NOVEMBER
Tersia Kock, het al
vroeër gevra: Kan julle vir my sê waar koop ʼn mens eier poeier?
Ek plaas t.w.v. "deeglikheid"
weer my eerste antwoord, en my verdere antwoord!
Sien! Ek vergeet nie van julle as ek jul klaar geantwoord het nie en sal
opvolg antwoorde bly gee
soos wat ek op nog iets insiggewend afkom!
Ek hou aan soek.Wat ek wil sê, is dat as jy nie tevrede
is met my antwoord nie, jy weer moet kom kyk want
ek plaas dalk net 'n beter nuwer antwoord ook!
Tersia, NCD het op 'n tyd eierpoeier
verkoop maar helaas die tak in Bloemfontein weet niks meer daarvan!
Die ander wat dit ook verkoop het was dieselfde produsente
wat kaas poeier verkoop, en dit het ek al
by bakwinkels weer raakgeloop.
(Country Pasture, Housewives, Sunspray
Food ingredients, 011 473 6800
92 Price street, Industria JHB.)
Die enigste plek waar ek nog kan dink mens dit kan kry is
by die groter sentrums wat spysenierings goed verkoop,
want hulle lewer immers aan Hotel groepe.
Wees verseker
dat ek jou dadelik sal laat weet as ek 'n definitiewe verskaffer vir jou kan opspoor!
Intussen het ek uitgevind dat party
Pick en Pay takke dit wel verkoop, langs die Mielieblom!! S
o vra liewer dit sal baie soek spaar.
En, ek het nog iets opgespoor!
Gaan loer gerus onderaan hierdie bladsy
daar is 'n video wat wys hoe om jou eie poeier-eiers te maak!
http://suidlanders.co.za/poeier-eiers/
Hulle skryf
o.a. oor poeier eiers:
Wanneer ‘n mens vir langer as net ‘n paar dae kampeer, veral wanneer yskas geriewe nie
maklik beskikbaar is nie,
is eiers altyd ‘n probleem. Gelukkig kry ‘n mens eiers in poeier vorm wat lekker
in verskillende resepte
gebruik kan word.
Poeier eiers is beskikbaar by baie stap-winkels (bv. Hikers Paradise).
Kommersiële poeier eiers het egter
twee nadele - koste, en rakleeftyd. Dit is nie goedkoop nie, en die
vervaldatum is gewoonlik nie te ver in die toekoms
nie.
Onderaan hierdie artikel is daar ‘n skakel na ‘n Youtube video wat handel oor hoe om jou eie
verpoeierde eiers te maak.
Ons stel voor mense probeer dit vir
hulself en sien hoe die proses werk, en ook om dit in resepte te toets
(die eiers word gebak voordat dit verpoeier word in hierdie
proses).
" How to make powdered eggs..." Gaan kliek daarop!
En reken net,die selfgemaakte poeier eiers se rakleeftyd
word nou amper 5 jaar!
Hennie skryf: Ai mens ons het ons "Kook en Geniet" verloor en sit op moedverloor se
vlakte.
Soek groot asseblief resep vir Outydse Boerbeskuit van Tannie De Villiers. Dankie by voorbaat
Beste Hennie, ek help graag!
TANNIE DE VILLIERS SE BOERBESKUIT
1 tot 1.5 kg botter of margarien of
mengsel van botter en varkvet
375 ml (1 1/2 kp ) kookmelk
375 ml ( 1 1/2 kp ) kookwater
5 kg witbrood meel of koekmeel
1 liter (4 kp ) soetsuurdeeg
10 ml (1 Etl) sout
GLASEERSEL
Geel van 1 eier
Melk
Smelt die botter en voeg die warm melk
en water by.
Skep meelblom in knieskottel maak holte in die middel en plaas die suurdeeg sout en bottermengsel daarin.
Meng goed tot 'n stywe deeg. Voeg meer
meel by indien nodig en knie baie goed.
Maak goed toe en laat oornag op 'n warm plek rys.
Knie die volgende oggend af en vorm
die deeg in klein ronde balletjies.
Pak dit in 3-4 groot gesmeerde broodpanne
en laat weer rys tot dubbel die oorspronklike grootte.
Verf glaseersel bo-oor en bak omtrent
1 uur by 200 tot 230 ºC sodat dit bo-op 'n goudbruin kleur het.
Wenke:
Moenie die beskuit in stukke sny om
uit te droog nie, breek met die vingerpunte oop.
Pleks van soetsuurdeeg, gebruik 1 1/2 koekie droë of klam gis of
22.5 ml aktiewe droë gis.
SOETSUURDEEG
Gebruik 'n emalje emmertjie van 2 liter met digpassende deksel.
Giet daarin 850 ml kookwater, 5 ml suiker
en 10 ml sout.
Strooi sowat 4 kp volkoringmeel liggies daaroor. (Moenie inroer nie)
Maak die emmertjie warm toe en laat
oornag op 'n warm plek of in 'n hooikis.
Roer die volgende oggend 250 ml feitlik kokende water daarin
en maak weer toe. Laat 1 uur staan.
Hou die emmertjie op 'n warm plek tot die mengsel goed gerys het. Dit sal skuimerig lyk en
'n
kenmerkende reuk hê.
Gebruik die suurdeeg dadelik.
Die hoeveelheid is genoeg vir 3 kg meel (3-4 brode)
Lekker bak!
Marian: Soek reseppies
vir kleinkind bederf - SONDER suiker en meel - hmmm, reg gelees.
Ken net rou dadel balletjies.
Beste Marian, Wat van :
*Ongegeurde springmielies of gegeur
met ‘n ½ pakkie vanilla gegeurde Canderal poeier,
dit bly ‘n lekker krakerige soetheid.
Of probeer gerus hierdie (reeds geplaaste)
variasies op jou tema:
VRUGTE EN NEUTE HAPPIES.(2 opsies)
½ kp baie fyn gekapte droë mango (of ander droë vrugte)
½ kp gekapte Macadamia's ( of
Pekans)
½ tl fyn kaneel
1kp grondboontjie botter
OF
1kp fyn gekapte dadels
1kp fyn gekapte droë appelkose
½ kp fyn gekapte Pekans
½ kp Macadamias
Meng alles baie goed. Rol in balletjies
en rol balletjies in klapper of sesamsade.
Of wat van: vars vrugte en groente stokkies en happies?
Sny vrugte in blokkies en rol in klapper
of sesamsaad, en bedien groente stokkies saam met 'n lekker roomkaas 'dip"...
Of maak van
beet, appels en patats, in dun skyfies gesny en op 'n bakplaat in die oond gebak tot bros,
lekker sout
happies...
Remona: Ek is opsoek na resepte vir 'n sonoond. kan iemand help asb. . .
Beste Remona As jy resepte soek om die
sonoond te maak, daar is al vir 'n vorige leser die antwoord geplaas,
maar as jy resepte soek vir kos binne
in die oond, dan kan ek vir jou sê dat met my navraag oor hierdie kookwyse,
is aan my gesê dat jy enige
resep geskik vir 'n prutpot kan gebruik, m.a.w. enigiets wat stadig gaar moet word,
bv. stampmielies met groenbone en spekblokkies...
skaapboud...
Hierdie resepte was ook al op die werfie, probeer dit gerus in jou sonoond!
KERRIE (...en Rys)
Braai uie tot
sag en goudbruin in pannetjie op stoof. Roer daarby 1 - 2 tl kerrie, 1tl borrie, 1tl gemengde
vleis speserye,
sout en peper, ½ kp appelkooskonfyt
en ½ kp sultanas.
Plaas vleis ( beeskook, skenkels, skaaprib, maalvleis...)
onder in kastrol ( of bo-oor rys en water in pot)
Bedek vleis met ‘n lagie
ertappels en 1kp gevriesde gemengde groente.
Skep nou uie en speserye mengsel bo-oor.
Sit pot se deksel op, plaas binne jou
sonstoof en laat die son vir jou werk!
HOENDER (....en Rys)
Strooi bietjie bruin uiesop poeier onder in kastrol of
bo oor rys .Peper na smaak NIE SOUT NIE,
die soppoeier het genoeg in!
Bedek met lagie van opgesnyde 2wortels,
2ertappels, 500g sampioene en 1 ui .
Strooi lagie bruin uiesop poeier bo oor.
Plaas nou 5 hoenderporsies ( tjoppies of frikkadelle) bo-op
groente, nog soppoeier, vleis of hoender speserye
en nog 125 ml water.
Sit deksel op kastrol en gaan aan met jou eie werk...
SKAAPNEK...
6-8 Skaapnek "tjops"
200ml koekmeel, sout, peper en aromat
3 ryp tamaties in skywe gesny.
1 groot ui in ringe gesny
100ml Chutney, 50ml tamatiesous en 200ml
water.
Meng meel, speserye in plastieksak, en skud die "tjops" daarin tot goed bedek met meel
en speserye.
Pak nou lae vleis, tamatie en uie in pot.
Meng die Chutney, tamatiesous en water
en gooi bo oor. Sit deksel op en plaas in jou sonstoof tot gaar!
PASTA-GEREG
1kp Pasta , 125ml gekapte spek / maalvleis
, 1 gekapte ui, groenrissie en sampioene opsioneel,
Aromat na smaak,
60 g sampioen of wit uie sop poeier, 2 kp melk.
Meng alles
saam en plaas in emalje bak. Bedek met foelie en plaas in jou sonstoof tot gaar!
Strooi 1kp gerasperde kaas bo-oor gereg
voor opdiening.
BOONTJIE BREDIE
Ja- ja, jy kan ook hierin klein stukkies skenkelvleis of spek heel onder in pot sit!
Meng 2 kp gekerfde groenbone, 3 middelslag
aartappels in blokkies, 1 gekapte ui, 1 gekapte tamatie,
2 Etl margarien of 2 Etl room, sout en peper na smaak.
Bedek en laat
prut!
VINNIGE VIS-DIS!
750g Stokvis (Hake)
250ml room of melk
1pk wit uie soppoeier
3 tamaties in skywe en 1 groot ui in
ringe gesny
Handvol kaas.
Pak vis, tamatie en uie in pot, (met of sonder rys) of bo
op enkel lagie klein ongeskilde aartappeltjies .
