SUID AFRIKAANSE VOGELS

BEGIN | Bloukraanvoel | Telefoonpaaljagters | Groot Dorpsjagters | Kleiner Dorpsjagters | Witkruisarend | Visarend | Uile-Nagjagters | Reiers | Wit Reiers | Hamerkop | Dobbertjies | Eende | Hoenders | Lepelaar | Duikers | Strand Kiewiete | Bokmakierie | Speg | Spekvretertjie | Terug na Onsdorp

LEPELAAR

lepelaar.jpg

  D i e   V o ë l   M e t   ‘ n   L e p e l   V i r   ‘ n   M o n d  

 

‘n Mens sien heelwat wit voëls langs die water of op landerye wat natgelei word - die meeste is natuurlik reiers - maar vandag se wit voël is nie ‘n reier nie. Nie eens naby nie! Ek praat van die koddige Lepelaar (African Spoonbill) met sy lang bene, rooi gesig en die lang snawel met die lepelvormige ronde punt wat by ons damme boer. Het jy hom al dopgehou waar hy op en af in die vlak water loop, met die halfoop snawel wat hy so van kant tot kant deur die water of modder trek op soek na kos wat daarin skuil? Dit herinner nogal baie aan die kop-onderstebo-manier van kos-soek van flaminke, die snawels lyk net ietwat anders. Die slim mense sê dat die binnekant van die punt van die lepelaar se snawel sensitief is vir vibrasies - sodra hy ‘n padda of nog iets lekkers (klein vissies of ander waterkreatuurtjies) naby sy bek voel, klap hy dit toe en siedaar . . . . ontbyt, middag- of aandete, afhangende van die tyd van die dag.

 

Lepelaars en reiers het iets in gemeen - hulle deel dikwels dieselfde bome vir nesmaak. By so ‘n nesboom het ek nog een van die lepelaars se snaakse gewoontetjies ontdek - die gewoonte om hul snawels so nou en dan hard te klap-klap. Hoekom? Seker omdat hulle kan. Die snaaksegeitjies hier en daar (bv. hul snaakse snawel, wat hulle so klap-klap) maak egter nie van hulle slegte ouers nie. Trouens, beide ouers bring hul kant om die kinders suksesvol, en binne 2 en ‘n half maande, groot te maak.

 

Lepelaars lyk natuurlik op hul koddige manier heel elegant wanneer hulle vlieg. Anders as reiers wat met ‘n ingetrekte nek vlieg, vlieg lepelaars met die lang snawel na voor uitgestrek. Een van die min kere wat hulle ‘n geluid maak (lepelaars is stillerige voëls), is juis in vlug en ook maar beter so - die kraakgeluid is nou nie die mooiste geluid wat in die voëlwêreld bestaan nie. Maak dit maar eerder daar vêr, ja!

 

Ek het, terwyl ek in Taiwan was, die voorreg gehad om een van die skaarste voëls op ons planeet sien - die Swartkoplepelaar -met net meer as ‘n duisend van hulle oor. Daar het ek besef hoe groot (en vernietigend) die mens se invloed op die natuur kan wees. Die meeste van hierdie 1000 voëls oorwinter op een plek in Taiwan.  In 2003 het daar gifstowwe in die water beland en byna 100 van die lepelaars het gevrek -10% van alle Swartkoplepelaars . . . weg! Ons eie lepelaars is darem nog nie bedreig nie, so geniet hulle wanneer jy hulle weer by ‘n plaasdam raakloop. 

 



Teken in op Kammanuus


    3046 Lesers al reeds!
    GetResponse E-pos Bemarking