....Só MAAK MENS !

Mei 2010

IN MEI het verskyn:

 Die volgende Onderwerpe / Resepte / Lesers navrae


4 Goulash resepte

 

Breiplesier...

 

Skons en muffins


Miet in bone...


Diabetiese beskuit

  

R200.00 note en so aan...

 

Spek en eier spagetti 

 

Roomys sonder eiers

 

Ontbyt in 'n koppie  en Nog Pekel eiers


Rosti met geposjeerde eier


Meer oor henne en hul eiers...

 

Brandrissie-Mayo

 

Verjaarsdae en Appeltert

 

Verlangdae en "Kedgeree"

 

 

 

MEI

Dis my en wyle Tannie Esmé se  verjaarsdagmaand!! 

 

 

Saterdagaand. 29 Mei.

Nou, net na volmaantyd, wieg goue-blinkende-ligbane, soos met ‘n kunstenaars-kwas, oor die breë stroom rivierwater geverf,

en net VOOR my MEI maand, klaar uitspeel hier langs die Gariep, met yl wit winterswolkies

wat ysig saam met die windjie, kil ysvingers in my nek kom pla, eers ‘n bietjie:

 TERUGVOER oor LESERS-NAVRAE!  
.....Hier volg 'n paar resepte uit die navrae 

 

 

 BEES GOULASH MET BIER I

30 ml olie
750 g beesvleisblokkies
2 uie, grof gekap
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
10 ml paprika
2 blikke (410 g elk) heel, geskilde tamaties
1 blikkie Bier
10 ml bruinsuiker
Sout en vars gemaalde swartpeper
125 ml suurroom of jogurt

Verhit olie in ’n swaarboompot en braai vleisblokkies bruin. Voeg uie en knoffel by en braai tot uie sag is.

Voeg paprika by, braai liggies en voeg tamaties, bier, bruinsuiker, sout en peper by. Verhit tot kookpunt.

Bedek pot, verlaag hitte en prut vir 1 ½-2 uur of tot vleis sag en sous dik is.

Verwyder van hitte en geur na smaak. Roer suurroom deur. Sit voor op aartappels of pasta.

Genoeg vir 4-6 mense.

 

BEES GOULASH MET BIER II

600 gr vleis blokkies

1 blikkie / botteltjie bier

paprika, sout en peper, rooi-peper, tiemie

2 rooi soetrissies in repies gesny

3 uie fyngekap

3 huisies knoffel gekap

2 aartappels in blokkies gesny

4 tamaties opgekap


Meng die vleis blokkies goed met die uie, knoffel en kruie. Soteer dit liggies in olie of botter tot mooi bruin.

Gooi helfte van die bier oor mengsel en laat prut tot droog gekook.

Voeg nou aartappels, tamaties, soetrissies en res van bier by en stowe verder tot alles sag en gaar is.

Bedien met rys.

 

VOLSTRUIS GOULASH MET PORT, SAMPIOENE en KLEIN UITJIES

(Ek het dit nog net met bees-filet probeer)

1 e olyfolie
1 e balsamiekasyn
3 e port
1 ui, gekap
 
3 takkies vars roosmaryn, gekneus
1 e naeltjies en neutmuskaat
sout en peper, na smaak
 
1 kg volstruisfilet, in blokkies gesny (goulash)

Meng al die bestanddele saam en laat vleis oornag hierin marineer.

 

1 e botter 
125 g spekvleis, gekap
1 prei, gekap
 
1 kg volstuisvleis met die marinade
2 knoffelhuisies, gekneus
½ t naeltjies
sout en peper, na smaak
 
'n hand vol vars tiemie, gekap
‘n hand vol roosmaryn, gekap
 
500 g sampioene
 
125 g klein uitjies
 
60 ml vars room

Verhit botter in kastrol. Soteer spek en preie daarin. Voeg vleis en marinade by.

Voeg al die geurmiddels by en laat prut 3-4 uur.

Voeg die sampioene en uitjies by dertig minute voordat die kooktyd verby is.

Haal vleis uit en sit sous terug op stoof. Voeg room by en kook tot verminder en verdik.

Plaas die vleis terug in sous en laat deurwarm word.

Skep warm goulash met sous, uitjies en sampioene op warm tagliatelle-pasta.

(Hierdie resep het ek via die TV program PASELA afgeskryf!)

 

HONGAARSE GOULASH

(‘n mengsel van ‘n Nederlandse internet resep en my improvisering!)

Smelt 2 eetlepels Holsum vet – of olyf olie

Braai 2 groot gekapte uie, moenie dit karameliseer nie.  Strooi 1 eetlepel paprika

(die Hongaarse soort as jou kruidenier dit aanhou) en pasop dat dit nie aanbrand nie. Roer deur.

Neem 500g kook beesvleis, in blokkies opgesny, en saute dit in die pot. 

Die vleis gaan begin vog afgee. Dis perfek. 

Gooi 2 huisies fyngekapte knoffel, 1 teelepel caraway sade, ‘n lourier of suurlemoenblaar, sout en peper by .

Gooi water in die pot wat die inhoud net-net bedek, sit die deksel op en prut vir so 1 ½ uur.

Na hierdie eerste kooktyd gooi jy 2 wortels in wieletjies opgesny, 2 Medium tamaties, opgesny,

‘n pakkie tamatie pasta, en 2 greenpeppers, in klein blokkies gesny by.

Gooi nog 2-3 koppies kookwater by, sit die deksel terug en prut verder tot wortels en vleis lekker sag

maar nie pap is nie.

Bedien met ‘n lekker potbrood of maak kluitjies bo-op.

 

KLUITJIES

Klits 2 eiers, 3 ETL gesmelte botter en ¾ kp melk goed. Roer 2 kp bruismeel by.

Skep lepelsvol bo-op die vleis, laat gaar stoom vir laaste 10 minute, hou deksel dig toe !

 

Voila!

 

 

Loraine Eksteen het geskryf: 

Goeiedag Retha, Ek het 'n oortrui begin brei wat in een van VKEUR uitgawes was

en kan my boek nou nerens opspoor nie. HELP ASB!!

 

Liewe Lorraine!

Ek het dit vir jou! Met komplimente van VROUEKEUR!

(Ongelukkig het ek nie die reg om die foto’s ook aan te heg nie!

Die een het ‘n pragtige loserige V-hals-kraag en die ander een is ‘n lospassende Polo-hals.)

Groetnis !R.

