Desember 2010

En al vra ek d.m.v. 'n Engelse skakeltjie,

TEKEN asb my GASTEBOEK,

OF

gaan loer wat ander reeds daar geskryf het...

  

OP HIERDIE dae in DESEMBER: verskyn die volgende Onderwerpe, Resepte en Lesers navrae...

1 DES: TUINWENKE vir die laaste maand van 2010!

2 Des: Wit Plakkerskampe en Uitreikaksies

7 Des: Jan TUISBLY se karretjie...

14 Des:  Skoonma se tong, Somer-groen-erte-slaai, Vinnige Koes-koes slaai.

Kamma Trifle,  Roomys vir nagereg,

Gemmerbier vir die dors...

Spekulaas en Vrugteblokkies vir die peusel...

Waatlemoene...

Koffie en vrugtekoek...

20 Des: BOELIEBIEF en bone BOBOTIE vir die Strandlopers...


KERSFEES 2010

My KERSBOODSKAP aan jul almal vir hierdie jaar is KLINKLAAR en VIR my uitgewerk! Die HERE JESUS is gebore vir ons!

Mag DIE WETE HIERVAN, alle vreugdes te bowe gaan!!

En mag ek jul vir die KERSGETY en vir 2011, byvoorbaat groet, met Johannes se woorde aan Gajus in 3Joh:2, en ook sê: Laat dit met julle in alles net so goed gaan soos met julle siele! 

20/12/2010

Aai ai ai!

So jul is op die strand heeldag, peusel en proe aan alles, roomys en dohnuts bedags, pizza vir die middagmaal, skyfies en calamari-ringe... braaivleis, broodjies en slaai elke dag, die groot kosmaak en eet van die Kersmaal lê nog voor, en vanaand verlang jul skielik na ‘n bord kookkos!

Maar wie is nou lus vir kook!

Hier’s iets wat Pa-lief kan aanmekaar slaan en waarby Ma-lief net Rys en ‘n tamatie en uie slaaitjie hoef te maak...

BOELIEBIEF en Bone BOBOTIE

Braai:

2 uie grof gekap in

2 e kookolie, voeg dan by:

1 e kerriepoeier

1 e borrie, braai liggies tot uie mooi glansend en gaar is.

Voeg dan by:

2 e asyn

2 e chutney

Sout en peper na smaak

4 piesangs in skyfies gesny

Handvol sultanas, in kookwater geweek, toe jy begin het om die resep aanmekaar te slaan...dreineer net eers-

1 of 2 groot blikke Bully-Beef in stukkies gesny (of sowat 2-3 k gaar maalvleis, of fyn gesnyde hoendervleis - jul eet mos heeltyd Kentucky..?)

1 blik groenbone of rooi niertjiebone, gedreineer

Meng alles liggies en skep in ‘n platterige oondpan.

Klits nou 2-3 eiers en ½ k melk en gooi dit bo-oor. Bak tot bo-laag gestol het, sowat halfuur by 180º C

 

   Voila!

14/12/2010

Ons tel die dae letterlik en figuurlik af...

Ek het mos gedink aan PIEKNIEK langs die rivier onder groen Wilgerslierte wat my in die koeltes daarvan liefkoos! Maar wat gaan ons eet?

SPYSKAART

Skoonma se tong, “Gammon” met gemmer-appelsous, Brosgebakte Hoender dytjies en tradisionele koue Skaapboud skyfies vir vleis.

Bekende en maklike Slaaie, soos 'n wortelring, beetslaai, aartappel of noedelslaai, en natuurlik my gunstelinge: Somer-groen-erte-slaai en vinnige Koes-koes slaai. Kamma Trifle, met of sonder vrugte en vla, of nét roomys vir nagereg.

Gemmerbier vir die dors...Spekulaas en Vrugteblokkies vir die peusel... Waatlemoene... Koffie en vrugtekoek...

 

Gaan loer ook by laasjaar hierdie tyd vir die laatslapers wat nog VRUGTEKOEK moet bak, en in die laaste KAMMANUUS is nog treffer poedings...

Ek sluit af met Max Ehrman se:

Desiderata

Go placidly amid the noise and the haste, and remember what peace there may be in silence. As far as possible without surrender be on good terms with all persons.

Speak your truth quietly and clearly; and listen to others, even to the dull and the ignorant, they too have their story. Avoid loud and aggressive persons, they are vexations to the spirit.

If you compare yourself to others, you may become vain and bitter; for always there will be greater and lesser persons than yourself.

Enjoy your achievements as well as your plans. Keep interested in your own career, however humble; it is a real possession in the changing fortunes of time.

Exercise caution in your business affairs, for the the world is full of trickery. But let not this blind you to what virtue there is; many persons strive for high ideals, and everywhere life is full of heroism.

Be yourself. Especially do not feign affection. Neither be cynical about love; for in the face of all aridity and disenchantment it is as perennial as the grass. Take kindly the counsel of the years, gracefully surrendering the things of youth.

Nurture strength of spirit to shield you in sudden misfortune. But do not distress yourself with dark imaginings. Many fears are born of fatigue and loneliness.

Beyond a wholesome discipline, be gentle with yourself. You are a child of the universe, no less than the trees and the stars; you have a right to be here. And whether or not it is clear to you, no doubt the universe is unfolding as it should.

Therefore, be at peace with God, whatever you conceive him to be, and whatever your labors and aspirations in the noisy confusion of life, keep peace in your soul. With all it's sham drudgery and broken dreams; it is still a beautiful world.

Be cheerful. Strive to be happy!

O Nee!!

Ek sluit af met die resepte vir party van b.s. want ek het jul dan nou so lus gemaak daarvoor!

Hmmm...

SKOONMA SE TONG

(Ek kook altyd 2 of 3 tonge, mens doen dit mos nie aldag nie!)

