SUID AFRIKAANSE VOGELS

BEGIN | Bloukraanvoel | Telefoonpaaljagters | Groot Dorpsjagters | Kleiner Dorpsjagters | Witkruisarend | Visarend | Uile-Nagjagters | Reiers | Wit Reiers | Hamerkop | Dobbertjies | Eende | Hoenders | Lepelaar | Duikers | Strand Kiewiete | Bokmakierie | Speg | Spekvretertjie | Terug na Onsdorp
W i t k r u i s a r e n d

D i e  

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 W i t k r u i s a r e n d  - K o n i n g  V a n  O n s  L u g r u i m 

 

Kom ons gesels vir ‘n slag rêrig GROOT! En in ons streek is daar min wat die Witkruisarend (Verreaux’s Eagle, of vroeër Black Eagle) se gelyke is wanneer dit by groot kom. Ja, die volstruis staan dalk hoër op sy tone as hy, so ook die bloukraanvoël en die sekretarisvoël, maar daar is iets aan hierdie majestieuse voël wat hom net in ‘n klas van sy eie plaas! Dis soos om ‘n kwagga langs ‘n leeu te sit – jy weet sommer dadelik watter een die koning is.

 

‘n Mens hoef ook nie baie slim te wees om te weet dat jy hier met ‘n roofvoël te doen het nie. En wanneer jy daardie reuse kloue en snawel van naby sien, weet jy – versigtig wees nou, want lyk jy dalk vir hom soos kos, of jy probeer hom kaalhande aanpak, is jy diep in die moeilikheid! Trouens, hy het juis ‘n slegte naam gekry omdat hy oënskynlik van mense se eiegoed vat . . . hy is mos die berugte Lammervanger! Vang hy regtig lammers? Toe wel, maar dit vorm iets soos 3% van sy dieët. Boonop sluit hierdie syfer die dooie karkasse waarop witkruisarende aas, in (ja, hulle gee nie om om aan ‘n stukkie koue vleis te kou nie). Ek kry die indruk dat boere al hoe meer besef dat die persentasie lammers gevang nie opweeg teen die potensiële skade wat die “ongediertes” - wat sy prooi is – sal aanrig sou jy hom uit die sisteem haal nie. Neem nou maar sy stapelvoedsel, dassies. Tydens ‘n studie by een nes is getel dat in die 26 weke wat dit geneem het om die kuiken groot te maak, die ouers meer as 230 dassies nes toe gebring het! Hoeveel skade kan so ‘n spul dassies nie veroorsaak nie! Dassies vorm ongeveer 90% van hul spyskaart, maar Witkruisarende sê ook nie nee vir ape, hase, meerkatte, muishonde, klein bokkies en selfs skilpaaie wanneer die hongerte regtig knaag nie!

 

Witkruisarendpare bly maats totdat een wegval – hulle neem dus die belofte “tot die dood ons skei” baie ernstig op. Nesmaak gebeur teen ‘n hoë krans of in ‘n hoë boom waar die wêreld plat is. ‘n Raaisel wat mense al vir jare, en steeds vandag nog, met vrae los is die “Kain en Abel”-verhouding wat die kuikens het. Twee eiers word gewoonlik gelê, maar sodra die kuikens uitgebroei het, begin die ouer een die jonger een te pik totdat hy hom letterlik “vermoor” het. Soos dit vir my lyk voel die meeste slimmes dat 2 eiers gelê word om te verseker dat daar wel ‘n kuiken is (een eier mag dalk nie uitbroei nie), maar dat die ouers nie genoeg energie het om twee kuikens te kan grootmaak nie.

 

Hier is natuurlik ook ander arende in die omgewing. Van die Dwergarend (Booted Eagle) het ons jou reeds vroeër in hierdie reeks artikeltjies vertel en die Visarend (Fish Eagle) en die net so mooie Breëkoparend (Martial eagle) word ook al opgemerk (laasgenoemde by uitsondering). Maar sal jy ‘n Witkruisarend in ons omgewing kan sien? Ek sien hulle nogal gereeld in die Swartbergpas, maar fyn kyk hier op die dorp - ek was eendag besig om ‘n groepie Taiwanese kinders die meerkatte by die Kango Wildlife Ranch te wys toe die meerkatte eensklaps in hul gate verdwyn! En toe ek opkyk om te sien wat hulle so skrik op die lyf gejaag het, sweef hy grasieus oor ons koppe - die koning van die Klein-Karoo lugruim!!



Teken in op Kammanuus


    3046 Lesers al reeds!
    GetResponse E-pos Bemarking