JUNIE 2010 !
Donderdag. 24 Junie
Dagsê Lesers!
Vroeg oggend lê
die bos se blaredak en die omliggende grasveld langs die Gariep spierwit geryp. Krakend onder my skaapvel pantoffel-sole as
ek vroeg uitgaan om wit kristal foto's van alles te neem. Tot my vingers en tone begin krul van die koue dan hardloop ek behoorlik
terug na my oewerhuisie om dadelik my hande om 'n warm koppie koffie te kan vou. Dan staan ek so slukkie vir slukkie en kyk
hoe die son sy eerste strale oor die rante anderkant die rivier gooi, hoe die strale oorkruip tot op onse stoep en dan
begin die blare druppeltjie vir druppeltjie reën soos die witryp wegsmelt. Die Groot Genade, oorlewering, én
die natuur, het my geleer dat sulke wit gerypte oggende die voorspoor is tot 'n prag dag! So tussen die goue son-gevulde windstil
wintersdae, wil ek graag lesers se navrae beantwoord!
Ronel Henning het geskryf: Ek is opsoek na 'n
patatgereg wat by braaivleis geëet kan word.Vermoed dit kry room bo-oor. Help groot asseblief!
Miemie Koukeas, het
geskryf: Groot asseblief : ekonomiese sult resepte!
En Jeanette: Hi, ek sit in die vreemde
en geniet al die lekker resepte en wenke. Ek soek na 'n resep vir iets wat ek baie jare terug gemaak het en nie die
resep van kan onthou nie. Dit was dadel bolletjies gerol in klapper. Onthou net die dadels word opgewarm met botter en suiker.
Nie seker wat nog nie. Sal baie waardeer as jy my kan help met die resep. Groetnis!!
Dankie vir jul navrae!
Hoop ek kan help met die volgende!
Hier is 'n paar heerlike PATAT-RESEPTE
O.a. van Peter Veldsman en ANNA EKSTEEN. Kry
gerus haar GROENTE-RONDOMTALIE en ander GROENTE reepteboeke, bestel op die RESEPTE blad, daar is heerlike goete daarin!! Geniet
dit!!
SOETPATATS
(4-6 porsies)
110 g (125 ml/ 'n halwe koppie) suiker
125 g (125 ml/ 'n halwe koppie) gouestroop
50 g (50 ml/ 4 eetlepels)
botter
1 stuk pypkaneel, in die middel deurgebreek
5 ml (1 teelepel) fyn gemmer
4-5 middelslag patats,
geskil (in skywe gesny en in suurlemoenwater geplaas sodat die water die skywe bedek - plaas 'n piering daarop as hulle nie
onder die water wil bly nie, dit keer dat dit verkleur!)
gedroogde nartjieskil OF vars dungeskilde lemoenskil
sout na smaak
vanielje-geursel OF
selfs 'n lepeltjie of twee brandewyn,soetwyn of sjerrie
1. Skep die suiker in 'n kastrol en voeg ongeveer 75 ml (6 eetlepels)
van die patatwater by. roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos is. Verhoog die hitte en kook een minuut lank. Voeg die
gouestroop, botter, kaneel en gemmer by en roer totdat die botter gesmelt is en die mengsel begin borrel.
2. Dreineer intussen
die patatskywe. Moenie droogdruk nie. Voeg die patats by die stroop en gebruik 'n houtspaan om die skywe om te keer sodat
almal behoorlik met stroop bedek is. Sit die deksel op, verlaag die hitte na laag en prut ongeveer 20 minunte lank. Daar sal
nou 'n redelike hoeveelheid vloeistof in die kastrol wees.
3. Verwyder die deksel, geur met sout na smaak en voeg die skil
by. Verhoog die hitte effens. Prut totdat die sous begin taai raak en keer die skywe af en toe met 'n houtspaan om. Van die
skywe sal begin sag kook en breek. Hou so aan totdat die mengsel mooi toffiekleurig en taai is. In hierdie stadium kan die
soetpatats met 'n klein bietjie vanielje-geursel gegeur word, indien verkies. Skep in 'n opdienskottel en hou warm.
Sit voor saam met braaiboud,
varktjops, geroosterde hoender of gestoofde skaapnek.
HOE OM PATATS TE BAK
Patats hoef nie stroopsoet gedokter te word
nie. Maar moenie hulle net in gesoute water gaan staan en opkook nie.