 

Dubbele breiplesier

Moeilikheidsgraad: matig

Dis weer breityd! Skop af met dié twee maklike oortruie

Benodigdhede

OORTRUI MET KRAAG

SIRDAR CLICK ARAN of ELLE ARAN (50 g-balle)

6(6;8;9;10)balle in kleur van jou keuse

Een paar 4 mm- en 5 mm-breinaalde

Steekhouers

OORTRUI MET LAE HALS

SIRDAR COUNTRY STYLE DK of ELLE DK (100 g-balle)

4(5;6;6;7;8)balle in kleur van jou keuse

Een paar elk 3,25 mm- en 4 mm-breinaalde

Steekhouers

Tensy aanbevole breidraad gebruik word, kan Saprotex nie vir die voltooide produk

verantwoordelikheid aanvaar nie.

Mate

OORTRUI MET POLOHALS

Om borsmaat te pas van: 61-66(71-76;81-86;91-97;102-107)cm

Ware grootte: Bors: 71(80;90;101;111)cm

Volle lengte: 40(50;60;62;64)cm

OORTRUI MET LAE HALS

Om borsmaat te pas van: 81-86(91-97;102-107;113-117;122-127;132-137)cm

Ware grootte: Bors: 91(101;111;121;131;141)cm

Volle lengte: 65(67;71;75;79;83)cm

Aanwysings word vir die kleinste grootte gegee, met die groter groottes tussen hakies.

Waar net een syfer gegee word, geld dit vir al die groottes.

Spanning

Spaar tyd, doen ‘n spanningstoets.

OORTRUI MET POLOHALS

18 ste en 24 rye = 10 cm oor koussteek met 5 mm-naalde

OORTRUI MET LAE HALS

24 ste en 36 rye = 10 cm oor pat met 4 mm-naalde

Vir die beste resultate is dit belangrik om die regte spanning te hê.

As daar te min steke op die toetslappie is, gebruik dunner naalde; as daar te veel steke op is,

gebruik dikker naalde.

Afkortings

alt – alternatiewe

aw – aweregs

beg – begin

cm - sentimeter

herh – herhaal

ks – koussteek

mm - millimeter

oorbl – oorblywende

pat – patroon

– regs

R1O – regs in onderste st

R(V)K – regte(verkeerde) kant

st(e) – steek(steke)

tes – tesame

vermin – verminder

vermeer – vermeerder

vlg – volgende

OORTRUI MET POLOHALS

Agterpant

Met 4 mm-naalde en duimmetode, stel 73(85;97;103;115)ste op.

1ste ry: r2, *aw3, r3, herh van * tot laaste 5 ste, aw3, r2.

2de ry: aw2, r3, *aw3, r3, herh van * tot laaste 2 ste, aw2.

Hierdie 2 rye sal nou na verwys word as 3x3-rif.

Gaan voort in 3x3-rif vir 6(7;8;8;8)cm, eindig met VK-ry.

Vlg ry: aw4(6;2;7;8), aw2tes, (aw6[4;4;6;5], aw2tes)8(12;15;11;14)keer, aw3(5;3;6;7).

64(72;81;91;100)ste.

Met 5 mm-naalde gaan soos volg voort:

1ste ry: r.

2de ry: aw.

Hierdie 2 rye sal nou na verwys word as ks.**

Gaan voort in ks (deurgaans) tot agterpant 37(47;57;59;61)cm lank is, eindig met VK-ry.

Skouervorming

Heg 6(7;8;10;11)ste aan beg van vlg 2 rye af.

52(58;65;71;78)ste.

Heg 6(7;9;10;11)ste aan beg van vlg 2 rye af.

40(44;47;51;56)ste.

Heg 7(8;9;10;12)ste aan beg van vlg 2 rye af.

26(28;29;31;32)ste.

Laat oorbl 26(28;29;31;32)ste op steekhouer.

 

Voorpant

Werk soos gegee vir agterpant tot **.

Werk in ks (deurgaans) tot voorpant 31(40;49;51;52)cm lank is, eindg met VK-ry.

Halsvorming

Vlg ry: r26(29;33;37;41), draai, laat oorbl 38(43;48;54;59)ste op steekhouer.

Werk slegs oor hierdie 26(29;33;37;41)ste soos volg:

Vlg ry: aw.

Werk 4 rye, vermin 1 st aan nekrand in elke ry.

22(25;29;33;37)ste.

Werk 5 rye, vermin 1 st aan nekrand in vlg en elke vlg alt ry.

19(22;26;30;34)ste.

Gaan voort sonder om te vorm tot voorpant 37(47;57;59;61)cm lank is, eindig met VK-ry.

Skouervorming

Heg 6(7;8;10;11)ste af, r tot einde.

13(15;18;20;23)ste.

Vlg ry: aw.

Vlg ry: heg 6(7;8;10;11)ste af, r tot einde.

7(8;9;10;12)ste.

Vlg ry: aw.

Heg oorbl 7(8;9;10;12)ste af.

Met RKV, werk oor oorbl 38(43;48;54;59)ste, gl12(14;15;17;18)ste op steekhouer,

heg draad aan oorbl 26(29;33;37;41)ste en r tot einde.

Vlg ry: aw.

Werk 4 rye, vermin 1 st aan nekrand in elke ry.

22(25;29;33;37)ste.

Werk 5 rye, vermin 1 st aan nekrand in vlg en elke vlg alt ry.

19(22;26;30;34)ste.

Gaan voort sonder om te vorm tot voorpant 37(47;57;59;61)cm lank is, eindig met RK-ry.

Skouervoming

Vlg ry: heg 6(7;8;10;11)ste af, aw tot einde.

13(15;18;20;23)ste.

Vlg ry: r.

Vlg ry: heg 6(7;9;10;11)ste af, aw tot einde.

7(8;9;10;12)ste.

Vlg ry: r.

Heg oorbl 7(8;9;;10;12)ste af.

Polohals

Werk regterskouernaat toe. Met RKV en 4 mm-naalde tel op en r20(22;23;23;26)ste eweredig

langs linkerkant van nek, 12(14;15;17;18)ste oor op steekhouer aan voorkant van nek,

20(22;23;23;26)ste eweredig langs regterkant van nek en 26(28;29;31;32)ste oor op steekhouer

aan agterkant van nek.

78(86;90;94;102)ste.

1ste ry: r2, *vermeer in vlg ste aweregsgewys, aw1, vermeer in vlg st regsgewys, r1,

herh van * tot laaste 4 ste, vermeer in vlg st aweregsgewys, aw1, r2.

115(127;133;139;151)ste.

Begin met 2de ry van 3x3-rif, werk tot polohals 13(14;15;15;15)cm lank is, eindig met VK-ry.

