaarblyklik verskil baie terapeute
oor die gebruik al dan nie van kunsnaels- te verstane,
dit
is hul inkomste,en wil baie daarom ook nie graag erken dat jou naels wel skade
kry met die aanhoudende gebruik van gel en akriel naels nie. Dit is egter so.
Die naelbed word dunner, sagter, swakker en meer geneig om te breek in
te skeur en te hak.Dit neem ook tot 8 maande lank om vanself uit te
groei en
volledig te herstel, en omdat die proses
so vol pyn en moeite is, hou meeste vrouens
aan om
onbepaald eerder die gel naels te dra! Die dame met wie ek gepraat het self,
gebruik al die afgelope 9 jaar pragtige akriel naels, maar beveel aan dat ons liewers
nie eers moet begin met gel of ander naels nie, maar ons
naels self moet versorg of
laat versorg,
te "buff" en te poleer en dan 2 lae versterkende naellak kleurloos of gekleur
2keer per week aan te wend. Laat rus dan die naels so elke tweede week
vir ‘n dag of twee
tussenin. Sy beveel
veral "Sally Hansen" aan.
Dit beteken nie
dat ek gel of akriel naels afskiet of beledig of sê dis uit nie!Vir daardie
spesiale geleentheid, doen dit proffessioneel en verwyder dit proffessioneel.
Soos aan alle dinge in die lewe is daar voor en nadele, kom ons doen
dit met balans
en die nodige oordeel, en beskerm
ons naels ten beste tussen in.
Hoop dit kon
help!
25 Julie
Dagsê Lesers!
WENK vir die week wat volg : Om heeldag by die werk te sit, veroorsaak
rug probleme.
Probeer om elke 15 minute op te staan
en jou bene te beweeg.
Maak ook seker dat jou knieë
hoër as jou sitvlak en heupe is terwyl jy sit.
Daar
is 'n gediggie wat sê:
As ek geweet het dis
die laaste keer
dat ek jou aan die slaap sou sien
raak,
sou ek meer moeite gedoen het
om jou warm toe te maak.
As ek geweet het dis die laaste keer
wat ek jou by die deur sien uitloop,
sou
ek jou gedruk en gesoen het -
en jou teruggeroep
het vir nog 'n drukkie.
As ek geweet het dis die
laaste keer
dat ek jou stem sou hoor,
sou ek dit op band op geneem
het sodat ek dit weer en weer kon speel.
Ons leef so asof daar nog baie tyd oor
is om
alles te doen wat ons graag wil . maar sê
nou vandag was die laaste kans !
Die Bybel sê:
" ons is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
"
Kom ons maak vandag tyd om te sê:
'Ek is jammer' of 'dankie' of 'ek waardeer jou'!
As môre dalk nie daar is nie, kom ons leef vandag voluit !
Resep vir die naweek:
‘n Interesante
variasie van die gewone SAGO poeding!
1 l melk
1 kaneel stokkie
90 g (1/2 kp) sago
70 g(1/4 kp) suiker
60 g botter
1/4 t (1 ml) sout
4 eiergele
1/4 t (1 ml) neutmuskaat
1 t vanilla
Bring melk en kaneelstokkie
in ‘n 2l kastrol tot koopkpunt.
Verwyder van
hitte.Voeg Sago by en sit deksel op. Laat week vir sowat 1 ½ uur .
Voorverhit oond tot 160C.
Klop
mengsel. Bring stadig tot kookpunt, roer vir eerste ruk aanhoudend om te
keer dat dit brand (Jy kan dit ook in Mikrogolf doen)
Kook tot sago deurskynend is.Verwyder die kaneelstokkie.Laat effe afkoel.
Klop eiergele, vanilla en neut en klits dit dan tesame met
die botter en suiker
by sago mengsel
in.Skep in ‘n gesmeerde 2l tertbak.
Halfvul
‘n groter oondbak met water (jou bain marie) en plaas jou bak met sago daarin .
Bak vir 1 ½ uur tot geset en goudbruin.
Haal uit oond en smeer 1/4 kp appelkoos konfyt bo-oor.
Vir meringue bolaag :
4 eier witte
2 Etl suiker
1/4 t (1 ml) kremetart
Klits die eierwitte
en kremetart liggies terwyl jy die suiker bietjies-bietjies byvoeg.
Klits tot stywe punte vorm.
Smeer bo-oor
die konfyt gesmeerde gebakte sago.
Bak nog
20 min tot die meringue goudbruin bo-op is.
Bedien
warm of koud.
22 Julie
Dagsê Lesers!
Geluk is ‘n Keuse.
Geluk is die krag gesetel in ons natuur om hoër uit te styg as
die uitdagings wat
ons soms in die gesig staar.Dit
is ook om te weet
dat soveel as wat ons toelaat sekere
situasies ons hartseer maak, ons ook kan kies
om
op die gelukkige oomblikke te fokus.
Wees daarom
doelbewus minder harteer en meermale meer gelukkig!
(
Vry vertaal. Gedagte van P Khanyile )
ELIZE VILJOEN skryf : WAT N LEKKER WEBSITE. HET NOU SO LEKKER
GEKUIER.
HET JY DALK N "SNACKLE-DOPPIE"
RESEP VIR MY, ASSEBLIEF. DIT KOM VAN JARE
TERUG
DAN HET DIE HANDVATSEL 3 VORMPIES WAT JY IN N BESLAG DRUK EN DAN IN
DIEP OLIE BRAAI. AGTERNA VUL JY DIT MET SOET OF SOUT VULSEL.
GROOT ASSEBLIEF. DANKIE RETHA. GROETE
Liewe Elize,
Dit is vir my verskriklik
lekker om op jou navraag te reageer!!
Dankie dat
jy saamkuier, en jammer jy moes wag maar ek moes gaan soek na die resep.
Ek weet presies waarna jy soek en hier is die oorspronklike resep wat saam met daardie
produk gekom het!! Dis in my eerste resepte boek opgeteken as
" MEIS SE WAFELTJIE VORM RESEP"( My sus was toe al getroud
en ek nog op skool
en sy het so 'n dingetjie
gehad!!.... Kan jy glo!
1. Klits 2 eiers,2tl suiker
en knippie sout
2. Voeg 1kp melk by
3. Klits goed
4. Voeg 1kp meel by
5. Meng tot glad
6. Maak vorm goed in die olie warm voor in deeg doop, en let daarop
dat die deeg
nie oor die bokante ook is nie!
7. Vul doppies met soet of sout vulsel net voor bediening.
Ek onthou sy het hare altyd met 'n caramel-vla of 'n tuna-mayonaise
vulsel gevul.
Dit was altyd 'n treffer! Hare het
skoenlappertjies, harte, "spades" en sirkeltjies gehad!
Voila!! Geniet dit!
Dagsê Liewe lesers !
JA-nee, die winter het ons in sy wurggreep, maar sonder die winter kan ons immers nie
uitsien na die komende lente nie !
Die gesegde lui mos nie verniet, dat diegene wat die reënboog soek,
ook die reën en donderweer moet verduur nie.
So, al waai die wind 'n hond uit 'n bos, en klapper ons tande,
geniet die Winter,
en alles wat daarmee gepaardgaan
en wees bly ons kan dit alles beleef, want dit beteken ons LEEF !
Ek wil graag aandag gee aan die volgende navrae en vra omverskoning dat jul so lank moes wag!
Diana Moolman, het gesê : My vriendin is 'n diabeet en is ek op soek na warm nagereg
resepte om te maak noudat dit so koud is. Kan jy my dalk help.
Beste Diana,
kom ons probeer, jy het al my ander raad hieroor gelees?
In KAMMANUUS sowel as hier op die werfie het ek al so een en ander oor hierdie onderwerp
gelaat, maar onthou asseblief, ek het dit al genoem, ek is nie
'n dieetkundige nie, so
ek maak ook net staat
op ander se inligting!
Onthou, verminder die
suiker en vette sover jy kan,en vermeerder die vesel inhoud.
Hoe stadiger die suikers vrygestel word hoe beter kan die diabeet dit hanteer.
Probeer die volgende 2 resepte wat ek raakgelees het: (Bron :www. Soettand!)
EK SOU DIT EGTER AS VOLG AANPAS, sien tussen hakies.
APPEL EN DADEL POEDING
250ml koekmeelblom ( Vervang met 200ml koekmeel en 50ml hawersemels of oatbran)
3ml sout
10ml bakpoeier
5ml kaneel
500ml witbroodkrummels (Vervang met lae GI bruinbroodkrummels)
2 appels, gerasper (Ek sou self nog 'n appel byvoeg, en LW gebruik die
Granny Smith appels! En rasper dit MET die skil aan.)
