|
Okt 2010
OP HIERDIE dae in OKTOBER: verskyn die volgende Onderwerpe, Resepte en
Lesers navrae... 27 OKT : Leierskap in jou eie lewe. 22 OKT : Modderkoekies... 19 OKT: Als oor suiker... 15 OKT: Bybelkoek, Grootmaat resepte, Piesang-nagereg, Rolpoeding,
Afval en Bron...Plant van groente en aartappels, 3 Sjokolade Plaatkoeke, Lupine vir Cholesterol, Diabetes en Dieet wenke
13 OKT: Aarbei meringue, Lamstjops, Sampioentertjies
6 OKT: Sagopoeding, Broodpoeding, Granaatbome,
Diabetiese vrugte pektien, Piesang-jellie 1 OKT: Hoendergereg, Kalkoenpatee, Rugstringpastei, Skons, Dadelvingers
27/10/2010
So
wroeg ek die afgelope tyd weer bietjie oor daardie knaende "teruggryp" na dinge wat vergete en begrawe is,
daardie doelbewuste keuses wat ons almal maak om vorentoe te kyk en vorentoe te werk... Ons almal ken dalk al vir ST Potgieter,
maar nogtans plaas ek die volgende uittreksel want ek glo almal kan, soos ek daarby baat!
Hy skryf:Het jy al gewonder hoekom jy nie dié sukses behaal waartoe jy instaat
is nie. Jy sou darem beter wou doen. Sommige dae is jy tevrede, maar tog knaag ietsie van 'n stukkie ontevredenheid aan
jou. Jy sou meer in jou lewe wou bereik. Maar wat moes jy anders doen? Wat het jy nodig om groter sukses te behaal? Wat jy nodig het is leierskap
in jou lewe. Jy neem die besluit dat jy leier van jou eie lewe word. Dis 'n besluit wat net jy neem. Iemand
anders kan nie namens jou hierdie besluit neem nie. Om
leier van jou eie lewe te word het jy vier karaktereienskappe nodig: · dapperheid
· selfdissipline
·
rigting · integriteit Hierdie vier kwaliteite moet in jou arsenaal van karakterontwikkeling aanwesig
wees. Sulke gereedskap val
egter nie sommer in die skoot van 'n leier nie. Jy werk daartoe. Jy ontwikkel dit deur elke dag daarop te fokus. Jy leer
hierdie kwaliteite aan soos jy 'n goeie gewoonte aanleer. Deur elke dag daarop te fokus, daaraan te werk en die regte dinge
te doen. Om leier te word
beteken jy neem beheer van jou lewe. Jy is nie nou meer 'n passasier nie, maar jy is die loods. Jy maak die besluite.
Jy neem die kontrole in jou hande. Dapperheid - In watter area van jou lewe is jy lamsakkig? Waar en wanneer was jy te bang om jou mond oop
te maak, te sê tot hier toe en nie 'n aks verder nie? Laat jy mense wegkom met dinge al weet jy dis verkeerd? Om jou
leierskap op te neem beteken jy staan op al is jy bang. Dapperheid beteken om dit te doen waarin jy glo al kry jy kritiek,
teenstand, dreigmente, beskuldigings, beswadderinge, neerhalende opmerkings. Jy staan op vir jouself en vir geregtigheid.
Wees dapper my vriend, wees dapper. Selfdissipline - jy kry nie jou besigheid van die grond af nie. Jou drome lê in die stof vertrap. Jy kyk
na ander wat sukses behaal en jy sê: "Maar dit kon ek gewees het." Wat jy nodig het is selfdissipline. Jy
word nie gebore met selfdissipline nie - jy verwerf dit. Wanneer jy moeg is, hou jy nog 'n uur uit. Wanneer jy wil tou opgooi,
byt jy vas. Wanneer probleme opduik, stry jy voort en soek oplossings. Wanneer versoekings kom en jou van koers wil dwing,
fokus jy steeds op jou taak. Selfdissipline vra van jou goeie gewoontes waarmee jy moet volhard. Selfdissipline is die wilskrag
om uit te hou en aan te hou om die goeie en regte ding te doen. Rigting - 'n leier beskik oor die visie waarheen
hy wil gaan. 'n Leier dui die rigting aan. Wanneer jy leierskap van jou lewe opneem, beteken dit jy moet weet waarheen jy
op pad is, wat jou doelwitte is. Nie ander mense se doelwitte en siening vir jou lewe nie - jou eie drome en mikpunte. Jy
fokus op prioriteite en dit wat saakmaak; onbenullighede laat jy vir eers eenkant staan. Jy leef doelgerig.
Integriteit - iemand met integriteit
lewe nie met verdeelde lojaliteite nie. Leef nie met skynheiligheid en valsheid nie. Integriteit vra van jou opregtheid.
Eerlikheid. Jou woord is jou eer. 'n Lewe met integriteit bied aan jou geloofwaardigheid, gee jou 'n groter invloedswaarde
en bevorder hoë standaarde. Vier kwaliteite van leierskap. Neem dit aan, maak dit jou eie. Vandag.
Môre. Altyd. Neem die leierskapsrol van jou lewe op. Besluit. Moenie twyfel nie. Moenie terugkyk nie. Jou potensiaal
lê vir jare begrawe.
Skuif
die twyfel uit jou gemoed en gedagte. Besluit. Staan op. Neem beheer. Breek deur die versperrings van vrees en bekommernis.
Laat die wêreld
sien die lig wat jy uitstraal., want Jy is die leier van jou lewe. Jou potensiaal roep jou. Dit dwing jou om uit jou groef
op te staan. Leierskap
van jou eie lewe is jou plig, verantwoordelikheid en jou roeping. Jy is nie alleen nie.
Die
Skepper van die heelal is met jou.  'n Sprankie Sielkunde vir
die dag
"Ware leiers
is gewone mense met buitegewone vasberadenheid." - skrywer
onbekend - (Gaan kyk op my facebook, jul sal ST se Pitkos daar kry!)
22/10/2010 Die bos is vandag in amper skemerte gehul, digte grys wolkbanke pak saam en
die bome staan bewegingloos in afwagting om te weet of die beloofde reën gaan val of nie. Selfs die voëls kwetter
gedemp. Spilpunte draai stadig in die
rondte en sleep die watergordyn oor ‘n groen koringland soos ‘n bruidsluier wat stadig oor ‘n groen tapyt
drapeer, terwyl die grond gulsig drink aan die lewegewende vog. Poele vorm in die spilpuntspore, waarin wolke weerkaats en
hul eie beloftes van reën uitspel. As
kinders het ons in bruin waterpoele gespeel sonder vrees vir vuilword, rysmiere gejaag, gevang en geëet, vreesloos soos
‘n onbevange kind, modderkoekies gebak sonder vrees vir siektes of kieme! Frik stuur aan my Evita Bezuidenhout se resep vir modderkoekies. ( Evita’s Kossie Sikelela by Evita Bezuidenhout (Pieter-Dirk Uys) and Linda Vicquery – published
in 2010 by Umuzi) Dit hark herinneringe soos losgelate pêrels uit ‘n gebroke
string in en om my los. Die ophaal van die momente rol en tol orals uit vergete hoekies uit, baldadig in die vryheid van die
onthou. Soet en
vreugdevol smelt herinnering en resep teen my verhemelte saam tot 'n smaakgenot van 'n hernude kulinêre erfenis-oomblik.
Evita se (verwerkte) resep lui:
125g donker sjokolade 125 g botter 2 eiers 1 kp strooisuiker 1 kp meelblom 1 tl bakpoeier 1 kp gekapte neute ½ kp korente Smelt die sjokolade en botter in ‘n kastrol oor lae hitte. Roer tot glad. Klits die eiers en suiker bymekaar
tot lig en romerig. Vou die sjokolade mengsel by. Meng die meel en bakpoeier en sif dit by die mengsel in. Roer laastens die
neute en korente by. Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier en gooi die mengsel daarin. Bak vir 30 minute by
180ºC. Prik met ‘n langtand vurk om seker te maak dat dit gaar
en geset is, laat afkoel en sny in blokkies. Sprinkel liggies bo-oor met versiersuiker of kakao. Ek het sommer drink-sjokolade
gebruik. Dit
lyk dalk nie so mooi nie, maar dis immers hoe modderkoekies ook maar gelyk het, en dis die herinneringe werd! Die groot verskil
is egter, dat hierdie koekies wel eetbaar en heerlik is!
19/10/2010 Om in ‘n verhouding te wees, is om saam met iemand wat jy onvoorwaardelik
vertrou in ‘n wildernis van omstandighede te wees. Om die verhouding vir die ander een sinvol en goed te maak, moet
hy of sy jou ewe onvoorwaardelik in die onvoorspelbaarheid van nuwe situasies vertrou. Die lewe is ‘n opeenvolging van ou en nuwe krisisse en probleme. Almal
kry verhoudingsbagasie by deur die lewe. Almal dra op een of ander stadium pyn, bitterheid, verwarring en verhoudingsrommel
saam. En omdat die lewe vol krisisse is, is dieper krake in enige verhouding amper ‘n gegewe. Dis egter nie omstandighede wat mense uitmekaar dryf nie, ‘n tekort aan
minsaamheid laat verhoudings knak. ‘n
Tekort aan sagtheid, genadige vriendelikheid en goed wees vir mekaar. Die rede dat mense trou is nie omdat hulle ‘n lisensie wil bekom vir seks of toegang tot
mekaar se bankrekeninge nie – mense trou omdat hul glo dat die spesifieke man of vrou vir hulle goed sal wees, wat ook
al die omstandighede wat vir hulle voorlê. Meeste mense weet dat die lewe nie noodwendig voorspoedig gaan wees nie. Diep in elkeen is die oerwete
dat dit nie goed is om alleen deur die lewe te gaan nie, dat daar iemand tussen al die mense van die aarde moet wees
om in voor en teenspoed in goedgesindheid en welwillendheid langs jou te bly. Wanneer ons dus ‘n lewensmaat soek, soek ons durende minsame goedgesindheid.
Wanneer minsame goedgesindheid weer deel word van
‘n verhouding kom talle dinge reg, die atmosfeer in die huis, krisishantering, selfbeeld, eiewaarde en drome. Die regstelling
in enige stukkendes verhouding begin by ‘n eenvoudige besluit: Ek wil goed vir jou wees en ek gaan goed vir jou wees.
