Gevrees
en geliefd – twee uiteenlopende beskrywings van ons gevoelens teenoor uile. Ek het dit eerstehands ervaar toe ‘n
uil homself een aand teen ‘n muur katswink gevlieg het naby waar ‘n groep van ons gesellig verkeer het. Die meeste
van ons het die voël se sagte vere en sterk kloue met groot belangstelling van naderby bekyk terwyl hy bygekom en voor
hy uiteindelik weggevlieg het. Daar was egter iemand wat die gebeure erg traumaties ervaar het, omdat uile in haar kultuur
nog beskou word as brengers van slegte boodskappe. Soveel so, sê sy, dat as iemand in haar gemeenskap ‘n uil sou
vang, hulle dit dadelik sal doodmaak en verbrand. Sy het daardie nag sleg geslaap. En hoeveel bygelowiges voel nie steeds
ongemaklik wanneer ‘n uil op die huis se dak sit of iewers in die donker roep nie? Hoe jy dan nou ookal oor hulle voel,
uile is hier om te bly en vandag gesels ek oor die twee wat ek al in en om die dorp raakgeloop het.
Maar eers, wat is ‘n
uil? Dit is doodeenvoudig ‘n roofvoël wat eens op ‘n tyd besluit het hy verkies om snags te jag. Om daarby
aan te pas en beter in die min lig te kon sien, moes albei sy oë vorentoe skuif (arende en valke s’n sit mos aan
die kant van die kop). In die proses het die krom snawel afgebuig om sig nog verder te verbeter (dis nie in die pad nie).
Die vere het ook verander – hulle is sagter om die voël stiller te laat vlieg (anders hoor die prooi hom mos wanneer
hy aankom). Uile se ore het ook aangepas om beter in die donker te kan hoor. Die kenmerkende gesigspatroon verbeter blykbaar
ook die gehoor (dit dien as klankbord). ‘n Interessantheid is dat uile - soos wat ‘n kat haarbolle opbring - ook
die oorblyfsels (hare, vere, bene, skelet ens) van hul prooi opbring, netjies in ‘n bondeltjie.
Die
mees algemene uil hier by ons (en in die land) is die Gevlekte Ooruil (Spotted Eagle Owl) - daar
is selfs ‘n klompie broeipare in Oudtshoorn! Dis ‘n groot, grys voël met groot, heldergeel oë, fyn dwarsstrepies
op die bors en die kenmerkende vere op die kop wat soos ore lyk (die regte ore sit heelwat laer af). Hy eet wat beskikbaar
is, maar verkies insekte. Gevlekte Ooruile is nie net die mees algemene uile nie, maar ook die grootste slagoffers wanneer
dit by “padsterftes” kom. In die dorp vang veral jong uile insekte wat onder lamppale op die grond kruip en word
so raakgery. Ek het al op ‘n hele paar dooies afgekom. Op die oop pad sal hulle aan muise of voëls wat in die pad
lê, vreet, deur ‘n motor se ligte verblind word en dan self doodgery word.
Die uil wat die aand by ons
kom kuier het (en sekerlik ‘n kopseer gehad het daarna) was ‘n Nonnetjie-uil (Barn Owl).
Sy goudkleurige rugkant, wit voorkant met fyn spikkels en hartvormige gesig met uitsonderlik klein ogies vir ‘n uil
is sy duidelikste uitkenmerke. Dit is nog ‘n uil wat goed by die mens aangepas het en sal sommer maklik in ‘n
kas broei wat vir hom teen ‘n paal of boomstam opgehang word. Boere sal kan getuig van Nonnetjie-uile in hul skure.
Ek hoor Calitzdorp se NG kerk het ook sy eie broeipaar. En as jy wil hoor van ‘n mens se vriend – dis op rekord
dat ‘n Nonnetjie-uilpaar een aand 24 muise binne in ‘n kort tydjie gevang en by hul nes aangebring het!