Maak so: Kies patats wat almal ongeveer ewe
groot is sodat hulle dieselfde gaarmaaktyd sal he. Skrop mooi skoon sonder om te skil. Plaas die patats in 'n oondpan en bak
teen 160C. Bak ongeveer een tot een en 'n half uur lank. Toets met 'n toetspen. Die patats moet in die middel sag wees. Verwyder
uit die oond en Voila!!
PATATTERT
Hier is 'n plan met oorskiet- gebakte patats. Nie so soet soos die soetpatats
nie, maar geurig en 'n besonderse bykos by braaivleis se boerewors. Selfs deftig by 'n skyf beesfilet en 'n sousie op die
bord by die gestyfde damasktafeldoek vir die meer formele ete!
(EK, gebruik sommer gekoopte bevrore skilferkorsdeeg met hierdie
vulsel.)
Slegs die helfte van die deeg word vir die patattert gebruik.
Suurroom word egter verpak en aangekoop in houers
van 250-275 ml en daarom word 'n dubbele hoeveelheid deeg berei,die ander helfte kan jy vir latere gebruik vries.
DEEG:
415 g (875 ml/ drie
en 'n halwe koppie)koekmeelblom
12,5 ml (1 eetlepel) sout
3 ml ('n halwe teelepel) rooipeper
3 ml ('n halwe teelepel)
mosterdpoeier
100 g (100 ml/ 8 eetlepels) koue botter, in blokkies gesny
een houertjie (250-275 ml) suurroom
VULSEL
3-4 gebakte patats
(lees weer hierbo)
10 ml (2 teelepels) fyn gemmer
3 jumbo- of 4 ekstragroot eiers
125 ml ('n halwe koppie)
dik room
185 ml ('n driekwart koppie) melk
125 ml ('n halwe koppie) groenteaftreksel (gebruik 'n halwe blokkie)
sout en peper
5 ml (1 teelepel) borrie
'n halwe fyngerasperde
neutmuskaat
1. DEEG: Sif die meel, sout, mosterdpoeier en rooipeper in die bak van 'n elektriese menger. Voeg die
botter by die meelmengsel en klop 30 sekondes lank met die K-hak by "spoed 2". Verhoog die spoed tot 4 en klop nog
15 sekondes. Verminder die spoed tot 1 en voeg die suurroom by. Klop nog 20-30 sekondes totdat die deeg 'n bal vorm en die
kante van die mengbak skoon is. Keer uit oop 'n meelbestrooide deegplank en druk liggies saam. verdeel in twee dele. Bedek
met kleefplastiek en plaas minstens 30 minute lank in di ekoelkas om te rus voordat die deeg uitgerol word.
2. Voorverhit die oond
by 220C (450F). Rol die deeg uit en voer 'n tertbord met 'n deursnee van 250 mm (10 duim) of effens minder met die deeg uit.
Prik die boom van die deegdop met 'n vurk. Bedek met bakpapier en vul met droebone. Bak 10 minute lank. Verwyder uit die oond
en verwyder die papier met die bone en al. Bak nog 5 minute. Verwyder en laat koud word. Verlaag die oondhitte tot 160C (325F).
3. VULSEL: Trek die
patatskille versigtig af en sny in skywe van 12,5 mm ('n halwe duim) dik. Pak 'n laag patatskywe in die tertdop. Strooi vand
ie gemmer oor. Klop die eiers, room, melk en aftreksel saam en geur met sout, peper, borrie en neutmuskaat. Skep van die eiermengsel
oor om die skywe amper te bedek. Herhaal met nog patatskywe en geur weer met gemmer. Herhaal met van die eiermengsel. Gebruik
al die patatskywe en skep die res vand ie eiermengsel oor om amper die kors tot bo te vul. Bak 35-45 minute lank totdat die
vla gestol en die bokant van die tert mooi goudbruin is. Verwyder uit die oond en laat effens afkoel. Rond af met tamaties
en kruie. Sit louwarm voor.
GEBAKTE PATATS
500g Patas geskil en in 1cm blokkies gesny
250ml Vars Room
125ml Melk
1 pakkie Royco Dik
Wit Uie Sop
1 huisie Knoffel - fyngemaak
Gemaalde swart peper
- Plaas rou patats in gesmeerde bak met ‘n
deksel (met ‘n volume van 2L)
- Meng al die bestandele en gooi oor patat
- Bak teen 180°C vir 30 minute met deksel
op
- Haal deksel af en bak vir verdere 20-30 minute.
