|
Sept 2010
OP dese
dag in SEPTEMBER : | Het VERSKYN, die volgende Onderwerpe, Resepte en
Lesers navrae... | | | | | | | | | | | 17 | Roos steggies | | | Strelitzia's | | Alles oor ASYN en
asynpoeding.. | | 10 | botterskorsietert | | | koejaweltert | | 07 | Menopouse | | Vergifnis | 03 | alles oor die ui... |
| uietert / fritters/ringe
en konfyt! |
| piekeluitjies | | uiebrood | | slaphakskeentjies | 01 | ...nog oor spastiese kolon... | | Gemmer poeding oppi stoof |
| Tamboesies | | IPV Versiersuiker gebruik... |
28/09/2010
Kyk ek
smul LETTERLIK en FIGUURLIK terwyl ek hier sit! Ek lê erger as 'n eekhoring na 'n lang winterslaap
of groot hongerte weg aan 'n houer “CRANBERRY FITNESS” wat man en seun, gister van die stad af van daardie
lieflike Vrugte en Groente plek, vir my saamgebring het. En my tone krul van lekkerkry oor al die lesers wat saam erns maak
op die FORUM! Daar is glo tot 'n R200-00 “losprys” vir die beste bydrae..! ...kliek op die GOUE MEGAFOON..!
Dankie
vir elkeen se deelname! Diegene wat al by die GASTEBOEK gaan loer het wat ander daar skryf, sou ook al gesien het dat ek,
al vreemde versoeke (kaal meisies!!- tong-innie-kies darem! en reeds verwyder, want ons is mos repektabel hier!!) tot pragtige
opmerkings gekry het! Party vra meer resepte, party se waardering, moedig weer net aan! Dit is wonderlik om deel te wees van
'n Afrikaanse Kuber-gemeenskap, sekere dinge kan net in Afrikaans inslag vind! ELMARIE het geskryf: Ek soek asb 'n grootmaat resep vir 'n warm of koue nagereg vir 300 mense!
Jong, behalwe
1.Trifle/ koekstruif,
2.Roomys en sjokolade
sous en/of aarbeie en 3.Warm malva poeding met roomys en /of vla daarby, weet ek nie wat om vir soveel mense ekonomies
voor te sit nie! Bs.3 opsies is maar my gunstelinge wat ek al vir baie mense beproef het! Die malva poeding werk natuurlik baie lekker
as jy i.p.v. dit in die gewone oondbak te bak, dit eerder in kolwyntjiepanne bak en dan bedien dit net soveel makliker en
jy kan dit so mooi garneer met o.a.'n versuikerde
violet blommetjie en kruisement blaartjie! Jy kan ook gerus
op my FACEBOOK gaan kyk, daar is 'n skakel na LEKKER RESEPTE VIR DIE JONGERGESLAG en een na DIE GRASDAK, daardie vrou
Helena, kan wonderlik kook en doen dit vir baie mense! Ek het jou navraag sommer reeds ook aan haar gerig en sy
sal binnekort antwoord, dan epos ek dit vir jou! Enige ander voorstelle kan jul gerus ook aan my stuur sodat ek dit kan weergee! Die volgende webwerwe is ook baie nuttig in hierdie soeke- maar ek wil immers nie net spoeg en plak nie!
http://www.allexplore.com/id192.htm http://www.angelfire.com/bc/incredible/militaryrecipes.htm http://lotsofinfo.tripod.com/index.html ETHEL VD WALT skryf: Hi
Retha, Ek geniet jou "program". Ek loer gereeld in maar is altyd haastig soos jy ook maar is as jy dorp toe
gaan... Hoop om gou weer eendag te kuier! Dankie Ethel! Dis altyd lekker om te hoor!
ELLIS, wat die vorige keer uitgevra het oor raad vir skurwe voetjies: Die REGTE kunsmis om te gebruik is UREUM, Amonium Nitraat mag jy nie meer aankoop nie a.g.v. plofstof
wetgewing... en UREUM is die produk wat in meeste voetsalwe voorkom..! ‘n Goeie goedkoop produk is ook LENNONS se buisie salf vir gebarste hakke. Dit ruik soos suurlemoen!
Daar is ook by
die apteek ‘n salfie te koop vir atleetvoete- dis ‘n eenmalige behandeling- en dit doen ook wondere vir sulke
skurfheid al word dit nie daarvoor verkoop nie. Ek glo persoonlik baie in die PIENK MELKSALF wat mens by ‘n Koöp kry, dit
het ‘n antiseptiese middel ens in, en werk baie effektief. Daarby het ek ook, toe my kinders klein was, ‘n botteltjie wit dulsies ingeroer, dit het muskietbytmerke en die gejeuk van
die skurwigheid van kaalvoetkinders verminder en weggeneem. Ek neem jou spannetjie nie kwalik dat hul nie van die boereraat-salf
van kersvet en parafien hou nie, daai parrafien reuk is walglik! Onthou ook dat daardie resep die vel meer “verseël” as wat dit voed, en ek dink jy het voeding
vir die vel nodig- enigiets met suiwer lanolien sal goed werk. Mens kry dit ook in buisies by die apteek.
Ek het ook gesien
dat as elke kind sy eie bottel NIVEA lyfroom vir MANS het, hulle mal is daaroor om self kort kort aan te smeer en dit ruik
so lekker!! - dis so donker blou bottel, en baie effektief, ek dink die mans room het ekstra voeding in want dit maak
‘n vrou se vel nog lekkerder sag! Ek gaan kamp nooit daarsonder nie! Ek gooi dit ook sommer oor in van daardie
handige spuit-skroef bottels en die staan sommer langs elke elke wasbak gereed vir ieder en ‘n elk! Ek is seker jou TLC daarby, sal die beste
dividende oplewer ! RESEP van die DAG: Meng jou eie CRANBERRY
FITNESS: Gedroogde cranberries, of enige ander gesnipperde droë vrugte, Rosyne, heel of gebreekte mengsel van enige verskeidenheid
neute, Gedroogde pampoensaad. Voila!!
25/09/2010
 Nou kyk! Om in die Bo-KAROO te bly, lieflike reën te ontvang en jou te verkyk hoe karoo-koppe oranje verkleur
van blommende aalwyn-raseme, en 'n wintersbos amper oornag van swart kaal arms in die lug, te sien verander na 'n somers bos
met groen blaar-geklede arms wat swaai in die wind, is alles goed en wel, maar dit beteken nie ek mag onse werfie afskeep
nie! O Nee!
So gaan
sit ek daadwerklik en tik en tik maar dink jul ek kan dit geplaas kry? Nee! Die internet is alweer af!! Ag wat, ons woon op die plaas en nes Eskom
se krag steeds nou en dan afgaan is dit seker als te verstane. Maar na 'n paar dae begin mens darem nou ernstig wonder!
Gaan al wat ‘setting” is weer na, bel die tegnikus, maar raai? Manlief en seun het weer “You-tube”
gekyk en daardie “cap” grypduiwel was toe al die tyd die oorsaak van my internet-lose oomblikke!
Om als
te kroon, toe ek uiteindelik weer so ver kom om van voor af te begin, wis ek my half getikte dokument uit in my poging om
'n nuwe bêre-leger oop te maak! En daarna? NET daarna gee my sleutelbord heeltemal in! Net die muis werk. Nou vra ek jul waar kry ek NOU 'n nuwe sleutelbord
as jy in die Bo-Karoo op 'n plaas bly en jy een nodig het? Die internet is nou net weer aan, maar nou staan my sleutelbord!
Wel, om
ʼn kort storie lank te maak, jy wag. Waarvoor? Ek weet nie! Maar wat anders kan jy doen? Kerkorrel het mos gesing van Mammie wat
haar lysies maak vir eendag weer stad toe gaan...Wel dan maak jy maar jou lysies en werk intussen aan ander dinge soos kinders
se “onthou” breiblokke vir hul “onthou-om-te-onthou- kombers” ! Bel die mannetjie wat ons Internet-Cap weer
opgelaai het my vanmore en vra: “En toe? Werk tannie se internet nou weer met die nuwe data?”
“Ja”
seg ek bly, “...maar jy sal dit nie glo nie, nou werk my sleutelbord glad nie!”
“Van
die Laptop?” vra hy verbaas? Nou slaan my met 'n nat vis..! Ek het wragtig vergeet dat ek eintlik d.m.v.
my skoot rekenaar werk! Ek gebruik 'n addisionele groot skerm en los sleutelbord en muis om vinniger te kan werk, maar
so gewoond is ek om so te werk, dat ek vergeet het dat die skootrekenaar immers sy eie sleutelbord mos het! Jul weet mos van
die tannie wat die CD-rom oopmaak en dink dat die oulike wegsteek rakkie die koffiebeker houer is? Sowaar, ek sal vandag
enige blonde grappie kan ore aansit ! En, as toegif om my selfvertroue finaal 'n knou te gee, vra die mannetjie:
“
...en het tannie gekyk of die los sleutelbord se batterye nie net dalk pap is nie?!” Drie dae! Drie dae, seg ek vir jul, is ek van my rekenaar
vervreem, en dit als oor gewoonte ! Gewoonte om net te gaan sit en te gaan werk.
