....Só MAAK MENS !

Jan 2010

JANUARIE

 

1

 

11

Nuwe Jaar Boodskap

 

Kits-resepte: Spesery Suiker

 

Souspoeier

 

Texan Steak-mengsel

14

Kits Cuppacino

 

Ma Dorie se bêre mengsel: Vleispastei kors

 

Souskluitjies

18

Sondag aande oppi stoep

19

Pietersielie en basilie kruid

 

Hertzogies

 

Jan Smuts koekies

22

Koningin brood poeding

28

'n Volle Spaanse Fees!

 

Boerewors pastei.


2010

JANUARIE 

 

As vandag die eerste dag van jou nuwe lewe was, waarmee sou jy begin? 

 

 Vir Antwoorde op LESERS NAVRAE gaan loer by: LESERS NAVRAE  

Edit Text

 

28 JANUARIE

So met die eerste maand se uurglas wat leeg geloop het (!! Kan jul dit glo!!) wil ek krui-ini-kies  natuurlike GROEN rate met julle deel!

Soos die jaar mos spoed optel, weet ons almal dat spanningsvlakke geleidelik weer gaan klim. Dus, voor jul daarvan goor spysverterings probleme ontwikkel,

kom ons keer dit vroegtydig SO:

As jy simptome ondervind soos opgeblaasdheid en ’n brandende gevoel in die boonste deel van jou maag bokant die naeltjie,

beteken dit dat jy dalk nog nie jou laaste maaltyd voldoende verteer het nie.

Veral as dit vetterig of baie gekrui was! Dit kan egter ook beteken dat jy oormatige maagsuur het of selfs die begin van ’n maagseer aandui.

Ek, Net soos my oorlede skoonmoeder, my ma en my ouma, het nog altyd in die wonderlike eienskappe van PAPAJAS geglo, en Volgens “Alles-vir-vroue.co.za”

help die ensiem, PAPAIN in Papajas, jou liggaam om proteïne af te breek.

Jy kan koubare papaja tablette by jou gesondheidswinkel of apteek aankoop, en dit veroorsaak nie soos ander teensuurmiddels dat jou maag in effek nog meer sure afskei nie,

Nee, dit help op ’n natuurlike manier die oorsaak van jou simptome genees.

As jy ’n gereelde las van spysverterings probleme ondervind, drink daagliks as jy kan 180 ml onversoete papaja sap of eet ’n groot skyf papaja net na jou maaltyd.

Maak gerus ’n gewoonte daarvan om in seisoen, skyfies of blokkies papaja as slaai saam met maaltye voor te sit.

Papaja en papajasap bly vir tot ’n week lank vars in ’n verseëlde houer in die yskas.

Sluit ook vars Vinkel, of vinkel sade en vars Peperment by jou dieet in.

Ook piesangs. En ½ Etl Suurlemoensap in ’n  bietjie water help ook as noodhulp teen sooibrand!

 

Hoop die paar wenke hou jul spysvertering sommer probleemvry vir die res van die jaar!

 

Hmmm, uitgetoets, en  Dankie aan leseres Irma, vir hierdie resep vir die haastige vrou vir vanaand se ete, probeer gerus hierdie:

BOEREWORS PASTEI 
Boerewors, genoeg om ronde tertbak vol te le.
Pakkie Bruin uiesoppoeier
1 Gesnipperde Ui
Sout
Peper
Gemengde Spesery na smaak
Pasteideeg (1 rol gekoopte broskorsdeeg) ...of jou eie resep...of een van  myne wat reeds geplaas is...
2 Aartappels in blokkies gesny
250 ml Room / of ongegeurde jogurt 
2 Gerasperde Wortels


Voer ronde tertbak uit met pasteideeg
Hou genoeg deeg om bo oor pastei te sit
Braai wors aan weerskante vir 30 sekondes, Hou dit in rol gedraai
Plaas die rol wors op die deeg in tertbak
Braai aartapples, ui, wortels, sout, peper en speserye in bietjie margarien
Los mengsel in pan
Kook room en soppoeier tot dik
Voeg roommengsel by aartappelmengsel
Kook 'n rukkie saam trerwyl aanhoudend geroer word
Gooi mengsel bo oor wors
Rol oortolligge deeg uit en bedek die wors
Bestryk deeg met geklitste eier en melk
Bak teen 180º C vir een uur lank.