NOG PATAT TERTJIES
(4 klein tertjies van sowat 8 cm in deursnee)
Deeg
225 g (400 ml) meel
knippie sout
15 ml strooisuiker
125 g wit margarien,
in klein blokkies gesny
30 ml botter, in klein blokkies gesny
ongeveer 2 eetlepels koue water
Sif die meel en sout
saam in 'n mengbak. Voeg die strooisuiker by. Voeg die margarien en botter by en vryf in tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg
die water eetlepel vir eetlepel by en meng tot 'n stywe deeg. Maak toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir omtrent
30 minute.
Vulsel
2 eiers
225 ml melk
500 g patats, gaargemaak, fyngedruk en afgekoel
125 g (150 ml) strooisuiker
1 ml sout
1 ml neutmuskaat
1 ml fyn gemmer
2 ml fyn kaneel
nog fyn kaneel om bo-oor
te sif
styfgeklopte room, om voor te sit
Verhit jou oond tot 200 °C. Rol die deeg uit op 'n meelbestrooide oppervlak.
Sny sirkels uit en voer gesmeerde tertbakkies daarmee. Klits al die vulselbestanddele goed saam en skep in die uitgevoerde
bakkies. Plaas op 'n bakplaat en bak vir ongeveer 35 - 45 minute. Toets die vulsel met 'n toetspen - wanneer dit droog uitkom,
is die tertjies gaar. Laat die tertjies in die bakkies afkoel en keer hulle dan versigtig uit. Sny 'n blaarvormige patroon
uit 'n stuk papier en plaas die papier bo-op die tertjies. Sif kaneel oor en haal die papier versigtig af. Sit voor met styfgeklopte
room.
GEBRAAIDE PATATS IN PYNAPPELSTROOP
Bestanddele
500 g Patats
1 med Pynappel gerasper
2 e Botter
½ k Bruinsuiker
¼ k Lemoensap
12 Malvalekkers
Metode
Kook patats in soutwater
en trek die skil af. Maak 'n sous van die res van die bestanddele (behalwe malvalekkers). Verhit die sous bestanddele net
tot kookpunt.
Rangskik patat skywe in oondskottel en plaas malva lekkers oor. Giet die sous oor.
Bak vir 20 tot 30 minute
teen 180°C.
SOETPATAT EN APPEL GEREG
1.5 kg patats (geskil,skyfies gesny)
1 kg appels (geskil,
blokkies gesny)
8 naeltjies
300 ml kookwater
250 ml vars lemoensap
200 g geelsuiker (250 ml)
7 ml gemmer
Plaas patatskyfies
onder in kastrol. Plaas appelskyfies bo oor. Voeg naeltjies by. Bedek en stoom gaar, ongeveer 15 minute. Verwyder naeltjies,
giet oortollige water af. Meng patat en appelskyfies deurmekaar. Plaas in 'n gesmeerde vuurvaste bak. Plaas lemoensap,
suiker en gemmer in kastrol. Los suiker op, verhit tot kookpunt. Giet bo-oor patat en appels. Bak 30 minute lank in
voorverhitte oond teen 180 grade C. Dien op saam met gebraaide varkboud of tong.
PATATS MET GEMMERKOEKIES:
6 patats
150g bruinsuiker
50ml stroop
½ pak Marshmellows
- gesnipper
250ml room
Pakkie gemmerkoekies - fyn gedruk.
Kook patats in soutwater tot amper gaar.
Meng suiker, stroop
en room.
Pak lae patats en koekies, gooi suikermengsel oor.
Bak in matige oond tot sous dik word.
En MY GUNSTELING PATATS!!
500g patats
1 rol Blaardeeg (ontdooi
in yskas oornag)
1 koppie bruinsuiker
1 koppie room
1 teelepel karamelgeursel of vannillageursel
Kook patats sag in
soutwater.
Rol blaardeeg uit en maak patats fyn en vou patats toe in blaardeeg.
Plaas in oondbak.
Meng suiker, room en
karamelgeursel en gooi oor patats.
Bak in voorverhitte oond vir so 'n halfuur teen 180 grade
Hier's ook ámper
al my DADEL bolletjie-resepte, party bykans dieselfde, so lees en kyk maar, watter een jul wil maak!