Was die tonge, verwyder die kliertjies aan die dik agterkant en kook  die beestong/e in 2 k kookwater per tong, en 1 t sout per tong,

sowat 8 heel naeltjies, en 1 t growwe swart peper en ¼ k bruinsuiker vir amper 'n uur in 'n druk kastrol tot sag. Laat effe afkoel maar nog warm en trek die vel af. Laat dan eers goed koud word voor jy dit in mooi dun skyfies sny.

As jy wag tot die tong yskoud is voor jy die vel aftrek gaan jy sukkel, dit trek makliker af terwyl nog warm.

Maak nou die volgende sous (ek maak myne weereens dubbel of driedubbel aan)

Vir 1 tong: Meng 25 ml olie, 25 ml koekmeel, 50 ml mosterdpoeier 125 ml suiker, en 'n bietjie sout met 1 k kookwater in 'n kastrolletjie tot glad. Verhit tot kookpunt en haal af van plaat. Roer 50 ml asyn, 1 k mayonnaise en sap van 1 suurlemoen by.

Pak nou helfte van tong in 'n bak met helfte van die sous bo-oor, en dan die ander helfte ook so. Strooi gekrummelde broodkrummels of fyngedrukte Kaas en uie Simba skyfies bo-oor. Bak dit nou vir halfuur by 180º C. Bedien warm of koud!

Hierdie mosterd-sous is ook heerlik saam met vars opgekookte heel groenbone en heel klein uitjies. Veral rooi uitjies! (Slaphakskeentjies se moses!) Kan ook net so saam met ander koue vleise gebruik word.(Aangepas uit Huisgenoot se 1ste WENRESEPTE)

SOMER-GROEN-ERTE -SLAAI

3 eiers, hard gekook, afgekoel en afgedop

1 Klein slaaikop

1 middelslag ui

1 k bevrore groen erte, effens ontdooi

30 ml mayonnaise

Sout en peper na smaak

Breek helfte van slaai in stukkies in slaaibak. Skil ui en sny in dun ringe- strooi op slaai. Meng die erte, en mayonnaise, en skep op die uie. Breek res van slaai bo-oor. Sny eiers in skyfies en pak op slaai, geur met sout en peper. Meng slaai liggies net voor opskep!

Maklike KOES-KOES SLAAI

Meng: 2 k gaar koue koes-koes, 2 tamaties in blokkies gesny, met 1 k fyn gekapte vars pietersielie en sowat 2-3 takkies fyn gekapte kruisement. (Dit lyk en smaak heerlik! Geel korreltjies, rooi blokkies en groen varsheid! Heerlik!)

KAMMA TRIFLE

Maak 2-3 kleure jellie aan, laat stewig stol, en sny in blokkies. Skep in lae in mooi glasbak. (Ek gebruik 'n vlak reghoekige bak in plaas van 'n diep bak)

Meng 1 pk suurlemoen jellie met ¾ k kookwater en 1 blikkie kondensmelk.  Laat dit nou tussen die lae jellie blokkies inloop. Strooi gekapte neute en kersies oor. Plaas weer in yskas en laat weer stol.  Bedien met vla en/of yskoue skyfies mango en gedopte vars litchi’s, en 'n klein skeppie vanilla roomys! HMMMM!

En as jul net ROOMYS–eters is:

Laat 2l vanilla roomys net net smelt, meng dit met 1 blikkie karamel kondensmelk.

Pak 'n lagie gemmer-koekies onder in 'n bak, strooi groen en rooi kersies en gekapte neute bo-oor. Skep 'n laag roomys bo-op. Rasper 'n lagie peppermint-crisp oor, en herhaal die lae nog eens.

Jy kan die koekies ook grof breek, en dit en die res van die bestanddele bloot net by die roomys inmeng. Plaas in vrieskas om weer te vries. Bedien met sjokolade en neute krummels bo-oor.

VINNIGE FLOPVRYE GEMMERBIER

In 'n skoon 8-10l kos-emmertjie, meng:

1 e fyn gemmer, ½ t kremetart, ½ t wynsteensuur, 1 e kitsgis, 4 k suiker en 24 k water.

Roer tot suiker opgelos. Laat staan vir 3 ure op warm plek. Gooi dan deur 'n skoon katoen doek, voeg daarby  'n handvol rosyne by en verkoel verkieslik oornag.

Wie sê SPEKULAAS is onbekend en moeilik?  

Meng:

350 g margarien

300 g bruinsuiker

1 eier

2 t bakpoeier

Roer hierby:

2 e gemengde speserye

500g meelblom

Knie goed deur. Druk in bakplaat vas. Bak vir sowat ¾ uur by 150º C.

Sny in blokkies en die blokkies weer in driehoekies. Laat afkoel in pan voor jy dit uitkeer.

VRUGTEBLOKKIES

Smelt 1 k botter en 1 blikkie kondensmelk saam.

Breek 2 pakke Mariebeskuitjies grof. Meng die beskuitjies met 1 k klapper en 250 g vrugtekoekmengsel of gesnipperde dadels. Meng alles saam, druk in pan vas en bêre in yskas. Sny later in blokkies. Eet net so of smeer die volgende versiersel oor voor jy dit in blokkies sny:

Meng 2 k versiersuiker met 1 t suurlemoensap en net genoeg kookwater om te meng. Dit is egter soet, mooi en lekker genoeg dat ek nooit hierdie dun versiersel ook nog maak nie!

Hierdie versiersel werk ook lekker bo-oor vla-skywe en kaneel-appel-en rosyne rolletjies...

Rond die dag af met laat middag se heerlike vars gemaalde  moerkoffie en 'n ruim porsie vrugtekoek...

Of soos ons met yskoue waatlemoen en spanspek op die grasperk in die laatmiddag soel koeltes van die Blinkblaar-wag-'n-bietjies... dan volg die waatlemoen smeer gevegte– as daar kinders is bygesê, die afkoel, of is dit afspoel, in die rivier daarna, en Dan eers, die koffie...

