waardige waterdansers
Hul romantiese rituele is gesinkroniseerde waterballet!
ONINGEWYDES wonder seker hoe voëlkykers met ‘n verkyker voor die oë vasgeplak vir ure lank onsosiaal
en alleen in ‘n voëlskuiling langs ‘n dam kan sit.
Vandag se drie gevleueldes is een goeie verklaring. Voëlkyk is darem
baie meer as net om deur ‘n verkyker na ‘n klein dingetjie met vlerke en vere te kyk en te wonder wat op aarde
dit dan nou is.
Hoe meer fanaties ‘n mens oor voëls raak, hoe meer wil jy van hul
gewoontes weet, en as die tyd dit toelaat, wil jy dit ook in lewende lywe waarneem. Dobbertjies se spel van die liefde en
versorging van hul kleintjies is fassinerend genoeg om ‘n ywerige voëlkyker vir ‘n lang tyd vasgenael te hou.
Die drie dobbertjies in Suid-Afrika – die Kleindobbertjie (Little
Grebe), die Kuifkopdobbertjie (Greater Crested Grebe) en die Swartnekdobbertjie (Black-necked Grebe) - kom al drie hier by
ons voor.
Die Kleindobbertjie is die algemeenste van die drie. Jy sal hulle op
damme, by rioolplase en in vleie kry, en die kleintjie hou ook van stil poele in riviere. Laasgenoemde is ook die raserigste
van die klomp, met so ‘n skril skree wat deur jou lyf sny as jy naby hom is.
Hulle eet almal klein vissies,
paddavissies en inseklarwes en duik die meeste van die tyd onder water om hulle te vang. Moenie verbaas wees as ‘n
dobbertjie duik en jy sien hom eers byna ‘n minuut later en 30 meter verder uitdop nie.
Ek het, toe ek oor die uile gesels het, vertel dat hulle die vel en skelet
van hul prooi opbring. Dobbertjies het byna dieselfde gewoonte – hulle bring die visgrate op sodra die voedsame vleis
verwyder is.
Wat nog interessanter is, is dat hulle vere insluk wat op hul beurt om
die visgrate koek om beserings te verhoed met die opbringslag,
Maar dit is hul romantiese sy en rituele wat die meeste aandag trek.
Dit is niks anders nie as gesinchroniseerde waterballet! Die mannetjies van die twee groter dobbertjies sal eers enige opposisie
verjaag voordat hulle saam met hul maat die eintlike hofmakery begin.
Dit is hierdie hofmakery wat so indrukwekkend is. Elk van die drie dobbertjies
het hul eie rituele of roetines, en ek self droom nog daarvan om dié van die Kuifkopdobbertjie in die natuur te sien.
Die paartjie het ‘n reeks uitsonderlike danspatrone en kopbewegings
wat hulle uitvoer voordat die huwelik voltrek word (dankie National Geographic vir die beeldmateriaal).
Die Kleindobbertjie staan darem nie ver terug nie en dié kon ek darem
al beleef. Om dit hier te probeer beskryf, sal nie reg daaraan laat geskied nie.
Nog ‘n interessantheid is dat, wanneer die kuikens uitgebroei het,
hulle vir ‘n tyd op hul ouers se rug ry terwyl dié besig is om kos te soek.
Hulle oefen ook van jongs af om die danspatrone reg te kan doen. Inderdaad
fassinerende waterdansers, wat hier onder ons neuse hul ding doen.
Die kanse om die Swartnekdobbertjie en Kuifkopdobbertjie te sien (wat
nog te sê hul danspassies) is egter nie so goed soos die Kleindobbertjie nie. Hulle
is nogal skaarserig, ek het hulle nog maar enkele kere by die rioolwerke en by plaaslike damme opgemerk.
Vertel my gerus van jou ervaringe met die voëls in jou omgewing. Skryf aan
pos@onsdorp.com en merk dit VIR REINDERD.