
B e d r e i g d e I k o o n
Dis eers wanneer jy ‘n bietjie begin nalees oor die statige maar skaars
Bloukraanvoël (Blue Crane), wat tog gereeld in ons kontrei te siene is, dat jy agterkom hoe ‘n (meestal) geliefde en
gerespekteerde geveerde hy by die mens is. Trouens, hy het sy spore duidelik op ons as mense nagelaat. Boesmans het hom belangik
genoeg geag om hom op rotstekeninge te verewig; Net lede van die Zoeloe-koningshuis mag sy stertvere in hul hooftooisels gedra
het; ‘n Dorpie in die Oos-Kaap dra sy Xhosa-naam – Indwe; Die malva se Engelse naam (geranium) kom van sy griekse
naam geranos, omdat die malva se peule soos sy snawel lyk; Selfs die kraan in
jou kombuis is na hom vernoem (en die”kraan” in sy naam erf ons van sy Indo-Europese naam wat hy gekry het as
gevolg van die geluid wat hy maak). Die Bloukraanvoël is in die sestigerjare as ons nasionale voël aangewys, hy word deur
baie as simbool van vrede en standvastigheid gesien en hy pryk vandag nog op ons vyfsent-stuk. Nasionale ikoon dus, maar ‘n bedreigde een!
Hy is endemies tot Suider Afrika (99% kom in Suid-Afrika voor!) en
dit maak hom uiters kwesbaar. Dit is onder andere sy eetgewoontes wat byna veroorsaak het dat ons hom nog net op foto’s
en op die vyfsentstuk kan sien. Sy voorliefde vir saailinge (naas oa grassade, graan, insekte, paddas, reptiele en vis)
bring hom in konflik met die boer, en in die verlede is selfs honderde op ‘n slag vergiftig. Indirekte vergiftiging
daarmee saam het veroorsaak dat getalle van ongeveer 100 000 in die sestigerjare tot net meer as 20 000 tans verminder het.
Daar is egter talle mooi verhale van hoe boere (soos in die Overberg
wat hul aanplanting-siklusse aangepas het) saamwerk om te verhoed dat ons hierdie voël verloor. En verloor wil ons hom mos nie. Dit is vir my een van die
mooiste voëls wat wild in ons kontrei voorkom en as gevolg van sy grootte so maklik om te sien wanneer ‘n mens byvoorbeeld
George toe ry. Terloops, wat soos lang stertvere lyk, is eintlik sy vlerkpunte, en dié gebruik hy tot die maksimum wanneer
hy en vroulief ‘n dansritueel saam uitvoer (of jonges wat probeer om potensiële huweliksmaats te beindruk). Die vorm van sy kop is nie ‘n verdikking van sy beenstruktuur nie, maar word deur vere gevorm. En
dit is ‘n kraanvoël ding, hierdie interessante “kopstukke”. Sy twee neefs wat elders in ons land voorkom
het hul eiesoortige hooftooisels - die Mahem (Crowned Crane) het ‘n pragtige kroon, en die Lel-Kraanvoël (Wattled Crane)
het weer sulke lang lelle langs sy wange af. Soos die Witkruisarend van verlede keer sweer pare trou aan mekaar tot wanneer
een sterf. Trouens, hulle is so geheg an mekaar (as ek die menslike term mag gebruik) dat hulle mekaar feitlik nooit uit die
oog verloor nie! Waar jy tydens broeityd ‘n klomp bymekaar sien wei, is dit waarskynlik jonges wat nog nie gereed is
om af te paar nie – en dit neem 5 jaar vanaf uitbroei voor dit gebeur! Volgende keer, wanneer jy weer die lang pad vat, kyk gerus uit vir hulle in
die lande langs die pad, hou dalk stil, vat ‘n ruskansie en geniet hul prag vir ‘n paar oomblikke.
|