...Oorweeg dit om dalk iemand wie die dag sonder hul kinders moet deurbring, ook te nooi, en hulle so te laat deel in jul vreugde...

Waarvoor meer kan mens vra?

Voila!

 

07/12/2010

Steek aan die VREUGDEKERSE! Die dae tel af na die inpak om met vakansie te gaan!

Onthou: Let op alle VEILIGHEIDS MAATREëLS Tuis en oppad!

Tref ook genoegsame en betydse reëlings vir jou troeteldiere - onthou ,as jy nie tuis is nie, gaan niemand na hul omsien of omgee as hulle bang is vir die geraas van klappers en donderweer nie...  

En dan natuurlik sal daar diegene wees wat soos ek, met JAN TUISBLY se KARRETJIE gaan ry...

Suna Stirk uit Nieu-Seeland het die volgende aangestuur:

As jy huiwer om daai baaikostuum aan te trek, kan jy gerus onthou:

Ander vroue lyk ook beter met klere aan as daarsonder. Selluliet, spatare en vetvoue

is tekens van ervaring.

Weet jy wat betaal groot maatskappye deesdae vir ervaring? Loop dus op die strand

met die wete dat jy baie werd is en absoluut in aanvraag.

Moet jouself nie blind staar teen die jong meisies se ferme lyfies en spataarlose

boudjies nie. Hulle glo nog hulle lewe en lywe gaan perfek uitwerk, en hulle vietse

middeltjies gaan onveranderd dun bly.

Maar ek en jy weet beter. As jy dus sukkel met ʼn tikkie jaloesie, kan jy veel eerder

saggies giggel in jou mou of in die vou in die vel onder die mou, omdat jy jou hulle

oor 20 jaar van nou af kan indink.

Vir die mense wat by die huis bly – moenie sleg voel nie. Buiten dat duisende gesinne

saam met jou die huisvakansie ding gaan doen, het jy die voorreg om rustig jou

tupperwarekaste te konfronteer, daai skoolpapiere wat geliasseer moet word, en

laaie wat uitgesorteer moet word. Wees rustig in die wete dat wanneer die

sogenaamde bevoorregtes terugkom huis toe in Januarie, verdwyn hulle glimlagte

met die eerste oopmaak van hulle kaste, of die ooptrek van dáái laai.

Dan is jy lekker uitgerus en reg vir die nuwe jaar. Met nog geld in die bank ook. So

komaan, omhels jou huisvakansie, omhels jou kamermaatjie, omhels jou hond! 

 Ek bring volgende keer iets lekkers om te maak vir die Vakansietyd! 

 ...NS.

Na ons onlangse gesels oor uitreikaksies en WITPLAKKERSKAMPE...

 

Indien daar enigeen is wat betrokke wil raak met skenkings vir die YADE stigting in Bloemfontein, of meer wil weet oor hul versorging van hawelose en gestremde Senior Burgers, kontak my asb! (rethajm@gmail.com)

03/12/2010

Liewe Gewaardeerde Lesers, n.a.v. die laaste "LOSLAPPIE" oor WIT PLAKKERSKAMPE:

Daar staan:...ons wou twee briefies aan jul voorlê met die doel dat ons wat nog kan, en wil, bietjie kan kyk of ons nie hierdie Kerstyd `n verskil kan maak buite ons eie familiekring nie...

...Mens wil nie die wiel weer van voor af uitvind nie... Kom ons kyk liewer of ons nie net `n paar ekstra ‘skouers' kan aanbied vir die wiele van uitkoms vir ons mede Afrikaners wat so swaar kry nie...


UITTREKSEL uit: Uit die hart van 'n moeder,
Wit plakkerskamp, Pretoria
Ek stap vanoggend weg van die plek waar dit dié slag Sarie se beurt was om haar kindjie te begrawe... Hoekom is my lewe en my kinders en my hele bestaan opgesom in 'n vuil, gemufde tent vol uitgooigoed en vrot goed? Ek leef en oorleef met ander mense se weggooigoed op hierdie godverlate vlaktes waar nie eers 'n boom of gras se wortels wil vat nie. Niks wil hier wees nie, niemand moet hier wees nie... Daar was vandag niks om te eet nie.Ek het vanaand net water op die gel-stofie gekook tot Magrietjie en boetie, Jan, op die ou end aan die slaap geraak het... Wees ons genadig, Heer, terwyl ons bewerig en bang die lewe kies...

...Wat in hierdie moedersbrief staan klink soos iets uit die konsentrasiekampe- dit is egter naby genoeg aan wat werklik onder ons bevolking gebeur om wel aandag te verdien...Die oorsaak van waarom baie van ons mense hulle in hierdie haglike omstandighede bevind is nie so belangrik nie, ons moet nie vra WAAROM nie, maar: WAARTOE!
 
Jul reaksie, by : pos@onsdorp.com met die onderwerp: Plakkerskampe,
was oorweldigend!!

Ons het die volgende NB inligting uitgesif en lê dit nou voor diegene wat 'n Helpende hand wil en kan uitsteek.

Die verskil in baie dinge, begin immers by ons elkeen.

Ten eerste wil en moet ons die oorsprong van hierdie brief aan jul bekend maak want baie het daarna gevra om daadwerklik aan hierdie moeder hulp te kan verleen.

Die brief is per epos ontvang en ons het dit aan julle voorgelê SONDER dat ons bewus was daarvan dat dit deel was van 'n beweging se bewusmakings veldtog. 

Hierdie spesifieke brief  het ons vasgestel is deur LINDIE STRYDOM van SOLIDARITEIT self geskryf vir die verrigtinge wat gehou is by die IRENE kamp.

Die feit dat dit nou bewys is as 'n denkbeeldige brief, doen egter geen afbreuk aan die pleidooi wat hierdeur op ons almal van toepassing gemaak is nie.

Jesus het gesê as ons dit vir een kan of wil doen, dan doen ons dit vir Hom... en jul bereidwilligheid om dit vir hierdie (denkbeeldige) Ma te doen, maak jul harte oop om dit ook vir die WERKLIKES in hierdie situasie te kan doen.