DADEL HAPPIES
250 g Botter of Margarien
250 ml Suiker
500 g Dadels - fyn
gesny
1 Eier, goed geklits
200 g Marie beskuitjies in stukkies
Klapper
Smelt suiker en botter oor lae hitte, die mengsel
moet nie verbruin nie. Voeg dadel en eier by en roer goed sodat eier egalig inmeng. Voeg beskuitjies by en meng deeglik.
Haal van stoof af en
gooi mengsel in 'n gesmeerde pan van 23 X 23 cm. Stryk plat met 'n mes. Strooi klapper bo-oor en laat koud word. Sny in blokkies
en geniet.
Wenk
Die Marie beskuitjies kan vervang word met Rice Krispies. Gooi genoeg Rice Krispies in. Rol nou die
mengsel in balletjies. Rol die balletjies in die klapper.
DADELBALLETJIES
250 g ontpitte dadels,
fyn gesny
250 g botter
200 ml strooisuiker
4 x 250 ml Rice Krispies
70 g klapper
2 ml koeksoda
Verhit die dadels,
botter, strooisuiker en koeksoda in 'n dikboomkastrol tot kookpunt. Roer gereeld. Laat vir 3 minute kook tot dik, bruin en
stroperig.
Verwyder die kastrol van die hitte, voeg die Rice Krispies by en meng goed. Laat afkoel.
Rol in balletjies en
rol die balletjies in klapper. Bêre in 'n lugdigte houer.
(maak ± 48)
Nog DADEL EN ONTBYTPAP
BOLLETJIES
1 lb (500gr) Dadels
2 kop Suiker
6 kop Rice Crispies
2 eetlepels gesmelte Botter
4 Eiers geklits
Klapper
Laat dadels, suiker
en botter saam kook vir 10 minute.
Roer goed geklitste eiers by.
Kook weer.
Voeg rice crispies
by.
Rol balletjies en rol dan in die klapper.
DADEL EN NET TRUFFELS (Arina v.d. Landbou weekblad
se resep.)
250 g (1 pakkie) ontpitte dadels, fyn gekap
130 g marsepein, in klein stukkies gesny
100 g (1 pakkie) gemaalde
amandels
30 ml heuning
300 g donker sjokolade, fyn gekap
Verwerk die dadels in 'n voedselverwerker tot
fyn. Voeg die stukkies marsepein, gemaalde amandels en heuning by en pols tot goed gemeng. Keer uit in 'n mengbak, rol in
ewe groot balletjies en pak op 'n bakplaat. Verkoel tot yskoud. Smelt intussen die donker sjokolade stadig oor lae hitte tot
heeltemal glad. Gebruik 'n vurk om die dadelballetjies in die sjokolade te doop. Lig elkeen uit en laat oortollige sjokolade
goed afdrup voor dit op 'n vel waspapier gepak word om hard te word. Sodra hard, versier die truffels met eetbare goue of
silwer poeier, of drup gesmelte, wit sjokolade daaroor. Pak in papiertruffelkoppies en in 'n mooi, vlak boksie met 'n deksel.
Hou in die yskas. Lewer sowat 35 truffels.
DADELROLLETJIES
(Uit Anna Eksteen se E-RESEPTE BOEK: VIR DIE
SOETTAND!)
250g botter of margarien
250ml bruinsuiker
1 pakkie Mariebeskuitjies
2.5ml vanilla geursel
15ml kakao
2 eiers, geklits
25g pakkie dadels, fyn gesny
250g pakkie klapper
12.5ml brandewyn (opsioneel)
Smelt botter, suiker
en kakao saam oor stadige hitte. Voeg fyngesnyde dadels by. Verwyder van hitte. Laat effens afkoel en voeg die goed geklitse
eiers by. Rol in balletjies en dan in klapper.
(Gaan kyk gerus op die RESEPTE bladsy, jul kan daar van Anna se
boeke bestel!)
En, MY DADEL-DELIGHTS!(gaan loer gerus in die ARGIEF ook rond...)
VRUGTE EN NEUTE HAPPIES.(2
opsies)
½ kp baie fyn gekapte droë mango (of ander droë vrugte)
½ kp gekapte Macadamia's ( of Pekans)
½ tl fyn
kaneel
1kp grondboontjie botter
OF
1kp fyn gekapte dadels
1kp fyn gekapte droë appelkose
½ kp fyn gekapte
Pekans
½ kp Macadamias
Meng alles baie goed. Rol in balletjies en rol balletjies in klapper of sesamsade.