Gewoonte
om te weet als werk mos maar net! Gewoonte om nie eers die basiese dinge soos om nou en dan batterye om
te ruil, te doen nie! Drie dae, tuis, sonder internet, sonder om te kan tik, afgesny van die wêreld buite die bos!
Is ek spyt?
So bietjie, oor ek onse werfie bietjie afgeskeep het in my tyd van onnadenkendheid, maar diep spyt?
Hoe kan
mens spyt wees dat jy buite kan ronddwaal en na ligene se kleurveranderinge kan kyk na die reën.
Spyt wees,
oor jy onbevange kan loop en ystervark penne optel in bospaadjies wat aan hul behoort. Spyt wees,
dat jy die eerste lig van die volmaan oor die stil swart waters van die groot Gariep kan sien verskyn.
Spyt wees,
oor jy kan loop en vat en voel en vryf aan nuwe blare van al die verskillende bome in die bos? Nee , ek’s
nie spyt oor ek in my onnadenkendheid vergeet het om die batterye na te gaan nie, ek is nie spyt dat die internet databundel
leeggeloop het, of dat ek halfklaar goed uitgewis het nie! Dit gee my immers hierdie kans om jul daarvan te kan vertel!
My boodskap
aan jul vandag, is dus o.a.: AS jou rekenaar /internet skielik nie saamwerk nie, gaan eers die volgende basiese(!!) dinge na:
IS jou
databundel nie dalk opgebruik nie? IS jou data-geleiboksie by die muur aan en werk al die liggies? Soms moet
jy dit net “reset” dan tel dit al die “Wi-Fi” en “bloutand-gadgets” weer op.
Gebruik
jou selfoon se databundel en gaan kyk wat die probleem is! Selfone is tot amper alles in staat waarvoor ons rekenaars gebruik!
Maak seker jy weet hoe ! En moenie, uit mag van die gewoonte, VERGEET dat jy dit KAN doen nie!
Wanneer
laas het jy die batterye van jou los sleutelbord of muis vervang? En vra jouself af, terwyl jy al jou kabels
nagaan, OF die katte en honde dit nie uit die muurproppe uitgespeel het nie, én, OF jy ooit op die regte “tools-virrie-trade”
werk! Wel, vanuit my tegnologies-weer-werkende-kantoor, met sy uitsig oor 'n heerlike nat, klam, afgespoelde nuwe-groeiende
bos, die volgende: LESERS NAVRAE via ANNA se Nuusbriefie!  ELLIS skryf: My ouma het altyd kerswas en paraffien aangemaak
om aan ons kinders se skurwe voete te smeer. Ek het al self probeer om dit aan te maak maar kry dit net nie reg soos
wat sy dit gedoen het nie. Sy lewe nie meer om my daarmee te help nie. Is daar dalk iemand wat hierdie resep het. Hi Ellis! Ek maak hierdie
VEELDOELIGE mengsel so : Smelt 6 kerse oor lae hitte. Verwyder die pitte. Meng nou 500 ml paraffin
stadig by die warm kerswas in, roer stadig. Hierby kan jy nou ook een klein botteltjie
GLISERIEN en 50 ml aromatiese olie soos LAVENTEL of 100 ml CITRONELLA olie inroer vir ‘n aangename reuk en lg. ook om
muskiete weg te hou!Haal van stoof, gooi in houers en laat afkoel. Gebruik soos nodig. Dit is ook
‘n uitstekende VLOER POLITOER (DAN laat jy egter die gliserien uit) om leiklipvloere mee te seël, en om houtvloere
en sement vloere mooi te laat blink! Smeer aan en poets soos altyd! En net nog so ietsie “noodhulp”
raad vir hierdie uiterste gevalle. Kan jy Amonium nitraat, of stikstof–kunsmis in die hande kry? As
jy so ‘n handvol van die kunsmis oplos in louwater, en die voete daarin week word dit heerlik glad en sag, smeer daarna
net baie Aqua cream OF melksalf aan! Dis nou ‘n regte plaas-raad!! Moet dit net nie te gereeld doen nie!
OF
Halveer
‘n suurlemoen, gooi in elke helfte ‘n tl sout, en laat hul buite met hul hakke daarin wriemel!
OF
Gee vir
elkeen ‘n velletjie skuurpapier-#60-80 grein- laat hul hul hakkies daarop skuur en smeer daarna gereeld Campher-room,
Aqua cream of melksalf aan! JEAN skryf:
Ek is op soek na
"bye" om gemmerbier meer te maak. Ek kan onthou as kind het my mammie altyd vir ons die heerlikste gemmerbier
daarmeer gemaak. Dit is in werklikheid kristalle wat leef op suikerwater. Dit is omdat hulle baie besig is en aanmekaar op
en af in die houer beweeg terwyl die gemmerbier "gis" dat hulle in die volksmond bekend is as "bye". Hulle
teel ook verskriklik vinnig aan as hulle net in suikerwater gesit word deurdat die kristalle net doodeenvoudig opbreek en
die stukkies weer groter word om later ook weer op te breek in talle kleiner stukkies, wat weereens op hulle beurt groter
word en opbreek. Buite die water "vrek" hulle. Jean, Ek het jou navrae ook op Anna se nuusbrief gelees, en as jy ‘n
antwoord gekry het sal jy my asb ook laat weet? Dit klink beslis na iets waarin ek ook sal belangstel!Weet jy dalk of die
‘kristalle” hard of kristal-agtig was of was dit sag en meer soos ‘n plantjie? Indien dit sag was, dink
jy aan WATER KEFIR. Dit handel presies soos jy beskryf, maar dit is ‘n plantjie en nie ‘n kristal nie. Vir meer
inligting hieroor, kontak my gerus! ROSETTA het gevra wat mens als met PITAA broodjies
kan maak... toe antwoord ek haar met o.a. die reeds geplaaste PITABROOD EN PINOTAGE...resep uit Braaitreffers van Hannetjie Joubert, wat deur Lapa uitgegee is.
Vir 8 pitas het jy nodig:
25 ml kitsgis
20ml suiker
300 ml louwarm water
800 ml koekmeelblom, ongesif
afgemeet 15 ml sonneblomolie 7,5 ml sout. Voorverhit jou oond tot 250 °C. Meng kitsgis, suiker en water. Voeg 250 ml koekmeelblom by. Laat op 'n
warm plek tot dubbel die volume gerys. Sif die res van die koekmeelblom by. Voeg die res van die bestanddele by en knie goed. Bedek
en laat op 'n warm plek rys tot weer dubbel die volume. Knie liggies af en sny in 8 ewe groot stukke. Fatsoeneer elke stuk in
'n ongeveer 150 mm sirkel (amper of jy jou eie pierings maak). Plaas op 'n meelbesrooide bakplaat en laat rys tot dubbel die
volume. Gebruik meer as een bakplaat. Bak 5 tot 10 minute lank tot 'n baie ligte strooikleur. Plaas op 'n draadrak en maak
met 'n skoon doek toe tot afgekoel. Sny 'n boonste derde van die pita af, en vul met jou Springbokvleisie,
of wat ook al.  Sy skryf
toe weer terug: Dankie
Retha,dis omtrent n intresante web-site wat jy het....het jy dalk nog sulke sites wat n mens kan by inloer? ek soek
ook resepte hoe om biltong , boerewors, en droee wors te maak....deesdae se boerewors smaak net nie meer vir my lekker nie.thanks!Rosetta. Ek is bly Rosetta het lekker op onse werfie
gekuier! ....Jul kan ook by DIE KNOOP gaan loer daar is heelparty oulike afrikaanse werf-skakels daar,
PETERJASSIE s’n het ook baie resepte, WEG se bladsy, en SARIEMARAIS.com ... almal ook gunstelinge van my! (Gaan
loer op ONS DORP se AFRIWERWE vir die skakels) TRADISIONELE BILTONG (Hierdie resepte Met erkenning aan Chris
Vorster, Jagtersvereniging: Alberton) 11 kg vleis 350 g growwe sout
190 ml
koljander 13 ml peper Asyn is opsioneel Verwyder alle sigbare senings, sny in verlangde
diktes, lê vleis vir 48 in mengsel en hang op. TRADISIONELE DroëWORS 5 kg vleis (3,5 kg wild en 1,5 kg bees)
30 ml sout
25 ml koljander
31 ml Worcestersous 5 ml peper 2,5 fyn gemaalde naeltjies Meng die vleis met al die bestandele, maal,
stop derms- nie te styf, hang op. WILDSWORS 5 kg wildsvleis (helfte wild ander helfte skaap of vark of bees)
50 ml sout
50 ml koljander 5 ml peper 250 ml asyn 125 ml Worcestersous
100 g hawermout
Meng alles, maal
en stop die wors. SOSATIES 1 kg sagte wildsvleis in blokkies gesny 300 g skaapvet
in blokkies 500 ml asyn 10 ml suiker sout en peper na smaak
2 groot
uie in skywe gesny 2 . 3 e matige kerriepoeier Gekneusde vars lemoen of lourierblare
Meng al
die bestandele, uie en blare, pak vleis in lae en gooi sous oor, draai gereeld om en hou in yskas vir 3 dae. Ryg vleis, vet
en uie op stokkie en braai. SOSATIE SOUS Smoor 6 . 8 uie, in ringe gesny, liggies in bietjie olie vir 5 .8 minute,
voeg die volgende by terwyl u roer: 375 ml geweekte en fyngedrukte appelkose 10 ml borrie
125 ml
rooiwyn 20 ml sout 25 appelkooskonfyt of blatjang 25 ml kerrie 5 ml gemmer
75 ml bruin suiker 250 ml water 8 peperkorrels 500 ml asyn Laat koud word,
giet oor vleis en laat vir 3 dae daarin lê, sous kan weer gebruik word. Bedruip sosaties met van die sous.
