....Só MAAK MENS !

Tuinhoek!

VANDAG se MAAN

MAANSTAND TERMINOLOGIE:

WANING GIBBOUS = Afnemende of Dalende bol / halfmaan

WAXING GIBBOUS = Toenemende of Groeiende bol / halfmaan 

GIBBOUS = (Byvoeglike Naamwoord -in Engels!!) (van die maan) wat lui: "more than half but less than fully illuminated" !! Seg ek jou!

CRESENT = Sekelmaan 

FIRST QUARTER = Eerste Kwartier

LAST QUARTER = Laaste of Vierde Kwartier. 

LW: DIE STAND VAN DIE MAAN HIERBO, IS VOLGENS DIE SUIDELIKE HEMISFEER! Die een op ONSDORP se TUISBLAD is volgens die NOORDELIKE HEMISFEER. Oulik nê! 

HOE PLANT ONS VOLGENS DIE MAAN?? 

KORTLIKS: Met NUWE of DONKER MAAN, is daar verhoogde wortel groei, dus 'n goeie tyd om bo-gronds draende minderjarige plante en groente te plant, bv. boontjies, spinasie,tamaties...

Dus goeie algemene ploeg en plant tyd. Meeste grondvog kom nou by die sade vir ontkieming, en grasperke moet nou gesny word vir verbeterde groei.

Met die EEERSTE KWARTIER, is daar toenemende blaar groei en dus steeds 'n goeie tyd vir plant en verplant!

2 Dae voor VOLMAAN is die heel beste tyd om enigiets te plant!

VOOR VOLMAAN, gaan die energie dus na ontkieming, sade en blare.

Met VOLMAAN is alles in balans tussen blaar en wortel groei, plant dus enigiets!

Dit is egter ook nou die draaipunt en na VOLMAAN tot met LAASTE KWARTIER gaan die energie na die wortel gewasse, plant hierna dus enige minderjarige ondergronds draende plante, bv wortels, patats...

Met LAASTE KWARTIER is dit 'n rusfase waarin nóg blaargewasse nóg wortelgewasse baie aktief is. Doen in hierdie paar dae dus onderhoudswerk, pesbestryding, snoeiwerrk vermeerdering van plante en oes-werk vir droog van kruie ens.

My Oupa het dit saamgevat en gesê: Soos die maan groei, voor Volmaan, plant jy als wat bo die grond dra, soos die maan daal na Volmaan, plant jy alles wat onder die grond dra, en met Donkermaan rus jy bietjie! 

Met Sekelmaan, kyk jy: hang hy met sy onderste punt na bo, dan skep die maan nog en kom min reën, hang die sekel na onder dan gooi die maan, dan kan jy reën verwag! 

En met Volmaan, kyk jy op 'n afgespreekte tyd in die maan, en daar in die maan, sal jou en jou geliefdes wat van anderplek af kyk, se blik, mekaar ontmoet!

Dus, as dit weer volmaan is, op 'n gegewe tyd, al is jy en jou geliefdes nie in vlees bymekaar nie, laat jul oë daar ontmoet en kyk na mekaar, in die maan!

En die res van die tyd?

PLANT, Vriend en Vriendin, PLANT!

 ...Blomme laat hul geur na op die hand wat hulle gee!

 

TUINGIDS 

(Verwerk en aangepas uit o.a. Tuinmaak in Suid-Afrika deur die jaar -Marianne Alexander, sien Kopiereg kennisgewing aan einde hiervan.) 

JANUARIE - met sy lang sonnige dae word beskou as midsomer. Dit is wanneer die laaste vroegsomers kleur van beddingplante, jaarplante,

struike en rankplante wyk voor die geharde helderkleurige somerblomme en loofplante wat die hitte kan weerstaan en die tuin tot in die herfs kan deursien.

AMPER ORALS WENKE:

1. Saai saad: Skildblomme, Sweet Williams, Klokkieblomme, Cinerarias en Primulas.

2. Berei grond voor vir pronkertjies ( ou mis, kompos en 'n  bietjie kalk)

3. Nuwe rose kan aangeplant word. Bestaande rose kan netjies gesnoei word.

4. Haal swaardleliebolle uit wat klaar geblom het en bêre.

5. Maak steggies van malvas.

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Sny Acalypta-struike netjies om kleurryke nuwe groei te stimuleer. Verwyder die blomare van krotons.

Knyp die groeipunte van pointsetias uit vir bosagtige, blomryke plante en groei.

Saai soetrissies, eiervrug, en tamaties.

WINTERREëN

Vervang afgeleefde beddingplante met hittebestande variëteite soos afrikaners, beddingdahlias, Gomphrena, Vinca en Portulacas.

Saai brocholli, blomkool, kopkool, brussels in saadkissies.

Maak klein aanplantings van geelwortels, beet, radyse, en hittebestande blaarslaai.

Saai laaste jong murg pampoentjies, bone, vir oes op jong stadium.

RYP GEBIEDE

Begin saad van beddingplante wat in die winter en lente blom soos Primula, Cineraria, yslandpapawers, somerviooltjies en gesiggies, asook meer en tweejariges soos vingerhoedjies en akelei in saadkissies saai. Plaas die houers in koel skaduryke deel van tuin.

Saai koolsoorte in saadkissies.

Plant saailinge van spinasie, beet en blaarslaai en 'n  paar rye geelwortels, preie, rape of witwortels.

Plant laaste stambone.

SOMERREëN

Swaar reëns kan grond wegspoel of laat vaspak; maak liggies met vurk los en bedek met los deklaag.

Vir groente, Plant en doen soos in ryp gebied.

Komkommers en beet kan nog in die warmer dele van die Oos-Kaap geplant word.

FEBRUARIE het baie tuinwerk, maar moenie vergeet om jou tuin te geniet nie!

Veral die lang soel Somersaande. Met die oog hierop, plant genoeg welriekende plante aan om jou in hierdie tye met 'n  siels-lafenis te verfris!

AMPER ORALS WENKE:

Saai saad: Vygies, Gesiggies, Violas, Pronkertjies, Ridderspore, Yslandse Papawers, Gousblomme en Delphiniums.

Plant bolplante : Affodille, Hiasinte, Tjienkerientjee, Anemone, Ranonkels, Freesias, Watsonias en Sparaxis.

Verdeel Agapanthus indien nodig.

Berei bedding voor vir 'n kruietuin.

Bestry miere wat nou baie aktief is.

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Sny geil plante terug, maak steggies van sagteblaarplante terwyl die weer warm en vogtig is en plant tropiese plante wat jy self gesaai het in potte.

Kyk of daar muskiete in die dammetjies, tussen die Kannablare, Strelitzias en ander grootblaar plante.

'n  Druppel paraffien of olie sal hulle weghou en niks aan die plante doen nie.