Omstandighede, foute, krisisse, probleme en al die duisende onvoorsiene dinge wat vanuit die lewe op ons afstorm, gaan nie
my goedgesindheid teenoor jou vernietig nie. Ek gaan jou so behandel dat jy op een ding sal kan reken: dat ek jou genadig
sal bly, dat ek aan jou kant is, en dat ek goed vir jou sal bly. (Maretha Maartens in ‘n onlangse Vrouekeur, Vry
verwerk.)  Die BYBEL KOEK se resep is ontrafel! Geluk aan jou FRIK PRETORIUS! Jy ontvang 'n e-boekie met nagereg
resepte! DIE BYBEL KOEK antwoorde is: 1 k Rigters 5:25 (Botter) 2 k Jeremia 6:20 (Suiker) 6X Esegiël 10:14 (eiers) 3
½ k Konings 4:20 (meel) ½
t Levitikus 2:13 (sout) 2 t 1 Korintiërs
5:5( bak poeier) ¼ t elk van 3
wat genoem word in 1 Konings 10:2 (kaneel, neutmeskaat en gemengde speserye) 1 k Genesis 24:11 (water) 1 e Exodus 16:31 (heuning) 2
k elk van 1 Samuel 25:18 (rosyntjies en vye) 1
k Genesis 43:2 (Gekapte neute) Verroom
botter en suiker. Meng eiers een vir een in. Sif sout, meel, bakpoeier en speserye saam in die suiker mengsel in. Meng heuning
en water en voeg by die mengsel. Meng goed. Voeg nou die rosyntjies, vye en neute by. Gooi mengsel in koekpan en bak teen
180 grade tot gaar. OPMERKING: Ek en
onse Jan, oftewel onse FRIK, stem ooreen dat: Rigters 5:25 water, melk en dikmelk noem, ter wille van die resep verwys Rig 5:25 egter na Botter, (daar is immers water,
(Wy) melk, soms dikmelk of suurroom en karringmelk ter sprake by die maak van botter...) Gen. 24:2 gee die water as bestanddeel, ons kan dus
nie in Rig 5 ook water, melk en dikmelk in ons resep gebruik nie!LW: Die antwoord is dus nie gepenaliseer as dit water of melk was nie, immers is dit nie ‘n
kookkunsklas hierdie, of vrae aan bobaaskokke nie, ons deel hier, lekkertes met mekaar! Gesels ek en Frik n.a.v. my stukkie oor die suiker wat my energie so steel, ons wonder hoeveel van julle werklik
al nagedink het oor die VOOR en NADELE van suiker? Miskien moet julle, sodat julle ook hieroor ‘n weldeurdagte gebalanseerde
opinie kan vorm! Vra Frik my: Is daar ooit VOORDELE VAN SUIKER? Seg ek:
Natuurlik! Behalwe die wat ek reeds genoem het, en ook nog om daarmee pienk en blou en wit en groen en geel SPOOKASEM te kan
maak...moet ek Terwille van regverdigheid die goeie dinge in SUIKER uitwys, want dit bevat immers SAKKARIEDES oftewel KOOLHIDRATE. In organiese chemie, sluit dit molekules soos glukose, fruktose, mannose, xylose, sucrose, galaktose
en lactose in. Daar is 'n hele klasifikasie stelsel vir suikers. In chemiese konteks sal "koolhidrate" (sakkariede) in drie hoofgroepe
monosakkariede, oligosakkariede en polisakkariede verdeel word.SAKKARIDES, seg die wetenskaplikes, kan ook sommige kroniese siektes verlig, bv. niersiektes, Lupus en artritis.
En Ons weet ook, dit kalmeer die gebroke hart...
Daar is 8 essensiële goeie SAKKARIDES:
1. mannose: Hierdie
spesifieke sakkariede help om • kankers en groeisels te krimp • voorkom infeksies deur parasiete, bakterie en fungusse
• verlig inflamasie in artritis persone 2. glukose kan, in klein dosisse • geheue verbeter• sellulêre kommunikasie verbeter
3. galaktose; verbeter goeie lewer funksie,
wondheling, vertraag gewasgroei terwyl dit kalsium absorpsie verhoog 4. xilose; Antibakteries en antifungus. Word ook in tandepasta gebruik aangesien dit nie tandverrotting
veroorsaak nie.. 5. fukose:meeste
mense verwar dit met fruktose. Voordele is primêr in die brein 6. N-acetylglucosamine; Herstel kraakbeen en verminder swelling in ledemate en gewrigte
7. N-acetylgalactosamine; Voordelig om die groei
en verspreiding van gewasse te vertraag 8. N-acetylneuraminic acid; Optimaliseer brein funksies terwyl dit bloed cholesterol verlaag
Die term ‘glukonutriënte’ verwys
na hierdie agt spesifieke suikers (sakkariede) wat voorstanders sê help om belangrike glukoproteïene in die liggaam
te vorm. Glukoproteïene – soos spysverteringsensieme – is suikermolekules wat bind aan proteïenmolekules.
Hierdie deeltjies help selle om met mekaar te kommunikeer, wat belangrik vir goeie gesondheid is. Dit is dus sigbaar dat hierdie
glukoproteïene, glukonutriënte en glukolipiede (suiker-vette) ’n belangrike rol in verskeie biochemiese reaksies
speel. Die liggaam vervaardig hierdie suikers en wend dit aan vir lewensbelangrike funksies soos sel-tot-sel-kommunikasie.
Dié verbindings is teenwoordig in die brein- en senuwee-weefsel, selwande, kollageen en beenweefsel. Hulle is betrokke
by hormone en ensieme, en vervoer sekere voedingstowwe. Genoegsame Gluko-nutriënte word egter in ons kos, vrugte en sommige
aanvullings gevind wat ons die noodsaaklike daaglikse aanbevole dosis verskaf vir optimum welstand, en om ons immuunstelsel
op te kikker en selfs sekere kankers kan help genees – dit is dus nie NODIG om nog addisionele suikers in te neem nie!! DR. LINDA BAUM,
verbonde aan die skool van medisyne aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles, het per e-pos gesê “sommige,
maar nie al agt betrokke suikers nie, kan deur die spysverteringstelsel geabsorbeer word. Maar hulle is nie ‘essensieel’
nie.” Die suikers in : Lae vet melk, Vrugte, veral appels, bloubessies,
lemoen, pynappel, aarbeie,piesangs, en meeste Groente soos wortels, tamaties, brokoli, spinasie, komkomer... is goed, eet
dit gerus! Suikers in Aartappels, patats, pasta, rys ens...DINK eers! Soos my
Oupa sou sê: MATIGHEID en BALANS bly maar die wagwoord!
Maar, daar is MEER NADELE, onderbreek Frik my! Vra ek dus: Wat IS die NADELE? Seg Frik: Die mens is nou maar een maal verslaaf aan
iets wat soet is. Sommige mense reken dat dit ‘n aangeleerde smaak is, maar ek twyfel sterk. Van die eerste oomblik
dat ‘n baba borsmelk drink, ervaar hy wat soet beteken. Dit is daarom nie vreemd dat ons, ons hele lewe die soeter dinge
in die lewe uitsoek nie. In die natuur is daar baie dinge wat soet smaak, van
boombas tot vrugte. Die probleem ontstaan wanneer ons daardie soet smake isoleer en te veel daarvan begin verbruik.
Het jy al ooit ‘n
mamma gesien wat ‘n kleinding suiker voer, ek bedoel lepel vir lepel soos wat sy pap aan die kleinding sou voer? Natuurlik
nie, dis ondenkbaar! Tog is dit presies wat elke dag gebeur, sonder dat ons dit besef. Maar voordat ons na die effekte van suiker op die liggaam
kyk is dit belangrik om te weet wat suiker is. Suiker kom meestal vanaf die suikerriet, en dis heeltemal natuurlik.
As jy al aan ‘n stukkie suikerriet gekou het behoort jy die soet smaak daarin te proe. Die suiker is deel van die plant
soos God dit gemaak het. Om egter die suiker te kry wat jy in jou tee of koffie gooi word die riet deur soveel as sewentien
verfynings prosesse verwerk. Hierdie prosesse raak ontslae van alles wat nie suiwer glukose en fruktose is nie soos, vitamiene,
minerale en vesels. Die eindproduk is sewentien keer soeter as dit waarmee begin is, dus sewentien keer meer gekonsentreerd,
gestroop van alles wat goed was in die oorspronklike riet!
Dit beteken dat die
1 teelepel suiker wat jy in jou koffie gooi gelykstaande is aan 17 teelepels rou suikerriet. Al daaraan gedink om 17 teelepels
suikerriet in jou koffie te gooi. Wat die verfynings proses regkry, is om al die Godgegewe meganismes, wat verhoed dat jy te veel kan
inneem (bloot omdat die volume te veel sal wees), te verwyder en net dit wat soet is in ‘n totaal onnatuurlike hoë
konsentraat te voorsien sonder die vitamiene en minerale wat jou liggaam voed. Die verfynings proses verander die suikerriet
wat ‘n komplekse plant matriks het na ‘n eenvoudige chemiese molekule. Hierdie onnatuurlike lewelose chemikalie
word dan as ‘natuurlik’ en goed aan jou bemark!
Jy word vertel dis goedheid
uit die natuur en dat dit ‘n perfekte bron van energie is. Dis interessant om te weet dat toe suiker die eerste keer so geweldig verfynd
gemaak is, dit as ‘n kragtige brein-funksie-modulerende middel onder dokters toesig gebruik was, net soos opium!
Omdat daar groot internasionale
besigheid betrokke is by die handel van suiker wat eie belange ten alle koste beskerm, sal jy selde hoor wat ek jou
volgende gaan vertel. Wetenskaplike studies wys dat suiker geïmpliseer kan word in die groei en verspreiding van kanker, tog word
die verbruik daarvan bykans nooit deur enige onkoloog aan ‘n kanker leier as nadelig vir sy herstel van kanker uitgewys
nie. Suiker
is gevaarliker as rook vir jou liggaam, omdat jy dit reeds van ‘n jong ouderdom af in gekonsentreerde vorm inkry en
dit word in amper alle kommersiële kos soorte versteek. Daar is ‘n direkte verband tussen suiker verbruik en die toename in die
obesiteit van veral die jonger generasie. Suiker verongeluk die delikate mineraal balanse in jou liggaam, soos byvoorbeeld die van koper,
magnesium, en kalsium wat lei tot ernstige toestande soos aneurismes van slagare, verkalking van are en versteurings van cholesterolvlakke.
Suiker het ‘n
nadelige effek op jou dermkanaal wat die absorpsie van voedingstowwe benadeel en kan lei tot siektes soos Chrone se siekte
en ulseratiewe kolitis. Suiker kan lei tot alkoholisme, verswakte sig, diabetes,
osteoporose, tand bederf, voortydige veroudering, arteritis, asma en veelvuldige sklerose. In ‘n vorige artikel het Frik oor ADD
en ADHD geskryf en die gevare van suiker uitgelig. Hierdie is egter net een van die probleme wat suiker in die brein veroorsaak.