 Soms moet jy eenvoudig ‘n oomblik stilstaan om tot verhaal te kom. Asem diep in en ruik
die koffie. Die wêreld kan mos ‘n minuut of vier wag, trouens,
‘n koffieblaaskans kan jou net goed doen.
21/09/2010 My man verjaar bly in 'n sopnatreënbos onder 'n bewolkte hemel wat sy grys karos oor ons gooi en ons in God's Vaderhart toemaak! En
terwyl ek my verkyk aan die reën druppels wat elegant en geruisloos van sagte groen blaartjies afdrup op 'n hongerdors
Karoo-aarde, sit ek al my goedjies gereed en gaan ek terstond hierdie heerlike resep uittoets wat ek van onse Webmeester af
ontvang het! Baie Geluk aan almal wat ook op hierdie dag verjaar! AMARULA SJOKOLADEKOEK
60 ml Kakao 125 ml kookwater 3 eiers 220 ml suiker 60 ml olie 250 ml
koekmeel 10 ml bakpoeier 2 ml sout
STROOP 200 ml suiker 250 ml water 60 ml Amarula-likeur
VERSIERSEL 1 blik karamelkondensmelk styf geklopte room vir versiering – indien verkies Flake-sjokolade
Stel oond op 180 grade Celsius.
Beslag: 1. Meng kakao met kookwater en laat dit afkoel. 2.
Klits eiers, suiker en olie saam, voeg koue kakaomengsel by en meng deeglik. 3. Sif res van droë bestanddele by
en meng goed. 4. Skep in 22 cm x 30 cm-pan en bak ongeveer 20 min. of tot toetspen skoon uitkom.
Stroop: 1. Kook suiker en water saam vir 5 minute en verwyder van stoof en voeg Amarula by. Roer goed. . 2. Prik koek met
'n vurk sodra dit uit die oond kom en gooi warm stroop oor.
Versier: 1. Laat goed koud word, verwyder uit
pan, smeer karamelkondensmelk oor en versier met styf geklopte room oor indien verkies. 2. Versier met Flake
Dis 'n heerlike klam koek wat glo lekker klam bly. WENK: Meer Amarula kan gebruik word indien verkies! Natuurlik!! 
17/09/2010
Die krag gaan
kort kort af, tussen-in word die ketel gou gekook voor dit dalk weer energieloos stil en yskoud op die kas bly staan! Seinloos
wag selfone en internet op deurbreekseine... Die wind waai stormsterkte, dit dwarrel en draai van alle kante deur die
bos, gooi handevol sand in jou mond en oë, jaag jou terug onderdak om agter mure te kom skuil al wil jy hoe graag na
buite beur. Takke kraak en skeur, basflenters hang aan stamme en fyn groen blaartjies word afgeruk en fladder
soos weggooiveertjies rigtingloos in die maalkolk van stof en sand...Die wind word ʼn aggressiewe voyeur wat deur elke kraak en sinkgaatjie loer en beur, kermend
kla en huil tot toegang, die sinkdak kreun en kla onder die aanslag, laaste droë blare, lote en bessies val ratelend
en rollend op die dak. Vir die eerste keer is die bos koud, onvriendelik en hartseer. Die Winter raas en blaas want dis verby,
hy wou vasklou aan die donker kaalstam bos, maar Lente het oorgevat met Somer kort op haar hakke.
Winter
het verloor, en storm nou brekend en woedend, tierend die aftogpad deur die bos... Die rivier beur stroomop met wit maanhaar
vulletjies wat spring en bons oor die bruin stroom, ou stamme sonder groei wat bewegingloos langs die oewer gelê het,
beur nou kreunend, deinend heen en weer saam met die watergolwe in ʼn wind-dans vol brekende stuwende beweging. Jong Wilgergroenlote
swaai uitasem heen en weer in 'n verskrikte gedwonge dans sonder ekstase of kalm streling teen harde rietbosse vas.
My Skolliehond
se swart en wit hare staan windskeef as hy turend die bos inkyk op soek na stilword antwoorde voor hy sy vel regskud en skuiling
by my voete kom soek. Die katte lê in bondels op my lessenaar en ignoreer die windlawaai, opgekrul in hul eie stil wêreld.
Meerkat het kop eerste opgekrul in my skaapvel-pantoffel sy lê gekry. My tee word koud terwyl ek elke geluid en aanslag
deur my gebeente voel en beleef. Vandag...behoort aan die Wind, en die Winter, dog skuil ons stil en veilig in die Hand van ons
Hemelse Vader, wat ook die Seisoene, se storm en drange ken, en gee. Hoop jul naweek is windvry en vol son! Probeer gerus Rina Badenhorst van Kanada
se OOND-PATATS (Resep via Anna, egter effe aangepas,) Genoeg Patats - om jou ARGILLA of ander oondbak mee te vul.
Gooi bietjie
olyfolie oor, en ook sowat ‘n eetl bruin suiker en ‘n ½ tl fyn gemmer.
Sny ½
tamatie en een ui daarby, en bak sowat 1.5 uur ( of langer) in die oond @ 180C - ongelooflik lekker!
LESERSNAVRAE
 Tilla het gevra:
Hoe plant jy roos
steggies uit of lê jy dit in nadat jy dit gesny het? Hi Tilla! Eerstens
moet ek erken dat ek nie 'n fundi met rose is nie maar dat die volgende die beste advies is waarmee ek vorendag kan kom! Ekself het nog egter nie steggies van rose gemaak nie
so ek kan dit nie waarborg nie. Roos-liefhebbers in
die omgewing het egter met my hul raad gedeel en almal s'n stem ooreen so ek skat die volgende is dus seker goeie raad!
Gewoonlik doen
die nuwe rose met groot los blomme nie goed met steggies nie, maar die rankrose, Banksia's, miniatuur rose, ouer rose en wilde
rose doen beter met steggies. Verder moet jy dit eerder eers inlê vir die beste sukses daarmee, dis 'n lang proses maar glo beter. In voortjies in jou tuin of in swart plant sakke.
Jy kan dit egter direk op die plek doen waar jy dit wil doen as jy die plek egter beskerm teen droogte, wind, onnodige stampe
en stote en honde ... Banksia's kan glo ook soos ander plante met lopers bewerk word, i.p.v. steggies afsny kan jy van
die lang uitlopers/sy-lote met 'n klip op die grond "geanker" word, en dit dan met goeie grond bedek en so laat,
dit behoort self wortels of uitlopers te vorm en kan dan later met die volgende seisoen afgesteek word en verplant word as
nuwe plant. Die maak van die steggie belangrik: Hardehout steggies gesny in die herfs is glo beter as ander, maar net 50 % van steggies groei glo... Tog seg ander dat hul baie goeie resultate kry, so ek hoop jy het 'n 100% groeisyfer met joune! Jy kan egter beide probeer. Hardehout kan korter wees maar sagtehout verkieslik nie korter as 30 cm nie. Sagtehout = eerste groei seisoen lote
Hardehout = tweede
seisoen lote of ouer. Sny omtrent 12 steggies per plant as jy kan, elkeen moet sowat 25-30 cm lank wees, en gesny van 'n gesonde sy loot van daardie seisoen. Maak 'n skuins afknipsnit
bokant die boonste groeipunt, en sny die onderpunt weer reguit af. Die skuins bo help dat water afloop en die steggie nie van bo af vrot nie en die plat onder help met beter wortelvorming. Los die boonste twee blaartjies aan en verwyder dan -behalwe
die top 3 ogies- al die ander blare, dorings en ogies/ groeipunte tussen
in. Moenie die bas skeur of beskadig wanneer jy die blare en dorings afhaal nie. Hormoon groei poeier is 'n opsionele maar
nuttige produk, kry dit by jou apteek of kwekery. Maak die basis van jou steggie nat met water, doop in die poeier en dis
gereed vir plant. Maak nou 'n V vormige sloot eenkant in jou tuin, sowat 20 cm diep in goeie los krummelrige grond. Gooi sowat 2.5
cm riviersand onder in die V. Plaas nou die steggies se basis op die riviersand en vul die sloot tot net bokant die helfte van
die steggies. Druk grond stewig om steggies vas. (Jy kan dit ook in sakkies inlê) Gee gereeld water. Teen die volgende lente behoort die meeste van jou steggies te begin uitloop,
en teen die somer sal hopelik party daarvan wortels gevorm het. Met die volgende Herfs, lig dan elke plantjie uit en verplant
waar jy dit wil hê, maak net seker jy versteur die wortels nie teveel nie en plant net so diep soos wat dit was.