Saai soetrissies en eiervrug, mens kan nooit teveel hê nie!

Saai groentes wat gaan ontkiem sodra dit koeler begin raak, tamaties, blaarslaai, komkommers, beet, kopkool, spinasie, boontjies en pampoentjies.

WINTERREëN

Saai beddingplante wat in die winter en lente blom soos Primulas, Yslandpapawers, vilette...maar hou hul koel en klam.

Sny na einde van die maand die gras korter.

Hou kompos klam.

Plant klein hoeveelhede koolsoorte indien nog nodig.

Plant ook nog 'n  paar rye geelwortels en beet.

Plant saailinge van blaarslaai, spinasie en seldery uit.

RYP GEBIEDE

Verdeel sleutelblomme nou sodat hulle 'n  paar maande het om weer gevestig te raak.

Maak steggies van Pelargoniums, madeliefies en laventel, laat dit op beskutte plek oorwinter, om in die lente uitgeplant te kan word.

Verdeel waterlelies wat mekaar verdring.

Saai nog 'n  paar koolsoorte en die laaste stambone direk in die grond.

Saai uiesaad vir sprietuie

Plant jou beet, spinasie, pietersielie en blaarslaai saailinge uit. Geelwortels, preie,  rape en witwortels kan ook met saad gesaai word.

SOMERREëN

Ruim skades op na Haelstorms.

Spit Maartlelies wat mekaar verdring uit en verdeel. Plant dit weer met die kroon net bo die oppervlak.

Plant groente soos in Ryp gebiede.

MAART- Die Herskleurespel begin in helder rooi, geel en oranje tone orals in my tuin soos kwashale op 'n groen palet wys, en blare begin val en dwarrel in die ligte bries. Op my stappad begin eerste aalwynblomme se groen hofies kop uitsteek, nog 'n wyle dan begin die veld om my weer in vlamkleure leef! 

Die Somer is amper verby en met die skaduwees wat langer word, verwag ons koeler dae. Tuinwerk raak lekkerder en opruim van die Somerstuine 'n nuwe uitdaging en vreugde!

AMPER ORALS WENKE:

Saai Saad: Floksies, Gesiggies,Grasangeliere, Viooltjies, Sewejaartjies, Papawers, Namakwalandse Madeliefies.

Bolplante wat in Februarie nie geplant is nie kan nog geplant word.

Bestry slakke en rooispinnekop wat nou baie skade kan aanrig.

Begin jou Kruietuin!

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Snoei oorgroeide struike goed terug, bv:Tibouchina wat uitgeblom is (dit moet elke vier of vyf jaar kwaai gesnoei word). In hierdie streke groei beddingplante wat in die somer moet blom beter in die koel wintermaande; saai nou saad vir 'n mooi wintervertoning.Gewilde soorte sluit koringblomme, stokrose,Lavatera, gesiggies, papawers en strandviooltjies in.

Plant eiervrug, tamaties, soetrissies, spinasiebeet, komkommers en preie (ook 'n paar rye geelwortels en beet indien nodig.)Maak opvolg aanplantings van groente wat gou 'n opbrengslewer, soos blaarslaai.

WINTERREëN

Gebruik Kerb op grasperke wat die vorige jaar las gehad het van wintergras. Dit is 'n goeie tyd om struike in houers uit te plant sodat hulle 'n gesonde, sterk wortelstelsel kan ontwikkel in die warm, klam herfsgrond en gereed kan wees om te groei wanneer dit ná die winter warm word. Inheemse bolle soos freesias (kammetjies), Ixiaen Babiana kan aan die einde van die maand in los, goed gedreineerde grond geplant word, maar dit is raadsaam om tot April te wag voor jy bolle uit die noordelike halfrond plant.

Saai vir oulaas koolsoorte indien verlang. Dit is die beste planttyd vir saad van koelweergroente soos spinasiebeet, gewone spinasie, seldery, preie en witwortels. Maak verdere klein aanplantings van geelwortels, beet, rape en radyse sowel as pietersielie en blaarslaai.

RYP GEBIEDE

Hou op om plante te bemes.Maak steggies van rypgevoelige plante soos Begonias, Josefskleed,Plectranthusen Impatiens en beskut dit teen die koue. Gee grasperke 'n laaste bemesting. Grasperke wat bruin word ná ryp, kan oorgesaai word met ‘Kik-Over®', maar sal gereeld water moet kry.

Saai vir oulaas van jou gunstelingkoolsoorte. Saai spinasiebeet, gewone spinasie, seldery, preie en witwortels. Saai ook geelwortels, beet, rape en radyse, sowel as pietersielie en blaarslaai.

SOMERREëN

Tuiniers in warm streke moet onthou dat dit beter is om in die begin van April bolle te plant.

Groente : Soos by winterreën.

APRIL- Die Herskleurespel begin in helder rooi, geel en oranje tone orals in my tuin soos kwashale op 'n groen palet wys, en blare begin val en dwarrel in die ligte bries. Op my stappad begin eerste aalwynblomme se groen hofies kop uitsteek, nog 'n wyle dan begin die veld om my weer in vlamkleure leef! Ja, dit klink soos Februarie se inleiding... maar die boerbokke wat die  blare wat val begin optel en vreet, het bygekom!

Die Somer is amper verby en met die skaduwees wat langer word, verwag ons koeler dae. Tuinwerk raak lekkerder en opruim van die Somerstuine 'n nuwe uitdaging en vreugde!

AMPER ORALS WENKE:

Plant al die eenjarige plantjies wat in die Winter en Lente blom nou uit.

Alle meerjarige plante kan nou uitgehaal en verdeel word.

As die blombolle begin ontwikkel, kan 'n  ligte toediening van vloeistof bemesting een maal per week toegepas word.

Saai wat jy kan in die groentetuin vir die laatwinter.

Geniet die Herfskleure in jou tuin, dis stukke van die reënboog wat vir jou gegroei het!

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Maak grasperke nat indien die reën wegbly. Saai in koel weer anemone, ranonkels en

saadgrasse vir die koel seisoen, en plant freesias en petunias.

In hierdie warm streke kan meeste groente in die wintermaande gekweek word. Maak klein aanplantings van groente soos boontjies, blaarslaai, jongmurgpampoentjies en skorsiesoorte wat gou 'n opbrengs lewer. Saai groente wat lank moet groei, byvoorbeeld soetrissie, eiervrug, komkommer, tamatie, pietersielie en spinasiebeet, indien dit nie reeds in Maart gedoen is nie. Groente soos geelwortels, beet, rape, witwortels, uie en preie kan ook nou gesaai word.

WINTERREëN

Plant beddingplante vir die winter en lente uit en saai jaarplante soos weeskindertjies, strandviooltjies, Nemesia, somerviooltjies en Nigeria direk.

