|
 T e l e f o o n p a a l j a g t e r s
Vat mens die pad uit Oudtshoorn Calitzdorp, George of De Rust toe is dit opvallend hoeveel roofvoëls
op die telefoonpale langs die pad sit. En dan praat ek nie van die alomteenwoordige kraaie nie - hulle is darem nie propperse
roofvoëls nie (êrens vorentoe meer oor hulle). Nee, ek praat van die jagters met die krom snawels en die skerp
kloue. Hier is natuurlik meer jagters in ons omgewing, maar vandag s’n is die mees algemene op ons telefoonpale (mensgemaakte
goed wat voëls die keer help, en nie skade bring soos kragdrade waarteen groot voëls vasvlieg nie).
Die eerste twee op ons lys is
kleinerige voëls, maar moet hulle beslis nie onderskat nie. Hulle is net so effektief soos hul groter neefs wanneer dit
by jag kom. Die baie algemene Blouvalk (Blackshouldered Kite) is ‘n wit-en-grys valkie met swart skouers. Jy sal hom soms in die
lug sien fladderhang op soek na ‘n muis, sy stapelvoedsel. Andersins sal hy op ‘n paal of tak sit waar hy sy stert
so nou-en-dan koddig op en af wip. Van naby kan jy sy pragtige rooi-oranje oë sien. Die rooi-bruin Kransvalk (Rock Kestrel) met sy grys kop is ook algemeen
maar dalk minder opvallend as gevolg van sy donkerder kleure. Soos sy naam sê verkies hy meer heuwelagtige gebiede,
maar hy jag ook van pale af. Met muise, insekte, slangetjies en akkedisse op sy spyskaart het hy ‘n meer uitgebreide
dieët as die Blouvalk. Die Bleeksingvalk (Pale Chanting Goshawk) is seker die mees sigbare jagter vanaf ons telefoonpale langs die pad. Hy is groot en omdat
hy dikwels hoog op sy bene staan kyk jy hom moeilik mis. Hy is grotendeels grys en het helder oranje-rooi bene. Wanneer hy
vlieg wys daar ‘n duidelike wit streep op sy kruis, en sy vlerkpunte is swart. Sien jy een wat soos hy lyk, maar wat
bruinkleurig is, kyk jy na ‘n jongetjie. Op sy spyskaart is veral akkedisse, kleinerige voëls, muise en selfs kleinerige
hase. In die Kalahari jag Bleeksingvalke dikwels saam met ratels. Die ratel grawe die muisgate oop en kom een weg, sak singvalk
se kind vinnig op hom toe. Gemaklik, nê? Nog ‘n algemene jagter, maar
wat jy net in die somer sal sien, is die Bruin Jakkalsvoël (Steppe Buzzard). Hy kom tot so ver as uit Rusland (12 000km) vir ons kuier. Met ons winter gaan hy terug om o.a. te broei,
wat beteken dat hy nie hier nesmaak nie. Dis ‘n bruin voël, maar moeilik om nader te beskryf, omdat daar soveel
variasies van hom voorkom. Op die afbeelding is die variasie wat hier die meeste voorkom. Die geleerdes sê hy verkies
insekte, maar prooi ook op klein voëls, muise, akkedisse en paddas.
Vir
my die mooiste van die klomp, maar die “skaarsste” een op ons pale, is die Rooiborsjakkalsvoël (Jackal Buzzard). Hy is eintlik ook algemeen, maar verkies
meer bergagtige gebied en sweef meer wanneer hy jag. Met ‘n bietjie geduld is die kanse egter steeds goed dat jy een
sal raakloop. Hy is regtig ‘n pragtige voël met sy swart kop en skouers, geel en swart snawel en rooibruin bors
met die spikkels wat onder sy pens verdwyn. Sy Engelse naam het hy gekry omdat hy baie soos ‘n jakkals roep. Hy kom
net in Suider-Afrika voor en verkies groter maaltye soos dassies, fisante en selfs pofadders!
|