Heg in rif af.

Mousgatrande (dieselfde)

Werk linkerskouer- en polohalsnaat toe, werk aan verkeerde kant vir omslaan.

Plaas merkers 17(19;22;24;26)cm van skouernate af aan sykante van voor- en agterpante om

mousgate aan te dui.

Met RKV en 4 mm-naalde, tel op en r79(85;97;109;115)ste eweredig tussen mousgatmerkers aan

voor- en agterpant. Begin met 2de ry van 3x3-rif werk 3(3;4;4;4)cm, eindig met VK-ry.

Heg in rif af.

Om te voltooi

Werk sy- en mousgatnate toe. Lê trui uit volgens mate, bedek met klam lap en laat om droog te word.

Sien verpakkingsmateriaal vir versorgingsinstruksies.

OORTRUI MET LAE HALS

Agterpant

Met 3,25 mm-naalde en duimmetode, stel 118(134;146;158;170;186)ste op.

1ste ry: r2, *aw2, r2, herh van * tot einde.

2de ry: *aw2, r2, herh van * tot laaste 2 ste, aw2.

Hierdie 2 rye sal nou na verwys word as 2x2-rif. Werk in 2x2-rif vir 10(10;10;12;12;12)cm, eindig met RK-ry.

Vlg ry: rif 10(6;6;6;6;4), rif2tes, (rif10[8;9;10;11;9], rif2tes)8(12;12;12;12;16)keer, rif10(6;6;6;6;4).

109(121;133;145;157;169)ste.

Met 4 mm-naalde gaan soos volg vort:

1ste ry: r.

2de ry: aw.

3de ry: aw1, *r1, aw1, herh van * tot einde,

4de ry: r1, aw1, *R1O, aw1, herh van * tot laaste st, r1.

Van 1ste tot 4de rye stel pat vas **

Gaan voort in pat soos vasgestel (deurgaans) tot agterpant 65(67;71;75;79;83)cm lank is, eindig met VK-ry.

Skouervorming

Heg 17(20;23;25;28;29)ste in pat aan begin van vlg 2 rye af.

75(81;87;95;101;111)ste.

Heg 18(20;23;25;28;30)ste in pat aan begin van vlg 2 rye af.

39(41;41;45;45;51)ste.

Heg oorbl 39(41;41;45;45;51)ste in pat af.

Voorpant

Werk soos gegee vir agterpat tot **.

Gaan voort in pat soos vasgestel (deurgaans) tot voorpant 30(30;32;34;36;38)cm oak is, eindig met VK-ry.

Verdeel vir nek

Vlg ry: pat 47(52;58;63;69;75), draai, laat oorbl 62(69;75;82;88;94)ste op steekhouer.

Werk slegs oor hierdie 47(52;58;63;69;75)ste, gaan soos volg voort:

Vlg ry: pat.

Werk 111(91;91;61;61;33)rye, vermin 1 st aan nekrand in vlg en elke vlg 10(10;10;10;10;8)ste ry.

35(42;48;56;62;70)ste.

Vir slegs 2dee, 3de, 4de, 5de en 6de groottes

Werk (24;24;72;72;110)rye, vermin 1 st aan nekrand in elke vlg (12;12;12;12;10)de ry.

(40;46;50;56;59)ste.

Vir al 6 groottes

Gaan voort sonder om te vorm tot voorpant 65(67;71;75;79;83)cm lank is, eindig met VK-ry.

Skouervorming

Vlg ry: heg 17(20;23;25;28;29)ste in pat af, pat tot einde.

18(20;23;25;28;30)ste.

Vlg ry: pat.

Heg oorbl 18(20;23;25;28;30)ste in pat af.

Met RKV heg draad aan oorbl 62(69;75;82;88;94)ste en gaan soos volg voort:

Vlg ry: heg 15(17;17;19;19;19)ste in pat af, pat tot einde.

47(52;58;63;69;75)ste.

Vlg ry: pat.

Werk 111(91;91;61;61;33)rye, vermin 1 st aanb nekrand in vlg en elke vlg 10(10;10;10;10;8)ste ry.

35(42;48;56;62;70)ste.

Vir slegs 2de, 3de, 4de, 5de en 6de groottes

Werk (24;24;72;72;110)rye, vermin 1 st aan nekrand in elke vlg (12;12;12;12;10)de ry.

(40;46;50;56;59)ste.

Vir al 6 groottes

Gaan voort sonder om te vorm tot voorpant 65(67;71;75;79;83)cm lank is, eindig met RK-ry.

Skouervorming

Vlg ry: heg 17(20;23;25;28;29)ste in pat af, pat tot einde.

18(20;23;25;28;30)ste.

Vlg ry: pat.

Heg oorbl 18(20;23;25;28;30)ste in pat af.

Nekband

Regterkant

Werk skouernate toe. Met RKV en 3,25 mm-naalde begin aan binnerand van afhegste aan

voorkant van nek, tel op en r127(131;139;145;153;161)ste eweredig oor regterkant van nek

en 20(20;20;22;22;26)ste tot in middel van nek agter.

147(151;159;167;175;187)ste.

1ste ry: aw2, *r2, aw2, herh van * tot laaste st, r1.

2de ry: aw1, *r2, aw2, herh van * tot laaste 2 ste, r2.

1ste en 2de rye stel rif vas.

Werk in rif vir 6(7;7;8;8;8)cm , eindig met VK-ry.

Heg in rif af.

Linkerkant

Met RKV en 3,25 mm-naalde begin in middel van nek agter, tel op en r20(20;20;22;22;26)ste

eweredig tot by skouer en 127(131;139;145;153;161)ste eweredig oor linkerkant van nek.

147(151;159;167;175;187)ste.

1ste ry: r1, *aw2, r2, herh van * tot laaste 2 ste, aw2.

2de ry: r2, *aw2, r2, herh van * tot laaste st, aw1.

1ste en 2de rye stel rif vas.

Werk in rif vir 6(7;7;8;8;8)cm, eindig met VK-ry.

Heg in rif af.

Mousgatrande (dieselfde)

Plaas merkers 21(23;25;27;29;31)cm van bokant van skouers af aan voor- en agterpant.

Met RKV en 3,25 mm-naalde tel op en r110(122;134;146;154;162)ste eweredig tussen merkers.

Begin 2de ry van 2x2-rif, werk 6 cm, eindig met VK-ry.

Heg in rif af.

Om te voltooi

Werk sy- en mousgatnate toe. Werk naat in middel van nek agter toe. Plaas regter- oor linkerkant,

werk syrande van nekband in posisie oor afhegste aan voorkant van nek. Lê trui uit volgens mate,

bedek met klam lap en laat om droog te word. Sien verpakkingsmateriaal vir versorgingsinstruksies.

