
P l a t p o o t w a t e r t r a p p e r s
Tensy jy ‘n paar
mak eendjies in jou tuin het, of naby ‘n plaasdam of rivier bly, of moeite doen om die wildes te gaan soek, is eende
nou nie juis voëls wat jy gereeld te siene sal kry nie. Buiten dalk vir die Kolgans (Egyptian Goose), wat nie skaam is om
hier op die dorp te kom nesmaak nie. En tog is daar ‘n groot verskeidenheid van hulle op ons voorstoep. Dit kos fyn
kyk, maar dis moontlik om met verloop van tyd ten minste 9 tot 10 platpootspesies op damme en riviere in ons omgewing raak
te loop. Naas die eerste drie wat jy op die illustrasies sien kan jy ook uitkyk vir voëls met name soos Teeleend (Cape Teal),
Kaapse Slop-eend (Cape Shoveller), Rooibekeend (Redbilled Duck), Bruineend (Redeyed Pochard), Swart Eend (African Black duck)
en Bloubekeend (Maccoa Duck).
Die vraag is: Hoekom lees
ons van ‘n gans, ‘n eend en ‘n makou? Is hulle nie maar voëls
van eenderse vere, of dan eenderse pote, nie? Dis nogal ‘n vraag met ‘n ietwat ingewikkelde antwoord, moes ek
uitvind. Want, al het hulle verskillende name, is hulle almal verrassend genoeg wel . . . eende,! Ek probeer baie kortliks
verduidelik.
Tipiese EENDE kan
reguit van die water opvlieg sonder om met die pote op die water te trap. Hulle voed ook kop-onder-die-water teen of naby
die watervlak. Daar is egter uitsonderings - soos die Bruineend. Sy bene is vir duik aangepas en hy kan nie direk van die water opvlieg nie. Verwarrend, nê? Dit word nie beter nie. Tipiese GANSE is
weer aangepas om op gras te wei of om saad op lande en vlaktes te vreet. Daarom is hul bene goed ontwikkel en vorentoe geplaas.
Hulle sal ‘n ent op die water hardloop voor hulle kan opstyg.
Plaasganse is voorbeeld hiervan. Die slimmes sê egter dat werklike ganse glad nie wild in Duskantland voorkom nie. Kolganse
toon bloot kenmerke van die ware ganse (in Engels word hulle as “goose-like” beskryf) en daarom word hulle so
genoem. Hulle bly steeds eende. Daar is blykbaar net een regte MAKOU in die wêreld, en hy kom van Suid-Amerika. By ons kry
jy van hulle op plase waar hulle mak rondloop (kom ons noem hulle plaasmakoue). Ons Wildemakou (Spurwinged Goose) - ook familie
van die eend - is eintlik fisies en volgens sy gewoontes vergelykbaar met ‘n gans, maar kry sy naam omdat die rooi merke
op sy voorkop hom baie soos ‘n regte makou laat lyk. Om saam te vat - in my onkunde wil dit voorkom asof al die wilde
watertrappers in ons omgewing deel van die eend-familie is, met kenmerke van ander soorte (wat elders in die wêreld voorkom)
by hulle teenwoordig.
By ‘n volgende geleentheid gesels ek dalk oor nog van ons plaaslike eende, maar met my laaste
opmerkings vandag het ek dit oor die Groenkopeend (Mallard). Hy kom nie natuurlik
by ons voor nie, maar is uit die Noordelike halfrond as ‘n soort troeteldier hierheen gebring. Dis ‘n eend wat
baie, en uiteenlopende, emosies by mense losmaak. Aan die een kant oorrompel sy mooi voorkoms onkundiges en wil hulle hom
graag as ‘n mak eend aanhou, wat deesdae in elk geval onwettig is. Aan die ander kant is daar diegene wat Groenkopeende,
sodra hulle hulle teëkom, voor die voet vankant maak. Wat ander weer ongelukkig maak. Waarom dan so ‘n mooi eend vankant
maak, word gevra? Omdat hulle ongelukkig met die Geelbekeend (Yellowbilled Duck) en Swart Eend - plaaslik beskermde spesies
- kruisteël en hulle as spesies bedreig. En dit mag mos nie! As jy die regte ding wil doen sal jy - as jy ‘n Groenkopeend
iewers opmerk – dadelik vir Cape nature laat weet.
|