1. BAIE lesers het gereageer met SOLIDARITEIT se HELPENDE HAND inisiatief as oplossing en ‘n oproep word gedoen aan almal om daar betrokke te raak. Sluit gerus daar aan en help hul hande versterk, om juis hierdie pleidooi om hulp 'n werklike hand van Hoop en hulp te kan maak.

Hennie,
Ek is bly die versoek het van jou gekom. Ek gee hieronder al die besonderhede van Solidariteit  Helpende Hand. Jy sal baie meer inligting van hulle kry rakende die genoemde plakkerskampe. Dit is nie net n pleidooi vir mense in Pretoria nie maar regoor die land.

Direkteur
Dr. Dirk Hermann
Solidariteit
Dirk@solidariteit.co.za

Uitvoerende Direkteur
Dr. Danie Langner
Helpende Hand
danie@helpendehand.co.za

Hennie,

Besluit om deur Solidariteit se Helpende Hand te werk. Hulle bonafides is bo verdenking. Ongelukkig is daar sogenaamde hulp organisasies wat deur individue of groepe bedryf word wat eerste na hul eie belang omsien en "ryk" word uit armsorg bydraes van niksvermoedende skenkers. Ons het ondervinding van so 'n groep in Krugersdorp wat yskaste, verf boumateriaal ens vra vir die armes en dan hul eie eiendom verbeter daarmee.

Christo Erasmus
Posbus 50844
Wierdapark, 0149
Suid Afrika
sel/ cell +27 (0)83 297 9080
tel/fax +27 (0)12 658 0261

Hennie,

Skakel asb. vir Lindie Strydom:

Lindie Strydom

Solidariteit Helpende Hand

Skakelbeampte

012 644 4390

www.helpendehand.co.za

www.solidariteitradio.co.za

Hennie,

Solidariteit Helpende Hand, Posbus 11760,
Centurion 0046 of skakel 0861 25 24 23.

Om  by opheffingswerk in Pretoria omgewing betrokke te raak, bel
Mariana Kriel, Helpende Hand-streekorganiseerder by 084 952 5837.

Hennie,

Helpende Hand is aktief betrokke by 38 wit skuilings in en om Pretoria.
● In baie gevalle het die skuilings nie genoeg water, elektrisiteit of sanitêre en was-fasiliteite nie.
● Die gemeenskappe het baie maatskaplike probleme soos kindermolestering en alkohol- en dwelmmisbruik. Nog ʼn probleem is die feit dat baie kinders in die skuilings nie skool gaan nie, aangesien baie van die skuilings ver van skole geleë is.

Naas Solidariteit het die volgende hulp-liggaam uit baie oorde erkenning ontvang:

2. Die TWEEDE hulp-liggaam wat baie lesers aanbeveel het, is die DOULOS ARMOEDEBEDIENING.

Hennie,

Probeer Doulos Armoedebediening.

Die Direkteur is Mnr Hans Janse van Rensburg. (hierdie man het sy werk bedank en werk nou voltyds vir die saak)

Sel no: 082 269 7082 

e-pos hans@armoedebediening.co.za

Webadres  www.armoedebediening.co.za 

Hennie,

Doulous funksioneer op 3 bene!  

1.    Onmiddelike armoede verligting -  (Korttermyn doelwit)  kos uitdeel, huisvesting soek, klere, mediese versorging en die daaglikse versorging van derduisende mense.

2.   Dan doen hulle opleiding van mense:  (Middeltermyn doelwit)  Werkskepping, opleiding van mense - stigting van kleuterskole, hulp sodat kinders by skole kan uitkom, sodat mense later op eie bene kan funksioneer.

3.    Die geestelike versorging en bearbeiding van die mense.  (Langtermyn doelwit)

Hulle werk regoor Pretoria en omliggende areas.

3.Die DERDE hulp-liggaam wat baie lesers aanbeveel het is Volkshulp2000.

Hennie,

VOLKSHULP 2000 is 'n organisasie wat daarop ingestel is om die verarmde Afrikaner Volksgenote te help en by te staan en ontvang geen staatshulp nie . Hulle maak absoluut staat op skenkings in die vorm van kos , klere en geldelike bydraes vanaf die publiek ,is geregistreer as n fondsinsamelings-organisasie ingevolge die Wet op Fondsinsameling 1978 en is n nie  winsgewende oranisasie .

Besoek gerus hul web tuiste  by www.Volkshulp2000.org.za en u sal sien dat hul leuse is: Met saamwerk sal ons streef om tot eer van God te leef. 

Volkshulp 2000

http://www.volkshulp2000.org.za

Telefoon:

(012) 333 5906
(012) 755 8201 / 2

Faks:

(012) 333 6422

volkshulp2000@axxess.co.za

4. Dan het INDIVIDUELE ORGANISASIES ook op die voorgrond getree en die volgende het ook vanuit baie oorde lof ontvang vir hul reeds bestaande hulp en toegewyde diens:

Hennie,

Louise Rossouw, het ‘n evangeliese bediening wat fokus op arm, Afrikaans-sprekende kinders in die Weste van Pretoria. LIG KINDERBEDIENING is nou al twee jaar aan die gang, het ‘n aantal voltydse personeel en ‘n bondel vrywilligers. Deur die kinders kom hulle by die ouers ook uit. Omstandighede is vir baie van hierdie gesinne soortgelyk aan die plakkerskampe. Baie keer is daar 10+ mense wat van een se staatspensioen leef in ‘n 2-vertrek woning. Hoop is min, en behoeftes groot en uitdagend. Jy kan gerus na hulle facebook bladsy gaan kyk by http://www.facebook.com/group.php?gid=102793986431231.

Hulle kan altyd doen met nog ‘n Rand of twee, of ‘n paar vrywilligers om te help hand bysit.