Die verskil tussen botterbroodjies en muffins en die bakproses...

 albei is deel van Vinnige brode “Quick breads” wat beteken dat hul albei van chemiese rys agente

“chemical leavening agents” gemaak word wat koeksoda “baking soda”en bak poeier“baking powder” is. 

Onder quick breads is daar drie tipes meng tegnieke naamlik Koekies metode “Biscuit method”,

Muffin metode “Muffin method” en Roommetode “Creaming method”. 

‘n Skon word van die Biscuit method gemaak en die doel is om n “light, flaky and tender” eind produk te kry. 

Die prosedure vir die Biscuit method is soos volg.

1.Weeg en meet al die bestandele

2.Sif die droë bestandele saam

3.Sny die vet in die droë bestandele in, die vet moet in ‘n solide vorm wees.

4.Meng die vloeistowwe saam, insluitend die eiers

5.Voeg die nat bestandele saam met die droë bestandele en meng.  Moet 

nie oor meng nie dit veroorsaak dat die eindproduk taai is en dit belemmer die rys van die produk.

6.Knie die deeg 10 tot 15 keer ( 20-30 sekondes).  Die deeg moet sag 

en elasties wees maar nie taai nie.

7.Die deeg kan nou gevorm en gabak word.

Vorm en bak proses

1.Rol die deeg uit oor n oppervlakte met meel oor, tot n dikte van 

1.2-1.8 cm.  Roll dit eweredig uit, die eindproduk gaan dubbel in hoogte wees na gebak.

2.Sny die deeg in die gepasde vorm.  Sny reguit af en moet nie die 

vorm “twist” nie dit belemmer die rys.

3.Plaas die vormpies op n gesmeerde pan.  Hoe nader die vorms aan 

mekaar is, hoe sagter gaan die eindproduk wees, vir ‘n “crusty” kant, sit die vormpies verder

van mekaar af weg.

4.Druk die oorblywende deeg saam en rol weer uit.  Dit kan net een 

keer gedoen word.

5.Bak dadelik in ‘n warm oond

6.Koel die eindproduk af voor bediening

‘n Muffin word weer met die Muffin method gemaak  die doel is om ‘n “tender product with an

even shape and even distribution of fruits, nuts or other ingredients” te kry. 

Muffin metode:

1.Weeg en meet al die bestandele

2.Sif die droë bestandele saam

3.Kombineer die vloeistowwe, dit sluit die gesmelte vet of olie in

4.Voeg die nat bestandele by die droë bestandele en roer net tot 

gemeng.  Moet nie oor meng nie.  Die beslag sal klontereg wees as gevolg van die neute,

vrugte of ander bestandele.

5.Die beslag is nou reg om gedeel en gebak te word.

Vorm en bak:

1.Smeer die muffin pannetjie

2.Skep eweveel beslag in elke pannetjie

3.Bak

4.Koel die eindproduk af voor bediening

Let ook asseblif op dat as daar na skon verwys word praat ons van deeg

en as ons na muffin verwys praat ons van beslag…

die verskil gaan oor die water inhoud van die twee. 

Bron:LABENSKYS.R & HAUSE, A.M. 2007. On Cooking. 3th  Edition. Prentice

Hall: New Jersey

Hoe bewaar mens droe bone sodat daar nie miet inkom nie. Ook droe vrugte...

Wat ek met sukses gebruik en wat sover vir my help is 'n stuk gewone wit kers.

Ek breek stukke af en plaas dit tussen my rys, mieliemeel ens. in 'n lugdigte bottel of Tupper-houer.

Ek het ook al droë Lourierblare met sukses i.p.v kerse gebruik.

My hawermout hou ek egter in die yskas, ek kan nie onthou hoekom nie!

Of dit steeds miet ingekry het en of ek dit bloot daarin begin sit het oor die houer so gerieflik in die

yskasdeur vir die kinders gepas het om hul eie "oats-pap" of "ouma-see-pap" soos hul dit genoem het,

te kon maak, weet ek nie, maar ja, dit bly steeds in die yskas...

My droë vrugte gebruik ek te gou op! Maar ek hou gewoonlik myne ook in die yskas en my dadels

sommer vir maande in die vrieskas. Ons koop gewoonlik 'n paar kilogramme as ons by Pella verbygaan

en dis te kosbaar om versmaai te word! Dan "ontdooi" ek dit teen kamer temperatuur en dis piekfyn.

Vanweë die hoë suiker inhoud, vries dit nie werklik nie en ontdooi dit dus baie gou.

 DIABETIESE BESKUIT

Probeer gerus hierdie een! Daar is wel suiker by, maar omdat dit so hoog in semels is, is dit Gi-Goed!

En mens kan nie juis teveel daarvan eet nie! Uitstekend vir die maag! Dit is baie bros hoor!

9 kp semels

2 kp bruismeel

3 kp NuttyWheat

1 ½ kp suiker(gebruik plaasvervanger soos natreen of Huletts se Suger-lite...)

1 groot hoë Etl bakpoeier

1 desertlepel sout

500 g botter

4 eiers

500 ml melk

3 desertlepels asyn

Meng droë bestandele.

Vryf die botter in die meelmengsel in.

Meng al die vloeistof bestandele en roer by bs.

Druk vas in oondpan

Bak vir 40 min teen 180 grade C.

Droog uit.


Donderdag. 27 Mei.

So luister ek gister se aand, NUUS, en o.a. word ons gemaan om alle ou R200 note tog betyds om te ruil...

Net daar dink ek aan my wyle skoonmoeder se wysheid – wat deur alle dames op een of ander stadium

van hul lewens ge-ego word – “My kind,” het sy geseg, “'n man moet alles eet nie alles weet!”

Ek het altyd gewonder wanneer, waar en waarom díe wysheid ontstaan het, toe word ek ouer en wyser

en leer ek by ander “ontnugterde” dames die groot waarheid, dat die ge-eikte waarheid inderdaad waar is!

Nou sê ek dit nie negatief teenoor ons Adamsgeslag nie, nee, met respekte seg ek dit!

Want selfs die sout van die aarde onder die Adams, het daardie klein begeertetjie om alles van hul Evas’

te wil weet, maar sélf so 'n paar ou geheimpies vir hul toe te eien!

So word, gisteraand met díe nuus-buletin, my liewe skoonmoeder se woorde waar, want ék is sopas uitgevang!