Plant orige bolle wat in die lente moet blom. As jy probleme met anemone ondervind, plant bolle in die kompartemente van saailinghouers en plant in die tuin uit wanneer die blare ontwikkel het. Gee fuchsias 'n herfssnoei - die nuwe groei gee hulle 'n voorsprong in die lente. Saai die eerste boerboontjies, preie, witwortels, ertjies en rape direk. Saai blaarslaai, radyse en beet asook een of twee rye geelwortels en kopkool, broccoli en

blomkool indien verlang. Hierdie maand kan daar ook spinasiebeet en gewone spinasie gesaai word.

RYP GEBIEDE

Gee grasperke met ‘All Seasons Evergreen®' en ‘Shade Over®' water.

Oorsaai grasperke doodryp om dit groen te hou. Gee rypgevoelige plante 'n deklaag. Laat begonias in 'n warm, beskutte plek oorwinter. Bedek rypgevoelige plante met 'n

‘fleece'-doek of beskerm hulle met tentjies van strooi, riete of going teen koue winde en ryp - maak elke oggend oop en bedek teen skemer. Verdeel Paeonia, Astilbe en Polianthe wat mekaar verdring. Saai nog preie, rape en uie. 'n Paar rye boerboontjies kan ook hierdie maand gesaai word indien nodig.

SOMERREëN

Maak nat as reën wegbly. Bemes aalwyne en vetplante wat blom vir 'n wintervertoning. Saai Nemesia, Namakwalandse madeliefies, strandviooltjies, en Kaliforniese papawers direk. Plant orige bolle wat in die lente moet blom en beddingplante - gebruik petunias vir winterkleur.

Saai ertjies en boerboontjies. Saai ook nog geelwortels, beet, preie, rape, witwortels,

radyse, kopkool, blomkool broccoli en blaarslaai direk.

MEI- My verjaarsdagmaand, my blydskapsmaand! 

Geniet jou eie Mei-Maand saam met my! 

AMPER ORALS WENKE:

Maak ekstra dekgras bymekaar en beskerm jong plante en bome teen komende ryp

Aronskelke blom nou en moet baie water en vloeibare misstof kry.

Strooi insekdoder tussen die blare van die Agapanthus en vuurpyle. Dit is slakke se gunsteling plekke om te oorwinter!

Begin snoei aan vrugtebome.

 Geniet die laaste Herfskleure in jou tuin, dis stukke van die reënboog wat vir jou afval en deur die wind op jou grasperk rondgewaai word!

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Warm winde kan tuine uitdroog; verstel outomatiese besproeiingstelsels daarvolgens. Plant hierdie maand anemoon- en ranonkelbolle, asook kappertjies en afrikaners vir vinnige kleur. Saai ertjies en boerbone aan die einde van die maand, saam

met aartappels en klein aanplantings van blaarslaaisaailinge.

Saai saad van boontjies, jongmurgpampoentjies en skorsies direk. Saai of plant saailinge van groente wat stadig ontwikkel soos kopkool, tamaties, komkommers, soetrissies, eiervrug, spinasiebeet, geelwortels, beet, rape en preie.

WINTERREëN

Bedek oop komposhope om hulle droog te hou. Spit bolle soos Galtonia, Liatris, Childanthus en Zephyrantes wat uit somerreënstreke afkomstig is uit, tensy

dit in goed gedreineerde grond

geplant is. Saai elke drie tot vier weke klein saaisels ertjies en boerbone

direk. Plant 'n paar rye geelwortels, preie, witwortels en rape, asook saad of

saailinge van blaarslaai, spinasie en kopkool.

RYP GEBIEDE

Gee beddingplante soggens vroeg water sodat hulle genoeg tyd het om droog te word en die gevaar van rypskade op koue nagte minder is. Sit deklae om rose en

ander gevoelige plante om die wortels te beskerm. Los droë blaargroei aan meerjariges as isolering teen ryp. Saai pronkertjies. Dit is ook 'n goeie tyd om geharde bome en struike uit te plant. Saai vroeg in die maand die laaste boerboontjies.

SOMERREëN

Maak inheemse plante van die winterreënstreek en Australiese plante soos Banksia-Melaleucaen Callistemon-soorte wat van winterreën hou, nat. Gee asaleas

en kamelias deklae en genoeg water sodat hul blomknoppe nie afval nie.

Plant ertjies en boerbone soos vir die winterreënstreek, asook blaarslaai, en saai vir die laaste keer uie.

JUNIE - Geniet jou WINTER, dis 'n tyd van refleksie, nabetragting, hergroepering, of hiberneer sommer net, en laat jou siel en liggaam saam met die seisoen rus!

AMPER ORALS WENKE:

Berei gate voor vir aanplant van roosbome, bome en struike.

Gee aandag aan tuinpaadjies, grasperke en rotstuine.

Plant wingerdstokke. Dis tyd om Rabarber, artisjokke, aspersies, radyse en preie te plant! Plant iets wat jy gewoonlik nie sou plant nie, kry Adams-Vy-lote by vriende en leg dit in, gaan koop daardie Kersie-, Lemmetjie- of Persimonboom!

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Gee rose minder water om 'n rusperiode aan te moedig. Saai boontjies, skorsies en jongmurgpampoentjies direk. Plant saailinge van kopkool, tamaties, komkommers, soetrissies, eiervrug, spinasiebeet, geelwortels, beet, rape en preie.

WINTERREëN

Let op na nat areas en verbeter dreinering waar moontlik. Deurlug deurweekte grond

met 'n klein vurk en voeg 'n eklaag by. Stut plante wat windgevoelig is teen stormsterk oordwestewinde. Plant ertjies, uiesaailinge en die laaste boerboontjies. Blaarslaai, radyse, rape, geelwortels en kopkool kan ook hierdie maand gesaai word.

RYP GEBIEDE

Gee soggens vroeg water.Isoleer krane en pype deur dit toe te draai en bêre tuinslange snags sodat die water daarin nie vries nie. As daar na 'n vrieskoue nag ryp op plante lê, moet jy hulle met koue water afspuit voor die son op hulle skyn. 'n Deklaag om meerjariges sal hulle teen rypskade beskerm. Saai die laaste boerboontjies in 'n warm, beskutte posisie.

SOMERREëN

Sorg dat plante uit Mediterreense streke wat by winterreën aangepas is, water kry. Gee asaleas, Rhododendron-struike en magnolias gereeld water. Saai weer ertjies. Plant blaarslaai in die Oos-Kaapse kusstreek.

JULIE- Geniet die laaste maand van die WINTER, dis Middel van die jaar! Snoeityd. Boomplantyd. Die laaste rustyd voor groeityd.

AMPER ORALS WENKE:

Plant, snoei klaar en spuit alle soort bladwisselende vrugtebome. Spuit met kalkswawel. Snoei rose en plant nuwes aan. Plant Strelitzias.

