
V a a l, V r o l i k e V l e r k f l a p p e r t j ies
Al is die spekvreter een van die uiters vaal voëls in ons kontrei, is
daar tog baie dorpsmense en boere op die plase wat my gereeld voorkeer en van die Dagbrekertjie (een van sy volksname) op
hul werf vertel. En die rede hoekom hy so maklik uitgeken word - al is hy so vaal - is omdat hy die gewoonte het om sy vlerke
so koddig te flap-flap wanneer hy kom sit om te bedel vir ‘n versnaperinkie. Jy kan natuurlik
ten minste drie verskillende spekvreters in ons kontrei raakloop, maar om hulle van mekaar te onderskei kos ‘n fyn oog.
Ek vertel verderaan kortliks waarvoor om uit te kyk, maar fokus vireers op die een wat so mak op die plaas of by jou agterdeur
rondwip - die Gewone Spekvreter (Familiar Chat).
Net soos die Kwikkie
en die Janfederik het spekvreter se kind ook gou aangepas by die mens. Trouens, sommer van vroeg af, reeds in die tyd van
die Voortrekkers. Dis juis by hulle waar hy sy naam blykbaar gekry het. Die pioniers het nie altyd regte ghries vir hul wa-wiele
gehad nie en het dikwels vet of spek gebruik. Hierdie voëltjies het gou agtergekom dat wat by die wiel se as uitpeul, eetbaar
is en het dan die uitpeulsel gereeld kom afpik. Spekvreters, dus.
Die Gewone Spekvreter is ‘n tipiese Klein-Karoo
voël. Hy hou van die droë omgewing en is op sy gelukkigste as hy naby rotsagtige plekke, of geboue as alternatief, kan wees. Dis waarom boere spekvreters so gereeld die die buitegeboue
en op kraalmure sal sien. In die dorp sal ‘n paar vir ‘n tydjie op een plek verskyn, om dan net weer skielik te
verdwyn en elders te verskyn. Kaas is beslis ‘n lekkerny vir die spekvreter
- dis waarvoor hy so parmantig by die agterdeur sal kom bedel - maar sy eintlike kos is ‘n verskeidenheid insekte en
vrugte.
Wat die Gewone Spekvreter egter baie interessant maak,
is die manier hoe hy sy nes bou. Het jy al op ‘n oop nessie afgekom wat omring is met plat klippies en ander fieterjasies
soos stukkies been, droë mis en selfs ‘n spyker of twee? Spekvreter se nes! Hoekom hy so lief is om klippe (tot ‘n
kwart van sy eie gewig) nes toe aan te dra, kon ek nêrens raaklees nie, maar dat dit aandag trek, is gewis. Daar was onlangs
so ‘n nes in die CP Nel museum.
Om
die verskillende spekvreters van mekaar te onderskei is, soos ek reeds gesê het, moeilik. ‘n Mens moet letterlik wag
dat hulle wegvlieg, want die duidelikste onderskeid lê in die stertpatrone. Hulle is egter rats en dit kos vinnig kyk! Die
Gewone Spekvreter se stert is oranje met ‘n swart onderste-bo T-patroon. Die Vlaktespekvreter (Sicklewinged Chat) lyk
baie soos hy, maar sy stert is swart met vaalgeel rande. Die Karoospekvreter (Karoo Chat) is groter en gryser as die ander
twee.Sy lang, swart stert het duidelike wit vere aan die kante.
|