
D
i e V i s a r e n d
Vlieg
jy met ‘n Boing van George af Johannesburg toe oor die Klein-Karoo is die kontras tussen die groen grasvelde aan die
kus met die droë veld binneland-kant van die Outenikwas duidelik sigbaar. Dis droog en bruin met net ‘n bietjie
groen hier en daar, behalwe vir ‘n breë groen strook van Oos na Wes - die landerye al langs die Olifantsrivier,
die hoofaar deur Kannaland. En dis ook hierdie rivier wat meehelp dat een van die mooiste voëls in ons land hier by ons
bly.
Die Visarend (African Fish-Eagle) is vir my dié voël wat Afrika
vergestalt. Daar is seker geen bekender geluid as sy roep in Afrika nie, trouens, ek kry hoendervleis elke keer wanneer ek
dit hoor! Wat ‘n voorreg dat boere in ons omgewing ook sy geluid in die oggend of laatmiddag kan hoor. Ek weet van ‘n
hele paar broeipare – byvoorbeeld in die Volmoed omgewing en verder af met die rivier op die sementpad Calitzdorp toe.
Die Raubenheimerdam is ook groot genoeg en as jy gelukkig sal jy die pragtige roep daar ook hoor - hulle is daar. Laat weet
gerus as jy gereeld ‘n paar in jou omgewing opmerk. Dit sal interessant wees om te weet min of meer hoeveel pare daar
wel in die Klein-Karoo is. As jy die moeite wil doen om met ‘n verkyker na die visarende in jou omgewing te kyk, kyk
sommer of jy ‘n plastiese vlaggie aan een vlerk sien. Kuikens is gemerk as deel van ‘n navorsingsprojek.
Dit
is darem nie net sy roep – wanneer hy sy kop ver agteroorgooi en sy territorium luidkeels afbaken - wat indrukwekkend
is nie. Sy manier van jag is net so indrukwekkend. Nie-voëlkykers sien gewoonlik min van roofvoëls
se jagmetodes, maar ek is seker almal van ons het al een of ander tyd op televisie gesien hoe ‘n visarend swierig oor
die water swiep, sy pote in die water steek, sy prooi vang en trots daarmee wegvlieg. Navorsing wys dat ‘n visarend
visse tot 3 kilogram so uit die water kan lig! Vang hy enigiets swaarder, val hy in die water, bly klou aan die vis en “swem”
dan land toe deur sy vlerke soos spane te gebruik. ‘n Bietjie nattigheid sal hom nie van sy kos ontneem nie! Besoedelde
riviere of damme is natuurlik ‘n bedreiging vir visarende, want siek water veroorsaak siek visse, wat die voël
uiteindelik kan benadeel of selfs doodmaak.
Visarende gebruik dieselfde nes, of ‘n paar neste in een omgewing,
oor en oor (een paar het ‘n nes 21 keer gebruik om te broei!). Hul kuikens ly, soos meeste roofvoëls, ook aan die
Kain en Abel sindroom – die grootste kuiken probeer die swakker een doodmaak. Vreemd, maar deel van hul manier van doen
en oorleef.