Gooi 'n  digte laag kompos om die primulas en sleutelblomme omdat hulle daarvan hou dat hul wortels koel en klam gehou word. Dit is nou die beste snoeityd vir meeste sierstruike. Verplant nou jou groter bome en plant nuwes aan. As jy 'n boom verplant merk Noord -Suid, en plant weer in dieselfde rigting. Gee voeding en genoegsaam water.

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Sny bougainvilleas in houers terug wanneer hulle klaar geblom het. Bemes met superfosfaat en 'n stikstofryke kunsmis. Wanneer die plant goed groei, gee minder water en bemes met kaliumryke kunsmis om blomvorming aan te moedig.

Maak 'n eerste aanplanting van suikermielies en plant nog

skorsies, komkommers, geelwortels, tamatie, soetrissies, eiervrug, blaarslaai en spinasiebeet.Plant die laaste beet.

WINTERREëN

Begin rose teen die einde van die maand snoei. Strooi gips oor swaar kleigrond sodat die reën dit kan inspoel. Plant die laaste ertjies. Saai blaarslaai en kopkool in kissies.

Plant geelwortels, rape en beet.

RYP GEBIEDE

Wag tot die einde van die maand of begin van Augustus om rose te snoei. Saai beddingplante wat in koue weer kan ontkiem (floksies, Alyssum, akelei (Aquilegia) skeefblomme, en ridderspore).Plant hierdie maand ertjies.

SOMERREëN

Wit aronskelke, wat uit die winterreënstreek kom, moet klam gehou word.

Plant die laaste ertjies.

AUGUSTUS- Geniet ook die HEEL laaste maand van die WINTER, dis net na die Middel van die jaar! Steeds Snoeityd. Boomplantyd. Die laaste rustyd voor groeityd!

AMPER ORALS WENKE:

Saai Saad: Floksies, gesiggies, kappertjies, gousblomme, gipskruid, hanekammme, afrikaners,asters,leeubekkies,Verbenas...

Plant swaardleliebolle. Plant Varings nou oor. Saai erte, tamaties, komkommers, pampoen, skorsies en slaai. LOS die blare wat van die bladwisselende bome val, Geniet dit net, een van die dae is dit verby!

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Steggies van begonias, Coleus, Salvia, en Impatiens sal gou wortelskiet wanneer dit warmer word. Verdeel en herplant kannas en Heliconia. Bougainvilleas kan gesnoei en bemes word met 2:3:4-korrelkunsmis. Saai eiervrug en blaarslaai in saadkissies. Plant Jerusalemartisjokknolle en patats. Saai boontjies, komkommers, spinasiebeet, jongmurgpampoentjies, vlapampoentjies en skorsies  direk. Saai die laaste geelwortels.

WINTERREëN

Wintersnoei van rose behoort teen middel-Augustus klaar te wees. Gee jou rose 'n voorkomende bespuiting van swamdoder vir swartvlek en meeldou wanneer die blare begin uitkom. Om ontslae te raak van mos op grasperke, benat met 'n oplossing

van twee eetlepels ystersulfaat op 'n halwe emmer water - herhaal na 'n week. Steek gate in gekompakteerde grasperke en vee 'n mengsel van sand en kunsmis

in die gate. Bemes bougainvilleas met 2:3:4-korrelkunsmis of 'n organiese ekwivalent, maar wag tot die einde van November voor jy snoei. Plant aspersies. Saai stambone, komkommers, preie, suikermielies en spinasiebeet direk,

en blaarslaai en pietersielie in saadkissies. Plant 'n paar rye wortelgewasse  (witwortels, beet, geelwortels, rape en radyse).

RYP GEBIEDE

Moenie doodgerypte groei afsny voor alle gevaar van ryp verby is nie. Snoei krismisrose wat nie 'n somersnoei gekry het nie. Plant aspersies. Saai gewone spinasie, kopkool, kropslaai en spinasiebeet in saadkissies. Saai radyse, geelwortels, witwortels, rape, beet en preie direk in rye. Plant die laaste ertjies. Aartappels kan ook geplant word, maar beskerm hulle teen laat ryp.

SOMERREëN

Sny fuchsias met een derde terug in warm, rypvrye dele. Party tuiniers beveel ook wortelsnoei aan - 'n graaf word op die drupsirkel van elke plant in die

grond gesteek om die wortels af te sny. Gee 'n deklaag van ou mis

en kompos. Snoei bougainvilleas en bemes met 2:3:4-korrelkunsmis

of 'n organiese ekwivalent. Bemes plante in houers maandeliks regdeur die groeiseisoen. Plant aspersies. Saai boontjies direk en 'n ry of twee geelwortels, preie, beet, radyse, witwortels en rape. Saai blaarslaai, pietersielie, spinasiebeet en kopkool in saadkissies. Plant aartappels.

SEPTEMBER- Die LENTE is hier!! Eureka!!

AMPER ORALS WENKE:

Saai Afrikaners, anemone, asters cinerarias, Josefskleed, ridderspore, gousblomme, salie, Weeskindertjies, Verbenas, Vingerhoedjies...

Winterblomme wat klaar geblom het kan nou uitgehaal word, en beddings reggemaak word.

Plant Dahlias, Begonias en Gloxinias. Usambaraviooltjies kan nou voortgeplant word deur die wortels stukkend te breek en die stukkies te plant. Verdeel waterlelies en ander waterplante wat te dig groei. Plant aartappels.

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Sorg dat jaarplante op warm dae genoeg water kry. Plant saad of saailinge van

soetrissies, eiervrug, komkommers en pietersielie. Saai suikermielies, radyse en geelwortels direk. Plant die laaste boontjies. Plant patatknolle.

WINTERREëN

Plant petuniasaad. Spuit eikebome teen meeldou. Saai boontjies, spinasiebeet,

suikermielies, jongmurgpampoentjies, skorsies en pampoen direk, en 'n paar rye geelwortels, beet, rape en radyse. Plant pataten aartappelknolle. Plant saad of

saailinge van kopkool, kropslaai, tamaties, soetrissies en eiervrug.

RYP GEBIEDE

Struike met rypskade kan teruggesny en versorg word sodra alle gevaar van ryp verby is. Wag met die saai van somerjaarplante wat warmte nodig het om te ontkiem. Koop houers met saailinge wat in afsonderlike houers geplant kan word

waar hulle verder kan groei tot dit warm genoeg is om hulle in die tuin uit te plant. Sny rypbeskadigde kannas terug en gee 'n deklaag van mis. Sny rypbeskadigde

begonias en Impatiens terug. Plant aartappelknolle. Saai suikermielies, skorsie- en pampoensoorte wanneer alle rypgevaar verby is. Saai gewone spinasie, kopkool, komkommers, eiervrug, soetrissies, spinasiebeet, tamaties, blaarslaai en pietersielie

in saadkissies en hou op 'n warm plek. Plant geelwortels, radyse, rape, beet en witwortels. Plant in streke met kwaai ryp gevoelige groente in houers en beskerm

tot dit warmer is, of bedek hulle snags met strooi, karton of met 'n ‘fleece'-doek.