Suiker kan die delta, alfa, en theta golwe in die brein verhoog wat jou brein se vermoë om helder te kan dink nadelig
beïnvloed. Verder kan dit depressie veroorsaak en jou kanse op Altsheimer se siekte verhoog en die frekwensie van epileptiese
aanvalle verhoog. Suiker kan ook jou hormone deur mekaar gooi soos, estrogeen in mans verhoog,
PMS in vrouens vererger en ‘n afname in groei hormone veroorsaak. Soos jul kan sien uit hierdie paar nadele wat ek genoem het (en daar is nog
BAIE meer) is dit nie die ideale ding om naby jou of jou kind te laat kom, indien jy enigsins gesond wil wees en bly nie.
Suiker is nie bloot iets wat jy behoort te vermy as jy gewig wil verloor nie, jy moet dit vermy as jy bloot gesond wil bly.
Wat is die alternatief
vir suiker? 1.
Kunsmatige versoeters Stap in enige restaurant in en jy sal ten minste twee
soorte suiker (wit en bruin) op die tafel aantref. Onthou tog net dat daar geen verskil is tussen bruin en wit suiker nie,
beide is uiters nadelig vir jou gesondheid. Bruin suiker is net so nadelig os wit, en is wit suiker met soet molasse bygevoeg. Die ander sakkie wat jy sal aantref op die restaurant tafel is die ‘kunsmatige versoeter’.
Iemand het een keer gesê: “As God dit nie gemaak het nie, of jy dit nie kan uitspreek nie, moet dit nie eet nie!”
Dit is eers waar van kunsmatige versoeters. Onder kunsmatige versoeters verstaan ons dat dit dus op geen manier natuurlik
is nie (daarom die naam kunsmatige versoeter) Dis iets wat iemand met ‘n wit jas agter ‘n gesig skerm in ‘n
laboratorium ontdek het en as iets voordelig aan jou probeer afsmeer met slim bemarkings foefies. Daar bestaan tans ‘n paar van hierdie
chemikalie op die mark wat kwansuis deur die FDA in Amerika en ons eie beheer liggame as ‘veilig vir menslike gebruik’
verklaar is. Hierdie kom voor in dieet koeldranke, gegeurde water, aanmaak sap asook in baie van die liggaamsbou drankies
of ontbyt melkskommel drankies voor, asook in versoeters soos: NutraSweet, Canderel, Equal, NatraSweet, Splenda, Advantage
en Miwon Aspartaam ‘n Onlangse Italiaanse studie het aangetoon dat daar ‘n direkte verband tussen die
verbruik van aspartaam en Leukemie (bloed kanker) bestaan asook met limfoom kanker. Daar
is baie tegniese redes hoekom aspartaam so nadelig is, maar laat ek net sê dat onder die regte omstandighede dit in
dodelik gevaarlike substanse verander wat veelvuldige sklerose en Lupus tot gevolg kan hê. Aspartaam is ʼn neurotoksiese bestanddeel wat met verskeie gesondheids probleme verbind kan word
wat insluit: lighoofdigheid, suisende ore, spier en gewrigs pyne, hoofpyne, angs aanvalle, sleeptong, gesigs versteurings,
pankreatitis, hoe bloeddruk, bloedklonte in die niere, epileptiese aanvalle, depressie asook geboorte defekte. Dit beskadig die brein deur die ‘elektriese draadjies’, tussen brein selle, se insulasie
af te breek, wat dan kan veroorsaak dat kortsluitings in die brein plaasvind, wat kan lei tot verlies van sekere liggaams
funksies. Sukralose
is ontdek toe wetenskaplikes op soek was na ‘n nuwe insekdoder. Dit is 600 keer soeter as suiker en word gemaak van
suiker wat deur veelvuldige chemiese prosesse verander word. Die vervaardigers roem daarop dat dit nie deur die liggaam geabsorbeer
word nie en geen kalorieë bevat nie. Omdat dit so soet is, benodig jy onsigbare hoeveelhede om iets uitermatig te versoet.
Om die rede word dit dikwels met dekstrose maltodekstrin vermeng om dit te verdun, sodat jy ‘n lepel daarvan kan gebruik.
Hierdie veroorsaak dat dit nie kalorie vry is nie. Wetenskaplikes is dit egter eens dat tot 40% deur die liggaam geabsorbeer
en gemetaboliseer kan word, wat deel van die rede kan wees hoekom studies wys dat dit die timus klier met tot 40% kan laat
krimp (nadelige impak op jou immuunstelsel), vergrote niere en lewer veroorsaak, en die milt en limf nodes laat krimp.
Acesulfame (K) of ACK
se veiligheids toetse is deur die vervaardiger self gedoen en nie deur onafhanklike laboratoriums nie. Dit is waarskynlik
die rede hoekom die oorpronklike studies wat getoon het dat hierdie chemikalie kanker en skildklier probleme in diere veroorsaak
geïgnoreer word. Dit is ook aangetoon dat Acesulfame (K) insulien afskeiding stimuleer, sonder die aanwesigheid van suiker,
en dus lae bloedsuiker aanvalle kan veroorsaak. Sakkarine: Is die versoeter wat die meeste studies ondergaan het deur die jare. Dit is steeds
nie sonder twyfel as veilig vir menslike gebruik bewys nie. Inteendeel daar is wetenskaplikes wat besorg is oor die moontlike
skakel tussen sakkarine en kanker. Vanweë die chemiese samestelling kan dit ook die volgende probleme veroorsaak: vel
uitslag met erge jeuk, naarheid, diarree, blase op die tong, hoofpyne, hartkloppings en baie meer. 2. Ander alternatiewe vir versoeting.
Fruktose of vrugte suiker
was vir lank deur gesondheids deskundiges as gesond beskou. Meer onlangse studies wys egter dat dit nie so voordelig is as
wat gehoop was nie. Fruktose word baie maklik deur die lewer in vet omgeskakel, en kan die sogenaamde goeie cholesterol (HDL)
verlaag, hoe bloeddruk veroorsaak, en insulien weerstandigheid verhoog. Ek kan nie nalaat om te noem dat hierdie die gevolge
is van hoe inname van fruktose, soos bv. in konfyt, vrugte sappe, vrugte lekkers en vrugte stafies nie. Dit beteken nie dat
jy moet ophou om vrugte te eet nie. Klein hoeveelhede HEEL vrugte kan baie voordelig wees. Xylitol is korter op die mark en alhoewel dit
tans as veilig beskou word is dit belangrik om te weet dat dit nie natuurlik voorkom nie. Dit word chemies afgelei van ‘n
sekere boom bas. Alhoewel dit nie ‘n negatiewe uitwerking op die gesondheid as geheel inhou soos die kunsmatige versoeters
nie kan dit diarree en maagkrampe tot gevolg hê as groot hoeveelhede ingeneem word. Xylitol in klein hoeveelhede het ook voordele soos dat dit die opname van B-vitamiene en kalsium verhoog, tandbederf
beveg, varser asem bevorder, beter atletiese prestering bevorder en sinus infeksies teen werk. Indien dit met ‘kunsmatige’ versoeters vergelyk word is dit dus nie naastenby so nadelig nie.
3. Gesonde alternatiewe
vir suiker. Stevia
is ‘n ekstrak wat van die Stevia plant se blaar. Dit is 100% veilig vir versoeting. Stevia is nie net veilig nie, maar
word in sekere dele van die wêreld as medisyne vir diabete gebruik wat help om die funksie van die pankreas te normaliseer.
Dit is beskikbaar in poeier, vloeistof en pilletjies. Dit is baie soeter as suiker en dus benodig jy ‘n baie klein hoeveelheid
om die soet smaak te veroorsaak. Heuning is so natuurlik dat die mens dit nog op geen manier kon namaak nie. Afgesien van heuning se
medisinale eienskappe is dit ‘n uitstekende versoeter in klein hoeveelhede. Maak seker dat jy heuning van jou omgewing
bekom en maak ook seker dat dit rou heuning is. Rou beteken dat dit nie vernietig is deur radioaktiewe bestraling, pasteurisasie
of verhitting nie. Indiese Palm suiker of ‘Jaggery’ wat van die Indiese dadel palm gemaak word en rou verkoop word in gesondheids
winkels is goedkoop en is uiters natuurlik en besit self medisinale eienskappe. Dadels, rosyne en vye kan gebruik word om koekies en
ander gebak te versoet. ‘n Goeie vriend en kollega het die volgende filosofie oor dinge wat ons by ons mond laat ingaan, of dit supplemente,
drankies of kos is. “Is dit SDGG?” is altyd sy vraag. SDGG beteken, is dit wat jy wil inneem Soos Deur God Gemaak?
Indien nie, behoort jy uiters versigtig daarvoor te wees. As jy dit as maatstaf gebruik vir alles wat jy in jou liggaam toelaat,
sal jy lank ‘n gesonde tempel besit!  Na
soveel goeie woorde, Gegroet en Voila!!
15/10/2010
Dagsê
Liewe Leser! Gister het die son eers in karmosyn-pienk en toe in diep warm rooigoud tussen vlieswolke saam met
‘n koel windjie, oor die rante gespoel en alles goud ingekleur. Elke donker hoekie opgehelder en die dag laat intrek.
Vanoggend is die wêreld silwer. ‘n Silwer son breek deur wit grys wolke vol belofte van reën, en spoel
skugter en yl oor die landskap. Geen baldadigheid in die windstil bome wat met hul delikate nuwe groen blare spog nie.
Nee, stil en roerloos wag die dag vir die son. Onse Jan, oftewel Frik, ons nuut aangesluite GASHEER, hier
op SO MAAK MENS, het die volgende gebak-idee vir jul! Die eerste een wat dit ontrafel en terugstuur, (Sjoe, wat
van ‘n foto van die voltooide produk!! ) gaan die gelukkige wenner wees van ‘n E-resepteboek vol lekkernye!! Maar
saam met jou antwoord, moet jy sê waste resepte jy soek! M.a.w. KAMP resepte, BAK resepte, KOOK resepte... Reg so? BYBELKOEK 1 k Rigters 5:25 2 k Jeremia 6:20
6X
Esegiël 10:14 3 ½ k Konings 4:20 ½ t Levitikus 2:13 2 t 1 Korintiërs 5:5
¼
t elk van 3 wat genome word in 1 Konings 10:2 1 k Genesis 24:2 1 e Exodus 16:31
2 k elk
van 1 Samuel 25:18 1 k Genesis 43:2 METODE Verroom botter en suiker. Meng eiers een vir een in. Sif sout,
meel, bakpoeier en speserye saam in die suiker mengsel in. Meng heuning en water en voeg by die mengsel.