Meng res van bestanddele en gooi bo oor vis.
Sit deksel op en plaas in jou sonstoof
tot gaar!
Gooi kaas oor wanneer gaar.
STAMPMIELIE GEREG (Tradisioneel)
Neem 2 kp stampmielies, en 1kp droë rooi bone, week
dit oornag. Plaas dit die volgende oggend
( spoel en gooi water af)
in 'n kastrol. Voeg by: 2 kp groenbone
, 250 g gesnipperde spek, aromat en swart peper na smaak en
3 Etl botter. Bedek met water.
Sit deksel op en plaas in jou sonstoof
tot gaar!
Mimi: Goeiemore,Ek wil graag weet wat doen die baasbaksters as hulle toe konfyttertjies
bak sonder dat
die konfyt uitloop.Groete Mimi.
So 'n rukkie gelede het 'n leser juis
oor toe tertjies gevra, en die raat aan haar om te keer dat die konfyt
nie uitkook nie,was ook dat sy die volgende moes beproef:
1.Spuit jou konfyt later met 'n versierspuit
in!
2.Seël jou tertjie baie goed met eierwit voor jy dit opmekaar toedruk.
3. Om ook te verhinder dat dit
uitkook tydens die bakproses kan jy die konfyt voor gebruik weer OOR kook,
tot dit goed dik is,
of klontjies konfytstukke
gebruik i.p.v. fyn konfyt.
4.Iemand het ook gesê dat "gevriesde" konfyt goed werk.
5. Ek hou van hierdie raat: Meng
jou konfyt vooraf met bietjie meelblom!
Ek het i.p.v. konfyt, so al tertappels met kaneel en korente met
meelblom gemeng gebruik, dit was 'n
Geniet
dit en laat weet gerus of dit vir jou gewerk het!
Breggie: Is op soek
na n wafel resep wat nie eiers bevat nie groot asb.
Beste Breggie
Wel dit het ekself nog nie uit probeer nie maar my wafel
resep is 'n maklike wenner, en ek is seker
jy sal die eiers kan vervang met die volgende
EIERSUBSTITUUT (aldus "Eet gesond
vir die lekker" deur Pat Barton en Magdaleen van Wyk)
65 ml = 1 heel eier
6 eierwitte
65 ml vetvrye poeiermelk(Elite)
15 ml olie
Plaas bestanddele in 'n mengbak
en meng tot glad.
Bêre in lugdigte houer in die yskas vir tot 'n week.
Ek weet ook dat mens 1 Etl asyn in jou
beslag kan voeg vir elke eier wat weggelaat word.
MY WEN-WAFEL RESEP
1 kp meel
1 tl bakpoeier
Of 1 kp bruismeel
1/2 tl sout
1 tl suiker
1 kp melk
1 eier
1 Etl gesmelte botter/ margarien
Sif droë bestanddele, klits res
van bestanddele goed by.
Bak in elektriese wafelpan, of gewone wafelpan op plaat of gas.
Verder kan mens net die eierwit gebruik
en net die gele weglaat soos in die volgende
LAE-VET WAFEL resep:
3 eierwitte
500 ml karringmelk
120 g koekmeel
120 g volkoring
meel
10 ml bakpoeier
5 ml koeksoda
65 ml olie
Klits eierwitte tot skuimerig en vou oorblywende bestanddele
daarby in.
Bak soos gewoonlik.
Hennie wou weet: Mens kry deesdae apparate vir tuisgebruik waarmee jy tot
brood kan bak.
Wat ek egter wil weet is of jy 'n apparaat kry om roomys tuis te vervaardig.
Beste Hennie
Ag nee man! Hoe maklik wil jy dit nou hê!
Jammer ek kom nou eers by jou vraag uit maar ek moes darem
bietjie rondloer vir 'n antwoord vir jou!
Nee, behalwe die "Soft-Serve" masjiene, soos daardie in die
roomys-klokkie-kombi's kon ek nog nie 'n
beter patent as die gewone klitser
vir jou opspoor nie!
Het jy my HEERLIKE maklike roomys resep
van 11 November al uitgetoets? Jy sal regtig baie daarvan hou!
Elize skryf: : Ek het komkommers wat ek wil inlê
soek asb. ʼn resep.
Beste Elize
Ek het net wat jy soek, dit is maklik en altyd 'n sukses! Hoop nie ek
antwoord jou te laat nie!!
Komkommers wil mos dadelik bewerk word!
GEBOTTELDE AGURKIES
3 bottels (750 ml) asyn
1 bottel water
1/2 kp sout
1/2 kp suiker
1/2 pakkie " Pickling-Spice"
Was jou klein komkommertjies goed af,
dreineer alle oortollige water, en pak dit rou en styf in jou bottels.
Kook bs. en gooi dit kokend oor die gebottelde agurkies
of jong komkommers. Bottel warm deur dadelik
die deksels op te draai,keer die bottels om en laat afkoel voor jy dit
was en wegpak.
As jou komkommers al te groot raak, kan jy dit was en in skyfies sny en dan ook soos hierbo bottel.
Probeer OOK die volgende:
3 kg vars agurkies of komkommer
skyfies
6 kp asyn
6 kp suiker
1 Etl borrie
3 Etl kerrie
6 uie gekap
Aromat na smaak
1 pakkie "Pickling-Spice"
3 rooi "green peppers"
Braai uie. Voeg kerrie en borrie by,
roer goed deur.
Gooi asyn en ander speserye by, kook.
Gooi agurkies of skyfies komkommer by en laat vir so 2-3 minute deurkook.
Bottel warm.
En OOK die volgende is heerlik:
4 groot uie in ringe gesny
1 groot Engelse komkommer in ringe gesny
Kook 1 kp water, gooi uie en komkommer
by en kook 10 minute tot droog. Voeg nou by: 1 kp asyn
1 kp suiker
2 Etl kerrie
2 Tl mosterd poeier
1 tl pietersielie en tiemie opsioneel
Kook tot suiker opgelos en deurgekook
is. Moenie weer droogkook nie!
Meng 2 Etl mielieblom met 1 kp asyn en gooi dit by,kook tot verdik.
Bottel dadelik warm.
Geniet jou komkommers!
Erna: Hallo
Retha,
Ek was opsoek na resepte vir Jongemeisjes
en boerjonge toe kom ek op jou webblad uit.
Ek het gekyk maar sien nie enige resepte nie kan jy my help asb.
Mooi en Geseënde dag vir julle.Groete, Erna
Annarie : Hi,
ek sit met ‘n probleem, ek bly op plaas met vrek baie appelkose en het al klaar blatjang en
konfyt gemaak,nou soek ek asb dringend resepte vir enige ding soos appelkoos rolletjies, gelatien
lekkers ens.Dankie!
Beste Erna en Annarie
Dit klink of ons in dieselfde bootjie is, ons boord loop
ook oor hierdie jaar en dit is al verkoop,
verkwansel, verdeel, verpulp, versap, verkook en daar is steeds massas!
Tot die boerbokke wei lustig aan alles
wat begin afval!
JONGEMEISJES, of BOEREMEISJES, is appelkose in drank, gewoonlik in Gin of Wodka ingelê, soet en ferm ...
BOERJONGEN is weer geel taaipit perskes
met pit en al ingelê in Brandewyn, Rum of Konjak, styf en ferm...
(Aldus pittige oorlewerde grappies...)
Was en sorteer jou vrugte, maak seker
dat daar geen letsels of slegte merkies aan is nie,
dit sal die bottel versuur of laat verrot.
Vrugte moet nog ferm wees en nie oorryp
nie.
Die appelkose kan ontpit word en in halwes gebruik word, sommiges doen dit ook pit en al, maar ek verkies ontpit.
Prik jou vrugte met 'n skerp tand
vurk, en pak stewig in gesteriliseerde bottels.
Vul nou die bottels met drank van jou keuse. (Party maak die drank warm
maar dan verslaan die alkohol)
Ek doen dit sommer net so koud.
Draai jou deksels styf op en laat staan vir 3 tot 4 weke
op koel donker plek voor gebruik.
Party kook 'n kastrol met water en dompel die vol, verseëlde bottels vir halfminuut
in die kokende water,
laat afkoel en bêre dit
steeds vir 3-4 weke voor gebruik, maar ek is maar bang vir die metode,
'n bottel wat bars maak alles 'n
onaangename affêre,en my koue proses het nog altyd goed gewerk.
Ek doen ook dieselfde met nartjie skyfies
en vars kersies.
Ek is nie 'n boffin met vrugte rolle en smere droog
nie, maar hier is wat ek vir jul kon bymekaar kry!
(Kook en Geniet en Orania APK Boekie)
APPELKOOSSAP
Kook 8 dele appelkose en 2 dele water
saam tot vrugte heeltemal sag is.
Vryf mengsel deur 'n draadsif en syg dan die sap deur 'n klam doek.
Voeg 500 g
suiker by elke 1.7 liter sap, verhit en roer tot suiker gesmelt is.
Giet in skoon bottels, bottel warm, gebruik soos aanmaak
koeldrank.
OF
2 kg appelkose
1 kg suiker
10 ml wynsteensuur
10 ml Engelse sout
Maal appelkose fyn, Kook alles saam
vir 15 minute, Bottel en hou op rak vir gebruik.
OF
4kg appelkose
3 liter water
1/2 kg suiker
Versap
appelkose, voeg water en suiker by. Meng goed, kook 10 minute. Laat koud word.
Vries in 2 liter bakke.
Vir gebruik, ontdooi, voeg water by
en bedien yskoud
APPELKOOSLEKKERS
Was 3 kg ryp appelkose en 1 kg appels goed, skil appels en ontkern.
Kook die appelskille en kerns 30 minute
lank in 250 ml water terwyl die appelkose ontpit word en die
appels in stukke gesny word.
Syg die vloeistof van die appelskille
deur en voeg water by om 190 ml te maak. V
oeg dit by die vrugte en stowe tot vrugte goed sag is.
Vryf die vrugte met 'n houtlepel
deur 'n draadsif, voeg 5 ml sout en 125 ml suiker vir elke
250 ml vrugtemoes by.
Kook en roer
aanhoudend tot die vrugte losraak van die kante van die kastrol.
Skep vrugte in gesmeerde pan omtrent 1.5 cm dik.