Hennie,

Also speak to Woolworths. Woolies has a policy that all food that reaches its marked sell-by date must be removed from their shelves, even though these items are still in excellent condition for several days after the date. Each branch of Woolies can at their own discretion distribute this ‘waste' to whichever charity or cause they choose, someone just has to ask them. I do recommend that couple of trustworthy people monitor this as there have been reports that donated items are stolen and then sold.

Hennie,

Ek woon in Krugersdorp en weet van Albertus van Brakel ,Jy kan hom kontak

Selfoon: 082 452 4030

Kantoor: (011) - 955 5112 of 086 672 0515

E-Pos: vbrakel@mweb.co.za

Hy is betrokke by die wit plakkers in Krugersdorp en doen baie vir die gemeenskap

Hennie,

Ek kan help, want hierdie is my vakgebied. Ek is die besturende direkteur van ‘n liefdadigheid vir gestremde en hawelose mense. Ek werk voltyds, sonder salaris. www.Good4you.info

Hennie,

Ek bly vassteek op die "kiboetz" idee van Israel en wonder of daar nie iets gedoen kan word in daardie rigting nie.  Ons het tog soveel intrepreneur-talente in SA - as almal kon bietjie gee om 'n soort van "arbeids plaas" te kan skep waar mense kan verbou en plant. 

Hennie,

Die probleem by wit armoede is nie net om kos te voorsien nie maar om die persoon sy menswaardigheid en trots aan hom terug te gee. Die persoon kort n werk en n geleentheid om uit te styg bo sy omstandighede. Die ideaal sou wees om n perseel te kry  waar daar arbeids intensiewe werkskepping en opleiding gedoen word. Hiervoor het jy baie baie geld nodig. Dit help nie jy skuif hom van een krot na n ander nie. Jy moet hom n uitkoms bied.

Hierdie platvorm van jou bereik baie mense. Onder hulle moet daar waaragtig n paar slimmes wees met oplossings .

Hennie,

Hierdie e-pos doen al n rukkie lank die rondte in SA.

Sover ek weet is daar reeds diensorganisasies by betrokke.

Ons is VRYBURGERS en die VRYBURGERS doen n lansdswye verspreiding vir kos vir kinders. As julle vryburgers diensorganisasie google, is daar adresse van die ander korpse in ander dorpe. Ek weet nie hoe die ander korpse die kos vir kinders hanteer nie, maar miskien kan iemand hulle kontak.

Gaan kyk gerus na die George vryburgers se webblad:  www.kosvirkinders.co.za

Hennie,

Die adjunk-minister van Landbou, Connie Mulder en leier van die Vryheidsfront, het vanoggend  op RSG gepraat en sy besoek aan so ‘n plakkerskamp is uitgesaai.   Miskien sal die Vryheidsfront of RSG jou kan help.  Sakkie en Philip sal moontlik meer, in die omgewing waar hulle bly, kontak met lede van hierdie partye hê.  Jy is egter so vaardig en kan deur  op die Internet, ek dink dit is www.rsg.co.za, direk sommer met hulle korrespondeer.  Dit doen my hart goed dat jy so omgee.

Hennie,

My broer, Pieter  ('n pastoor) besoek plakkerskampe elke naweek en gaan die 5de Desember na 'n wit plakkerskamp in Welgedag Springs.Hier is sy besonderhede:
Pieter Breytenbach, Cell: 082 415 6632, Fax: 0866 300 540 Web: www.outreachunlimited.co.za

Hennie,
Ek het jou epos na my broer en sy vrou Riaan en Lynette van de Vyver aangestuur.  Hulle doen Bybelverspreiding ook.  Ek dink dis nogal nodig om nie net in fisiese behoeftes te voorsien nie, maar dis noodsaaklik om in hulle geestelike behoeftes ook te voorsien.

Hennie,

Ons gemeente , genoem KERK -SONDER-MURE wel vir jou moontlik kan help met inligting oor die plakkerskampe.

Ons is die Centurion NG Moedergemeente - nou soos bo genoem.

Gaan kyk by www.ksm.co.za - ons web blad vir meer inligting.

Jy kan ook die volgende web blad besoek vir moontlike inligting: www.peterjasie.co.za.

Hennie,

Ek weet dat ons gemeente "NG Gemeente Florauna", ngkflorauna@absamail.co.za, betrokke is by verskeie sulke aksies waarvan die hoofaksie die Walmer Projek is.  Jy kan moontlik by ons kerkkantoor by Tel 012 565 5724 aanklop vir kontakpersone.

Hennie,

My naam is Henk Boshoff -Ek is predikant in Middelburg.

Ons gemeente samel al vir 2 jaar hier rondom kersfees kos en klere in vir die mense in wit plakkerskampe aan die noorde van Pretoria (en in Lydenburg)

Verlede jaar het ons sowat 6 ton klere en 3 ton kos ingekry en afgelewer.

Ons vra : nie bederfbare kos en goeie ou klere (en gebruiksartikels soos gordyne, komberse, babakarretjies ens, ens.)

Daar is ook geleentheid om kontant te gee - waarmee ons op grootmaat kos aankoop.

Een van ons lidmate het kontak met die ‘pleegouers' van ‘n wit plakkerskamp in Pretoria en ek het kontak met die in Lydenburg.

Daarom dat ons die 2 ondersteun.

Hierdie jaar staan ons reeds om sowat R 8 000  in kontant om kos te koop en ons het reeds sowat ‘n bakkie-vrag kos (goed gelaai!!) as donasie ontvang.

Dit is vir ons ‘n jaarlikse projek.

As julle op die manier betrokke wil raak, het julle nou my besonderhede.

Dankie solank en baie seen vir julle in die vreemde! Dis wonderlik om te sien dat julle daar so goed aangaan!!