Meng goed. Voeg nou die rosyntjies, vye en neute by. Gooi mengsel in koekpan en bak teen 180 grade
tot gaar. Voila!! LESERSNAVRAE Jul onthou ELMARIE HET GROOTMAAT NAGEREG resepte
gevra? 'n FACEBOOK vriendin RINA KLEYNHANS het die volgende ingestuur: Riglyne vir grootmaat nagereg:
Roomys
alleen - 9 mense per liter - 5 liter vir 50 mense Roomys saam met ander nagereg - 12 per liter - 3 liter vir
50 mense Vla - 20 mense per liter - 2.5 liter vir 50 mense Vrugteslaai - 7 mense per liter - 6 liter vir
50 mense Koekstruif - 6 mense per liter - 8 liter vir 50 mense Jelliepoeier - 60 mense per kg - 800g vir 50
mense Jellie - 10 mense per liter - 5 liter vir 50 mense ROLPOEDING (50 PORSIES)
12 kp
meelblom 1 ½ etl sout 2 eet bakpoeier 1 ½ kp botter of margarine gesmelt
6 eiers
geklits 1 liter vloeistof - melk of water 3 1/3 kp fyn konfyt 3 liter kookwater
2 ¼
kp suiker Meng die droë bestanddele. Meng die botter, eiers en 1 liter vloeistof Voeg die eiermengsel
by die droë bestanddele. Die deeg moet nie te styf wees nie. Rol ongeveer 6mm dik uit en sny in blokke van
30cm x 22 cm. Seer met konfyt en rol op. Sit in bakpanne. Meng 3 liter kookwater en suiker en gooi kokend oor die opgerolde
deeg. Bak ongeveer 1 uur lank in 'n warm oond. As rolle dunner is, sal dit gouer gaar bak. Dien op met vla wat nie te soet
is nie. PIESANGNAGEREG (50 PORSIES) 35 piesangs 2 ¼ kp suiker
9 pakkies
jellie 4 ½ liter kookwater 15 eiers geskei Maak piesangs fyn. Verhit piesangs met suiker
en eiergele tot mengsel dik is. Los jellie in kookwater op en voeg by die piesangs. Laat mengsel afkoel, en laat effens styf
word. Klits eierwitte styf, klits die twee mengsels saam. Laat styf word, bedien met vla. Baie dankie Rina! En FRIK deel die volgende hieroor: NAGEREG vir 250 GASTE
Kry sink
emmers. Maak mooi skoon. Maak emmers vol met Aarbeie, dik geklitste room, roomys en skuimpies. Gaste kan of roomys in nagereg
bakkie sit met aarbeie, skuimpies daaroor breek of aarbeie insit met skuimpies oor gebreek met room oor. Nog iets wat maklik sal wees om te maak in
so grootmaat is Yskasterte. Daar is soveel heerlike en wonderlike verskeidenheid van terte dat jy verskeie terte sal kan maak.
Vrugte
Kebabs wat jy kan maak en dan smelt jy sjokolade en drup sulke patrone oor die individuele kebabs.
Vrugteslaai
met room en roomys is altyd ‘n treffer. Wat ook ‘n treffer is en nie so baie gedoen word nie
is om ‘n sjokolade fontein (Chocolate Fountain) te kry, met baie sjokolade. Hier kan jy jouself uitleef. Werk op so 8 stukkies eetgoed per persoon.
Jy kan enige grof gesnyde vrugte gebruik, soos pynappel, kersies, druiwe, waatlemoen en alles wat beskikbaar is. Verder kan
jy vinger koekies, marshmallows of skuimpies ook om die fontein sit. Gedroogte vrugte kan ook gebruik word. Koekies en lekker
goed kan ook daar neergesit word. Met hierdie “nagereg” is daar iets vir almal. Ek hoop jul het nou weliswaar ‘n paar
idees vir jou nagereg.! SIENIE STRYDOM het geskryf: BAIE , BAIE DANKIE VIR AL DIE RESEPTE. Dis net my plesier gewees Sienie!
PATRECIA
skryf: AFVAL en SULT
/ BRON Hieroor het ek reeds heelwat geskryf, kyk gerus op die GISTER OP DIE AGTERGROND bladsy!
Ek haal
egter kortliks aan wat JACQUES VAN PE hieroor gesê het: Daar is n groot verskil om bron en afval gaar te maak. Bron/sult kook mens
vark pote en beesvleis saam met al die fieterjasies (spices) as dit gaar is maal jy dit soos verkies word (grof of fyn). Daarna
meng jy alles goed en sit omtrend dieselfde hoeveelheid koue water by. Sit dit dan in n plat bak in die yskas - oornag. Die
volgende oggend krap jy net die vet-lagie wat gevorm het af. AFVAL - dis hoe hy dit maak. 2kg afval, 1 kg beespens. Sny al die vleis en velle van die skaapkop
af (as die kop nie in die oond gebak gaan word nie), sny alles ook die pens, behalwe die blaar pens waarin die brein moet
kom, in happie grotes. Braai 2 uie to bruin, haal uit gooi so 10 naeltjies, en 6 lourierblare,
10 heel swart peper korrels in die pot, sodra mens die speserye begin ruik, gooi 3 eetlepels lekker sterk kerrie by en so
2 koppies kook water - staan terug want die kerrie dampe en stoom gaan jou tref. Gooi die skaap afval en beespens in dit pot.
Gooi so 3 eetlepels borrie in, n halwe koppie bruin asyn, sout, woestersous, en 2 lepel braaivleis speserye.
Laat
dit stoom vir so 45 minute kook in die stoompot. as dit daarna nog taai is stoom vir nog 20 min, Gooi dan 6 aartappels saam
met die gebraaide uie in en laat stoom vir nog 20 minute. Meng 4 eetlepels Mezina met 500ml room en gooi dit by. Roer terwyl
dit kook en die sous lekker dik is.Tadaaaaaaa! LISHL skryf: Ek het verskillende groente saad. Kan ek dit direk in die grond sit en kan ek lotte van verskillende bome afknip en
weer plant. hoe plant ek aartappels dit het al opgekom in saailinge. Lishl, Jammer ek het laat terug gekom na jou,
was mos troue toe...! Plant Suster, plant! Onthou ek is ook maar net ‘n ywerige leerder op hierdie gebied! Jy kan amper
alles direk plant en later uitplant as dit sterk genoeg is, anders plant jy dit van die begin af net sowat 20 cm minimum uit
mekaar uit! Ek plant egter graag my kruie eers in saailing sakke of bakkies en plant dit dan later uit, behalwe as ek dit
in 'n aparte beddinkie kan plant dan dun ek dit later net uit, maar dis wat jou gelukkig maak wat werk, plante voel dit aan
dat jy hulle wil laat groei! En dan plant ek graag soos my Oupa volgens die maan! (Gaan loer op die TUINHOEKIE BLADSY.
Jy kan
ook lote van meeste harde en semi-hardehout sny en dit met hormoonpoeier behandel en dan plant, maar dit moet verkieslik in
'n goeie potmengsel (of in plantsakke, of direk in voorbereide gate) gedoen word sodat dit makliker kan wortel skiet. Hou
jou grond klam.Sagtehout
lote van bome kan in water ingelê word tot dit wortel skiet en dan uitgeplant word, of ook soos hierbo behandel en geplant
word. Beskerm net die lote en hou klam. Jou Aartappels moet dadelik uitgeplant word en dan op-ge-erd word, jy spit
die grond teen die “stamme” op om die ondergrondse groei te bevorder. As mens nie juis 'n groot tuin het nie,
hou ek van die buiteband metode, jy plant die aartappels in een, dan sodra dit sowat 4 blaartjies het, plaas jy die volgende
band bo op en vul met grond dat net een blaartjie uitsteek, dan wag jy tot weer sowat 4-5 blaartjies vorm en herhaal die proses
tot sowat 4 bande hoog. Dan los jy dit dat dit blom, en dan as die blare heeltemal afgegaan en droog raak dan kan jy begin
aartappels uithaal, begin bo en haal eerste band af, en werk dan weer so ondertoe. Anders plant jy maar rye in die grond
en gee genoeg rank spasie en erd dit in die middel net sowat 20 cm teen die stamme op soos molshope... Dit sal seker
sowat 2 tot 2 en 1/2 maande vat om te kan oes, en onthou as dit koel is dan kan dit lank in die grond bewaar bly ook.Andersins
kan die in 'n koel, droë en donker plek geberg word! Tussen strooi of tussen goiingsakke is uitstekend.
In ALLES
OOR TUINMAAK het BECKETT en KINGSBURY, oor AARTAPPELS, die volgende gesê: Aartappels: Solanum Tuberosum, word verdeel in 3 hoofgroepe: Vinnige groeiers,
wat in die voorsomer geoes word en stadige groeiers wat vanaf midsomer tot winter geoes word, en die tussen die twee genoemdes!
MOERE
is die term wat gebruik word vir aartappelknolle wat geplant kan word (m.a.w. die “saad”)
Begin
vroeë soorte vanaf vroeg Lente plant tot laastens mid Somer. Plant moere sowat 40 cm van mekaar met algemene kunsmis
in die bogrond, gate moet sowat 20 cm diep wees, maar plant moere slegs 5 cm onder die oppervlak met die uitloopsels na bo.
Erd die aartappels (in tuin, eenmalig) op wanneer die stamme 20-25 cm lank is. Vroeë aartappels kan ge oes word sodra
die blomme begin oopgaan, anders moet jy stingels so 2- 3 weke voor jy wil oes- na blom stadium, afsny en dit verwyder (om
slakke weg te hou).Steek dan, met 'n tuinvurk die knolle uit, laat vir halfdag in son lê om droog te word en die skille
te laat verhard om houvermoë te verseker en Voila!! Hoop jy geniet jou tuinmaak!! KARINA ALLEN, het gevra: Heerlike sjokolade plaatkoek. Onse JAN, van ons eie SO MAAK MENS se ESMé en JAN!-oftewel FRIK, het die volgende vir jou opgespoor, hoop dis wat jy gesoek het! As jy klein PLAATKOEKIES
gesoek het, daar is wel resepte daarvoor MET SJOKOLADE in, op die GISTER OP DIE AGTREGROND blad! RÉHANNA SE SJOKOLADE PLAATKOEK
Meng die
volgende bestanddele in 'n oondpan: 3 koppies koekmeel 2 koppies suiker
4 teelepels
bakpoeier 1 teelepel koeksoda 80 ml kakao knippie sout Meng die volgende bestanddele in 'n mengbeker:
2 koppies
kookwater 375 ml kookolie 50 ml asyn 10 ml vanilla Voeg die nat
bestanddele by die droë bestanddele en meng baie goed. Tik die lugblasies uit die mengsel en bak vir
20 min by 180 grade C Versier na wense KLITS-EN-BAK-PLAATKOEK 375 ml Strooisuiker
375 g
Sagte Botter Of Volvet-Margarien 6 Eiers 750 ml Bruismeel, Gesif 15 ml Bakpoeier 2 ml Sout
125 ml
Melk 10 ml Vanieljegeursel Voorverhit Die Oond Tot 180 °C En Smeer 'N Oondpan Goed. Voer Uit Met Bakpapier
En Smeer Weer. Gooi Die Bestanddele In Die Volgorde Waarin Dit Aangegee Word In 'N Groot Mengbak. Klits Alles
Goed Saam Tot 'N Gladde Beslag. Skep In Die Oondpan En Bak Vir 25-30 Minute Tot Gaar. Laat
Vir 10 Minute In Die Pan Afkoel, Keer Uit Op 'N Draadrak En Laat Heeltemal Afkoel.
