SUID AFRIKAANSE VOGELS

BEGIN | Bloukraanvoel | Telefoonpaaljagters | Groot Dorpsjagters | Kleiner Dorpsjagters | Witkruisarend | Visarend | Uile-Nagjagters | Reiers | Wit Reiers | Hamerkop | Dobbertjies | Eende | Hoenders | Lepelaar | Duikers | Strand Kiewiete | Bokmakierie | Speg | Spekvretertjie | Terug na Onsdorp

DUIKERS

duikers.jpg

 H e n s o p p e r s   L a n g s   D i e   W a t e r s 

 

Hul vermoë om seepglad en met groot gemak tot diep onder die oppervlak van die water te duik is genoeg om enige snorkel-entoesias groen van jaloesie te maak. En kom hulle aan land, herken jy hulle as sulke groterige donker voëls wat luilekker op ‘n tak of rots sit met die vlerke sonkant toe oopgesprei. Daar is ‘n paar verskillende soorte, veral langs die kus, maar die Klein-Karoo staan mos vir niemand terug nie en ons het self drie van hulle - die duikers wat so kenmerkend oopvlerk langs die rivier en damme in die son sit en bak.

 

Hulle het heelwat in gemeen - die belangrikste natuurlik dat die meeste van hul vere nie waterdig is nie. Ek sê "die meeste vere", want hul vliegvere het wel genoeg olie aan om hulle gebind te hou. Hoe anders gaan hulle dan gevlieg kry wanneer hulle nat is? Maar die res van die vere absorbeer water net so goed soos jou motor se "chammy". Die rede hiervoor is darem ook seker voor die hand liggend - dit maak dit net vir die voël soveel makliker om onder die water te kan bly terwyl hy jag. As jy al ‘n eend - waarvan die vere goed ge-olie is - dopgehou het wanneer hy onder die water induik, sal jy sien hy kom op soos ‘n hengelaar se dobbertjie! Hy vind dit met ander woorde moeilik om lank onder te bly. Nie ‘n duiker nie.

 

En dan is daar die hensop-houding nadat hulle geswem en gejag het. Ja, een belangrike rede is natuurlik om te sorg dat die vere weer droog word  - hulle kan by tye tot ‘n anderhalfuur so sit. Maar nog ‘n interessantheid rondom hierdie oopvlerk-houding is dat die hitte wat die son op 'n duiker se lyf genereer, help met die spysvertering! .Wie sou dit kon raai?

 

Die algemeenste en kleinste een hier by ons  is die Rietduiker (Reed Cormorant). Jy behoort hom oral naby vars water te kan sien, solank dit net nie te vinnig vloei nie. Hy duik gewoonlik tot so 2 meter diep waar hy vir veral vis soek, maar is al tot op 10 meter onder die oppervlakte waargeneem! Hy eet sy vangs gewoonlik kop eerste. Let egter op wanneer hy die hensopper-posisie inneem - hy sit gewoonlik met sy rug na die son toe, en nie sy bors nie, soos wat ‘n mens sou verwag. Het hy vyande? Iemand het al gesien hoedat ‘n Visarend een vang.

 

Sy groter neef met met die beskrywende naam Witborsduiker (White-breasted Cormorant) is net so ‘n goeie duiker en bly van 20 sekondes to ‘n minuut-en-‘n-half op ‘n keer onder die water, met baie kort asemskep tussen duike. Anders as die rietduiker wat vars water verkies, is hy ewe tuis in vars en sout water. En met sy groot lyf is hy die opportunis vanself - hy sal maklik ‘n ander voël se vangs probeer roof. Wanneer hy oopvlerk in die son bak, hou, anders as rietduiker, sy bors sonkant toe. En sy vyand? Aan die kus is robbe veral ‘n bedreiging.

 

Die Slanghalsvoël (African Darter) se naam is eweneens beskrywend. Trouens, as hy in die water swem, is sy hele lyf onder die water en net die lang gekrulde nek steek slangagtig bo die oppervlak uit. Anders as die ander twee wat hul prooi met ‘n knyptangaksie van hulle bekke vang, is die punte van sy snawel skerp genoeg om hulle deur die vis te steek - soos ‘n duiker met ‘n pylgeweer. Op die oppervlak sal hy dan die vis behendig die lug opgooi, vang en insluk. Ook hy is maar versigtig vir Visarende, want hulle hou van sy vleis.

 

Kyk gerus uit vir hierdie drie hensoppers wanneer jy weer langs ‘n dam gaan sit en ontspan. 




Teken in op Kammanuus


    3046 Lesers al reeds!
    GetResponse E-pos Bemarking