Ds Henk

 Tel (...) 013 245 145

Sel (...) 0822 588 007

Hennie,

Moreleta NG kerk baie betrokke is by heelparty van die wit plakkerskampe. Hulle kan gekontak word by www.moreleta.org. of ook gewoonweg met "Moreleta NG kerk in Moreleta Park". Dit is dalk beter om die kerk te ondersteun in hul poging as verskeie kleiner pogings aangesien daar 'n meer doelbewuste beplande ondersteuning en ontwikkeling plaas kan vind. Daar is heelwat professionele persone in die kerk wie se professionele hoedanighede en ondersteuning van groot hulp is. Donasies dus na die kerk toe versterk hul invloed en kundige probleem oplossing. Daarby is enige persoon wat betrokke wil raak op wattter manier ookal baie baie welkom. Die ondersteunings sentrum se epos is geo@moreleta.org.

Hennie,

Jou ander opsie is  dat 'n mens 'n  organisasie registreer  waar fondse inbetaal kan word en mense dan kan  belasting afgetrek kry vir die wat dit nodig het.

Dit is maklik genoeg om 'n soortgelyke  organisasie  in SA te  vorm en vinnig Lourens Groenewald is self  ook in die bediening en doen baie goeie werk.
Sy epos adres is info@lourensgroenewald.com en sy sel no is +27731908581.

BAIE het gesê :

Hennie,

Ek stuur jou epos aan 'n paar mense wat dalk vir jou meer inligting kan gee of verkry...

Kalfie het geskryf:Hennie,

Julle het hier aan ʼn baie groot en sensitiewe probleem geraak, ek hoop dit sneeubal en bied ʼn uitkoms aan diegene in nood!

Ons sê BAIE DANKIE vir elkeen wat betrokke wil raak en vir elkeen se unieke mening hieroor. DANKIE vir jul warm harte wat vir jul medemens bly klop!

Om dit in aksie te sien, maak ons trots om deel van hierdie volk van ons te wees, maak ons nederig en dankbaar oor wat ons het om te kan gee, maak ons positief om in Suid Afrika ons volle potensiaal en wasdom te mag bereik waar God ons geplaas het!

Aan diegene wat daadwerklike betrokke kan en wil raak, ons is vol vertroue dat jul iewers by een van  b.s.  groepe sal kan inskakel en daardie verskil kan maak waarvoor net jy geroepe voel!

'n Klein kindsbeen gediggie, kry nuwe betekenis:

Ander

doen gewigtiger werk,

Jy

het jou deeltjie,

en Niemand

in God's groot Heelal-

kan dit

beter doen,

as Jy!

Mooi Groete

Ons almal Uit OnsDorp.

01/12/2010

Dagsê!

Ons skop die laaste maand van hierdie jaar af sommer met twee tuinbou navrae! Heerlik! Hoop dit sal jul help, indien nie, laat weet gerus en ek stuur nog leesgoed aan. Lekker tuinmaak en Stuur Foto's!

LOURA het gevra:

Hoe groot moet die vrugte wees voor ek die bome begin spuit teen vrugtevlieg?

Moet ek my bolle uithaal en op watter stadium? Dankie

En RIA BERGH skryf: Ek het pas vir die eerstekeer 'n groentetuin begin, wil graag meer leer  hoe om peste organies te beheer. Bv. my Spinasie is vol gate gevreet, en die radyse het waar dit bo die grond uitsteek bytplekke. Ek wil ook my eie kompos maak .

Baie mense verkeer onder die wanindruk dat jy 'n groot erf nodig het vir 'n groentetuin, maar in 'n meenthuistuin kan jy net so maklik groente kweek. Hoeveel ruimte jy het, sal egter bepaal watter soort groente jy plant. As jou groentetuintjie net so groot soos 'n deur is, kan jy onder meer blaargroente plant soos sny-en-kom-weer-slaai, spinasie of dalk tamaties en boontjies wat rank en min ruimte opneem. Laat die pampoene en aartappels liewer vir die groter tuine.

Ons moet probeer om sover moontlik weg te bly van gifstowwe.  Maak gebruik van organiese insekdoders as dit nodig word, maar let daarop dat pesbestryding begin met gesonde plante.

MIELIESTRONK seg oor Organiese tuinbou :

Organiese tuinbou is die kweek van vrugte, groente en ander gewasse sonder die toevoeging van kunsmis, ander chemikalieë of groeihormone in die grond. Pleks daarvan word afval van die tuin sowel as die etenstafel tot sogenaamde kompos verwerk en in die grond ingewerk. Kraal- of ander mis en beenmeel kan ook gebruik word om die grond te verryk, of peulgewasse kan op 'n rotasiegrondslag in die grond gesaai word om stikstof daaraan toe te voeg. En chemiese plaagdoders is taboe.

Komposmakery

DIE maak van kompos wat die grond sal verryk en die grondtekstuur gesond sal hou, is 'n belangrike komponent van organiese tuinbou.

Tuin- en kosafval hoef nie weggegooi te word nie. Dit kan gekondenseer en hergebruik word as bemestingstof deur middel van 'n proses wat komposmakery genoem word.

Kompos kan gemaak word deur laag op laag van verskillende organiese afval in 'n groot houer op te stapel, terwyl jy ruimte tussen die lae laat sodat die lug kan sirkuleer. Stikstof word bygevoeg in die vorm van kraalmis of groen snysels ten einde hitte op te wek.

Die hitte bevorder verrotting en maak alle ongewenste organismes dood. Die afval word iewat nat gemaak en dan bedek. Namate hitte en stoom opbou, ontbind die afval om mettertyd 'n voedingryke stof genaamd kompos te vorm. Die kompos word dan as bemesting vir plante gebruik.

DIE organiese tuinier beskou sy tuin as 'n ekosisteem. Hy besef dat 'n verandering in een deel van die sisteem die onderlinge verhoudinge tussen organismes in die tuin kan ontwrig.

Hy sal byvoorbeeld 'n probleem van hoë stikstofvlakke in grond, wat die groei van onkruid kan stimuleer, aanspreek deur 'n gewas te plant wat juis baie op stikstof teer. Sodoende word 'n normale balans van grondvoedingstowwe geskep.