Baie sukses word
jou toegewens! Stuur gerus 'n foto van jou pogings!  En Rienie het
weer gevra: Strelitzia:
Moet hul in son of koelte geplant word. Wil hul baie of matig water hê Baie dankie Hi Rienie! Strelitzia's, is inheemse plante en dus op die regte plek geplant, geharde staatmakers!
Immergroen, polvormig,
met dekoratiewe ovaal spies vormige blare. Dink Tropiese elegansie! Gewoonlik oranje, blou-pers en room blomme wat mens
aan die kraanvoëls laat dink , vandaar hul benaming "kraanvoëlblom" ook. Ook Blom embleem van Natal gewees. Ook in Engels “Bird
of Paradise” genoem. Hulle hou die meeste van sonnige, warm posisie, in rypvrye gebiede en hou van baie water dwarsdeur
die jaar. In kouer streke kan hul ook goed aard op 'n warm beskutte plek,
aangesien dit tot matige ryp kan deurstaan. Onder 'n groot immergroen boom
in die winter wat dit kan beskerm, doen hul heel goed. Strelitzia's
lyk en aard goed naby swembaddens as aksent plante. Strelitzia's word sowat 1.6 m hoog. Variëteite : Strelitzia reginae, Strelitzia
juncea en Strelitzia nicolai (l.g. word soms die "wilde" soort of wilde-piesang genoem, wat baie hoër groei
en die wit blomme dra, raak gou onversorg en hulle is ook nie bestand teen koue en ryp nie.) Dit hang dus af waar jy bly, as jy in Pretoria omgewing is of langs die kus, plant Strelitzia's in son en gee
elke dag water. Maar hulle aard net so goed op warm koelte kolle soos onder groot bome, tussen Clivia's.
In kouer streke
waar ryp voorkom, plant Strelitzia's op sonnige, beskutte plek en gee ook genoeg water daagliks. Beste raad : Beskerm teen rypskade!
Hoop dit kon
jou help?  En aangesien
ek 'n: ALLES OOR ASYN-bydrae van ORG en ANNA ontvang het plaas ek dit -verwerkt- ook graag: Asyn is een van die oudste kosmaak bestanddele
wat daar is en dit kan nagegaan word tot sowat 10 000 jaar gelede. ASYN kan van letterlik enige vrug, graan
of selfs tee gemaak word. Jy kan ook jou eie maak met die KOMBUCHA gisplantjie! Die Engelse `vinegar' is afgelei van `vinaigre',
die Franse woord vir suur wyn. Asyn is inderdaad 'n swak oplossing van asynsuur wat ontstaan wanneer wyn of 'n ander alkoholiese
oplossing gis. Asyn word vir baie dinge gebruik. As bykos, 'n preserveermiddel, in boererate en selfs as 'n matige
ontsmettingsmiddel. Dit hou vir 'n onbepaalde tyd, maar dit bly die beste bewaar as jy dit weg van lig en hitte bêre.
APPELASYN
Word van
appelwyn gemaak. Dit het 'n matige, effense soet en vrugtige geur en 'n ligte goue kleur. Ongefiltreerde appelasyn het glo
gesondheidsvoordele. Gebruike: Slaaisouse, vis of skulpvisgeregte en ingemaakte kos, veral ingelegde vrugte.
ROOI WYN
ASYN Word van rooi wyn gemaak. Gebruike:Slaaisouse, die gaarmaak van rooikool, in lewer of rooi vleisgeregte,
in souse of eiergeregte. WIT WYNASYN Word van wit wyn gemaak. Rooi en wit wynasyn is baie veelsydig en jy kan
dit in die meeste resepte gebruik waar jy asyn nodig het. Gebruike: Slaaisouse,Mayonnaise, vleis, wild en vismarinades,
souse, vir die skoonmaak van 'n aangebrande pan of om gegeurde asyn te maak.. BALSEMIEKASYN Word van dieselfde
druiwe as donker balsemiekasyn gemaak, maar 'n ander proses word gebruik om die asyn helder te maak. Dit het 'n sterker geur
as donker balsemiek en word gebruik in geregte wat vir die geur van balsemiekasyn vra, maar wat beter lyk met 'n kleurlose
asyn. Gebruike: Slaaisouse, souse, pastaslaaie, met hoender of vis, of om 'n pan skoon te maak.
NOG ASYN
WENKE: *Asyn is ‘n natuurlike ontsmettingsmiddel en reuk neutraliseerder. *WIT Asyn kan amper in enige skoonmaakmiddel
se plek gebruik word, om spieëls, teëls, wasbakke...ens. skoon te maak, meng bietjie SOUT daarby en jy het ‘n
veeldoelige middel vir hardnekkige vlekke! *Asyn verwyder die reuk van kat-urine van bekleedsel en matjies...ook
vir kinder-glipse op matrasse...sprinkel na jy dit met asyn behandel het ook koeksoda oor die vlekke en borsel of suig na
‘n rukkie die plek met die stofsuier skoon. *Ontsmet afvoer pype en asdromme deur gelyke hoeveelhede
asyn en koeksoda daarin te gooi, laat dit ‘n rukkie bruis en spoel daarna met skoon warm (asyn)water uit.
*Asyn in
jou ketel, stoomstrykyster kan van kalk aanpaksels ontslae raak. Gooi bietjie asyn by die water, laat opkook, laat staan
‘n rukkie daarin, gooi uit en spoel met skoon water. *‘n Bakkie asyn in die Mikrogolf, vir ‘n minuut
daarin gekook, en vir nog ‘n paar minute daarin laat staan sodat die asyn-stoom in die oond kan werk, maak die oond
skoon en reuk vry. *As jou glase dof raak van jou skottelgoedwasser, draai dit toe in papierhanddoek geweek in asyn
vir ‘n rukkie, verwyder dit na ‘n rukkie en die skalie neerslae sal maklik afspoel.
*Aanpaksels
of muf op teëls of in die groewe tussen teëls kan met asyn en ‘n ou tandeborsel verwyder word.
*Vlekke
soos sweet, tamatiesous, of mosterdmerke, kan voor die wasproses met asyn ingevryf word om die vlekke weg te kry, en ‘n
koppie asyn by jou laaste wasgoed spoelwater maak klere reuk vry, minder staties, sagter en helderder!
* Smeer
asynwater aan vir 'n jeukerige vel of 1 kp wit asyn in louwarm badwater bied streling teen sonbrand, vel allergie en
ook teen sekere swam infeksies. *‘n Blikkie met asyn opgehang in jou vrugtebome, hou vrugtevlieë weg van die vrugte!
Trek die blikkie oor met “Glad-wrap” en steek ‘n paar gaatjies daarin sodat die goggas daarin kan kruip
maar hul kom nie weer daaruit nie! Of gebruik die vlieg-lokaas houers en gooi asyn daarin.
*‘n
Paar ETL asyn by die water waarin eiers gekook word keer dat die eierdoppe kraak en die wit uit kook.
*Om verlepte
groen groentes op te kikker , week dit in water met ‘n skeutjie asyn daarby. *Om die reuk van gekapte uie OF vis,
van jou hande of werksoppervlakte te verwyder, vee dit met asyn af . *‘n Bietjie asyn bygevoeg in
die water waarin jy Kool, Brokkoli, Blomkool, Brussels of droë bone kook, gee ekstra geur en verminder ook
die gasvorming daarvan. * Gaan loer gerus vir nog wenke – wat nie hier verskyn nie- oor ASYN by Webster's Online
Dictionary ! Jy sal verbaas wees wat nog alles daar te lese is! Seg nou net Asyn is nie die ideale GROEN
middel vir jou huis en tuin en amper orals nie!  En wat van OUMA Mari Bruyns SE ASYNPOEDING ! 190 ml meelblom
60 ml suiker knippie sout 1 eier
3 ml neut 12.5 ml appelkooskonfyt
5 ml gemmer 10 ml botter 3 ml koeksoda
Vir die sous: 250 ml water, 60 ml asyn en 250 ml suiker. Kook sous, en giet
oor in ‘n oondbak, laat 5 minute staan. Klop intussen botter en suiker tot romerig
en voeg geklitste eier by. Sif daarna droë bestanddele by. Meng goed deur. Skep lepelsvol deeg
in die sous in die oondpan, en bak sowat halfuur of bietjie langer tot goudbruin by 180º C
Bedien met ‘n ligte dun vla of dun ongeklopte room. En op die soetsuur-noot, Voila!
10/09/2010 My moleskine - kort vandag-verslag! “Mnr Y, Mnr Y, ek verlang na jou, my mnr Y..."
"Juf X, Juf X, ek weet!- ek het die son alleen sien rys...” so sou Etienne Le Roux dalk in sy 1844 kon skryf...