Bedien saam met ’n  heerlike vars mengelslaai en skywe papaja!

 

   Celia Thaxter deel met ons:

 "In die dankbare hart, sal daar ewige somer wees."

 

22 JANUARIE

 

Dis weer naweek !!

Kom, nooi jul vriende en vier die middelste dae van die eerste maand van die NuweJaar met iets anders!

Ek het die volgende raakgelees, en ek deel dit graag met julle!

 

LW: Die volgende , Direkte aanhaling van Wilna Myburgh, het verskyn  in JOU WêRELD .

Sy het hierdie heerlike SPAANSE FEES saamgestel, en ek wil dit graag in haar eie woorde plaas.

 

Sy sê :

 

   Moenie vir jouself moeilikheid maak nie, druk al die resepte uit wat jy wil maak en laat die mense help om vir hulself kos te maak.

'n Groot gedeelte van die pret lê in die voorbereiding. Maak net seker almal weet jy nooi hulle vir 'n DIY-partytjie!

 

TE DRINKE

Kalimocho

Mojito

Sjerrie Jones

Witsangria met pynappel

Waatlemoenlemonade

Grenadella-ginger ale-pons

 

Cocktails is eintlik 'n baie persoonlike ding – elke persoon geniet syne anders en met 'n ander mengdrankie. Daarom kan jy die aanpas om flouer, sterker of anders te wees. No hard feelings!

Solank jy dit net geniet.

Hierdie is 'n verskeidenheid van skemerkelkies wat in grootmaat in bekers gemaak kan word, soos die Kalimocho en die Witsangria met pynappel,

en so ook die twee nie-alkoholiese skemerkelkies, die Waatlemoenlemonade en die Grenadella-ginger ale-pons. Die Mojito en die Sjerrie Jones werk weer beter per persoon.

Besluit maar self hoeveel skemerkelkies jy wil bedien. Jy kan ook wyn, sjerrie of bier voorsit.

 

Kalimocho

Die sal nooit as allemansdrankie bekend staan nie – maar met baie ys, 'n skyfie suurlemoen en coke met baie gas in, is dit nou 'n gunsteling van my.

Dis boonop maklik en vinnig om te maak. Maar regtig, moet dit nie met flat coke maak nie!

 

750 ml droë rooiwyn

1 liter coca-cola

suurlemoen om te garneer

 

Meng die wyn en coke. Voeg 'n skyfie suurlemoen en ys by in elke glas en geniet.

 

Mojito

35 ml rum

200 ml sodawater

35 ml kruisementstroop

15 ml lime cordial

ys

 

Meng al die bestanddele saam en skink vir een!

 

Vir die kruisementstroop:

1 koppie (250 ml) suiker

2 koppies (500 ml) water

1 handvol kruisementblare

 

Smelt die suiker in die water oor 'n lae hitte. Eers wanneer die suiker heeltemal gesmelt is, kan jy dit tot kookpunt bring.

Gooi die kruisementblare by wanneer dit begin kook en kook dan vir 5 minute.

 

Verwyder van die hitte, en gooi deur 'n sif om die blare te verwyder.

 

Sjerrie Jones

Die is soortgelyk aan 'n Buck Jones, net sonder die rum.

 

25 ml sjerrie

5 ml lime cordial

gebreekte ys

ginger ale

 

Meng die sjerrie en cordial in 'n 250 ml glas. Gooi halfvol met gebreekte ys en vul dit dan op met ginger ale.

 

Witsangria met pynappel

1 liter witwyn (droog of semi-soet) *

½ pynappel, in blokkies gesny

500 ml pynappel-Fanta

500 ml Sprite Zero

 

Meng die pynappelblokkies met die witwyn. Die kan heerlik trek van die more tot die aand voordat jy die res van die bestanddele byvoeg,

alhoewel dit geen skade sal doen as jy dit voor opdiening meng nie.

 

Voeg dan die Fanta en Sprite by.

 

* Jy kan dit met droë rooiwyn ook maak, vir 'n meer opregte Sangria, gebruik net lemoen-Fanta en voeg appel by in plaas van die pynappel.

 

Waatlemoenlemonade

Nie-alkoholies

 

500 ml waatlemoensap

1 liter lemonade

 

Die beste manier om waatlemoensap te kry, is om dit met 'n voedselverwerker fyn te maak. Indien jy nie van die klein stukkies hou nie kan jy dit deur 'n sif gooi.