Laat 3-4 dae staan om droog te word
tot dit heeltemal styf en nie meer taai is nie.
Sny in blokkies en rol in suiker.
Laat weer 2-3 dae lank droog word en
pak in flesse of tussen waspapier in lugdigte houers.
OF
2 lb appelkose
3 pakkies suurlemoenjellie of perske
jellie
1 3/4 lb suiker
Sap van 1 suurlemoen en 1 lemoen
Rasper nerfie van lemoene af. Maal vrugte fyn.
Kook suiker, vrugte en sap vir 30 minute.
Verwyder van stoof. Roer jellie by. Gooi in gesmeerde pan.
Laat 24 uur staan, sny in blokkies en rol in suiker.
APPELKOOS SMEER
(Hierdie is eintlik vir perskes, maar
mens kan seker dieselfde resep gebruik vir appelkose,
hoewel dit heelwat suurder sal wees.)
Ontpit en Sny vrugte fyn.
Kook die vrugte in bietjie water, 500
ml water vir sowat 5 kg vrugte.
Voeg 250 ml suiker by vir elke 500 ml water.
Kook net tot vrugte sag is en haal uit
die water, gebruik die vloeistof vir koeldrank.
Maal die vrugte nou met 'n meule of voedselverwerker en keer dit uit op
plastiek materiaal wat met
olie gesmeer is, smeer dun uit.
Laat droog in vol son. Dit neem sowat 2-3 dae.
Rol op wanneer droog. Sny kante mooi
netjies, en bêre in lugdigte houers.
Hoop dit kon jul almal help!
Maar al die gepraat van resepte en nog
wat, dwing my om vir jul te sê:
Nee kyk! vandag moet ons darem bietjie OEFEN ook !
Ag toe, komaan, NET EEN ou oefeninkie!!
PILATES vir 'n platter magie!
Vir 'n ferm magie word PILATES
oefeninge al meer aanbeveel.
Dit verbeter jou postuur, en gee sterker maagspiere, aldus die Griekse navorsers!
SO MAAK MENS :
Lê plat op jou rug met jou hande
agter jou kop.
Trek nou jou maagspiere styf, en lig die boonste deel van jou lyf effens
van die grond af.
Lig nou jou linkerbeen en strek dit reguit in die lug op.
Terwyl jy jou maagspiere styf en jou heupe stil hou, moet
jy met jou linkerbeen regsom vier
sirkels, so groot soos 'n sagtebal, in die lug trek.
Voer dieselfde beweging linksom uit
en ontspan.
Herhaal hierna die oefening met jou regterbeen.
Dit verrig wondere vir jou maagspiere,
heupe en agterstewe!
Ag toe komaan! Wat het jy om te verloor!
Mens kan net wen!
Iemand lus om my dalkies uit te daag?
Oor Vriende en vyande het Martin Luther
King Jr die volgende gesê:
Met die einde,
sal ons nie die woorde van ons vyande
onthou nie,
maar net die stiltes
van ons vriende.
Inderdaad ja, dit is nie wat mense aan ons doen of wat hulle vir ons sê
wat tel nie,
maar dis HOE hulle ons laat voel, wat ons onthou.
23 November.
Dagsê Lesers!
Deel met my vandag, aan die begin van
nog 'n nuwe week, hierdie gebed wat ek per epos ontvang het.
Geseënde week verder!
Vader, wanneer ek eerlik met myself
is,
besef ek dat daar 'n klomp lae aangeplakte verf
oor my hart gesmeer
is.
Die dinge wat mense van my gesê het
onwaarhede wat Satan in my oor gefluister het
en die simpel goed wat ek myself wysgemaak
het,
het lankal die ware ek toegeverf.
Ek wil weer "ek" wees, Skepper-God.
Ek wil die mens wees wat u bedoel
het ek sal wees.
Ek wil die onseker-wees-bagasie uit my lewe gooi,
die negatiwiteit verban
en die ware ek
ontdek.
En dan ...
dan wil ek die res van my lewe met oorgawe gaan lééf.
Maar Gees van God, ek kan nie
hierdie skoonmaakproses alleen volg
nie.
Sal U asseblief dit saam met my doen?
Sal U aan my wys presies hoe kosbaar ek in u oë is,
wat die gawes
en talente is wat U aan my gegee het
en wat dit is wat my spesiaal maak?
Sal U my dan help
om tree vir tree op die pad van
my volle potensiaal te loop
sodat ek met passie, selfvertroue
en doelgerigtheid
soos 'n wonderskone lelie
op die water-van-waarheid sal blom.
Amen.
21 November
Dagsê Liewe Lesers!
As kranige
stapper leer ek graag by ander stappers en het ek (ook) in die Weg,
Petro Gouws se stap-wenke, raakgelees!
Ek deel dit, en ook van my eie, graag
met jul want dit is alles self beproef!
Deel ook gerus jul wenke en raad met my!
1. Koue melk
Gooi vars melk in n 500ml Coke-botteltjie
en dra dit dan in 'n dik kous wat jy nat hou aan die buitekant
van jou rugsak. By die kamp hang dit in 'n boom. Die melk
bly koud vir drie tot vier dae, selfs al is dit baie warm.
2. 'n Tuisgemaakte Dirkie
Kondensmelk in 'n skroefdop-botteltjie
is ook 'n wenner. Kondensmelk-tee smaak verruklik en
kondensmelk-koffie is ook baie lekker. Dit hou ook so lank
as wat nodig is.
3. 'n Coke-warmwatersak
Nog 'n Coke-botteltjie (moenie 'n ander botteltjie gebruik nie, die plastiek is te sag) dien
as warmwatersak.
Maak dit vol kookwater en sit dit ook in 'n dik kous. Dit hou jou heerlik warm in jou slaapsak in die bitter koue.
4. Régte botter
Vat 'n regte blok-botter saam.
Dit hou agt dae plus. Botter gee geur aan enige kos.
Sit jou botter in 'n toeskroef glas inmaakfles, as
dit bedags smelt dan skud jy dit net goed en dit "set" weer
oornag!
(Butro en margarien smelt as dit warm raak, skei water en
olies af, "set" nie weer soos dit moet wees nie en
raak galsterig en af na net 'n paar dae,
Botter daarenteen, al smelt dit ook,
behou sy samestelling en hou baie langer vars.)
5. Brëespektrum-antibiotika
Neem altyd brëespektrum-antibiotika
saam.
Petro sê: Dit het al vele van my stapmaats uit die moeilikheid gehelp
as ons ver van hulp af was.'n Wond wat
uiteindelik ses steke nodig gehad het, het na vier
dae geen infeksie gehad nie, selfs
al moes ons meer as twintig riviere wat afgekom het, kruis.
5. Vars Vleis
Ons het al 14 dae gekamp met vars vleis
sonder verkoeling, pak jou ontbeende, ontdooide,
maar nie bloederige "Steaks" in 'n 5 liter emmertjie wat
dig sluit.
Tussen elke laag vleis pak jy 'n handvol suurlemoen blare, en dan vul jy die emmer met kookolie.
Met die skud van die voertuig, "Lamineer"
die olie die vleis en dit verseël sodoende dat dit glad nie
bederf of bloed trek nie,
die geheim is, dat dit goed verseël
moet wees!
(Wors ,tjops en hoender het ons om verskeie redes nie so lank probeer
nie!)
(En dan het jy sommer olie byderhand...)
En terwyl ons nou op die kamp en stap onderwerp is, hier
is 'n maklike
KNIE-LOSE BROODRESEP wat jy kan inpak en saamneem!
250g bruismeel, 250 ml karringmelk,
[OF vervang die karringmelk met 250 ml bier]
halwe pakkie uie sop poeier, omtrent 'n eetlepel olie.
Meng alles
saam en bak in 'n gietyster pot met matige kole onder, en 'n paar op die deksel.
...Het jul gesien,
CADAC het so 'n lieflike gietyster broodpan-potjie? 
Buitengewone mense oorleef buitengewone
omstandighede,
en hulle word selfs méér buitengewoon
as gevolg daarvan. - Robertson Davies -
20 November.
Dagsê Lesers!
Sit 'n plank onder die son, sê my vriendin nou die dag, die dae hardloop onder ons uit!
Ek beaam dit. Ek berou dit. Ek wens
vir langer son gevulde dae waarop ek meer kan inkry as wat ek doen.
Ek wens vir dae waarop ek vir meer vriende kan Dag sê,
en vir meer kan Dankie sê,
en vir meer kan vertel hoe spesiaal hul my lewe maak.
En tog, jubel ek in dankbaarheid omdat
, hoe kort die dae wel soms mag voel,
dit steeds in die Palm van Sy Hand veilig is.
Het ons nie almal iewers 'n naamgenoot
of dubbelganger nie?
Nou hoe wonderlik is dit dat ek 'n naamgenoot het wat ook met kos en lekker dinge te doen het!
In die tydskrif : Weg, het my naamgenoot hierdie Mieliebrood resep
gepubliseer. Probeer dit gerus!
Jy benodig
3koppies bevrore pitmielies (of
vars en rou afgesny van die stronk en gemaal )
425g geroomde suikermielies ( ek het
dit ook al uitgelaat en die pitmielies met 1 ½ kp + 2 Etl
kondensmelk vermeerder )
4 ekstra groot eiers
50ml olie
100ml suiker
125ml melk
250ml semolina ( ek het dit uitgelaat
en my koekmeel met 'n koppie vermeerder!)
100ml koekmeelblom
2,5ml sout
15ml bakpoeier ( as jy bruismeel gebruik
i.p.v. koekmeel, laat bakpoeier weg )
Só maak jy:
Berei
12 mini-broodpannetjies of 2 23cm X 14cm broodpannetjies voor.
Spuit met kos-sproei en voer die
pannetjies se bome met bakpapier uit.
Meet 3 koppies (750 ml) bevrore pitmielies af en laat ontdooi.
Versap dan in `n voedselverwerker tot nog
effens grof.
In `n groterige mengbak, plaas die inhoud van `n blikkie 425g geroomde suikermielies.
Meet die versapte pitmielies in dieselfde
blikkie af. Dit moet ongeveer 1 en een-derde blikkie vol wees.
Voeg by die suikermielies en roer deur.