En, Die
volgende koek bestaan uit twee dele, ‘n “nat” deel en ‘n “droë” deel. Neem jou stoof
se oondpan en plaas al die volgende “droë” bestanddele in: 500ml Suiker 750ml Meel 80ml Kakao 5ml Koek soda 20ml Bakpoeier
‘n
Knippie sout Sif als goed deur. Die nat bestanddele: plaas in lekker groot maat beker
500ml
Kook Water 250ml Kook olie 50ml Wit asyn 10ml Vanilla essens
Voeg nou
die nat by die droog en begin roer met ‘n vurk tot als mooi kan smeer. Neem nou die pan en stamp dit op die vloer (nie
te hard dat als uit spring nie) sodat die lug blasies kan uit kom sodat jou koek mooi en eenvormig is. Stel die stoof op 180°C
tot liggie af is, plaas die pan in die oond vir 20 minute. Toets na 20 minute met ‘n mes wat jy in steek in die middel
of die koek reg is, as die mes skoon uit kom is die koek reg. Die toets hang als af van hoe warm jou oond is ek praat uit
ondervinding. Ek sal sê om die koek nie langer as 23 minute in te los nie dan kan dit begin op die kante brand en dan
smaak die koek nie lekker nie Variasie: Plaas ’n paar heel swart kersies bo op die beslag voor jy dit in die
oond druk. Maak dan ’n stroop van 1 plak donker sjokolade, 1 koppie room en 1 koppie swart kersie sous. Gooi die stroop
bo-oor die koek sodra dit by die oond uitkom. Maak die res van die swart kersies fyn en versprei bo-oor die koek. Maak ’n
mengsel van 1 koppie room en 1 koppie versiersuiker wat jy klop tot dit styf is. Smeer bo-oor die swart kersies. Jy kan vir
versiering nog donker sjokolade rasper en bo-oor die room strooi.
 RETHA:
Hoe’s dit vir jul!! Man, dis lekker om ‘n “backup-maat” te hê! Dankie Frik!  FRIK: Dis
my plesier! RETHA: Ai Frik, dat ons eie SO MAAK MENS nou sowaar ‘n span is, soos in die ou dae!
FRIK:
Inderdaad! ‘n span ja! RETHA: Wat dink jy, sal die lesers dit ook geniet? FRIK: Ek is seker hul sal ja! Twee is mos beter
as een, nie waar? RETHA: Ja, Inderdaad! Was ek dan nie nou onlangs weer by ‘n troue, waar dit juis die trou-teks
was nie! En dit gaan alles oor Spanwerk! FRIK: Hmmm, Mens besef dit nie altyd nie, maar op amper al die terreine
van die lewe, is mens maar besig om in Spanne te werk! RETHA: Ditto! Maar laat ons aangaan, hier is die laaste LESERSNAVRAE
vir vandag! JOSEPH skryf: My vrou is diabeties 2 . Kan jy my moontlik bystaan met ‘n
gesonde dieet of resepte of skakels sodat ons bietjie die gewig kan afkry en meer gesonder kan leef?
Natuurlik
gaan ons kan help! Behalwe wat reeds hieroor op die GISTER OP DIE AGTERGROND bladsy geskryf is, hier is nog wenke vir julle:
*Eet tenminste
3 maaltye per dag, of 5-6 kleiner maaltye per dag. *Ontbyt is NB jul weet mos nou al! Ontbyt soos ‘n koning,
middag soos ‘n prins, en aandete soos ‘n bedelaar... *Verminder VET en SUIKER inname.
*Pas eerder
gesonder kookmetodes toe soos STOOM en Droë hitte BRAAI, BAK in oond en vinnige (verkieslik waterlose)KOOK, SONDER die
byvoeging van addisionele VET of SUIKER! *Bly weg van alles wat WIT en GEPROSESEER is, polonies, blikkies vleis,
pasteie, gebak, witsuiker, witmeel, wit pasta, wit rys, witbrood... *Verhoog jou VESEL inname, dit vertraag hongerpyne,
maak jou ingewande skoon , verhoog peristalse en dermwerking...volgraan brood, sade , bruin rys, bruin pasta, hawermout...
*Eet daagliks
jou 5-‘n – dag vrugte en groente *Beperk rooivleis *Beperk sout inname, dit hou vog terug.
*Drink
jou water!!! *Los die drankies en rook... *Gaan STAP elke dag!! Het ek geseg: Elke Dag? Elke dag ja!
Vir CHOLESTEROL
het baie mense baie rate...EEN daarvan is om daagliks 2 tot 8 WIT LUPINE bone oftewel die “WONDER BOONTJIE” of
Fasioles Bonii te gebruik. Maar hoe? Die goed is te hard, te bitter en te groot om net te sluk! Verder seg hulle jy moet dit
eers week en kou EN nog die water waarin dit geweek is, OOK drink! Nee kyk, ek wil graag my cholesterol beheer
maar sluk ‘n boontjie ‘n dag, klink nie vir my of dit gaan werk nie! So navorsing, hier kom ons!
Die bone
bevat amper 40 % PROTEINE en amper 40 % VESEL, en hierdie 80% goedheid is wat ons glo help! Die protein daarin vervang
wat ons benodig omdat ons soet is en baie rooivleis uitsny... en die vesels daarin help om die absorpsie van die slegte
cholesterol teen te werk. Seg  Frik vir my
: Retha, jy moet die goed minstens 4 dae week, en elke dag die water vervang.  RETHA:
Hoekom? FRIK: Want
jy moet, dis wat hul sê! RETHA: Nee, dis nie goed genoeg nie, dis al wat op my botteltjie ook staan!
Ons moet soek na die regte antwoord! FRIK: Goed, ek sê dit nie graag nie, maar jy (as vrou) is reg! Week
die blêddie bone dan langer om van die bitter (alkaloïde) ontslae te raak! Die geheim is dat jy die bitter moet
uitloog voor gebruik. En net om jou tegemoet te kom, Hier is vir jou ‘n alternatiewe resep: Bedek 1 kp bone met 6 kp water en laat oornag
week. Spoel die volgende dag af en spoel met vars water. Sit dit nou in ‘n kastrol met heelwat water, laat prut
vir sowat een uur. Dreineer en spoel. Bedek die bone nou met soutwater en plaas vir 24 uur in die yskas. Dreineer, en spoel.
Bedek weer met soutwater en hou weer in yskas vir 24 uur. Herhaal hierdie proses vir 5 dae. Hou die bone nou in die yskas in ligte soutwater in ‘n glasfles
met ‘n digte deksel. Dit sal vir weke lank hou! Eet nou elke dag 4-8 hiervan. Sprinkel met olyfolie en swart peper en
‘n skeutjie suurlemoen sap saam met groenslaai! RETHA: VOILA!! Ai Frik, dit klink al beter! Langdradig, of is dit lang-dae-rig!! Maar beter!
Sal ons die Lesers vra wat hul hieroor dink? FRIK: Definitief, maak so! RETHA: Nou toe Lesers, daar het jul dit! Wat
dink jul hiervan? Laat weet ons asseblief! ONTHOU! Suiker is gif. Dit steel AL jou energie! WAT is die nadele (en ter wille van regverdigheid)
ook die voordele van SUIKER IN KOS? Voordele: Dit gee smaak Dit gee kits
energie ( maar ontneem jou daarna weer van alles..!!) Dit kan as garnering gebruik word bv. in jellie-randjies om
glase... versuikerde blomme, koekversiersing... Jy kan kinders en grootmense daarmee omkoop...
Nadele:
Dit steel
jou energie! Het ek genoem dit steel jou energie? Dit maak vet. Dit steel
jou energie. Dit is dolleë voedingswaarde want dit het GEEN voedingswaarde nie!
Dit smelt
as dit warm word Dis ‘n omkoopmiddel vir stout kinders Dis ‘n onderhandelings meganisme om jouself
mee om te koop of te bederf as jy kwansuis goed ge-dieet het Dit steel jou energie...
Gut gut!
Ek’s skielik verskriklik moeg. En dis nou eers half 7! En ek het al ‘n energie tonikum gedrink. En heuning in
my tee...so flous ek myself want heuning is maar suiker en suiker steel my energie... Gegroet,
tot volgende keer!  SO!  MAAK MENS!!
13/10/2010
Nou ja, ek
kan amper vir myself Welkom sê! Was mos al die pad op Gauteng toe vir 'n troue...en met die inry-slag
die bos in, staan onse oewerhuisie binne in 'n groene groene bos! Geen teken meer van kaal winterstakke nie!
Ek klim die
voertuig uit en trek die skoon lug diep diep my longe in, sug welbehaaglik oor ek die skoon karoo-lug kan voel ingaan, kan
voel hoe dit die Gauteng-lug wat oor is, uit elke alveoli pers en dit vervang met hierdie onbesoedelde skoon lug! Dis eers
as 'n hoesbui mens daartoe dwing om alle spore van rooklug uit te hoes en die skoon rookvrye lug in te adem, dat jy besef
hoe sensitief mens se liggaam reageer op die verskil in lug kwaliteit. Hierdie lug wat strek tot doer bo waar sterre
in 'n onvertroebelde hemel hang en saans helder onversluierd kan skitter. Hierdie lug wat hang oor en om die bome
wat op 'n breë rivier oewer staan en hul suurstofgewende blare liggies in die wind laat roer.