Maar ek sal aan
julle skryf en sê: Vroegoggend, bly dit by ons Oewerkaia lank grys-bewolk buite! ‘n Ligte vlagie Keeza-sagte-reën
maak jou bly-bly, maar kort daarna skuif die sonnetjie agter die koppe uit, aan die oorkant van die rivier, en hang die dag
yl winter geel en koel, windloos, tussen die nuwe vaalbos se lentegroenblare. Tarentale skarrel roep-roep agter rietbosse
in. Dit reën nie maklik na die winter, in die Bo-Karoo nie. Ek plant midoggend Ruscus varings uit in my oewer-tuin bedding,
gee my spinasie plantjies in my nuwe kombuis-tuin water, die aarbeie se wit blommetjies wys hulle het die ontydige oorplant
oorwin, en pluk van my suurlemoengras om in my tee te week. In die berg, langs ons stuk Oranjerivier, staan oranje aalwyn
raseme in volle kleur, wit boerbokke wei rustig tussen in, en die kiekies wat my oë van alles neem, bly ge-ets in my
onthou daarvan. Ek, Drakensbergkind, is dieplief vir hierdie wêreld!! Toe, staptyd, het die grys donderwolke oor
ons deel van die Karoo begin saampak, Skollie-hond se ore het heen en weer getrek en my aangespoor tot vinniger stap maar
ek wou dit uitrek, die sagte rammelgeluide wat aanrol en nader kom in my ore voel insypel, dit daar hou om weer en weer na
te luister, die windjie wat die klam wolkelug soos sproeireën van spilpunte oor groen koring namaak, toelaat, om oor
my warm wange te streel. Gister staptyd, het ek elke keer wat ek my hand vorentoe geswaai het, die laaste sonlig in ‘n
rooi-goud kol heen en weer, in my palm vasgevang, en dit saam terug gedra hek toe, en toe die son agter die einders inval,
het my hand se palm leeg, sonloos vir my gekyk. Gister was daar geen wolke en geen reën en geen donderklanke wat nader
rammel nie. Helaas, die eerste donderwolke van die nuwe seisoen, het ook oor ons en die groot Gariep voortgerol,
en niks oor ons deel van die nog strooigeel, winterveld uitgegiet nie. Dit het sy seën en klam nuanses van ons weerhou,
die aand ingeneem en dit gaan uitstort, waar dit nou nog nodiger is. Ek weet, want ek weet, God, weet waar!
Beste Groete
en lekker naweek vir jul almal! ANNA se BOTTERSKORSIETERT 250g tennisbeskuitjies 150g botter, gesmelt 4eiers 75g strooisuiker
5ml vanieljegeursel
5ml fyn
kaneel 50g koekmeel 200g gewone roomkaas 250g gaar, fyngemaakte botterskorsie
30ml bruinsuiker
Voorverhit die
oond tot 160C. Verkrummel die beskuitjies baie goed. Voeg die gesmelte botter daarby en druk dan die mengsel in ‘n losboomtertpan.
Plaas in die yskas vir 15minute. Klits die eiers en strooisuiker tot dik en liggeel. Voeg die vanieljegeursel, kaneel en koekmeel
by die eiers en klits tot glad. Klits die roomkaas in en roer dan die fyngemaakte botterskorsie in. Giet die mengsel binne
in die koue tertkors en bak vir 40 minute of totdat die tert net-net begin ferm raak. Verwyder uit die oond en laat afkoel.
Strooi die tert met bruinsuiker en smelt onder ‘n verhitte oondroosterelement. Bedien met suurroom. Lewer 8-10 porsies.
En maak sommer
ook hierdie maklike staatmaker van my: Letia se KOEJAWEL-YSKASTERT 1 blik ( 825g) Koejawels
2 pakkies
( 80 g elk) kersiejellie 2 blikke ingedampte melk 2 pakkies Tennis beskuitjies Dreineer koejawels,
hou stroop- druk koejawels fyn met vurk. Meng die stroop en die jellie, verhit tot goed warm en die jellie gesmelt. Haal af
van stoof en roer die melk en koejawels daarby in. Pak 'n laag beskuitjies in 'n reghoekige tertbak, en skep helfte van die
koejawelmengsel bo-oor. Bedek met 2de laag beskuitjies en dan die res van koejawel mengsel. Verkrummel laaste paar beskuitjies
bo-oor vir die mooi en lekker daarvan, en oor jy kan en mag! Verkoel in yskas tot gestol! 
Elke vriend verteenwoordig 'n wêreld binne-in ons. En dis
eers as ons hulle ontmoet dat hierdie nuwe wêreld vir ons oopgaan! ~Anais Nin~
7 September
Ek is
gaande oor jul navrae en skrywes aan my! Doe asb. zo voort! Soms sal ek kortliks antwoord, soms sal ek
- by magte van eie gewoonte aan baie woorde maak- langer antwoorde gee... Anna se SMS: Vanoggend het ‘n sonstraaltjie
deur my venster kom loer, die kolletjie in my hart verlig waar ek jou gebêre het. Toe besef ek eers hoe spesiaal jy
is ! 'n Vorige leseres skryf:
Ek het nog 'n ander
probleem: Nou so amper 50jr oud slaan so nou en dan hitte gloede uit wat my Baie moeg maak, sekerlik maar die oorgangstryd.
Beveel jy aan ek gaan sien die dokter? Of is daar Natuurlike middels? Sal jou raad waardeer. Lekker dag.
Yip!
dis verseker die menopouse wat jou naderhark! En ja, Daar is natuurlike produkte soos “Menoclove” en andere wat
jy by jou apteker kan vra, maar daar is ook Hormoon vervangers (HVT), soos “Premarin”...
As jy
'n histerektomie gehad het sal ek aanbeveel dat jy na hormoon vervanging kyk want dit verhoed oa. ook osteoporose en hartvat
vernouing. As jy 100 % gesond is wat die dinge betref kan jy die natuurlike pad volg en jouself monitor en slegs vitamien
B aanvullings neem om die moegheid teë te werk. Jy is moeg want die warmkry gebeur hoofsaaklik snags en dit belemmer
'n goeie nag se rus... As jy twyfel oor enigiets, praat met jou apteker of sien jou dokter. Ek beveel veral aan, jy gaan
dokter toe, vra 'n hormoon telling aan, en op grond daarvan besluit jy wat jy wil doen. Ek kan nie sien hoekom mens onnodig hieroor
moet lei nie, en hormoonvervanging op lae dosisse is nie die vark in die verhaal wat almal dit maak nie, ek belowe jou dit
gee woema aan jou dag en 'n huppel in jou stap! Ekself moes baie jonk 'n algehele hist. gehad het, en moes daarna op HVT gaan
en is vandag nog nie een dag spyt nie! Om verskeie redes! Moenie bloot net deur als suffer net oor dit "normaal" en deel van vrouwees is nie, gebruik
wat tot ons beskikking is en fokus op ander prioriteite wat jou gelukkig en gesond maak en hou!
(ANONIEM) skryf: Ek voel nie lekker nie. Ek soek nie
mediese raad of 'n resep nie. Iemand het iets vreesliks aan my gedoen, ons is nie meer vriende daaroor nie, maar
almal wil nou hê dat almal net moet aangaan of niks ooit gebeur het nie. Wat van bieg en omverskoning vra?
 Liewe Vriendin, Ek is nie 'n teoloog nie, net 'n mede sondaar en 'n mens, maar vergun
my hierdie kans om die vrymoedigheid te neem tot hierdie gesels... In ons almal se lewens
kom ‘n tyd dat ons wel ons demons moet face. Party is erger as ander en party maak ons self erger deur meestal op ons
self en ons eie behoeftes en begeertes te fokus. Soms moet ons
almal daardie eerste tree gee en dis AGTERUIT. Weg van onsself en ons eie seerkry, weg van dit wat die ander een aan ons gedoen
het. Eers dan, kan ons daardie giant leap vorentoe gee, om die skade wat ons op ons beurt
aan die ander een gedoen het, soms doelbewus, soms onbewustelik, te probeer uitvee en reg te stel.
Daarmee bedoel ons nie dat alles net skielik ongedaan en weggevee word nie, maar daardeur bedoel ons eintlik
om te sê, ek is jammer, ek wil probeer regmaak. Ek wil aangaan sonder die seerkry wat ek aan jou en jy aan my gedoen
het. Daarmee bedoel ons eintlik om te sê dat ek vergewe jou en hoop jy
sal my ook kan vergewe, wedersyds. Daarmee bedoel ons, ons “Jammer sê”
is nie net woordetaal nie, want om te sê jy’s jammer, maar dit nie te bedoel nie werk nie, want jammer sê
is sielstaal, want God luister in. Daarmee sê mens nie dat alle vertroue weer
dadelik herstel is nie, daarmee sê mens eintlik dat, ek jammer is dat ek jou vertroue in my geskaad het, en jou daardeur
seer gemaak het. Daarmee erken mens, ek het egter ook seergekry, en ek vra nou dat ons
tree vir tree, beginnende met ‘n groet en ‘n glimlag, weer sal probeer om die vertrouensbreuk te probeer herstel.