Oor AFVAL en BRON /
SULT:
WIKEPEDIA seg: ( Ek het dit bietjie geredigeer!!)Toe die meeste boere self hul vee geslag het was dit gebruikliker
om die slagoorblyfsels vir geregte aan te wend, soos beestong, skaaptongetjies, bees- en skaapderms, harslag (gemaalde of
in klein stukkies gesnyde longe, hart en lewer; soms ook milt of niertjies), 'peertjies' ('n hoefdier se testikels), beessnoet,
skaapharsings, die netvet, soetvleis (sweserik), beesstert en dies meer.
Wanneer skaapafval met die kop berei word, saag
'n mens eers die kop oop en sit die harsings in die kleinpensie (ritikulum, ook harsingpensie, heuningkoekpens of ruitjiespens
genoem) sodat jy dit met die kop, pens en pootjies in die afvalpot kan laat prut.
Party mense verkies
hul afval met uie, aartappels en naeltjies. Party mense voeg borrie, kerrie, kortgekookte uie, wonderpeperkorrels, lourier,
suiker en sout by. Dit maak 'n pot kerrieafval.
Bereiding
Teneinde die pens sag te kry en die misgeur
te laat verdwyn, kook 'n mens hom eers 'n halfuur in 'n aparte pot kookwater met sowat 2 ETL asyn(hierdie proses word afwater
genoem), waarna jy hom met die res van die afval laat prut. Afval neem omtrent 3 tot 4 ure se prut om gaar te wees; Die vleis
is dan murgsag en dit val van die bene af.
As die vleis sag is word die skedelbene, pote en kake uit die
pot gehaal, die vleis word in kleiner stukkies gesny waarna die vleis terug in die pot gesit word. Dan word die speserye en
uie aan die afval toegevoeg en word dit 'n halfuur gekook, terwyl 'n mens dit goed roer om te verhoed dat dit aanbrand.
Afval lyk na 'n dik,
klewerige, ryk bredie. Dit behoort goed lymerig te wees, aangesien die binnegoed van die onderste lit baie lymstof -- kollageen
-- en gelatien bevat. As die afval heeltemal afgekoel is, stol dit.
Dit is baie belangrik dat die afval goed skoongeskraap
is voordat dit gekook word. Die pootjies se harde naeldeel van die kloutjies moet afgehaal word, die kop en pootjies se hare
moet met koeksoda of kalkwater afgeskraap word. Die pootjies moet tot by die eerste lit tussen die kloutjies ingesny word
om die kliertjies te verwyder.
Veral pens kan die afval 'n wilde smaak gee indien dit nie goed skoongemaak is
nie.
Deesdae word afval in die supermarkte en by slagters -- verbruikersvriendelik -- skoon en wit afgelewer
of verkoop.
Sult
Kommersieel word Van varkkop en varkpote of beespote ook sult berei. Hierby word
die vleis met met lourier, naeltjies, sout en peper gekook, dan word dit gemaal (sonder die lourierblare) en by die dik, lymerige
sous teruggesit. Dan stol dit in 'n bakkie in die yskas. Soms is die sult te dik; in dié geval word die sult weer opgewarm
en word daar water bygevoeg.
KERRIESULT (Peter Veldsman)
(12 porsies)
2,5 kg beesskenkels,
gewas
1 beespoot, gewas
2 varkpote, gewas
4 lourierblare
20 peperkorrels
3 vet knoffelhuisies, gekneus en geskil
3 groot uie, oorlangs
(in die lengte) gehalveer, geskil en gekap
30 ml olie
50 ml matige kerriepoeier
375 ml asyn
gemaalde peper na smaak
10 ml fyn koljander
20 ml sout
10 ml borrie
30 ml sagte bruinsuiker
30 ml appelkooskonfyt
1. Plaas die
skenkels en pote in 'n groot kastrol, bedek met koue waster en verhit tot kookpunt. Blansjeer die vleis en pote vir drie minute,
verwyder en druk droog. Gooi die blansjeer-water weg.
2. Skep die vleis en pote in 'n groot kastrol en bedek met
koue water. Voeg lourierblare, peperkorrels en knoffel by. Verhit tot kookpunt, verlaag hitte, bedek en prut 3-4 uur of totdat
alles sag is. Laat afkoel, skep vleis en pote uit en laat koud word. Behou die vloeistof.