Hierdie lug
wat my koesterend omvou wanneer ek lê, sit, staan of stap teen karoo-kop-hange, om slang-aalwyne, wat met hul geel raseme
die lug inwys om te bevestig, dis 'n gawe van Bo. Ek wens ek kon dit bottel en soos gebottelde water versend, digitaal
aan jul versend soos wat mens kosbare onthou oomblikke digitaal aan kosbare vriende versend. Soos wat mens klanke en woorde
per eter na mekaar toe pos, so wens ek vandag, ek kon die skoon lug wat ek daagliks so bevoorreg is om in te asem, aan julle
stuur. Soli Deo Gloria! Jul sal nie glo nie, loop ek mos daar bo in een nou stegie 'n tweedehandse boekhoekie
raak en wat 'n fonds! Kom mos daar tussen die rakke op 'n amper Africana kookboek af, uitgegee in my standerd vyf jaar,
elke bladsytjie in drie gedeel, Voorgereg bo, dan Hoofgereg in die middel en Nagereg onder. So kan jy nou onbeperkte keuses
maak en elke keer 'n ander lieflike kombinasie uitkies! Ek blaai sommer so “random,” - lukraak rond, en my eerste
kombinasie val op: V: Vrugtekelkie H: Sjerrie-Hoender N: Karamel Roomys
Ek blaai
weer rond soos mens kaarte sou deel, die lot val op: V: Vinnige Aspersiesop H: Gestoofde Wildsbraad
N: Dadelstuif
En dan:
V: Sampioentertjies
H: Hoender
met Pampoen N: Oosterse warm lemoene ...Dit raak al meer eksoties en dekadent, dog
bekend, al meer huislik en warm, al meer Trooskos met vreemde name, dog bly die warm essensie van Tuiswees, op elke bladsy
huiwer! Dis lekker om Afrikaans te wees. Dis lekker om in Afrikaans te kook. Dis lekker om hier op Suid Afrikaanse
bodem te leef! N.S. SO MAAK MENS , is een van die dae waarlik NES in die OU DAE!! Met 'n
Esmé en 'n Jan ! Hier is 'n eerste brokkie uit die pen van
FRIK LOMBARD, onse JAN, Hy skryf:  Enige
Iemand vir Tee? Ek kan eintlik nie glo dat ek hier sit en ek het nog nooit eers oor
tee geskryf nie. Tee het ’n baie interessante en bloedige geskiedenis. Oorloë is geveg oor tee en belastings is
gehef op tee plantasies en op die besit van teeblare. Ek hoop nie een van Suid Afrika se belasting gaarders sien hierdie en
kry idees nie. Tee se geskiedenis is langer as wat die arm van die gereg is. En wonderbaarlik
is tee nie vir die eerste keer in Engeland gedrink nie. Tee is die eerste keer in die jaar 2737 voor Christus gedrink deur
die Sjinese heerser Shen-Nung. Hy het die snaakse blare in sy warm water wat hy gedrink het, laat dryf. Iemand moet seker
baie desperaat gewees het om warm water te drink. Van daar af het tee met rasse skredes in die wêreld se harte ingekruip.
In die
jaar 522, na Christus, het Boeddhiste monnike sade van die Tee boom na Japan geneem, sodat die Japanese hulle eie tee
kon kweek. Eers in die jaar 700 het die Japannese die tee drink seremonie vervolmaak. Hulle het “Die Boek van Tee”
wat geskryf is deur Lu Yu, gebruik om die kuns te vervolmaak. Die Sjinese en Japannese het die tee drinkery
lank eers vir hulle self gehou. Want eers in die jaar 1667, het die koffiehuis eienaar Thomas Garway tee vir die eerste keer
verkoop. In die jaar 1700 het Koning Charles II ’n baie hoë belasting op tee geplaas aangesien tee nog op daardie
stadium net vir die adelstand gewees. Met die aankoms van jaar 1773 is Amerika stewig
op die pad geplaas van onafhanklikheid. Dit was dieselfde jaar as wat die Boston Tea party gebeur het. EK kan nou al die koerant
opskrifte sien: Tee die begin van ons onafhanklikheid. Tee is intussen deur die hele Engeland gesmokkel. Maar die koning het
in daardie jaar die belasting op tee verminder. Net daar val die smokkel mark in sy peetjie in. Engeland word toe so met die
tyd die Wêreld se tee hoofstad. Daar is drie soorte tee, Swart tee, Groen tee
en Oolong tee. Nou dat ek so van tee praat, dink ek daaraan dat ons kinders seker nie gaan weet hoe lyk tee nie. Want vandag
se tee is mos in sakkies. Ek weet nie of dit ook in die wêreld voorkom nie, maar hier in onse land was daar so ’n
paar jaar gelede ’n hele ander industrie om tee geweef en hier praat ek van die tannies wat vir so ’n klein fooitjie
vir jou ’n koppie tee gemaak het en as jy klaar gedrink het, het hulle jou fortuin gelees met die teeblare wat so op
die bodem en teen die kante van die koppie gelê het. Baie mense en veral die Engelse glo net aan
een manier van teëmaak. Eers moet warm water in die ketel gegooi word. Dan kom die teeblare of sakkies in en daarna die
warm water. Ander mense glo weer daarin om die tee eers te kook. Ek het al op verskillende maniere probeer om tee te maak,
maar elke keer proe die tee maar dieselfde vir my. Daar is niks lekkerder vir ons gesin om Sondae na kerk ‘n potjie
tee te brou en rustig saam te sit en drink nie! Ek sluit af met iets
uit my gevonde boekie!! Vir agt persone: Voorgereg: SAMPIOENTERTJIES Vul 16 gebakte skilfertertdoppies met warm
skerpgegeurde kaassous. Druk 'n klein, heel sampioen, bo in elke tertjie. Bestrooi met paprika, en bedien warm.
MY VARIASIE:
Roer gekerfde gebraaide sampioene en uie met die warm skerpgegeurde kaassous en vul daarmee die tertjies...garneer met gekapte
vars pietersielie... Hoofgereg: LAMSTJOPS MET DROE VRUGTE 16 dik tjops, sout en peper; 2 pakkies gemengde
droë vrugte; 2 k rys; 1 e kerrie; 2 e bruinsuiker; suurlemoensap Week vrugte vir 1 uur. Braai tjops bruin in
olie, pak 'n laag vrugte onder in diep oondskottel, strooi helfte van kerrie oor, bietjie suurlemoensap, en rys met sout,
peper en suiker. Herhaal. Plaas tjops bo-op. Voeg 4 k water by en maak dig toe. Bak 1 uur by 180 º C. Voeg nog water
by indien nodig sodat gereg nie t droog stowe nie. MY VARIASIE: Voeg ook bietjie roosmaryn en tiemie by, en die vrugte
kan met grofgesnyde gemengde groente vervang word. Nagereg: AARBEI-MERINGUETERT Knip 3 sirkel uit foelie, smeer met botter
en hou onder kouekraan. Skud water goed af en plaas op plat oondpan. Berei stywe meringue van eierwitte en suiker en smeer
op foeliesirkels. ( Sien my maklike MERINGUE resep in nuutste KAMMANUUS) Bak meringues tot bros by 120º C. Trek foelie
af en paas lae opmekaar met geklopte, versoete room en gekerfte aarbeie as vulsel. MY VARIASIE: Koop klein meringues doppies –
jy moet tog klein gebakte skilfertertdoppies loop koop vir die voorgereg! (of bak self), en vul dit dan met die aarbei en
room vulsel. Ek maak 'n lekker vulsel met gekapte vars aarbeie,(as ek nie het nie, gedreineerde geblikte bessies) gemeng met
Bulgaarse ongegeurde jogurt, en 'n skeutjie Aarbei-likeur daarby... Nie te veel nie anders word die meringues gou aangeklam
en sag!  Groetnis, en Voila!!
06/10/2010 So bedink ek mos weer in 'n nostalgiese bui, my hele
kinderjare, en natuurlik staan dit stil by die Springbokradio stories en natuurlik Esmé en Jan se SO MAAK MENS! Hoe
dan anders! Ek begin toe dadelik weereens
'n verbete soektog na enige familie van die twee ou stryders! Kry ek in antwoord op my hulpkreet in die laaste KAMMANUUS, die volgende briefie van DENISE SMITH:
Retha, Ek het in die nuutste Kammanuus gelees
jy soek informasie in verband met Esme. Ek het onthou haar man was Gilberto Bonegios. Hopelik sal dit jou help met jou
navorsing.Ons as familie was ook gelukkig om deur die stamboom in KammaNuus ons familie op te spoor. Daar word
volgende jaar 'n reunie in Clanwilliam gehou om die boek wat hulle saam gestel het te vier en aan die familie te gee.Sterkte,
laat weet hoe jy vorder. Dankie vir die lekker resepte. Ek het ook 'n lekker Sago poeding resep vir jou. Jy
kook dit net en bedien dit sommer uit die pot want die eetlus is te groot vir wag... En RAAI WAT? Gaan loer bietjie in die GASTEBOEK!!!  Esmé Euvrard se jongste seun RAUL BONEGIOS
het kom inloer!! Is dit nie wonderlik nie! Ek plaas hierdie foto van hom SONDER SY TOESTEMMING, maar ek wil dit so graag met
julle deel dat ek hoop dat ek vergewe sal wees! RAUL skryf daar: Retha - dis 'n
wonderlike ding wat jy hier doen, en ek wens jou alle geluk - mag jy duisende goeie resepte kry en elke verjaarsdag 'n nuwe
een kan probeer! Baie Dankie Raul! En kom kuier asb. weer op hierdie werf wat deur jou
Ma ge-inspireer was! Ons bring graag hulde aan ons "Bosmoedertjie" van weleer!
DENISE SMITH se SAGO
POEDING Week: 150 ml Sago in
300 ml Water
Bring 1 Liter Melk 50 g margarien
2 ml Sout tot kookpunt (terwyl sago week) Haal van stoof. Voeg sago by, Roer oor matige hitte tot sago glasig is.
Meng 50 ml Vlapoeier met bietjie melk.
Roer dit by sago in, verhit tot kookpunt en verdik . Klits 200 ml Suiker by. Vou
4 Ex Gr Eiers en 5 ml Vanilla in. Bring als weer tot kookpunt Giet
in 32 X 21 cm bak wat uitgespoel is met koue water. BROOD POEDING Klits: 1
liter Melk
5 Eiers
Voeg by:
250 ml Suiker
25 ml Vlapoeier
5 ml Vanilla
Sit 5 Dik snye Witbrood, korsies af in groot oondbak Giet mengsel oor brood. Sprinkel Kaneel oor.
Bak ongeveer 30 min of tot gestol 180 C Dit word stywer wanneer dit afkoel. * Ek voeg graag by
enige broodpoeding, pitlose rosyne
of tertappels by!  MAGDA het geskryf: Ek het 'n granaatboom van
'n steggie aan die groei in 'n groot pot en dit is nou mooi sterk en ek wil dit nou in die tuin plant. Ek
woon in 'n kleigrondarea. Watter voorbereiding is nodig? En dan watter tipe plante aard
die beste in hierdie grond? En hoe hou jy 'n hond weg van die plante? Hi Magda! Dr.VICTOR WHITLOCK gee die volgende kort gids tot die verbouiing van GRANATE (Bron verwysing
verloor!) Granate doen baie goed in droё streke en het nie hoё bemestingsvereistes nie.
As die grond goed voorberei en goed gedreineer is, behoort u nie veel probleme te ondervind nie. As
die lugvog (humiditeit) vir lang periodes te hoog is, kan granate verwelkingsiekte, veroorsaak deur ‘n swam, of bakteriese
verwelkprobleme opdoen. Behalwe vir toevallige blaarvreters weet ek nie van ernstige insekplae op granate nie. Dit is interessant
om daarop te let dat die Departement van Landbou nie insekmiddels vir gebruik op granate aanbeveel nie.