 

Meng dan eenvoudig die waatlemoen met die lemonade. Die is werklik heerlik verfrissend!

 

Vir 'n geuriger weergawe kan jy 'n skeut suurlemoensap byvoeg, en vars gemmer saam met die waatlemoen in die voedselverwerker plaas.

Vir 'n weergawe met skop kan jy vodka byvoeg.

 

Grenadella-ginger ale-pons

Nie-alkoholies

 

100 ml grenadella-cordial

50 mlkruisementstroop

1 l druiwesap

handvol kruisementblare, geskeur

1 suurlemoen, in wiggies gesny

1 l ginger ale

 

Meng al die bestanddele saam in 'n groot beker met baie ys.

 

Vir 'n skop kan jy rum byvoeg, of die druiwesap met 'n semi-soet of droë witwyn vervang.

 

 

TE ETE

Albóndigas – Frikkadelle in tamatiesous

Chorizo in appelbier-uie

Varkribbetjies – costillas de cerdo

Croquetas - Aartappel- en kaaskrokette

Calamari en visblokkies in bierbeslag

Mayonnaise-sprietui-doopsous

Geroosterde groente

Geurig-geroosterde neute

Olywe met sonneblomsaad en roosmaryn

Hierdie kos is iets tussen happies, of tapas, soos dit eintlik in Spanje bekend staan, en 'n volwaardige buffetete.

 

Tapas het werklik 'n interessante verlede met 'n verskeidenheid stories van hoe dit ontstaan het.

Een daarvan is dat kroegmanne 'n sny brood op die drinkers se glase gesit het om die vrugtevlieë weg te hou van die soet sjerrie wat hulle meesal gedrink het.

Naderhand het hulle begin om ander kosse en vleise, soos ham en chorizo, bo-op die brood te sit wat die mense aan kon peusel.

Die ham en chorizo, wat beide baie sout bevat, het die mense dors gemaak en so het die kroeë meer geld begin maak deur die eetgoed te verkoop.

Die woord tapas kom dan ook van die Spaanse werkwoord, tapar, wat beteken om te bedek. 

'n Ander verhaal vertel weer dat Koning Alfonso X van sy siekbed herstel het deur wyn te drink en klein disse tussen sy maaltye te eet.

Toe hy eers gesond geword het, het hy beveel dat geen taverna wyn mag gee, as dit nie saam met iets te ete gegaan het nie.

 

Om terug te keer na die kos: Daar is drie vleise: frikkadelle, chorizo en varkribbetjies wat almal heerlik is saam met brood.

Jy kan dus 'n paar Franse brode koop om dit mee te bedien. Aartappel- en kaaskrokette is altyd heerlik en ook vullend.

Dan is daar die vis en calamari wat jy met 'n mayonnaise-sprietui-doopsous voorsit. Geroosterde groente is daar vir die meer gesondheidbewustes,

terwyl die neute en olywe heerlik in klein bakkies oral geplaas word om tussenin aan te peusel.

Ons het ook bakkies met waatlemoenblokkies vir peusel-doeleindes neergesit.

Elkeen van die disse kan as tapas bedien word, saam word dit 'n volledige ete van happies.

 

Ek is mal daaroor dat mens iets so eenvoudig soos 'n frikkadel net na 'n ander land toe kan vat en dan het jy iets nuut en wonderlik.

In hierdie geval is die frikkadelle in Spaans herdoop, bietjie speserye is bygevoeg, en daarna word dit in 'n warm tamatiesous bedien.

Jy kan die frikkadelle 'n dag of twee voor die tyd maak en dan net in die tamatiesous warm maak om tyd op die dag van eet te bespaar.

 

Vir die frikkadelle:

1.5 kg maalvleis

2 eiers

10 ml sout

50 ml tamatiesous

25 ml blatjang

7.5 ml paprika

5 ml fyn komyn

5 ml fyn koljander

5 ml gedroogde oreganum

 

Vir die tamatiesous:

1 blik gekapte tamaties

1 blik tamatie- en uimengsel

50 ml tamatiesous, of 30 ml tamatiepasta

15 ml suiker

15 ml asyn

5 ml gedroogde oreganum

 

Meng al die bestanddele vir die frikkadelle saam.

Braai dan 'n klein stukkie vleis in 'n pannetjie en proe of dit genoeg geur en sout in het en pas dit daarvolgens aan.