SOMERREëN

Wag in droë dele vir die eerste reën voor jy grasperke se kors breek. Gee spesiale aandag aan jong saailinge. Groente: Soos by winterreën.

OKTOBER...dis die maand OKTOBER, die mooiste mooiste maand! 

AMPER ORALS WENKE:

Goeie tyd om grasperke aan te plant. Plant krisante uit en lê steggies in.

Plant Irisse aan. Bestry slakke, miere en krieke.

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Gee spesiale aandag aan plante wat vatbaar is vir swamsiektes tydens warm, vogtige weer. Dis gewoonlik te warm vir enigiets buiten tropiese groente. Plant Nieu-Seelandse spinasie, soetrissie, suikermielies, radyse en kool.

WINTERREëN

Begin 'n deklaagprogram om die tuin te help om hoë temperature en uitdrogende winde te oorleef. Oorweeg dit om windskerms op

te rig om die tuin te beskerm. Saai gereeld boontjies, radyse, suikermielies, jongmurgpampoentjies en vlapampoentjies direk. Saai of plant saailinge van soetrissies, blaarslaai, tamaties, eiervrug en kopkool. Plant aartappels, patats,

beet, geelwortels, rape, komkommers en winterskorsie.

RYP GEBIEDE

Koop kersiebome terwyl hulle blom om seker te maak dat jy van die kleur hou. Saai nou somerjaarplante soos Celosia, Nicotiana, Zinnia en Lavatera.

Plant aartappels en patats. Saai jongmurgpampoentjies, boontjies, vlapampoentjies en suikermielies direk. Plant die laaste spinasie. Saai of koop saailinge van tamaties, blaarslaai, soetrissies en eiervrug. Saai 'n paar rye geelwortels, beet, radyse

en winterpampoen.

SOMERREëN

Hou onkruid in toom en herstel kaal en verweerde kolle op die grasperk. Maak geute en aflooppype skoon voor die reën begin. Saai groente wat vinnig oesgereed word (boontjies, skorsies, jongmurgpampoentjies) direk. Saai of koop saailinge van kool, eiervrug, tamaties, soetrissies, blaarslaai en pietersielie. Plant aartappels en patats. Plant winterpampoen waar daar ruimte is om hulle uit te sprei.

NOVEMBER ...dis die voorlaaste maand van die jaar! 

AMPER ORALS WENKE:

Verlustig jou aan die kleurspel in jou somer wordende tuin, en geniet 'n blaaskans met 'n lekker tuinboek onder 'n koelteboom.

Jou roosbome behoort nou met hul tweede drag te spog, terwyl somerblommende jaarplante en bolle tot die bonte verskeidenheid begin bydra.

As jy Desember tuis gaan vakansie hou, kan jy nou jou beplanning regkry om die ekstra tyd te kan benut om plante deeglik met organiese bemesting te voed en ouer blomme uit te knip sodat meer knoppe kan vorm. En as jy weggaan, tref nou al die nodige voorsorg dat jou lushof nie sal verwaarloos nie. Tref ook nou al reëlings vir die versorging van jou troeteldiere! 

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Probeer om plante voor 'n reënbui te bemes sodat kunsmis goed natgemaak word. Trek onkruid nougeset uit. Plant suikermielies en die laaste komkommers.

WINTERREëN

Maak kikoejoegras vroeg in die oggend nat sodat die gras voor die aand droog is(dit verminder die gevaar van ‘fade out', 'n swamsiekte wat kikoejoegrasperke aanval). Snoei bougainvilleas teen die einde van die maand deur die blomme af te sny nadat hulle klaar geblom het. Verwyder waterlote aan die basis van die plant en bemes met 2:3:4-korrelkunsmis of 'n organiese ekwivalent.

Plant gereeld klein hoeveelhede boontjies, jongmurgpampoentjies, suikermielies en vlapampoentjies.

Plant saailinge van pietersielie en slaaivariëteite vir die warm seisoen uit. Saai geelwortels en beet.

RYP GEBIEDE

Baie struike wat in die kouer dele floreer en vroeg in die somer blom (Deutzia, Forsythia, Viburnum opulus, Spiraea arguta, Spiraea cantoniensis)kan teen die einde van die maand gesnoei word.

Plant gereeld klein hoeveelhede boontjies, jongmurgpampoentjies,ander skorsievariëteite en suikermielies. Saai een of twee rye geelwortels en beet en plant saailinge van slaaivariëteite vir die warm seisoen, pietersielie en kopkool uit. Plant aartappels en patats as jy ruimte het.

SOMERREëN

Maak die tuin nat tussen reënbuie indien nodig.

Oorweeg dit om tenks te installeer om reënwater van die dak op te vang mits dit toelaatbaar is in jou gebied. Sny beskadigde takke van rose en ander struike af ná haelbuie; behandel met 'nswamdoder as die skade erg is om swaminfeksie te voorkom.

Groente: Soos by ryp.

DESEMBER: Die laaste maand van die jaar! 

AMPER ORALS WENKE:

Verlustig jou aan die kleurspel in jou somer tuin, en geniet 'n blaaskans met 'n lekker tuinboek onder 'n koelteboom.

Jou roosbome behoort met hul tweede drag te spog, terwyl somerblommende jaarplante en bolle tot die bonte verskeidenheid begin bydra.

As jy Desember tuis gaan vakansie hou, kan jy nou jou beplanning regkry om die ekstra tyd te kan benut om plante deeglik met organiese bemesting te voed en ouer blomme uit te knip sodat meer knoppe kan vorm. En as jy weggaan, tref nou al die nodige voorsorg dat jou lushof nie sal verwaarloos nie. Tref ook nou al reëlings vir die versorging van jou troeteldiere! 

STREEKGIDS-WENKE:

SUBTROPIES

Hou saadkissies beskut in geval van swaar reën. Gee nuut geplante saailinge twee keer per dag water tot hulle goed gevestig is.

Saai saad van soetrissies, eiervrug en tamaties.

WINTERREëN

Beskerm plante teen uitdrogende winde. Plant bladwisselende bome vir skaduwee in die somer en sonskyn in koue, nat winters. Verbeter vetterige grond wat moeilik water opneem deur groot hoeveelhede growwe kompos in te spit en die grond te bewerk voor jy natmaak. Gaan voort om klein hoeveelhede boontjies te plant (elke drie weke vir stambone en elke vier tot vyf weke vir rankbone). Plant die laaste tamaties van die seisoen. Plant nog blaarslaai, jongmurgpampoentjies, jonglemoenpampoentjies, suikermielies en vlapampoentjies. Saai geelwortels en beet direk, en winterbroccoli, blomkool en kopkool in saadkissies.