Granate is ook verbasend koue bestand. Die variёteit
Provance kan temperature so laag as -16oC weerstaan. ‘n Nuwe neiging in die Middelandse See verbouingsareas is om die bome te snoei. Dit word om twee
redes gedoen. Eerstens gee dit die boom ‘n beter vorm en maak die oesproses makliker, maar belangriker, dit veroorsaak
dat die vrugte groter as normaal word. Oor KLEIGROND het ek
die volgende inligting vir jou!(Grondklassifikasie:Dept.landbou-ontwikkeling 1991) Die suurheidsgraad of pH van die grond is baie belangrik. Sommige grondorganismes
en plante kan in suur grond (lae pH) leef, terwyl ander aan alkaliese grond (hoë pH) voorkeur gee. Die meeste plante
en gronddiertjies verkies egter neutrale (pH van 7) of effens suur grond (pH van 6,5). Voorbeelde van plante wat in suur grond
aard, is asaleas, varings, krismisrose, rododendrons, heide en proteas. Voorbeelde van plante wat goed in alkaliese grond
groei, is lusern, koolgewasse en baie grootebestande plante. Voorbeelde van plante wat neutrale of effens suur grond verkies,
is die meeste peulplante, populiere, ensovoorts. Verwering van die moedergesteentes deur fisiese, chemiese en biotiese prosesse lei tot die vorming van klein gronddeeltjies.
Die indeling van grond in bepaalde grondtipes berus hoofsaaklik op die gemiddelde grootte van die gronddeeltjies wat daarin
voorkom. Grond word soos volg ingedeel: KLEIGROND
- gronddeeltjies kleiner as 0,002 mm in deursnee. LEEMGROND - gronddeeltjies tussen 0,002 en 0,05 mm in deursnee. SANDGROND - gronddeeltjies tussen 0,05 mm en 2 mm in deursnee. In die ruimtes tussen die gronddeeltjies is daar water, lug, organiese materiaal
(humus) en ook miljoene grondmikrobes (tot sestien miljoen per gram grond) wat 'n uiters belangrike rol in die vorming van
humus en nitrate speel. Die vermoë van grond om lug, water, hitte en voedingstowwe te behou en te versprei, is van die
allergrootste belang vir grondorganismes. Die
meeste plante groei in leemgrond. Leemgrond bestaan normaalweg uit ongeveer 24% kleideeltjies, 29% leemdeeltjies, 30% fyn
sanddeeltjies, 17% growwe sand en gewoonlik ook 3% tot 10% organiese materiaal. Sandgrond met 'n lae persentasie (minder as 20%) klei- en leemdeeltjies waartussen daar redelik
groot ruimtes is, het baie minder affiniteit vir water. Die waterhouvermoë van sandgrond is dus laag. Namate die persentasie kleideeltjies styg, verbeter
die waterhouvermoë. Die water wat in die ruimtes tussen die gronddeeltjies aangetref word, dit wil sê die kapillêre
water, word deur die plantwortels opgeneem. Ná 'n reënbui dring 'n persentasie van die water egter deur die bolaag
en die onderlae tot by die watertafel. Hierdie water, wat swaartekragwater (syferwater) genoem word, help om die ondergrondse
water aan te vul en word dus eintlik nie deur plante benut nie. Ook die baie dun laag water (higroskopiese water) wat met
groot krag rondom elke gronddeeltjie vasgehou word, is van weinige nut vir plante. ERNST VAN JAARSVELD van die BURGER, en WATERSPAAR INHEEMS TUINMAAK (Tafelberg 2000)sê nog
‘n paar dinge oor KLEIGROND en wat jy daar kan plant: Dit is maar die boonste grondlaag van 30 cm waaruit plante hul voeding kry en jou tuin is dus geskik
vir baie soorte, waaronder Kaapse rietbosse ( restios ). Ernst beveel veral drie maklike groeiers aan. Hulle is olifantsriet
( Thamnochortus spicigerus )'n plaaslike soort, dekriet ( Thamnochortus insignis ) en kwaggariet ( Chondropetalum
tectorum)'n plaaslike soort wat volop langs ons vleie staan en ook vir dekdoeleindes gebruik word met groen en swart gevlekte
stingels. Daar is baie bolplante, vygies,
meerjariges en ander vetplante wat ook aangepas is om in kleigrond te groei. Ook fynbossoorte bv.Suikerbos ( Protea repens ) wat in klei aard en dit dra sommer
snyblomme vir die huis! 'n Paar mooi
struike sluit in die onderskeie salies soos die bloublommetjiesalie ( Salvia chamelaeagnea ) en bruinsalie ( Salvia africana-lutea
). Hymenolepis pafviflora , berg-heuningklokkies ( Freylinia densiflora ) en renosterveld-heuningklokkies ( F. undulata )
is ook geskikte keuses. Die harpuisbossoorte ( Euryops spp. ) en die bloubesem en bloukappie ( Polygala virgata en P. myrtifolia
) is ook geskik. Wat bladwisselende bome
betref, stel Ernst die rooistamkanniedood ( Commiphora harveyi ) voor. Dit is 'n klein bladwisselende boom met 'n groen stam
en 'n rooi papieragtige bas wat in stroke afskil. Dit is droogtebestand, word 5 m tot 12 m hoog en kan van paalsteggies voortgeplant
word. Dit kom uit die Oos-Kaap en word ook verder noord in Bosveldgedeeltes -gewoonlik op droë rotskoppe - aangetref.
Doringbome sal ook goed by jou aard. Hulle is juis
by kleigrond aangepas en half bladwisselend. Klei hou die waterdeeltjies vas en die belugting is nie goed nie. Daarom sukkel
baie plante om ordentlik te groei. Die klein blaartjies van die doringbome is uitstekend vir hierdie doel aangepas. Probeer
die Papierbasdoring ( Acacia sieberiana var. woodii )vinnige groeier met'n wye, spreidende sambreelkroon en dit sal genoeg
winterson deurlaat. Koorsboom ( Acacia xanthophloea ) is nog 'n vinnige kandidaat. Bome wat jy in ander dele van jou erf kan
aanplant, sluit die olienhout ( Olea europaea subsp. africana ) en witkaree ( Rhus pendulina ) in. Daar is talle ander soorte
wat jy kan aanplant, onder meer die soetdoring ( A. karroo ), gewone haakdoring ( A. caffra ), enkeldoring ( A. robusta ),
papierbasdoring ( A. sieberiana var. woodii ), taaibos ( Rhus pyroides ), brosblaar ( Galpinia transvaalica ), olienhoutboom
( Olea europaeae subsp. africana ), vaderlandswilg ( Combretum erytrophyllum ), wilde salie ( Buddleja salviifolia ), basterolien
( Buddleja saligna ), treursalie ( Buddleja auriculata ), deurmekaarbos ( Ehretia rigida ) en karoo-koeniebos ( Rhus burchellii
). Onthou dat enige organiese materiaal
soos kompos dreinering bevorder. Kleigrond is gewoonlik mineraal- en voedingryk, en kweek ( Cynodon dactylon ) is die beste
gras vir kleigrond. Jy kan jou grasperk een maal per week gedurende die somer goed natmaak (na gelang van die weer). Doen
dit saans wanneer verdamping op sy laagste is, sodat die grond kans kry om dit te absorbeer. Jy kan ook met 'n tuinvurk dreineringsgate
spit om die dreinering te verbeter. Hoe meer kunsmis jy gee, hoe groter die behoefte aan water. Jy kan in die lente 2:3:2
toedien en jy sal gou die verandering sien. As
jou gras dus sonder kunsmis goed groei, hoef jy dit nie toe te dien nie. INA het geskryf:
Ek soek dringend na diabetiese konfyt resepte, veral om mee te begin aarbei konfyt.Dankie! Hi Ina! Het jy al in die ARGIEF geloer? Daar is heel party resepte vir DIABETE!
Ek plaas egter graag weer een en ander vir jou want ek weet dis omslagtig om dit soms daar te loop en soek! Ek wil net weereens
bieg en sê ek is glad nie ‘n dieetkundige nie, ook dat ek myself nooit as een sal voorgee nie,
maar ek leer vinnig, graag en ek's ‘n aards-agie! Saam met julle leer en vra en soek ek ook graag na oplossings! Die
volgende kan ek egter weereens met redelike vertroue met julle deel! (Bronne : Die suiker-sleutel, The Natural Way en my vriendin
Minnie met ‘n Diabeet tiener!) WENKE:
*Die suiker alleen is nie die gif nie, gebruik lae
GI kosse, meer vesels en nie te veel vet nie. *10 gevriesde druiwe korrels is ‘n porsie. Vries die vrugte, dis amper roomys mos!! *Dadels is jou soettand se beste vriend. Soet, dekadent, en vol vesel en goedheid!
*Eerder bietjie suiker as kunsmatige versoeter,
want die diabeet se liggaam reageer daarop amper netsoos op suiker, so albei is eintlik ewe nadelig! (Auch!)
*Amandels en Pekanneute is beter
opsie as Macadamia's. *Wanneer jy hawermout
in bv. pannekoek of gebak gebruik, vervang dit met hawersemels, dit maak ligter gebak en die vesel inhoud is hoër.
*Ongegeurde springmielies of
gegeur met ‘n ½ pakkie vanilla gegeurde Canderal poeier bly ‘n lekker krakerige soetheid. Volgens my vriendin met ‘n diabeet tiener kan
jy gewone konfyt resepte gebruik MAAR i.p.v. die suiker, gebruik jy FRUKTOSE. Huletts se SUGALITE is ook 'n goeie alternatief
.Die rakleeftyd is korter en dis effe suurder en dit is ook ‘n meer lopende konfyt. Jy kan dus 'verneuk" en klein
hoeveelhede "kamma-konfyt" maak, deur te eksperimenteer en amper enige vrugte te versap en met gelatien te verdik en dit dan in die yskas te bewaar vir gebruik.
Bv. : GROWWE VARS LEMOEN-JELLIE OP ROOSTERBROOD . Skil en sny 2 lemoene fyn, meng 1kp se aangemaakte gelatien, volgens aanwysings op pakkie maar
vervang die water met suikervrye aanmaak koeldrank. Meng die gelatien mengsel met die vars vrugte en laat stol. Kies ook vrugte soos aarbeie, frambose en moerbeie vir mooi kleur en sterk geur. ‘n Mengsel van droë vrugte soos dadels, sultanas,
appelringe en perskes wat verpulp is tot ‘n pasta is ook ‘n lekker en gesonder alternatief vir konfyt.
Lemoen en suurlemoen kan verwerk word tot 'lemon-curd'
wat ook baie minder suiker as marmelades bevat. Jy kan ook VRUGTEPEKTIEN maak,dit bottel en bêre. APPEL OF APPELLIEFIE PEKTIEN. 1 kg suur vrugte ( gesonde vrugte wat net net ryp is, nie volryp en oorryp
nie) 1 l water Was en sny vrugte fyner met skil en pitte. Voeg water by en kook met deksel op sowat 20 minute tot vrugte sag is.