Daarmee sê ons nie dat alle grense en opgeboude mure wat ons om
onself opgerig het, om ons teen seerkry van mekaar te verskans, dadelik verkrummel het nie, en dat alles net oornag weer sal
en kan wees soos dit was nie, daarmee sê ons maar net, kom ons vat dit tree vir tree.
Daarmee erken ons, Eers, voor alles, het ons genoeg van mekaar gehou, was ons tog iewers vriende. En al word ons
nooit weer vriende nie, kan ons mekaar as mense weer respekteer, en aan wedersydse respek vir mekaar begin bou.
Om werklik vrede te kan maak en te kan vergewe, is Genade alleen, is om daadwerklik te probeer vergeet wat ons aan
mekaar gedoen het. Die ironie is, dat nie een van ons meer aan die ander een gedoen het nie,
maar dat ons wedersyds die slegste aan mekaar gedoen het, en die slegste in mekaar tevore gebring het. Dat ons, juis
daarom, nie een, MEER skuldig of onskuldig, of minder skuldig of onskuldig, teenoor mekaar is nie, maar wel almal EWEVEEL
skuld aan alles het. As ons iets nie gedoen het nie, maak wat ons gedink het ons wel eweneens
skuldig. Al voel dit in ons eie verraderlike harte nie so nie. Maar as ons eers kan besef dat ek en jy, ons almal, eweveel skuld aan
alles het, kan ons mekaar eweveel vergewe. En as dit alles te swaar en te onmoontlik klink, vra ons onsself doelbewus af, wat het
ek al alles aan Jesus gedoen, en het hy MY nie net voluit vergewe, en die oortredings teen Hom, doelbewus vergeet nie?
Het Hy, MY, die grootste sondaar van almal, nie nog ‘n skoon blaadjie en 'n skoon kans op 'n skoon begin gebied
nie? Wie is ek dan om nie eers te wil probeer nie? Ja, ons weet dat ons almal sondaars is, elkeen van ons, jeens mekaar
en teenoor God. Dat ons daarom juis, VAN MEKAAR, nie volmaaktheid kan verwag nie. Ons almal het voete van klei. Almal se kaarthuise tuimel soms, niemand is daarteen
bestand nie, maar ons het wel die keuse of ons nog langer slagoffers wil wees van ons eie wrokke, van ons eie seerkry, van ons eie gevoellens van te-na-gekomenheid.
Vrede maak, vergifnis vra en gee, is nie maklik nie. Dit impliseer dat ons aan mekaar moet erken dat ons
mekaar doelbewus en wetend te na gekom het. Dit impliseer dat ons onself voor die ander moet verneder en in skaamte moet gee en neem. Dit impliseer ook dat ons
groot genoeg is om vir mekaar te kan sê, ek is ‘n sondaar, wees my ook genadig soos Christus my genadig is. Dit impliseer dat ons mekaar
sal wil vra, kom ons probeer weer, en hierdie keer in eerlikheid want ons vertrou mekaar nie meer nie, en juis daarom sal
ons die deursigtige eerlike weg moet stap. Dit impliseer dat ons onself moet stroop van kleinlikheid, reguit moet wees maar
sonder venyn , onbetwisbaar in wat ons van en vir mekaar sê sodat ons nooit weer nodig het om van mekaar te praat nie,
maar wel met mekaar. Moenie toelaat dat die kloof te diep word nie, dan word die brug daaroor te moeilik
om te bou. Mag God ons help om die brûe te oorkruis wat ons moet en die ander te kan verbrand. Watter moet ons oorgaan
en watter moet ons brand? Ons brand die wat ons fokus afneem van wat God van ons vra- en ons weet wat dit is- en ons gaan die brûe
oor, wat altyd na beter dinge uit Sy Hand lei... want die BESTE lê altyd voor! Ek glo nie om te bieg
of om ander te laat bieg oor als nie, om te bieg ontaard te dikwels in wedersydse modder-gooiery. Ek glo dat as jy opreg sê dat jy jammer
is dat jy iemand seergemaak het ,en sal probeer om dit nie weer te doen nie, en dat jy daarna doelbewus die wilsbesluit neem
om te vergoed en aan die verhouding te werk, dit goed is. En ek glo as iemand anders sekere dinge van my weerhou dat
hy/sy inderdaad ons verhouding nie verder wil skaad nie, ek glo die persoon as hy/sy sê, om als te weet, sal geen goed
laat voortspruit nie, maar eerder 'n wig indryf. Elke mens het die reg om sekere waarhede vir homself te mag hou.
Ons bly mense. Soms wil een party hê dat die ander moet bieg sodat die woorde die seerkry kan ego, die
woorde die "meer-onskuldig-voel" kan uitlig, dit ons kan ophef om die eerste klip te kan gooi. Om te bieg versterk
slegs die eergevoel van die een en breek die ander een net meer af, dit spoel nie alles skoon nie, dit maak seerder, kom net
nog meer mense te na in ons soeke na blaamverskuiwing, verder gee dit 'n stok in mekaar se hande om mekaar later weer en weer
mee te kan slaan. Ons bieg daagliks voor God alleen, en aanvaar immers Sy vergewing en die daaglikse kans op bekering,
in ons doelbewuste poging tot 'n sondelose lewe... Staan dus voor mekaar in opregtheid, en sê ek is jammer dat ek jou seergemaak
het op watter manier ook al, vergewe my, ek vergewe jou, en mag ons asb. dit agter ons sit en weer aan ons verhouding
begin bou.Dit
gee beide die keuse om dit te aanvaar, dit te verwerk, en te kan aangaan. Met of sonder mekaar, maar dan sonder die skuldgevoelens.
Jy is nie verantwoordelik vir die ander mens se keuses en hantering van die saak nie. Jy is ook nie afhanklik
van sy of haar verdere goedkeuring nie. Jy het probeer. Gee dan daardie tree vorentoe en beweeg aan, en laat wat agter is, agter. Finaal.
Onherroeplik. Vry. Kyk daarna na mekaar soos na enige ander mens op jou pad, as nuwe skoon mense, verlostes in Christus,
met ons oog gevestig op die Ewige Lewe. Wil jul mekaar ken?
Miskien, miskien nie, maar immers het elk die reg om sy vriende van voor af te mag kies, en die res met respek te
laat verbygaan. My geloof om self hierin te volhard is nie sterk nie, maar my God in wie ek glo is sterker!
Dis nie my vermoë om aan God vas te hou wat my sterk maak nie, maar God se belofte en trou in Jesus wat
my vas hou! Die insig wat ek hieroor verwerf het was deur self die pad te stap en deur Sy Genade alleen tot hier te kom. Is ek reg? Dit is nie belangrik nie,
dat ek probeer, dit is. My gebed was ook al dié van Thomas Merton: "My Lord God, Sometimes
I have no idea where I am going. I do not see the road ahead of me. I cannot know for certain where it will lead/end.
Nor do I really know myself, and the fact that I think I am following your will does not mean that I am actually
doing so. But I do believe that the desire to please you,
does in fact please you." Benescke Janse van Rensburg gee die volgende
SEWE RIGLYNE VIR DIE HUWELIK
( en verhoudings) . . . (UIT 1 KORINTIËRS 13): 1.
Die liefde is geduldig: Bly jy te alle tye geduldig met jou huweliksmaat/ vriend/in?
2. Die liefde is vriendelik: Bly jy vriendelik selfs al het
jy rede om jouself behoorlik te vervies? 3.
Die liefde is nie afgunstig nie: Gun jy jou maat sukses sonder om jaloers te raak op sy of haar prestasies?
4. Die liefde soek nie sy eie belang nie: Plaas jy jou maat
se behoeftes bó jou eie? 5.
Die liefde is nie liggeraak nie: Raak jy kwaad vir elke klein dingetjie wat nie volgens jou plan verloop
nie? 6. Die liefde hou
nie boek van die kwaad nie: Vergeet jy vinnig of herinner jy jou maat telkens aan sy of haar foute
uit die verlede? 7. Dit bedek alles,
glo alles, hoop alles, verdra alles: Bedek jy jou maat se foute of ontbloot jy dit deur dit met almal om
jou te bespreek? En Per EPOS het ek die volgende tersaaklike ontvang ...
1.Die beste manier om iemand “terug te kry” is om te vergewe.
2. Voed jou geloof en jou twyfel sal sterf van die honger. 3. Tensy jy die
hele skepping kan skep in 5 dae, is dit miskien nie so ‘n goeie idee om vir God voor te skryf nie.
4. Suksesvolle huwelike is nie om die regte persoon te vind nie maar om die regte persoon te wees.
5. As die Gras groener is aan die ander Kant van die draad, kan jy verseker wees die waterrekening is ook
hoër. 6. Woede is ’n toestand waar die tong vinniger werk as die
verstand. 7. Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan die huidige ruïneer
deur te bekommer oor die toekoms. 8. God gee altyd Sy beste aan hulle wat die
keuse aan Hom oorlaat. 9. Alle mense glimlag in dieselfde taal.
10. ’n Drukkie is ’n groot geskenk! “One size fits all”!