Klits saam: 4 XG eiers 50 ml olie 100
ml suiker 125 ml melk Klits by die mieliemengsel
Meng in `n mengbakkie: 250 ml semolina 100 ml koekmeelblom
2,5 ml sout 15 ml bakpoeier
Roer by die mieliemengsel tot net vermeng.
Voorverhit oond by 180 grade C.
Skep ongeveer 2-3 lepelsvol beslag in elke klein pannetjie (ongeveer twee-derdes vol), of verdeel dit
tussen die
twee broodpannetjies.
Bak die mieliebrood by 180 grade C, vir 35-40 minute vir die klein pannetjies, en vir 50-55 minute
vir
die groter panne.
Verwyder uit die oond, laat ongeveer 5 minute afkoel. Maak die kante versigtig los en keer uit
op `n
draadrakkie.
Laat afkoel tot louwarm en smeer met botter.
Tradisioneel is snye gesmeerde mieliebrood
as `n ligte maaltyd bedien, met `n glas koue melk.
OF, Probeer my resep:
500 g bruismeel
1 blik room mielies OF 2 kp rou afgesnyde
gemaalde mielies + 2 Etl kondensmelk (opsioneel !)
2 eiers geklits
Knippie sout
500 ml karringmelk
/ melk wat met 1-2 Etl asyn of suurlemoensap suur gemaak is.
Meng alles. Bak tot goudbruin en gaar.
(Gaan loer ook in die argief daar is
nog soortgelyke watertand resepte!)
En nou eers weer 'n paar terugvoer antwoorde!
Wessel Kriek skryf:
Ek soek ʼn resep om ʼn varkboud te pekel en te rook.
Hoe
maak mens die pekel en hoe lank los ek die vleis in die pekel?
Sout en salpeter is jou aktiewe preserveermiddels.
Sout is jou bewarende middel maar dit
laat ook die vesels verhard.
Die bruinsuiker werk die verharding teë, maar dit is juis die sout wat die besonderse geur
aan
gepekelde vleis gee.
Die salpeter verleen die aantreklike pienk kleur aan soutvleis en hamme, en help ook met die
preservering daarvan.
Te veel salpeter verhard ook die vesels
en sal jou vleis taai maak, gebruik dus net die aanbevele
hoeveelheid.
By die droë metode, waar die lug
vogtig is, gebruik witsuiker, sodat die pekel mengsel nie skuim nie.
Jy kan speserye soos koljander, lourierblare naeltjies knoffel
en mosterdkorrels ook by die pekel mengsels
voeg vir ekstra geur.
Die water moet altyd vooraf eers gekook word, dit
voorkom bederf in jou pekelmengsel.
Pekel wat bederf is skuimerig en smetterig.
Houers vir pekel moet plastiek, hout, emalje of erdeware
wees, geen aluminium of ander metale nie.
Pekel wat met die metaal in aanraking kom reageer met verkleuring en bysmake.
'n Lang regop houer is die mees
geskikste,
dit kan 'n paar snitte bo op mekaar hou met 'n minimum vloeistof. Pekel balies van sement of asbes(Liefs
nie!!)
is in die handel te koop.
Jou pekel mengsel moet altyd koud wees. In warm klimaat kan jy dit selfs in 'n koelkamer
of in jou yskas pekel.
Gaan koop jou salpeter om jou pekel te maak by jou naaste slaghuis, apteek of Freddy Hirsch verskaffer, en
dan maak jy so:
NATPEKEL:
1 liter kookwater
500 g growwe sout
40 g salpeter
14 g swartpeperkorrels
310 ml bruinsuiker
1.5 tot 3 kg vleis
Ekstra sout
vir invryf voor die tyd.
Giet die water oor die sout, salpeter, peper en bruin suiker en laat afkoel.
Vryf die vleis goed in met die ekstra
sout en plaas dit dan in die koue pekeloplossing sodat dit heeltemal
bedek is.
Sit 'n bord op die vleis
met 'n gewig bo-op sodat dit die vleis heeltyd onder die pekeloplossing kan hou.
Laat die vleis 3-4 dae in die pekel
lê en draai die vleis net elke dag om.
Jy kan dit ook in 'n hout vaatjie doen.
DROOG PEKEL: ( is ietwat verouderde
proses en het heelwat massaverlies tot gevolg.)
90 ml sout
30 ml bruinsuiker
15 ml salpeter
10 ml koljander
3 kg vleis
Meng alles goed en vryf die vleis goed
in met die mengsel.
Laat dit drie dae(bedek met doekie)lê, en draai net elke dag om.
Was na die 3-4 dae die vleis deeglik
af en as dit lank in die pekel oplossing gelê het,
week dit vir 1 uur in vars koue water.
Sit die vleis in 'n diep kastrol, bedek
met koue water sodat oortollige sout onttrek kan word.
(Gooi water af of kook daarin, afhangende hoe sout jy dit
verkies)
Verhit stadig tot kookpunt en prut stadig tot vleis sag is.
35-40 minute vir elke 500g vleis.
Vir HAM, gebruik die volgende Pekel
resep :
30 ml salpeter
250 ml bruinsuiker
28 g koeksoda
9 tot 12 liter koue water
1 vars rou eier
Sowat 2 kg fyn sout
Roer salpeter, bruinsuiker en koeksoda
in koue water tot opgelos.
Gebruik hout of erde vaatjie, maar nie metaal houer nie.
Sit die heel, ongebreekte eier in die
dop, in die oplossing.
Voeg die sout bietjies-bietjies by en roer elke keer tot opgelos.
Hou aan om sout by te voeg en goed te roer tot die eier
bo op dryf.
(Jy doen dit om 'n versadigde oplossing te bereik, die eier is 'n uitstekende aanwyser daartoe,
daarom moet dit 'n vars eier wees, 'n
ouer eier sal nie in die versadigde sout oplossing dryf nie...
sien ek's amper Wetenskap onnie ook! )
Verwyder dan die eier, en plaas jou
varkboud of ham in die pekeloplossing,
hou onder die pekel vloeistof vir 3-5 WEKE.
Draai daagliks.
As jy dit in 'n vaatjie of emalje emmer
doen, mens kry by die slaghuise sulke "plastiek" nette waarin jy jou
vleis kan sit en dan hang jy dit daarmee
in die pekel dit vergemaklik die draai en hantering baie,
as dit "los" in die pekel hang hoef jy dit nie
te draai daagliks nie, sorg net dat dit altyd bedek is.
Hou die pekel dop, as dit skuimerig raak bo-op, haal vleis
uit, en maak vars pekel aan, sit vleis weer in
nuwe oplossing tot die 3-5 weke om is.
As die pekel proses klaar is, haal vleis
uit en hang dit oornag op om winddroog te raak.
Pers nou die vleis tussen 2 planke
met 'n swaar gewig daarop tot daar geen water meer uitkom nie.
Verf die oppervlak van jou ham met kommersiële
rookgeursel of berook dit in 'n beroker.
Indien die ham lank gebêre moet word, werk dit in moeselien of kaasdoek
sakkies toe, en hang op in
koel droë plek.
Spekvleis, word ook soos Ham gemaak, maar pekel dit net vir 3-4 DAE !
Jy kry ook kommersiële pekel mengsels
wat jou hele proses verkort dat jy jou vleis binne 7 ure na inspuiting
of 2 - 5 dae se lê al kan gebruik.
Die hele rookgeursel of beroking is
jou eie keuse en smaak, party hou van gerookte Ham ander nie.
Jy kan by die kampwinkels 'n CADAC beroker aanskaf
as jy nog nie een het nie, en dan volg jy net hul
aanwysings en pakkies saagsels...
As jy jou eie beroker wil maak, maak
jy so:
Maak 'n 100 liter drom goed skoon.
Verwyder die boom en deksel. Heg een of meer dwars stawe vas aan die binnekant
van die drom sowat
75 mm van bo af om die vleis aan te hang.
‘n ou fietswiel werk ook lekker, plaas die vleis op die speke en
laat sak die wiel dan af oor die rook en
hang dit met hakke oor die kante van die drom.
Die stawe kan vas gesweis of vas geskroef
word, of in gleuwe wat bo in gesny word, rus.
Bou nou 'n fondament waarop die
drom kan staan deur 'n dubbellaag stene opmekaar te stapel
(sonder sement as jy dit nie permanent
wil doen nie)
Laat 'n opening in die boonste laag waardeur die fyn saagsels aan die brand gesteek kan word.
Die lug deurvloei word beheer deur 'n
plank voor die opening.
Pak klam grond rondom , aan die buitekant van die bakstene, om die hele samestel lugdig te maak.
Bedek die boonste
opening met 'n plat plaat.
Dit kan gelig word om rook uit te laat deur twee 5mm plankies tussen die plaat en drom in te skuif.
As die drom dwarsgleuwe het waarop die
stawe rus behoort daar genoegsaam rook uit te gaan.
Die beste saagsels vir beroking kom van harde nie-harpuisagtige houtsoorte.
Jy kan pakkies saagsels vir
beroking in meeste supermarkte of slaghuise koop.
BLY WEG van TAMBOTIE, dit is giftig!
Bloekom, ook nie goed nie.
Eikehout, wingerd en vrugteboom saagsels is die beste.
Die saagsels moet baie droog wees anders
sal dit nie smeul nie.
Maak jou drom bo oop terwyl jy die vuur aansteek. Gooi saagsels onder in, 3,6 kg behoort genoeg te wees.
Frommel koerantpapier op en maak 'n
holte daarvoor in die saagsels. Steek dit aan die brand, wanneer dit
uitgebrand het, behoort die saagsels goed te smeul.
Sodra daar geen vlamme is nie en die
saagsels smeul, hang jy jou vleis in die rook oor die smeulende
saagsels, en maak jou drom toe.
Rook jou vleis tot dit 'n mooi egalige
goudbruin kleur verkry.
Vleis moet afkoel tot kamer temperatuur voor jy dit kan bêre.
Beroking is uiters effektief op koeler
dae, aangesien warm buite temperature maklike bederf kan meebring.
Voila!
Hoop jy geniet die proses!
Juanne-Marie vra:
Help asseblief, my wit wasgoed is grys. Weet nie of dit as gevolg van water of
verkeerde wasmiddels is nie.