125ml dadels, gekap
125ml suiker (Vervang met 100ml se aanvaarbare versoeter vervang en
eerder nog 25ml dadels by)
100ml
botter (of Canola Margarien)
1 eier
30ml gouestroop (Vervang met 20ml heuning)
80ml melk ( afgeroomde melk)
Voorverhit die oond tot 180ºC.
Sif die koekmeelblom, sout, bakpoeier en die kaneel saam.
Meng dit met die witbroodkrummels, appels en die dadels.
Veroom die suiker en die botter.
Klits die
eier en die gouestroop by dit.
Meng dit saam met
die melk en die droë bestanddele.
Bak dit vir
45minute.
OUTYDSE KLAPPERPOEDING
2
groot eiers
125ml suiker ( Vervang weereens
met 100ml se suiker ekwivalent versoeter)
250ml witbroodkrummels
(Vervang met lae GI Bruinbrood krummels)
250ml melk
(Afgeroomde melk)
250ml klapper
1ml sout
Voorverhit die oond tot 180ºC.
Klits
die eiers en die suiker saam totdat dit lig en dik is.
Roer
die broodkrummels, melk, klapper en die sout by.
Meng
dit goed en giet dit in ‘n gesmeerde oondvaste bak van 20x15cm.
Bak dit vir 45minute totdat dit goudbruin is.
Liza Hollenbach,het geskryf : Ek is altyd opsoek na outydse
resepte dit is die
lekkerste ek gaan jou kluitjies
aflaai jy kan gerus meer male vir my stuur baie dankie.
Dankie
Liza,
ek hoop jy sal nog baie lekker resepte hier
op ons werfie raaklees!
Laat weet as jy ook iets
spesifieks in gedagte het!
Annamarie vra: Weet iemand dalk iets van epilepsie "grand
mal" bietjie raad
kan gee ek google dit alreeds
is moeilik om alles te verstaan.
Liewe Annamarie,
dis is juis nou net Nasionale Epilepsie week
gewees, 15-21 Junie,
en baie inligting is beskikbaar
op die werf : www.epilepsy.org.za
In kort,
Epilepsie word gekenmerk deur herhalende stuipverwante aanvalle oor 'n
uitgebreide tydsverloop.Dit affekteer nagenoeg 1 uit elke 100 mense, maar 80% van
gevalle kan beheer word met die regte medikasie.
Epilepsie kan die gevolg wees van brein beserings na 'n ongeluk, infeksie, hormonale
probleme, sirkulasie probleme of gewasse. Party kinders word daarmee
gebore.
In die meeste gevalle is die oorsake egter
nie duidelik nie.
Aanvalle kan veroorsaak of mee
gebring word deur 'n hele spektrum faktore, o.a. spanning,
sekere visuele stimulasie, soos flikkerende ligte,alkohol en dwelm/medikasie gebruik,
slaap deprivasie, 'n verandering in dieet of medikasie, oormaat kaffeine en swak
eetgewoontes wat lae bloedsuiker vlakke tot gevolg het.
Gedurende die aanval is daar onbeheerde en abnormale vrystelling van
elektriese en
chemiese aktiwiteit in die brein wat
intens en vinnig versprei tussen die senuweeselle
in
die brein. alhoewel die aanvalle sodanig nie lewens bedrygend is nie, is die newe
effekte of nagevolge van die aanvalle wel potensieel fataal.(bv. aanvalle tydens swem,
voertuig beheer, verstikking of versmoring tydens aanval, val en beserings
tydens aanval )
Dit is daarom belangrik dat elke
mens kennis behoort te dra van wat om te doen ingeval
daar
iemand 'n aanval in jou teenwoordigheid kry, en dat die regte medikasie aan die
persoon met epilepsie verskaf word.
Annabelle uit Doha skryf :Hallo Retha,Werk
die koper wenke ook vir silwer?
Beste Anabelle,
ek sou nie noodwendig dieselfde raad vir Koperware as vir
Silwer gebruik nie,sekere sure en soute sal die silwer juis laat verswart,
probeer liefs die volgende :
Gebruik 'n kommersiële produk soos Goddards, of Vryf jou silwer ware af
met 'n halwe suurlemoen en spoel af droog en poleer.
Of week oornag in 'n mengsel van koeksoda en asyn, borsel dan liggies
met 'n tandeborsel.
Jy kan selfs die silwerware met Maizena of babapoeier afvryf hoor ek!
Ans Jacobs,Nylstroom
wil weet : Wat beteken: "mapstieks"
eintlik
en waar kom dit vandaan??
Beste Ans,
die woord "mapstieks" word gebruik as uitroep van
verbasing soos gewoonlik in : " Alla Mapstieks ! "
Die herkoms daarvan is 'n eufemisme (versagtende vorm) van ons eie
Afrikaanse volks etimologiese vorm van "O Magtig ! " Inderdaad
ja!
Dan wil ek jul ook vertel van nog 'n gratis resepte werf : www.soettand.co.za
Gaan loer gerus of daar dalk iets is waarna jy al lankal soek.....Maar
!!!
Moenie van ons af wegbly nie, hier is dalk net
daardie stukkie uniekheid
wat jou hart laat warm
klop!
Mooi bly, Vra gerus, ek probeer graag help
!
Waarna verlang ons? Dalk beslis nie net na kos nie,
maar dit is tog asof ‘n bekende resep ‘n mens al wil-wil laat tuis voel
wáár mens jouself ook al bevind!
Vandag se resepte is vir diegene wat van die werk wil
afkom en sommer dadelik ‘n tuisgemaakte bord kos wil inskep,
sonder om eers voor die kospotte hoef in te skuif!
En dit is boonop genoeg dat daar sal oorbly vir nog
‘n keer se eet!
Maak dus en vries of bêre
‘n porsie daarvan vir nog ‘n aand se mikro-opwarm!
Die volgende resepte is geskik vir voorbereiding in ‘n PRUTPOT
(Slow-Cooker) of in ‘n keramiek pot in die oond. (Argilla potte werk uitstekend)
Wanneer jy hierdie geregte in die oond wil maak, kan dit so @ 2uur Middag
in die oond gesit word op 150 - 180grade en sal gereedwees @ huis toe
kom tyd.
Oond tye het gewoonlik sowat 2- 3
ure bak tyd nodig. Gebruik dus die oond metode
oor
naweke of wanneer jy nie te haastig is nie. Kos is gaar wanneer daar nie meer
bloed uit die vleis kom as jy dit langs die been oopsny nie en wanneer die sous
heilsaam dik en geurig daar uitsien. Dit kan egter ook oornag
@ 150 grade gaar
gemaak word, die volgende
oggend goed afgekoel in yskas gehou word vir
opwarming
na werk, maar dit is nie die ideaal nie.
In die PRUTPOT
kan dit egter vinnig soggens voor werk alles in die pot gegooi word,
en as jy vanmiddag instap is dit gereed vir eet!
En hoe lank kan die kerf van ‘n piesang of ‘n tamatie daarby jou vat?
RYS kan by meeste geregte gevoeg word, of apart gekook word.
Apart : In Mikro, kook 1kp Rys, 2kp water en bietjie sout vir 25-30 minute op Hoog.
Gaar Rys hou veilig vir 5 dae in yskas.
Of maak een aand vir jou ‘n koppie Ryspoeding saam met jou ete!
Of probeer die roerbraai opsie hieronder...
Wanneer jy Rys saam met die gereg maak, plaas altyd 1kp Rys + 2kp water
onder in die bak/pot en dan volg die res van jou resep...
Roerbraai fyngekapte groenrissies, sampioene en uie tot gaar en goudbruin,
geur met aromat, pietersielie (verkieslik vars ongedroog), tiemie, swart peper
en bietjie Sojasous.
Roer gaar rys in en roerbraai alles vir nog ‘n minuut saam.
As daar hiervan oorbly, kan jy more aand net ‘n gekapte
tamatie, gebraaide spek
of hoender stukkies en ‘n
groot lepel Mayonaise byroer, en Voila!!
Nog
‘n vinnige slaai of kitsete
Vir RYSPOEDING:
Kook 2 kp melk op, voeg 1kp gaar rys daarby.
Klop
2 eiergele met 125ml suiker en knippie sout en roer dit by die
warm melk en rys in.
Vou nou 2 styfgeklopte
eierwitte in, en 2.5ml vanilla
of 2 Etl appelkooskonfyt.
Skep in gesmeerde bakskottel en bak in oond by 180
grade C
tot gestol en mooi goudbruin. Dien op met
heuning of gestoofde
droë vrugte!