3. Braai uie
in olie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Strooi kerriepoeier bo-oor en roerbraai vir 2-3 minute. Voeg asyn bietjie
vir bietjie by sodra dit lyk of die kerriepoeier wil aanbrand. Roer elke keer goed deur. Voeg die res van die bestanddele
by, verhit tot kookpunt, verlaag hitte en prut 5 minute lank.
4. Verwyder bene, sny die vleis kleiner of kap of maal dit
fyn, na gelang van hoe grof of fyn jy van jou sult hou. Skep die vleis by die kerriemengsel en voeg van die behoue vloeistof
(waarin die vleis gekook is) by sodat die vleis net-net met vloeistof bedek is. Prut een uur lank en roer af en toe deur.
Indien nodig, kan nog van die behoue vloeistof bygevoeg word.
5. Giet die mengsel in 'n ge-oliede vorm, bedek met kleefplastiek
en bêre in die yskas om te stol.
6. Keer die sult uit en sny dit in skywe. Sit voor met 'n tamatie-en-komkommer-sambal,
slaphakskeentjies en lekker vars brood.
'n Wen-reseppie vir SULT:
('n Wyle terug vir my ingestuur deur 'n anonieme
leser)
Sowat 1,5 kg skenkelvleis en 4-5 skaaptongetjies, in 'n pot geplaas met 'n koppie droë witwyn en net genoeg water
om die vleis te bedek. Hierby kom 'n ui, twee wortels en twee selderystingels wat grof opgesny is, takkies roosmaryn, tiemie
en pietersielie, 'n paar heel swartpeperkorrels, naeltjies en sout na smaak.
Onthou net dat heelwat sout gebruik kan word,
want die sult word koud geëet, en dit demp dan die geur van die sout.
Prut nou die pot so twee uur, totdat die vleis
maklik van die bene afval. Haal die vleis uit en laat afkoel.Verwyder alle bene. Laat die vloeistof in die pot nog 15 minute
lank vinnig kook.
Dit is jou eie keuse of jy die velletjies van die tongetjies wil afhaal. Vir my pla hulle nie, want
hulle kook nogal baie sag. Maar dalk verkies diegene met 'n fyner palet om die moeite te doen.(Ek, Retha, trek dit af, die
velletjie maak die bron moeilik snybaar in sy koue vorm, en dit hoort eintlik af! )
Sny die tongetjies in skywe, plaas die vleis
in 'n bak waarin jou sult gaan set, óf 'n broodpannetjie, óf 'n poedingbak.
Giet eers die vloeistof
waarin die vleise gekook het deur 'n vergiettes en dan nog 'n keer deur 'n baie fyn sif.
Jy wil ontslae raak
van enige stukkies wat ronddryf en as dit goed gesif is, gaan jy 'n helderbruin sous hê, eintlik nes consommé.
Daar behoort omtrent 'n koppie en 'n half hiervan te wees.
Omdat die bene wat ek hier gebruik het, nie veel gelatien afskei
nie, moet 'n bietjie kits-gelatien bykom. Hiervan neem ek drie teelepels en meng dit in 'n bakkie met 'n halwe koppie water.
Dit staan so 10 minute om sag te word - dit stol eintlik heeltemal - en dan voeg ek dit by my steeds warm vleissous. Roer
goed deur, proe of jy dalk nog sout nodig het en giet die sous oor die vleismengsel.
Plaas dit in die yskas en binne ses tot agt
uur behoort dit goed gestol te wees. Oornag is die beste.
Om die sult uit die bak te kry, gly ek 'n mes om die rand van
die sult en ek plaas die bak 'n paar minute in warm water.
Hou dan 'n bord oor die bak, draai dit om, en die sult behoort
sagkens uit te val. As dit nie wil nie, sit dit net weer in warm water.
Nog 'n variasie is :
STERT en TONG SULT
Hiervoor gebruik jy
'n kilogram en 'n half osstert, 'n gepekelde beestong, een varkpoot en drie beesmurgbene.
Plaas in 'n groot pot
met genoeg water om dit te bedek en met dieselfde groente en geurmiddels as hierbo.
Laat nou drie uur prut.
Haal die tong en beesstert
uit, gooi die varkpoot, murgbene en groente uit en giet die sous soos in die vorige resep.