Maar ek kry niks meer wit nie.
Hoop jy kan my help. Byvoorbaat dankie.
Ja dit is nogal 'n pyn! Ek het gevind dat water met baie minerale
in wel so 'n grys kleur kan veroorsaak,
dus party boorgat-water maak nogal so. Verder ook sekere wasgoed versag
middels. Veral as jy dit na die
tyd by jou afspoelwater voeg is party sintetiese stowwe veral geneig tot grysheid.
Sorg ook dat jy soms jou masjien met
'n leë siklus was om van neerslae ontslae te raak, dit dra by tot grys klere.
Ek kan 'n paar dinge voorstel, die gewone
hand-was SURF waspoeier met die gekleurde korrels is uitstekend
om die grys te breek, week jou klere vir 'n rukkie
of oornag daarin en was dan gewoonweg met die hand uit.
Of week alles oornag in 'n sterk oplossing van Engelse sout
of koeksoda en water.
Kies 'n versagmiddel wat nie blou is nie, en vir wit-goed los 'n blokkie outydse ROBIN blousel
op in jou
afspoelwater.
Suurlemoensap kan ook help om die wit terug te bring, spoel af in suurlemoenwater en hang in direkte
sonlig op.
Jy kan ook enige van die volgende by
jou laaste spoelwater voeg, om dit wit te hou:
Wit asyn , Suurlemoensap, Kremetart, koeksoda of Engelse sout !
Nylon bly veral
wit en sag indien bietjie kremetart by die afspoelwater gevoeg word.
Dettol hou jou klere sag en vars sonder versagmiddel.
As jy oorgeskakel het na die BIO-WASH
was balle met die keramiek stukkies in, het jy geen
waspoeier of versagmiddel nodig nie maar die eerste paar wasse tot
alle neerslae van chemiese middels
uitgewas is, sal effe grys wees tot alles weer mooi reg kom.
VANISH in die
pienk houertjies, wel dit werk regtig hoor!
SteriNappi is nie net vir baba doeke nie, dit speel ook klaar met grys
klere, was dit daarna met 'n ander
waspoeier, ek het gevind Bio-afbreekbare waspoeiers werk beter in koue water.
Van die water
gepraat, klere in 'n elektriese masjien wat met warm water was, is ook geneig tot grys word,
skakel oor
na 'n koue was siklus, dis GROEN en beter vir jou klere.
Nou ek hoop dit los jou probleem sommer gou spoel-spoel
op!
Rika West skryf : Beste Retha, waar kan mens 'n jogurt plantjie koop of verkry asseblief.
Ek het jare gelede een gehad wat gelyk
het soos 'n klein blomkool
maar dit het tot niet gegaan. Waarderend, Rika.
Beste Rika!
Jou vraag is die een vraag wat ek van
die begin af gevrees het!!
Ek weet presies waarvan jy praat, dit is iets waarna ek al jare ook bly soek maar nog steeds nie
weer kon
opspoor nie en ek seg van die begin af vir almal daar is een vraag wat ek nie sal kan beantwoord nie
en dis joune!!
Ek sal nie moed opgee om te kyk of ons
wel hierdie plantjie kan opspoor nie!
So hou moed ek sal aanhou soek!!
Cornie vd Merwe sê: Ek vra 'n
simpel vraag: Hoe kweek mens gemmer ?
Ek het 'n wortel wat mooi uitloop, wat nou ?? Kom dit in grond - buitekant
in 'n pot ??
Asseblief help.
Liewe lesers, Geen vraag is ooit simpel nie, dit weet jul
mos self!
Oe! En ek is self mal oor gemmer, stuur dadelik daardie wortel aan dat ek dit mag plant!! Helaas helaas !
SO MAAK MENS !
Gemmer (Zingiber officinale)
Is 'n meerjarige plant en
groei tot 3 voet hoog in die ou terme!
Dit benodig koelte en matige of gefiltreerde son, doen dus uitstekend
onder skadunet.
In rypvrye gebiede!
Gemmer hou van hoë humiditeit, hoë temperature en klam grond.
Die wortel wat jy het met "ogies"
op wat kan uitloop, oftewel stuk van die gemmer risoom of knol,
m.a.w. deel van die ondergrondse stam, word direk in die
grond
of in 'n baie ruim vlak pot geplant.
Wanneer die risome die pot vul, oes dit deur dit bloot uit te lig en te
verdeel.
In die grond, haal jy dit ook later uit soos wat jy patats sou uithaal.
Die gemmer blare is aantreklike loof
en dra rooi, geel en roomwit trosse blomme.
Mens kry ook die Hedychium sp. wat 'n gemmer lelie is en wat in vlak water
kan groei as waterplant,
maar dit is nie (sover ek weet) eetbaar nie,
die blomme is egter soortgelyk, geurig en treffend!
(Ons het dit
by ons binnenshuise water fontein in vlak grond gehad, en dit het dwarsdeur die jaar sy
loof behou
en dan lente en somer geblom.
Die koue by ons het egter nie baie mooi daarmee gewerk nie en dit het nie veel vermeerder nie.)
Hoop ek kon help!
As jy nie 'n poging aanwend
om te verkry wat jy graag wil hê nie,
sal jy dit nooit verkry nie.
As jy nie vra nie is die antwoord altyd, Nee.
As
jy nie 'n tree vorentoe neem nie, bly jy altyd op dieselfde plek!
-Nora Robberts-
13 November
Vrydag die 13'e !!
Dagsê Liewe Lesers!
Nou as jul my moes vra na die vreugdes
in my lewe, sal Appelkoostyd redelik hoog op die lysie verskyn!
Na die koue winter met sy eie bekoring, bars die appelkoosboord
uit in 'n baldadige bloeisel massa.
Dan word die boord ademloos groen
en word die vrug wat na die bestuiwing vorm vir 'n wyle
weggesteek soos 'n embrio, stil gekoester gedra,
voor dit aan die wêreld, rooiwang tussen groen blare uit basuin:
Kyk ek is hier, Kom Pluk my!
En so, met die tyd ryp, hang die vol uitgeswelde manjifieke appelkoos-oranje kleur kolle,
aan takke wat amper breek, swaar
vol gedra aan 'n volryp oes!
Pluktyd.
Vrouens met breë rand hoede, net so vrolik soos die rompe wat klok-swaai in die wind,
mans in oorpakke
wat singend teen lere op en af klouter,
mandjies, emmers, kratte vol geel-oranje-rooi vreugde.
... Asof in afwagting vra almal:
Gaan jy konfyt kook? Blatjang en piekels
maak? Jongemeisjes en Boerjonge inlê?
Ons praat nie eers van laat middag onder die bome jou staan
kry, pluk en eet, pluk en eet nie!
Appelkoos-maagtyd is verby, en nou bly net die uitgerekte lekker oor, van oranje stroop-sous wat
teen jou ken afdrup en ken-baard
maak, soos 'n melkdrink-snor jou verraai as jy kleintyd in die skuur
gaan warm melk loop bedel het!
Ja, gewis, appelkoostyd is een van die
vreugdes, baie naby aan die bopunt op my vreugdelys!
APPELKOOSKONFYT
2.5 kg afgespoelde, halveerde en ontpitte
appelkose
2.5 kg suiker.
LW: GEEN WATER !
Dan voeg ek ook by, maar dis opsioneel:
1 tl fyn gemmer
2 Etl suurlemoensap (dit lewer mooi
helder en ligte konfyt)
2 tl margarien (dit verhoed te veel skuim vorming)
Berei jou appelkose voor en gooi suiker
daaroor in 'n skottel. Laat oornag staan.
Roer goed deur en laat stadig opkook tot die suiker gesmelt is.
Kook dan vinnig en roer kort-kort totdat
konfyt soos lawa opkook.
Toets deur van die konfyt met 'n teelepel op 'n pierinkie te skep en dit te laat afkoel deur
dit in die
lug in "op te roer".
As dit loperig is, kook nog 'n rukkie, sodra die konfyt drupsgewys van
die teelepel in die piering drup,
is dit gereed vir bottel.
Bottel mooi vol sodat geen plek vir lug gelaat word in die
fles nie.
Laat heeltemal koud word voor jy dit verseël.
Party hou daarvan om 'n waspapiertjie wat in brandewyn gedoop
is, bo-op te plaas voor dit verseël word,
en party drup was daarop.
Dit voorkom dat kim of skimmel daarop
vorm.
Ekself, ag my gelukkig dat ek dit nooit eers doen nie, en my konfyt hou pragtig.
Ek dink die geheim lê daarin dat
ek my flesse baie vol maak en geen ruimte vir lug of suurstof laat nie,
want dit is die aanraking met die suurstof of kondensasie
vorming as jy te warm bottel wat dit laat bederf.
Verder eet my mense dit ook so vinnig op dat dit nie kans kry om kim te
vorm nie!
APPELKOOS PIEKELS.
My eige: "Mrs. No-Balls" ! Vir blatjang, gebruik ek dieselfde resep, ek maak dit
net met die
voedselverwerker fyn!
Onthou, ek woon op 'n plaas, ons het 'n hele appelkoosboord,
so ek werk met groot hoeveelhede.
Gebruik jou sakrekenaartjie en verminder dit ooreenkomstig jou behoeftes!
My maatbeker in hierdie geval is 'n
5 liter emmertjie !
Werk op die verhouding 1 uie : 3 vrugte
m.a.w.:
2 ½ liter uie gekap
7 ½ liter voorbereide vrugte
(gewas, ontpit, halveer)
500 g sultanas.
Kook uie, vrugte en sultanas in water tot net sag. NIE fyn nie. Dreineer
goed.
Voeg by :
2.5 kg suiker
1 Etl elk van : sout, growwe swart peper, rooi peper , rissies,
(ops.) geel kerrie poeier, gemmer, mosterd.
750 ml asyn
Kook alles oor matige hitte tot vrugte
glansend vertoon en sous verdik.
Indien jy dit bietjie dikker wil hê, voeg 200 ml meelblom
by, roer goed deur en bottel WARM.
Draai jou gebottelde fles dadelik om sodat die dekseltjie styf vassuig en dit die produk kan verseël.
Hou dit onderstebo tot koud voor jy
jou bottels omkeer, was en bêre!