Steek ek mos hoeka self ook die laaste paar randjies van my laaste bokke-geldtjies weg sodat manlief dit mos

nou nie dadelik van hoef te weet nie! So net vir ingeval, jul weet mos!

Vanmôre, word daar bank toe gery.

Lone moet getrek word dis mos einde van die maand en daar is werkers wat verlof ook neem...

”O!” seg ek nonchalant, “ruil sommer vir my ook so 'n paar R200 note om sal jy?”

“Hmmm!” kom die grinnikende antwoord, “het geweet jy steek iewers ietsie weg! Uitgevang! Hoeveel nogal?”

Wel, toe moes die waarheid maar uitkom, want  teen volgende week sou die paar randjies in

die “trommeltjie onder die bed,” niks werd gewees het nie...net moeite en verdriet soos wanneer mot en roes dit verniel.

So wat sou jul sê, is die “moral” van hierdie storie?

Seker maar weereens bewys dat – soos my ander liewe vriendin, Tante Ans sou sê, “murder will out!”

Dus, liewe vriende, Hou maar jul skatte in die hemel!

Benjamin Franklin, het juis gesê: Geld het die mens nog nooit gelukkig gemaak nie, en sal ook nooit.

Hoe meer mens het, hoe meer wil hy hê. In stede daarvan dat dit die vakuum vul,skep dit juis een!

WENK: Om die ou note van die nuwes te onderskei:

 

 

 

 

 

Die eerste toets is die papier.As jy ’n egte banknoot in jou hande kreukel,maak dit danksy die spesiale

tekstuur van die papier ’n unieke kraakgeluid. Op die voorkant alleen is die volgende duidelike kentekens: 

Kyk na die bewoording onder die handtekening. Indien daar staan governor/president, is dit die ou noot.

Indien daar net staan governor, dan is dit die nuwe noot.

Die landswapen word duidelik op die voorkant, links bo aangedui. 

Vyf opgehewe diamant vorms onder op die voorkant vervang die 5 ronde knoppies om blindes te help.

Die blink silwer veiligheidsstreep voor wat vertikaal in die middel afloop is 4 mm breed en bevat ook die landswapen.

Die R200 denominasie voorop regs onder bevat ink wat van kleur verander as jy dit beweeg.

Hierdie nuwe R200 is ook nie werklik NUUT nie, dis alreeds in 2005 in sirkulasie geplaas!

En nóg iets om oor na te dink:

Soos wat ons ouer word het ons geleer dat selfs daardie persoon

wat nie veronderstel is om jou ooit in die steek te laat nie, dit wel doen.

Jou hart sal meer as een maal gebreek word, en dit word swaarder elke keer.

Jy sal ook harte breek, so probeer onthou hoe dit gevoel het toe joune stukkend was.

Jy sal met jou beste vriende baklei. Jy sal kosbaarhede langs die pad verloor.

Jy sal ’n nuwe liefde blameer vir foute wat ou liefdes begaan het.

Jy sal huil oor die tyd wat te vinnig verbysnel, en eendag sal jy iemand verloor vir wie jy werklik lief is.

Neem daarom,  te veel foto’s, lag te veel, voel voluit, wees baldadig lief vir iemand asof 

jy nog nooit seer gekry het nie, want elke 60 sekondes wat jy ongelukkig spandeer,

is ’n minuut van geluk wat jy nooit weer sal terugkry nie! (Per Epos.)

Tot volgende keer!

Groete

R.  

 

Dinsdag. 25 Mei.

 

Vroegoggend, van Maandag, 24 Mei, met die mis wat net effens effens oor die middel van die Grote Gariep hang,

vroetel ek my slaap-warm tone in die skaapvel pantoffels in, en met 'n vroeë groot eier-lus loop maak ek koffie

en met die melk uithaal slag, loer ek sommer in die eier-mandjie.

 

Groot is my verbasing as ek weer eens sien die eiers het oor die naweek spoorloos verdwyn!

Wonder wat ek als gebak het, wonder ek hardop!

 

Nou, met so 'n getrekkery van een huis na 'n ander, maar nog steeds op dieselfde  plaas, bly sekere goed vir laaste.

Een daarvan is dat die lê-henne en Porky, die mak ystervark eers  by die kinders, LW. onder hul sorg by die groot opstal

moet bly totdat die nuwe hokke- wat natuurlik volgens die baas van die plaas nie top prioriteit is nie- netjies gebou moet word.

Want, die hokke moet net nie soos 'n plakkerskamp lyk nie!

 

So geseg, so gedaan, tot vanmôre!

 

Met my eier-lus goed geprikkel, en geen eiers om dit te bevredig nie, sluk ek skaars my koffie weg of ek klim

in die bakkie en laat 'n stofstreep agter my aan opstal toe.

Daar gekom bars die bietjie natuurlike rooi wat ek nog in my bos hare oor het in vlamme uit!

Die kinders was mos heel naweek, meer uithuisig as tuis, en noudat ma nie meer daar is vir etes maak nie...

word eiers intussen as stapelkos geëet – MAAR heigent! Nee kyk! die stomme hoenders het héél naweek

sonder vars water of kos gewag en gewag!

(Gelukkig nie algeheel stom nie, want hul het luidkeels kapsie uitgekekkel oor die honger en droogte ontbering toe ek daar aanstorm!)

 

Porky, natuurlik ook sonder SY daaglikse bak vars groente!

 

Met die rooi van my hare as aansporing, sien ek behoorlik rooi, ek is letterlik en figuurlik die hoenders in! - en NET DAAR,  

laai ek my henne en my steekpenvark! Ek meen te sê, my diere is my diere!

(... seg my vriendin later: Dit gee die sin 'n ander dimensie: jy was die hoenders in, toe laai jy jou hoenders en ry! ) 

 

Op pad ondertoe na die nuwe huisie,  op die oewers van die Grote Gariep, begin ek naarstigtelik wonder WAAR ek nou

die henne en 'n uiters vaak dag-slaper van 'n ystervark gaan beland.

En Natuurlik, Manlief gaan nie baie geneë voel met 'n hok bouery vandag nie! Maar hoe seg die spreekwoord?

Die kalf is in die put en ‘n Boer maak 'n plan, en 'n boervrou maak twee! - of lui dit... die boervrou maak dit (die plan) klaar?

 

Wel, ek wil maar net berig dat Porky sopas in sy nuwe hok ingetrek het en dat die eerste van vandag se vars organiese eiers

in hul nuwe hok gelê is! En dit lyk hoeka nie soos 'n derderangse aanmekaargeflansde hok nie.

