K o n i n g V a n
D u e t s a n g
“Bok-bok-bok-makierie, makierie” . . en. . . “Piet-kokkewiet, piet-kokkewiet” - Twee geluide
wat hierdie gevleuelde vriend van ons maak en dis ook hoe hy aan twee van sy name gekom het, naamlik Piet-Kokkewiet en sy
amptelike naam, Bokmakierie. (Terloops, sy Engelse naam is ook Bokmakierie.) Ek is oortuig daarvan dat, as jy in Suid-Afrika
woon, of gewoon het, jy hierdie roepe al een of ander tyd in jou lewe gehoor het. Hierdie werelddeel is op plekke nogal volop
van hierdie pragtige geelbors-met-swart-beffie-voels, veral hier in die Klein-Karoo. As jy ooit die geleentheid het om vroegoggend
iewers op ‘n plaas te kuier, gaan staan buite en luister of jy die pragtige beurtsang van ‘n Bokmakierie en sy
maat kan hoor. Daar is heelwat voëls in die natuur wat in beurtsang sing, maar jy sal ver soek om so ‘n ge-oefende
sangpaar op te spoor. Die tydsberekening van die twee is so perfek, ‘n mens dink maklik dat jy na net een voël luister!!
Dit is ook ‘n bewys van hul lojaliteit teenoor mekaar – hulle bou saam nes, sit saam op die eiers en voer die
kuikens saam. (Hoor jy dalk vals bokmakierie note, kan jy maar weet dat dit ouboet is wat begin oefen . . . . )
Die geleerdes sê dat die Bokmakierie familie is van die laksmanne, so
dit beteken dat hy ‘n jagter is en daarom ‘n vleisvreter. Wel, kyk net na die spyskaart – naas insekte vreet
hy ook akkedissies, paddas en selfs klein slangetjies. Maar anders as die Fiskaallaksman - wat op die draad sit en uitkyk
vir prooi en dan blitsvinnig toeslaan - is hy ‘n grondjagter. Hy gaan soek sy prooi onder die struike en bosse, baie
soos die lysters wat in ons tuine blare omdop op soek na ‘n wurm. Dit beteken egter nie dat hy ‘n skaam voël is
nie. Ek het vroeër genoem van die beurtsang – hulle sal op ‘n paal sit en oop en bloot met mekaar sit en vlerksleep.
Die roepe is natuurlik nie net altyd liefdesduete nie. Bokmakieries is nie baie lief om hul jagveld met ‘n ander gesin
te deel nie, so vroegoggend se roepe veral is om vir die ander te sê, bly liewer weg hier!
Ek het nog nie Bokmakieries in Oudtshoorn self raakgeloop nie, maar op die kante van die dorp in die veld wel. Hulle
is ook baie volop op die plase. Kyk dus gerus uit vir hulle.
Die skoolhoof van die laerskool waar ek skoolgegaan het (wie weet waar Loerie is) het altyd gesê, “As die Bokmakierie
vandag roep, gaan iemand se boude brand.” Wel, hy en sy maat het te gereeld na ons sin geroep!! As strepe permanent
op boude bly sit het sou ek vandag ‘n hele paar kon wys wat Bokmakierie se kind losgeroep het. Ai, eina! Maar hulle
is mooi genoeg, en sing mooi genoeg, dat ek dit nooit teen hulle sal hou nie.