BRUINASYN het meer smaak, maar lewer 'n donkerder resultaat, vir blatjang
is dit lekkerder,
maar vir piekels gebruik ek wit asyn.
Jy kan enige kombinasie vrugte gebruik na hartelus! Net een soort vrug
of sommer 'n hele verskeidenheid!
Geniet dit net !
Slegs lammers
is dankbaar genoeg
om geknield te drink.
11 November.
Dagsê Lesers
Dit is mos nou Somer wordend nie waar,
en sodra jul die laaste stuiptrekkings van die koue fronte
klaar trotseer het, maak dan gerus hierdie
heerlike VANILLA ROOMYS !!
Makliker en romeriger gaan jy nie kry nie! Die sleg van hierdie resep, behalwe dat dit ryk
is...
Jy sal dit weer en weer moet maak!
SO MAAK MENS:
2 blikke kondensmelk
1 l room
100 ml melk
knippie sout
15 ml vanilla
Klits die room styf.
Meng al die
ander bestandele liggies in.
Verkoel in vrieskas tot gestol.
Bedien.
Voila!!
Wees vol deernis vir jouself.
Ons is al so goed daarmee om onself
te kasty oor die simpelste dinge.
Leer om jouself te vergewe en beweeg aan!
-Louise Field-
10 November
Dagsê Lesers!
Na MEEL en DEEG voel ek egter hierdie
onderwerp is nog nie afgehandel as ek nie ook die
volgende wenke met julle deel nie!
(Gaan loer ook by die NUTTIGE INFO bladsy
vir meer !)
Droë KITSGIS : Dit is maklik om te gebruik aangesien dit die rysperiode verkort en dit nie
eers nodig is op dit op te los nie.
Geseëlde pakkies kan tot 18 maande
op 'n koel droë plek bewaar word.
KNIE : Dit is die belangrikste stap in brood en beskuitbak. Dit veroorsaak
dat die deeg elasties word
wat die deeg toelaat om goed te rys en te verseker dat die eindproduk sy vorm behou.
Bestrooi jou
hande en die oppervlakte met meel aan die begin, en begin aan die buitekant en werk
na die binnekant.
Gebruik die palm van jou hand om die
deeg herhaaldelik te vou. As die deeg taai raak, strooi bietjie
meel maar nie te veel nie.
Knie totdat die deeg elasties en
glad is sowat 10 minute!
RYS: Plaas jou deeg in 'n gesmeerde houer en bedek met kleefplastiek.
Ek het ook reeds hieroor ander wenke
gegee
gebruik wat jy vind vir jou help. Die rysperiode sal verskil van gebak tot gebak, maar rys die beste
in warm toestande.
Die deeg moet verdubbel in hoeveelheid
tydens die rysperiode, dan is dit reg.
Druk jou vinger daarin om te sien of dit klaar
gerys het, as dit genoeg gerys het sal
jou vinger se afdruk op die deeg agterbly.
AFKNIE : Nadat die deeg gerys het, keer dit op 'n meelbestrooide
oppervlak uit en knie
die deeg weer totdat dit so groot soos die oorspronklike grote is.
Dit sal die
gasborrels wat tydens die rysproses ontstaan het egalig deur die deeg versprei
en verseker dat die deeg 'n egalige
tekstuur kry wanneer dit gebak word. Knie die deeg af
deur jou kneukels herhaaldelik in die deeg te druk.
Daarna kan die deeg gevorm word soos
verkies in broodjies, bolletjies, vetkoeke, pizza basisse ens.
Brood en beskuit kan nou weer in die panne laat rys word
tot amper dubbel volume en dan gebak word,
of dadelik gebak word.
GLASERING: Dit beteken dat die bokant
van die gevormde brode met 'n glaseersel soos 'n
geklitste eier of melk gesmeer word.
Dit beskerm die kors en verbeter die
voorkoms van die brood.
BAK: Brood word gewoonlik teen 200ºC gebak.
Om te toets
of dit gaan is, klop teen die onderkant met jou kneukels.
As dit hol klink, is die brood gaar. Koel af op draadrakkie.
VRIES van brood : Draai toe in
kleefplastiek en vries sodra afgekoel, tot solank as drie maande.
Ontdooi brood teen kamertemperatuur of in mikrogolfoond.
En as jy nie lus is vir brood bak nie
maak dan eerder SKONS / BOTTERBROODJIES vir 'n ligte ete!
Gebruik:
240g bruismeel, 1 ml sout, 1 eier, 125
ml melk en 25 ml olie
Sif meel en sout saam. Klits eier, melk en olie saam. Voeg eiermengsel by meel, sny met mes deur
tot dit 'n deeg vorm.
Strooi meel op oppervlakte, druk deeg
met hand effe plat. Druk botterbroodjies met koekiedrukker uit en
plaas op gesmeerde bakplaat.
Smeer bietjie melk oor elkeen en bak
in voorverhitte oond op 180ºC vir 15 minute.
Bedien warm saam met kaas en konfyt en room...
OF
Vorm die deeg in 'n ovaalvorm en sit
dit op gesmeerde bakplaat.
Rasper kaas, sny sowat 6 snye ham in blokkies en kook 3 eiers hard.
Sit die ham, kaas en eiers en 'n hand
vol vars gekapte pietersielie bo-oor deeg.
Vou die kante van die deeg toe, tot 'n amper rol,
smeer met geklitste eier bo-oor en bak
15 minute teen 180ºC.
Sny dit warm in skywe voor.
(Vermelding
: SASKO, SNOWFLAKE en GOLDEN CLOUD.
Seg net ek doen nie mooi navorsing vir julle nie!!)
Geluk is wanneer dit wat jy dink,
wat jy sê en wat jy doen, in harmonie is.
-Ghandi-
9 November
Dagsê Lesers!
Ek skeep jul nie af nie!! IS nie!
Die Bo-Karoo het reën gekry!
Behalwe dat
ek, baldadig soos 'n kind deur modderplasse gespeel en rysmiere op gejaag het totdat
hul vlerkies so girts-girts teen my wange skuur, was die seine bietjie onkant en was my internet
konneksie hier teen ons aalwyn-kop,
effe swak...so vergewe die skrale "stilte"
!
Hmmm...laas was oor meel...
Onthou, hoe varser jou meel, hoe minder vloeistof is nodig,
hoe ouer die
meel : gebruik dan bietjie meer vloeistof!
Dit is verkieslik om standaard metrieke meettoerusting te gebruik
aangesien alle koppies en
eetlepels nie ewe groot is nie.
Of gebruik 'n omrekeningstabel waar nodig.
Om meel korrek af te meet, skep ongesifte
meelblom met 'n lepel in 'n maatkoppie sonder
om dit vas te druk.
Skud die koppie effens en maak dit gelyk
bo-op met 'n mes.
Sif dit 1 keer voor jy dit meng dit verseker 'n ligte resultaat.
Koekmeel, bruismeel witbroodmeel en
semolina word eers gesif en dan gemeng.
Bruinbroodmeel en volkoringmeel word gesif en die semels net weer daarna
terug gegooi.
Semels word nie gesif nie en netso gebruik!
ELIZE VILJOEN het geskryf: Hallo Retha,
Baie geluk met hierdie splinternuwe
baadjie wat jou werfie nou aangetrek het. Pragtig hoor.
Het jy dalk vir my raad om swart skoenmerke
en kolle van gepoleerde porselein teëls af te haal.
Asseblief en dankie!!!
Vriendelike groete
Hi Elize!
Dankie dat jy dink my nuwe baadjie is
ook mooi, dit is goed om te weet!
Ja, is daardie lastige swart merke nie genoeg om mens se dag te versuur nie!
Raad wat ek vir jou gekry het is :
1. Gebruik Domestos OF Brasso op 'n
stukkie staalwol en "skuur" die merk daarmee weg.
Poleer weer daarna soos gewoonlik.
2. Skoenpolitoer merke kan ook met brandspiritus,
metielalkohol of terpentyn verwyder word.
Hoop dit werk! Laat weet gerus! Anders soek ek net nog raad vir jou!
Rita skryf: Al weer ek!! Ek was nou
onlangs in Holland en wat baie opvallend was is dat hulle oral,
in die geskenkewinkels, koeibeeldjies het. Wat beteken
die koeie vir die Hollanders. Dankie vir jou tyd.
Groete uit die Namakwaland
Hi Rita!
Altyd lekker om van jou te hoor!
Ek het my Hollandse vriendin wat juis
sopas van Holland af terug is na 'n kuier by haar ma en familie daar,
gebel om uit te vind oor die koei beeldjies! Sy sê
dit is om geen noemenswaardige rede nie,
behalwe dat Holland bekend is vir sy Fries-beeste en hul "Lakenvelders",ook
'n swart ras met 'n spierwit
"laken" oor die rug area.Albei rasse is goed vir melk lewering en kaas maak, vandaar
ook
(met liefde en respek) die verwysings na die Hollanders as "Kaaskoppe"!
(...Rooinekke, Boere, Gatjieponders,
Doppers...)
So ek neem aan dis seker hoekom hulle baie beeldjies van koeie het!
Hoop dit stel
jou nuuskierigheid tevrede? Ek is net so, wil altyd die storie agter die storie ook ken!
Het jy darem
vir jou so 'n beeldjie aangeskaf? Wys foto toe!
Regina skryf: ek soek asb 'n lekker kolwyntjie resep. dankie
Wel Regina, SO MAAK MENS!
Kolwyntjies - Basiese resep:
Klits 125 g botter en 200 ml suiker
tot lig en romerig. Klits 5 ml vanielje en 2 ekstra groot eiers by.
Klits goed. Sif 500 ml meelblom, 10 ml bakpoeier en 'n
knippie sout goed saam.
Meet 160 ml melk af. Vou droë bestanddele beurtelings met melk by bottermengsel,
skep in papiervorms n bak teen 190ºC
vir 15 - 20 minute tot goudbruin en gaar.
Versiersel:
Verroom 125 g botter en klop 375 ml
versiersuiker daarby. Klits tot romerig en geur met vanielje.
Jy kan dit met koekkleursel kleur as jy wil.
Variasies:
1. Voeg 50 g gevlokte geroosterde amandels
en 3 ml amandel geursel by.