Nog 'n beginsel van organiese tuinbou is verskeidenheid. Organiese tuiniers roteer hul gewasse omdat dit help keer dat een besondere insek, onkruid of plantsiekte 'n probleem raak.

"Die basis van organiese tuinbou is rotasie," verduidelik 'n ander tuinier. "Dis ewe belangrik as om nie gif te spuit nie."

'n Ander beginsel van organiese tuinbou is herwinning. Die organiese tuinier se doel is om sy grond selfonderhoudend te hou deur die voedingstowwe te herbenut-alle organiese reste word regstreeks in die grond teruggewerk.

Om die grond op te bou is 'n kernkonsep. Dit is omdat die kwaliteit van plante regstreeks verband hou met die gehalte van die grond. Goed gebalanseerde grond sal genoeg voedingstowwe aan plante voorsien sodat hulle optimaal groei en die minste deur plae en siektes benadeel word.

Peulgewasse soos ertjies of boontjies kan 'n noodsaaklike deel van die rotasie van gewasse wees en verrig verskeie funksies. Benewens die feit dat hulle stikstof in die grond fikseer, maak hulle die grond los en beheer hulle onkruid.

Natuurlike metodes om skadelike plae vas te vat:

METODES van natuurlike plaagbeheer is onder meer om die tuin skoon en onkruidloos te hou, goeie kompos in die grond in te werk en organiese gifstowwe slegs te gebruik wanneer dit absoluut noodsaaklik is. Organiese tuiniers glo dat gesonde en "gelukkige" plante 'n natuurlike immuniteit teen plae en siektes het.

Wanneer 'n insek af en toe aan die blare van 'n groenteplant knabbel, loop daardie plant mos ook nie gevaar om te vrek nie. Maar, toegegee, partykeer kan jou plante oornag deur honger slakke verwoes of deur 'n duinemol skoon uit die grond geploeg word. Dan is dit 'n hartseer saak. Tog bly eenvoudige en ou bepoefde bestrydingsmetodes dikwels nog die beste manier om sulke probleme aan te spreek.

As jy wel plaagdoders moet koop, sorg sover moontlik dat hulle organies is. Maar onthou ook dat selfs organiese plaagdoders gevaarlik kan wees en heuningbye en selfs voëls kan doodmaak as te veel daarvan gebruik word. Om elke insek in jou tuin dood te maak, is geen goeie praktyk nie, want baie nuttige insekte wat die pestilensies vreet, kan ook doodgemaak word-en dit kan 'n selfs groter probleem skep.

Boonop is daar ook die gevaar dat baie lewende wesentjies in die grond, soos erdwurms en bakterieë, wat dooie plant- en dieremateriaal help afbreek en voedsame grond vir jou plante voorsien, gedood kan word.

Slakke kan bestry word deur soveel van hulle as moontlik self dood te maak. Jy hoef darem nie snags met 'n flitslig in jou tuin rond te dwaal nie. 'n Mens kan stukke hardebord skuins teen mure staanmaak en hulle sal bedags daaragter wegkruip. Gaan in die namiddag uit en pluk hulle van die skadukant van die borde af en maak hulle dood. Of kry vir jou 'n paar eende, indien moontlik. Daar word vertel dat eende 'n tuin vry van slakke hou-met waarskynlik veel minder blywende nadele vir die ekologie as slakgif.

Dan kan daardie fraaie vlinders in ons tuine ongelukkig dikwels 'n hele spul vraatsige ruspers genereer. Die skoenlappers lê hul eiers op plante, wat binne 'n paar dae in wurmpies of ruspers verander wat in een dag hul eie gewig in blare verslind.

Bly maar regdeur die groeiseisoen op die uitkyk vir sulke ruspers en verwyder hulle waar moontlik met die hand. Jy sal verbaas wees om te sien hoe 'n mens hulle baiemaal op dié manier nogal goed in toom kan hou as die besmetting nie te erg is nie. Maar moenie laks word en jou waaksaamheid verslap nie!

Voor- en nadele van organiese tuinbou

ORGANIESE boerdery het gemiddeld twintig persent kleiner oeste gelewer as oeste met konvensionele boedery. Dit was die resultaat van 'n vergelykende studie van 21 jaar wat deur Switserse wetenskaplikes onderneem is. Maar hulle het ook bevind dat die organiese benadering meer as die verskil vergoed het met die ekologiese voordele wat behaal is.

Vra dan ook tuiniers wat hulle tot organiese tuinbou gewend het, en hulle sal jou 'n hele aantal goeie redes gee hoekom hulle dit gedoen het. Tog sal baie van hulle die eerstes wees wat erken dat hierdie metode dalk nie vir elke tuinier sal deug nie.

KOMPOS:

Om jou eie kompos te maak, is maklik en spaar jou geld.

KORTPAD: Versamel al die dooie blare wat afgeval het, maak dit in 'n hoop bymekaar en laat dit erens waar dit nie gesteur sal word nie of plaas dit in 'n komposhouer. Sprinkel 'n laag LAN-kunsmis daaroor en wag dat dit verrot. Later kan die kompos as 'n grondkombers aangewend word om jou tuingrond teen erosie te beskerm sodra die swaar winterreen toeslaan...

 

'n "Regte" Komposhoop word egter gebou soos 'n koekstruif. 'n Mens pak alles in lae.

EERSTE LAAG: Gooi eers 'n laag van sowat 25 cm growwe tuinafval soos snoeisels en groot takke in fyner stukkies gesny.

TWEEDE LAAG: Gooi 5cm kraalmis, hoendermis en fyner tuinafval soos grassnysels, blare, dooie eenjariges en kombuisafval.

DERDE LAAG: Sowat 5cm gewone tuingrond, potgrond of gewaste riviersand.

VIERDE LAAG: Strooi komposaktiveerder oor die hele oppervlakte van die hoop.