Jy kan selfs die geklopte eierwitte i.p.v inroer , bo-op sit vir ‘n
meringue-lagie, in die geval klop 25ml suiker saam
met die
eierwitte tot styf, smeer bo-oor en bak
dan.
Kerrie (...en Rys)
Braai uie
tot sag en goudbruin in pannetjie op stoof.
Roer
daarby 1 - 2 tl kerrie, 1tl borrie, 1tl gemengde vleis speserye,
sout en peper, ½ kp appelkooskonfyt en ½ kp sultanas.
Plaas vleis ( beeskook, skenkels, skaaprib, maalvleis...) onder in pot
( of bo-oor rys en water in pot)
Bedek vleis met ‘n lagie ertappels en 1kp gevriesde gemengde groente.
Skep nou uie en speserye mengsel bo-oor.
Sit pot se deksel op, stel op outomaties of Med Hoog, en gaan werk!
Hoender (....en Rys)
Strooi bietjie
bruin uiesop poeier onder in pot of bo oor rys .
Peper
na smaak NIE SOUT NIE, die soppoeier het genoeg in!
Bedek
met lagie van opgesnyde 2wortels, 2ertappels, 500g sampioene en 1 ui .
Strooi lagie bruin uiesop poeier bo oor.
Plaas
nou 5 hoenderporsies ( tjoppies of frikkadelle) bo-op groente,
nog soppoeier, vleis of hoender speserye en nog 125 ml water.
Sit deksel op sit pot aan en gaan werk...
Skaapnek...
6-8 Skaapnek "tjops"
200ml koekmeel,
sout, peper en aromat
3 ryp tamaties in skywe gesny.
1 groot ui in ringe gesny
100ml Chutney, 50ml tamatiesous en 200ml water.
Meng meel, speserye in plastieksak, en skud die "tjops" daarin tot goed
bedek met meel en speserye.
Pak
nou lae vleis, tamatie en uie in pot.
Meng die Chutney,
tamatiesous en water en gooi bo oor.
Sit deksel op
en laat prut tot jy huis toe kom!
En Sjoe!! van vleis alleen kan mens tog nie lewe nie!
Pasta-gereg.
1kp Pasta , 125ml gekapte spek / maalvleis , 1 gekapte ui, groenrissie en
sampioene opsioneel, Aromat na smaak, 60 g sampioen of wit uie
sop poeier,
2 kp melk.
Meng alles saam en plaas in Argilla bak.
Mikro dit vir 20 - 25 minute op hoog en laat staan vir so 5 minute voor opdiening.
Lekker saam met ‘n slaaitjie.
Of, Meng alles saam en plaas in Prutpot, sit deksel op en
gaan werk!
Wanneer jy tuiskom strooi 1kp gerasperde
kaas bo-oor gereg.
Boontjie Bredie.
Ja- ja, jy kan ook hierin klein stukkies skenkelvleis of spek heel onder in pot sit!
Meng 2 kp gekerfde groenbone, 3 middelslag aartappels in blokkies, 1 gekapte ui,
1 gekapte tamatie, 2 Etl margarien of 2 Etl room, sout en peper na
smaak.
Bedek en laat prut!
Vinnige
Vis-dis!
750g Stokvis (Hake)
250ml room of melk
1pk wit uie soppoeier
3 tamaties in skywe
en 1 groot ui in ringe gesny
Handvol kaas.
Pak vis, tamatie en uie in pot, (met of sonder rys) of bo op
enkel lagie klein
ongeskilde aartappeltjies
.
Meng res van bestanddele en gooi bo oor vis.
Sit deksel op en prut tot gaar.
OF
Bak in oondbak OOP @160 grade C op middelste oondrak vir sowat
45 minute.
Gooi kaas oor wanneer gaar.
Heerlik saam met wortel-ertjies of slaai.
Voila! Hoop dit sorg vir ‘n paar aandetes sonder moeite!
Liewe Lesers!
Saam met die Herfs het die verkoue en griep simptome my neus en keel
betrek tot 'n benoude kuggie en waterige ogies, die geheim van
hoendersop en
baie tee is al wat werk! En hier op
die plaas, as die tissues opraak dra jy sommer
die
hele toiletrol met jou saam!
Selfs die skaaphond
lê al met sy pote oor sy ore teen al die gesnuit en mý geblaf
en wens vir 'n stappie maar helaas !Tog is die absolute Herfs-stilte hier om my vredig,
jy kan amper die blare hoor val. Ek het net hierdie week vir die tuinman
gevra om
asseblief die blare te los, die geweghark
en wegvat van blare is myns insiens totaal
onnodig
en verspot, hoe kan jy ooit Herfs wil wegvee en in sakke stop om op 'n
vullishoop te gooi? Los die blare dat dit val en dwarrel en draai en die sonlig kan weerkaats!
Elke bruin oranje en geel wonderwerk die voorspel tot die
wit van die winter, die warm
kleure wat mens moet
inasem vir die koue wit dae wat kom bly kosbaar, soos speserye
oor pannekoek, dis wat die herfs vir my is, die speserye oor die winterwit.
Ons het al almal hanne-innie-hare
gesit oor hardnekkige en ongewenste vlekke.
Wel,
vandag se Wenwenke is :
*Behandel alle vlekke
so gou moontlik!
*Gebruik altyd ‘n handdoek
of handdoekpapier aan die onderkant van die vlek
sodat
die vloeistof en vleksousies nie deursyfer na die materiaal daaronder nie.
*Sommige kolle sal deur hitte weerstandig gemaak word maar VET en KERRIE
word maklik uit wasbare materiaal verwyder deur kookwater uit die ketel
vanaf ‘n hoë afstand daarop te gooi.
Maak jou kledingstuk met wasknypers om die rand van ‘n skottel
vas met die vlek in die
middel en gooi die kookwater
dan vanaf sowat 1m direk daarop. Was gewoonweg daarna.
*Baie
vlekke op wit of kleurvaste materiaal reageer gunstig op Domestos, Handy Andy, of
‘n spuitsel Doom, pas net op dit kan ander kleure bleik!
Probeer ook Suurlemoensap, Bloekomolie en waterstofperoksied op ‘n vlek
voor jy moedeloos raak!
*Alkohol vlekke : verwyder met een deel wit asyn en 3 dele louwarm water.
*Beetvlekke : Vryf vlek in met sout en spons daarna af met warm water.
Of gooi Boraks op vlek en giet kookwater daarop soos hierbo verduidelik.
*Bloed : Bedek vlek met vleis-sagmaakmiddel (Meat Tenderizer) en bietjie
koue water. Week so rukkie en was in koue water en seep.
Ou bloedvlekke kan met ‘n pasta van mielieblom ingevryf word
en in die son
laat lê word om te bleik. Vlekke
kan ook oornag in wit asynwater geweek word.
*Ink
: Vryf vlekke uit met wit Spiritus of Dettol. Vlekke op ligte leer, kan met
Wit dulsies uitgevryf word. Inkkolle kan ook in melk of karringmelk geweek word,
of hou die kol klam en sprinkel Steradent daarop, was daarna met amoniak
en
warm water.
*Ghries en olievlekke: vee vlek af met Dettol en spoel in skoon water,
of week vlekke in Dettol en was daarna .Of spuit met Doom, wag rukkie en
was dan.
*Gom se moses is wit asyn of brandspiritus.
*Kougom : sit kledingstuk in vrieskas en krap dit later af, of
gebruik Doom, en vryf af.
*Droë Modder:
borsel dit af en vryf dan met ‘n halwe rou aartappel, borsel weer af
wanneer droog, was dan soos gewoonweg.
*Moerbeivlekke, vryf met ‘n groen moerbei of moerbeiblaar oor vlek en was gewoonweg.
*Mufkolle : Dis ‘n Fungus en nie ‘n vlek nie en kan materiaal vernietig,
smeer kolle
in met seep en laat in son droogword
voor jy dit was.Herhaal tot kolle verdwyn.
Dit kan
ook oornag in suurmelk geweek word ( as jy nie suurmelk het nie meng
1kp melk met 2Etl suurlemoensap)
Dit kan
ook oornag in ‘n chloorkalk oplossing geweek word,
laat eers uitdroog voor jy dit was.
Vryf
kleiner kolle met waterstofperoksied, laat droogword en was daarna.
*Strykyster Skroeimerke : Net as die materiaal nie beskadig of deurgebrand is nie!
Vryf vlek met ‘n halwe ui, en spoel daarna uit in koue water.