Nee, ek en my ystervark en my henne is nou almal rivier-oewer-blyers, en dis heerlik!

 

 

 

En vir julle wat wonder wat my eier-lus so gaande gemaak het,

spoeg en plak ek behoorlik vir jul die volgende raakgeleesde lekkertes!  

 

Boerekos.com het die volgende heerlike

Spek-en-eier-spaghetti geplaas, (jip! Self uitgetoets!)

 

200 g spaghetti
sout
250 g spekvleis, gesnipper
4 eiers
75 g cheddar kaas, grof gerasper
vars gemaalde swartpeper

Kook die pasta volgens die aanwysings, spoel dit af en dreineer dit goed.

Braai die spek tot gaar in 'n pan. Voeg die pasta by en meng dit met die spek, verhit dit stadig tot warm.

Klits die eiers en voeg die kaas by. Roer die eier mengsel by die pasta mengsel.

Verhit dit stadig tot die eiers romerig gaar is en die kaas gesmelt het. Roer dit af en toe.

Geur na smaak met die sout en peper en bedien dadelik.

 

N.a.v. ‘n leser se versoek , het ek in SJA de Villiers se Kook en Geniet, die volgende resep vir 

Roomys sonder eiers opgespoor:


5 ml gelatien, geweek in 15 ml koue water
190 ml kookwater
125 ml suiker
1 blik ingedampte melk, oornag in die yskas
5 ml vanielje geursel

Los geweekte gelatien in die kookwater op en voeg die suiker by. Roer tot suiker opgelos is en laat die mengsel afkoel.
Skud die melk goed, gooi dit uit in ‘n mengbak en klits tot dit styf is en soos room lyk.
Voeg die geursel en suikeroplossing stadig by die melk en klits aanhoudend.
Giet die mengsel in twee houers of ysbakkies en bevries vir 45 minute. Dit moet net gedeeltelik bevries wees.
Plaas terug in die mengbak en klits weer baie goed. Bevries nou verder in die houers.

Om sjokolade roomys te maak, meng 60 ml kakao of twee blokkies onversoete sjokolade met 60 ml warm water.

Roer tot glad en voeg by die mengsel.

 

‘n Leseres het ook gevra na ‘n rissie resep, en ek deel Ulla Pakendorff-Loubser van Ontbytsake–faam se  

(Eiergeel) Brandrissie-mayonnaise resep:

2 eiergele

1 E vars lemmetjiesap

1/4 t sout

1/4 t fyngekapte vars knoffel

1/4 t fyngekapte vars gemmer

2/3 k rissie-gegeurde avokado-olie (van Westfalia)

Klits die eiergele, lemmetjiesap, sout, knoffel en gemmer saam tot goed gemeng.

Voeg dan die avokado-olie eers druppel vir druppel by en klits deeglik, voeg dan bietjie vir bietjie meer en meer olie

op 'n slag by terwyl jy aanhou klits en hou so aan totdat die olie op is en die mayonnaise verdik het.

Indien te styf voeg meer suurlemoensap by. 

 

En terwyl ons nou so eiers gesels, in BEELD lees ek ook oor eiers!

(Hulle het seker ook 'n eier-lus gehad dink ek, want hulle het sommer 'n paar bronne geraadpleeg

vir die volgende stukkie wat ek nou vir jul aan-hak!)

 

Hulle skryf :

Eiers is nie sommer net van hier nie. Van die wêreld se voorste haute cuisine-sjefs sal nie in ’n kombuis instap as daar nie ’n deeglike voorraad eiers is nie. 

Hulle behandel eiers soos goud. ’n Eier wat volmaak geposjeer of geroer is en ’n volmaakte soufflé of omelet is vir hulle ’n kunswerk. 

Dit sal beslis moeilik wees om sonder eiers te kook en die resultate sal sekerlik saai wees omdat eiers verskeie noodsaaklike

kook- en bakfunksies vervul. Hulle bind, dien as rysmiddel, verdik souse, versier en speel die hoofrol in menige beroemde disse. 

 

En seg hulle, Eiers is Goed vir jou! Want, skryf hulle:

1.  Eiers is goed vir jou oë. Volgens studies kan ’n ekstra eier ’n dag makulêre degenerasie van die oë voorkom weens die karotenoïde inhoud daarvan.

Dis veral die luteïen- en zeaxantien-bestanddele daarin wat meer geredelik deur eiers aan ons liggame vrygestel word.

2.  Kenners meen die kanse om katarakte te ontwikkel is ook veel laer onder mense wat elke dag eiers eet danksy die luteïen en zeaxantien.

3.  Een eier bevat ses gram hoë-gehalte-proteïen en nege noodsaaklike aminosure.

4.  Volgens ’n omvattende studie wat taamlik onlangs deur die Amerikaanse Harvard-universiteit se skool vir openbare gesondheid gedoen is,

is daar geen beduidende verband tussen eierverbruik en hartsiekte nie. Om die waarheid te sê het een studie bevind die gereelde eet van eiers kan bloedklonte,

beroerte en hartaanvalle help voorkom.

5.  Eiers is ’n goeie bron van cholien. Een eiergeel bevat sowat 300 mikrogram cholien. Cholien is ’n belangrike voedingsbestanddeel wat help om die brein,

senuweestelsel en hartvatstelsel te reguleer.

6.  Eiers bevat “goeie” vet. Een eier bevat slegs 5 gram vet en net 1,5 gram daarvan is versadigde vet.

7.  Nuwe navorsing toon, ten spyte van wat voorheen geglo is, dat matige eierverbruik nie ’n negatiewe uitwerking op cholesterolvlakke het nie.

Onlangse studies het getoon dat die eet van twee eiers per dag nie ’n mens se lipiede-profiel aantas nie en selfs kan help om dit te verbeter.

Dit blyk dat versadigde vette eerder die sondebok is wat cholesterol verhoog in plaas van enige spesifieke kosinname.

8.  Eiers is die enigste kossoort wat natuurlik vervaardigde vitamien D bevat.

9.  Eiers kan ook help om borskanker te voorkom. Volgens een studie het vroue wat minstens ses eiers per week geëet het,

hul risiko op borskanker met tot 44% verlaag.

10.  Eiers lei tot gesonde hare en naels vanweë hul hoë sulfaat-inhoud en ’n wye verskeidenheid vitamiene en minerale.

Baie mense vind hul hare groei vinniger as hulle eiers by hul dieet insluit, veral as hulle voorheen nie juis kossoorte wat sulfaat of vitamien B12 bevat,

ingekry het nie.

Hulle gee ook die volgende Resepte “wat jy nie sommer agter elke bossie uitskrop nie” !