2. Vervang melk in basiese resep met 1 ¾ blikkie grenadella pulp...
3. Vervang melk met vars uitgedrukte
lemoensap en vou gerasperde skil van 1 lemoen by beslag in...
4.Roer ½ kp klapper by versiersel...
Tina van der Merwe skryf: My man is ʼn diabeet en ek wil graag
n resep kry om suikervrye konfyt en
lae Gi beskuit te maak.
Liewe Tina, gaan loer gerus by vorige
datums rond, daar is dalk ook iets wat jy kan gebruik!
Daar is hoeka iets oor konfyt!
Onthou gerus die volgende, en weet maar
jy sal bietjie moet eksperimenteer!
Lees altyd jou etikette, lae suiker goed het bygevoegde vette, en lae vet goed het bygevoegde
suikers!
Indien ‘n versoeter ‘n bitter of metaal smaak nasmaak het eksperimenteer met ander tot jy die
beste een vind!
Of gebruik ‘n kombinasie.Ek het
Natreen vloeibaar as baie goed ervaar so ver en Huletts se nuwe Sugalite
werk ook goed.
Siklamaat en sakkarien is ideaal vir
geregte soos crème bruleé wat nie te hoë temperature benodig nie,
hoë temperature maak die eindresultaat
bitter so voeg dit eerder na gaarmaaktyd by, veral by vrugte geregte.
En onthou lae GI kosse en hoë vesel kosse is ideaal!
Dadels, dadels
dadels...het ek gesê dadels?
(Dis soet,dis gesond, in matige hoeveelhede natuurlik, maar het ek genoem dis gesond?..)
Vir jou het ek egter ook die volgende:
(Uit Eet Gesond vir die lekker, deur
Pat Barton en Magdaleen van Wyk)
Volkoring Karringmelkbeskuit.(400kj per porsie)
1 kg ongesifte volkoringmeel
250 g meelblom
10 ml bakpoeier
10 ml koeksoda
10 ml kremetart
10 ml sout
250 g margarien en 250 ml Canola olie
125 ml korente
2 eiers
500 ml vetvrye karringmelk (gebruik
Elite melkpoeier + 1 Etl suurlemoensap)
Voorverhit oond tot 190 ºC
Meng al die droë bestanddele, in
groot mengbak. Vryf margarien in tot dit soos fyn krummels lyk.
Voeg korente by.
Klits eiers, melk en olie saam. Meng
by meelmengsel om stywe deeg te maak.
Vorm in balletjies of in gesmeerde broodpannetjies, bak 45 minute lank.
Keer uit.
Laat afkoel, breek los of sny in beskuitjies, droog uit.
Muffins (280 kj per porsie)
200 ml volkoringmeel
250 ml meelblom
25 ml bakpoeier
2 ml sout
125 ml vetvrye melk
1 eier goed geklits
75 ml Canola
olie
65 ml heuning
Oond 200ºC
Meng droë bestandele. Meng olie, melk, eier en heuning saam en voeg by droë bestandele.
Roer tot net deur aangeklam. Maak muffin
panne 2/3 vol en bak 20 minute tot goudbruin en veerkragtig
onder aanraking.
Bedien koud of warm...
Voila!
...Nou ja, laas was oor meel...Nou, MEER oor DEEG !
BROOD DEEG
vir brode, vetkoek, oliebolle, pizzas...
[...ja ek weet, van hierdie was al geplaas...maar
ter wille van volledigheid, vergun my dit weer!]
Vir Basiese Brooddeeg
Gebruik :4 kp meel, 10g (1 pakkie) kitsgis, 7.5 ml sout,
375 - 500 ml louwarm water, 2 tl suiker
Meng droë bestanddele. Gooi water bietjie bietjie by en meng tot
hanteerbare deeg.
Knie vir so 10 minute op meelbestrooide oppervlakte tot glad en elasties. Smeer jou hande met olie
dit
werk makliker.
Sit deeg in skoon bak wat liggies met olie gesmeer is, smeer deeg bo-op ook liggies sodat dit nie uitdroog nie,
maak toe en sit op warm plek om te rys
tot dubbel die grote. Moenie afknie nie. Sit in pannetjies en
bak ¾ uur @ 180 ºC
WITSOUS
(Ja dis ook
‘n deeg!)Jy kry 3 diktes, dun witsous vir basis in romerige sop,
matige dikte vir bedeksouse en dik witsous
as bindmiddel vir bv krokette.
Die dikte word bepaal deur die hoeveelheid botter en meel wat jy gebruik.
Vir dun witsous gebruik 15 ml botter, 15 ml koekmeel
en 200 ml melk.
Vir matig, gebruik 25 ml botter, 25 ml koekmeel
en 200 ml melk.
Vir dik gebruik 50 ml botter, 50 ml koekmeel
en 200 ml melk.
Smelt botter in kastrol oor lae hitte.
Roer meel vinnig by om klonte te voorkom.
Roer melk stadig by, roer aanhoudend en kook 3-5 minute lank oor matige
hitte tot glad,
verlangde dikte en gaar.
BROS-KORS-DEEG
amper krummelrig - 'n tertdeeg wat vir so te sê
enigiets perfek is,
pasteie, terte, flans, kluitjies, toe-tertjies...Die verhouding is 'n halwe deel smeer tot een deel meelblom.
Gebruik : 240g meelblom, knypie sout,
120 g smeer, 5 ml koue water vir elke 30 g meelblom
Sif meel en sout saam, sny smeer in, vryf liggies in meel in totdat die
soos broodkrummels lyk.
Voeg water by om ferm deeg te vorm.
Vorm in bol Plaas op effens bestrooide meeloppervlakte knie
liggies tot geen barsies meer vorm nie.
WARMWATER-KORS-DEEG
Vorm die deeg terwyl dit nog warm is,
dit verstewig terwyl dit afkoel. Veral geskik vir hoë pasteie.
Varkvet word as smeer gebruik.
Gebruik: 90 g varkvet, 65 ml water,240
g meel en 2.5 ml sout
Verhit vet en water in kastrol tot vet gesmelt is. Sif meel en sout,
maak holte in middel en gooi kokende
vloeistof alles gelyk by. Meng met houtlepel tot koud genoeg
om te hanteer,vorm dan in 'n bol,
knie liggies en gebruik onmiddellik.
FRANSE FLANDEEG
Dis 'n ryk soet brosdeeg ideaal
vir spesiale flans, tertjies en enigiets met 'n beskuitjiebasis.
Gebruik: 120 g meelblom, knypie sout,
60 g sagte botter, 2 eiergele, 60 g strooisuiker.
Sif meel en sout op werksoppervlakte. Maak holte in middel en voeg sagte
botter, eiergele en suiker by.
Meng botter, suiker, eiergele met een hand saam en werk meel met mes in ander hand by.
Wanneer dit
deeg vorm, knie liggies tot barsies verdwyn. Draai in plastieksak toe en verkoel halfuur
voor gebruik.
CHOUXDEEG
Dit is 'n ligte fyn deeg wat oprys
om 'n omhulsel vir menige soet en sout vulsels te vorm.
Ideaal vir poffertjies!
( Skep lepelsvol op bakplaat en bak,
vir 10 minute op 190ºC,
verhoog temperatuur dan na 200ºC en bak nog 10 minute tot opgepof en goudbruin ,
sny eenkant oop om stoom te laat ontsnap,
plaas weer in oond om uit te droog
as verkies of laat gewoon afkoel ,
vul met vla of room en bedruip met gesmelte sjokolade en strooisel versiersuiker!)
Gebruik : 75g meelblom, knypie sout,
30 g margarien, 145 ml water, 2 eiers geklits
OF : 110g meelblom, knypie sout, 90 g margarien 187.5 ml water
en 3 eiers geklits.
Sif meel en sout saam. Verhit margarien en water in kastrol tot margarien gesmelt is.
Laat opkook en verwyder van hitte. Voeg
meel en sout alles op een slag by in kastrol,
en klop baie goed
met houtlepel om stywe pasta deeg bol te vorm wat nie meer aan kante vaskleef nie.
Laat effens afkoel.
Klits eiers geleidelik by en klop goed
na elke byvoeging totdat mengsel glad en glansend is en vorm behou.
NIERVETDEEG
Die deeg het 'n ligte vlokkige
tekstuur en is ideaal vir soet of soutige poedings wat gekook of gestoom word,
kluitjies, en gebakte bokors pasteie.
Gebruik : 240 g bruismeel, knypie sout,
120 g gerasperde vet of botter, 12.5 ml koue water vir
elke 30 g meel.
Sif meel en sout saam. Gebruik rondelemmes
en roer-sny deur mengsel om sagte nie-klewerige deeg te vorm.
Vorm in bol.
Keer uit op effe meelbestrooide oppervlakte
en knie liggies. Skep lepelsvol bo-op vrugte of groente of
bo-op stowe vleis.
RU-SKILFERDEEG
makliker variasie as skilferdeeg. Heerlik
vir een-kors pasteie, handtertjies, pasteitjies, roomskywe..
Gebruik : 180 g botter, 240 g meelblom, knypie sout,
50 ml yswater, 1 ml suurlemoensap
Sny koue smeer in klein blokkies. Sif meel en sout in bak.
Voeg smeer,
water en suurlemoensap by druk mengsel aanmekaar, maar moenie smeer opbreek nie.
Plaas op meel bestrooide oppervlak.
Fatsoeneer in baksteenvorm en rol in langwerpige stuk uit.
Vou boonste een derder van deeg om en onderste een erde
bo-oor hierdie deel.
Verseël kante met rolstok. Half-draai deeg. Herhaal proses 3 keer. Verkoel. Gebruik.
SKILFERDEEG
maak net soos hierbo aan maar,
Gebruik 240 g meelblom, 240 g botter
120 ml yswater en 5 ml suurlemoensap
VLOKKIGE BLAARDEEG
Gebruik : 180
g botter, 240g meelblom, knypie sout en 100 ml koue water
KITSBLAARDEEG
(worsrolletjies en vleispasteie)
Gebruik : 360 g meelblom, knypie sout,
240 g harde botter gerasper, 125 ml koue water.