Genoeg van vlekke, laat weet maar as jy nog hardnekkige
vlekke het wat nie na dese wil uit nie!
Liewe Lesers!
Ja-nee, ek hoop en vertrou dat dit met jul almal wel is? Wel ek het heerlike
nuus!
Ons was bevoorreg om weer vir amper drie weke
in Namibië te gaan toer, en daardie
land se
mooi kry jy nooit uit jou siel nie!
Dit is
soos asemhaal en rooiwyn voor ‘n kaggel...welbehaaglikheid op sy beste!
Wel met al die kampery, kan ek nie anders as om hierdie bydrae met jul te deel nie,
dit kan net nie anders nie en moet handel oor KAMP en KAMPKOS!!
Die beste raat wat ek het, is om nooit te veel goed saam te piekel
nie want die
lekkerte lê dikwels verskuil in
daardie planne wat jy moet beraam vir daardie
"iets-maak-in-die-plek-van-iets-vergete!"
En my tweede beste raat? Geniet dit net!!Alles, nes dit kom!Vergewe
jouself jou
deurmekaar kapsel, en jou doelbewuste
vergeet van die tegnologiese eeu waarin
ons leef,
vergun jou net die luukse van ‘n kamera, en die genade van
Bo wat jou alles gun...
Saam met ons kole-steak was die volgende Sousie telkens die wenner:
Sny 1 ui, 1pak sampioene,1soetrissie in stukkies en braai in olie.
Roer daarby 1klein houertjie room in en kook oor stadige hitte.
Meng nou 2 kp melk met 1 pakkie Knorr / Royco RomerigeKaasSous en 1
pakkie SwartPeperSous.Gooi dit by res van bestanddele in pot.
Roer tot weer opkook.
Heerlik!
Die WEG het so ‘n tyd gelede ‘n klein kampkos boekie uitgegee, en ons het ‘n
paar daarvan ook uitgetoets!
VARKTJOPS IN FOELIE
6 stukke
foelie
6 varktjops
botter
1 groot papat in skywe
2 appels in skywe met skil
sout en peper na smaak
suiker
gemmer
Smeer
die foelie met botter.
Braai tjops oor kole vinnig
tot net bruin, en sit op foelie.
Sit skyfies patat
en appels op elkeen, geur met die res van die bestanddele na smaak.
Vou netjies toe en rooster verder oor warm kole vir sowat halfuur!
ASKOEK
1kp bruismeel
1tl bakpoeier
1tl sout
¼ tot ½ kp warm water
1 Etl Olie
Meng meel,bakpoeier
en sout.
Meng water en olie in tot slap vormbare
deeg. Rol in ‘n bal, en druk plat.
Sit
die "koek" op die kole en skep ‘n paar kole bo-op.
Laat bak vir sowat halfuur.Skud as behoorlik af en Voila!!
Liewe Lesers!
Ek het intussen nog 'n baie interessante brokkie nuus ontvang vir
Termiet en
Rysmiere wat 'n probleem is!
Rysmiere vreet nie soseer die gras ens. wat hul indra nie, maar
"kweek" daarop
mikro sampioentjies!! En dit
eet hul dan graag! Die hele proses van organiese afbreek
en verrotting jul weet mos?
Hul teer
dus eerder op die newe produk wat bietjie verder op die voedselketting
plaasvind as op die gras of saagsels...
Wenkem het laat weet, dat goeie raad is, om orals waar die rysmiere in die
veld of in store waar hul maklik opspoorbaar is, 'n groot hoop kaf, strooi of saagsels
wat met swamdoder deurdrenk is te gooi. Die Rysmiere dra dit dan in
hul neste in,
hul vrek nie soseer daarvan nie maar
aangesien geen swamme kan groei om dit
verder af
te breek waarop hulle kon teer nie, het die termiete of rysmiere sodoende
nie meer kos nie en trek hul weg na jou buurman se veld waar daar nie
swambestrydende kos is nie...!
Enige kommentaar hierop is meer as welkom!
Dagsê Vriende,
Hier in die Karoo word dit nou sterk Herfs en die blare-tapyte verander
nou
daagliks in geel-oranje intensiteite! Tyd vir
Trooskos is amper hier, maar ek
sal dit nie vooruit
loop nie, die kaal stam wit gerypte wintertyd voor warm
kaggels kom wanneer dit moet!
Vroegoggend
hier by ons as die misbank lig en dit groendruppelkristalle op die
oggendgras en lusern agterlaat om die son te kaats, stap wit ganse lui drentellend
al langs die appelkoos boord op en gesels luidkeels snawellend oor hul nat pote,
en
wanneer die punte van hul vlerke kort-kort die
lug in klap, gooi hul 'n wasige sproeireën
oor
mekaar uit, dan lig die koppe op die lang nekke soos wafferse swane
en word luidkeels van vooraf geraas!
Vra ‘n leseres my, Antjie, wat maak mens dat die konfyt nie uit
die konfyttertjies uitkook nie!
En Mariet vra hoe
maak mens koper blink?
Wel Antjie, jy kan
*of probeer om die skilferkors doppies eers te bak en dan die konfyt
na die tyd
met ‘n versierspuitjie in die gaar
tertjies te spuit,
*of, plaas op die onderste
skilferkors sirkeltjie nog een met ‘n gaatjie in die middel,
wanneer dit bak maak dit ‘n lieflike doppie waarin jy die konfyt
(of selfs melktert vulsels met kaneel oor) met ‘n teelepel in
kan skep.
Doen die konfyt inskep wanneer die doppies
nog warm uit die oond kom.
Die melktert vulsels
as dit reeds afgekoel het anders word die skilferkorsdoppies pap.
*Wanneer jy toe tertjies wil maak, verseël jou rou tertjies deur dit toe te plak en
te verf met eierwit.
*Nog raad is om die konfyt weer oor te kook tot dit goed dik is,
*of meng die konfyt vooraf met ‘n bietjie meelblom.
Om Koper blink te maak
is daar baie raad, kies dus maar self watter een jy op die
proef wil stel Mariet!
My gunsteling
is gewone suurlemoensap of asyn of tamatiesous (ja regtig!) of as
ek erg haastig is, was ek gewoon die kopergoed af met wat ons Saners ken as Domestos!
Ek vryf dit net liggies oor die merke en blinkgoed, en spoel dit onder baie warm
water af en Voila!
Maar eerlik? Niks kom werklik by die gewone elmboog-aksie van afvryf en poets nie,
so moenie dit vir altyd uitlaat nie.
En moenie die kalmerende uitwerking hiervan onderskat nie. Gaan sit met jou bene
uitgestrek op ‘n lekker dik kombers in die wintersonnetjie, verskans
agter ‘n
spreekwoordelike kraalmuur buite bereik
van die windjie, en gesinslede wat jou
wil pla, jou
kopergoed soos glinsterende juwele om jou uitgestal in die bleek sonnetjie,
‘n koppie tee langs jou en net die stilte van jou herfs of wintertuin as begeleiding.
Maar jy kan enige tyd die volgende meer "tradisionele"
wenke ook probeer:
*Verwyder vlekke deur ‘n
halwe suurlemoen in sout te doop en daarmee oor die
vlekke
te vryf, was dan en poets soos gewoonlik met koperpolitoer.
*Gooi bietjie brandspiritus by Brasso en die koper sal nie net pragtig blink nie dit
sal ook nie weer so gou aanslaan nie.
*Week die koper in ‘n oplossing van 12.5ml Harpic in 1 L water. Was dan met
water en seep, droog af en poets.
*Gebruik ‘n poetsmiddel van gelyke dele vollersaarde, ammoniak en terpentyn,
vryf die koper hiermee en was af in baie warm water, droog af.
*of 1 deel meelblom 1 deel stysel en 2 dele asyn, vryf die koper hiermee
en was
af in baie warm water, droog af.
*wat ook goed werk is , as jy 1l warm water met 5ml wynsteensuur en 5 ml
opwasmiddel meng, was die koper hiermee, droog af en vryf blink.
Spuit dan die koper met haarsproei en dit sal ook nie gou weer aanslaan
nie.
*Jy kan ook die koper na dit afgedroog is met
‘n lappie afvee wat in olyfolie gedoop is.
Dagsê Lesers !
Twee Kammaland vriendinne het aan ons die volgende resepte gestuur,
dit klink heerlik! Baie Dankie aan jul altwee! Die kluitjies resep is werklik
‘n treffer,
dit is heerlik as "bykos"
wanneer julle kamp want dis vullend,nie ‘n aparte gereg met
nog skottelgoed nie, maklik en nie net alweer brood, ertappels of pap nie...!