Hou so aan totdat dit net reg gegeur is.

 

Rol nou frikkadelle uit. Ek verkies dit klein, met ongeveer 25 g vleis per frikkadel. Plaas nou die frikkadelle in 'n liggesmeerde oondpan en bak vir 20 minute by 180 °C.

 

Jy kan die frikkadelle reeds die vorige dag maak, en dan hulle net in die tamatiesous, wat volg, plaas om te verhit.

 

Vir die tamatiesous meng jy al die bestanddele in 'n kastrol en bring dit tot kookpunt.

Kook vinnig vir ongeveer 10 minute, voeg net bietjie water by indien dit te droog kook.

 

Voeg dan al die frikkadelle by die tamatiesous en roer deur totdat alles deurverhit is.

 

Chorizo is 'n Spaanse wors wat lekkerspicy is. Mens kry dit gewoonlik is verskillende grade van warmte.

Indien jy dit nie te koop kry nie, sal 'n Hollandse rookwors of enige ander gerookte wors goed werk.

 

1 kg chorizo / rookwors

2 uie, in skywe gesny

5 ml olyfolie

1 appelbier / cider – soos Savanna (340 ml)

 

Sny die chorizo in diagonale skywe van ongeveer 1 cm.

Sit dit in 'n oondskottel.

 

Braai die uie in die olyfolie oor 'n stadige hitte, totdat hulle sag en deurskynend begin word.

Voeg dan die appelbier by, laat tot kookpunt kom en kook vinnig vir 5 minute.

 

Gooi dan die ui-appelbier-mengsel oor die wors en bak dit in 'n voorverhitte oond by 180 °C vir20 – 30 minute.

 

2 kg varkribbetjies van jou keuse

 

Vir die marinade:

250 ml blatjang

45 ml witasyn

45 ml heuning, of appelkooskonfyt

15 ml sterk aangemaakte mosterd (heelkorrel of Engels)

 

Meng al die bestanddele vir die marinade. Gooi oor die vark en maak seker dat dit heeltemal bedek is met marinade.

Laat eenkant staan vir minstens 'n halfuur.

 

Voorverhit oond tot 200 °C.

Bak vir 40 – 50 minute, terwyl jy dit voortdurend draai om dit in die marinade bedek te hou.

 

450 g aartappels

300 ml melk

25 ml margarien / botter

4 sprietuie, gekap

100 g (1 koppie) cheddarkaas

sout

1 eier

50 g meel

 

1 eier, geklits

ongeveer 150 g broodkrummels

 

Sny die aartappels in blokkies en kook dit in die melk tot sag.

Voeg die botter by en druk die aartappels fyn.

Voeg dan die sprietuie, kaas, eier en meel by; geur dit met genoeg sout. Laat eenkant om af te koel.

 

Maak nou balletjies van die aartappel – ek het oor die 30 uitgekry – jy kan eintlik maar self besluit hoe groot jy dit wil maak.

 

Klits dan die eier in 'n bakkie, en gooi die broodkrummels in 'n ander bakkie.

Doop dan die aartappelballetjies eers in die eier en dan in die broodkrummels.

 

Die krokette word dan in diepvet gebraai by 180 °C vir ongeveer 5 minute.

Jy kan dit ook vlakbraai en omdraai om al die kante te verbruin.

 

Ek was lank opsoek na die regte bierbeslag – en die een is heerlik. Dit pof mooi op en word maklik goudbruin en hou 'n lekker kraak.

Die paprika gee dit 'n eiesoortige smaak – dis veral lekker saam met die calamari.

So jy kan enige tyd die visblokkies sonder paprika maak en dan net 'n knippie of twee byvoeg wanneer jy met die calamari begin.

 

Vir die beslag:

300 ml meel

10 ml bakpoeier

2.5 ml sout

2.5 ml paprika (opsioneel)

5 ml gemengde kruie vir vis (opsioneel)

300 ml bier

1 eier

 

500 g calamari-ringe, ontvries

500 g stokvis (hake), in klein blokkies gesny

ekstra meel

 

Meng al die droë bestanddele en voeg dan geleidelik die bier by, voordat jy die eier byvoeg en alles deeglik met 'n draadklitser meng.

 

Meng eers, onderskeidelik, die calamari en stokvis in die ekstra meel. Skud enige oortollige meel af.