Gepekelde eiers

3 dosyn hardgekookte eiers, afgedop
1 k appelasyn
2 k water
1 e growwe swartpeper 
2 flesse ingemaakte rissiepeper met die sous

Meng alles saam in ’n groot glasfles.
Rangskik die rissiepeper tussen die eiers.
Gooi die rissiepeper-sous in en vul aan met asyn.
Bêre in die yskas vir 11 dae. Skud daagliks.
Die gepekelde eiers sal vir ewig hou as niemand hulle eet nie.

Ontbyt in ’n koppie

3 k gekookte rys 
1 k gerasperde kaas, in twee verdeel
1 k gekapte soetrissie 
1/3 k melk 
2 eiers
½ t fyn komyn
½ t sout 
¼ t peper

Meng die rys, ’n ½ koppie kaas, rissies, melk, eiers, komyn, sout en peper in ’n groot bak saam.
Skep die mengsel in 12 gesmeerde muffin-koppies.
Sprinkel met oorblywende kaas.
Bak teen 180°C vir 15 minute of totdat die eier heeltemal geset is.

Hul 
Bronne:
Health24, BBC Health News, www.egglandbest.com, 101 Cookbooks, en 101 Eierresepte.

 

(Ek het lg. probeer opspoor, maar nie suksesvol nie, as iemand iets daarvan weet, laat weet my ook asb.!

Dalk een van Anna Eksteen se E-boeke? Hmmm!! Wie lees die fynskrif  op alles?!

En het jul al onder RESEPTE  op onsdorp.com se werf geloer...)

 

Probeer ook my uitgetoetste Rösti met geposjeerde eier.

Jy het beslis 'n Rasper, of een van die nuwe kap gedoentes nodig...

2 eiers

4 groot aartappels, geskil en gerasper

¾ kp gekapte pietersielie

2 uie, ook gerasper

50 g gerasperde kaas

Nog Eiers (2 per persoon)

olie

Rasper die aartappels en uie. Roer 2 eiers deur die gerasperde aartappels en ui.

Geur met 5 ml sout en vars gemaalde swartpeper. Verhit olie in pan en skep groot lepels van die aartappel-ui-mengsel in die pan.

Dit moet ’n koekie vorm. Verlaag die hitte en braai tot bruin aan die een kant.

Draai versigtig met ’n eierspaan om en braai aan die ander kant.

Sorg dat die aartappels sag en gaar is.

Posjeer 2 eiers per persoon, in kookwater. Laat die liggies gesoute water eers kook, en breek dan

die eiers versigtig netjies in die kokende water. Hou die eierwit bymekaar met die eierspaan indien nodig.

(Baie vars eiers, maak die mees perfekte geposjeerde eiers!)

Stel hitte bietjie laer, en sodra die eier gestol en mooi wit rondom lyk is dit gaar.

(Vandaar die benaming: “Kalfs-oog-eier”)

Sit ’n groot skep pietersielie op elke rösti-porsie en plaas die geposjeerde eier bo-op.

Sprinkel met kaas en maal swartpeper oor.

Heerlik! (Aangepas van ‘n resep van Barbara Joubert van SARIE )

 

5 vinnige feite oor henne en hul eiers!

’n Hen benodig 24 tot 26 uur om ’n eier te produseer. Dertig minute nadat sy ’n eier gelê het, begin sy weer van voor af.

Die kleur van die geel hou direk verband met die hen se dieet.

Gele wat heldergeel of oranje is, bevat baie vitamien A en is baie voedsaam.

Gekookte eiers is wêreldwyd die gewildste manier om eiers te bedien, gevolg deur roereiers en gebakte eiers.

Baie vars eiers dop moeilik af. Eiers wat vir een of twee weke in die yskas was, dop makliker af.

Die rede is dat die eier mettertyd krimp en die binneste membraan van die binnekant van die dop wegtrek.

Die groenerige kleur by die geel van hardgekookte eiers is die natuurlike gevolg van yster en swael wat

reageer op die oppervlak van die eiergeel. Dit gebeur gewoonlik wanneer eiers te lank of teen ’n te warm temperatuur gekook word.

Die kleur lyk dalk nie aptytwekkend nie, maar dit het geen invloed op ’n eier se smaak nie. 

Voila! 

 
 
 Lekker eiers eet!

 En ja, vir die Cholesterol lig-lopers:

 Beperk liefs jou eier inname tot niks meer as 4 eiers per week nie! Natuurlik ja, glo my!

 

 

Saterdag, 22 Mei

Soos altyd, bel ek my een skoonsus met haar Verjaarsdag - behalwe, dat ek haar áltyd een dag te vroeg bel!

Nietemin, om iemand te onthóú, al is dit te vroeg OF te laat, bly 'n heerlike lekkerte,

vir die een wat onthou en die een wat onthou word!

So, DOE ZO VOORT! Onthou mekaar, en Dankie aan almal wat my onthou het! 

Dit maak die lewe kosbaar.

Julle, is elkeen kosbaar!

Mooi naweek vir jul almal!

R. 

 


 

Woensdag, 19 Mei.

Ek en Wyle Tannie Esmé, verjaar vandag!

En ons het intussen verhuis!!

Weg is die appelkoosboord met die boerbokke wat daaronder tussen goudgeel Herfsblare gewei het.

Weg is die tarentaal wat oor die grasperk speel en blaar-hope opskarrel!

Weg die lang populiere wat hul Clarens-toneel op my groot grasperk uitgespeel het.

Weg is die eersteson wat soos heuning teen die berg afloop en die nagskemer laat verdwyn.

Die son se eerste strale betrap my nou letterlik in my bed, as die eerste lig oor die koppe oorkant die rivier oor ons

huisie langs die Grote Gariep val. Die strale kruip nou blinkvoet oor die rivier, weerkaats die nuwe dag in deur die groot vensters

op die stoep tot in ons slaapwarm lywe, dit máák jou opstaan om die nuwe dag se breek te wil aanskou.

Die Heer het ons Sy Bos as tuin geskenk, 'n groen boomryke bos vol voëls en Hadida-vere wat voor jou voete val as hul skielik opskrik

as jy hul onverhoeds betrap. Dit is 'n nuwe ritme van leef, hier op die wal van die grote Gariep, 'n nuwe asemhaal.

En saam met Tannie Esmé verjaar ek die nuwe dag binne, tel ek nie meer die jare nie, maar hérdenk ek dit van nou af!