11. Almal verdien om bemin te word.... Veral hulle wat dit nie verdien nie.
12. Die werklike maatstaf vir ’n man se rykdom is wat hy belê het in die lewe hierna.
13. Elke een het skoonheid maar nie almal sien dit nie. 14. Dank God vir
wat jy het en VERTROU HOM vir wat jy benodig. 15. Indien jy jou hart vul
met verwyte oor gister en bekommernisse van môre, het jy geen vandag om voor dankbaar te wees nie.
16. Indien iemand iets slegs van jou sê, leef so dat niemand dit glo nie.
17. Geduld is die vermoë om jou “engine te laat idle” terwyl jy voel jy wil jou” gears
strip”. 18. Harde woorde breek nie bene nie maar wel harte.
19. Liefde word versterk deur saam deur konflik te werk. 20. Om uit die
moeilikheid te kom, moet mens gewoonlik daardeur. 21. Ons neem as
vanselfsprekend aan die dinge waarvoor ons moet dankie sê. 22. Liefde is die
enigste ding wat verdeel kan word sonder dat dit minder word. 23. Neem tyd om
te lag want dit is die musiek van die siel. Mag God vir ons almal die wysheid en genade gee om dit alles uit
te leef, sodat ek in elke situasie sal kies om Sy liefde na die mense rondom my uit te straal.
En nou iets in BAIE ligter luim! Met komplimente van ons webmeester!
Die 4-jarige Hennie het by sy Ouma gaan kuier en Ouma het dit goedgedink om hom 'n bietjie meer te leer van groentes
en spesifiek die wat sy ma nie eens voorberei nie.  Die spesifieke dag is BROKKOLI aan die beurt en Ouma versin die oulikste stories oor die boompie wat hy gaan proe.
Hy begin ewe entoesiasties aan die eerste een proe, maar Ouma sien hy kou al stadiger met 'n veraf uitdrukking in
sy oë. Ouma het net gou in die spens verdwyn en hoor hom roep: "Ouma, kom kyk gou hier!"
Hy wys toe na sy bord waarop hy die boompie in 'n hoop rys staangemaak het, mooi vasgedruk in die middel van die
rys. "Kyk, Ouma, hierdie is die paradys, en daardie is die boom waarvan
God gesê het ons mag nie eet nie!"
3 SEPTEMBER Breggie Janse Van Rensburg, het geskryf:
Uie Ringe Tuis Gemaak (Goedkoop en maklik). Asb en baie dankie! Hi Breggie! Ek help graag!
Ek is self mal oor uie! Daar word bespiegel dat die ui oorspronklik uit die droër streke van Afghanistan kom. Dit behoort
aan die alliumfamilie, wat meer as 300 spesies het. Die ui is ook familie van die prei en knoffel.  Uie is nie
net lekker nie, dis ook uiters gesond! Uie is 'n "warm" voedsel en kan dus vir alle
"koue " toestande van waarde wees om dit te balanseer. Dink warm uiesop vir iemand met verkoue...
Die ui
se geur word primêr vrygestel wanneer die vlees gekneus word. Die swaelverbindings wat vorm, is verantwoordelik vir
die ui se talle gesondheidsvoordele wat strek van anti-asmatiese en anti-histamien-aktiwiteit tot vitamien C, antioksidante,
kankerwerende en antibiotiese eienskappe. Ook baie goed vir Cholesterol lyers, maar dan verkieslik gebak of net opgekook of
in Olyfolie gebraai... Uie is 'n natuurlike antibiotikum en slym verligter tydens griep of verkoues.
Plaas vars
skywe ui op insekbyte vir vinnige verligting. Uie kan ook gebruik word om netelroos en veluitslag wat deur voedselallergene
veroorsaak word te verlig. 'n Halwe warm gebakte ui op 'n pitsweer laat dit glo vinnig "ryp" word en verlig terselfdertyd
pyn. Net ingeval van kolon probleme moet nie teveel daarvan geëet word nie, en dan verkieslik ook nie rou nie!
Daar is
drie sterk gene as dit kom by uie – wit, bruin en rooi. Die grootste persentasie uie is sterk gegeurde uie, wat die
meeste geur tot ’n dis bydra en die beste raklewe het. Om uie maklik te skil sonder dat jou oë traan- Hoekom laat uie jou huil?
– want uie bevat ’n wateroplosbare
organiese swaelverbinding, alliin en wanneer die ui gesny word, reageer dié verbinding met ’n ensiem genaamd
alliinase om ’n verbinding te vorm, laasgenoemde reageer met water (jou trane) om swawelsuur te vorm, wat die trane
laat vloei. Wel, om dit te skil sonder trane, plaas die ui/uitjies(soos ook knoffel) net in baie warm water
vir klein rukkie en dan sal die skilletjie maklik en traan-vry aftrek. Los die wortel heel wanneer jy die ui kap. Jy kan ook
die ui verkoel voor jy dit skil of onder lopende water skil. Maryke Hörstmann van WINECOUNTRY sê: Uie is ’n noodsaaklike
bestanddeel in meeste disse. Daar is verskeie kookmaniere: Soteer of braai word gewoonlik in botter of olie gedoen
en is die klassieke manier om ’n groot aantal resepte te begin. 15-20 minute is die ideaal.
Puree
is meer ’n bereidingsmetode as ’n kookmetode. Puree-uie kan ook as ’n verdikker vir souse gebruik word.
Bak
kan met of sonder die skil geskied, hoewel laasgenoemde help om die ui bymekaar te hou. Die uie moet meestal eers vooraf gekook
word. Rooster is die nuutste manier om uie en wortelgroentes gaar te maak in ’n bietjie olyfolie teen hoë hitte.
Die resultaat is ’n gekaramelliseerde buitekant wat soet smaak. Kook is ’n goeie manier om uie
sag te kry wat op ’n ander manier gebruik gaan word, soos in ’n sous of bedek met broodkrummels en gerooster.
Laat klein uie heel en kap die grotes in groot stukke. Smoor geskied in ’n bietjie aftreksel of vleissous
om ’n amperse potbraai-effek te skep. Diepbraai word gewoonlik vir uieringe gebruik.
Kaas
is ’n goeie pasmaat vir uie – probeer sterk uie met ’n robuuste cheddar. Olywe is ’n ander opsie,
sowel as ansjovis. Die beste kruie-pasmaats is tiemie en lourierblare, en foelie aan die speserykant.
En, SO
MAAK JY: UIE-RINGE 1/2 kp meel 1 eier Sout en peper na smaak Melk / water, soos nodig om deeg te kan aanmaak tot 'n gladde dik room
dikte. Sny uie in redelike dik ringe. Maak ringe los van mekaar. Doop uie ringe in degie, en bak in warm vlak olie tot bros
en goudbruin. *Laat ringe op kombuispapier of koerantpapier "afdrup" voor jy dit in opdienskottel sit, om oortollige
olie te absorbeer. *Moenie die gaar ringe bedek as jy dit nie dadelik kan bedien nie anders verloor dit die brosheid,
plaas dit eerder in oop oondskottel in louwarm oond om warm te hou. Die ringe is eintlik so heerlik bros en as jou olie warm
is dan absorbeer dit nie eers soveel olie dat jy dit hoef te laat afdrup nie. Ek plaas sommer net onder in my opdienbak so
2 velletjies handdoekpapier... En aangesien dit lyk of jy van uie en maklike resepte hou, probeer sommer ook hierdie:
UIEFRITTERS
3 groot
uie 25 g botter 100g meelblom 1 groot eier 125 ml melk Knippie sout Olie vir diepbraai
Skil en
kap uie in groterige stukke. Smelt botter in groot pan en braai uie liggies tot net sag maar nie bruin nie. Sif meel en sout
saam, voeg eier en melk by en klits goed deur. Voeg uie by mengsel, skep lepelsvol in warm olie. Braai omtrent 3 min aan elke kant tot
goudbruin. Dreineer op handdoekpapier. Bedien dadelik. UIETERT Deeg: 500 ml bruismeel Knippie sout 80 ml olie
160 ml
karringmelk(of suurmelk) Maak deeg aan en knie liggies. Rol uit. Plaas in tertbak. Soteer 2 groot uie in ringe gesny in
50 g botter tot goudbruin en skep bo-op deeg basis. Meng 1 groot eier, 250 ml karringmelk, 1 Etl maizena en knippie sout saam
en gooi oor uie. Bak sowat 25-30 minute in warm oond tot gestol. *Garneer met pietersielie.
UIE BROOD
1 pk bruin
uie sop 500 g bruismeel 500 ml karringmelk Knippie sout 1 kp kaas gerasper (opsioneel maar lekker)
Meng alles.
Bak in broodpannetjie sowat 1 uur lank @ 180ºC
SLAPHAKSKEENTJIES / UIESLAAI Klits 2 eiers, 1/2 kp asyn, 1/2 kp water 1 Etl suiker,
sout en peper na smaak en 2 tl Maizena goed. Laat opkook, terwyl aanhoudend geroer word anders skif dit. Kook tot verdik.
Kook klein
uitjies in soutwater tot net sag maar steeds ferm. Dreineer. Meng uitjies met die suursous en bedien!