Dis selfs heerlik bo-op opgekookte vars ertjies!
Kook jou erte net op in suiker water met ‘n klontjie botter in, met die degies daarop!
Selfs kinders wat nie erte wil eet nie omdat dit kwansuis so rondrol...
sal nou geen verskonings kan uitdink nie!
Dankie Anita Bredenkamp vir jou bydrae!
Sy sê :
'n Heerlike kluitjie
resep wat jy bo-op die vleis in potjie kos kan sit,
of in die oond bo-oor vleis.
Kluitjies
oor Vleis:
2 K meel
1 t sout
1/4 t peper
4 t bakpoeier
1 eier goed geklits
2 1/2 eetlepel botter
of vet
3/4 k melk
Sif die droë bestanddele saam.
Voeg die eier, gesmelte smeer en melk by om 'n taamlike stywe drupdeeg
bo-op die vleis te sit (nie in die sous nie) Maak dig toe en stowe verder vir
15 tot 20 minute Moenie die deksel in die tyd oplig nie!
Dien dadelik op
Mirtie Scheepers
het hierdie Heerlike Gemmerkoekie resep vir ons aangestuur.
Baie Dankie daarvoor Mirtie, ek is seker baie lesers sal bly wees daaroor!
500 g sagte botter
500
ml sagte bruinsuiker
250 ml goue stroop
sowat 80 ml gemmerkonserf (stukke), gedreineer en fyn opgekap
1 kg bruismeel
10 ml elk koeksoda en kremetart
5 ml sout
2 ml gemaalde gemmer
2 eiers, geklits
ekstra koekmeel, indien nodig
Sif die droë bestanddele by die bottermengsel in en meng goed saam.
Voeg die eiers by en meng saam tot n sagte deeg. Neem ekstra meel op die
hande as die deeg te onhanteerbaar is.
Vorm klein balletjies en plaas op gesmeerde bakplaat, of rol uit en druk vormpies uit.
Lidia v d Merwe het geskryf : Ek is altyd opsoek na lekker ou en nuwe resepte wat
goedkoop,MAKLIK EN VINNIG is. Oulike idees is ook welkom.
Ek is veral op soek na snack-resepte vir rugby kuiers en verjaarsdae.
Kan iemand help.
Wel Lidia,
ek is seker daar gaan heelwat resepte hiervoor vir jou inkom wat ek kan plaas vir almal!
En het jy al na die E-resepte boeke van Anna Eksteen onder ons ander skakel
BOEKWINKEL geloer? Daar is voorwaar heerlike treffers!
Omdat jy vir meer as een resep vra, wil ek jou weer vra dat jy ons
Kammanuus
NUUSBRIEF sal dophou, ek plaas ‘n
hele paar resepte daar vir jou!
Maar hier is
solank ‘n staatmakertjie wat jy kan uitoets:
MY
SAGTE PASTEITJIES
Breek 2 eiers in ‘n
koppie, vul die koppie verder tot vol aan met melk.
Gooi
in mengbak. Klits ½ kp olie daarby.
Roer
1 kp bruismeel , knippie sout en ½ tl aromat by.
(By sout happie, as jy soet vulsel gebruik laat Aromat weg!)
Skep nou ‘n tl van die sagte degie in ‘n kolwyntjiepan, skep ‘n tl gaar vleis
bo-op,
skep nog ‘n tl deeg bo-oor vulsel.
Bak by 180 grade tot goudbruin en gaar.
** Ek skep sommer net die deeg en dan die vulsel met
bietjie kaas bo-oor.
Makliker kan jy nie kry nie!
En jou moontlikhede is eindeloos!
gebruik as
vulsel : gaar maalvleis en uie , of blikkies vleis, spek en kaas...
en vir iets soets : room-mielies , ingemaakte stukkies perske of aarbeie of kersies...
met klontjie room .
Stout ek weet, maar ai, soms is room tog so onafwendbaar !
Anna-Marie Jansen skryf die
outydse soetkoekie resep
is nou regtig n resep wat
sy lankal gesoek het wat van n regte egte melkkos
resep
die outydse een!
Ja Annemarie jy verwys natuurlik
na die een met die snysels in?
Wel SO MAAK MENS:
(Uit Anna se ONTHOU JY NOG?)
MELKKOS:
SNYSELS:
3 eiers
2,5ml sout
250ml koekmeelblom
water
kokende melk
2 stukke heel kaneel (opsioneel)
kaneelsuiker
Klits eiers en sout effens.
Voeg koekmeelblom by en meng goed.
Voeg genoeg water by om 'n stywe deeg te vorm.
Knie
deeg lank en goed tot dit elasties is.
Rol sowat
6mm uit op 'n meel bestrooide oppervlak uit.
Sny
met 'n skerp mes in dun repies. Kook die snysels sowat 15-30 minute
lank in kokende melk (gebruik 250 ml melk per persoon) tot dit gaar is.
Voeg 2 stukke heel kaneel by indien verkies.
Skep in diep borde en strooi kaneelsuiker oor.
Voila!!
Judith Overman skryf : Ek is op soek na 'n maklike koeksister resep.
My pogings het tot nou toe altyd misluk.
Wel Judith (liewe naamgenoot!!) SO MAAK MENS :
Stroop:
7 kp water
1 Etl kremetart
3 stukke gemmer ( as
jy nie het nie sal 2 Tl fyn gemmer ook werk)
14 kp
suiker!!
2 Etl stroop
Kook water, suiker en gemmer vir 3 minute,haal af en voeg kremetart en stroop
by.
( Ek verkies om ook hier sap van 1 suurlemoen
by te sit dit maak
die stroop mooi helder en gee
lekker smaak.) Sit oornag in yskas.
Koeksister deeg
:
3 kp meel (hoogvol)
2 tl bakpoeier
2 eiers
1 ½ kp melk en water
gemeng
1 Etl margarien
knippie sout
Meng droë bestandele, en vryf botter in. Klits eiers en vloeistof.
Maak alles aan en knie vir 10 minute! Laat deeg rus vir so 3 ure in yskas.
rol nou jou deeg uit, sny jou koeksister vingertjies, vleg dit, bak dit soos
vetkoek in olie, en as dit goudbruin is dompel dit in die yskoue stroop.
Laat afdrup op druprak.
Laat weet asseblief of dit jou kon help ek het nog ander resepte ook wat jy kan uitoets!
NS. Het jy al Skuinskoek gemaak? (Tipiese Namakwalandse lekkerny.)
Gebruik dieselfde stroop as hierbo, maak klein ronde vetkoekies,
of rol
die deeg in ‘n "wurm"
sny stukke ewe groot met ‘n mes af
(vandaar
die naam "Skuinskoek") en bak soos gewone vetkoek
(Nie te groot nie hoor!!)
Sodra
dit gaar en bruin is, dompel vinnig in die stroop en laat afdrup.
Skuinskoek moet nie so baie stroop trek soos koeksisters nie.
Skuinskoek kan bestrooi word met versiersuiker na dit afgedrup het.
Hoop dit kon help!
‘n Leseres,
Marie vd Berg, het iets soets gevra
vir haar soettand-diabeet.
Dalk is daar nog lesers wat hierin belang stel!
Liewe
Soettand-Diabetes vriende.Ek wil begin deur te bieg en te sê
ek is glad nie ‘n dieetkundige nie,
ook
dat ek myself nooit as een sal voorgee nie, maar ek leer vinnig,
graag en ek's ‘n aards-agie!
Saam
met julle leer en vra en soek ek ook graag na oplossings!
Die volgende kan ek met redelike vertroue met julle deel!
(Bronne : Die suiker-sleutel, The Natural Way en my vriendin Minnie
met ‘n Diabeet tiener!)
Wenke:
*Die suiker alleen is nie die gif nie, gebruik lae GI kosse,
meer vesels en nie te veel vet nie.
*10 gevriesde druiwe korrels is ‘n porsie. Vries die vrugte, dis amper roomys mos!!
*Dadels is jou soettand se beste vriend. Soet, dekadent, en vol vesel
en goedheid!
*Eerder bietjie suiker as kunsmatige
versoeter, want die diabeet se liggaam
reageer daarop
amper netsoos op suiker, so albei is eintlik ewe nadelig!
(Auch!) *Amandels en Pekanneute is beter opsie as Macadamia's.
*Wanneer jy hawermout in bv. pannekoek of gebak gebruik, vervang dit
met hawersemels, dit maak ligter gebak en die vesel inhoud is hoër.
*Ongegeurde springmielies of gegeur met ‘n ½ pakkie vanilla
gegeurde
Canderal poeier bly ‘n lekker krakerige
soetheid.