Plaas die sous weer
oor die hitte en voeg 'n halfbottel rooiwyn daarby. Laat dit vinnig kook totdat die sous met die helfte afgekook is.
Haal intussen die vleis
van die stert af, trek die vel van die tong af en sny die tong in blokkies.
Giet dan die sous oor die vleis totdat die vleis net-net
bedek is.
Weer yskas toe en laat dit stol.
KERRIESULT:
3kg beesskenkels (ék
gebruik ook graag 'n mengsel van vark-pootjies ("Trotters") "Eisbeins" en skaap-skenkels! )
15ml swartpeper
en sout
3 middelslag uie
30ml sonneblomolie
30ml kerriepoeier
15ml borrie
375ml bruinasyn
30ml appelkooskonfyt
of perskeblatjang
2ml gemaalde koljander
Bedek die vleis met koue water, geur met sout en peper en prut
tot baie sag. Skil die uie en sny dit in skywe. Verhit die olie en soteer die uie, kerriepoeier en borrie daarin. Voeg die
res van die bestanddele by die kerriemengsel, verhit stadig tot kookpunt en laat afkoel. Ontbeen die vleis en sny dit in klein
stukkies op. Voeg die kerriemengsel by die vleis en prut dit 'n uur lank. Giet dit in 'n nat bak en laat afkoel. Bedek die
bak met kleefplastiek en plaas die sult in die yskas om te stol. Dit kan tot 2 weke in die yskas gebêre word.
LET WEL:
Sult moet nie te styf
wees nie. As dit die geval is, smelt dit in 'n groot kastrol oor matige hitte en vog nog kookwater by. Proe daaraan of dit
ekstra smaakmiddels nodig het voordat dit weer gestol word.
En Jacques van PE het die volgende hieroor in
'n ou WEG gesê:
Daar is n groot verskil om bron en afval gaar te maak. Bron/sult kook mens vark pote en beesvleis saam
met al die fieterjasies (spices) as dit gaar is maal jy dit soos verkies word (grof of fyn). Daarna meng jy alles goed en
sit omtrend dieselfde hoeveelheid koue water by. Sit dit dan in n plat bak in die yskas - oornag. Die volgende oggend krap
jy net die vet-lagie wat gevorm het af.
Afval - dis hoe!
2kg afval, 1 kg beespens.
Sny al die vleis en
velle van die skaapkop af (as die kop nie in die oond gebak gaan word nie), sny alles including die pens, behalwe die blaar
pens waarin die brein moet kom in bitesize chunks.
Braai 2 uie to bruin, haal uit gooi so 10 naaltjies, en 6 lourierblare,
10 heel swart peper korrels in die pot, sodara mens die spices begin ruik, gooi 3 eetlepels lekker sterk kerrie by en so 2
koppies kook water - staan terug want die kerrie dampe en stoom gaan jou treef. Gooi die skaap afval en beespens in dit pot.
Gooi so 3 etlepels borrie in, n halwe koppie bruin asyn, sout, woestersous, en 2 lepel braaivleis speserye.
Laat dit stoom vir
so 45 minute kook in die stoompot. as dit daarna nog taai is stoom vir nog 20 min, Gooi dan 6 artappels saam met die gebraaide
uie in en laat stoom vir nog 20 minute. Meng 4 eetlepels Mezina met 500ml room en gooi dit by. Roer terwyl dit kook en die
sous lekker dik is.
Tadaaaaaaa!
En ag, terwyl ek besig is, hier is sommer nog iets waarvan jul
dalk sal hou!
(Ook uit 'n ou Landbou Weekblad. Het jul ook boeke en boeke vol uitgeskeurde wenresepte, uit al wat
tydskrif is en oor die jare bymekaargemaak? Dan word party met sterretjies of regmerke of "Dis 'n wenner"
of met 'n glimlag in al die kleure van die reënboog gemerk, met penne of kryte (toe die kinders nog klein was!!) wat
op daardie tydstip in die kombuis rondgelê het!)
'n SKON-bêremengsel
1 kg bruismeel
12 ml bakpoeier
3 ml sout
175 ml botter
Sif die meel, bakpoeier
en sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte in tot krummelrig. Skep in 'n droë, gesteriliseerde fles of houer en
verseël lugdig. Etiketteer en bêre in die yskas.