Organiese kompos aktiveerders is by kwekerye beskikbaar, maar jy kan ook jou eie "aanjaag"-konkoksie maak: Kap die blare van nieskruid, brandnetel of smeerwortel fyn en strooi dit tussen elke derde laag. Die opgekapte blare kan ook vir 'n paar dae in 'n emmer met water in "trek" en dan oor die nuwe komposhoop gegooi word. Herhaal die lae tot die hoop sowat 1m hoog is.(Die Burger)

STODELS KWEKERY gee ook 'n paar goeie wenke vir die maak van jou eie kompos:

Feitlik enige afval-plantmateriaal (ou groente uit die kombuis of dooie plante uit die tuin) kan gebruik word.

Kry 'n versteekte plek in die tuin. Bou die komposhoop deur 'n laag plantafval omtrent 150 mm diep oor die vloer van die komposarea te versprei.

Voeg sowat drie skeppe bemestingstof vir elke kubieke meter kompos by, en voeg dan water by. Moet nie die materiaal in die water week nie.

Herhaal die proses tot jy die regte grootte hoop het.

Bemestingstof verhoog nie net die voedingswaarde van kompos nie, dit help ook die organiese ontbindingsproses aan.

Versnel dié proses deur die hoop elke 2 tot 3 weke met 'n tuinvurk om te dolwe.

Gebruik kompos as 'n deklaag of spit dit in die grond in.

Kompos verryk ook grond en breek kleigrond af.

OOR PESBEHEER en VRUGTEVLIEG:

Jy kan die vruggies begin spuit sodra hulle begin uitswel en daarna elke 2 weke. Maar dis beter om ‘n lokaas te gebruik soos:

500g suiker, 5 l water en 110 ml aanbevole insekdoder.

Spat dit op die blare en wend elke 10 dae aan of as dit afgereën het.

Maak ook gate in die kante van 'n 2 l koeldrank bottel, sny 'n ou pynappel onder in en besprinkel met insekdoder, hang die bottel of blikkies op in die bome.

Vervang elke 2 weke en raak op verantwoordelike wyse van die ou lokaas ontslae.

 

PROBEER ook: "COMPANION PLANTING"

Deur sekere kruie blomme en of groente bymekaar te plant , bv.

Afrikaners, Salie, Roosmaryn, Knoffel- hul reuke verdryf baie insekte

TUISGEMAAKTE "GIF"

1. 5 dele Water en 1 deel melk met 'n bietjie skottelgoedseep @ Rooi spinnekop, Witvlieg, Ruspes, Tamatiewurms en virale infeksies.

2. Seepwater  teen plantluise en witvlieg.

3. Strooi gebruikte gemaalde moer koffie op mierpaadjies @ miere

4. 1 e koeksoda op 1 l water en 'n paar druppels skottelgoedseep @ virale infeksies

5. Gebreekte eierdoppe oor die grond gestrooi @ slakke...

6. Bier in blikkies onder plante @ slakke

7. Versap:1 fyngedrukte knoffelhuisie, 4 gekapte uie, 1 e droë gekapte rissies, maak toe en laat staan vir 24 ure, meng daarby 2 e olie en 2 e skottelgoedseep. Gebruik hiervan 1 e op 1 l water vir bespuiting vir 'n algemene en kragtige insekmiddel.

Diatomaceous earth, en Biogrow Ferramol, beide van Talborne Organics - is effektief teen slakke...

OOR DIE BOLLE:

Gewoonlik word bolle uitgehaal sodra dit klaar geblom en die lowwe of blare heeltemal verlep het. Dan word dit in ‘n donker skoenboksie tussen saagsels op ‘n koel droë plek geberg tot volgende jaar planttyd!

Ek sit so ‘n paar motballetjies in ‘n aparte koevert en plak dit BUITE op die skoendoos vas, dan sit ek als in ‘n groter kartondoos en merk wat daarin is en pak dit dan in die spens weg en hoop dat ek sal onthou waar! Gewoonlik as ek die bolle in die winkels begin sien onthou ek van my eie en Voila!!

IETS INTERESANTS OOR DAHLIA'S...

Onthou Dahlias word geplant voor die grondtemperature te warm is en blom vanaf laat somer tot vroeg winter. Nou vra mense altyd wat is die vereistes vir die kweek van suksesvolle Dahlia bolle. Onthou as jy die bol in die pakkie koop lyk dit mos soos ‘n spinnekop met dik bene. Maak seker dat die bolle nie uitgedroog is as dit gekoop word nie maar die bolle moet ferm wees. Jy moet nooit die bene van die lyf split en hoop jy gaan meer plante kry nie. Al die voedingswaardes van die bolle sit in die bene en voer dit deur na die groeipunt toe. Dahlias moet in goed gedreineerde grond geplant word wat met kompos en beenmeel omgewerk is. ‘n vol son is gewoonlik die beste posisie maar die plante verkies skadu op die warmste tyd van die dag. Dahlia bolle moet liefs nie dieper as 5-7cm in totaal geplant word nie en die groeipunt van die bol net onder grondvlak. Dit vat so ongeveer twee maande vir die bolle om op te kom. Stut asb die blomme van die langer variëteite. As jy ‘n bol voeding wil gebruik om die plante ‘n hupstoot te gee sal ek aanraai om dit oor 4 weke toe te dien omdat die plant dan eers genoeg wortels gevorm het om dit op te neem.(RSG se Derrich Gardener)

 

 

  Voila! Lekker tuinmaak! En onthou om die TUIN... bladsy ook te besoek!

 

 





 
Wil jy hê ek moet jou meer inligting oor iets gee?    
Kontak my regstreeks by: rethajm@gmail.com  
Groetes!!
 Rx. 
 
 

Retha van Somaakmens

Indien jy nog nie ONSDORP se nuusbrief ontvang nie,

Vul die onderstaande vormpie in vir heerlike tong in die kies humor,

Vars elke twee weke in jou posbus