VRUGTE EN NEUTE HAPPIES.(2 opsies)
½
kp baie fyn gekapte droë mango (of ander droë vrugte) ½ kp gekapte
Macadamia's ( of Pekans) ½ tl fyn kaneel 1kp grondboontjie botter
OF 1kp fyn gekapte dadels 1kp fyn gekapte droë appelkose
½ kp fyn
gekapte Pekans ½ kp
Macadamias
Meng alles baie goed. Rol in balletjies
en rol balletjies in klapper of sesamsade.
PANNEKOEK
1kp volgraankoekmeelblom
¼
tl sout
1 eier
1kp +3Etl melk
1 ½ tl vanielje of vanilla (Ai man dis darem 2 mooi Afrikaanse spellings!!)
botter of olie vir bak.
Meng meel en sout, klits eier en roer melk en vanilla in.
Voeg by meel en meng als goed.
As beslag te dik is, meng 1-2 Etl water by.
Bak sowat 3Etl beslag per pannekoek in 20cm grote pan.
Lekker vulsel : Meng : ½ kp gewone jogurt met 1 fyn gedrukte piesang,
paar druppels suurlemoensap en ½ tl kaneel.
RYK EN ROMERIGE BRUINRYS NAGEREG
3kp
vannillasojamelk (of gewone melk)
½ kp rou
bruinrys
½ tl sout
¼ tl varsgerasperde neutmuskaat
2 eiers liggiies geklop
½
kp droëkersies.
Meng melk, rys, sout en
neutmuskaat in middelgroot kastrol.
Bring tot
kookpunt oor hoë hitte. Verlaag hitte tot laag, sit deksel op
en laat sowat 45 minute prut. Laat effe afkoel.
Roer ½ kp van die rysmengsel in die eiers in, roer aanhoudend, roer dit
nou by die res van die rysmengsel in die kastrol by. Roer kersies
in.
Plaas terug oor matige hitte en kook
tot verdik.
Roer kort kort dat dit nie
aanbrand nie.
Bedien warm of koud.
Voila! Laat weet of jou soettand hiervan gehou het hoor!
18 Julie
Liewe Lesers,
Kry ek op hierdie koue dag ‘n wonderlike epos vol smul resepte wat ek net moet deel!
Daar is min dinge so lekker soos pannekoek of plaatkoekies op ‘n koue winterdag.


Sodra die eerste reënvlae ons tref of die snerpende
koue almal na hul musse en serpe laat gryp,
wil
almal mos dadelik weet wanneer word die pannekoek gebak!Pannekoek,
wafels en plaatkoekies is ‘n bederf waarvoor min mense nee dankie kan sê,
of dit nou gevul is, mildelik bedruip word met stroop en room,
of doodeenvoudig met kaneelsuiker en suurlemoen voorgesit word.
Pannekoeke, wafels en plaatkoekies word alles van ‘n lopende
beslag gemaak
- die verskil lê in
die dikte van die beslag, hoe dit lyk en hoeveel rysmiddels dit bevat.
Pannekoekbeslag is baie vloeibaar, ongeveer so dik soos dik room,
en plaatkoekiebeslag is effens dikker.
Wafelbeslag bevat rysmiddel, maar pannekoekbeslag min of niks.
ALGEMENE WENKE:
* Die
beslag moet glad wees en kan met die hand of met ‘n elektriese klitser
aangemaak word.
* Dit moet
dertig minute of langer staan voor dit gebak word en moenie weer
geroer word nie.
* Die mengsels moet op ‘n
warm oppervlak gebraai word en nie omgekeer
word
voor dit aan die onderkant styf en gaar is nie.
*
Pannekoek, wafels en plaatkoekies is die lekkerste warm en vars gebak!
Vir dun pannekoeke moet die beslag vloeibaar wees sodat dit vinnig in ‘n dun
lagie oor die boom van ‘n warm pan kan uitsprei. Beslag sonder rysmiddels is
ook gewoonlik dunner.
* Dik pannekoek se beslag is dikker. Dit bevat bakpoeier, en styf geklitste eierwitte
word ingevou, wat dit baie soos plaatkoekies se beslag maak.
* Gebruik ‘n dikboompan, laat dit goed warm word en bestryk die
boom met olie
van ‘n goeie gehalte. Giet die
oortollige olie af. Dit behoort nie nodig te wees
om
die pan weer te smeer nie.
* Die pan moet goed
warm wees wanneer die beslag ingegooi word. Gebruik
'n
maatkoppie of sop-opskeplepel en gooi elke keer ewe veel en net genoeg
beslag in die pan.
* Skud die
pannekoek los sodra die rand styf en effens droog lyk. Draai dit om
met ‘n slaplemmes of eierspaan, of as jy dapper is, gooi dit om en laat dit aan
die ander kant ligbruin word. Laat die pannekoek op ‘n warm bord
uitgly.
* Hou pannekoeke warm deur dit met
velle waspapier tussenin op mekaar te
stapel op ‘n
bord wat oor kookwater gesit is. As jy pannekoeke in die oond
warm hou, word dit taai.
* Diegene
wat sagter pannekoeke verkies, kan brandewyn of suurlemoensap by
die beslag roer.
PANNEKOEK:
140
g koekmeelblom (250 ml)
5 ml bakpoeier
2 ml sout
2 eiers
200 ml melk
175 ml water
5 ml suurlemoensap
125 ml sonneblomolie
1 Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
2 Klits die eiers, melk en suurlemoensap saam.
3 Voeg die meelmengsel by en meng dit goed.
4 Voeg die olie by en meng goed om ‘n beslag, so dik soos room, te verkry.
5 Laat dit ‘n rukkie staan.
6 Smeer ‘n braaipan, liefs een met ‘n kleefwerende afwerking, baie effens met
sonneblomolie en verhit dit tot goed warm.
7 Roer die beslag en bak pannekoeke daarvan.
Lewer nagenoeg 12 middelslag pannekoeke..
WAFELS.
4 eiergele
½ k melk
160 ml olie
6 el suiker (90ml)
2 tl sout
3 k gesifte meel
20 ml bakpoeier
4 styf geklopte eierwitte
1 Meng eerste
vyf bestanddele goed. Voeg droë bestanddele by.
2
Meng saam tot glad (nie te veel nie).
3 Vou eierwitte
in. Bak in wafelpan.
PLAATKOEKIES.
440 ml meelblom
10 ml bakpoeier
Knippie sout
25 ml suiker
410g
IDEAL melk
1 eier
12.5 ml olie
1 Sif droë bestanddele saam en klits eier en melk.
2 Voeg droë bestanddele by melk en eier. Klits goed.
3 Laat staan vir 25 minute.
4 Skep met lepel op gesmeerde bakplaat.
5
Keer om wanneer borreltjies bo-op bars.
6 Plaas
plaatkoekies tussen gevoude doek op ‘n draadrakkie en
laat daarin afkoel. Sit in bak met deksel. LW: Die geheim lê in die
afkoelproses.
Smullekker plaatkoekies
kan ook met vulsels gebak word.
Skep die vulsel
op die plaatkoekies sodra die beslag begin stol en voordat dit omgedraai word.
Om die vulsel in die plaatkoekies te verseël,skep nog ‘n bietjie beslag bo-oor, laat
net stol en keer om.
PLAATKOEKIES MET SOUT
VULSELS
Groenteplaatkoekies:
Hou gereed vir 1 x resep plaatkoekiebeslag
ongeveer 250g geblansjeerde (tot kookpunt verhit en in koue water
afgespoel) groente in repies gesny,
soos sagte jong
groenboontjies, wortel, prei, aspersies en jong mielies, asook pietersielie of platblaar-pietersielietakkies of roketslaai.
Rangskik die groente sierlik op die halfgaar plaatkoekies
en draai dit om
om ook aan die anderkant te
bak en die groente effens te verbruin.
Bedien met
‘n skeppie suurroom of roomkaas en grasui, of strooi ‘n bietjie gerasperde kaas bo-oor.
Spek-
of ham-en-kaasplaatkoekies:
Hou gereed vir
1 x resep plaatkoekiebeslag
ongeveer 250g gaar,
grofgekapte spek of hamrepies gemeng met 200g / 500ml gerasperde Cheddarkaas.
50ml elk varsgekapte pietersielie en gesnipperde grasui.
Skep ongeveer 50ml van die vulsel op elke halfgaar plaatkoekie en draai om sodat dit ook aan
die
anderkant gaar word.