Gebruiksaanwysings
Vir elke 3 koppies (750 ml) skon-bêremengsel:
Klits 1 eier en 150
ml karringmelk saam. Voeg by die droë bestanddele en sny in tot klam krummels vorm wat aan mekaar vassit. Druk bymekaar
op 'n meelbestrooide oppervlak en druk skons uit. Bak vir 15-20 minute teen 220 °C tot goudbruin en gaar. Lewer ongeveer
nege skons.
Vir elke 6 koppies (6 x 250 ml) skon-bêremengsel:
Klits 2 eiers en 300 ml karringmelk saam. Voeg
by die droë bestanddele en sny in tot klam krummels vorm wat aan mekaar vassit. Druk bymekaar op 'n meelbestrooide oppervlak
en druk skons uit. Bak vir 15-20 minute by 220 °C tot goudbruin en gaar. Lewer ongeveer 18 skons.
EN :
Neutelekkers en heuningkoek
Die groot geheim by
albei hierdie resepte is om te sorg dat die suiker heeltemal opgelos is vóór die mengsel begin kook en dat daar
geen suikerkristalle teen die kastrol se rante of teen die lepel vassit nie. Kook die mengsels tot goudkleurig, amper 'n diep
karamelkleur, voordat die koeksoda bygevoeg word.
NEUTELEKKERS
375 ml suiker
125 ml vloeibare glukose
Knippie sout
60 ml water
625 ml lig geroosterde,
gemengde neute, grof gekap
5 ml vanieljegeursel
5 ml koeksoda
Spuit twee vlak foeliebakkies van 20 cm x 20 cm goed met kleefwerende
kos-sproei of smeer met botter. Hou eenkant. Verhit die suiker, glukose, sout en water baie stadig oor lae hitte terwyl aanhoudend
geroer word tot ál die suiker opgelos is. Was enige suikerkristalle van die kante van die kastrol met 'n nat kwassie
af. Verhit die helder stroop tot kookpunt en kook, sonder om te roer, tot die sagtebalstadium (238 °C op 'n suiker termometer).
Jy kan die kastrol liggies kantel om te verseker dat die stroop eweredig kook en verkleur. Sodra sagtebalstadium bereik word,
roer die neute by en kook verder tot die mengsel 'n diep goue kleur het. Verwyder van die hitte en roer versigtig (dit sal
baie bruis) die vanieljegeursel en koeksoda by. Klop die mengsel deur en giet dadelik in die foeliebakkies. Laat heeltemal
afkoel en breek in kleiner stukkies. Verpak lugdig (in 'n glasfles of 'n bakkie wat dig seël) en bind 'n mooi strik met
'n etiket om. Genoeg vir vier mense.
HEUNINGKOEK
375 ml witsuiker
90 ml heuning
30 ml botter of margarien
5 ml koeksoda
Verhit die suiker en
heuning stadig oor lae hitte terwyl aanhoudend geroer word tot ál die suiker opgelos is. Was enige suikerkristalle
aan die kante van die kastrol met 'n nat kwassie af. Voeg die botter of margarien by, verhit tot kookpunt en laat prut, sonder
om te roer, tot die mengsel 'n diep goue kleur het. Verwyder van die hitte en roer die koeksoda by. Die mengsel sal borrel
en bruis. Gooi dit dadelik op 'n gesmeerde bakplaat uit en laat staan tot heeltemal koud en hard. Breek in stukke en verpak,
of doop die stukke in gesmelte, donker sjokolade en laat hard word voor dit verpak word. Genoeg vir twee mense.
En aangesien dit nou
SOMER by party van julle is, hier is 'n heerlike
SUURLEMOENSTROOP / SUURLEMOEN LEMONADE resep!
500 ml vars uitgedrukte
suurlemoensap
Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
750 ml witsuiker
Verhit ál die bestanddele baie stadig
saam oor lae hitte terwyl aanhoudend geroer word tot ál die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en prut vir so
2-3 minute.
Verwyder van die hitte, giet in gesteriliseerde bottels en verseël goed.
Bêre die stroop
in die yskas en verdun met koue water of sodawater soos nodig.
Lewer ongeveer 500 ml stroop.
WENK: Plak etikette
op en gee dit as geskenk saam met 'n mooi stel koeldrankglase.
Hoop jul het b.s. geniet!

Wil jy soms net verdwyn?
Wel jy het nie towerkrag daarvoor nodig nie, al wat jy nodig het is 'n Bestemming!
Beste groete, R.