Gooi dit dan by die beslag en roer deur om alles te meng. Gebruik dan 'n vurk, of jou hande, om die calamari of vis weer uit te duik.

 

Voorverhit olie tot 180 °C*. Braai calamari-ringe vir 3 minute tot goudbruin. Visblokkies sal, afhangend van die dikte, tussen 2 en 3 minute neem.

 

* 'n Diepvetbraaier met 'n termostaat werk die beste om die seekos te braai. Indien jy nie een het nie, kan jy dit met 'n broodblokkie toets.

As hy te vinnig bruin word moet jy die olie eers effens laat afkoel, sodat die deeg nie te vinnig bruin word, maar dan nog rou is binne nie.

 

Geen mens sal jou glo as jy vertel hoe maklik dit is om die te maak nie. Al wat jy benodig is mayonnaise, sprietuie en dille.

 

Sny sprietuie, of slaai-uie, in ringetjies. Meng dit saam met varsgekapte, of gedroogde dil by die mayonnaise. As jy nie dille kry nie, kan jy dit weglaat.

 

Sommige soorte mayonnaise, veral die wat nie so dik en romerig is nie, kan baatvind by die sap van 'n halwe suurlemoen.

 

Groente het maar altyd sy plek in 'n ete. Hierdie is regtig kleurvol en jy kan cocktail-vurkies of klein vurkies neersit om dit mee te skep.

Dit word eenvoudig gerooster en met asyn en suiker gegeur.

 

3 soetrissies (rooi, geel en groen)

5 mediumgrootte murgpampoentjies

200 g aspersies

100 g kersietamaties

25 ml suiker

25 ml rooiwynasyn

sout en varsgemaalde swartpeper

 

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Sny die soetrissies in lang, breë repe.

Sny die murgpampoentjies ook in repe oor die lengte.

 

Meng die soetrissies en murgpampoentjies in 'n oondskottel en bak vir 10 minute.

Voeg dan die aspersies en tamaties by en bak nog 10 minute.

 

Gooi dan die suiker en asyn by en geur dit met sout en swartpeper voordat jy dit vir nog 5 – 10 minute bak.

 

Om die een of ander rede is hierdie neute verslawend – mens kan net eenvoudig nie ophou eet nie.

 

300 g neute (heel amandel, pekanneute en kasjoeneute gemeng)

45 ml bruinsuiker

5 ml paprika

sout, oorgesprinkel

1 ml cayenne-, of rooipeper (opsioneel)

 

Voorverhit oond tot 180 °C.

Meng al die bestanddele en bak vir 20 – 30 minute. Skud en roer na elke 10 minute.

 

Wanneer olywe gerooster word neem hulle dadelik 'n anderste geur aan. Die sonneblom saad gee ekstra crunch!

 

50 olywe, calamata of swart

handvol sonneblomsaad

vars roosmaryntakkies, blare van takkie verwyder

swartpeper

 

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Meng al die bestanddele saam in 'n oondskottel of pan en bak vir 20 minute.  

 

Sela!

Geniet dit!

 

 

 

19 JANUARIE

Dese Oggend, om half drie, het die wolk-karos oor die Bo-Karoo saggies oopgevou, en met streelsagte druppels die Genadeseën oor die droë dorre aarde uitgesprei.

Met hande styf om ’n beker vroeë oggendtee, die smaak van heuning daarin aards en troosryk, het ek in die lig van my lessenaarlamp, stil en binne-jubelend na die reënval op die sinkdak geluister.

Met eerste-lig het die voëls sagter as gewoonlik, asof ademloos ontwaak. Amper biddend in hul sang, smekend dat die reënweer net nie voor die komende dag se son, moet wyk nie!

Die gewone staptyd sonsopkoms, is vervang met ’n digte grys kombers wat, sag deurdrenkend en nat teen my wang kom lê het.

Springbokkies staan doodstil, koppies reënkant ingedraai, die spierwit pronk-kwaste ruglangs oopgevou asof in ontvangserkenning van die gawe van Bo.

In die Bo-Karoo, al sit die lê-henne skielik bedremmeld op hul stellasie, gee ons nie om, om nat te word nie.

Dit reën by ons!

 

ONTHOU JUL NOG die dae sonder oorloop, toe Sappe tot sterwenstoe Sappe was, en Natte tot sterwenstoe, Natte was? 

...Bruinhemde, Gryshemde, Rooiboordjies, Stormjaers, Smuts-mense en Herztogiete...