*As jy
nie klein uitjies het nie, kan jy gewone uie in ringe sny en dit in kookwater laat lê vir 'n rukkie om van die ergste
gas ontslae te raak en dan gooi jy die kokende suur-sous bo-oor die gedreineerde ui ringe en laat afkoel, bedien as bykos
of slaai, warm of koud, by braaivleis... UIEKONFYT 500 g uie in dun skyfies gesny. Kook
tot net sag en water af. 500g suiker 4 kp water. Gooi suiker en water by afgewaterde uie en kook tot uie deurskynend en stroop dik is. Bottel warm.
Heerlik
saam met vleisgeregte. *Rooi uie lyk baie mooi!
Voila!!
 1 September! Ai, ek weet verseker,
dis weer lente in my tuin! Die Jasmyn strooi haar sagte reuk op
die oggendwindjie. In die koelte stoot die Clivia sy blomsteel kordaat na Bó.
Onder
die Witstinkhoutboom kyk ek op… op deur die kaal wintertakke na die bros-blou lug, ver daarbo,
En
ek sien met nuwe oë hoe die varsgroen blaartjies trots deur die ouhout beur. God glimlag trots hier in my tuin!
Net
één plek op aarde wou Hy mooier maak: daar waar die wit trossies nou uit die kaal ou Knoppiesdorings loer en
die Annabome stil bot in droë Rivierbeddings! God spreek Lewe – en daar is weer vars nuwe
LENTE-Lewe! Troue hemelse Vader, soos die nuwe natuur sy arms ophef
in lofliedere tot Sy Koning wat kom, só smag ons siel na U, o God. Laat ons die uitgeleefde winter van die
siel afskud en ons regskuif vir U vars genade! Laat ons die beendere van ou gisters aflê voor
die voete van U Gees. Laat ons ervaar hoe helder strome van U genade vrolik kabbel uit U troon.
Laat
ons U weer hoor praat oor nuutgebore Lewe! O Heer, ek bid & pleit:
Vir elke spelende kind – U boublokkies van die Lewe! Vir elke sugtende siel - ‘n beker van U vars genade!
Vir elke harde werker – die rykdom van U oes! Vir elke sieke – die koel
salwing van U hand! Vir elke bejaarde – ‘n helder visioen van U sagte naderkoms!
Vir elke sterwende – U grof-gewerkte hande rustig onder sy hoof!
Vir
elke “onbereikte” siel op aarde - die lieflike voeteval van U diensknegte in sy oor!
Vir
elke vermoeide dissipel op reis – die sagte glimlag van U oë! Vir U getroue Sending-Vennote -
die heel, heel mooiste van U seëninge! O God, U spreek Lewe – en daar is weer vars nuwe
LENTE – Lewe, waarin U ons toelaat om alles van vooraf te geniet en U daarin te eer!
(via epos-vriendin)
Nou eers
lesers NAVRAE!
BELINDA het Asb raad oor spastiese kolon, en wat
geëet moet word om dit te voorkom, gevra. Aangesien daar reeds ‘n lang stuk hieroor verskyn
het vra ek dat jul asb. op die GISTER OP DIE AGTERGROND bladsy (16 Julie) daaroor sal gaan oplees.
Lees ook
gerus weer die gedeeltes oor CANDIDA, want die twee stap hand aan hand, bestry die een, en jy is verlos van die ander,
laat een na en beide keil jou behoorlik op! KIMA het geskryf: Hi ek is opsoek na n resep om piekel uitjies te maak as julle my dalk met so resep of raad kan help baie dankie
Kima, probeer
gerus hierdie resep van my skoonsus! PIEKEL-UITJIES Dompel uitjies in kookwater vir sowat 2 minute,
haal uit en die uitjies kan maklik uit die skilletjies uitgedruk word! Niks gesukkel en getranery meer met die skil daarvan
nie! Pak nou die uitjies net so rou styf in jou skoon bottels en hou die deksels byderhand!
Kook nou
tesame: 3 bottels (750 ml ) wit asyn ( bruin is lekkerder maar die wit lyk mooier) 1 bottel water
½
kp sout ½ kp suiker ½ pakkie “Pickling Spice” Gooi kokende mengsel oor gebottelde
uitjies en bottel warm,en dadelik dig! ( Ook uiters geskik vir agurkies en knoffel.) CAROLA skryf: Hallo Retha, uit kinderdae onthou ek hoe my pa lekker aan gemmer-kluitjies in die vorm van poeding
gesmul het. Blykbaar my ouma se resep wat iewerste verlore geraak het. Dalk weet jy van so iets en kan my geheue
'n bietjie aanhelp? Jy bedryf waarlik 'n uitsonderlike webwerf, baie dankie. Natuurlik Carola, SO Maak mens: GEMMER-POEDING
OPPI-STOOF! Kook: 2 kp water 1 kp suiker 1 Etl
botter Meng: 1 kp meel 2 Etl stroop 1 Etl
botter 1 tl fyn gemmer 1 tl koeksoda opgelos in ½ kp melk
Skep lepelsvol
deeg in die kokende stroop. Sit deksel dig terug op kastrol, laat prut op lae temperatuur en moenie oopmaak vir 20-30 minute
nie. Bedien saam met die verdikte gemmer-sous en dun vla of dun room... Geniet dit!! FRIKKIE het gevra vir ‘n Resep vir Tamboesies-
en voor ek dit nog vir hom kon aanstuur het hy dit ook opgespoor en vir my gestuur! Ek deel dit dus graag ook verder met julle!
My resep gebruik die vla vulsel wat in WENRESEPTE 2 gebruik word by die Vlaskywe... TAMBOESIES (Ongeveer 40)
(Vrouekeur 22 Mei 2009) 1 rol (400 g) bevrore blaardeeg 500 ml (2 kop) melk 75 ml (5 e) suiker
30 ml (2
e) vlapoeier 45 ml (3 e) mielieblom knypie sout 5 ml (1 t) vanielje
VERSIERSEL
versiersuiker
kookwater
1 grenadella
se pulp 5 ml (1 t) mielieblom Stel oond op 200 °C. Laat blaardeeg ontdooi. Rol oop en sny in
5 cm x 7 cm-blokkies. Smeer groot bakplaat liggies, plaas deegvierkante daarop en bak vir 12 min. of tot goudbruin aan
bokant. Laat vierkante op draadrak afkoel. Hou bietjie van melk eenkant en verhit res tot kookpunt.
Meng suiker,
vlapoeier, mielieblom en sout met melk wat eenkant gehou is tot pasta. Klits bietjie gekookte melk by vlapasta tot
mengsel glad is en gooi terug by melk in kastrol. Roer vla gedurig oor lae hitte totdat dit dik en gaar is.
Verwyder vla van hitte, roer vanielje by en plaas stuk nat waspapier bo-op. Dit sal voorkom dat vel vorm.
Steek elke
tamboesie in middel oop en vul met afgekoelde vla. Versiersel: Maak versiersuiker met kookwater tot dik pasta
aan en drup bietjie op elke tamboesie. Verhit grenadellapulp en roer mielieblom by tot verdik. Skep bietjie grenadellapulp
op elke tamboesie. Wenk: Om die gebak mooi voor te sit, pak in 'n hopie en sit viooltjies of frambose bo-op.
ANNETTE het geskryf: My vrienden woon in Porto Rico.
Sy kry nie versiersuiker nie, net powdered sugar. Wat baie soet is. Hoe kan sy daarmee versier dat dit nie so
extra soet is nie. Waarmee kan sy die soetgeit breek? Dankie. Annette, jy kan haar gerus laat weet dat sy sterk koffie of Suurlemoensap
kan gebruik in haar versiersel om die ergste soetigheid te breek. Sy kan ook eerder ‘n botterversiersel of vla of meringue
versiersel gebruik i.p.v. die tradisionele versiersel waarin versiersuiker gebruik word. Sy kan ook die helfte van die hoeveelheid
vervang met kunsmatige versoeter poeier. Sy kan ook die volgende doen: Meng: 125 ml fyn gekapte pekan neute, 75
ml bruinsuiker, 5 ml fyn kaneel en 2 ml gemengde speserye. Gooi helfte van jou deegbeslag in ‘n ringpan.
Gooi
nou helfte van die neute mengsel oor. Gooi nou res van jou beslag versigtig oor die neutemengsel, en gooi die
ander orige helfte neutemengsel bo oor jou beslag. Bak soos normaalweg. Meng nou net genoeg versiersuiker met melk
tot ‘n drupkonsistensie en drup oor die koek bloot as garnering! Sy kan die melk hier (soos in enige ander
versiersel resep wat sy gebruik) ook vervang met 1 x 115 g blikkie grenadella moes, of deur skil en sap van 1 lemoen
of suurlemoen. Voeg net genoeg sap of moes by om dit drup of smeerbaar te maak.  Elke nou en dan loop ‘n vrou in ‘n vertrek in en jy weet dat sy weet dat God haar mooi noem.
Daar is vrede en krag en energie daarin om aan Hom te behoort. Daar is vertroue wat
bekoorlik is. Ek wil baie graag daardie vrou wees.
(Hierdie
Goue gedagte via Anna Eksteen se nuusbrief!)
|