Ons is steeds by gevleuelde vleisvreters na verlede keer se geselsie
oor GROOT dorpsjagters. Moet egter nie hierdie jagters onderskat net omdat hulle ‘n bietjie kleiner is nie, trouens,
een van hulle het die reputasie as die vinnigste jagter in die wêreld!
Het jy al vroeg-oggend ‘n ent gaan stap en dan hoog in die lug ‘n fyn “tsip . . . . tsip
. . . . .tsip” geluid gehoor? Dit is die vroegoggend-roep van die Afrikaanse Sperwer (African Goshawk), waar hy baie hoog in die lug in sirkels vlieg.
‘n Halfuur of so na hy begin het met hierdie vertoonvlug, verdwyn hy tussen die takke van hoë bome en vir die res van die
dag is hy moeilik om te sien. Tipies sperwer kan hy met sy lekker lang stert behendig tussen die bome deurvleg as hy ‘n
duif of ander voël jaag. Hy hou ook van grondkruipers soos akkedisse, slangetjies en paddas. En net na sononder sal hy
nie nee sê vir ‘n sappige vlermuis nie. Hier is beslis meer as een paar in die omgewing van die dorp so
luister en kyk fyn.
Die
kleinste van ons dorpjagters is die Witkruissperwer (Gabar Goshawk). Hy lyk baie soos die Afrikaanse Sperwer (meeste sperwers is grys, met lang bene en ‘n
lang stert), maar hy is niks groter as ‘n kransduif nie. So klein soos wat hy is, is hy steeds ‘n behendige jagter
wat kleiner voëls rats tussen die bome deur kan jaag en in die lug vang. Ek het op ’n keer ‘n komiese voorval
aanskou waar ‘n Witkruissperwer ‘n kransduif “aangeval” het, en die duif skaars ‘n oog geknip
het! Kransduiwe het egter al op Witkruissperwer se etenstafel beland - as hy regtig honger is sal hy beslis prooi so groot
as hyself met mening aanvat!
Die laaste twee lyk baie na aan mekaar – soveel so dat ‘n ongeoefende oog maklik sal dink dat dit
dieselfde voël is. As jy fyn kyk sal jy mettertyd die verskille kan raaksien, maar net sodra jy dink jy het hom, dan
sien jy ‘n jonge, en jy is van voor af deurmekaar. Hoe ook al, hierdie twee is die Porche en die Ferrari onder die gevleuelde
jagters! Ek praat van die blitsige Edelvalk (Lanner Falcon) en die nog vinniger Swerfvalk (Peregrine Falcon). Anders as die sperwers wat woude as jaggebied verkies, verkies die twee om in die ooptes te jag en val ander
voëls aan deur gewoonlik met ‘n verblindende spoed op hulle af te duik. Dit is op rekord dat die Swerfvalk gemiddeld
so vinnig as 300km/h duik. Die manne met die dik brille sê sy duik is al teen 380km per uur gemeet, wat hom loshande
die vinnigste lewende wese op aarde maak. Hoe daardie liggaam die skok tydens impak kan hanteer, is ‘n raaisel, want
dit klink letterlik soos ‘n geweerskoot wanneer een van hulle ‘n duif tref! Duif se kind is egter nie so gelukkig
nie. Eersgenoemde bly heeljaar by ons terwyl die Swerfvalk wintertyd Noordwaarts uitwyk.