 

Hertzoggies  (het die klapper-lagie bo-oor)

1 k botter

3 k meelblom

1/2 t sout

3/4 k suiker

2 t bakpoeier

1 k klapper

1/2 k fyn suiker

4 eiers

appelkooskonfyt

Sif meelblom, sout en bakpoeier saam en voeg suiker by. Sny en

vryf die botter in. Meng met goedgeklopte eiergele sodat die

deeg uitgerol kan word. Druk af en voer klein vormpies hiermee

uit. Plaas in elk 'n bietjie appelkooskonfyt. Klop eierwitte droog,

voer klapper en strooisuiker by. Sit bietjie bo-oor konfyt Bak in

warm oond 190 - 205 C tot gaar.

 

Generaal Smutskoekies (het die deeg-lagie bo-oor)

250 g botter

750 ml meelblom

250 ml suiker

10 ml bakpoeier

2 geklopte eiers

knippie sout

melk

fyn appelkooskonfyt

Bolaag:

50 ml suiker

50 ml botter

2 geklitste eiers

50 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

Klop suiker en botter tot romerig. Voeg eiers by en meng. Sif

meel en bakpoeier saam en voeg by eiermengsel en meng goed.

Vryf botter in meel. Voeg suiker, sout, bakpoeier en eiers by.

Meng met melk tot dit gerol kan word. Rol dun uit en sit in

kolwyntjiepanne. Plaas een teelepel appelkooskonfyt in elkeen.

Bedek met die bolaag hierbo. Bak by 200ºC vir 10-15 minute.

 

En net vir die realiteit, dit was tydens die Anglo-inmenging...

 

Koningin's Poeding (ou resep)

1 lb (450 g)  broodkrummels, meng met geel van 4 eiers

3 lepels witsuiker

1 koppie melk

15 druppels lemoenessens

Meng alles goed. Bak in skottel tot mooi ligbruin. Haal uit en

smeer marmalade oor. Klop dan die wit van die 4 eiers tot skuim

en sit bo op die marmelade. Sit die poeding weer in die oond

totdat dit styf is, nie te bruin nie.

(Erkenning vir die drie resepte aan: Peterjasie se eBoek van Vernoemde Resepte.)

 

Volgens -Ogden Nash-

Begin die Middeljare (!!) wanneer jy op ’n Saterdagaand by die huis sit,

en wanneer die telefoon lui, hoop dit is nie vir jou nie!

 

18 JANUARIE

So tussen Nuwe Maan en die Eerste Kwartier, begin ons die nuwe week vol moed en vol energie! (Hoop ons nie waar!)

Volgens ’n gesondheids webtuiste vir vroue, kan die gebrek aan WATER vir baie van ons probleme die skuld kry.

Ook vir daardie knaende behoefte aan peusel! Lila Bruk, ’n  geregistreerde dieetkundige, beweer dat baie van ons, DORS met HONGER verwar,

daarom peusel ons dikwels wanneer ons eintlik net WATER moes drink om in ons liggaamlike behoefte te voorsien.

Sy beveel dus aan dat wanneer jy weer daardie onbeteulbare lus ontwikkel vir iets – wat jy weet nie in jou kas of laaie is nie!-  gaan drink ’n  glas WATER!

 

Jul sal ook sien dat hier hierdie jaar heelwat oor tuinmaak en dies meer ook sal verskyn, daarvan gepraat:

Moenie daardie KRUIETUIN van jou afskeep nie!

Pietersielie bevat bv. baie vitamiene en minerale, wat ook yster insluit, en yster is o.a. nodig vir vitaliteit! Pietersielie het waterdrywende eienskappe en kan ook sekere krampe en hoofpyne verlig.

2 tl vars sap van die blare, kan jou niere wondere doen, en ’n tee gemaak van 2 tl gekapte vars Pietersielie, laat trek in 1 kp kookwater, drie keer per dag geneem, kan baie help vir hoofpyn en blaasontsteking!

 

Maak ook ’n  tee van 1 tl gekapte vars Basiliekruid, met 1 kp kookwater (kook die water, voeg die blare daarby, hou dig bedek, en laat trek tot mooi helder kleur, sowat 10 minute)

Kombineer met vars Ment en heuning vir ’n  aangename smaak, en drink dit vir rumatiek, maag ongesteldhede en hardlywigheid. ’n Lappie (kompress) hiermee klam gemaak, op jou voorkop help ook teen hoofpyn!