RYP GEBIEDE

Haelstorms kan die blare van bome afslaan sodat skaduplante aan die son blootgestel word; verskaf tydelike beskutting. Begin saai beddingplante wat in die winter en lente blom en stadig groei (ornamentele kool,Primula). Plant nog boontjies (soos by winterreën), tamatie- en blaarslaaisaailinge. Plant die laaste skorsies, suikermielies, komkommers, beet, jongmurgpampoentjies  en geelwortels. Begin klein hoeveelhede kopkool, broccoli en blomkool plant.

SOMERREëN

Alles wat jy in die Ryp gebiede kan doen , kan jy ook in die Somerreënval gebiede doen!

 

Copyright Notice

Copyright of the extracts taken from Tuinmark in Suid-Afrika deur die Jaar deur Marianne Alexander remain that of Random House Struik and Marianne Alexander at all times.

All rights reserved. No part of these extracts may be reproduced, stored in a retrieval system or transmitted, in any form or by any means, electronic, mechanical, photocopying, recording or otherwise, without the prior written permission of the copyright owners.

Krediet Nota

Random House Struik en Marianne Alexander besit alle kopie regte vir die titel 

Tuinmaak in Suid Afrika deur die Jaar.

Geen uittreksels uit die titel mag gepubliseer word sonder die toestemming van Random House Struik nie.

Uittreksels uit Tuinmaak in Suid-Afrika deur die jaar - Marianne Alexander (Random House Struik, Struik Lifestyle)  

Goedkeuring en toestemming vir plasing van Uittreksels uit Tuinmaak in Suid-Afrika deur die jaar -Marianne Alexander (Random House Struik, Struik Lifestyle) is van Random House Struik verkry

 

Nog TUIN WENKE VIR NOVEMBER EN DESEMBER!

Rose
Sorg vir 'n langer bloeityd deur uitgeblomde rose gereeld uit te knip en die bome gereeld diep nat te gooi. Gee een keer per maand 'n hand vol rooskorrelkunsmis en maak daarna goed nat.

Bolle
Moenie vergeet van jou somerbolle as jy in 'n warm, droë winterreënstreek woon nie - gee lelies, swaardlelies en dahlias minstens een keer per week water. Sodra jou irisse klaar geblom het, kyk of hulle baie risome gevorm het, en verdeel. Knip verwelkte crinumblomme uit en verwyder die blare van watsonias wat klaar geblom het.

Grasperk
Stel jou grassnyer se lem hoër sodat die gras langer kan groei en nie so blootgestel is aan die versengende somerson nie. In humiede somerreënstreke sal dit goed wees as jy een keer per week tydens warm, droë weer die gras diep natmaak. Dis beter om minder gereeld, maar diep nat te maak as dikwels, maar liggies.

Vrugtebome
Hou aan om gevestigde vrugtebome teen vrugtevlieg te spuit. Tel vrugte wat afgeval het op, anders broei dié goggas daar uit. Voed bome met 'n gebalanseerde kunsmis wat baie stikstof en kalium bevat ná die vrugte af is - 100 g vir jong bome en tot 200 g vir die oueres. Maak goed nat ná elke toediening.

Saai en plant
Beddingplante 
Kry kitskleur deur saailinge en jaarplante in elke kaal kol en in potte regdeur die tuin te druk. Kies aquilegia, gousblomme, Barbertonse madeliefies, diascia, felicia, gaura, gazania, rudbeckia, stokrose, seeroogblommetjies, bloublombossies, lobelias, Afrikaners, sterblommetjies, skildblomme, salie, koringblomme, Shastamadeliefies en verbena op sonnige plekke. En in die skadu: Nieu-Guinee-impatiëns en begonias.

Saai heuningblommetjies, wasbegonias, skeefblomme, gousblomme, Kaliforniese papawers, portulacas, Afrikaners en kappertjies.

Jy't nog tyd om saailinge vir kropslaai, tamatieplantjies, spinasie, wortels, kool en eiervrug in die grond te kry.

Saai solank broccoli, kool, komkommer, prei, slaai, boontjies, skorsies, tamaties, wortels en beet.

Wenk
Desember is een van die warmste maande in die tuin. Maak dus nou in NOVEMBER tyd om deklae bymekaar te maak! Strooi 'n dik deklaag oor die grond rondom jou plante se wortels, sodat hulle kan koel bly.

Gerrit van Tonder van Die VOLKSBLAD skryf: In die feestye moet 'n mens nie so vreeslik ingestel wees om slaafs 'n tuinkalender te volg nie. Tuiniers is soms so gebonde aan 'n tuinkalender en ek weet van tuiniers wat glad nie met vakansie wil gaan nie, want hulle is bekommerd oor die tuin.

'n Mens hoef regtig nie so bekommerd te wees nie, want 'n tuin het die vermoë om weer te herstel. Die natuur handhaaf homself al duisende jare lank sonder ons hulp. Buitendien is daar sommer nog baie ernstige groei oor wanneer 'n mens in Januarie tuiskom.

Een groot bekommernis vir talle tuiniers is dat die tuin in hul afwesigheid gaan verdroog. Met die ¬reën wat ons reeds van die laatwinter gekry het, is dit vanjaar een bekommernis minder. Onthou: Al die reën wat geval het, is "gebank" (mits wegspoelwater beperk is) en plante met sterk, gesonde wortels kan maklik hul waterbehoeftes bevredig.

Boonop behoort daar 'n lekker dik deklaag oor die grond te lê wat die uitdrogende invloed feitlik heeltemal uitskakel.

Die kanse om terug te kom en 'n verdroogde tuin te vind is vanjaar redelik skraal.

Teen dié tyd weet tuiniers ook al om hul grasperke nie voor die vakansie, en natuurlik tydens die warm maande, te kort te sny nie. As 'n mens ook die maanstand in ag neem, kan jy verseker dat grasperkgroei vertraag word. Sny dus die gras op 7, 8 of 9 Desember of later dan van die 14de tot nuwemaan op die 16de.

Geen tuinier stel ook ongenadig¬like eise aan die plante deur voor die vakansie kunsmis te strooi nie.

Wat plae betref, sal daar nouliks 'n plant in die tuin wees wat so gevreet word dat dit vrek en hulle sal ook weer herstel.

Voordat 'n mens met vakansie vertrek, kan die rose ook vir die wis en die onwis voorkomend teen swartvlek gespuit word.