Sif meel en sout saam in mengbak. Voeg grof gerasperde botter by ,
(sprinkel meel
oor rasper terwyl botter gerasper word om te keer dat botter vasklou)
Meng goed deur met slaplemmes- nie vingers nie! (anders
smelt botter)
Voeg water by, deeg is bietjie sagter as brosdeeg, draai in kleefplastiek toe laat rus in yskas vir halfuur.
QUICHE-TERTDEEG
ligte lekker bros deeg vir vlak soet
en sout terte en kan lank voor die tyd gebak word.
Hanteer tertdeeg so min moontlik, en lig met die rolstok op.
Moenie deeg
rek of trek nie, laat liggies in pan lê en prik en bak blind. Plaas lagie waspapier oor deeg.
Gooi lagie droë bone daarop en
bak in oond tot gaar,
verwyder papier en bone uit en laat effe afkoel voordat vulsel ingesit word en weer gebak word tot vulsel
gestol het.
Jy kan die
gaar tertdoppe bêre of vries of ook die rou tertkorse direk met vulsel vul en bak.
Gebruik : 200 g meelblom, knypie sout,
100g botter, 45 ml koue water OF 1 eiergeel en 25 ml water
Sif meel en sout saam. Sny botter in blokkies en vryf by
meel in. Meng koue water OF eiergeel en water,
liggies met vurk in tot mengsel egalig klam is, trek mengsel met vingers
na mekaar om growwe deeg te vorm,
keer uit op meelbestrooide oppervlak en knie liggies tot gladde deeg.
Vorm in bal, bedek met plastieksakkie
en laat halfuur rus. Gebruik
OLIETERTDEEG
Gebruik : 180 g meelblom, 3 ml sout, 125 ml olie,25 ml melk
Sif droë bestanddele, maak holte
in middel en voeg olie en melk in holte.
Meng met mes in en smeer in kolwyntjiepanne, vul met vulsels, en bak.
Ideaal vir klein kits-pizzatjies.
KOOKWATERDEEG
Rasper 500g botter en mengbak, giet
250 ml kookwater oor botter. Roer tot gesmelt.
Sif 500 g meelblom en 5 ml sout by mengsel.
Meng goed en plaas oornag in yskas.
Rol uit en gebruik.
BESLAGDEEG
Dit is 'n gladde loperige deeg, soos vir pannekoek, wafels , gedoopte groente of uie-ringe...
BESLAG vir UIE-RINGE
Gebruik : 120
g koekmeel, 5 ml bakpoeier, 1 ml sout, 12.5 ml gesmelte botter, 1 eier geklits, 250 ml melk
Sif droë bestanddele saam, smelt
eers botter en meet dit dan af, voeg nou gesmelte botter,
eier en melk by en klits met elektriese menger tot gladde
loperige deeg of beslag.
Dan kry ons nog,
KAASTERTDEEG, SUURROOMTERTDEEG , ROOMTERTDEEG,
MIELIEBLOMDEEG en vele meer!
Maar ek volstaan hiermee, vra gerus as jy nog iets wil probeer!
'n Paar interessante wenke:
1. Wanneer jy tertdeeg aanmaak, maak
genoeg vir 'n paar terte of pasteie,
in foelie toegedraai kan die deeg tot
'n week in die yskas hou! Of vries dit!
2. Stapel deegsirkels, met waspapier
tussen in, opmekaar en vries vir 1 uur lank oop.
Draai dit dan daarna toe, merk
en vries.
Ontdooi later vir 30 minute teen kamertemperatuur voor gebruik dit sal
maklik van mekaar afkom.
3. Om deeg papierdun uit te rol, sit vel plastiek op skoon
tafelblad. Stryk glad en plaas deeg daarop.
Sit nog 'n vel plastiek bo-oor en rol
dan uit! Verwyder plastiek sodra jy tevrede is!
4. Deeg wat in yskas gerus het voor
jy dit begin uitrol, rol makliker uit en breek nie so maklik nie.
5. As te veel vloeistof by tertdeeg gevoeg word, word dit taai. Moet dit ook nie teveel hanteer
voor jy dit bak nie.
6. Om uitrol te vergemaklik, onthou om die oppervlakte en
rolstok liggies net meel te bestuif.
7. As jy vlapoeier oor jou uitrol plank
strooi sal jou gebak 'n mooi bruin kleur verkry!
8. Onthou dat deeg in die gaarmaakproses
krimp, sorg dus dat daar genoeg deeg in middel van bak is,
en dat kante
goed vasgedruk is. Jy kan dit ook 5 minute laat staan voor jy die randjie voltooi of
eers blind bak.
9. 'n Paar druppels suurlemoensap by
enige deeg sal die tekstuur verbeter.
10. Moenie oorskiet mieliepap weggooi
nie !
Dit kan met 'n klontjie botter gemeng word en met 'n lepel in 'n
tertbord vasgedruk word,
as lekker alternatiewe tertdeeg vir sout vulsels!
Maklike paaie lewer nie bevoegde bestuurders
op nie.
Kalm waters lei nie goeie stuurmanne op nie. Die beste loodse het ook storms nodig.
'n Probleemvrye lewe maak nie
van jou 'n sterk persoon nie.
Lewens krisisse bou karakter.
Wees daarom sterk genoeg om die uitdagings van die
lewe te aanvaar.
Vra nie aan die lewe: Waarom ek? nie! Sê eerder : Probeer my!
-Anoniem-
1 November
Beste Lesers!
Algemene inligting
oor meel.
Vir die gesoute baksters onder ons, ou nuus, maar vir die jongeres dalk
nie!
En glo my, ek is ook nie te oud om elke dag iets nuuts te leer nie!
Dit bly 'n voorreg om hierdie rubriek-fragmente vir julle bymekaar te maak!
KORING is een van die wêreld se
belangrikste voedselbronne.
Die voedingstowwe wat daarin voorkom is, is koolhidrate,
proteïne, lipides, minerale en vitamines.
Dit word alles geberg in die koringkorrel wat bestaan uit die
SEMELS : die buitenste dop wat verwyder
word om suiwer meelblom te produseer.
Dit bevat baie ruvesel en minerale, bevorder goeie spysverteing en voorkom
hardlywigheid.
ENDOSPERM is die bruikbare binneste deel van die koringkorrel.
Dit word van die semels geskei
en tot poeier gemaal om die meelblom te verkry,
belangrike bron van stysel en verskaf hitte en energie.
KORINGKIEM, waaruit die nuwe koringplant
ontwikkel,
word normaalweg verwyder want die hoë vetinhoud het 'n nadelige uitwerking wanneer meelblom
gemaal word,
en berg die bergtyd daarvan- daarom
word koringkiem in die yskas geberg anders word dit galsterig.
KOEKMEEL is 'n fyn, wit meel en is ideaal vir fyngebak
soos pasteie, croissants, soetgebak soos
sponskoeke,muffins en ligte gesuurde produkte met 'n fyn tekstuur
soos rolletjies en oliebolle.
Dit bevat baie proteïen, (gluten) is ongebleik en bevat geen bymiddels nie.
Dit is die gluten in meel wat die mengsel
bind.
WITBROODMEEL is 'n roomwit meel en is ideaal vir gesuurde broodprodukte,
en kan selfs as plaasvervanger
vir koekmeel gebruik word in byvoorbeeld tertbeslag of klein koekies.
BRUINBROODMEEL is 'n veselryke, ligbruin, growwe meel
en is ideaal vir gesuurde bruinbroodprodukte.
BRUISMEEL is 'n baie fyn, wit meelmengsel wat uit koekmeel en bakpoeier
bestaan.
Ideaal vir vinnige maklike gebak soos pannekoek, muffins, sodabrood, skons en beskuit.
As jy bruismeel benodig, sif 250 ml
koekmeelblom en 5 ml bakpoeier saam om 250 ml bruismeel te verkry.
SEMELRYKE BRUISMEEL is 'n growwe, ligte meelmengsel
bestaande uit koekmeel,
uitgesoekte koringsemels en bakpoeier. Ideaal vir semelryke variasies van vinnige maklike gebak
soos muffins,
sodabrood, skons en beskuit. Om jou eie te maak, voeg 5 ml bakpoeier by elke 250 ml gewone volkoringmeel.
Sif dit 'n paar keer voor
gebruik.
VOLGRAANSEMELS is grof, bruin en veselryk en is ideaal om die veselinhoud van gebak soos brood,
rolletjies,
muffins en beskuit te verhoog.
VOLKORINGMEEL (Nutty Wheat) is witbroodmeel waarby ongeveer 20 % growwe koringsemels bygevoeg is.
Dit is die gesondste tipes van alle
meel want dit bevat 'n hoë persentasie ruvesel.
Omdat dit ook koringkiem bevat ,bevat dit ook olie daarom
dat dit nie so lank geberg kan word nie,
koop dus soos nodig of berg in yskas.
Gebakte produkte hiermee sal effens
swaarder wees en as jy ligter tekstuur verlang,
vervang die helfte van die volkoringmeel met koekmeel of witbroodmeel.
STAMPKORING
is baie grof en word gemaak deur uitgesoekte harde koring te maal.
Ideaal om gesuurde broodprodukte of ander gebak soos muffins
en beskuit bros te maak.
SEMOLINA is ook 'n suiwer koringproduk in korrelvorm en word kommersieel gebruik om spaghetti
en noedels te maak.
Ook ideaal vir ontbytpap en nageregte.
BEWARING van meelprodukte:
MEEL kan 3-8 maande in ideale omstandighede
bewaar word en sowat 1 jaar lank in die vrieskas
bewaar word.
'n Lourierblaar of 'n stukkie kers sal kalanders weghou.
Meeste produkte
kan nog 6-8 maande na die vervaldatum op die pak met gemoedsrus gebruik word.
Meel wat in vrieskas bewaar is, moet vir 1 uur by kamertemperatuur staan alvorens jy dit gebruik.
Dit was meer oor MEEL volgende keer: oor DEEG!
Don Miguel Ruiz het gesê
:
Niks
wat ander mense doen, is as gevolg van jou nie.
Wat ander sê of doen is 'n projeksie van hul eie realiteit, hul eie
droom.
Wanneer jy immuun raak teen die opinies en aksies van ander,
bevry jy jouself van die slagoffer-wees-mentaliteit
van onnodige binne-wroeg en lyding.