En terwyl ons nou so gesondheidsbewus is vandag, onthou dat rooi en geel Soetrissies dubbel soveel Vit C as groen Soetrissies het, en dat Soetrissies (green-peppers) meer Vit C

as lemoene het! Stoot dus jou inname van die belangrike vitamien gerus natuurlik op deur soetrissies by jou slaaie en in jou kos te voeg. Verkieslik rou! 

As jy bv. bietjie teveel gekuier het, of grieperig voel, of herstel na siekte... kan jy gerus ’n drankie maak van

’n halwe Soetrissie, 2 tamaties, ’n handvol pietersielie, ’n paar basiliekruid blare, en 1 heel kiwi.

Dit maak ’n heerlike voedende, versterkende drankie wat jou sommer dadelik Woema vir die dag kan bied!

En hoe seg ek altyd? Geniet dit net ! Voila!

 

Om jou lewe alleenlik daarop te fokus om finansiële gewin te smaak, bewys Armoede in Ambisie.

Dit vra immers te min van jouself en sal jou diep binne, onvervuld agterlaat!

-Barack Obama

 

14 JANUARIE

Die reën bly min in die Bo-Karoo, die wolke pak smiddae egter belowend saam, gister staptyd kon ek kortliks Jakkals-trou-met-wolf-se-vrou huppel-sing,

en na die bietjie druppels was daar ’n helder reënboog in die prisma-lug geplant, om Herfstyd dit weer in blarekleure vir ons te kan kom wys!

 

Nog iets vir die haastige kok! Maak die volgende aan en gebruik dit soos nodig!

(Addisionele meel kom soms by.)

 

“BêRE - MENGSEL”

9 en 1/3 kp koekmeel

4 Etl bakpoeier

1 pd margarien / botter / kookvet 

3 tl sout

(ek gebruik 2.5 kg meel en  500 g marg) 

Meng droë bestanddele. Vryf smeer in. Bêre in glasfles in yskas, en gebruik soos nodig.

 

 

 

Wat kan jy hiermee maak?

 

 

 VLEISPASTEI - KORS

Maak 1 kp mengsel aan met koue water en skeutjie suurlemoensap. Druk / rol dun uit.

Gebruik soos benodig.

 

OF

 

SKONS / BOTTERBROODJIES

1 ½ kp mengsel

½ kp meel

1 eier met ¼ melk geklits

Maak alles aan tot sagte deeg. Druk plat, sowat 2 cm dik. Druk met glas / koekiedrukker in sirkeltjies.

Plaas op gesmeerde bakplaat en bak in warm oond vir so 10 – 15 minute tot goudbruin en gaar.

 

OF :

 

SOUSKLUITJIES

(in elektriese braaipan, ek verkies dit, maar dit kan ook in oondpan, bedek deeg bolletjies met foelie, in oond gebak word.)

4 groot etl mengsel

1 groot Etl meel

1 Etl suiker

1 eier

Bietjie melk

Maak sagte deeg aan met bestanddele. Kook sowat  1 ½ cm  (! Dis reg ja, cm!) water in  braaipan.

Gooi knypie sout en ’n  paar klontjies botter by. Laat botter net smelt, skep nou lepelsvol van deeg in water in die pan, sit deksel op en kook /bak vir sowat 10 – 15 minute. 

Haal uit. Skep die kluitjies oor in opdienbak warin dik lagie kaneelsuiker gestrooi is, en strooi nog kaneelsuiker bo-oor.Stip met klontjies botter.

Maak in dieselfde pan sous: Kook 1 ½ kp water en ½ kp kaneelsuiker op, bind met bietjie Maizena/Mielieblom, hou warm tot bedieningstyd, giet sous oor kluitjies in bak en Voila!

 

SONDAGAANDE OPI STOEP

Maak bg. SKON-degie aan.

Druk plan in oondpan.

Bak in warm oond tot goudbruin.

Haal uit oond, gooi nou ½ kp gesmelte botter oor, laat effe intrek, dan smeer jy lagie Bovril / Marmite oor, rasper lagie Cheddar kaas bo-oor. Rooster.

Sny wiggies en eet sommer buite op stoep !

 

Ek het ook al tussen die Bovril en kaas, ’n dun lagie fyn gestampte biltong gestrooi, óf ’n  lagie gaar spinasie en feta geskep.