Plante het ook hul eie meganismes om 'n plaag te beheer en hulle verloor blare en gaan in tydelike dormansie. Die plaag sal hopelik wyk as die blaarkos op is en ander weivelde gaan soek.

Plante verloor ook blare as hulle 'n ongewone strestoestand ingaan. As die plante weer ná die vakansie aandag kry en vertroetel word, sal hulle weer fluks begin groei.

Vir die tuiniers wat in die feestyd tuisbly, wag daar 'n heerlike, rustige tyd in die tuin en daar word gekuier en al fresco-etes buite geniet of daar kan in die swembad afgekoel word.

Desember het sy eie bekoring en eie klank. As 'n mens rustig afgeskakel het, word jy weer bewus van bye se gezoem, voëls se geluide van vroeg douvoordag al en natuurlik ruik jy weer die geur van al die blomme.

Die son brand op die aarde en sekere geure word vrylik in die tuin vrygestel. In die aande is daar die genadiglike afkoeling en die nag bring sy eie, besondere geure en kleure.

Desember se kleur is groen en simbolies stel dit die natuur, jeug en hoop voor. Sonder groen as agtergrondkleur sal ander kleure in die tuin ook nie tot hul volle reg kom nie.

Omdat groen so 'n kalmerende kleur is, word dit ook baie in kantore en hospitale gebruik. Een skakering van groen kan egter eentonig wees, maar in die tuin is daar so baie verskillende kleure groen dat dit altyd die aandag hou en nooit vervelig raak nie.

Die enigste tuinwerk wat regtig in Desember nodig is, is die dead heading van blommende plante. Dit is nie harde werk nie en die kinders kan ook betrek word.

Die afknip van uitgeblomde blomstingels sal verseker dat die plant sommer gou weer nuwe groei uitstoot en sal 'n langer blomtyd tot gevolg hê.

Natmaak bly ook 'n belangrike aktiwiteit, maar 'n mens moet nie net bolangs natmaak nie, maar liewer verseker dat water die grond diep indring vir optimale water benutting. Probeer altyd natmaak deur groot gedeeltes gelyk te besproei.

Ons weet almal dat 'n tuin baie beter sal groei nadat sowat 25mm reën geval het en moet ons ten minste soveel water op 'n slag te probeer gee.

Dit is werklik nie moeite om die hoeveelheid water wat jou sproeier gee met 'n reënmeter te monitor nie. As dit bepaal word, weet 'n mens presies hoe lank 'n sproeier in een posisie gelaat kan word.

Hy gee ook Algemene riglyne vir die maak van kruie- en medisinale tee en insekafweermiddels...

SÓ MAAK JY INSEKAFWEERMIDDELS, KRUIETEE

 - Om kruietee van verskillende kruie te maak: Neem 50 g (4 eetlepels) van die krui en gooi in 1 tot 2 koppies kookwater en laat trek 10 minute lank.

 - Om insekafweermiddels vir plante te maak: Meng 50:50 met warm water en laat trek een tot twee dae lank, filtreer en spuit dan in die aand op plante (bv. 'n vyfliteremmer vol kruie met 5 F-water).

 - Vir medisinale doeleindes: Meng 50 g van die krui met 1 liter warm water en laat trek oornag. Raadpleeg u geneesheer voordat u dit gebruik.

Kruie vir die maak van aftreksel vir vloeibare voeding vir plante:

 - Duisendblad (yarrow) bevat yster, kalsium, magnesium, kalium, swael en stikstof.

 - Smeerwortel (comfrey): Smeerwortel bevat 'n menigte minerale wat goed is vir grond en plante en dit dien ook as 'n komposaktiveerder. Smeerwortelaftreksel word eenvoudig gemaak deur 'n vyfliteremmer blare in 20 F water te gooi en twee dae lank te los. Dit kan dan met 'n gieter of as 'n blaarbespuiting toegedien word.

 - Brandnetel (Urtica dioica, stinging nettle) bevat olie, miersuur, ammoniak en koolsuur. Brandnetel-tee is seker, naas lusernaftreksel, een van die heel beste vloeistofvoedingsbronne (dit word net soos smeerwortelaftreksel voorberei). Brandnetelaftreksel is ook uiters bruikbaar in komposhope wat die proses aansienlik versnel. 'n Navorsingspan aan die Plymouth Postgraduate Medical School in Devon het 27 pasiënte met osteo-artritis aan die basis van hul duime met brandnetel behandel en 'n aanmerklike aantal van hulle het verligting van pyn ondervind wat tot 24 uur lank gewerk het.

 - Lusern (alfalfa; medicago sativa). Hierdie meerjarige stikstofbinder is 'n algehele moet vir die tuinier om die volgende redes: (a) Dit bevat meer as 60 verskillende minerale, vitamine en aminosure, asook 'n groeistimulant wat as trikontanool bekend staan. (b) Dit fikseer stikstof uit die lug deur middel van die rhi-sobium-knoppiesbakterieë in die lusernwortels. (c) Aftreksels van lusern, genoem luserntee, (groen of in die hooivorm) is 'n uitstekende vloeistofvoedingstof vir plante. (d) Lusern is hoog in proteïn (19% teenoor die 15% van beesvleis) en dus in stikstof.

 - Kankerbos (Sutherlandia frutescens): Een plant wat hom reeds in universiteitstudie bewys het as 'n kruid wat geneeskundige waarde kan hê, is die kankerbos, Sutherlandia frutescens (voorheen Lessertia frutescens) . Dit is selfs in 'n studie gebruik om sy waarde as 'n verligter van die simptome van vigs te bepaal. Daar word lank reeds geglo dat dit die simptome van kanker kan verlig, maar dit kan natuurlik nie kanker genees nie. Volgens een wetenskaplike studie toon die resultate dat dit in elk geval sekere van die negatiewe sielkundige effekte van chroniese stres kan verlig. Maar sekere van ons swart mense en die San (Boesmans) het dit mos ook reeds lankal geweet. Die Zoeloes en Xhosas ken dit na verneem word as Unwele (hare), omdat hulle glo dat dit keer dat jy jou hare van die senuspanning uittrek. By die San word dit weer Insisa genoem, wat beteken "die een wat die duisternis verdryf".

Riana Minaar van Icy Herbs, Clocolan, wat essensiële olies vervaardig onder die naam Hoogland- Eteriese Olies, het die volgende interessante inligting verskaf:

Sy sê: DIÉ KRUIE KAN WONDERE VERRIG:

 "Ek beskou Helicrysum odoratissimum (kooigoed), umbraculigerum (kerriekruid), nudifolium (wondheling en antiseptikum), psilolepis (Suid-Sotho's se middel teen menstruasiepyn) as van die belangrikste medisinale kruie.

