S t r a n d k i e w i e t e
In K a n n a l a n d?
Noem
‘n voël ‘n kiewiet en ek sal nie ‘n oog knip as jy my vertel hy kom hier in die Klein-Karoo voor nie,
maar doop hom "strandkiewiet" en ek loop soek hom veel eerder langs die see as hier. Moenie glo nie, hier by ons
is toe wel enkeles met die naam strandkiewiet en ek gesels vandag oor die twee algemeenstes. Strandkiewiete is heelwat kleiner
as die gewone kiewiete waarvan ek jou al by'n vorige geleentheid vertel het (die Kroonkiewiet en Bontkiewiet), hulle hou gewoonlik
van water en is minder opvallend. Merk jy wel een van hulle op is dit darem nie te moeilik om uit te werk na wie jy kyk nie.
Trouens, die twee se beskrywende name is byna genoeg om jou daarmee te help - Driebandstrandkiewiet (Threebanded Plover)
en Geelborsstrandkiewiet (Kittlitz's Plover). Eersgenoemde het ‘n donker kroon op die kop en twee duidelike swart bande om die keel
met ‘n witte tussen-in. Die helder rooi om die oog en die basis van die snawel help ook. Die Geelborsstrandkiewiet
het presies dit wat sy naam sê -‘n gelerige bors. Dan is daar ook die swart streep deur die oog en om die nek
om te help met die uitken. Neem gerus kennis, as jy veral in die somertyd ‘n voël van hul grootte langs ‘n
dam of oop rivieroewer sien, kan dit een van baie ander wees so kyk maar dadelik uit vir hierdie merke!! Hierdie ander vales
is trekvoëls wat uit die Noordelike halfrond tydens hulle winter by ons kom kuier. Ek oorweeg dit nog of ek jou van die
rêrige vaal voëls langs die water gaan vertel - glo my, om hulle uit te ken is nie vir sissies nie!
Die Driebandstrandkiewiet is die meer algemene
een hier by ons en semi-getrou aan sy naam sal jy hom meeste van die tyd naby water kry. Hy hou veral van damme en riviere
met ‘n breë oewer. Hier sal hy homself letterlik dag en nag besig hou met kos soek. Ironies genoeg sal jy hom min
of glad nie langs seewater-strande kry nie, al dra hy die naam strandkiewiet. Hy verkies vars water. Praat van ‘n verwarrende
naam! Nesmaak is vir die mannetjie bloot om sy bors teen die sand te druk en in die rondte te draai tot ‘n vlak bakkie
in die grond vorm. As vroutjie nie met die holtetjie tevrede is nie, probeer hy maar weer elders. Tipies kiewiet is hulle
grondbewoners en dit is ‘n gevaarlike wêreld. Anders as boombewoners waarvan die kuikens feitlik sonder vere gebore
word en ten minste twee weke neem om gereed te wees om die nes te verlaat, is dit nodig dat hierdie kuikens sommer dadelik
te stap en binne 24 uur self te vreet.
Daar
is mos altyd ‘n stroom-op broer of oom of neef in die familie wat gereeld in die verkeerde rigting in beur. Wel, die
Geelborsstrandkiewiet is een so ‘n familielid. Strandkiewiete is tipiese water-voëls - jy gaan soek hom gewoonlik
reg langs die water - maar nie dié een nie! As die volstruis-boere in die omgewing gereeld kyk watter kleinerige voëls
in die omgewing van die voerbakke rond trippel is die kanse redelik goed dat hulle hierdie meneer op ‘n stadium sal
raakloop, sommer ver van water af. Ja, hy wei wel nou en dan langs die water, maar sal ewe maklik in die dorre Karoo gaan
kos soek (o.a. insekte, erdwurms, spinnekoppe en larwes). ‘n Gewoonte wat hy wel volledig met die ander kiewiete deel,
is die gebruik om vyande se aandag van die kuikens af te trek deur weg te stap en die een vlerk gemaak teen die grond te sleep,
so asof hy kwansuis beseer is. Wanneer die vyand die aandag op hom fokus, vlieg hy weg en die kuikens is weer veilig. Hierdie
twee is gewoonlik heel jaar hier, so kyk gerus uit vir hulle sodra jy weer in die veld of by ‘n dam of rivier kom.