Syg deur ‘n klam doek sonder om dit te roer
of te druk. As al die sap deurgeloop
het, meet die vrugtemoes.Hou die sap eenkant. Voeg net soveel water by as wat daar vrugtemoes is en kook dit weer sowat 20 minute. Syg weer deur. Neem die eerste sap en hierdie tweede sap en kook vinnig in ‘n groot kastrol tot dit 500 ml (2
kp) meet. Giet die kokende pektien in
gesteriliseerde bottels en verseël dadelik. Jy kan die helder jellie of pektien NA DIE KOOKPROSES met kunsmatige versoeter geur,of jy kan ander vars vrugte net
in water opkook tot dit sag is, dit deursyg en die vrugte met pektien meng en dit dan ook met kunsmatige versoeter versoet
om bv. Perske "konfyt" te maak. As
jy bv groen appels ontkern, en in elke gaatjie rosyne, knippie kaneel en 1 tl bruin suiker sit en dit dan in die oond bak,
en dit daarna verpulp, kan jy dit dan met die pektien of jellie meng, dit het dan dardie karamel smaak by en het ook nie soveel
suiker soos tradisionele konfyt in nie. PIESANG-JELLIE.
1/2 kp korente 6-8 piesangs 1/2 kp gemengde droë perskes of appelkose Verpulp die korente in ‘n versapper tot ‘n pasta.voeg die piesangs en droë vrugte
by en verpulp verder tot glad en amper romerig. Hou in yskas in glasfles. Bedien
i.p.v. konfyt.  Hennie laat weet ons kan die volgende by kinders leer! Die tuimelsiklus van n wasmasjien maak nie erdwurms duiselig
nie. Dit
maak wel katte duiselig. Katte gooi twee maal hulle ligaamsgewig op as hulle duiselig is...
01/10/2010 C. LOUIS LEIPOLDT - 1880-1947 het gesê: 'Wat gee ek om die
winter? Wat praat jy nou van Mei? Wat skeel dit as ons later weer donker dae
kry? Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand,
met elke dag so helder, so pragtig elke aand!' En ons herken sy woorde in:
OKTOBER
Dit is die maand Oktober! Die mooiste, mooiste maand!
Dan is
die dag so helder, so groen is elke aand, so blou en sonder wolke die hemel heerlik bo, so blomtuin
vol van kleure die asvaal ou Karoo, Dit is die maand Oktober! Die varkblom is in bloei;
oor al
die seekoeigate is kafferskuil gegroei; die koppies, kort gelede nog as en klip so kaal,
het nou
vir welkomsgroetnis hul mooiste voor gehaal; Dit is die maand Oktober! Die akkerboom
is groen; die bloekoms langs die paaie is almal nuut gesoen; en orals in die tuin rond ruik jy sering en
roos, jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos, Dit is die maand Oktober! Die mooiste,
mooiste maand! Leipoldt se bedrewenheid met en belangstelling in die kookkuns en koskultuur
het uit sy kinderdae in die Sandveld, die Sederberge en die Hantam voortgespruit. Leipoldt het homself nie as koskenner beskou
nie, maar eerder as volkome mens wat 'n lewendige belangstelling in alles rondom hom gehad het. Kosmaak was vir hom maar net
een aspek van die breë spektrum van menswees.(Peter Veldsman, Burger) Leipoldt die kok
was glo nie 'n presiese mens nie.(Koos Coetzee, Beeld) Hy was 'n avonturier, en niks kan presies beplan word, as jy avontuur
soek nie! Leipoldt
se nonchalante omgang met mate en gewigte in die kombuis -- 'n knypie, veertjie, rafeltjie, skraapseltjie en grypie -- is dieselfde as die proe van die bedrewe kok. Geen kok wat gewoond is aan kook, gebruik presiese mate
nie. Dit is 'n gevoel, 'n aanvoeling, wat ontwikkel word, en daardie aanvoeling word deur die proe getemper.
Ek hou hiervan, geen “flops” want daar’s nie vaste reëls nie, net die lys van bestandele ! en
jou eie kreatiwiteit jou plafon! Leipoldt het graag POU, FISANT,
TARENTAAL en oorskiet boud – wat in ons huis KLIETJES-KOS genoem word –gebruik. Dis seker dus niks
minder as reg as OKTOBER begin word met kookkuns inspirasie wat aan LEIPOLDT gewei word nie!
HOENDERGEREG
1 hoender geurig gaargemaak - omtrent 2 koppies
vol hoender opgesny 1 t sout 1 pakkie spek (gesnipper) 1 k rou rys 1 groot ui (gerasper) 2 k hoender ekstrak
(1 blokkie hoender ekstrak opgelos in 2 k water) 125g margarien Kook die rys net
op, en dreineer Braai die spek, rys en uie in margarien tot ligbruin Meng met die gesnipperde
hoender, en skep in 'n skottel Gooi die hoenderaftreksel nou oor, en geur die gereg verder
met Aromat en vars tiemie Sit die skottel se deksel op, en bak in die oond (180 grade) tot al die
vloeistof geabsorbeer is. Jy kan ook 1 groot
ui en 1 blikkie gedreineerde fyn pynappel soteer en byvoeg vir ‘n heerlike variasie!
KALKOEN PATEE (Hierdie Resep
uit: VROUEKEUR RESEPTE) 250 g Kalkoen, ontvel en ontbeen 250 g Ham 175 g Sagte botter
2 t Aangemaakte
mosterd 2 t Suurlemoensap 3 Etl Room of melk Sout en gemaalde swartpeper na smaak 2 Lourierblare Kap kalkoen en
ham grof. Plaas vleis, helfte van botter, mosterd, suurlemoensap en room (of melk) in voedselverwerker. Verwerk
tot goed gemeng en voeg sout en peper by. Skep in geskikte opdienbakkies en plaas die lourierblare bo-op. Smelt
oorblywende botter en skep oor patee. Plaas in yskas en laat stol. Sit saam met kraakbeskuitjies, melba-roosterbrood
of volgraanbrood voor. RUGSTRINGPASTEI van verskillende
soorte vleis (-vir ‘n LEIPOLDT-ETE soos verskaf deur LANDBOU WEEKBLAD 2004) Pas die hoeveelhede
aan volgens die hoeveelheid pasteie wat gemaak word en die speserymengsel na smaak. Gebruik die rugstringe
van die volgende soorte vleis of maak jou eie kombinasie: 2 kg Boerbok, lamsvleis, wild
(soos duiker of steenbok) 250 g varkspek, in blokkies gesny Speserymengsel
10 ml vars gemaalde koljander 5 ml vars gemaalde swartpeper 5 ml vars gemaalde neutmuskaat 5 heel naeltjies 40 ml asyn
3 lourierblare 1 ui, gekap 2 knoffelhuisies, gekap
sout en peper 250 ml vleisaftreksel 250 ml rooibostee
appel- of kweperjellie 400 g goeie skilferkorsdeeg Pak die vleis in
lae en sprinkel 'n lagie van die speserymengsel tussen elke laag, asook 'n paar heel naeltjies, asyn en 'n lourierblaar of
twee tussen elke laag. Bedek met kleefplastiek en laat staan oornag in die yskas. Braai die vleis en spek in lotte bruin in
'n groot gietysterpot en skep uit. Braai die uie en knoffel in dieselfde pot. Plaas alle vleis terug in die pot saam met die
uie en geur met sout en peper, naeltjies en lourierblare. Voeg die aftreksel en rooibostee by, bedek en laat prut stadig vir
3-4 uur tot die vleis van die bene afval. (As dit droog kook, voeg nog vloeistof by.) Laat afkoel en pluis die vleis. Verwyder
die bene en plaas terug in die kastrol. Verhit en proe vir geur. Voeg 'n paar lepels appel- of kweperjellie by, indien verkies.
Plaas die vleis in 'n oondbak. Rol die skilferkorsdeeg dunner uit en bedek die bak daarmee. Bak vir 15 minute en verlaag die
oondtemperatuur tot 180 °C. Bak vir 'n verdere 30-35 minute tot bruin en gaar. Lewer een groot pastei.
En wat is OKTOBER sonder ‘n
tee’tjie en SKONS op die stoep? 500 ml koekmeel 15 ml bakpoeier Knippie sout 125 ml koue
botter, in klein blokkies gesny 1 eier 160 ml melk Skeut suurlemoensap óf asyn
Druk die deeg goed bymekaar, maar
moet dit nie te veel bewerk nie. Moet dit ook nie té dun uitrol of té plat druk nie. En onthou – gebruik
liefs regte botter as jy skons bak. Die geur wat dit gee, is die ekstra paar rand oor en oor werd!Voorverhit die oond tot
200 °C en smeer ’n bakplaat met olie. Sif die meel, bakpoeier en sout twee keer saam. Vryf die botter met jou vingerpunte
in. Klits die eier, melk en suurlemoensap of asyn saam.Voeg bietjie vir bietjie by die droë bestanddele en sny in met
’n slaplemmes. Keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak, druk liggies bymekaar en effens platter en druk kleinerige
sirkels uit. Pak op ’n bakplaat en bak vir 10-15 minute tot gaar. Laat afkoel tot kamertemperatuur en bêre in
’n lugdigte houer. Sowat 8-10 skons (Basiese skon resep Deur ARINA DU PLESSIS) En om mee af te sluit ook Arina se weergawe van:
Hilda(van Sewende Laan)
se DADELVINGERS! 250 g botter of margarien 250 ml suiker 500 g dadels, fyn gekap 1 eier, goed geklits 200 g
glanskersies (rooi en groen) 1 x 200 g pakkie Mariebeskuitjies, in klein stukkies gebreek Klapper, om oor te strooi
Smeer ’n koekpan van 26
cm x 16 cm. Verhit botter of margarien en suiker oor matige hitte en roer tot suiker gesmelt is. Verlaag hitte, voeg dadels
en eier by en meng vinnig en deeglik om eier egalig te versprei. Voeg kersies en koekiestukkies by, meng en haal van die stoof af. Giet mengsel
in voorbereide pan en druk dit stewig met die agterkant van ’n glas vas. Strooi klapper
oor en laat heeltemal afkoel. Sny in vingers .  Voila!!
Retha van Somaakmens

 Op
hierdie bladsy verskyn slegs die HUIDIGE MAAND se woorde en dinge. Vir vorige plasings, gaan
na die GISTER OP DIE AGTERGROND bladsy... want op hierdie werf, hier, gooi ons niks weg nie,
gaan kyk maar, álles word daar gebêre...
Stuur jou eie navrae aan my in die blokkie hier onder! Ek sien uit daarna om jou te probeer help, of sommer net om te kuier! Altyd, My Beste, Bo-Karoo Groete!  Retha
|