Ham-en-mielieplaatkoekies:
Hou gereed vir
1 x resep plaatkoekiebeslag
ongeveer 250g ham in
fyn repies gesny, gemeng met 250ml geroomde suikermielies
50ml elk varsgekapte pietersielie en gesnipperde grasui.
Skep ongeveer 50ml van die vulsel op elke halfgaar plaatkoekie,
en draai om sodat dit ook aan die anderkant gaar word.
Hoender-en-sampioenplaatkoekies:
Hou gereed vir 1 x resep plaatkoekiebeslag
ongeveer 250g gaar hoenderborsvleis, in fyn repies gesny, 125ml
boontjiespruite en 50ml gesnipperde grasui.
Verhit
30ml botter of margarien in ‘n vlak kastrol en roerbraai die vulselbestanddele tot net gaar en droog.
Geur met knoffel-en-kruiegeursel, sout en swartpeper na smaak.
Skep ongeveer 50ml van die vulsel op elke plaatkoekie en bedien
die plaatkoekies met slaaigarnering
wat vars
kruie insluit.
PLAATKOEKIES MET SOET VULSELS
Piesang-en-pekanneutplaatkoekies met esdoringstroop:
Plaas ‘n paar dun skyfies piesang en ‘n strooiseltjie grofgekapte pekkaneute op die
halfgaar plaatkoekie
en draai om sodat dit
ook aan die anderkant gaar word. Bedien met esdoringstroop en ‘n bakkie met
geklitste room.
Garneer
met nog pekanneute en varsgesnyde piesang, indien verkies, en bestrooi liggies met kaneelsuiker.
Appel-en-kaneelsuikerplaatkoekies:
Hou gereed vir 1 x resep plaatkoekiebeslag,
1 x 410 g-blik tertappels, grofgekap en gemeng met 10ml gemaalde
kaneel en 30ml suiker.
Skep ongeveer 30ml van
die vulsel op elke halfgaar plaatkoekie en bedien met stroop en
'n bakkie geklitste room of roomkaas en kaneelsuiker.
15 Julie
Liewe Lesers,
Ek bedink nou die dag ook so terwyl ek vir julle skryf,
dat ons deesdae al te veel "gadgets" in ons kombuise het en gebruik,
maar ken ons ooit al die Afrikaanse name daarvoor?
En wat is werklik ononderhandelbaar?
...handversappers, verpulpers, deegsnyers, deegdrukkers en draaiers,
ontpitters en appel ontkernlepels, metaallemme, teflon kolwyntjie panne,
teflon handskoene, hand-uie-kappers, kruiekappers,
skyfielemme om maar net ‘n paar op te noem!
Wel, laat hoor gerus van jul en vertel waarsonder jul nie kan funksioneer
nie ek wil graag hoor!
Wat maak mens tog sonder
‘n WHISK! Of moet ek vra HOE maak mens witsous daarsonder!
En wat is ‘n kombuis sonder ‘n skêr!
Spuit joune met kleefwerende middel as jy weer malvalekkers vir ‘n tert wil snipper dit help baie,
en hou dit skerp deur soms die kante van ‘n piering te "knip"!
My gunsteling "gadget" vir hierdie tyd van die jaar
bly beslis die Lemoen uitdrukker,
ja die gewone
hand model, kompak, lig en veeldoelig en altyd binne bereik,
en wat is lekkerder as juis ‘n vars uitgedrukte glas lemoensap?
En wat van vars suurlemoensap vir jou tee of oor Avokado,
of gestoomde vis of gemengde groente?
En onthou ook dat suurlemoensap, aangesmeer aan ‘n roeskol op materiaal,
wat daarna in die son geplaas word, die roesmerke sal laat verdwyn.
En op ‘n reënerige dag kan die kinders vermaak word deur hulle met suurlemoensap te
laat verf,
of skryf op wit papier, dit te laat
droog word,
en daarna stryk hulle daaroor en siedaar!
hul prent of geheime kodeskrif word onthul!
Ai!
Waar's die dae wat ons nog "bende - bende" gespeel het?
Die dae toe ons tydskrifte nog die "Patrys" "Tina"en "Bollie" geheet het...!!
En op die nostalgiese noot groet ek jul,Voilá
13 Julie
Liewe Lesers,
Vir Augustus moet jul
ook veral onthou dat Guavas ook die wintermaande kan opkikker!
Guavas is heerlik as gestoofde nagereg of jy kan dit selfs in potjiekos voeg vir ekstra
geur en
heilsaamheid, haal egter die pitte uit en
gebruik slegs die vlees van die vrug.
Dit is
vol Vitamien C, A en B1 asook baie yster, so vars of gaar, dit bly ‘n wenner!
Onthou ook om die seisoen se laaste
Persimons en Stervrugte te geniet!
Daar is
ook steeds super-gesonde groente soos Brocholli en Blomkool beskikbaar, en sommer
netso in die oond met bietjie olyf olie, suurlemoensap en swart peper bly dit as bykos
saam met
'n wintersdagbraai ‘n heerlikheid
wat nie te versmaai kan word nie.
En
om jouself ‘n goeie dosis Zink te gee, veral die wat bevoorreg is om kuslangs te woon,
Augustus is die regte tyd om ‘n hele lekkerte van Oesters, Mossels, Allikreukels
en Perlemoen te kan eet!
Verder is daar deesdae
tamaties vars in seisoen dwarsdeur die jaar, so as jul kan, plant sommer
jul eie verskillende variëteite aan dan het jy jou eie tamaties elke dag van die jaar.
Vir ons vensterbanke, balkonne of in kleiner sonryke spasies,
kry ons die Kersietamaties
deesdae in rooi,
geel en oranje!
Gebraaide heel Kersietamaties
lyk en is altyd heerlik met ontbyt of ‘n middagnoenmaal.
Die klein Pruimtamatie is kleiner as die Kersietamatie, hulle is soet, ovaalvormig en ook
perfek vir netso eet!
Albei is heerlik heel, as deel van ‘n sosatie,of gesny in ‘n slaai. Gerooster saam
met pastadisse
en saam met kaas op broodjies sal
kinders vra vir meer.
Stoor dit buite op die kas
i.p.v. in die yskas vir beter geur.
11Julie
Liewe lesers,
In die middel van die Winter
is dit goed om te weet dat veral die volgende groente en vrugte
beskikbaar is in seisoen :
appels, avocado's,
dadels, sitrus, papaja, pere, pynappels en beet, brocholli, kool, pampoen,
rape, en seldery;
en dat die
volgende in ons dieet ingesluit moet word want :
*Seldery
is goed om hoë bloeddruk te verlaag.(so ook heuning!)
*Avokado is goed teen gewrigspyne, karpale tonnelsindroom, algemene ongemak in die hande,
swelling en prikkeling.
*Vars lemoensap is goed om slaaploosheid teen te werk, en hou die winterskwale weg en
versterk jou immuniteit, net soos wat alle groen groentes soos:
*Spinasie, brussels spruite, brocholli en kool ook doen, én
dit is goed vir jou geheue !
*Rooi bessies soos "Cranberries"
is uitstekend vir nierkwale en blaas infeksies en onthou dat
*Kerrie, Gemmer en Borrie natuurlike liggaams verterkers is teen koue en kwale, arthritis en pyn!
*Rooibostee en gemmer is ook uitstekend teen sooibrand!
(Rooibos is nie eintlik ‘n tee nie, maar ‘n
kaffeine vrye rooi krui van die Cederberge,
belaai
met antioxidante,teen-verouderings eienskappe, vitamiene, minerale en ook
wonderlik teen koliek! )
Probeer
gerus die volgende:
AVOKADO GEVUL MET GEROOKTE
SNOEK:
2 groot, ryp avokado's
100 g gerookte snoek, gevlok
varsgemaalde swartpeper
50 60 ml mayonnaise
100 g gruyère-kaas, gerasper
(250 ml)
60 ml droë broodkrummels
vinkel en suurlemoenwiggies
vir garnering
Sny die avokado's in die lengte in
die helfte en ontpit. Vul die avokadohelftes met die gevlokte,
gerookte snoek. Geur met varsgemaalde swartpeper. Smeer mayonnaise eweredig oor elke helfte.
Meng die kaas en broodkrummels en sprinkel oor gevulde avokadohelftes.
Plaas avokadohelftes op 'n bakplaat en plaas onder 'n voorverhitte
roosterelement vir 'n paar minute,
totdat die
kaas net smelt. Sit voor op mooi kleinbordjies en garneer met vinkel en suurlemoenwiggies.
Sit voor met growwe bruinbrood.