Dié kruie het baie gehelp toe ek my hande verbrand het met olie wat aan die brand geslaan het op die stoof en ek tweede- en derdegraadse brandwonde opgedoen het. Ek het 10% helicrysum gemeng met 90 %-roosbottel en die genesing was wonderbaarlik. Ek het ook, teen alle verwagting in, geen letsels of opgekrimpde letsels op my hande oorgehou nie. "Ook vir insek- en spinnekopbyte help dit geweldig baie. Vir 'n muskietafweermiddel meng ek tiemie, laventel, peperment, sitroengras en wilde-als in 'n draerolie en smeer aan ontblote dele. 'n Mens kan 'n mengsel van Helichrysum en wildealsblare (Artemisia afra, wormwood) brand. Dit dien as 'n doeltreffende insekafweerder wat lekker ruik en dit hou veral muskiete en vlieë weg."

Benewens 'n hele aantal vetsure wat in roosbottelolie is, bevat dit ook 'n derivaat van vitamien A in die vorm van natuurlike retinoë-suur - retin A wat uitstekend werk om velveroudering en akneevelle mee te behandel en dit word ook algemeen deur plastiese chirurge voorgeskryf vir snymerke sodat dit sonder letsels kan herstel.

Vars blare en stingels van kooigoed bevat weer baie (tot 70%) suurstofryke mono-terpeen (bv. p-mentoon wat vel vinnig kan penetreer) en dan ook d-limoneen (0.5%). Gedroogte kooigoed het 'n d-limoneeninhoud van 30% en ons weet dat limoneen insekte soos luise versmoor binne 15 minute nadat dit bespuit is.

Onthou net enige medisinale raad wat in hierdie artikel gegee word, moet eers met jou geneesheer uitgeklaar word voordat jy dit gebruik.

Kruie kan in die volgende vyf klasse verdeel word, nl. kombuis-, gegeurde, tee-, insekafweerder- en medisinale kruie. My gunstelinge het 'n asteriks na die naam:

Kombuiskruie: basieliekruid*, komkommerkruid (borage), seldery*, brandrissie*, grasuie*, knoffelgrasuie, koljander, dille, vinkel*, kruisement*, oreganum*, pietersielie*, roosmaryn*, salie*, boontjiekruid, suring, aarbeie*, tiemie*; kerriebos (St John's Wort).

'n Algemene reël is om meerjarige kruie aan die begin van die kook- of voorbereidingsproses by te sit en eenjariges so 5 minute voordat die plaat afgeskakel word.

Gegeurde kruie: kattekruid, kamille*, laventel*, appel-, choc-, gemmerment*, pynappelsalie.

Kruietee: suurlemoenbalsem*, sitroengras*.

Insekafweermiddels: kwylwortel* (= kontakgif, pyrethrum, chrisanthemum cinerariifolium), kakiebos* (luise, vlooie), knoffel*, wynruit* (rue, hou vlooie weg), kattekruid* (catnip, hou rotte weg), koorskruid (fewerfew), kruisement* (hou vlieë weg), pennyroyalment* (vryf aan vel teen muskiete - basiliekruid, kruisement en laventel kan ook soortgelyk gebruik word), roosmaryn* (vryf aan vensterbanke om insekte weg te hou), wurmkruid* (tansy, gedroogde wurmkruid + kakibos + wilde-als + wynruit verdryf miere vinnig), wilde-als*; dille, brandrissie* en paprika (almal bevat capcycin wat insekte dood by kontak), lemoen* (skil bevat d-limonene wat insekte versmoor as dit op hulle gespuit word), basiliekruid (hou muskiete weg), salie (salierook neem slegte reuke weg).

Medisinale kruie: aalwyn* (vir aknee en bloedsuiwering; vir ligte brandwond plaas sagte binnekant van blaar op wond), salie, smeerwortel (net uitwendig; antisepties; mondelingse inname kan skadelik vir die lewer wees), knoffel* (swaelbevattende antiseptikum en immuunbouer), wynruit (trekmiddel vir absesse), elderberry (wasmiddel vir aknee en paar druppels tea tree-olie kan bygevoeg word; help ook vir jeukerige vel soos ment; meng met hawermout en druk op vel; 500 ml appelasyn in badwater verlig ook die jeuk, roosmaryn* (antiseptiese mondspoelmiddel, maar moenie ingeneem word deur mense met hoë bloeddruk nie), kamille (kalmerende invloed; goed vir mense wat drank misbruik), duisendblad (yarrow - plaas vars blare op wond wat bloei; suurlemoensap help ook natuurlik), rooipeper (knippie op plek wat bloei, help bloed stol), tiemie* (antiseptikum), gemmer (help vir diaree en maagkrampe).

Mense met jig wat nie aan hoë bloeddruk ly nie, kan gerus 'n tee van pietersielie, roosmaryn en salie maak en dit drink.

Essensiële (vlugtige) olies: Kooigoed* (Helicrysum), Rosehip*, Tea tree oil* (ontsmetmiddel), Rose Geranium* (antiseptiese eienskappe), laventel, suurlemoenkruisement* en enchinacea* (tonikum) is maar enkele van die vlugtige olies wat met groot vrug gebruik kan word.

ANDER BRONNE

- Danie Smuts (1989). Boere Rate, Saayman & Weber, Kaapstad.

- Roberts, Margaret (1989). Herbs for Healing. Jonathan Ball Publishers. - McVicar, Jekka (1994). Jekka's Complete Herb Book. Kyle Cathie Limited in association with the Royal Horticultural Society, UK.

- Herb Herbert's Wonderful World of Herbs (1999), Wyatt Publishing, Australia. www.herbherbert.com.

- Riana Minnaar van Icy Herbs, Clocolaan: Hoogland Eteriese Olies. www.icyherbs.co.za.

- Mary van Deventer, Pretty Garden-tuinsentrum.

-Volksblad

NUTTIGE WEBWERWE:

http://www.healthyliving-herbs.co.za/index.php/home

http://www.healthyliving-herbs.co.za/index.php/recipes

http://www.gardeningeden.co.za/

http://www.dietuinier.co.za/index.html

http://www.room-to-grow.co.za/

http://www.herbclass.com/

http://www.ageless.co.za/margaret.htm

http://www.tuis.co.za/

http://soilforlife.co.za/

http://www.mieliestronk.com/potjie.html

http://www.mieliestronk.com/gras.html

Francis Bacon het geskryf: God Almighty first plants a garden. And indeed, it is the purest of human pleasures. It is the greatest refreshment to the spirits of man.


 
Wil jy hê ek moet jou meer inligting oor iets gee?    
Kontak my regstreeks by: rethajm@gmail.com  
Groetes!!
 Rx. 
 
 

Retha van Somaakmens

Indien jy nog nie ONSDORP se nuusbrief ontvang nie,

Vul die onderstaande vormpie in vir heerlike tong in die kies humor,

Vars elke twee weke in jou posbus