|
Hy word in sommige kulture gerespekteer en gevrees. Ek het in die verlede gesels oor ʼn hele paar voëls wat WATER
as hul blyplek verkies. Sommige woon letterlik op die water (eende, bleshoenders, obbertjies), terwyl ander - die sogenaamde
waadvoëls - langs of in die vlak water rondwandel (soos strandkiewiete, elsies en reiers). Vandag se koddige
voel - die vuilbruin hamerkop (ook sy Engelse naam) met sy naamgewende kuif op die agterkop - pas by laasgenoemde. Hy is lief
om al langs riviere, damme of by vleie te stap op soek na ʼn roekelose padda of vissie wat sy skerp oë tart.
Meer as een leser het al vertel van hul dammetjie in die agterplaas met klein vissies in. Of dan - sonder vissies -
nadat meneer hamerkop ʼn paar keer ʼn draai kom maak het. Vlak poele met klein tilapias of selfs jong khoivisse is
vir ʼn hamerkop soos ʼn kitskos-kafee. ʼn Net oor die poel totdat die vissies te groot is vir die karnallie om
te vang, is miskien ʼn goeie idee. Die hamerkop is, ondanks die ergernis wat hy vir ʼn paar mag bring, eintlik ʼn
spesiale voel. Hy word gerespekteer en selfs in sommige kulture gevrees, en ʼn afbeelding van een is al tussen oeroue
rotstekeninge waargeneem. Buiten vir enkele plekke soos Madagaskar en Saoedi Arabië, kom hy net in Afrika voor en
is enig in sy soort. En ja, ons het hom hier by ons ook. Hy is boonop ʼn rekordhouer in eie reg - geen voel in die wêreld
bou ʼn groter nes as hy nie! Dit kan ʼn deursnee van tot 2 meter hê, is byna net so hoog en kan tot 100kg
weeg! Die geduldiges wat hom al dopgehou het, se dit kan tot 6 maande neem om ʼn rêrige grote te bou. Hy versier
sy nes met allerhande rommel, ook wat hy van jou ashope en selfs (by uitsondering) jou wasgoeddraad kan steel. Dit gebeur
darem nie gereeld nie, maar daar is al selfs ʼn silwer teelepel in een se nes gevind. Binne-in hierdie deurmekaar massa
is ʼn tonnel en ʼn kamer waar hy sy eiers lê. Bye en uile is bekend daarvoor dat hulle hamerkopneste oorneem,
en dan moet hy maar weer voor begin. Hulle word tot 20 jaar oud, dus is daar darem genoeg tyd vir die bou van ʼn volgende
rekordgrootte nes. Hamerkoppe is redelik individualisties. Jy sien hulle selde in groepe saam, maar kom jy een (of sy
nes) tee, kan jy gerus tyd afknyp om hom dop te hou.
|