
Dit gebeur sommer hier onder ons neuse - in
ons rustige en oënskynlik geweldlose dorpie (in vergelyking met sommige ander plekke, moet ek seker sê). Daagliks
word daar geweld en moord gepleeg in die naam van . . . . kos. En dit is natuurlik roofvoëls wat verantwoordelik is vir
die “slagting”. Trouens, daar is so baie roofvoëls wat in Oudtshoorn aktief is dat ek jou nie van almal op
een slag kan vertel nie. Vandag praat ek oor die groter - en volgende keer die “kleiner” - dorpsjagters.
Die eerste grote op my lys – die Dwergarend
(Booted
Eagle)
– se Afrikaanse naam is nogal misleidend. Hy mag dalk klein lyk in vergelyking met ander arende, maar hy bly steeds
‘n formidabele voël en ongeveer so groot soos die pragtige Rooiborsjakkalsvoël waaroor ek al gesels het (onder
Telefoonpaaljagters)! Ek sien hom gewoonlik uit die Noordekant (Schoemanshoek-area) die dorp insweef en ‘n goeie uitkenmerk
is die “kopligte” op sy skouers – wit vere wat soos helder ligte aan beide kante van sy kop sit. Sou hy
op ‘n paal sit sal jy dadelik aan sy bene sien dat hy ‘n arend is - anders as die meeste ander roofvoëls
wat kaal bene het, het arende vere tot by hul tone. Sy dieët bestaan hoofsaaklik uit kleiner voëls en hy vang hulle
in vlug! Die ander twee arende in ons omgewing wat ek redelik gereeld sien is die Witkruisarend en die Visarend. Later meer
oor hulle.
Die Kaalwangvalk (African Harrier-hawk - sy ou naam was Gymnogene) met sy lang (kaal) bene is wel effe groter
as die Dwergarend. Hy kan met sy grys kleur maklik met die Bleeksingvalk (die groot voëls wat jy so gereeld op die telefoonpale
op pad Calitzdorp toe sien) verwar word. Hy het tog kaal wange soos sy naam sê, so kyk maar net daarvoor uit. In die
broeityd (lente tot vroegsomer) is sy wange helderrooi, andersins ‘n helder geel. En as ‘n groot grys roofvoël
by jou verbyvlieg en sy stert het ‘n prominente wit streep onder – Kaalwangvalk se kind. En anders as die Dwergarend
wat in vlug jag, verkies hy om neste te roof. Met sy smal kop kan hy in klein gaatjies inkom om ‘n akkedis of ander
reptiel te vang, maar werk dit nie, gebruik hy sy handige lang bene. Hy sal met die een aan ‘n vink- of wewernes of
rotslysie hang en met die ander krap-krap tot hy ‘n kuiken raakvat. Ek het hom selfs al by ‘n kerkgebou in aksie
gesien waar hy aan die geut hang en ‘n nes daaronder beroof.
Die derde groot jagter wat ek soms langs die Grobbelaarsrivier
sien, is die Swartsperwer (Black Sparrowhawk). Hy is uit en uit ‘n woudjagter en ‘n mens verwag hom dan nie eintlik in die barre
Klein-Karoo nie, maar die dorp met sy baie bome is in die oë van ‘n roofvoël mos ‘n mini-woud, ideaal
vir Swartsperwer se kind. (Ek het hom ook al in die Red Stone Hills omgewing tussen die populiere gesien en daar is ‘n
broeipaar by die golfbane, so hy is darem nie vreemd aan ons omgewing nie). Hierdie is in my oë ‘n kragtige jagter
wat nie speel nie! Hy sien selfs kans vir fisante en tarentale, voëls tot dubbeld so swaar as hy. Duiwe is egter sy hoofmaal.
Hy gebruik sy lang stert om behendig tussen bome deur te swenk agter sy prooi aan.
Volgende keer dan ‘n paar van die kleiner dorpsjagters.
Net ‘n waarskuwing: sou jy voëls sien wat bruin of gespikkeld is en andersins amper soos bogenoemdes lyk en jou
daarom verwar– dit is heel waarskynlik jongeres.