|
H o u t k a p p e r o f S p e g , K a p K a n
Hy K a p !
Wat is in ‘n naam? Wanneer dit by die kap-kappers in ons omgewing kom voel dit vir my ek is in ‘n smartie-boks!
Wat ons ouers enkele jare gelede Baardmanne genoem het, dra nou die naam Houtkappers. En wat vroeër Houtkappers genoem was,
is nou skielik Spegte. Wat ons vandag Spegte noem, noem die Engelstaliges Woodpeckers, en wat ons Houtkappers noem is by hulle
. . . Barbets. Hoe dit ook al sy, kap sal hulle kap en as jy fyn luister mag jy gelukkig genoeg wees om ‘n houtkapper
of speg iewers in jou tuin te hoor timmer. Trouens, ‘n paar lesers op die dorp (Oudtshoorn) het al my aandag daarop
gevestig dat hulle wel van hierdie interessante besoekers in hul tuine het.
Wanneer jy ‘n gekappery in jou tuin hoor, is dit heel waarskynlik die kleinerige Kardinaalspeg
(Cardinal Woodpecker) wat met kossoek of selfs nesbou besig is. Hy is ‘n tipiese voorbeeld van ‘n regte
houtkapper - sy skerppunt-snawel is net reg vir presisie-timmerwerk (en sy kopbeen is ekstra dik om die brein te beskerm);
twee tone wys vorentoe en twee agtertoe vir beter vasvat; en selfs die stertvere is ekstra styf om met die kapslag ‘n
stewige anker te vorm. Meeste van die kap-kap wat jy hoor is wanneer hy ‘n hol plekkie in ‘n takkie soek, want
daar kan ‘n vet wurm in wees. Kry hy een, sal hy dit oopkap en sy lang skerppunttong insteek, die wurm uittrek en
siedaar – middagete!
Die kleurvolle Bont Houtkapper
(Acasia Pied Barbet), is nie skaam om sy lyf te wys nie, maar sou jy sukkel om hom raak te sien sal sy kras “pê-pê-pê”-roep
jou gou op sy spoor sit. Die geluid is onmiskenbaar en as jy dit eers ken sal jy dadelik weet wanneer daar een in jou omgewing
stem dikmaak. Hulle is meer algemeen op die plase en in die veld om die dorp en as daar ‘n klompie soetdorings –hul
gunsteling bome - bymekaar staan is die kanse goed dat jy hulle daar sal raakloop. Heelwat Bont Houtkappers het egter al dorp
toe getrek, so, fyn luister vir die roep. Soos die illustrasie wys het hy ‘n sterk snawel en hy gebruik dit om ‘n
gat vir ‘n nes in sagte hout te kap en kou. Let wel, neste is by meeste voëls net vir eiers lê en kuikens grootmaak
– hierdie ouens gebruik hul neste egter jaardeur as slaapplek, al broei hulle nie meer nie. En dinge kom nie altyd maklik
nie – dis op rekord dat een Bont Houtkapper-paar ses maande lank moes werskaf om ‘n nes pasklaar te kon maak!
Jy kan dit natuurlik vir enige
voornemende huisbouers in jou tuin baie makliker maak deur ‘n stuk garingboomstam (so 1.5m) met ‘n gat deur die
harde deel teen een van jou bome vas te maak. Voornemende bonthoutkapper-ouers het een vyand – die Klein Heuningwyser
(Lesser Honeyguide) – wat op hulle parisiteer deur ‘n eier in hul nes te lê. En heuningwyser-kleintjie
maak al die houtkapperkinders dood om alleen al die kos te kan kry. Vabond!!
Ons laaste kapper – die Grondspeg
(Ground Woodpecker) – het ek nog net bo-op Swartbergpas gesien, maar hy is interessant genoeg om tog ook genoem
te word. Om een of ander rede het hy besluit dis makliker
om gate in walle of selfs soms in termietneste, as in ‘n boomstam te maak. Hul stapelvoedsel is dan ook miere, en veral
die eiers en larwes, wat hulle met hul taai tong onder klippe of uit neste trek en vreet.
Duskantlanders van elders en Anderkantlanders
– daar is heelwat spegte en houtkappers in jul omgewing so kyk gerus uit vir diegene wat in jul tuine rondkap. En onthou,
‘n Hoep-hoep is nie ‘n houtkapper nie al lyk hy met sy groot kop en lang snawel wat so kap-kap in die grond nogal
baie soos een.
|