AVOKADOSLAAI MET SPEK
EN NEUTE:
1 pak gemengde slaaiblare
6 sprietuie, in ringe gesny met groen lowwe
8
repe swoerdlose streepspek
4 snye witbrood sonder korsies
1 groot, ryp avokado
125 ml pekanneute, grof gekap
125 ml Franse
slaaisous
Breek die slaaiblare in kleiner stukkies
en plaas in die slaaibak saam met die gesnyde sprietuie.
Sny die spek in 1 cm-stukkies en roerbraai in 'n bietjie olie tot bros. Haal uit en dreineer op
kombuis papier. Sny die brood in blokkies (1 cm x 1 cm) en braai
in die dieselfde pan as die spek
tot goudbruin.
Voeg 'n bietjie ekstra olie by indien nodig. Haal uit en dreineer.
Sny die avokado en rangskik op die slaaiblare. Bedek met slaaisous. Sprinkel neute,
spek en bros broodblokkies oor slaai net voor opdiening.
BUTTERNUT SOP
2 Uie - gesny
Een butternut - skoongemaak en in stukke geny
2 Hoender borsies - ontbeen en sonder vel
750ml water
Sout
en Peper
Kook saam tot sag en gaar.
*OPS : Bedien saam met room en ‘n broodrolletjie.
SPINASIE EN BROCHOLI SOP
1 bos
spinasie, gewas en gekerf
1 medium broccoli,
gewas en in stukkies gesny
1 groot ui gekap
2 knoffelhuisies fyn gedruk
500 ml groente ekstrak(50g se blokkies opgelos in 500ml kookwater)
2 L melk
200 g botter
150 g koekmeel
Sout en peper
Stoom die Spinasie en Broccoli tot net gaar,dreineer.Hou eenkant.
Soteer die uie en knoffel in bietjie botter, hou eenkant.
Smelt res van botter in ‘n 5l kastrol, voeg meel by en
maak ‘n pasta daarvan, kook dit
oor stadige
hitte vir nog sowat 3 minute, roer aanhoudend om aanbranding te voorkom,
voeg die melk bietjies-bietjies by en "Whisk" om te keer dat klontjies vorm.
Wanneer al die melk bygevoeg is, bring tot kookpunt en kook tot
verdik. (soos mens witsous maak)
Voeg nou aftreksel,uie,
knoffel,spinasie en broccoli by.
Versap dit
met ‘n handversapper "BAMIX" .
Geur na smaak met sout en peper, en bedien stomend warm met gerasperde kaas oor,
en ‘n growwe saadbroodjie....
Die volgende dag is dit selfs nog lekkerder.
En wat is lekkerder
as om die etes mee af te sluit as ons eie inheemse
ROOIBOSTEE
MET SITRUS !
600 ml Warm Rooibos
50ml Suiker of Heuning.
250 ml Suurlemoen of
lemmetjie sap 250 ml
Lemoensap
1 suurlemoen of lemmetjie in skyfies gesny
en 1 lemoen in skyfies gesny
Vars Kruisement blare
en Kersies vir garnering.
Voeg die suiker
by die Rooibos en roer tot opgelos. Voeg die vrugte skyfies by.
Bedien warm met ‘n kruisement blaartjie by, of verkil en bedien met ys, gegarneer met
kruisement blaartjie en ‘n kersie op ‘n tandestokkie
in die glas.
(Sowat 8 glase)
Christene
het die volgende noodkreet ingestuur :
Help asb rysmiere
is besig om ons huis en tuin op te eet !Dankie.
Sjoe
Christene, jy het my omtrent laat sweet al!
Die enigste
bewese raad wat ek vir jou kon opspoor is deur verskeie oorde
dieselfde ge-ego, en dit is dat jy werklik die enigste opsie moet uitvoer en
onverwyld jou naaste gif handelaar moet kontak.
Hulle kan die gebied en huis vir jou kom berook met "butielbromied" dit mag slegs deur
geakrediteerde persone en instansies gedoen word en onder streng veiligheids
maatreëls
uitgevoer word,of dit kom behandel
met die enigste ander werkbare alternatief, waar gate
in
jou huis se fondasies geboor word, elke meter uit mekaar,en dan word daar "termicite"
(my spelling dalk ook foutief)ingeplaas,dit word dan ingeseël.
Die gif is baie giftig en veiligheids prosedures moet gevolg word.
Dit is daarom beter dat professionele persone dit vir jou doen,sodoende
het jy 'n
waarborg en hulle reik die waarborge uit
sodat jy jou eiendom kan verkoop as
"Termiet-vry
gewaarborg" en dit is vir iets soos 5 - 10 jaar geldig.
Vir jou tuin het hul ook raad en dit is nie so drasties soos by die huise nie, maar albei
moet saam behandel word.
Ek hoop dit kon help,dit is nou beslis nie 'n DOEN DIT SELF raad nie, maar om vir jou
in hierdie geval 'n klomp boererate op te dis is om net tyd te mors met 'n ingewikkelde
en baie duur probleem.
Indien daar egter ander lesers is wat van my verskil en makliker raad het laat weet asb!
Sterkte!!
Ek het intussen nog 'n baie
interessante brokkie nuus ontvang vir Termiet en Rysmiere
wat 'n probleem is!
Rysmiere vreet
nie soseer die gras ens. wat hul indra nie, maar "kweek" daarop mikro
sampioentjies!! En dit eet hul dan graag! Die hele proses van organiese afbreek en
verrotting jul weet mos?
Hul teer dus eerder op die newe produk wat bietjie verder op die voedselketting
plaasvind as op die gras of saagsels...
Wenkem het laat weet, dat goeie raad is, om orals waar die rysmiere
in die veld
of in store waar hul maklik opspoorbaar
is, 'n groot hoop kaf, strooi of saagsels wat met swamdoder
deurdrenk is te gooi. Die Rysmiere dra dit dan in hul neste in, hul vrek nie soseer daarvan nie
maar aangesien geen swamme kan groei om dit verder af te breek waarop
hulle kon teer nie,
het die termiete of rysmiere
sodoende nie meer kos nie en trek hul weg na jou buurman se
veld waar daar nie swambestrydende kos is nie...!
Enige kommentaar hierop is meer as welkom
Christene
het die volgende komentaar ingestuur na haar Rysmierprobleem:
Baie dankie vir die wonderlike raad. nou maak al die sampioentjies in die tuin by die
rysmier gate ook sin wat altyd n raaisel was.Bly ons kon help Christene ! Kom
kuier weer!
Vriende, ons het belowe dat jul enigiets aan ons kan vra, en
Eddie Engelbrecht ( email: finetuner1@absamail.co.za ) het gevra :
Ek soek 'n Dorps embleem of wapen van Bethulie daar staan onder aan die wapen
'n latynse onderskrif maar ons kan dit nie uitmaak nie het dit gekopieheer
van 'n teelepel !!
kan iemand help asb ek soek net
'n afskrif of foto wat groter is Groete
Wel
Eddie Engelbrecht , Kyk wat het ek vir jou !

Die naam Bethulie kom
van die Franse woord " Bethulia " wat " Deur God uitgekies "
beteken .
In 1829 is 'n sendingstasie deur
London Missionary Society vir die plaaslike San Boesmans
daar gestig. Dit was aanvanklik bekend as Groot Moordenaars Poort na 'n wrede slag tussen
die Sotho en Griekwa stamme .
In 1832 het Jean Pellissier, 'n sendeling wie se
tuiste vandag die oudste pioniers gebou
Noord van
die Oranje rivier is, hom hier gevestig. Vandag is dit steeds as museum in Bethulie.
Tot met 1833 was Bethulie bekend as Caledon ( vernoem na die nabye Caledon
Rivier).
In 1833 het die Franse Sendelings
vereniging die area oorgeneem en dit Bethulia,
genoem
wat soos reeds gesê " Deur God uitgekies " beteken .
In 1835 is dit hervernoem na - Verheullpolis
In 1863 is die dorp gestig en weer hernoem: Heidelberg !
In 1872 is die dorp egter weer Bethulie genoem n.a.v. die oorspronklike sendingstasie.
Gedurende die Anglo-Boere oorlog (1899
tot 1902) is die grootste konsentrasiekamp
hier
opgerig deur die Britse regering.
Onder leiding
van Patrick Mynhardt het Bethulie in Augustus 1937 'n eie dorpswapen gekry!
Die onderskrif lui : GARDE LA FOY ( "Vir Vryheid" of "Voorwaarts
na Vryheid "???
Dis wat ek sou raai dit beteken!
Wat dink jy?)
Hoop dit help Eddie ,
kom kuier gerus weer by : SO MAAK MENS!