SUID AFRIKAANSE VOGELS

BEGIN | Bloukraanvoel | Telefoonpaaljagters | Groot Dorpsjagters | Kleiner Dorpsjagters | Witkruisarend | Visarend | Uile-Nagjagters | Reiers | Wit Reiers | Hamerkop | Dobbertjies | Eende | Hoenders | Lepelaar | Duikers | Strand Kiewiete | Bokmakierie | Speg | Spekvretertjie | Terug na Onsdorp

Wilde Hoenders

bleshoender.jpg

 H o e n d e r s  m e t  ‘ n  v e r s k i l 

 

Ons ken almal tant Souf op die hoek se Bantompies wat soms 3 uur in die oggend in haar agterjaart wakkerskrik en skril begin kraai. 

Dit is soort van werfhoenders, daardie. Vandag se gevleueldes dra ook die naam hoender, maar hulle kraai nie. 

Trouens, ek sal verbaas wees as jy hulle iewers op ‘n plaaswerf raakloop, want hulle is nie skrophoenders nie. 

Nee, vir hulle kry jy in en by ‘n dam, of onder in die Grobbelaarsrivier.

 En omdat albei donker is, word hulle op ‘n afstand maklik met mekaar verwar. 

Ek praat vandag oor die Waterhoender (Common Moorhen) en Bleshoender (Redknobbed Coot). 

Eersgenoemde ken jy darem aan sy pragtige rooi en geel snawel, die wit onder sy stert en helder-geel bene uit, terwyl die bleshoender die kenmerkende bles gesig met die twee rooi knoppies bo-op sy kop het.  (Die rooi knoppies het iets met die broeiseisoen te doen, want dan is hulle groter).

 Elke voël in die natuur het sy plek - sommige vreet vrugte en dra so sade weg om op ‘n ander plek te ontkiem; 

ander bestuif blomme deur die nektar te drink, en dan is daar die jagters wat muisgetalle in bedwang probeer hou.

 Net so staan hierdie twee ook hul plek beskeie vol waar hulle hul tuiste in ‘n dam of rivier gemaak het. 

Met hul gekrap en gewerskaf help hulle die natuur by die water in stand hou.

Die waterhoender het die groter dieët van die twee. 

Waar die bleshoender meer op plante konsentreer (hy is byvoorbeeld baie lief vir hiasinte),

 is die waterhoender die een wat enigiets sal eet, plant of klein diertjie. 

‘n Egter omnivoor. Beide sal land toe kom om kos te soek, maar verkies om in die water en tussen riete te wei. 

Die bleshoenders is die meer gewillige swemmers en jy sal hulle in groot groepe (tot ‘n duisend op plekke) op oop water kry.

Waterhoenders is meer tussen die riete en kom ook nie in sulke groot getalle bymekaar nie. 

Van swem gepraat, beide se tone is vir swem aangepas. Hulle lyk nou wel nie soos ‘n eend met gewebde pote nie,

 maar elke toon het tog sulke smal stukkies web om hulle te help swem. 

Waar bleshoenders maklik sal duik agter kos aan, bly waterhoenders bo en sal hoogstens die kop in die water steek. 

Hulle sal wel duik as hulle in gevaar is.

 Waterhoenders is nie skaam voëls nie, maar as hulle senuweeagtig raak word daardie stert kort-kort op en af geflikker en sal hulle vinnig padgee. 

Hulle bly ook gewoonlik vir lang tye op een plek, terwyl bleshoenders sommer maklik die pad sal vat as die kos skaars raak.
 Hou hierdie twee gerus ‘n bietjie dop wanneer jy weer by ‘n plaasdam stilhou. 

Dankie weereens vir al die oproepe. Onlangs was daar ‘n vraag oor kwikkies wat saans in groot groepe bymekaarkom. 

Dit gebeur gewoonlik hier rondom wintertyd. 

Tydens die somer en broeityd word daar afgepaar en kry jy dit feitlik glad nie dat hulle in sulke groepe vergader nie.
 



Teken in op Kammanuus


    3046 Lesers al reeds!
    GetResponse E-pos Bemarking