|

Bosluisvoëls
– dit is hoe ek die wit Veereiers (Cattle Egret), wat’n mens so dikwels op landerye en veral tussen beeste
sien, geken het. Ook nie sonder rede nie, want al is bosluise maar ‘n klein deel van hulle dieet, sal hulle nie ‘n
bosluis op ‘n bees of perd (en in die wilde areas op buffels en selfs olifante) los nie. Het jy al gekyk hoe hulle op
die rug van ‘n koei sit en rondsoek vir ‘n versnaperinkie? Die ander rede waarom hulle so gereeld saam met vee
gesien word is omdat, soos die vee loop en wei, insekte tussen hulle bene opvlieg en die reiers hulle dan makliker sien om
te vang. Handig, nie waar nie? Veereiers is geneig om in swerms te wei (ook waar geploeg word) en kan so in die proses groot
hoeveelhede sprinkane en wurms verorber, wat hulle natuurlik goeie vriende van boere maak. Ek lees dat hulle al gehelp het
om insekplae op plekke onder beheer te bring! Veereiers is die kleinste van ons wit reiers, en in die broeityd vanaf Augustus
het die mannetjies sulke pragtige oranje pluimvere (nou nie so groot soos volstruise s’n nie) op die kop, nek en bors.
Terloops,volwasse veereiers het ‘n oranje-geel bek en geel bene, net ingeval jy hulle dalk met die ander wit reiers
wil vergelyk. Dis reg ja, daar is sommer nog ‘n paar ander wit reiers in ons omgewing!

Anders as veereiers wat lief is om eerder weg van water af te jag, sien jy die Kleinwitreiers (Little
Egrets) byna altyd by damme of langs riviere. Hulle is maklik om uit te ken, want bekyk jy hulle swart bene, sal jy sien dat
dit lyk of hulle met hulle pote in geel verf gaan staan het. Die tone is sommer
Anders
as veereiers wat lief is om eerder weg van water af te jag, sien jy die Kleinwitreiers (Little Egrets) byna altyd by damme
of langs riviere. Hulle is maklik om uit te ken, want bekyk jy hulle swart bene, sal jy sien dat dit lyk of hulle met hulle
pote in geel verf gaan staan het. Die tone is sommer so ‘n helder geel. Hulle is nogal elegante voëls met pragtige wit
pluime in die broeityd, en met daardie lang swart snawel vang hulle veral vissies, paddas en water-insekte. Dis nogal lekker
om een dop te hou terwyl hy jag – hy sal soms so met die een voet trap-trap in die modder om potensiële kos op te jaag,
net om dan met sulke koddige maar vinnige swenke al agter die systappende padda of vissie aan te hardloop tot hy dit vang.

Die Grootwitreier (Great White Egret) is nie so algemeen hier by ons nie, maar tog ‘n pragtige
voël om dop te hou as jy hom wel te siene kry. Hy is wat sy naam sê - groot en wit. En as jy regtig wonder of dit nie dalk
‘n Kleinwitreier is waarna jy kyk nie (veral as die pote onder water is), kyk na sy snawel, dit is duidelik geel, behalwe
in die broeiseisoen in die middel van die somer, wanneer dit tog ook swart is. Van broeiseisoen gepraat: soos die ander wit
reiers het die Grootwitreier-mannetjies ook pragtige pluime op die rug om by die dames mee te spog. Hy jag ook langs en in
die water. Die Geelbekwitreier (Intermediate Egret) is nog skaarser hier by ons as die Grootwitreier en ‘n ongeoefende
oog wat sy geel snawel sien mag hom maklik met eersgenoemde verwar. Hy is darem ietwat kleiner en sy bene is nie heeltemal
swart nie. Sy Engelse naam – Intermediate Egret - sê mos juis dat hy so tussen-in lê.
|