 

Ek het hierdie lekkerte vir myself gebak:

APPELTERT

TERT: 75 g botter

1/2 kp suiker

1 eier

4 Etl melk

1 kp bruismeel

knypie sout

knypie kaneel

2 klein blikke tertappels of 1 grote

SOUS: 1 blik Ideal-melk

3 Etl stroop

3 Etl suiker

2 Etl botter

1 tl vanielje

Oond op 180º C

Room botter en suiker, voeg eier by en klits weer. Roer melk by en klits in. Roer meel, sout, kaneel by.

Smeer helfte van beslag in tertbak, pak die appelstukke daarop en skep orige beslag bo-oor appelstukke.

Bak tot mooi goudbruin , sowat 45 minute.

Meng sous bestandele in kastrol, verhit tot kookpunt en laat stadig prut vir sowat 3 minute. Verwyder van hitte en roer vanielje by.

Gooi sous bo-oor warm tert sodra tert uit oond kom, en sit warm voor as nagereg of yskoud as heerlike tee-bederf!

(Aangepas n.a.v. 'n resep in die Vrouekeur.) 

 

 
 
 
 
 Aan ALMAL wat saam met my verjaar
Mag dit 'n wondermooi dag wees
Mag ons Hemelse Vader jul styf vashou in die palm van Sy hand
Mag Hy jul seën, met die KEUR van SY Seëninge!
 
 
  

 

 

Dinsdag, 3 Mei, Derde Kwartier van die maan.

Die wind huil liggies om die hoeke van die ou huis, waai gelykertyd goudgeel herfsblare en roesrooi amper-wintersblare

oor die grasperk. Die granate het hul blare aan die wind gegee, en staan kaalstam en toekyk hoe blêrende ma-bok-ooie,

lammers met kwispel stertjies nader roep vir hul mid-oggend suiping. Anderkant die draad in die ander lusernkamp,

staan laasseisoen lammers hartseer en toekyk hoe hul ma's die ander soog en hul droëbek laat wegdraai water-trog toe. 

Die draai van die seisoen gaan meedoënloos sy gang. In die natuur. In die lewe. En dit is goed. 

Ek brand voor middagete vas met ander take en kom laat by die kospotte uit, gryp spreekwoordelik na grashalms, en besluit terstond

om my engelse granny se "Granny's Kedgeree"aan mekaar te slaan!

Stoom gou 750 g gerookte Haddock tot gaar. Kook terselfdertyd 6 eiers. Maak 1 blikkie jong erte oop, dreineer.

Neem nou laasnag se oorblywende 2 koppies gaar rys uit die yskas, en skep dit onder in 'n glas of klei oondskottel.

Pak 'n laag gedreineerde gaar vis op die rys. Skep die erte bo-oor en rond af met skyfies gaar gekookte eiers.

Rasper Cheddar kaas bo-oor.

Klits nou 4 eiers goed, geur met sout en swart peper en gooi bo-oor alles in die bak.

Sprinkel 'n groot handvol vars gekapte pietersielie bo-oor.

Bak in oond teen 180º C tot gestol en die kaas mooi bruin gebak.

Bedien saam met vars groenslaai en tamatie skyfies.

Variasies op die tema:

1. Gebruik: Tuna, Rys, Gemengde gaar groente, bietjie mayonaise, kaas, geklitste eiers...

2.  I.P.V  die geklitste eiers, gebruik 1 kp kaas-witsous...

3.  I.P.V die rys, gebruik kappok-aartappels ...

  

Voila!

Betyds reg vir jou middag-skof!

 

 

Skeppende talent is om raak te sien wat niemand anders sien nie; om te dink wat niemand anders dink nie..!

(aldus Albert-Szent-Gyorgyi, Vrouekeur, 19 Maart 2010)

1 MEI.

My ouma het op hierdie dag verjaar. Ek mis haar steeds. Haar warmte. Haar liefde. Haar omgee.

Haar passie vir elke dag. Haar voluit leef, ongeag omstandigheid of pyn. Ek mis haar, steeds.

Vandag, is alweer NAWEEK, en die HERFS het ernstig oorgeslaan na WINTER, koel soggens, matig bedags en

koeler tot koud snags. (Ai! Ek wou nog altyd graag 'n weervoorspeller gewees het!)

Vroeg morgens begin die ryp krakend onder voetsole lê, en boerbokkies word vroeg reeds deur die eerste strale van die son

bekruip waarin hul al baklê, lê en ontdooi.

Net die geveerde vriende gaan ongestoord opgepof die dag tegemoet asof geen aanpassing nodig is nie. Hul sing uit volle bors,

begroet die nuwe seisoen met dieselfde entoesiasme as waarmee hul die vorige dag afgesluit het. Bewonderenswaardig.

Navolgingswaardig. Inspirerend.

Ek moet myself eers motiveer om die warm koesterende kombers-karos van my af te gooi en die dag vierkant in die oog te staar!

Maar CARPE DIEM, is nie verniet deur iemand uitgedink nie, laat ons dus opstaan en die dag aangryp!

Maar die eerste verkoues kortwiek die lus om op te staan...

So liewe leesgenote: begin terstond opskerp met jul vitamiene!

Dit is Sitrustyd, so benut dit. Daar is ook Persimons, nog heelwat Kiwi's, en ook nog hier en daar aarbeie.

Eet baie vars vrugte en groente, drink genoeg water, en aangesien Echinacea en Pro-biotikas nou al bewese hulpmiddele skyn te wees,

sê AAA, en sluk dit saam met jul aanvullings!

En , kry steeds die nodige oefening in, O ek weet!  mens raak lui as dit koeler word, maar stel bietjie uit en nie af nie, en wag tot die morgenson

sy goud uit die mond oor jou spoel en gaan stap in die koesterende welbehaaglikheid daarvan, en terwyl jy so jou daaglikse dosis Vit D inkry,

sonder al die somerson se moontlike velkanker skades, kyk rond en sien raak hoe die winter aalwyne kop uitsteek en jou met hul songevulde kleure groet!

En wat is lekkerder, na so 'n vars oggendstappie, as 'n oopgesnyde pienk Rubi-Red-pomelo,

elke huisie sorgvuldig losgesny, en liggies besprinkel met 'n lagie suiker...

 

 

  Tot later, mooi  MEI dae ! 




 
Wil jy hê ek moet jou meer inligting oor iets gee?    
Kontak my regstreeks by: rethajm@gmail.com  
Groetes!!
 Rx. 
 
 

Retha van Somaakmens

Indien jy nog nie ONSDORP se nuusbrief ontvang nie,

Vul die onderstaande vormpie in vir heerlike tong in die kies humor,

Vars elke twee weke in jou posbus