En ek het al I.pv. Bovril, tamatiesous of vars dun skyfies tamatie en brosgebraaide maalvleis of spek gebruik.

Geniet dit!

   Oscar Hammerstein die Tweede, het gevra:

Het ek jou lief oor jy beeldskoon is, of is jy beeldskoon oor ek jou liefhet?

Of is dit ’n hersenskim dat ek in jou iemand sien wat te perfek is om waar te kan wees?

Wil ek jou hê omdat jy wonderlik is, of is jy wonderlik omdat ek jou wil hê?

Is jy die soet maskerade van ’n  minnaars droom,  of is jy regtig so pragtig soos wat jy lyk?


11 Januarie

Ons lewe in ’n  kits wêreld met kits produkte...kom ek gee vir jul die eerste kitsresepte vir kits-kookwerk met ’n tuisgemaakte aanslag!

 SPESERY SUIKER  vir pannekoek, melktert, wafels...en enige soet afronding.

 625 ml sagte bruinsuiker

 50 ml van der Hum likeur

 10 ml kaneel

 2 ml neutmuskaat

 1 ml gemengde speserye

 25 ml gerasperde lemoenskil

 25 ml vermicilli

Meng 125 ml suiker met die likeur en speserye, voeg res van suiker, skil en vermicilli by en roer goed deur. Bêre in mooi digsluitende fles.

 

SOUSPOEIER

250 g Bisto

250 g Maizena

1 pakkie elk van : bruin uie sop poeie, tamatiesoppoeier en sampioensop poeir.

Meng goed deur, hou in lugdigte houer, Gebruik soos verlang na dikte van wat verlang word. 

Jy kan dit met bietjie water of melk aanmaak en  by gereg voeg of  bloot bo-oor strooi  en roer tot verlangde verdikking plaasvind.

 

RETHA se TEXAN-STEAK braaivleis speserye.

Meng :

 1 groot bottel Robertsons Braaivleis spesery

 1 groot bottel Robertsons Hoender spesery

 1 klein botteltjie elk van: swart growwe peper, seldery sout, pietersielie, tiemie 

 1 klein houertjie Aromat.

Gebruik soos nodig.

 

Goedkoper kits-CUPPACINO

...as jul so lief is soos ek vir my daaglikse Cuppacino dan sal jul hierdie nuttig vind!

 125 ml Cremora-lite verromer

 60 ml Nespray melkpoeier / Elite

 60 ml Nescafe kitskoffie

 60 ml strooisuiker ( of laat weg en gebruik versoeter soos nodig met maak daarvan)

Meng baie goed tot FYN poeier met voedselverwerker (Bamix)

Hou in glasfles wat dig seël en gebruik 3 groot tl per koppie soos nodig!

Jy kan ook vir ’n tikkie andersheid byvoeg: 10 ml kakao OF 10 ml kaneel.

 

Maak sommer baie hiervan aan, skep in mooi botteltjies, plak jou eie etiket daarop en gee as Nuwejaars geskenkies aan jou vriende!

 Voila!! 

 

Ons het nooit dit waarvan ons hou nie

Ons hou nooit van dit wat ons het nie

En tog leef ons, het ons lief, en word bemin

Dit,  is die lewe...                  

                                            -Nelia Vermeulen –

 

1 JANUARIE

Guillaume Apollinaire,1880-1918, het geskryf:

Have the courage to fly...

"Come to the edge." 
"We can't. We're afraid." 
"Come to the edge." 
"We can't. We will fall!" 
"Come to the edge." 
And they came. 
And he pushed them. 
And they flew." 

Begin die NUWEJAAR met die vaste voorneme

van net EEN

NUWEJAARS VOORNEME:

DRINK MEER WATER !!! 

 

In ’n  wêreld waarin amper alles afgejaag word,

huiwer ’n oomblik en dink tweekeer-

Want vir elke besluit wat jy neem, word ’n oomblik geleef,

’n herinnering gevorm...
                                           - P Khanyile –




 
Wil jy hê ek moet jou meer inligting oor iets gee?    
Kontak my regstreeks by: rethajm@gmail.com  
Groetes!!
 Rx. 
 
 

Retha van Somaakmens

Indien jy nog nie ONSDORP se nuusbrief ontvang nie,

Vul die onderstaande vormpie in vir heerlike tong in die kies humor,

Vars elke twee weke in jou posbus